Shimini - Hebreeuse Woord
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 20 viewsNotes
Transcript
(Shin - Mem - Yod - Nun - Yod) שְּׁמִינִי
(Shin - Mem - Yod - Nun - Yod) שְּׁמִינִי
Ons is die week in die 26ste gedeelte of Parashah. Die Hebreeuse letters י (Yod), ה (Hef), ו (Vav) en ה (Heh) vorm saam YHVH. Die Gematria-waardes van hierdie letters (10, 5, 6, 5) tel saam tot 26.
Nou die week se gedeelte se naam is Shemini wat "agtste" in Hebreeus beteken. Dit kom uit die eerste woorde van Levitikus 9:1 waar ons lees: "En op die agtste dag het Moses Aaron en sy seuns en die oudstes van israel geroep..."
In die week se gedeelte lees ons hoe Abba Vader Aäron en sy seuns opdrag gee om amptelik met hulle nuwe verantwoordlikhede as priesters te begin, hoe Nadab en Abihu sterf weens die vreemde vuur wat hulle in die Tabernakel gebring het, en hoe die wette oor rein en onrein diere gegee word.
In Hebreeus het getalle ook betekenisse en die getal agt - dieselfde as die week se parash naam - beteken “’n nuwe begin". Met hierdie in gedagte, kom ons kyk hoe kom hierdie week se letters van die Woord Shimini bymekaar om vir ons daardie diepte te gee.
Die woord Shimini bestaan uit 5 letters (Shin - Mem - Yod - Nun - Yod). Die gamatria waardes van hierdie letters is (300 - 40 - 10 - 50 - 10) wat optel tot die waarde van 410. Nou daar is nog ‘n woord wat ook op tel tot die waarde van 410.
Die woord “Ararat”, wat die naam is van die berg waarop Noag se ark geland het. Wat ook verwys na ‘n nuwe begin vir Noag en sy hele nageslag. Netso kyk ons in die week se gedeelte hoe Abba Vader wil hê Sy kinders moet wandel saam met Hom, wat Sy kinders se dieet is en hoe hulle afgesonder moet wees vir Hom. ‘n Nuwe begin in die wandel en verhouding met Abba Vader.
So as ons kyk na die Shin begin ons met die piktogram prentjie:
Die piktogram vir die letter Shin is ’n vuur, vlamme of tande. Die vuur en vlamme beeld die idee uit van vertering en suiwering — iets wat verteer, verander en reinig. Die tande dui op krag en vernietiging — soos tande kos verteer. Daar is ook ’n verborge prentjie van drie-in-een, want die letter Shin bestaan uit drie dele of takke wat saam een letter vorm. Dit verwys simbolies na die Drie-eenheid: Abba Vader, Yeshua en die Heilige Gees — een Goddelike eenheid.
Die numeriese waarde van Shin is 21. Hierdie 21 word interessant opgebreek as 3 x 7. Die getal 3 dui op volmaaktheid, spesifiek die goddelike volmaaktheid (ook die drie-eenheid). Die getal 7 simboliseer ook volmaaktheid en voltooiing (bv. die skepping wat voltooi is in 7 dae). Dus beklemtoon die getal 21 dubbele volmaaktheid — die perfekte Drie-eenheid.
Die letter Shin self hou verband met woorde wat wys op krag, almagtigheid en vertering: Een bekende woord wat met Shin begin, is Shaddai — een van Abba Vader se Name — wat beteken “Die Almagtige”. Die vuur-aspek van Shin beeld Abba Vader se heiligheid, suiwering, en verterende teenwoordigheid uit.
Die eerste plek waar die letter Shin verskyn, is in die eerste woord van die Bybel, naamlik Bereshit ("In die begin"). Die Shin in Bereshit dui op ’n verterende proses — Dit verwys profeties na Yeshua wat sou ly en verteer word deur lyding as die offer vir mensdom se sonde. Die Shin in Bereshit vertel dus reeds van Abba Vader se reddingsplan nog voordat die volledige verhaal ontvou.
