Jong Volwassenes (Ki Tisa)

Sermon  •  Submitted   •  Presented
0 ratings
· 25 views
Notes
Transcript

1 Kon 18:20-40

So in 1 Kon 18:20-40 lees ons van Koning Agab van Israel wat Israel en die Baäl-profete versamel op Berg Karmel. Elia daag die volk uit om tussen YHVH en Baäl te kies. Elia sê die “Hy wat met vuur antwoord, is God”. Die Baäl-profete roep toe hul afgode aan, maar niks gebeur nie. Ons lees in vers 27 “Teen die middag het Elia hulle begin spot: “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!””. Daarna bou Elia toe YHVH se altaar, en gooi toe water uit oor die bul wat opgesny was op die altaar en bid. Abba Vader stuur toe vuur wat die offer verteer. Ons lees dan in vers 39 “Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”. Elia het toe die Baal profete doodgemaak.
Nou waarmee ek wou begin het is, is om eers te kyk wie koning Agab was.
Nou Agab was die sewende koning van Israel en het geregeer van ongeveer 874–853 v.C. Hy was die seun van Omri en staan bekend as een van die mees goddelose konings van Israel. Agab het met Isebel, die dogter van die Fenisiese koning Etbaäl, getrou en haar invloed het gelei tot die bevordering van die aanbidding van Baäl in Israel. Nou onder sy koninskap het afgodery en heidense praktyke toegeneem, wat hom in konflik met die profeet Elia gebring het.
Nou op Berg Karmel het Elia die volk gekonfronteer met hul geestelike owerspel. Hy vra hulle in vers 21“Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die YHVH God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm.” Die volk het egter stilgebly, sonder om hul geloof te verdedig of berou te toon. En wat Elia ook beklemtoon is, is hulle geestelike louwarmheid wat nie aanvaarbaar is nie—’n keuse moes gemaak word.
Ons lees in vers 22 “Ek alleen het oorgebly as profeet van YHVH, maar daar is vier honderd en vyftig profete van Baäl.” So Elia was die enigste oorblywende profeet van YHVH. Elia het toe die toets voorgestel: die profete van Baäl en hyself moes ‘n bul kies en offer sonder om vuur aan te steek. Die ware God sou antwoord deur vuur uit die hemel te stuur. Elia het die profete van Baäl ‘n voordeel gegee deur hulle eerste te laat kies. Wat ook uitstaan hier is, is hoe rotsvas Elia se geloof was om Abba Vader voor die hele Israel te vertrou. Hy het ook geweet dat Abba in die verlede vuur uit die hemel gestuur het (Rigters 6:20-21; 2 Kronieke 7:1-7) en dat hy volgens YHVh se opdrag optree (1 Konings 18:36).
Die profete van Baäl het van die oggend tot die middag hard en met groot passie gebid: “O Baäl, hoor ons!” Hulle het egter tot ’n dooie god gebid. Hulle het selfs rondom die altaar gespring en hulself met oorgawe gewy aan hul aanbidding . Elia het hulle bespot en gesê “Roep harder! Hy is mos 'n god! Miskien is hy diep in gedagte of gou bietjie uit, of op reis, of dalk slaap hy en moet hy eers wakker word!”. Sy sarkasme het net gewys hoe absurd hul geloof was.
Die profete van Baäl het hardop geroep en hulself met messe en spiese gesny totdat die bloed gevloei het. En hierdie selftoedienende pyn was 'n poging om hul god se simpatie of reaksie te wek. Hulle het gedink dat as die bloed van die bul nie hul god beweeg nie, hul eie bloed dalk sou. Geen stem het geantwoord nie; daar was geen reaksie nie. Mens kan met opregtheid en opoffering dien, maar as die god wat jy dien nie werklik is nie, is daar nie ‘n uitweg nie.
Elia het die volk se aandag gesoek en gevra “staan hier by my” voordat hy sy offer gebring het. Hy wou hê hulle moes sien dat YHVH die ware God is, in teenstelling met dit wat die Baäl profete verkondig. Hy het toe eers die altaar van YHVH herstel, wat eens opgerig en gebruik was sterk. Wat ook aandui dat hy ‘n begeerte het om die ware aanbidding in Israel te herstel.
Daarna het hy beveel dat vier kruike water drie keer oor die offer en hout uitgegooi moes word. (3x4 = 12 - kan dit ‘n profetiese aksie wees om skoongewas te word en dan nog 12 vir die stamme van Israel?) En in hierdie byeenkoms was daar ook geen ruimte vir misleiding nie, want almal het presies gesien wat gebeur het.
Elia het by die aandoffer gaan bid, en gesê  “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen. Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.” So in sy gebed het hy gevra dat Abba Homself aan Israel sou bekend maak as die ware God en dat die volk sou weet dat hy, Elia, Sy dienaar is. Hy het niks uit sy eie krag of verbeelding gedoen nie, maar alles volgens Abba se opdrag.
Die vuur het toe uit die hemel neergekom en die offer aan die brand gesteek. Dit het nie net die offer verteer nie, maar ook die hout, die klippe, die stof en selfs die water in die sloot. Dit was ‘n duidelike bewys dat YHVH die ware God is, iets wat die profete van Baäl nie kon bereik nie. Die volk het toe in ontsag neergeval en uitgeroep: “YHVH is God! YHVH is God!” Elia het beveel dat die profete van Baäl gevange geneem en volgens die Wet van Moses tereggestel moes word. So het Abba Vader Homself verheerlik en sy mag aan Israel gewys, sodat daar geen meer twyfel was oor Sy heiligheid nie.
Nou om te kyk hoe dit wat hier gebeur in 1 Koning 18 aansluit by Eksodus, het ek ‘n paar goed opgesom.

