Artikel Doop

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 28 views
Notes
Transcript

WAT MOET EK VAN DIE DOOP WEET?

Inhoud

 

    'n Woord vooraf

1     Verlossing en doop

2     God verbind Homself

3     'n Ou en'n nuwe teken

4     Die doop as verbondsteken

5     'n Nuwe lewe

6     Gebeur daar iets in 'n mens as jy gedoop word? 

7     Net een maal

8     Werklik gedoop?

9     Kinderdoop

10  Geloofsdoop

11  'n Teken waarvan?

12  'n Opdrag van God?

13  Huisgesinne

14  Wyse van doop

15  Onderdompeling

16  Die mense betrokke by die doopsbediening

17  Vereistes vir die doop

18  'n Teken vir ons

19  'n Geesvervulde lewe

20  Toerusting en oorgawe

'n Woord vooraf

Niemand wat aan die kerk van die Here behoort, kan onverskillig staan teenoor die doop nie. Ons en ons kinders is op 'n baie direkte wyse daarby betrokke. En tog is dit so dat baie lidmate van die kerk by geleentheid deur 'n geweldige krisis oor die doop gaan. Wat my tref, is dat dit gewoonlik diep gelowige mense is wat in alle eerlikheid na die waarheid soek en wat van harte begeer om aan die Here gehoorsaam te wees.

Veral as gevolg van kontak met pinkstergroepe - maar soms ook deur 'n verkeerde interpretasie van seker Skrifgedeeltes - begin hulle twyfel aan die geldigheid van hulle eie doop. En so ontstaan dan die begeerte om weer gedoop te word - en die hoop om daardeur tot 'n voller en ryker geestelike lewe te kom.

Die bedoeling van hierdie boek is enersyds om vir sulkes en ook vir ander wat met vrae rondom die doop worstel, weer vaste sekerheid te bring - en vrede in die hart. Terselfdertyd wil dit vir doopouers in 'n neutedop sê waaroor dit gegaan het by die doop van hulle kindjie.

1.  Verlossing en doop

Lees: Johannes 3:16; 2 Petrus 3:9

Die wonderlikste ervaring wat 'n mens kan beleef, is om gered te word uit jou toestand van sonde en verlorenheid. Dit is egter nie iets wat 'n mens vir jouself kan doen nie. Net die Here kan jou red. En Hy doen dit graag - nie op grond van enigiets wat jy gedoen het om dit te verdien nie, maar uit genade. Hy doen dit uit liefde vir die sondaar.

Die redding van 'n sondaar is van die begin tot die einde gegrond op die soenverdienste van Christus. Deur sy lyding en sterwe het Hy, die Seun van God, alles gedoen wat nodig is om die sonde van elke sondaar uit te wis. Elkeen kan as geregverdigde voor God staan, want Christus het met sy eie bloed betaal vir die skuld wat ons deur ons sonde op ons gehaal het.

Volkome skuldvergifnis en verlossing van sonde word deur God aangebied aan elkeen wat dit begeer. Al wat Hy van jou as sondaar verwag, is dat jy ware en egte berou oor jou sondes sal hê en dat jy jou toevlug tot Christus sal neem - met die vaste geloof dat Hy ook vir jou sondeskuld betaal het. Maar selfs as God berou en geloof van ons eis, wil Hy dit ook weer self aan ons skenk! Deur sy Heilige Gees beweeg Hy ons tot berou en gee Hy aan ons die oortuiging van geloof.

So is die redding van die sondaar 'n genadedaad van God. Dit word vir ons op 'n baie sigbare wyse by die doop gedemonstreer.

2.  God verbind Homself

Lees.- Matteus 11:25-29

Die aanbod wat God aan sondaars maak, kom tot ons deur sy Woord, die Heilige Skrif. Hierin verbind God Hom tot die redding van die berouvolle sondaar. In die Bybel is daar dan ook talle beloftes, wat gelowiges verseker van die vergifnis van hulle sonde en van die ewige lewe.

