Handelinge 17:16 - 34
Notes
Transcript
VOTUM
VOTUM
GEE TYD EN HAAL ASEM
Dit is vir my werklik ‘n voorreg om hier voor julle te kan staan vanoggend. Ek wil sommer ook van die tyd gebruik maak om dankie te sê dat julle vir my en Marlize met ope arms ontvang het in die gemeente, ons waardeer dit opreg.
WAG
Dit is met ‘n blye hart wat ek vir julle vanoggend kan sê dat ons hulp in die Naam van die Here is wat hemel en aarde gemaak het, wat trou bly tot in ewigheid en nooit die werk van Sy hande laat vaar nie.
SEËNGROET
SEËNGROET
Haal asem
En daarom is dit dan my voorreg om jou vanoggend te groet in die Naam van die Here: Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
TOETREDELIED
TOETREDELIED
Ek wil jou uitnooi om rustig terug te sit en te luister na ‘n toetredelied wat jou uitnooi om te kom nes jy is. Haal rustig asem en raak stil hier in die huis van die Here
Come as you are
LOF EN AANBIDDING
LOF EN AANBIDDING
Gebed: Liewe Vader ons is hier in U huis saam en ons sê vir U dankie dat ons weet dat ons kan kom net soos ons is. Dankie dat ons kan weet ons hoef nie voor te gee by U nie, U is die een wat die 99 los en die een gaan soek om te verseker dat almal veilig is. Ons dank U daarvoor. Amen.
Kom ons staan en dan loof en prys ons die Here met drie lof en aanbiddingsliedere.
Alle volke klap julle hande
Agnus Dei
Grote God aan U die eer
DIE WET
DIE WET
Jesus sê in Matteus 22:37-40 dat ons God met ons hele hart, siel en verstand moet liefhê en dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Tog weet ons dat ons die opdrag misluk en dat ons dit nie regkry nie.
SKULDBELYDENIS
SKULDBELYDENIS
En daarom bely ons ons gebrokenheid voor God en saam met mekaar. Dat ons gedurig ons doel mis en nie die lewe wat God deur Sy woord ons opdrag gee om uit te leef voltooi nie.
GENADEVERKONDIGING
GENADEVERKONDIGING
Johannes sê egter vir ons dat as ons ons sonde bely dan kan ons weet dat God getrou en regverdig sal wees en dat Hy daarom ons sondes sal vergeef en ons van alle kwaad reinig.
Kom ons sing dan ‘n lied sittende saam wat oor die genade van ons God getuig.
Nader my God by U
SKRIFLESING
SKRIFLESING
Ons teksgedeelte vir die dag kom uit Handelinge 17:16 – 34. Die teks handel oor Paulus wat in Athene aankom en ‘n klomp afgodsbeelde sien en dan met die Atheners in gesprek tree en die evangelie onder hulle verkondig.
Voor ons na die teks draai, kom ons buig eers in gebed.
Gebed: Almagtige God, Skepper van die heelal en alles wat lewe, maar ook skepper van ons, ons vra dat U asseblief deur U Heilige Gees die Woord vir ons sal kom oopbreek en ook ons vatbaar te maak.
Waar ons nou gaan lees oor Paulus wat in Athene met ander mense wat anders dink as hy gaan lees vra ons dat U met ons sal praat deur die woord. Ontmoet elkeen van ons vandag waar ons is sodat ons kan hoor wat U vir ons wil kom sê. Amen
Ons lees dan Handelinge 17:16 tot 34:
[16] Terwyl Paulus in Athene op hulle gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. [17] Hy het in die sinagoge met die Jode en die mense wat God vereer, geredeneer, en ook elke dag op die markplein met wie ook al daar was. [18] Sommige van die Epikuriese en Stoïsynse filosowe het ook met hom gedebatteer, en party van hulle het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” En omdat hy Jesus en die opstanding verkondig het, het ander van hulle weer opgemerk: “Dit lyk of hy 'n verkondiger van vreemde gode is.” [19] Hulle het hom geneem en na die Areopagus gebring en gesê: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? [20] Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore, en ons wil graag weet wat dit beteken.”
