John. 5: 1 -17
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 36 viewsNotes
Transcript
Die genesing op die sabbatdag by Betesda
Die genesing op die sabbatdag by Betesda
Liewe brs en srs, almal van ons poog altyd om die sabbat te eer en te respekteer. Maar wat as die kalf in die put is? - moet ons wag tot die volgende dag?
Liewe brs en srs, volgens ons gelese gedeelte was daar ‘n onbekende man, ons weet nie hoe oud hy is nie, al wat ons weet is dat hy reeds vir 38-jaar aan ‘n siekte gely wat hom verhinder om ‘n normale lewe te ly - die siekte het veroorsaak dat hy nie eens vanself in die bad kon klim wanneer die waters geroer is nie - ons weet nie eens hoe ver hy van hierdie bad gebly het nie - ons lees slegs hy het daar langs die bad gesit en wag sodat hy ‘n geleentheid kan kry om in te klim - maar dit was nie vir hom beskore nie - niemand het ook juis vir hom omgegee nie - dit blyk of daar ook nie familie was nie - almal het net vir hulle self gesorg - want almal wil gesond wees, net soos hierdie man by die bad van Betesda. En dan gebeur wat hy seker sy hele lewe lank gehoop het - Iemand praat met hom - en nie net gewone praatjies nie - nee - dit gaan oor sy gesondheid - die Man wou weet of hy gesond wil wees — ek is seker indien dit ons gewees het sou ons seker gese het jy vra nog? Want liewe brs en srs, die man het nie geweet dit is Jesus wat met hom praat nie - John 5:6 “Jesus het hom sien lê en het geweet dat hy al baie lank siek was. Toe vra Hy vir hom: “Wil jy gesond word?”” - Kom ons kyk na sy antwoord - John 5:7 “Die sieke het Hom geantwoord: “Meneer, ek het niemand om my in die bad te sit as die water in beweging kom nie; en terwyl ek aansukkel, gaan iemand anders voor my in.”” - Hy se nie - ja hy wil gesond word nie - hy wys Jesus daarop dat niemand bereid is om hom in die bad te help nie - of ‘n kans wil gee om ook in die bad te klim nie - dan kom Jesus se antwoord, kort en kragtig - John 5:8 “Staan op, tel jou goed op en loop.” - en die man - geen teenpratery nie - John 5:9 “Oombliklik het die man gesond geword, sy goed opgetel en geloop. Dit was ’n sabbatdag.” -
Liewe brs en srs, ons sien ‘n eienaardige optrede van die man - nerens word daar verwys dat die man sy dankbaarheid getoon het nie - of dat hy regtig met blydskap gevul was nie - absoluut niks van die aard lees ons hier in die gedeelte nie - maar Jesus se barmhartigheid het ongelukkig ‘n “nadraai” - ‘n slegte gevolg - want Jesus of soos die man by die bad van Betesda na Jesus verwys het as “Meneer” of “die man” - John 5:11 ““Die man wat my gesond gemaak het, het vir my gesê: Tel jou goed op en loop.” - dit blyk of hy nie eens vir Jesus geken nie - dit is eers later toe hy weer by die tempel kom dat hy gehoor het van Jesus en die opdrag gekry het om nie weer te sondig nie
Liewe brs en srs, Jesus het die man op die sabbatdag genees - nou ken die Jode die Tien Gebooie - en veral die sabbatsgebod - Exodus 20:8–11 ““Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.” - dit is juis die slaanstok wat hulle gebruik om Jesus daarop te wys dat Hy verkeerd gehandel het - maar ons sien Jesus verdedig Hom - John 5:17 “Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”” Jesus se eintlik vir hulle Hy en Sy Vader werk 24 uur per dag - 7 dae per week en 365/366 dae per jaar - en daarom is dit nie vir Hom vreemd om hierdie daad op die sabbatdag te gedoen het nie - Hy het nie moedswillig die sabbatdag oortree nie - maar die gesondheid van die man was meer belangriker, want sy lyding was reeds vir 38-jaar - waarom moes hy langer met hierdie lyding voortgaan - U sien liewe brs en srs - die vraag is het di werklik om die verbreking van die sabbatdag gegaan - of was dit nog steeds hulle wat op soek was na dinge om Hom te dood te maak - en hierdie daad wat op die Sabbatdag gedoen is - is ‘n ideale aangeleentheid om Hom te laat boet - soos die spreekwoord se - dit gaan nie om die hondjie nie, maar om die halsbandjie.
Liewe brs en srs, alhoewel Jesus die daad op die sabbatdag gedoen het - die vraag is - het Jesus op die sabbatdag werk verrig - Hy het bloot met die man gepraat - anders as wanneer die water geroer word - iemand moet kom om die water te roer - maar Jesus het geen fisiese handeling uitgevoer nie - so streng gesproke het Jesus geen werk verrig soos die Tien Gebooie na verwys nie - maar Jesus gebruik nie eens daardie argument nie - Hy se bloot soos Sy Vader dinge gedoen het - so doen Hy ook - Hy volg slegs in die voetspore van Sy Vader.
Liewe brs en srs, wat Jesus op die sabaatdag gedoen het, gee nie vir ons vrye teuels om nou te se ons kan enigiets op die sabbatdag doen nie - nee - God verwag nog steeds dat ons die sabbatdag moet eerbiedig - maar wanneer dit blyk of ons iets moet doen wat dit regverdig (Matthew 5:6 “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.” ) moet ons nie skuldig voel nie - God sal self die oordeel fel of ons reg gehandel het al dan nie - want Hy oordeel regverdig.; tweedens, ons moet nie allerlei verskonings uitdink om mense te benadeel nie - God verwag van elkeen van ons om te alle tye regverdig op te tree - want dit is wat God en Sy Seun altyd gedoen het en nog steeds doen. Daarom is dit ook ons plig om so op te tree. Die Here Jesus Christus sal ons altyd die krag en genade gee om regverdig op te tree. Amen.