'n Mens dink aan die woorde van profete soos Jesaja en Jeremia om die volk van die Here hiervan te verseker: "En tog is dit Ek wat jou opstandigheid vergewe  ... Ek dink nie meer aan jou sondes nie ... Die goddelose      ...  moet hom tot ons God bekeer ... Hy vergewe altyd weer" (Jes 43:25; 55:7; vgI Jer 31:34). Die Nuwe Testament is bo alle misverstand duidelik hieroor: ". . . elkeen wat in Hom glo, (sal) vergewing van sondes ontvang ... die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe" (Hand 10:43; Rom 6:23; vgI ook Joh 3:16; 1 Joh 1:9). Daarom bely die kerk oor die hele wêreld en deur al die eeue heen sy geloof aan "die vergewing van sondes, die opstanding van die vlees en 'n ewige lewe."

Die sonde het egter die mens se gees so aangetas dat hy nie sonder meer die beloftes van God kan aanvaar en glo nie. Daarom kom die Here ons tegemoet met sekere sigbare tekens wat kan dien as bewyse van sy genadewerk om ons geloof te versterk. Die doop is so 'n teken.

Niemand kan enige twyfel hê oor hoe belangrik die doop is nie. Christus het hierdie sakrament immers self ingestel as 'n noodsaaklike vereiste vir elkeen van sy volgelinge (Matt 28:19). Die waarde wat die apostels daaraan geheg het, is ook volkome duidelik uit hulle optrede en briewe.

3.  'n Ou en 'n nuwe teken

Lees: Genesis 17:11; Kolossense 2:11-12

Lank voor die instelling van die doop het God reeds aan die gelowiges 'n teken gegee waardeur hulle kon weet dat Hy Homself verbind het tot hulle redding. Dié teken was die besnydenis. As bloedige verbondsteken het dit vooruit gewys op die verlossingswerk van Christus; op Sy bloed wat sou vloei as versoening vir ons sondes. Paulus wys dan ook uitdruklik op die verband tussen die besnydenis as verbondsteken van die Ou Testament en die doop as verbondsteken van die Nuwe Testament. In Kolossense 2:11 en 12 word dit duidelik gestel dat sowel die besnydenis as die doop tekens van presies dieselfde Goddelike belofte is: dat die sondes van almal wat in Christus glo, deur sy bloed volkome weggeneem word. Dieselfde verbond wat God destyds met Abraham gesluit het, bly van krag vir ons van die Nuwe -Testamentiese tyd (Rom 4:11).

Net die teken het verander: Die bloedige teken is vervul in die kruisdood van Christus en in die plek daarvan het die doop dus gekom as teken van dieselfde saak, naamlik dat God sy verbond, sy ooreenkoms met ons, sekerlik gestand sal doen: Elkeen wat glo, sal gered word - sonder die minste twyfel (Joh 3:16; 10:28).

4.  Die doop as verbondsteken

Lees:  Johannes 1:7-9

Dit is baie duidelik dat die doop uitnemend geskik is as teken van die verbond. Maar ons moet een ding baie goed verstaan: die doop is net vir gelowiges 'n teken van God se genade. Vir 'n ongelowige beteken dit niks nie, al is hy ook hoe plegtig gedoop! Want wat sê die verbond? Elkeen wat glo, sal gered word. Daarvan, en vir sulkes, is die doop 'n teken en waarborg.

Wat is die doop dan? Dit is 'n teken van reiniging, van afwassing. Net soos die liggaam skoon gewas word deur water, word ons van ons sondes gereinig deur die bloed van Christus. Net so seker as wat ons sien en ervaar dat water ons skoon maak, mag ons glo en weet dat ons sondes uitgedelg word deur die bloed van ons Verlosser. Die water simboliseer die bloed van Christus en so verseker die doop ons dan van skuldvergifnis.

Ons kan die doop sonder twyfel ook sien as 'n teken van ons kindskap van God. Dit verseker ons naamlik dat die bloed van Christus effektief is in ons lewens. Die doop verseker ons dat ons deur die geloof só verbind is aan Christus dat dit net so goed is asof ons self met die dood gestraf is vir ons sonde, maar ook opgestaan het uit die dode (Gal 3:27). Die doop is ons waarborg dat ons die erfenis van God se kinders, die ewige lewe, het.

