Om te luister of nie te luister nie
Notes
Transcript
Wat ‘n voorreg om vandag hier by julle te kan kuier! Ek sien sommer reeds uit om na die diens saam met julle oor ‘n koppie tee of koffie te gesels. En ek wil julle graag uitnooi of miskien selfs uitdaag om die persone langs en om jou te groet.
Dit is nou hier waar jy uiteindelik jou vrou of kinders kan groet na die gejaag om by die kerk uit te kom. Ek vind dat ons as gelowiges dikwels so skaam is as ons in die kerk is waar ons inderdaad eintlik ‘n gemeenskap is.
VOTUM
VOTUM
GEE TYD EN HAAL ASEM
Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van Sy magtige teenwoordigheid.
SEËNGROET
SEËNGROET
Haal asem
Dit is my voorreg om jou vandag in die naam van die Here te kan groet. Ek doen dit graag vanuit Openbaring 1:
“Genade en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is; en van Jesus Christus, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die heerser oor die konings van die aarde.“
Kom ons sing ‘n toetredelied sittende saam
Here ek sal U loof – Retief Burger
LOF EN AANBIDDING
LOF EN AANBIDDING
Gebed: Here, ons loof U en ons dank U vir die voorreg om vanoggend hier te kan sit in U huis. Dankie dat ons kan kom net soos ons is. Ons dank U dat U teenwoordig is hier saam met ons. Mag ons rustig word hier by U voete en mag ons U vrede opnuut ervaar hier by ons vandag.
Amen
Kom ons staan en dan sing ons 3 lofliedere saam.
Lied 177 Jesus groot bo almal
Open the Eyes of my Heart – Paul Baloche
Lied 190 Grote God aan U die eer
DIE WET
DIE WET
Geliefdes, die Wet van die Here is aan ons gegee om as riglyn te dien sodat ons ons lewe en denke kan instel op die wil van God.
Die volgende kom uit Romeine 12:9 – 21
9 Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie.
10 Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning.
11 Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien.
12 Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.
13 Betoon meelewing met die behoeftes van die •heiliges; lê julle toe op gasvryheid.
14 Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
15 Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat treur.
16 Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle
by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.
17 Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is.
18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.
19 Geliefdes, moet julle nie wreek nie, maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf: “Aan My kom die wraak toe; Ek sal vergeld, sê die Here.
20 Maar: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Deur dit te doen, stapel jy vurige kole op sy hoof.”
21 Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie.
Dit is dan die wet en die wil van God die Almagtige waarop ons onsself moet instel.
SKRIFLESING
SKRIFLESING
Ons skriflesing vir die dag kom uit die boek van Esegiël. Ons lees saam Esegiël 2:1-5. Dit is ‘n interessante gedeelte van die boek waar die profeet Esegiël op pad is om sy roeping te kry.
Maar voordat ons die teks bestudeer en hoor wat die boodskap is wat God vir ons het vandag, laat ons eers ons hoofde buig.
Gebed: Liewe Vader, hier waar ons op die punt staan om in U Woord te delf kom vra ons U om asseblief U woord vir ons te kom oopbreek sodat ons opreg kan hoor wat U vir ons wil kom sê.
Help ons om te luister soos wat die teks stel ons dit moet doen. Mag ons besef dat die teks vandag nie net met die Israeliete gepraat het nie, maar dat dit aktief besig is om met ons ook te praat.
Amen
[1] Hy het vir my gesê: “Mensekind, staan regop, dan sal Ek met jou praat.”
[2] 'n Gees het oor my gekom terwyl Hy met my praat, en dit het my regop laat staan. Ek hoor toe iemand praat met my.
[3] Hy het vir my gesê: “Mensekind, Ek stuur jou na die Israeliete toe, na daardie rebelse nasies wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorouers het teen My oortree tot op die dag van vandag.
[4] Dié kinders het stroewe gesigte en harde harte. Ek stuur jou na hulle en jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here.’
[5] En hulle, of hulle nou luister of verseg om te luister – want hulle is die rebelse huis – hulle sal besef dat daar 'n profeet onder hulle was.
PREDEKING
PREDEKING
WAG
Dit is dan ons teksgedeelte vir die dag.
WAG EN MAAK BYBEL TOE
Interessant om te noem is dat die boek van Esegiël deur die Jode beskou word as een van die moeilikste boeke in die Ou Testament. Dit is immers ‘n vreemde profetiese boek met vreeslike visioene en verskeie openbaringe van aard.
