Vayeshev (Parashah 9) - “hy het gewoon”
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 3 viewsNotes
Transcript
Ons het ‘n voorreg om die week die 9de porsie van die Torah/9de Parashah te bestudeer, wat strek vanaf Genesis 37:1 - 40:23 en Amos 2:6-3:8 en Handelinge 6:1-7:16 insluit. Die getal 9 (3x3) is, kan verwys na goddelike volkomenheid en finaliteit verteenwoordig en skakel in met Josef se verhaal en sy rol in Abba Vader se verlossingsplan. Soos Yeshua op die 9de uur gesterf het vir wêreldwye verlossing, het Josef se beproewing en geloof gelei tot die redding van sy familie en nasie tydens die hongersnood. Die 9 vrugte van die Gees sien ons in Galasiërs 5:22-23, word regdeur Josef se lewe weërspiel. Dan sien ons ook die dag van versoening wat op die negende dag van die sewende maand plaasvind en hoe Josef se beproewings ook gelei het tot versoening en redding vir sy familie. So hierdie Parashah wys ons hoe Josef en Yeshua as instrumente van verlossing die getal 9 in sy volheid uitbeeld.
Die week se gedeelte se naam is “Vayeshev” wat beteken “hy het gewoon” - so Jakob het uiteindelik tot rus gekom in Kanaän, die Beloofde Land, waar hy en sy geliefdes kon vestig soos Abba Vader belowe het. Hierdie vestiging was egter kortstondig, want Abba Vader het reeds aan Abraham gesê dat sy nageslag vir 400 jaar verdruk sou word in ‘n vreemde land, Egipte. Hoewel die Parashah/gedeelte vir hierdie week as Jakob se geskiedenis bekend staan, fokus dit eintlik op Josef en Juda, deur wie die verbond wat Abba Vader aan Abraham gemaak het voortleef. Na alles wat met Jakob gebeur het sedert hy die eersgeboortereg by Esau vir ‘n bordjie lensiesop geruil het, het hy nou uiteindelik tot rus gekom in die Beloofde Land. Ons sien in die afgelope paar weke, deur Abraham, Isak en Jakob se verhale, hoe Abba Vader Sy kinders Sy blessing gee en nou deur Jakob te stuur om terug te keer na sy huis toe. So die woorde “hy het gewoon” is ‘n prentjie van Jakob wat terugkeer en woon in die huis van Sy Vader, netsoos wat Yeshua ook sal terugkeer met Sy bruid na Die Huis.
Netsoos Abraham, Isak en Jakob ‘n gelofte gegee is om die land wat Abba Vader vir hulle uitgekies het sal ontvang, het ons elkeen vandag Abba se gelofte, dat Yeshua sal terugkeer vir Sy bruid… is ons fokus op ons verhouding met Abba Vader, is ons ingestel om deur beproewings gelouter te word? Soos die klei en die pottebakker in Jeremia 18:1-6 verg dit die beeld van die pottebakker en sy handewerk om die klei wat misluk het te hervorm. Soms moet die klei gebreek en weer natgemaak word om die onsuiwerhede uit te werk, dan word dit in vuur geplaas om versterk te word. Hierdie proses, is nie een, wat een van ons kan besluit om te vermy nie, dis ‘n proses waardeur Abba ons vat as ons onself in Sy hande plaas.. Abraham was gevorm en geskaaf, hy moes wag vir 25 jaar voor hy die seun ontvang wat Abba Vader Hom belowe het.. Isak het gewag vir 20 jaar vir die droom om ‘n kind te hê en moes rondsweef as ‘n vreemdeling in ‘n land wat nie aan hom behoort het nie, en Jakob moes 20 jaar werk voor Abba hom gesê het om terug te keer na die land wat aan hom, Isak en Abraham belowe is. Netsoos Abraham, Isak en Jakob word Josef, Jakob se geliefste seun ook beproef, ‘n tydperk van skaaf en wrywing, ‘n tydperk waarin Abba Vader Sy beoogde karakter in Josef ontvou.