Dan kom ons by die letter Mem:
Die oorspronklike piktogram vir Mem is ’n prentjie van water. Water word gesien as ’n bron van lewe — niks kan leef sonder water nie. Dit kan ook aandui op lewe en oorvloed (soos lewende riviere); Suiwering en reiniging . In Johannes 4:14 belowe Yeshua dat die water wat Hy gee, ’n fontein van ewige lewe sal wees — ons sal nooit weer dors hê as ons van Hom drink nie. Die vorm van Mem, selfs in moderne Hebreeus, lyk soos golwe.
Die numeriese waarde van Mem is 40. Die getal 40 het ’n diep Bybelse betekenis, en word dikwels geassosieer met: Beproewing en voorbereiding (bv. Israel in die woestyn vir 40 jaar). Dit kan ook verwys na oorgangstye — ’n nuwe seisoen of ’n nuwe skepping na ’n tyd van loutering. Yeshua se 40 dae vas in die woestyn voor Sy bediening begin het. Noag se 40 dae van reën wat ’n nuwe wêreld voorbereid het. Hierdie 40 dae/jare is nooit verniet nie — dit berei mense voor vir iets groters. Soos die water reinig, so berei Abba Vader Sy kinders deur beproewing voor vir hulle Godgegewe roeping.
Die woord Mem is verwant aan die Hebreeuse woord "mayim" (מים), wat water beteken. Efesiërs 5:26 sê Yeshua reinig Sy bruid met die waterbad van die Woord. In Eksodus 30 moes die priesters hulleself was om Abba Vader se teenwoordigheid veilig te kan nader. Water is dus nie net vir oorlewing nie, maar ook vir geestelike suiwering en intimiteit met Abba Vader.
Die eerste voorkoms vir die letter Mem is in Genesis 1:1 waar daar verwys word na Abba Vader in die woord Elohim . Mem se assosiasie met water koppel aan die Gees van Abba Vader wat in Genesis 1:2 oor die waters gesweef het — die Gees bring orde en lewe uit die chaotiese waters. Abba Vader, wat as Elohim beskryf word, is die bron van alle lewe, en water (Mayim) is een van die eerste simbole van Sy skepperkrag en teenwoordigheid.
Dan kom ons by die letter Yod:
Die piktogram van Yod is 'n hand of arm, wat krag, aksie en mag simboliseer. Dit dui op die hand van Abba Vader wat werk en mag uitstraal in die skepping en Sy bestuur. Die letter Yod dui nie net op mag, krag en outoriteit nie, maar dit verwys ook na Yeshua, wat aan die regterhand van Abba Vader is.
Die numeriese waarde van Yod is 10, wat volmaaktheid en volledigheid simboliseer. Dit verteenwoordig ook die 10 gebooie.
Die woord Yad (wat van Yod kom) beteken hand, krag, en outoriteit. Dit dui op Abba se mag en die hand wat autoriteit uitoefen in die skepping en in die lewe van gelowiges.
Die eerste keer dat Yod as 'n woord voorkom is in Genesis 3:22, waar dit verwys na die verlies van outoriteit deur die sondeval, toe die mens uit die tuin van Eden verwyder is. Maar deur Yeshua wat die regterhand van Abba Vader is, het Hy vir ons sondes gesterf en opgestaan, sodat ons daardie autoriteit kan terug neem om Abba Vader se teenwoordigheid te kan nader.
Dan kom ons by die letter Nun:
Die letter Nun se piktogram is die beeld van ’n regop sittende dienskneg.
Dit wys na iemand wat nederig wag op opdragte — 'n prentjie van bereidwillige dienskneg. In ‘n geestelike perspektief dui dit op iemand wat voor Abba Vader buig en gereed is om Sy wil uit te voer. Hierdie beeld pas ook perfek by die manier waarop Josua, die seun van Nun, gewandel het: getrou, nederig en altyd gereed om Abba se roeping uit te leef.
Die numeriese waarde van Nun is 50. 50 verwys na vryheid, verlossing en nuwe begin. In die Jubeljaar (elke 50ste jaar) moes slawe vrygelaat word en lande terug gegee word — 'n jaar van herstel en nuwe lewe.