5.  'n Nuwe lewe

Lees: Johannes 3:3; Romeine 6:3-4

In die doop het ons 'n teken en seël ontvang van God se genadewerk in ons. Daarom kan ons sê dat dit 'n teken van die wedergeboorte is, wat ons verseker dat die Here ons nooit sal vergeet nie. Ons behoort aan Hom. Ons dra die merkteken van sy reddende genade. Die siening dat die doop die wedergeboorte teweegbring, is 'n dwaling waarvoor daar geen Bybelse grond is nie.

Die doop is ook 'n teken van die inlywing by die kerk van die Here. Dit bevestig die waarheid dat elke gelowige deel is van die liggaam van Christus, dat hy ingelyf is in die gemeenskap van die gelowiges. Dit beteken natuurlik nie dat elkeen wat gedoop is, outomaties gered word nie. Maar saam met die gelowiges van alle tye mag die gedoopte wat tot geloof in Christus kom, weet dat hy aan die volk van God behoort.

Die doop is verder ook nog 'n teken van die nuwe lewe wat ons van Christus ontvang (Rom 6:3-4). Hierdie lewe waarin ons geregverdig en geheilig is deur verlossing in Christus, bring sekere verpligtinge mee. Ons word deur die doop geroep tot gehoorsaamheid aan God, tot liefde jeens Hom en ons naaste. Ons word weggeroep van elke sondige en God-onterende lewenspraktyk en gesindheid. Dit plaas ook 'n verpligting op die dopeling om die Naam van God in die openbaar te bely.

Uit dit alles volg duidelik dat die doop nie net maar dui op sekere dinge wat die Here gedoen en belowe het nie. Dit is veral ook 'n teken daarvan dat die gedoopte onlosmaaklik daarby betrokke is. As gedoopte gelowige kinders van God deel ons in die genade van sy verbond met ons.

6.  Gebeur daar iets in 'n mens as jy gedoop word?

Lees: Handelinge 2:38; 1 Petrus 3:21

Dit is duidelik dat die doop deurgaans 'n teken en waarborg is van die verbondsbelofte van God aan sy gelowige kinders, soos wat ons dit in die Heilige Skrif leer ken.

Die vraag ontstaan egter of die doop darem nie meer is as maar net 'n teken van die verbond nie. Ons het hier tog te doen met 'n instelling van God - iets wat deur God self met 'n bepaalde inhoud gevul is. Gebeur daar iets in ‘n mens se lewe terwyl jy gedoop word - of is dit bloot ‘n teken van die genade waaraan ons kragtens die verbond deel het? In een van ons belydenisskrifte (Die Nederlandse Geloofsbelydenis art 15) staan daar iets merkwaardigs: dat die erfsonde "selfs deur die doop nie geheel en al uitgeroei word nie". Dit impliseer tog duidelik dat daar wel iets gebeur. Uit Handelinge 2:38 en 1 Petrus 3:21 wil dit tog voorkom asof vergifnis van sondeskuld wel plaasvind tydens die doop. Maar dit is nie die doophandeling as sodanig wat as as ‘t ware outomaties skuldvergifnis meebring nie. Ons moet dit só verstaan, dat die doop van ‘n volwassene op daardie oomblik die bevestiging kan wees en die sekerheid kan bring dat sy sondeskuld vergewe is - selfs al het dit reeds vroeër gebeur.

In die geval van ‘n kindjie wat gedoop word, is dit die ouers wat dié versekering ontvang. Al het die kindjie self nog nie willens en wetens sonde gedoen nie, kan sy gelowige ouers weet dat God ook die erfsonde waaraan selfs die kindertjies deel het, deur die bloed van Christus afwas en ten volle vergewe.

Dit is insiggewend dat Petrus die doop vergelyk met gebed (1 Pet 3:21). Net soos ons deur die gebed sekerheid kry oor die vergifnis van ons sondes (al is dit reeds vergewe!), bring die doop ook sekerheid van die vergifnis van ons sondeskuld.

Maar terselfdertyd moet ons duidelik verstaan dat die doop self nie die Maar terselfdertyd moet ons duidelik verstaan dat die doop self nie die genadewerk van God is nie. Dit kan nooit méér as 'n teken en seël daarvan wees nie. Alhoewel die doop dus as opdrag van die Here noodsaaklik is, beteken dit nie dat iemand wat nie gedoop is nie, beslis verlore gaan nie. As gelowige ouers 'n kindjie verloor nog voordat hy gedoop is, kan hulle in geloof aanvaar dat hy gered is, al het hy self nog nie geglo nie. 'n Mens verdien nie jou redding deur geloof nie, maar gelowiges het die geloofsekerheid dat hulle en hulle kinders gered word omdat God genade aan hulle bewys.

