Vayigash - Hebreeuse woord
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 21 viewsNotes
Transcript
Vayigash - וַיִּגַּשׁ
Vav - Yod - Gimmel - Shin
Vav - Abba Vader gebruik elke letter van Sy Woord om Sy hart en bedoeling te openbaar. Vav beteken “verbinding” en is uitgebeeld as ’n spyker of tentpen, wat twee dinge aan mekaar verbind. Hierdie prentjie kom duidelik na vore in die Tabernakel se tentpenne en Yeshua se kruisiging. Net soos die spykers Yeshua aan die kruis verbind het, verbind dit ons met Abba Vader en die hemel. Die letter Vav verskyn die eerste keer in Genesis 1:1, in die woord ve’et (en), wat hemel en aarde verbind. Dit wys hoe Abba Vader reeds van die begin af voorsien het vir ons redding. Sodat ons ‘n weg het na die hemel.
Yod - Die 10de letter in die Hebreeuse Alef-bet, sien ons is die letter Yod. In Genesis 1 hoor ons tien keer “En God het gesê,” waar Abba Vader lewe in Sy skepping spreek—lig van donker skei, water van land afsonder en meer. Hierdie tien woorde herinner aan die 10 gebooie, instruksies gegee by Sinai om in verbond met Hom te wandel, onder Sy beskerming en voorsiening. Die getal 10 simboliseer volmaaktheid, soos gesien in die 10 geslagte tot Noag se vloed en die 10 plae in Egipte, wat Abba Vader se oordeel oor afgode weerspieël. Die Hebreeuse letter Yod, wat ’n arm of hand simboliseer, sien ons beteken krag en gesag. In Genesis 3:22 verloor die mens sy gesag deur die sondeval, maar Yeshua herstel dit. Matteus 28:18 bevestig Yeshua as draer van alle gesag, en Hy, as die regterhand van Abba Vader, bied ons ’n pad terug na Sy wil. Yeshua vervul hierdie prentjie deur Sy kruisiging en opstanding, sodat ons weer in Abba Vader se weë kan wandel. Soos kleipotte gevorm worddeur Abba, word ons deur Yeshua gevul met Sy Gees om Sy doel te vervul, en ‘n verlenging te wees van Sy krag en autoriteit op aarde.
Gimmel - Die Hebreeuse letter Gimmel simboliseer beweging, aksie en diensbaarheid. In die piktogram prentjie van die gimmel sien ons ’n voet, wat wys op beweging van een plek na ’n ander. As ons die letter oopbreek, sien ons dit bestaan uit 'n Yod (waarde 10) en 'n Vav (waarde 6), wat saam die numeriese waarde 16 gee. Interessant genoeg, verskyn Gimmel vir die eerste keer in Genesis 1:16, wat verwys na die skepping van die son en maan – Abba Vader se skepping wat diensbaar is aan die res van die skepping. Die letter Gimmel verteenwoordig ook kamele, wat in die Bybel as dienaars gesien word, soos in Genesis 24, waar Abraham se kamele voorsiening dra na Isak se bruid, Rebekka. Dit wys hoe diensbaarheid en gehoorsaamheid tot seëninge lei. Die numeriese waarde van drie verwys na volmaaktheid en die Drie-eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees. Die Gimmel wys hoe Abba Vader ons seën met Sy Gees wanneer ons Hom gehoorsaam. Dit verbind ons aan die huis van Yeshua en lig ons op in diensbaarheid, sodat ons deel kan wees van die bruid van Yeshua.
Shin - Die oorspronklike piktogram prentjie van die Shin beeld vuur, vlamme of tande uit en dui op iets wat verteer, soos 'n verterende vuur. Dit reflekteer ook die konsep van drie-in-een, soos Abba Vader, Yeshua, en die Heilige Gees wat eenheid in volmaaktheid toon. Die gamatria waarde van Shin is (21) wat bestaan uit 3 (volmaaktheid) vermenigvuldig met 7 (perfeksie) wat 21 gee. Deuteronomium 9:3 en Levitikus 9:24 wys ons hoe Abba se heiligheid as 'n verterende vuur gesimboliseer word. In Eksodus 3:2 spreek Hy deur die brandende bos, en in die woestyn lei die vuurkolom die Israeliete as teken van beskerming en teenwoordigheid. Shin se eerste voorkoms in die woord Bereshit wys na Yeshua se verlossingsplan op die kruis, waar Hy "verteer" is deur ons sonde. Net soos goud deur vuur gesuiwer word, gebruik Abba Vader lewensuitdagings om Sy kinders te louter. Die letter Shin inspireer gehoorsaamheid (soos in Shama), waar ons verstand, emosies, en wil gerig word op Pappa God. So word ons ‘n lig wat Sy heerlikheid reflekteer.
Die beskrywing van die letters in Vayigash (וַיִּגַּשׁ) sluit aan by die week se Parashah gedeelte, Genesis 44:18 - 47:27, wat fokus op Juda se versoening met Josef en die vereniging van Jakob se familie.
In die Vav, wat ‘n verbindingsmiddel voorstel en die week se Parashah sien ons Juda tree op namens Benjamin deur homself te offer vir sy broer. Hy verbind sy eie lot met dié van sy broer en toon ’n bereidwilligheid om homself op te offer. Hierdie aksie weerspieël Yeshua se rol as middelaar wat ons met Abba Vader verbind. Juda se offer verbind Josef weer met sy familie en herstel gebroke verhoudings.
Met die Yod wat krag en gesag voorstel, asook diensbaarheid en nederigheid, sien ons in die week hoe Josef uit nederigheid en ontsag vir Abba Vader ‘n voorbeeld was van ‘n instrument waaruit Abba se autoriteit en krag uitgebeeld kan word, selfs te midde van korrupsie en heidene. As tweede-in-bevel in Egipte gebruik Josef sy posisie, wat Abba aan hom voorsien het, om sy familie te beskerm. Dit was ook Josef se nederigheid wat gelei het tot die restorasie van hulle familie, want sy seer van die verlede kon ‘n rol speel om sy broers terug te kry.
In die Gimmel wat beweging en gehoorsaamheid illustreer, lei dit tot die voorsiening van Abba Vader. Nou Jakob en sy gesin beweeg na Egipte om oorlewing en seën te vind. Netsoos Josef se lewe van gehoorsaamheid en diensbaarheid gelei het tot die seëning van Abba se voorsiening vir sy familie.
Laastens, deur die Shin sien ons Josef se reis is ’n beeld van loutering, net soos goud wat deur vuur gesuiwer word. Hy is deur beproewings gesuiwer en in ’n posisie geplaas om Abba Vader se plan uit te voer. Die vereniging van Josef en sy broers simboliseer ’n proses van suiwering en vergifnis, wat Abba Vader se teenwoordigheid en heiligheid weerspieël. Mag ons netsoos Josef en sy broers, Abba Vader toelaat om ons te louter, sodat ons by Abba Vader se droom kan uitkom en ‘n instrument wees in ander mense se lewe.
