'n Vrou van God
Notes
Transcript
1 INDRA VAN DIE KIS
2 VERWELKOMING EN MEEGEVOEL
3 LIED - HERE I AM TO WORSHIP
Inleiding
Inleiding
Tannie Marie
Tannie Marie
Sonder enige twyfel, weet ek dat tannie Marie ‘n ongelooflike mens was. Sy was ‘n besondere ma, ouma en vrou gewees - ek weet dit sonder enige feite - net omdat ek weet wie sy was. Dis egter in die gemeente waar ek die tannie sien blom het:
Tannie Marie was een van daardie storieboek karakters in ons gemeente. Sy het die oggenddienste ingestap soos ‘n ridder met ‘n missie. Vinnig het sy van mens tot mens gegaan en haar geselsies gemaak! Soveel so - dat wanneer die voorsang begin het, sy gespring het soos ‘n kind wat met sy hand in die koekblik betrap is - en sy moes vinnig groet om haar plekkie te gaan vind.
Sy het ‘n plekkie in die gemeente gehad. Sy was soveel meer as net ‘n koster. Sy was deel van die gees van die gemeente. So eie aan ons karakter soos die mure, die bome en hart van elke gelowige wat op ‘n Sondagoggend deur daardie deure stap. As sy die oggend nie by die kerk was nie - was dit amper asof die kerk nie heel was nie, asof Sasolburg gemeente ‘n ietsie gekort het.
Ek het tannie Marie leer ken as koster van hierdie gemeente. ‘n Amp wat sy met baie ywer en baie ernstigheid aangepak het. As my wilde jeug kinders die Vrydagaand springmielies op die vloer gemors het, ‘n gordyn perongeluk blou gekleur het of suiker op die vloer gemors het - het ek geweet om daardie Sondag wat kom baie lig te loop vir die klein tannietjie. Sy was klein en fyn - maar groot manne het met vrees in hulle stemme gewaarsku: tannie Marie gaan jou vermoor!
Tannie Marie het geweet van liefde en van omgee. Sy het presies geweet wat in elkeen van ons se lewens aan die gang was. As sy jou gevind het - moes jy sommer gou-gou vertel van die niggie waaroor jy bekommerd was, die toon wat gestamp is, of hoe dinge die laaste tyd by die werk gaan. As jy oor haar gevra het - het sy vir jou gesê dat die Here vol genade is - maar dat sy maar sukkel met die gesondheid.
Ek het in die week met iemand gesels oor tannie Marie - en selfs oor ander in haar portuur wat ons in die afgelope paar jaar verloor het - en die persoon het opgemerk: Dis net nog ‘n pilaar van die gemeente wat geval het. En hoewel die gemeente deur die Here se genade nog stewig en vas staan - wil ek tog saamstem: Tannie Marie was ‘n pilaar.
Ten spyte van haar uitdagings, ten spyte van haar eie probleme, ten spyte van haar eie bekommernisse het Tannie Marie geleef vir die Here en vir hierdie kerk waar Sy die Here kon dien. Elkeen van ons gemeente kan getuig - ek is seker daarvan - van hoe sy ons lewens aangeraak het - hoe sy deur die Here gebruik is om te bid, te gesels, te druk, te skaaf, en te dra aan laste wat nie haar eie was nie. Ons gaan tannie Marie geweldig baie mis.
Terwyl ek gedink het aan al die dinge wat tannie Maria vir ons gedoen het - hoe sy sonder amp en titel regtig ‘n instrument in die Here se hande was, het dit my amper dadelik laat dink aan ‘n paar besondere vroue wat in die nuwe Testament genoem word. Ek dink as tannie Marie in daardie tyd geleef het - sou daar ‘n moontlikheid wees dat sy onder die vroue genoem kon word.
Hierdie vroue het in die stilte, sonder aansien en eer, vir die Here gewerk met elke gram krag in hulle beniste - en hoewel hulle net vlugtig in die Bybel genoem word - sal die ewigheidswerk wat hulle doen het - tot in die ewigheid strek. Hulle was vroue van God - net soos ons Tannie Marie.
Paulus se bediening in Rome. Die vroue van Rome.
Paulus se bediening in Rome. Die vroue van Rome.