7.  Net een maal

Lees: Matteus 28:19-20

Die Here bevestig sy genade aan ons by die doop. Ons kan dus goed begryp waarom Christus die doop vir sy volgelinge ingestel het. Omdat dit 'n instelling van God en 'n heerlike bevestiging van sy genadewerk in ons is, mag die doop nie nagelaat word nie. Elke gelowige kind van God moet gedoop word. Die mens wat dit nalaat, verag die opdrag van die Here en staan skuldig voor God.

In verskillende Gereformeerde belydenisskrifte word dit onomwonde gestel dat die doop net een maal aan iemand bedien mag word - dit moet nooit herhaal word nie (Die Nederlandse Gelootsbelydenis art 34; Tweede Helvefiese Konfessie hfst 20; Westminster Kontessie 28.7). Want al is dit so dat die doop deur 'n mens bedien word, kom dit tog uit die hand van God self. Dit sou dus 'n gruwelike skending van die eer van God wees om te verwag dat Hy iets wat Hy een maal gedoen het, moet oordoen - asof Hy dit die eerste keer nie goed genoeg gedoen het nie. Ook die feit dat daar gedoop word in die Naam van God, sê dat die doop van God self is: dit is Hy wat deur die teken tot ons spreek van die genade wat Hy aan ons betoon het.

Daar bestaan geen moontlikheid dat enige sonde wat 'n mens later doen, die doop kan vernietig nie. Dit is immers nie 'n teken van jóú geloof nie, maar van God se genadewerk. En dít kan nie vernietig word nie.

Daar is dus stellig maar min mense wat sal beweer dat iemand meer as een maal gedoop moet word. Vir so 'n standpunt is daar duidelik genoeg geen grond in die Bybel nie.

8.  Werklik gedoop?

Lees:  Handelinge 16:32-34

Hiermee is die saak van herdoop nog nie afgemaak nie. In baie mense se lewens ontstaan daar 'n geweldige stryd oor die vraag of hulle ooit werklik gedoop is. Hulle ouers het hulle verseker dat die doop aan hulle bedien is - lank gelede, toe hulle nog klein was. Hulle kan selfs die skriftelike bewys daarvan by die betrokke gemeente kry: 'n doopseël, swart op wit.

Maar was dit 'n ware doop? En dan twyfel hulle soms oor die egtheid en geldigheid van hulle doop op grond van sekere omstandighede by die doop:

• Was dit 'n ware doop as 'n suigeling, wat nog nie self kon glo nie, gedoop is?

• of as jy net besprinkel is met die water?

• of as jou ouers miskien indertyd nie toegewyde gelowiges was nie?

• of as die predikant wat die doop bedien het, nie 'n Geesvervulde kind van God was nie?

Op hierdie vrae, wat vir baie mense 'n groot bron van kwelling is, sal ons duidelike antwoorde moet gee - antwoorde waarvoor daar goeie Bybelse grond is.

9.  Kinderdoop

Lees: Genesis 17:12; Kolossense 2:11-12

Een van die heerlikste beloftes in die Woord van God waaraan die gelowige kan vashou, is dat die Here die genade wat Hy aan hom bewys het, ook wil betoon aan sy kinders en aan sy nageslag. Die Ou sowel as die Nuwe Testament verseker ons dat die kinders van gelowiges ingesluit is in die Here se verbond met dié wat aan Hom behoort (Gen 17:7; Hand 2:39). En onthou: dit is een en dieselfde verbond; wat vir Abraham gegeld het, geld ook nou nog vir ons. Christus het sy bloed nie minder vergiet om kindertjies van gelowiges te reinig as wat Hy dit vir die volwassenes gedoen het nie.

