Midrash Vayigash
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 37 viewsNotes
Transcript
Genesis 47:1-27
Genesis 47:1-27
In Genesis 47:1-6 sien ons hoe Josef sy pa en broers aan Farao voorstel en verduidelik dat hulle uit Kanaän gekom het om in Egipte te woon. Josef vra toe vir Farao toestemming dat sy broers in die gebied Gosen kan gaan woon, aangesien dit geskik is vir hulle werk as herders van kleinvee.
Farao, wat Josef hoog ag tydens die hongersnood, gee hulle die beste deel van Egipte om in te woon. Hy nooi hulle selfs uit om as vee-opsigters oor sy eie vee aan te stel.
Nou hierdie vertroue en seën wat Josef se familie ontvang is agv Josef se getrouheid aan Abba Vader en dit wys vir ons dat Josef nooit uit diensbaarheid opgetree het vir sy eie koninkryk of sy eie eer nie, maar sy diensbaarheid was ‘n offer aan Abba Vader en Josef het vertrou dat Abba Vader na hom en sy familie sal kyk. Josef het nie net aangeneem sy familie sal in Egipte mag bly en dit nog in die beste deel in Egipte nie, nee, hy het vertrou dat Abba voorsiening sal maak.
Dan in vers 11 lees ons van Josef wat aan sy pa en broers woonplekke gegee het in Gosen. Dit bring my by die eerste vraag - Waarom is die land Gosen spesifiek aan Jakob en sy familie toegeken?
Gosen was die beste deel van Egipte, omdat dit baie meer reenval ontvang het, en groen was, waar hulle veë kon wei, en die veë van Farao waarna hulle gekyk het. Gosen was ook afgeleë, wat die Isrealiete in afsondering sou plaas van die ander Egiptiese gebiede. Nou interessant, “Gosen” beteken “drawing near” - “om nader te kom”. Wat gesien kan word as 'n simboliese uitnodiging om nader aan Abba Vader te kom, hulle is nou op ‘n plek waar hulle met die waarheid uitgekom het en waar daar versoening plaasgeving het, en nou sien ons word hulle gestuur na die plek toe wat se naam beteken, “drawing near”. Ons weet Abba Vader het ‘n groot begeerte vir sy kinders om Hom te nader en so gee Hy hulle guns van niks af nie, wat hulle gladnie verdien het nie. So is die voorsiening van Gosen ook ‘n weerspieling van Abba wat aktief werk, deur Josef, om onverdiende voorsiening aan hulle te bied, om te wys hoe Hy hulle nader, en dat hulle Hom moet nader.
In vers 7 & 10 lees ons van Jakob wat vir Farao groet met ‘n seënwens. Dit bring my by die tweede vraag - Wat beteken Jakob se seën oor Farao (v. 7 en v. 10)?
Ons lees in Genesis 12:3 “Ek sal seën diegene wat jou seën.” Dit was die woorde wat Abba Vader aan Abraham gegee het. Nou Jakob wat in verbond stap met Abba Vader, verstaan dat die geseën sal word wat hom en sy nageslag seën, en daarom seën hy Farao toe hy hom ontmoet en net voor hy weggegaan het. Omdat hy vashou aan Abba se belofte.
Dan die derde vraag - Hoe demonstreer die beskerming van Jakob se familie Abba Vader se verbondsliefde?
Wel ons sien Abba Vader het Josef vooruit gestuur na Egipte deur van die moeilikste omstandighede, sodat Josef se familie beskerm word en voorsiening het vir die droogte. So bo al die beproewings en seer wat Josef se broers veroorsaak het, het Abba Vader ‘n weg gemaak vir Sy kinders. Abba toon soveel liefde aan wie Hy, Sy verbondsbelofte gemaak het, vir die wat vasgryp aan sy verbond, is daar oneindige voorsiening en beskerming. En Abba Vader se verbondsliefde is sterker as menslike sondes of uitdagings. ‘n Skaduwee van Abba Vader se hand wat uit strek vir Sy kinders, net soos Hy Sy seun sal opoffer.