So in Genesis 30:22-24 lees ons van Josef as die 11de seun van Jakob wat deur sy geliefde Ragel gebaar is. Jakob het Josef meer liefgehad as sy ander seuns, omdat Josef gebore is in sy ouderdom, en hy het vir Josef ’n spesiale langmou-rok gemaak. Josef se broers het jaloers geraak op hierdie voorkeure en hom begin haat, sodat hulle nie vriendelik met hom kon praat nie. Dan lees ons ook in Gen 37:2b “En Josef het die slegte gerug oor hulle na hulle vader oorgebring.” So in hierdie vers klink dit asof Josef hierdie stories oorgedra het oor sy ouer broers by sy pa. Maar dis nie wat hierdie “slegte gerugte wat oorgebring is” beteken nie. Nee wat dit beteken is dat waar Josef beweeg het met Abba Vader se teenwoordigheid in sy lewe, het hy sonde blootgestel want Josef wou niks met sonde te doen gehad het nie. Josef het op hierdie jong, die vyand in sy huishouding oorwin, deur die vyand blood te stel. So sommer vroeg in die verhaal van Josef is daar ‘n tipologie of ‘n ooreenstemming tussen hom en die lewe van Yeshua want Yeshua se lewe op aarde het sonde blootgestel. Yeshua het baie maal met die Fariseërs die Sariseërs en die skrifgeleerdes gepraat en so het Hy hulle verskuilde agendas en sondes blootgestel en hulle het Hom gehaat daarvoor. Hulle het Yeshua gehaat vir Sy verhouding met Abba Vader en so het Josef se boeties hom gehaat oor sy verhouding met sy vader Jakob.
Maar Josef het egter drome gehad wat sy broers nog meer woedend gemaak het. Hy het hulle vertel van ’n droom waarin sy gerf regop bly staan terwyl sy broers se gerwe voor syne buig. Sy broers het ontsteld gevra of hy oor hulle wou heers. Hy het ’n tweede droom vertel waarin die son, maan en elf sterre voor hom buig. Toe Josef die droom aan sy pa en broers vertel, het Jakob hom bestraf oor die implikasie dat die hele gesin hom sou eer, maar Jakob het tog die saak in gedagte gehou. Josef se broers het egter al hoe meer afgunstig en kwaad geword teenoor hom. Ons weet Abba Vader het ook met Jakob in drome gepraat, so Jakob kon nie dink dat Josef valsheid verkondig nie, want dit is hoe Abba Vader hom ook genader het. Nou die woord wat daar gebruik word vir “in gedagte gehou” (waar Jakob, Josef se droom in gedagte hou) is die Hebreeuse woord Shamar. Shamar beteken, om iets met baie belangrikheid te beskerm, soos wat jy iets kosbaar beskerm, so Jakob het aan hierdie droom van Josef vas gehou soos iets wat belangrik en kosbaar is, want dit is ’n visie van Abba Vader af. Om iets te Shamar wys ons dat Jakob enige iets sal doen om Abba Vader te gehoorsaam, so as dit kom tot op die punt waar die droom realiseer sal hy Abba Vader gehoorsaam.
En ons kan onsself die vraag vra, was dit ‘n goeie idee om sy afgunstige broers wat niks goeds van hom kon praat nie, die droom te deel wat Abba Vader vir hom gegee het? Wel ons sien in hierdie resultaat van hulle optrede dat dit nie ’n goeie idee was nie. ’n Persoon kan so vinnig gefokus raak op hoe groot Abba Vader se drome is vir hom/haar, dat ’n mens nie dink oor hoe die drome deur ander ontvang word nie. Abba Vader kom nader ‘n mens deur ’n droom op die geestelike plek waar jy jouself vind, maar die wat rondom jou is, is nie noodwendig op dieselfde plek op die van Heiligmaking nie, hulle wandel dalk nie in die gees nie, het dalk nie ’n lewendige verhouding met Abba Vader nie, so wanneer jy die droom te vroeg deel, dan mag dit jaloese en rebellie opsteek, soos in die geval van Josef. Want op die ou einde van die dag, het Abba Vader ons elkeen geskape om met Hom ’n lewendige verhouding te hê, so as ons met mense deel wat nie so verhouding het nie, sien mense dadelik raak wat hulle nie het nie. Daarom is dit so belangrik om sensitief te wees met dit wat Abba Vader jou mee toevertrou.
So in Gen 37:12-14 sien ons Josef word geroep, waarop hy terug antwoord en sê, “Hier is ek”, en gestuur om te gaan kyk na die welstand van sy broers en die vee. Jakob sê verder : “en bring vir my berig terug. So het hy hom dan uit die dal van Hebron weggestuur, en hy het by Sigem aangekom.”
Ons sien dat Jakob vir Josef stuur na Sichem toe, nou in Genesis 34 was Dinah, Josef se suster, verkrag deur Hamor in Sichem en is dit hierdie plek waar Jakob se familie bedrieg is en waar sy broers Simeon en Levi opgetree het in hulle eie wil teen die Hewiete. M.a.w dit is ’n plek waar die vyand jou wil verteer en teen Abba se wil draai. Nou Jakob stuur vir Josef na hierdie plek toe, uit die veiligheid van sy pa se huis, uit sy pa se midde, om na Sichem toe af te trek om te kyk of sy broers veilig is. En dit is hier waar ons ‘n prentjie kry van Yeshua want netso moes Yeshua, Abba Vader se troon verlaat om na ons elkeen te kom omsien. Hy het nie net gekom om terugvoer te gee aan Abba Vader nie, maar gekom om vir ons verlossing te bring, verlossing uit die hand van die vyand, en netso het Jakob vir Josef gestuur, maar ook nie net om te gaan in loer nie, maar om vir hulle verlossing te bring uit die hongersnood waarin hulle was.