Ons het reeds gesien dat die doop die teken en seël, die pand is waardeur ons verseker word dat God sy beloftes nakom. En nou: As die beloftes van verlossing self (want dit is tog die hoofsaak) ook vir die kinders van gelowiges geld, sou dit geheel en al ongerymd wees om te beweer dat die teken daarvan nie vir die kinders is nie. En waar Paulus so 'n duidelike verband lê tussen die besnydenis as verbondsteken van die Ou Testament en die doop as verbondsteken van die Nuwe Testament (Kol 2:11-12), is dit ewe ongerymd om te beweer dat die verbondsteken voor die koms van Christus wel aan kindertjies (van agt dae oud, Gen 17:12) toegedien kon word, maar nou, ná die koms van Christus, nie meer nie.

10.  Geloofsdoop?

Lees: Markus 16:16; 1 Korintiërs 7:14

Dit is inderdaad so dat die Bybel 'n baie nou verband lê tussen geloof en doop: "Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word" (Mark 16:16).

As iemand nie in die Here Jesus glo nie, mag hy nie gedoop word nie. Dit geld elkeen wat reeds die vermoë het om self te dink en te besluit. Maar wat dan van kinders wat nog nie die verstandelike vermoë het om die waarheid van die evangelie in die geloof te aanvaar nie?

Op grond van die verbond (die Here se beloftes aan dié wat aan Hom behoort - beloftes wat juis in en deur Christus vervul is) kon Paulus sê dat die kindertjies van gelowiges aan God behoort (1 Kor 7:14). Al kan hulle dus nog nie self glo nie, is hulle gered as hulle sou sterwe.

Dit moet vir ons baie duidelik wees dat 'n mens nóg deur jou geloof, nóg deur jou doop gered word. Wat wel waar is, is dat iemand wat in Christus 'n verloste mens is, geloof sal hê. Dit is 'n gawe van die Heilige Gees aan elkeen wat deur die Here se genade gered word. Hy sal hom ook laat doop as hy dalk nog nie gedoop is nie. Hy sal sy kinders ook laat doop. Die doop is 'n teken wat aan jou groter sekerheid van jou verlossing gee, maar dit is nooit 'n voorwaarde om gered te word nie.

11.  'n Teken waarvan?

Lees: Romeine 4:11-12

Die groot rede waarom die kinderdoop vir mense 'n probleem is, lê klaarblyklik daarin dat die mens se prestasie (sy geloof, sy gehoorsaamheid) vir hulle swaarder weeg as God se genade. Die doop word vir hulle 'n teken van geloof en bekering, in plaas van 'n teken van genade. So word daar dan eintlik 'n grens gestel aan die Here se genade. Die effek van die genade word afhanklik gemaak van menslike handeling, van die mens se belydenisdaad.

As 'n mens so 'n bietjie dieper as die oppervlak in die Bybel delf, word dit baie duidelik dat ons daarin iets heeltemal anders geleer word. Miskien word dit die heel duidelikste uit Romeine 4. Ons het reeds gesien dat die doop en die besnydenis albei tekens van presies dieselfde saak is. As Paulus dus skryf dat die besnydenis 'n teken en bewys is van die vryspraak wat God vir 'n mens gee, is die doop ook 'n teken en bewys daarvan. En net so min as wat gelowige ouers in die ou tyd kon sê hulle kinders moet eers glo voordat hulle besny kan word (dit het immers agt dae na geboorte gebeur) - net so min kan ons sê dat ons kindertjies nie gedoop mag word omdat hulle nog nie kan glo nie. Die Bybel sê nêrens dat ons kindertjies nie gedoop mag word omdat hulle nog nie kan glo nie. Die Bybel sê nêrens dat geloof 'n voorwaarde was vir die besnydenis nie; ook nie vir die doop nie. Die doop is, net soos die besnydenis, 'n teken en bewys van Gód se werk - en nie van ons s'n nie. Nie van ons gehoorsaamheid nie en self nie eers van ons geloof nie.

Bowendien: watter sekerheid kan die kerk ooit hê oor enigiemand se geloof? Oor die geloof in die hart kan slegs God oordeel. Indien geloof dié voorwaarde vir die doopsbediening was, sou dit tog net so 'n groot waagstuk wees om 'n volwassene te doop wat dat hy glo, maar intussen kan huigel, as om 'n kind te doop wat nog niks hiervan verstaan nie. Calvyn vra ook tereg waarom die apostels dan nie weer gedoop is ná die kruising van Christus nie - want hulle het toe eers die inhoud van hulle geloof reg begryp!