Tog is ek van mening dat die boek ‘n ongelooflike boodskap met ons kom deel hier vandag in 2024 in Suid-Afrika.
Nou om die teks bietjie in konteks te plaas is dit van kritieke belang dat ons eers die voorafgaande hoofstuk lees of ten minste dan net vanaf vers 26 af. Tot en met vers 26 beskryf die hoofstuk net die hele visioen wat Esegiël gehad het wat verskeie vorme van hemelwesens beskryf, maar dit bereik dan die hoogtepunt vanaf vers 26:
LEES
[26] Bokant die koepel wat bo hulle koppe was, was daar iets wat soos •lasuursteen lyk, in die vorm van 'n troon; en daarbo, op wat soos 'n troon lyk – daarop was 'n gestalte met die voorkoms van 'n mens.
[27] Ek sien toe Hy is skitterend soos witgoud, byna soos vuur vasgevang in 'n omhulsel, vanaf wat na sy heupe gelyk het boontoe. En vanaf wat na sy heupe gelyk het ondertoe, het ek gesien dit lyk soos vuur, omring deur 'n helder gloed.
[28] Die helder gloed rondom het gelyk soos 'n reënboog wat in die wolke verskyn op 'n reëndag.
Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek 'n stem hoor praat.
Hierna skop die verhaal van ons teks vir die dag dan nou in. As ons die hele gedeelte van hoofstuk 1 in ag neem dan kan mens verstaan hoekom Esegiël op sy gesig neergeval het. Hy het hier te make met die ongelooflike kragtige God.
In die aanvang van die gesprek wat God met Esegiël het sien ons dat Esegiël Mensekind genoem word. Die 83 vertaling vertaal dit bloot net as mens. Ons almal lees eintlik so vinnig en maklik daaroor en dink nie veel daarvan nie. Tog, wanneer ons na die Hebreeus gaan kyk is dit ‘n redelike spesiale benaming die.
Die Hebreeus vir die woord is eintlik “ben-adam” wat ons dan direk kan vertaal as seun van die mens. Nou ek verstaan hoekom die vertalers nie die vertaling gebruik het nie, want dit vat ons natuurlik onmiddellik na Jesus toe. Tog faal die vertaling daarin om dit duidelik te maak dat die nie net enige benaming is nie, maar dat dit ‘n God-gegewe titel is wat aan die profeet gegee word en wat nog baie deur die res van die teks gebruik gaan word. Dit gee krag en verantwoording aan die profeet wat die titel opneem.
Soos wat ek deur die teks geworstel het, het daar nog iets na vore gekom wat my opgeval het. Ek bly in ‘n plattelandse dorp in die verre noorde waar ons nog grootgemaak word dat as iemand in die vertrek in loop dan staan jy op om respek te toon. En dit is wat dan hier ook gebeur. Esegiël, wat uit respek uit op sy gesig neergeval het, moet nou – met behulp van die Gees – opstaan sodat God met hom kan praat en aan hom ‘n opdrag kan gee.
In vers 3 volg die opdrag dan. Esegiël moet na die Israeliete toe gaan. Let bietjie op hoe word die Israeliete in hierdie gedeelte beskryf – dit klink skoon soos ‘n kind wat weggeloop het van hul ouerhuis af. Die Israeliete word beskryf as ‘n rebelse nasie, ‘n volk wat oortree, hulle het stroewe gesigte en harde harte.
WAG
Dit is inderdaad ‘n besonderse moeilike teks die.
WAG
Terwyl ek deur die teks gewerk het, het dit my konstant laat terugdink oor verskeie dinge in my lewe, dit het dit half onder ‘n vergrootglas geplaas. En op ‘n manier het die teks my vreeslik skuldig laat voel...
Hoe durf ek as gelowige dan nou nie ten volle liefde uitleef soos wat die Bybel dit voorskryf nie... of dit nou is om die persoon wat my beroof het te vergewe, of om die taxi wat voor my inry nie te vervloek nie...
Soos ek sê dit is ‘n moeilike teks die... dit vereis dat ons elkeen wat dit hoor introspeksie doen oor ons lewe en onsself die vraag af te vra oor of ons hunker na die wil van God.
Tog kom sê die teks nooit vir ons dat ons nie moet kwaad wees vir dit wat verkeerd is nie. Nee! Die teks kom eerder en sê dat ons bloot ingestel moet wees op die woord en die wil van die Here.