Nou op hierdie reis waarop Josef was ontmoet hy ‘n man lanks die pad, wat hom vra, “Wat soek jy?” En Josef antwoord: Ek soek my broers. Vertel my tog waar hulle die vee oppas. Toe sê die man: Hulle het hiervandaan weggetrek, want ek het hulle hoor sê: Laat ons na Dotan gaan. En Josef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gevind.” Nou Dotan word slegs twee keer gevind in die woord, hier by Josef en ook Elisa waar hy omring was met die Aramese leër (wat ons lees in 2 Kon 6:13-17). Dotan is waar Elisa gebly het toe die koning van Aram (die huidige Sirië) ’n leër gestuur het om hom gevange te neem. Dit was hier waar Elisa se dienaar paniekerig geraak het, maar Elisa het gebid, en Abba Vader het die dienaar se oë oopgemaak sodat hy die hemelse leër van vuurwaens rondom hulle kon sien. Elisa het toe weer gebid, en Abba Vader het die Aramese leër met blindheid geslaan. So die plek Dotan dien as die agtergrond vir gebeure waar Abba Vader se voorsiening ingryp in sy dienaars se lewe – hetsy deur die redding van (Elisa) of deur die verlossingsplan van Josef se lewe wat voorsiening vir hom en sy familie gebring het. Weereens sien ons dat hierdie reis waarop Josef is, ‘n profetiese reis is, al is dit nie sigbaar vir enige iemand rondom hom nie, weet Abba wat die einde van die verhaal is.
Toe Josef van ver af gesien was deur sy broers het hulle reeds onder mekaar begin planne maak om van hom ontslae te raak, wat ’n skaduwee is van hoe Yeshua deur Sy vyande vervolg sou word. Net soos Josef se broers uit jaloesie en haat opgetree het om sy invloed en rol te vernietig, het die vyand van vroeg af planne beraam om Yeshua se doel op aarde te vernietig. Herodes wou Hom as kind doodmaak, die godsdienstige leiers het voortdurend probeer om Hom te arresteer en dood te maak, en Satan self het probeer om Hom van Sy missie af te lei deur versoekings oor Sy pad te rol en deur Judas Iskariot wat Hom vervolg. Yeshua, wat die vyand lankal gesien kom het, het egter van die begin af geweet dat Hy sou sterf en dat YHVH se groter verlossingsplan steeds sou voortgaan. Alhoewel daar ‘n boosheid was in Josef se broers, het dit uiteindelik gelei tot Josef se reis na Egipte en die redding van sy gesin. Netso het die vyand se planne teen Yeshua gelei tot die kruisiging, wat die weg gebaan het vir die verlossing van die hele wêreld. In albei gevalle gebruik YHVH die boosheid van mense en die vyand om Sy groter doel te bereik en verlossing te bring. En so vertel Josef se lewe vir ons baie oor hoe Abba Vader Sy woord vervul. Die broers was vasbeslote om Abba Vader se droom vir Josef se lewe te verslaan. Maar so sien ons dat Abba se Woord nooit leeg terugkeer nie. Want wat Abba Vader oor Josef gesê het, is waar en sou tot vervulling kom.
Toe Josef by sy broers kom…trek hulle sy kleed uit en gooi hom in ’n droë put. Terwyl hulle eet, sien hulle Ismaeliete wat op pad was na Egipte. Juda stel toe voor om Josef eerder aan die Ismaeliete te verkoop as om hom dood te maak, omdat hy deel van hulle flees was, hy was hulle broer. Die broers stem toe in en verkoop Josef vir twintig sikkels silwer aan handelaars, wat hom toe verder neem na Egipte toe. Ons sien ook dat toe Josef se kleed van hom afgeruk is, dat dit ’n prentjie is van Yeshua toe hulle sy kleed van Hom afgeruk het, tydens die ondersoek voor Sy kruisiging, netsoos die vyand die kleed van Abba Vader van ons af wil trek, het die vyand dit aan Josef kom doen en so het Yeshua daardie vir ons kom vervul, sodat ons nie meer voor die vyand naak hoef te staan nie.