Van baie van hierdie vroue weet ons vandag baie min. Inteendeel, word meeste van wat ons van hulle weet in Rom. 16: 1-16 saamgevat.
Dit klink sleg - maar ek glo dat hierdie vroue dit so sou verkies. Mense wat die Here op hierdie manier dien, dien nie die Here sodat hulle name vir ewig bekend sal wees nie - hulle dien die Here bloot omdat die Here gedien moet word.
Nietemin noem Paulus in hierdie laaste groet van die brief aan die gemeente in Rome, ongeveer 26 name van mense wat steunpilare vir die gemeentes in Rome was.
Dit is opvallend dat 10 van die 26 name - die name van dames is.
Hy beveel by hulle in vers 1 Fébé aan, en gee hulle die instruksie om alles te doen wat sy van hulle vra.
Hy groet die bekende Priscilla en haar man Aquila. Hierdie paarjie het ‘n lang pad saam met Paulus gestap en dit wil voorkom asof hy selfs vir ‘n tyd by hulle gebly het. Hy verwys na hulle in Hand. 18, Rom. 16 en in 1 Kor. 16: 19-20.
Paulus groet vir Maria in vers 6. Vir Junias in vers 7 en vir Triféna en Trifósa en Pérsis vers 12 - almal vroue van wie ons bitter min weet, behalwe dat hulle die Here gedien het.
In vers 13 ininieer Paulus dat die moeder van Rufus vir hom so belangrik was - dat sy amper soos sy eie moeder geword het.
Dan ook natuurlik in vers 15 Julia, en Olimpas wat onder die heiliges in die gemeente getel word.
Voorbeelde van godvrugtige mans en vroue.
Voorbeelde van godvrugtige mans en vroue.
Ek bewonder altyd hierdie name wat sommer so per toeval in die Skrif genoem word. Die name van manne en vroue wat werklik ‘n pad met die Here gestap het.
Hierdie vroue - soos tannie Marie - leer vir ons deur hulle eie lewens wat dit beteken om ‘n man of vrou van God te wees. Wat dit beteken om in nederige diens die Here te eer met ons lewens.
Tannie Marie was - in my opinie - ‘n vrou van God. En soos hierdie vroue in die Bybel wil ek by haar en by hulle leer hoe om ‘n beter man van God, of vir die dames vrou van God te wees.
Ek wil net twee gedagtes met julle deel uit die gedeelte wat ons gelees het - twee lesse wat ons kan leer by die vroue van God.
En of jy nou ‘n man of ‘n vrou is - hierdie is lesse wat elke kind van die Here behoort te soek in hulle lewens. Lesse geleer by die vroue van God...
'n Vrou van God is ‘n dienares van die gemeente.
'n Vrou van God is ‘n dienares van die gemeente.
EK beveel by julle aan ons suster Fébé, wat ’n dienares is van die gemeente in Kenchréë,
Die woord wat Paulus gebruik om hierdie vrou in vers 1 te beskryf is dieselfde woord in die Griekse taal waarvan ons die woord Diaken afgelei het.
In sy oorspronlike vorm verwys hierdie woord na iemand wat take verrig. As jy iemand in jou huis gehad het wat die inkopies gedoen het, die huis netjies gehou het, die rekeninge betaal het en al hierdie daaglikse take verrig het - sou die woord hulle baie mooi kon beskryf.
Die woord was ook gebruik om te verwys na ‘n kelnerin, ‘n versorger of ‘n bediende.
Paulus het baie keer die woord gebruik om na sy eie en ander Evangeliste se diens in die Evangelie te verwys.
Colossians 4:7 (DIEBYBEL:A19331953)
AL my omstandighede sal Tíchikus, die geliefde broeder en getroue dienaar en mededienskneg in die Here, julle bekend maak.
Fébé - die vrou waarna Paulus verwys in Rom. 16: 1 - was ‘n vrou wat geweet het dat dit haar plig was om in diens van die Here te staan. Sy het haar lewe aan hierdie diens toegewy.
Dit was ook nie net Fébé nie. Ons lees in vers 6…Rom.16.6
Romans 16:6 (DIEBYBEL:A19331953)
Groet Maria wat baie vir ons gearbei het.