[21] Al die Atheners en ook die uitlanders wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.
[22] Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. [23] Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. [24] Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. [25] Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. [26] Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, [27] sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. [28] Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het,
‘Ons is ook van sy geslag.’
[29] “Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. [30] God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. [31] Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.”
[32] Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” [33] So het Paulus uit hulle midde vertrek. [34] 'n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.
PREDEKING
PREDEKING
WAG
Dit is ‘n vreeslike interessante teks die. Inteendeel, die teks bevat die gedeelte wat die meeste bestudeer word in die hele boek van Handelinge! Voordat ons by die boodskap van die teks uitkom, wil ek julle graag uitnooi om saam met my in die teks se konteks in te delf. Meerderheid van die jongmense saam wie ek selgroepe en kuierkerk doen sal weet dat ek mal is daaroor om in die teks te gaan grawe en dieper daarna te kyk, so sit daardie dink-kappie aan en kom ons bekyk die konteks van die teks.
WAG
Om die teks van nader te bekyk moet ons eintlik eers ‘n bietjie teruggaan en gaan kyk hoe Paulus nou hier op geëindig het in Athene.
POUSE
As ons gaan kyk na die begin van die hoofstuk, sien ons dat Paulus en sy medewerkers aanvanklik eers in Thessalonika was, daar het hulle die evangelie versprei in die sinagoges. Ons lees dan dat die Jode geïrriteerd of soos die Bybel sê jaloers geraak het en vir Paulus en Silas in die hande probeer kry het. Hulle kon hulle egter nie opspoor nie, en die gelowiges van Thessalonika stuur vir Paulus en Silas onmiddellik Berea toe wat so 60km weg is.
Wat doen Paulus-hulle met die aankoms in Berea? Wel, hy gaan onmiddellik na die Sinagoge toe en verkondig die evangelie. Die boodskap versprei dan na Thessalonika dat Paulus die evangelie in Berea verkondig het en dan onmiddellik gaan die Jode daarheen om mense op te sweep en oproer te maak. Die gelowiges stuur uiteindelik vir Paulus alleen na die kus toe en los vir Silas en Timoteus in Berea. Dis dan hoe Paulus in Athene opeindig wat so net oor die 300km weg is soos die kraai vlieg van Berea af. Dit is dan waar ons teksgedeelte vir die dag uiteindelik afskop.
So Paulus het eintlik ‘n hele groep mense ontstel wat opsoek is na hom en hom waarskynlik sou gevange neem of erger. Wat doen Paulus dan as hy in Athene inkom? Hy gaan na die sinagoge soos altyd en versprei die evangelie, maar belangrik vir ons fokus vandag het hy ook op die stadsplein met mense gaan staan en gesels.
Nou om vers 16 bietjie beter te verstaan, is dit nodig om in te dink wat Paulus sou gesien het in Athene. Hier is sommer net ‘n paar foto’s van die afgodsbeelde en tempels wat in antieke Griekeland en Athene was. Hier is ‘n foto van hoe dit lyk as jy vandag daar na Athene sou kyk. Mens kan nou steeds sien dat die tempels en so daar bo onmiddellik die oog vang, dan moet ons nog onthou dat dit heeltemal anders en volledig sou gelyk het in daardie tyd. Hierdie is sommer net ‘n foto van ‘n altaar aan Zeus. Hierdie is ‘n kleiner tempel aan ‘n Griekse god. En dan is die waarskynlik hoe daardie groot tempel van Athene daar bo sou gelyk het. Die is nou wel nie dieselfde tempel nie, hierdie is in Efese, maar dit sou baie dieselfde gelyk het.
Nou kan jy jouself net indink dat jy in antieke Athene instap en hierdie enorme tempels en altare reg rondom jou sien! Mens kan dan verstaan hoekom Paulus diep verontwaardig en selfs bietjie kwaad kon voel daaroor...