12.  'n Opdrag van God?

Lees:  Genesis 17:13; Handeling 2:39

Daar word ook gevra: Waarom word die kinderdoop nie met soveel woorde in die Nuwe Testament beveel as dit dan die wil van God is nie?

Maar eintlik hoef so 'n vraag nie eers gestel te word nie. Niemand het tog enige twyfel oor wat die besnydenis was nie. Almal is bereid om te erken dat dit die teken van God se genadeverbond was. Dit is immers die letterlike taal van die Bybel (Gen 17:11). 'n Mens sou met goeie reg aan mense wat sê dat God die kinderdoop nêrens in die Bybel beveel nie, kon vra: Waar in die Bybel beveel God dat daar nie meer 'n verbondsteken aan die kinders toegedien moet word nie? Gaan dit hier dan nie om "'n blywende verbond", "wat vir altyd sal bestaan" nie? (Ps 105:8,10; Gen 17:13)

'n Mens sou ook met alle reg kon vra: Waarom word die kinderdoop nie met soveel woorde verbied as dit dan nie die wil van God is nie - terwyl alles daarop dui dat kinders wel die verbondsteken behoort te ontvang? Dat kinders gedoop moet word, is net so vanselfsprekend as dat vroue die nagmaal mag gebruik - en dit word ook nêrens in die Bybel met so veel woorde gesê nie; tog skep dit vir niemand enigsins 'n probleem om dit so te aanvaar nie.

Die gelowige ouer wat sy kindjie laat doop kan op gesag van die Bybel sê dat hy aan 'n opdrag van God gehoorsaam is: kinders van verbondsouers moet die teken van die verbond ontvang.

13.  Huisgesinne

Lees: Handeling 16:13-15; 1 Korintiërs 1:16

Al word daar nie in die Nuwe Testament direk na die doop van kinders verwys nie, kom sulke verwysings tog indirek op verskeie plekke voor. In Handelinge 16:15,33,34; 18:8 en 1 Korintiërs 1:16 word verwys na huisgesinne wat gedoop is. Daar kan dus met 'n hoë mate van sekerheid aanvaar word dat hier wel sprake is van die doop van kinders. Dit is tog hoogs onwaarskynlik dat daar in vier verskillende huisgesinne geen kinders was nie.

Dit word ook dikwels uit die oog verloor dat die eerste jare van die Christelike kerk waarvan ons veral in Handelinge lees, 'n tipiese sendingsituasie was. Ons het daar te doen met 'n eerste geslag Christene wat as volwassenes gedoop moes word ná belydenis van geloof. Die kinders van heidenouers kan tog nie gedoop word nie, want hulle is nog nie in God se genadeverbond opgeneem nie. Om presies dieselfde rede doop die kerk ook vandag nog nie heidenkinders op die sendingveld nie.

Die kinderdoop kan werklik nie in die minste afbreuk doen aan die eer van God nie. Inteendeel. Dit beklemtoon juis die groot waarheid dat ons hele verlossing deur Hom bewerk word. God is die oorsprong en die outeur van ons heil.

14.  Wyse van doop

Lees: Numeri 8:7; Hebreërs 9:10,13

Wanneer 'n mens aan die Here gehoorsaam wil wees, moet jy ten volle gehoorsaam wees. In verband met die doop staan ons dan onmiddellik voor die vraag: Wat het die Here ons geleer - besprinkeling met die water, of onderdompeling?

Die Griekse woord wat in die Nuwe Testament vir die doophandeling gebruik word (baptizo), gee vir ons nie die antwoord nie, want albei handelinge (besprinkeling en onderdompeling) kan met dié woord aangedui word.

Die manier van doop, met min of baie water, deur besprinkeling of onderdompeling is egter bysaak. Altwee maniere is reg. Daar is geen enkele Bybelse grond om te sê dat iemand wat besprinkel is, nie behoorlik gedoop is nie. Die punt is tog dat die water by die doop maar net 'n teken is - naamlik van die bloed van Christus. Die hoeveelheid water kan geen bydrae maak tot of afbreuk doen aan ons saligheid nie.