In vers 12 staan daar… Rom.16.12
Romans 16:12 (DIEBYBEL:A19331953)
Groet Triféna en Trifósa, vroue wat in die Here arbei. Groet Pérsis, die geliefde vrou, wat baie in die Here gearbei het.
Inteendeel - in hierdie 16 verse verwys Paulus presies 6 keer na een of ander vorm van werk vir die Here of diens aan die Here. Diens - en kind van God wees - gaan hand aan hand.
Daar is twee maniere om die Here te benader. Die eerste is om na die Here te gaan en te vra wat die Here vir my kan doen. Hoe kan die Here my seën, my probleme oplos, my finansies en my gesondheid bedien.
Die tweede manier is om na die Here te gaan en te vra wat ek vir die Here kan doen. Waar ek ek, soos Fébé, soos tannie Marie, iets vir Christus en vir die Here beteken?
Die eerste les wat ek leer by die vroue van God - is dan dat daar werk is om te doen. Tannie Marie het haar rus verdien - sy het ure en ure tussen die vier mure vir die Here gewerk - maar ons wat nog asem het - vir ons is daar nog iets te doen.
'n Vrou van God lewe vir die Here.
'n Vrou van God lewe vir die Here.
wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.
Dit was nie baie maklik om ‘n kind van die Here te wees toe Paulus hierdie brief aan die Romeine geskryf het nie. Die Romeinse keisers het Christenskap as ‘n bedreiging vir Rome beskou en sommige van hierdie keisers het Christene wreed vervolg.
Dit was so, dat Christene in sommige gebiede in die geheim bymekaar moes kom, omdat hulle doodgemaak sou word as hulle in die publiek hulle godsdiens uitgeoefen het.
Priscilla en haar man Aquila, het selfs mense in hulle huis genooi om daar in die geheim die Here te dien. 1Cor.16.19
Die gemeentes van Asië groet julle. Áquila en Priscílla saam met die gemeente wat in hulle huis is, laat vir julle baie groete weet in die Here.
Paulus gebruik nogal interessante taal in vers 4. Die letterlike vertaling van vers 4 sê dat hierdie mense hulle nekke neergelê het vir die Evangelie.
As iemand onthoof was - was hulle nekke op ‘n stuk houtstomp neergelê voordat hulle terreggestel is. Hierdie mense het so vêr gegaan vir die Evangelie - dat dit was asof hulle nekke alreeds op die houtblok gelê het.
Priscilla en Aquila was doodgewone mense gewees - maar nadat hulle die Evangelie van die Here Jesus gehoor het - het hulle lewens heeltemal verander.
Hulle was nie meer tentmakers nie - hulle was Christene - dit was hulle beroep, hulle lewe en hulle missie in die lewe. Hulle het nogsteeds tente gemaak - net soos vantevore - maar hulle het dit net gedoen in sover hulle dit kon gebruik om vir Christus te lewe.
Ek sien weer twee tipes Christene. Daar is ‘n Christen waar Christenskap maar net ‘n deel van ons lewens is. Ons is Christene op ‘n Sondag as ons in die kerk sit, of in die aande vinnig voor ons eet. Ons is Christene in argumente, ons is Christene in die politiek en as iemand ons daaroor uitvra.
Maar Christenskap is eintlik maar net ‘n klein gedeelte van my lewe. Dis soos gym - dis iets wat ek so nou en dan doen.
Die tweede tipe Christen is daardie een wat totaal en al oorgeneem word deur hulle geloof. Hulle leef vir die kerk. Hulle leef vir mekaar. Hulle leef vir die Here.
Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.
Vir hierdie tipe Christen is ons Godsdiens nie net ‘n deel van die lewe nie - dit is ons lewe. As ons werk, werk ons sodat ons beter Christene kan wees. Ons ons leer, as ons speel, as ons groei, as ons siek word en as ons sterf - vir ons is alles Jesus Christus en Jesus Christus is alles.
Paulus was siek, alleen en moedeloos in die tronk - hy was besig om te wag op sy doodsvonnis toe hy die woorde van Fil. 1:20 neergeskryf het:
volgens my reikhalsende verwagting en hoop dat ek in niks beskaam sal word nie; maar dat Christus met alle vrymoedigheid, soos altyd so ook nou, groot gemaak sal word in my liggaam, of dit deur die lewe of deur die dood is.