Paulus praat dan met al die mense wat op die markplein was. Nou hier stel die Woord baie duidelik dat hy met epikuriese en Stoïsynse filosowe te make gehad het. Ons moet hier onthou dat ons met die filosofiese megapolis van die antieke tyd te make het. Die wat verskeie filosofieë nagejaag het was volop in die stad al was die stad nie meer op sy hoogtepunt nie. Dit is immers waar filosowe soos Plato en Sokrates ook was vroeër in die geskiedenis.
Daar was ‘n verskeidenheid filosofie en sieninge in Athene gewees. Sommige het die ontsterflikheid van die siel ontken, ander het weer geglo aan reïnkarnasie, maar die epikuriese filosofie het geglo dat die doel van die lewe genot en plesier is, hulle het geglo in die gode maar het geredeneer dat hulle die aarde gemaak het en verder eintlik nie regtig kon omgee wat die mense op aarde doen nie.
Die Stoïsynse filosowe aan die ander kant was meer ‘n panteïstiese siening wat beteken dat hulle die hele skepping as god of gode gesien het. Hulle het ook geredeneer dat mens jou emosies moet beheer en in die noodlot moet berus. Dit is dus baie anders as die evangelie.
Die twee filosofie groepe noem Paulus dan ‘n praatjiesmaker, die Grieks wat hier gebruik word sê eintlik dat hulle hom sien as iemand wat sekere stukkies van een legkaart vat en ander van ‘n ander legkaart. Hulle dink hy vat van ‘n klomp ander denkwyses eerder as om sy eie fondamente te bou. Hulle dink hy vat ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar.
‘n Interessante ding om te noem is dat hulle ook gedink het hy praat van twee gode! Ons moet onthou dat monoteïsme die uitsondering op die reël was daardie tyd! Hulle dink hy praat van Jesus (natuurlik), maar dan ook van Anastasis – die Griekse woord vir opstanding. Dit sou waarskynlik wees omdat hulle glad nie gewoond was aan ‘n vleeslike opstanding nie. Dit is dan ook hoekom hulle later se dat dit vreemd op hulle ore val.
In vers 22 begin Paulus dan te praat met die Aeropagus. Die Areopagus was die gelykstaande van die Sanhedrin vir die Jode, hulle was soos die hooggeregshof van vandag. Die wat dit gevorm het was die gesaghebbendes van die samelewing gewees.
Paulus se mondeling wat hy aan hulle lewer begin waar hy hulle bietjie heuning om die bek smeer. Hy vertel vir hulle hoe gelowig en mooi dit is in die stad. Verder bly Paulus alles vertel sonder om direk uit die geskrifte aan te haal, want hy weet hulle ken dit nie. Maar tog bly hy na aan die Bybelse leringe al is dit ander taal. Paulus stel dit op so ‘n manier dat sy gehoor waarskynlik sou saam stem met meerderheid van die leringe wat hy sê. Eers aan die heel einde maak Paulus bekend oor wie die leringe nou werklik gaan. Die God van die Bybel.
Dis nou als goed en wel, ons het nou so bietjie nader na die teks gekyk en die agtergrond bespreek. Maar wat sê die teks vir ons vandag? Ons wat amper 2000 jaar later die teks lees?
Daar is twee vrae wat ek dink ons kan help om die antwoord te vind. Wat sou Paulus gesien het as hy vandag hier by Pretoria ingestap het?
Dit is wat hy sou gesien het, hier is ‘n ander voorstelling van Pretoria. Sou ons stad, en selfs meer belangrik ons mense nie ook dalk vir Paulus verontwaardig laat voel het nie? Het ons nie soms altare of tempels aan ander gode nie?
Die rede hoekom die Atheners ‘n altaar vir ‘n ‘onbekende god’ gehad het, was eintlik maar om hulleself te beskerm ingeval daar ‘n god is wat hulle nie aanbid nie en hy dan wraak op die stad sou neem. Probeer ons nie maar van tyd tot tyd dieselfde doen in ons geloofslewe nie? Sien ons dalk God as ‘n staatsdiens wat altyd beskikbaar moet wees wanneer ons hom nodig het? Half soos ‘n hospitaal, ons gaan net as ons dit benodig maar wil nie eintlik daar wees nie?