Dit gaan dus in die Bybel hoegenaamd nie om 'n voorskrif oor die manier waarop die water by die doop hanteer moet word nie. Dit gaan slegs om 'n teken van afwassing of reiniging. En in baie Skrifgedeeltes in die Ou sowel as in die Nuwe Testament gebeur dit óf deur onderdompeling, óf deur besprinkeling, óf deur 'n wassing waar die hele liggaam nie ingedompel word nie (vgI Num 8:7; Eseg 36:25; Mark 7:4; Heb 9:13).

15.  Onderdompeling?

Lees: Handelinge 2:41

Onderdompeling kan niks meer wees as (vir sommige mense, altans) 'n mooi stuk simboliek van ons volkome en algehele reiniging nie. Maar daar is nie 'n enkele opdrag in die Bybel om juis by wyse van onderdompeling te doop nie. Om die waarheid te sê: die Griekse woord vir letterlike onderdompeling (kataduo) kom selfs nie een maal in die Bybel voor nie.

Daar kan ook op gewys word dat onderdompeling in die meeste gevalle van doopsbediening waarvan ons in die Nuwe Testament lees, so te sê prakties onuitvoerbaar sou wees. Ons lees immers telkens dat iemand wat tot bekering gekom het, onmiddellik gedoop is. In 'n land soos Palestina is dit hoogs onwaarskynlik dat daar altyd soveel water beskikbaar was as wat vir onderdompeling nodig is. Hoofsaak is egter dat die doop 'n teken is van die afwassing van ons sondes, sodat 'n kleiner of groter hoeveelheid water nie die wese van die saak raak nie.

Dit kan met 'n groot mate van sekerheid gesê word dat die drieduisend mense wat op die eerste Pinksterdag in Jerusalem gedoop is nie daar en dan onderdompel kon word nie. Ook in die geval van Filippus en die Ethiopiër word vry algemeen aanvaar dat hy maar net met sy voete in die water gestaan het toe hy gedoop is (Hand 8:38).

16.  Die mense betrokke by die doopsbediening

Lees: Korintiërs 3:5-9

Omdat die doop 'n teken en seël is wat ons uit die hand van God self ontvang, kan die geldigheid daarvan nie betwis word wanneer daar bedenkinge is oor die peil van die geestelike lewe van die ampsdraer wat die doop bedien het nie. Die krag van die doop kan nie uitgeblus word nie - selfs al is dit deur 'n ongelowige bedien. Die instelling van God kan nie vernietig word nie. Want nie die bedienaar van die doop nie, maar Christus self gee betekenis en inhoud daaraan. Daarom vergelyk Calvyn die doop met 'n brief: hoofsaak is tog die skrywer; dit maak nie saak wie dit kom aflewer nie.

En selfs al sou iemand wat klein gedoop is, vermoed dat sy ouers ongelowige mense was toe hy gedoop is, moet hy nie twyfel aan die geldigheid van sy doop nie. Die huigelary van mense kan nie die genadewerk van God keer nie. Buitendien kan die verbondslyn dikwels teruggevoer word na vorige geslagte, al het 'n ouer miskien afgedwaal van die weg van geregtigheid.

17.  Vereistes vir die doop

Lees: Matteus 28:19; Efesiërs 5:25-27

Daar kan wel omstandighede wees waar iemand oënskynlik gedoop is, maar nie werklik nie.

Daar is naamlik drie basiese vereistes waaraan voldoen moet word - so nie is dit geen geldige doop nie. Op grond van die Heilige Skrif kan ons sê dat die doop altyd bedien moet word:

1. in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Matt 28:19),

2. met water (Ef 5:26) en

3. deur 'n bevoegde ampsdraer van die kerk (Matt 28:19; Mark 1:4; Joh 4:2; Hand 2:38; 8:38; 9:17-18, ens.).

Indien aan een of meer van hierdie vereistes nie voldoen is nie, is die persoon in werklikheid nie gedoop nie en moet hy (as volwassene, ná belydenis van geloof) gedoop word. Dit moet egter baie duidelik wees dat dit in so 'n geval nie gaan om 'n herdoop nie, maar om 'n eerste doop.