Ek dink nou sommer hier aan daardie blou afstandbeheerders wat mens gebruik om die elektroniese hekke oop te maak. Meeste van ons wat hier sit weet presies hoe dit lyk. Almal lyk dieselfde of baie dieselfde. Tog gaan daardie afstandbeheerder nie die hek oopmaak teensy dit ingestel is daarop nie. En dit is presies wat Esegiël aan die Israeliete moet gaan vertel. Hy moet vir hulle sê dat hulle nie ingestel is op die Here nie en dat hulle nie die regte hek sal kan oopmaak nie.
Wat ons egter nie moet wees nie is rebels, hardkoppig, hardvogtig of oortreders van God se wil. En ons almal weet tog hoe dit voel om met iemand wat rebels, hardkoppig of hardvogtig is te werk... Inteendeel, paar van ons sal self waarskynlik erken dat ons hardkoppig is, ek val self onder daardie kategorie!
Die ding is as jy rebels, hardkoppig of hardvogtig is, sukkel mens om na ander te luister. As mens so is dan aanvaar mens jy weet die beste en dit is ‘n gevaarlike plek om te wees. Een van my lektore het altyd vir ons gesê dat die wysheid nie by jou of by my lê nie, maar dat dit eerder tussen ons lê.
Snaaks genoeg dink ek dit is ‘n stukkie wysheid wat hy vir ons oorgelewer het. Maar dit is nie altyd so maklik nie, veral nie in vandag se tyd waar elke Jan Rap en sy maat dink hulle is nou kenners omdat hulle ‘n video of twee op YouTube gekyk het oor iets nie.
Dan moet ons onthou dat die teks nie hier van enige persoon praat waarna ons moet luister nie, maar eerder dat dit hier van die Almagtige God praat. Die een wat vir jou en vir my gemaak het. Die een wat is, wat was en wat sal wees. Dit is na Hom wat ons moet luister.
Verder dwing God nie Sy wil op ons af nie, eerder is dit iets waarna ons vrylik kan kies om te luister. Tog word die opdrag aan ons gegee om te luister. Ons sien dit in Matteus 11:15 – “Laat die wat ore het, luister!” Openbaring 13:9 sê “As iemand ore het, laat hy luister.”
Die opdrag staan en as mens die metafoor van die hek volhou dan kan ons sê dat dit beslis moontlik is dat God oor die hek klim, maar op die ou eind gee Hy vir ons die keuse om te luister of nie.
Ons kan self kies waarop ons ons blou afstandbeheerders gaan instel en watter hekke ons wil oopmaak. Almal van ons loop elke dag rond en daar is duisende hekke wat rondom ons is waarvan ons kan kies. Die vraag is egter of jy jou afstandbeheerder gaan instel om God se hek oop te maak en werklik te luister na wat Hy vir jou wil sê.
Daar gaan nou geleentheid wees vir ‘n stilgebed waarna ek vir ons sal afsluit in gebed, die kollekte sal dan ook daarna ingeneem word.
STILGEBED
GEBED
God drie-enig, dankie vir die boodskap wat U vir ons vanoggend gebring het. Ons weet ons is som rebels, hardkoppig en hardvogtig. Help ons sodat ons opnuut sal luister na wat U wil is vir ons lewe. Help ons deur U Gees om ingestel te word en te bly op dit wat U wil is. Help ons om die regte hekke oop te maak.
Ons dank U vir U genade wat U vir ons betoon het met Christus aan die kruis, dit is werklik bo ons verstand. Mag ons nooit dit vergeet nie en mag ons daarom volhard om te luister na U wil vir ons lewe.
Daar is nou geleentheid vir die kollekte.
KOLLEKTE
KOLLEKTE
Kom ons staan dan nou saam vir ons slotlied, Lied 308 Neem my lewe laat dit Heer, waarna julle staande kan bly vir die uitspraak van die seën.
Lied 308 Neem my lewe laat dit Heer
SEËN
SEËN
Die seën wat ek gaan uitspreek is ‘n Ou Franciskaanse seën luister na die woorde, en mag dit waar wees en word in jou lewe:
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar sodat jy ʼn hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ʼn verskil kan maak in hierdie wêreld, sodat jy dinge kan doen wat ander dink nie gedoen kan word nie.
AMEN