As dit die geval is kom en vertel Paulus vir ons dat God ‘n persoonlike God is. Hy is nie soos die wêreldse gode wat deur mense gemaak kan word nie, Hy is die een wat skep, nie die een wat geskep word nie. God stel aktief in Sy skepping – in ons belang. En soos Paulus sê het God dit kom bevestig deur Christus wat uit die dood opgestaan het.
Een van die kommentare stel dit baie goed:
“If He is unknown to you, you are then in total ignorance of His true nature.”
Dit is wat Paulus ook vir die Atheners vertel. Hulle ken eintlik die ‘onbekende’ God. Hy is die een wat alles rondom hulle gemaak het. Hulle kan nie meer maak asof hulle nie van Hom weet nie.
Met ander woorde, God is hier by ons. Hy stap saam ons ‘n pad. Ons kom pas uit Pinkster uit wat dien as nog ‘n bevestiging daarvan. Meer as dit het ons vandag dit weer hier gesien ons eie oë - die doop.
Die doop dien as teken dat God altyd by ons is en dat ons Sy kinders is. Dit bring my by die tweede vraag. Wat beteken dit vir jou om gedoop te wees en om ‘n Christen te wees?
Paulus steur homself nie aan die wêreld rondom hom wat hom probeer aftrek en vernietig nie. Hy gee bloot net nie om nie... Mens wil amper wonder of hy nie so bietjie kens is nie... elke nuwe plek waar hy kom gaan hy net voort om die evangelie te verkondig. Mens wil amper sê dat dit uit hom uit vloei. Hy kan nie anders as om dit te verkondig nie. Meer as dit gebruik Paulus sy konteks om God te vereer daar waar hy is. Hy sien God raak rondom hom.
In ons alledaagse lewe in die stad raak ons so gejaag dat ons God nie raaksien nie. My uitdaging aan ons almal hier vandag is om bietjie stil te word en God rondom ons te sien. Dan kan ons uiteindelik God raaksien rondom ons en kan ons bewus word van die strome van seëninge wat Hy oor ons pad stuur. Want as ons bewus word daarvan is daar nie ‘n manier dat die evangelie nie uit ons uit gaan vloei nie. Dit is bloot net die logiese gevolgtrekking.
Stil gebed en gebed
Gebed: Here, dankie dat ons kan weet dat U altyd saam met ons is, dat U nie ‘n god is wat nie omgee oor U skepping nie, maar dat U ‘n persoonlike verhouding ook met die skepping, met my, wil hê.
Vader ons sukkel vreeslik om in ons lewe stil te word en net vir ‘n slag U raak te sien. Help ons deur U Gees om weer opnuut bewus te raak van U en die ongelooflike gebeurtenis wat U deur Christus, u Seun, aan die kruis kom doen het.
Ons dank U vir die oneindigende stroom van ‘n seëning wat U vir ons aan die kruis betoon het. Mag ons nooit dit as vanselfsprekend ervaar nie en mag die evangelie uit ons uit vloei soos dit uit Paulus ook gevloei het. Amen
Ek gaan ‘n lied speel tydens die vrygee waarin mens die vreugde van God sien en hoor, mag dit jou vreugde vir God weer laat opvlam en ‘n huppel in jou stap sit. As daar enige vrywilligers is wat sal help met die vrygee sal ons dit baie waardeer.
Valleisig kom ons staan saam en sing die slotlied Strome van Seen van Bowe.
Strome van Seen van Bowe
SEËN
SEËN
Mag jy God die Vader se liefde en teenwoordigheid ervaar,
Mag jy opnuut bewus word van wat Christus vir jou aan die kruis kom doen het,
En mag die Heilige Gees jou lei om stil te word om dit als in te neem.