En toe ek hierdie weer deur lees to dink ek wat moes deur Josef se kop gegaan het, hoe seer moes dit wees om te sien dat nie uit die 10 broers, wat in Dotan was, opgestaan het vir hom nie, dat nie een hom uit die put opgetel het nie. Dink net aan daardie verwerping. En hierdie gevoelloosheid van Josef se broers was so duidelik want terwyl hulle sit en brood eet weet Josef nie wat met hom volgende gaan gebeur nie. Later, in Genesis 42:21, word hulle skuldgevoelens beskryf wat hulle daardie dag geïgnoreer het. In daardie gedeelte sê die broers: "Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou.” So toe Josef in die put gegooi is, het hy hulle gesmeek om hom te help, maar hulle het sy pleidooie geïgnoreer en net verder geëet.
Met die verkoop van Josef aan die Ismaelitiese handelaars het sy broers gedink dat hulle die droom van Josef, waar hulle voor hom sou neerbuig vernietig het, en netso dink ek, kan ons ook soms dink dat die mense rondom ons, die droom wat Abba Vader vir ons het, van ons af wegneem, maar niemand het daardie autoriteit om van die droom wat Abba Vader het van ons af te steel nie, maak nie saak wie in jou lewe is nie. En dit is iets wat sy broers eers later sal besef, en ‘n omkeerpunt vir hulle wees, sodat hulle die droom wat Abba Vader vir hulle het kan nastreef.
Vanaf Genesis 37:31-33 sien ons hoe Josef se broers sy bloedbesmeerde kleed stuur na Jakob en laat hom glo dat ’n wilde dier Josef verskeur het. Jakob herken die kleed, skeur sy klere in rou, en trek rouklere aan. Nou hierdie gebeurtenis was vir Jakob so hartversekrend dat nie een in sy familie hom kon troos nie en sy woorde was dat hy treurend graf toe sal gaan. Nou wat baie interesant is, hier sien ons mislei Jakob se seuns hom om te glo dat Josef oorlede is, en netso was Jakob die een wat sy pa mislei het om te glo dat hy Essau was om die eersgeborereg van sy broer te steel.
Nou ongeag Josef se pleidooi, was hy oppad na Egipte toe, Egipte was ’n groot en florerende koninkryk nog voordat Josef daar aangekom het. Die Egiptenare het welvaard en het oor ‘n groot hoeveelheid hulpbronne besit gehad. Hulle was opgevoed en het geen werklike vyande gehad in daardie tydperk nie. Maar tog, bo alles wat gebou en bereik was deur die Egiptenare was die belangrikste persoon in Egipte, Josef, die 17 jarige seun wat sy kleed verloor het, ‘n slaaf geword het, maar steeds in Sy karakter as dienaar vir Abba bly staan het. ‘n Karakter wat Abba Vader uitgekies het om Sy kinders te lei na verlossing toe. Hierdie 17 jarige seun van ’n toegeeflike vader, wat geklee was in ’n kleed van baie kleure, moes nou die drag van ’n slaaf aantrek en in die brandende son oor die warm sand beweeg. Tog het hy volhard deur te fokus op die Een wat aan hom die droom gegee het, die Vader wat aan hom alleen die droom kan oorlewer.
Met Josef se aankoms in Egipte sien ons dat Abba se oë nog heeltyd op hom rus, in vers 2 en 3 van hoofstuk 39 lees ons “Die Here was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester. Toe Potifar dit raaksien en besef die Here is met Josef aangesien hy suksesvol was in alles wat hy doen, was Potifar hom goedgesind.” Die woord vir “raaksien” is die woord “raáh” (raw-aw) wat beteken Potifar het dit aanskou, dit inspekteer en dit aandag gegee.. nou vir iemand wat op ‘n reis was om verkoop te word vir 20 sikkels, om ‘n slaaf te word, maar sit met ‘n geloof wat so aanskoulik is, dat die heidene aandag daaraan gee, is ‘n geloof wat rotsvas staan. Netsoos Josef se geloof hier uitgelig word, pas dit perfek by die tipe geloof van Yeshua se dissipels, en is dit nie die geloof wat Abba Vader ons na roep nie? Beide Josef en die dissipels het ’n geloof gehad wat nie ‘n familielid, vriend, baas of vreemdelinge kon breek nie. Abba Vader se teenwoordigheid het hulle so omvou, omrede hulle vasgehou het in die doel wat Abba Vader vir hulle lewe gehad het en in die lewe wat Yeshua hulle gee, selfs in die moeilikste en uitdagende omstandighede.
In Handelinge 4:13 lees ons dat die leiers van daardie tyd waarin die dissipels gelewe het, die dissipels se vrymoedigheid bewonder het maar besef dat hierdie dissipels tyd saam met Yeshua deurgebring het, hom geken het, en vir hom sal sterf. Net soos Josef, het die dissipels in hulle vervolging nie hul geloof laat wankel nie, maar eerder YHVH se krag en seën laat skyn, sodat selfs die heidene dit moes erken.