18.  'n Teken vir ons

Lees: 1 Korintiërs 6:19-20; Openbaring 5:9

Waarlik, die doop is 'n heerlike voorreg vir elke kind van God. En dit is allermins iets wat maar net vir die oomblik van die doopplegtigheid betekenis het.

Ja, natuurlik: in die geval van 'n volwassene wat gedoop word, kan dit moontlik op daardie oomblik vir hom 'n besondere gevoelsbelewenis inhou - 'n gevoel van dankbare toewyding aan die Here. Maar eintlik gaan dit nie om daardie oomblik nie. Dit gaan om jou hele lewe daarna: dat die gelowige kan weet (en dit geld ook vir die kleingedoopte wat tot sy verstand kom): ek is gedoop; ek is die eiendom van God; ek dra die merkteken van sy verbond; ek is gered! En telkens wanneer 'n gelowige sondig, is die herinnering aan sy doop vir hom die vaste versekering: my sonde is vergewe, my skuld is uitgedelg.

Maar ook vir die gelowige ouer is die doop van sy kind 'n heerlike saak. Dit is die verbondsteken van God wat op sy kind gelê word. Daarom kan hy ook glo: hierdie kindjie van my behoort aan die Here. En in diepe dankbaarheid teenoor God gaan hy dan na die beste van sy vermoë dié kindjie lei op die weg van gehoorsaamheid aan die Woord van God.

19.  'n Geesvervulde lewe

Lees: Johannes 7:37-39

'n Mens hoor soms die stelling dat 'n Geesvervulde lewe net nie moontlik is sonder dat jy jou as volwassene laat doop het nie. Eers dan - so word gesê - ontvang jy die Gees van God en ken jy die volle vreugde van Christenskap.

Dit is egter nie die taal van die Bybel nie. Die Bybel leer baie duidelik dat elkeen wat Christus as sy Verlosser aanneem in die geloof, onmiddellik die Heilige Gees ontvang (Rom 8:1-17; 1 Kor 3:16; 6:19; Jak 4:5). Nie die doop nie, maar geloofsverbondenheid aan Christus Jesus bring 'n Geesvervulde lewe.

Wanneer ons in Handelinge 2:38 lees: "Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe, en sal julle die Heilige Gees as gawe van God ontvang", gaan dit beslis nie om 'n bepaalde volgorde van gebeurtenisse nie. Indien dit die geval was, sou hierdie teks teenstrydig wees met talle ander in die Nuwe Testament. Die Heilige Skrif handhaaf deurgaans die waarheid dat vergifnis van sonde onmiddellik die deel word van elkeen wat Christus in die geloof as sy Verlosser aanneem (Hand 10:43; 16:31, ens.).

As iemand hom tot die Here Jesus bekeer, ontvang hy dadelik die Heilige Gees (Joh 7:38-39; Hand 10:47; Rom 8:9). Hierdie ontvangs van die Heilige Gees - ook genoem die "doop met die Heilige Gees" (Hand 1:5; 11:16; 1 Kor 12:13) of "vervulling met die Heilige Gees" (Hand 9:17) - is die deel van elkeen wat glo in die Here Jesus Christus.

20.  Toerusting en oorgawe

Lees: Handelinge 13:9-11; Efesiërs 5:18-20

Dit is wel waar dat die uitdrukking "vervul met die Heilige Gees" soms in besondere sin gebruik word in die Bybel: by geleentheid word dit gebruik in verband met iemand se toerusting vir 'n bepaalde taak (Hand 4:8; 13:9). Dit kan ook aandui dat iemand gedurig met oorgawe, toewyding en in gehoorsaamheid aan die Here God lewe (Ef 5:18).

Maar vir so 'n lewe van heiligmaking is daar net dié voorwaarde: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens - dit is: bekering tot Christus, ons enigste Verlosser. En dit nie uit onsself nie, maar omdat Hy ons eerste liefgehad het ...

Juis daarvoor eer ons God as ons sing:

Dis die God der leërmagte,

troue Bondsgod van weleer,

God van wordende geslagte,

tot in ewigheid die Heer.

Sion, sing dié God ter eer,

prys sy grootheid, loof die Heer

(Ps 146:8).

Related Media
See more
Related Sermons
See more