Dus verbind die getal 50 by Nun ook mooi met die idee van geestelike voortgang, herstel en om in die roeping van Abba Vader te wandel.
Die woord Nun het ook ‘n paar betekenisse: Voortgaan – om nie te stagneer nie, maar beweeg en groei in Abba se plan vir jou lewe. Versprei – die koninkryk van Abba uitbrei, soos ’n saad wat groei en vrug dra. Vermeerder – in getalle en geestelike invloed. Diensbaarheid – ’n nederige hart hê om ander te bedien, soos Yeshua gedoen het. Geloof en Gehoorsaamheid – volharding en vertroue in Abba Vader se roeping, selfs wanneer omstandighede moeilik lyk.
Die eerste keer waar die letter Nun voorkom, is in Genesis 1:2 — in die Hebreeuse woord Paniym (פָּנִים), wat vertaal word as "aangesig" of "teenwoordigheid".
Hierdie woord se hoofkenmerk is: Abba se Teenwoordigheid wat omstandighede verander – die Gees van Abba was oral teenwoordig en leer ons dat waar die Gees van Abba teenwoordig is, daar 'n oproep is tot beweging: om na Hom te draai en in geloof te reageer.
So hoe pas hierdie letters by die week se gedeelte?
Die piktogram van Shin verteenwoordig 'n vuur, wat vertering en suiwering simboliseer. In die konteks van Levitikus 9-11 sien ons hoe die priesters, spesifiek Aäron en sy seuns, hul nuwe rol begin deur offerandes aan Abba Vader te bring, wat 'n reinigingsproses vir hulle en die volk simboliseer. Dit dui op die reiniging wat die priesters moet ondergaan voordat hulle in die teenwoordigheid van Abba mag kom. Dan ook in die week se gedeelte waar die priesters op hul roeping ingestel word, sien ons 'n geestelike prentjie van Abba se teenwoordigheid wat alle dinge opnuut oprig en vernuwe. Aaron en sy seuns wat vasgevang was in Egipte word nou opnuut opgerig vir Abba se koninkryk. So die Shin beklemtoon dus die noodsaaklikheid van heiligheid en suiwering vir 'n nuwe begin in hul verhouding met Abba Vader.
Mem se piktogram van water simboliseer lewe en suiwering. In Levitikus 11 word die dieëte en reëls oor reinheid en onreinheid gegee. Net soos water die mens fisies skoonwas, is daar 'n geestelike suiwering wat Abba Vader van Sy volk verwag, sodat hulle rein en afgesonder vir Hom kan wees. Mem herinner ons daaraan dat 'n nuwe begin dikwels deur reiniging en die afsondering van die wêreld gaan. Dit pas ook by die water van ‘n doop wat die mens voorberei vir 'n nuwe begin en dieper verhouding met Abba Vader.
Die piktogram van Yod verteenwoordig 'n hand, wat mag en aksie aandui. Die numeriese waarde van Yod is 10, wat volmaaktheid en voltooiing simboliseer. In Levitikus 9, wanneer die priesters hulle nuwe rolle aanvaar, is dit nie net 'n afskeiding van die wêreld nie, maar ook die begin van 'n hernude bediening onder die autoriteit van Abba Vader. Die letter Yod wys dat Abba Sy krag en mag in die priesters se bediening plaas, wat 'n nuwe begin van reiniging en heiligmaking is. Dit is ook Yeshua, die regterhand, wat vir ons die weg na herstel en volmaaktheid bring. Dit is nie net die begin van 'n nuwe bediening nie, maar die herstel van die verhouding tussen die mens en Abba Vader deur Yeshua.
Die piktogram van Nun is 'n regop sittende dienskneg wat gereed is en nederig is. Die letter Nun simboliseer 'n nuwe begin deur die getal 50 (die waarde van Nun) wat verwys na vryheid en herstel, soos die Jubeljaar. In Levitikus 9-11 sien ons hoe die priesters en die volk 'n nuwe seisoen begin in hul verhouding met Abba Vader. Hulle is bereid om in volharding en gehoorsaamheid te wandel, wat die beginsel van geestelike vryheid en hernuwing van hul verhouding met Abba weerspieël.