Nou hierdie geloof was sigbaar in die manier hoe Josef diensbaar was, ‘n rentmeester oor dit wat aan hom toevertou is. Ons kan lees in Genesis 39:4-6 “het Josef guns in Potifar se oë gevind en hom gedien; en hy het hom aangestel oor sy huis, en alles wat in sy besit was, aan hom oorgegee. En vandat hy hom aangestel het oor sy huis en oor alles wat in sy besit was, het YHVH die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef; ja, die seën van YHVH was by alles wat syne was, in die huis en op die veld. En hy het alles wat syne was, aan Josef oorgelaat, sodat hy met sy hulp van niks kennis geneem het nie as net van die brood wat hy geëet het.” En so sien ons was Josef inderdaad ‘n rentmeester, dat ‘n Egiptenaar, vir Josef vertrou het met alles wat hy besit het. Wys dit ons nie, dat ons met alles moet werk met die grootste ontsag en omgee nie? Al behoort dit nie aan ons nie, wys dit ons hart wat honger is om dienend te wees aan die Een wat ons aan mekaar gesit het.
Dit het toe so goed gegaan met Josef dat Potifar se vrou Josef probeer mislei het om by haar te slaap. Josef het geweier en haar herinner aan sy meester se vertroue in hom en dat hy nie teen YHVH kon sondig nie. Sy het egter dag na dag aangehou om hom te verlei, maar Josef het volhard en selfs probeer om haar heeltemal te vermy. Presies ‘n voorbeeld van hoe ons verleidings en misleidings moet hanteer, deur af te sonder van dit, weg te bly, weg te kyk en jou fokus te hou op Abba Vader.
Op ’n dag, toe niemand anders in die huis was nie, het sy hom aan sy klere gegryp en geëis dat hy by haar slaap. Josef het weggehardloop, maar in die proses het hy sy kledingstuk agtergelaat. Toe Potifar se vrou besef sy hou sy kleed in haar hand, het sy geskree en die ander huiswerkers laat kom. Sy het beweer dat Josef haar probeer verkrag het en dat sy geskree het, waarna hy gevlug het en sy kleed agtergelaat het. So het sy die kledingstuk as bewys gehou totdat Potifar teruggekeer het.
Nou hierdie valse beskuldiging was nog ’n keerpunt in Josef se lewe en het gelei tot sy gevangenskap. Nou hierdie ervaring van Josef weerspieël wat met Yeshua gebeur het in Sy onskuldige gevangeneskap. Beide Josef en Yeshua het onregverdige beskuldigings en vervolging verduur ten spyte van hul integriteit. Josef het geweier om te sondig, selfs toe die verleiding aanhoudend en intens was, net soos Yeshua nooit toegegee het aan enige vorm van sonde nie. Soos Josef, wat sonder ’n eerlike ondersoek, gevangenskap moes verduur, is Yeshua in Sy onskuld gevange geneem en gekruisig op grond van valse getuienisse.
In beide gevalle sien ons die vyand se pogings om Abba Vader se planne te ontspoor deur valse beskuldigings en lyding of seer te gebruik. Tog sien ons hoe Josef en Yeshua deur hulle gehoorsaamheid en vertroue op Abba Vader, Sy groter plan dien. Josef se gevangenskap het uiteindelik gelei tot sy verlossing en verheerliking, net soos Yeshua se dood en opstanding die weg tot redding vir die wêreld oopgemaak het. In albei se lewe sien ons hoe die krag van geregtigheid , gehoorsaamheid en vertroue in Abba Vader groter is as die vervolging en hoe Abba Vader dit gebruik as sy verlossingsplan vir die wat ‘n honger het om terug te keer na die Huis van Abba Vader. En dit is so nederig om te dink Abba Vader rig Josef op om deur hierdie hele reis te gaan sodat Hy ‘n instrument kan wees vir sy broers, wat die stamme van Israel sal word, om gered te word uit die droogte wat sou kom. M.a.w Abba Vader gebruik Josef se lewe as ‘n illustrasie van Sy liefde, sodat die seuns van Jakob kan Teshuva, die Hebreeuse woord vir terugkeer na die wil van Abba Vader, waar hulle weer herenig kan word met hulle broer en waar Jakob weer sy geliefde seun kan vashou.