Vir tannie Marie - vir hierdie vroue van God - was Christus hulle lewe gewees, nie net ‘n deel van hulle lewe nie.
Slot
Slot
Ek preek vandag vir van die bevoorregste mense in die hele wêreld. Ek noem julle bevoorreg - omdat julle tannie Marie geken het. Omdat julle iemand geken het wat nie net gesê het dat sy ‘n Christen was nie - maar iemand wat ‘n Christen was.
Julle neem vandag afskeid van ‘n lewende voorbeeld - ‘n voorbeeld van ‘n lewe wat veranderd was deur die krag van die Evangelie van die Here Jesus Christus.
Dis baie maklik om vir jouself te oortuig dat jy ‘n Christen is en eintlik maar net aan te hou lewe soos jy geleef het. Duisende mense vandag glo dat hulle kinders van die Here is terwyl hulle in die waarheid nog net so verlore soos altyd is.
Hulle dink dat as hulle goeie mense is, as hulle kerk bywoon, as hulle darm so nou en dan bid of as hulle een keer erens ‘n oorgawe gemaak het of as hulle opgestaan het in ‘n kerk dat hulle saak met die Here reg is. Hulle sal hulle oë eendag in die hel oopmaak!
Daar is net een manier om te weet of jy regtig gered is - of jou saak met die Here regtig reg is - en dit is wanneer jy in jou lewe die tekens van jou redding kan sien.
Wanneer jy soos hierdie vroue van God die Here dien, nie uit ydele eer nie, maar omdat jy God liefhet. Wanneer elke ding wat jy vir die Here doen nie meer ‘n taak is nie maar ‘n daad van liefde aan die Here!
Wanneer jy soos hierdie vroue van God vir Christus Jesus eerste in jou sit. Wanneer jy opgehou het om vir jouself te lewe en vir Christus begin lewe. Wanneer dit nie meer gaan oor jou drome, jou ideale of jou toekoms nie maar wanneer jou siel sing “waar U lei, daar sal ek heengaan!”.
Wanneer jy waarklik kan sê, ek lewe vir Christus, en nie meer vir myself nie.
My liewe luisteraar - maak seker dat jou saak met die Here reg is. Eendag as jy in jou eie kus lê, eendag wanneer jou familie en vriende oor jou huil - sal dit net jou lewe wees wat van jou verhouding met God getuig - dan is daar nie meer kans vir woorde nie.
Ek gaan tannie Marie vreeslik mis - ek gaan regtig. Maar ek gaan nie oor haar hartseer wees nie. Ek is seker van my saak voor die Here - ek weet my lewe is gered deur die kruis van die Here Jesus - en daarom weet ek dat ek haar weer sal sien.
Sy is maar die kinders van God hier op aarde maar net vooruit. Ons sal haar almal met blydskap volg. Ons sal haar weer sien. Maak seker dat jy saam met ons gaan.
Amen.
5 BEGRAFNISBRIEWE
Ons suster Marie, hoe geliefd was sy nie.
Ek onthou hoe mooi Renè en Louisa gelyk het as my blomme
meisies...twee prinsessies. So baie dinge het ons saam gedoen en beleef
soveel van ons geliefdes aan die dood afgestaan ...dan onthou ek ook ons
baie kuiers en vakansies saam..altyd by die see totdat hulle verhuis het
..was groot hartseer..tog het ons nog altyd gekuier saam tot in die Kruger
wiltuin ons laaste vakansie was Kgalagadi en Namibië.
Was wonderlik en natuurlik het sy die eerste Kabejou op Henties gevang.
Wonderlike tye met my sus.Sy was so goed vir almal.Haar kinders was haar
lewe sy sou enigiets opoffer vir hulle.Verlede jaar na die dogters se
heengaan het sy weer kom kuier..verslae..ontredderd verward maar sy kon
nog met hulp stap. Ons kon haar bederf met see en kuier.