Nou ook baie interresant, in vers 12 lees ons, Josef het voorsien vir sy familie deur brood, wat die woord “lechem” is - dieselfde hebreeuse woord wat gebruik is vir die manna wat Abba uit die hemel voorsien is vir die Israeliete in die woestyn. Beide gevalle herinner ons daaraan dat alle voorsiening van Abba Vader af kom, hetsy deur Abba se instrumente soos Josef of bonatuurlike middele (soos manna uit die hemel), alles kom van Abba Vader af. In Josef en Moses se geval, dien hulle as instrumente deur wie Abba werk om die mense te lei en te versorg. Netso wil Abba Vader ons gebruik as instrumente om geestelike voedsel aan die rondom ons te voorsien, om hulle te lei na hom toe. Ons kan daarvan lees in Matteus 28:19-20 en Johannes 21:15-17.
Dan vanaf vers 13 lees ons van die hongersnood wat ernstig geraak het. Josef verkoop graan aan die mense van Egipte en Kanaän, en al die geld vloei reguit na Farao se skatkis toe. Hier sien ons weereens die rentmeesterskap in Josef raak, wat eerlik gewerk het, met dit wat nie syne was nie, terwyl hy steeds voorsien het aan die behoeftes van sy mense. So ons sien hier dat Josef nooit gevoel het, hy hoef rykdom of voorsiening vir homself terug te hou vir sy werk nie. Hy het vasgehou aan sy karakter, maak nie saak hoeveel verantwoordelikhede en hoeveel geld aan hom toevertrou was nie. Sy diensbaarheid was die weg tot voorsiening vir ander.. besef ons, dat ons diensbaarheid die weg word waardeur Abba kan voorsien vir ander?
Dan van vers 15 lees ons van die hongersnood wat so punt bereik het dat die Egiptenare vra vir brood omrede hulle nie meer geld oor het nie, Josef het toe vir hulle gesê, dat hulle eers al hulle besittings moet verkoop vir brood, voor hy dit net sou weggee. En dit het my laat dink aan die pad van heiligmaking waardeur die Israeliete moes gaan, toe hulle uit Egipte gered is, want hulle moes dit wat hulle uit Egipte gevat het op offer, sodat dit nie vir hulle belangriker is as Abba nie.
(Die fisiese prentjie wat ons hier kry is dat Josef hulle lei om van alles ontslae te raak wat belangrikker is as voedsel wat voorsiening is vir hulle liggame) Netso dink ek is dit vir ons ‘n goeie voorbeeld, om van die dinge ons lewe ontslae te raak, wat ons belangriker ag as die geestelike voedsel vir ons liggame.
Dan van vers 18 lees ons dat hulle in die tweede jaar toe hulle besittings behalwe hulle grond verkoop is, weer terugkeer na Josef, het hulle hom weer gevra vir voorsiening. Maar die keer is hulle bereid om hulle grond en hulself op te offer vir saad. In plaas daarvan om net die brood uit te gee vir die verkoop van hulle eiendom en hulle diens, het Josef aan hulle die saad gegee. Nou wat vir my uitstaan is, dat die Egiptenare se karakter in die gedeelte verander word deur Josef se leiding. Hulle word deur die omstandighede en Josef gelei om al hulle besittings te verkoop, tot op die been word al hulle gemak en eie voorsiening afgesny, tot op die punt waar hulle begin met ‘n handjie vol saad. Netso wil Abba Vader ons van alles strip wat Hom nie behaag nie, ons eie planne en voorsiening, want dit bring ons op ‘n plek om te besef dat Hy die voorsiener is, en dat niks aan onsself behoort nie.
Dit bring my by die laaste vraag - Hoe illustreer Genesis 47 die interaksie tussen Abba Vader se voorsiening en menslike verantwoordelikheid?
Hier in Josef se geval sien ons Abba Vader voorsien oorvloedig en gee Josef wysheid om Sy voorsiening te bestuur. En so verg Abba Vader se voorsiening ‘n aktiewe deelname van Sy verbondskinders af.
Ons geloof, gehoorsaamheid en diensbaarhied is deel van ons verantwoordelikhied om Abba Vader se voorsiening te ontvang en reg te bestuur. En Abba Vader voorsien nie net fisiese nie, maar ook geestelike, deur Sy Woord. So is dit ons verantwoordelikheid om hierdie voorsiening toe te pas en te gebruik in ons reis op die pad van heiligmaking.