En so in die volgende hoofstuk van Josef se lewe, waar hy ‘n tydperk in die tronk spandeer het, sien ons Abba Vader se getrouheid en voorsiening, selfs in die donkerste tye. Genesis 39:21-23 wys ons dat selfs in die gevangenis het Josef se geloof en karakter uitgestaan, die owerste van die tronk het alle vertroue in hom geplaas, soos om vir hom die sleutels te gee van die tronk. ‘n Illustrasie van hoe Abba Vader alles wat Josef aangepak het met voorspoed geseën het, net soos vroeër in Potifar se huis. Nou, Abba Vader se seën het oor Josef gerus in elke situasie: as ‘n slaaf en selfs in die tronk. En hier in Genesis 39 beklemtoon dit dat wanneer jy vaskleef in Abba Vader se instruksies, wandel in afsondering van die wereld se standaarde, met jou aangesig gefokus op Hom sal dit jou sukses verseker maak nie saak waar jy is nie. M.a.w geen omstandighede, maak nie saak hoe moeilik, of hoe onregverdig – kon Abba Vader se plan vir Josef se lewe keer nie.
So het hierdie ervaring van Josef in die tronk sy leierskapsvaardighede verfyn… ’n tree nader aan die droom om tweede-in-bevel van Egipte gestel te word om sy familie en die wêreld van hongersnood te red. Soos enige mens kan dink….wat kan die tyd in tronk jou werklik leer, maar in Abba se hande het dit hom voorberei, so ons dink dalk soms, wat kan die omstandighede waarin ek tans is my werklik leer oor die droom wat Abba Vader vir my het, maar weereens in Abba se hande gebruik hy enige omstandighede om my en jou te leer.
So leer ons ook uit Josef se houding van diensbaarheid dat hy ‘n onwrikbare geloof het in YHVH Elohim. Hy het nie in moedeloosheid verval nie, omdat hy geweet het dat Abba Vader met hom is.
Ná die gebeurtenisse waarin Josef valslik beskuldig is en in die tronk geplaas is, vind ons dat die skinker en die bakker van Farao in onguns beland het en tronk toe gestuur is. Hierdie mans, wat die koning se wyn en kos hanteer het, is na dieselfde plek gestuur, waar Josef gevange was. En Farao se bevelvoerder, Potifar het Josef aangestel om hierdie hofdienaars te bedien. En hierdie detail hier in vers 4 wat sê hy moes hulle bedien, sê vir ons Josef het groot ontsag gehad vir die rol wat aan hom toevertrou is; en hy het groot gesag gedra waar hy aangestel is en bo alles het hy hierdie posisie gebruik om ander te dien eerder as om oor hulle te heers. Hy het 'n voorbeeld van diensbaarheid gestel, 'n kenmerk van iemand wat hand aan hand met Abba Vader wandel.
Interessant genoeg was hierdie gevangeneskap van die skinker en die bakker nie toevallig nie; Abba Vader het dit in Sy Wil beplan om Josef met hulle te laat ontmoet, omrede hulle later 'n belangrike rol speel in Josef se opgang tot die tweede hoogste bevelvoerder in Egipte. Josef het selfs vir die gevangenes wat aan hom toevertrou is omgegee, en so plaas Abba Vader uiterse belangrikke mense ook in ons elkeen se lewens, wat deur ons diensbaarheid en omgee, ons weg is tot die droom wat Abba Vader vir ons het… maar as ons net gefokus is, op onsself en ons eie lewe, hoeveel mens moet Abba Vader nie stuur om jou by die droom uit te kry.
In Johannes 13:1-17 leer Yeshua ons deur sy dissipels se voete te was, dat om ware grootheid in die koninkryk van Abba Vader te bereik, in diensbaarheid lê. Net soos Josef, wat sy posisie van gesag in die tronk gebruik het om ander te bedien eerder as om oor hulle te heers, het Yeshua Sy Goddelike gesag neergelê om Sy dissipels te dien. Yeshua het hierdie daad, om Homslef neer te lê, uitgevoer om Sy dissipels voor te berei vir hulle toekomstige roeping, om die Woord te gaan uitdra, net soos Josef die skinker en die bakker bedien het, wat later tot sy bevordering sou lei en die verlossing van menigte.
Die diensbaarheid aan mense wat jy nie eens ken nie is uiters belangrik in Yeshua se bediening. Yeshua het tyd spandeer met sondaars, tollenaars en die geringes in die samelewing, mense wat ander sou vermy. In baie gevalle het hierdie mense die sleutel geword tot die verspreiding van die evangelie, soos Matteus die tollenaar wat 'n apostel geword het. En so gebruik Abba Vader ons as ‘n skakel om ander te kry by die droom wat Abba Vader vir hull het, al dink die vyand hy het hulle vergenoeg van die wil van Abba Vader getrek. En soos Josef se voorbeeld wys dit dat ons in diensbaarheid aan ander dikwels onbewus die pad na Vader se doelwit vind.