Hierdie jaar kon ons sien die kruik was leeg. Karel Bremer hospitaal was
silwerskoon en drs en verpleegpersoneel so hulpvaardig en liefdevol ..ons
kon vir ure by haar kuier.
Die laaste dag het hulle haar in privaarkamer geskuif. Ons het almal se
boodskappe en liefde oorgedra. Leonard en sy gesin het stemboodskap
gestuur wat ons oor en oor vir haar gespeel het. Ons het haar vagehou, Ps
23 en Gesang 177 vir haar gesing (sy kon so mooi sing) haar gebid
..gesalf..haar verseker dat als en almal ok is..sy wou so graag met Leonard
se verjaardag by die huis wees ..Baie dankie aan almal vir julle boodskappe
en ongee liefde.
Nanette hoe kan ons jou ooit bedank vir wat jy vir ‘tante Marie’ gedoen en
beteken het. Altyd ‘n sagte oor, sagte rusplekkie. Julle by haar kerk en
vriende was ook haar familie...ons was toe by Lampiesbaai net so mooi
soos sy dit beskryf het. Ons groet tot weersiens ons geliefde suster wat nou
by haar geliefdes in die Vader se huis is.
Liefste Moeder en Ouma,
Baie dankie dat ek Ma vir 50 jaar as deel van my lewe kon hê en dat Ma so
’n goeie Ouma vir my en Paula se kinders, Ma se kleinkinders was. Ma se
opregte omgee vir familie en vriende sal ons altyd bybly.
Van my kant af, as Ma se skoondogter, kan ek terug kyk en dankie se vir
alles wat Ma vir ons gedoen het. Ek het so baie by ma geleer.
Ek het net toe gekyk wanneer Ma met ons kinders gewerk het, want ek kon
sien hoe lief Ma hulle gehad het. Ek sien nogsteeds vir Joost op ’n stoel
staan, besig om vir ouma n tas af te haal of n duvette te bere. Leoné wat
voor Ma sit, besig om ma se naels te Qtex, want dit moet reg wees vir kerk.
Ek hoor vir Danelle die huis in storm om eerste vir ouma te groet en onder
ouma se arm in te skuif sodat ouma n storie vir haar kan lees.
Met die laaste kerk diens wat Ma bygewoon het, het Ma voor my gestaan,
gewag vir Nanette om Ma op te laai. Ma het gevra of Ma darm goed lyk. Ma
het altyd goed gelyk en dit is hoe ek ma sal onthou.
Baie liefde
Leonard, Paula, Joost, Leoné en Danelle
6. BEDANKINGS
7 LIED - HALLELUYA IN MY HART
8 BEWEEG NA BUITE
EK beveel by julle aan ons suster Fébé, wat ’n dienares is van die gemeente in Kenchréë,
dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie ’n beskermster en ook vir my.
Groet Priscílla en Áquila, my medewerkers in Christus Jesus,
wat vir my hulle lewe gewaag het; nie ek alleen dank hulle nie, maar ook al die gemeentes van die heidene.
Groet ook die gemeente by hulle aan huis. Groet Epénetus, my geliefde, wat die eersteling van Acháje is vir Christus.
Groet Maria wat baie vir ons gearbei het.
Groet Andronícus en Júnias, my stamgenote en my medegevangenes, wat in aansien is onder die apostels en reeds voor my in Christus gewees het.
Groet Ámplias, my geliefde in die Here.
Groet Urbánus, ons medewerker in Christus, en Stáchis, my geliefde.
Groet Apélles, die beproefde in Christus. Groet hulle wat van die huis van Aristobúlus is.
Groet Heródion, my stamgenoot. Groet hulle wat van die huis van Narcíssus is, die wat in die Here is.
Groet Triféna en Trifósa, vroue wat in die Here arbei. Groet Pérsis, die geliefde vrou, wat baie in die Here gearbei het.
Groet Rufus, die uitverkorene in die Here, en sy moeder en myne.
Groet Asínkritus, Flegon, Hermas, Pátrobas, Hermes en die broeders wat saam met hulle is.
Groet Filólogus en Julia, Néreus en sy suster en Olímpas en al die heiliges wat saam met hulle is.
Groet mekaar met ’n heilige kus. Die gemeentes van Christus groet julle.