So eerstens die afgodery

In 1 Konings 18 sien ons die konfrontasie tussen Elia en die Baäl-profete, waar Israel moet kies tussen YHVH en Baäl.
In Eksodus 32 val die volk in afgodery toe hulle die goue kalf aanbid terwyl Moses op die berg is.
In beide gedeeltes is daar 'n duidelike tweestryd tussen ware aanbidding van YHVH en die verleiding van afgodery.
En die reaksie van Abba Vader in albei gevalle toon Sy haat van afgodery.

Die Leiers (Moses en Elia) wat die volk roep om te besluit

Elia stel die volk voor ‘n keuse: "As YHVH God is, volg Hom; en as Baäl god is, volg hom" (1 Konings 18:21).
Netso konfronteer Moses die volk ná hulle die goue kalf aanbid het en roep dié wat vir YHVH is, om hulle te skei van die afvalliges (Eks. 32:26).

Die Oordeel oor Afgodery

In 1 Konings 18 beveel Elia dat die profete van Baäl doodgemaak moet word (1 Konings 18:40).
In Eksodus 32 gee Moses opdrag dat die Leviete met swaarde deur die kamp moet trek en ongeveer 3 000 mense doodmaak (Eksodus 32:27-28).
Beide verhale wys dat Abba Vader nie afgodery verdra nie en dat dit tot ernstige gevolge lei.

Die interssesor

Elia tree as ‘n profeet in en deur sy geloof roep Hy Abba Vader aan.
Moses tree ook as ‘n bemiddelaar in Eksodus 32-34, waar hy vir die volk intree sodat God hulle nie heeltemal uitgewis word nie (Eksodus 32:11-14).

Abba wat Homself openbaar

In 1 Konings 18 antwoord Abba Elia se gebed deur vuur uit die hemel wat die offer verteer.
In Eksodus 34 verskyn Abba aan Moses in ‘n wolk en verklaar Sy Naam, wat ‘n teken van Sy teenwoordigheid en heiligheid is.
En so in beide gevalle is daar openbarings van Abba Vader om die volk terug te bring tot gehoorsaamheid en geloof.

Die Reaksie van die Volk

In 1 Konings 18:39 val die volk op hulle gesigte en erken: "Die Here, Hy is God!"
In Eksodus 33-34 toon die volk berou nadat Moses vir hulle ingetree.
Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.