Hierdie skinker en bakker van farao het elkeen ’n droom gehad met ‘n betekenis wat niemand kon ontkeed nie, Josef het in sy diensbaarheid gesien dat hulle bekommerd was oor dit wat hulle gedroom het, en in die onregverdige posisie waarin Josef was het hy steeds hulle situasie raakgesien en gevra waarom hulle so ongelukkig was. Ons sien sy empatie en bereidwilligheid om te help, selfs in die gat waarin hy in geplaas is. Yeshua het vir ons elkeen netso bereidwillig 3 dae en 3 nagte spandeer in ‘n donker graf om die straf van die dood vir ons te vereffen. En so leer ons wat is ‘n karakter van ‘n ware dissipel van Yeshua, iemand wat tydens sy beproewing, steeds ander bo hom sal plaas en so altyd ander se nood eerste stel.
Josef het die skinker en bakker se drome nie bloot uit nuuskierigheid bespreek nie, maar met die doel om vir hulle vertroosting te bring. Hy het duidelik gemaak dat die uitlegging van drome aan Abba Vader alleen behoort en hier beklemtoon hy net weereens sy afhanklikheid in Abba Vader. Josef se eie ervaring met sy drome, het hom geleer dat Abba Vader altyd in beheer is en dat Hy die betekenis van drome kan openbaar.
Die skinker het sy droom eerste gedeel, waarin hy ’n wingerdstok met drie ranke gesien het wat druiwe geproduseer het. Hy het die druiwe uitgedruk en die beker aan farao gegee. Josef het die droom geïnterpreteer en verklaar dat die drie ranke drie dae verteenwoordig, waarna die skinker in sy posisie herstel sou word. Josef het toe die skinker gevra om net aan hom te dink en by farao te pleit vir sy vrylating.
Die bakker, was toe aangemoedig deur hierdie positiewe uitleg van die skinker se droom, en het toe sy droom vertel. Hy het drie mandjies met witbrood op sy kop gesien, waarvan die voëls die brood weggepik het. Josef het egter ’n moeiliker boodskap gehad: die drie mandjies verteenwoordig ook drie dae, maar binne daardie tyd sou farao hom laat ophang dat die voëls hom oppik. Josef het die waarheid netso gaan oordra soos Abba dit aan hom openbaar het, al was dit ’n boodskap van oordeel. En netso stap ‘n kind van YHVH hand aan hand met Abba Vader, om Sy woord netso oor te dra.
Drie dae later, op farao se verjaarsdag, het Josef se woorde waar geword. Die skinker is in sy posisie herstel, maar die bakker is tereggestel. So is Josef se uitleg van die drome en die vervulling daarvan net ‘n bewys van Sy wandel met Abba Vader, en so tree hy nader aan die drome wat Abba Vader hom gegee het. Regdeur Abba se Woord gebruik Hy drome om Sy planne te openbaar. Van die boek Daniël en in die Nuwe Testament, het Abba Vader drome gegee om sy doelwitte aan beide gelowiges en ongelowiges bekend te maak. Die skinker en bakker se drome wys ook hoe Abba Vader, unieke illustrasies gebruik, wat vir elke individu sin maak, maar die interpretasie daarvan sal altyd aan Hom behoort.
Josef het gehoop dat die skinker hom sou onthou en help om uit die gevangenis te kom, maar Josef was vergeet. Dit was nie omdat Abba Vader hom verlaat het nie, maar omdat Abba Vader ’n groter plan gehad het. Hierdie tydperk waarin Josef vasgevang was, wys ons hoe belangrik geduld en vertroue in Abba se tydsberekening is. Want hierdie vertraging in Josef se lewe was deel van sy voorbereiding vir sy skeppingsdoel en rol om die droom van Abba Vader uit te leef.
As ons ‘n parallel kan skep tussen ons en hierdie skinker en bakker, is ons soos hierdie twee wat ’n boodskap van lewe of dood ontvang. Yeshua, soos Josef, het ons tronk binnegekom, ons beproewings kom uitleef op aarde en Abba Vader se boodskap aan ons kom bring. Die goeie nuus is dat Yeshua redding bied aan selfs die skuldiges, nie net die onskuldiges nie. En so het ons nog ‘n geleentheid om terug te keer na Abba Vader se voete toe en te begin stap in Sy wil.
Abba Vader roep ons om geloof te hê, te vertroue, en gehoorsaamheid te wees aan Sy plan, selfs wanneer ons nie die volle prentjie sien nie, of in ‘n put gegooi is deur die wêreld. Hy nooi ons om Yeshua se voorbeeld van selflose liefde en diensbaarheid uit te leef, ongeag ons omstandighede. Josef se lewe tot op hierdie punt herinner ons dat Abba Vader in beheer is, en dat Hy altyd sy doelwitte sal vervul in Sy perfekte tyd.
Om mee af te sluit, tot dusvêr het ons nog net gekyk na hoe beproewings op beproewings deur Josef verduur is, hoe vasbeslote hy was om in sy karakter Abba Vader se lig uit te straal. Josef se lewe tot dusver is ‘n inspirasie vir ons, die skape wat moet luister na Die Herder se stem en moet vertou al gaan mens deur droogtes, Jakob en Josef as pa en seun, is ‘n skaduwee van dit wat Abba Vader voltooi het met Yeshua. En Abba Vader gee ons die geleentheid om hierdie lewe van Josef in soveel diepte te bestudeer sodat ons daaruit kan leer, mekaar kan stig, troos en bemoedig. Dit wys ons, dat die besluit om vas te kleef aan Abba se beloftes, in ons hande rus, die besluit bly ons sin, of ons gaan bly glo al stem die omstandighede nie oorreen nie.
Deur Josef se lewe leer ons dat lyding of beproewings 'n uiterse belangrike doel het. Josef se lyding was nie vir niks nie, maar het hom afgesonder van die rondom hom, dit het hom gevorm en voorberei vir die rol wat hy in sy familie sou speel. Dieselfde geld vir ons lyding. Abba Vader gebruik ons beproewings om ons karakter te vorm en ons voor te berei vir die groter doel waarvoor Hy ons geroep het. Soos met die klei en die pottebakker in Jeremia, word ons geskaaf en gelouter, soms deur pyn, maar dit is Pappa God se manier om ons te vorm in die beeld van Sy Seun.
Ons sien ook die belangrikheid van vergifnis. Josef se bereidheid om sy broers te vergewe, selfs nadat hulle hom verkoop het, is 'n direkte voorbeeld van die liefde en vergifnis wat ons moet toon, selfs teenoor diegene wat ons kwaad gedoen het. Sy reaksie is 'n voorbeeld van die vrugte van die Gees wat sigbaar in 'n mens se lewe kan wees— ons sien selfbeheersing, liefde en lankmoedigheid selfs in die lig van groot onreg.
Josef se lewe straal uit dat dinge gebeur op Abba se tyd en dat Sy plan volmaak is, maak nie saak hoe dit uit die menslike oogpunt lyk nie: Die getal 9, wat vir ons ook uiteensit dat die vyand se houvas vernietig word sien ons ook deur Josef lewe, waar hy aanhou beweeg het in Abba se teenwoordigheid, het hy die vyand se planne teen hom vernietig. Die feit dat Abba Vader Josef se pad beplan het, selfs toe dit nie sigbaar was nie, is 'n oproep aan ons om te vertrou op Sy leiding, selfs wanneer ons nie die uitweg sien nie. Dit is in hierdie vasbeslote geloof waar die vyand vernietig word.
Ons leer ook dat jaloesie en haat, van die rondom jou, nie Abba Vader se plan kan stop nie. Die boosheid wat deur Josef se broers uitgestraal is, het nie ‘n houvas gehad op Josef se wandel met Abba Vader nie. Selfs al het hulle probeer om sy visie en roeping te stop, het Abba se plan steeds oorwin.
Josef het ook verwerping en verlies deurgetrap en gevoel hoe dit is om verwerp te wees deur sy eie familie en uitgesluit te word. Sy broers het hom in 'n put gegooi en verkoop, wat ‘n diep en emosionele pyn vir hom veroorsaak het. Maar wat Josef gehad het was ‘n verhouding met Abba Vader, ‘n intieme verhouding wat sy kop kon optel in hierdie harde tyd. Josef het hierdie liefde van Abba Vader so uitgeleef dat Potifar dit bewonder het. (Tel jou geloof en verhouding met Pappa God, jou kop op in moeilike omstandighede? Abba roep jou om so in verhouding met Hom te stap, Hy sal jou oplig bo die omstandighede waar jy is)
Josef leer ons ook oor diensbaarheid in moeilike tye, om ‘n voorbeeld van ‘n rentmeester te wees. Alhoewel Josef in slawerny in Egipte was, het hy nie sy geloof of integriteit verloor nie. Hy het 'n dienende hart gehad, en dit het hom gefokus gehou op dit wat Abba Vader se wil is.
Hier uit Josef se lewe leer ons ook dat ons nie moet staatmaak op ons perspektief van tyd en beplanning nie, maar moet staat maak op Abba se tyd.
Mag ons as volgers van Yeshua, as die verlengingstuk van Sy hande en voete, diensbaar wees in alle omstandighede. Mag ons altyd bereid wees om te volhou of ‘n ekstra myl te stap wanneer dit kom by Abba se koninkryk. Mag ons as ‘n geestelike liggaam mekaar stig in bemoedig om te volhard in die roeping van ons lewe, want ons roeping is ‘n weg vir ander om Pappa God se lig te sien, en vir ander om die verlosser te onmoet, Yeshua. Wees ‘n Josef, en volg Yeshua se voetspore, al dink die wêreld die minste van jou. Amen..