Behar - Hebreeuse Woord
Sermon • Submitted • Presented
0 ratings
· 10 viewsNotes
Transcript
Die twee-en-dertigste gedeelte uit die Torah en die tweede laaste gedeelte uit die boek Levitikus is “Behar” wat beteken "Op die berg.” So die naam van die week se gedeelte is afkomstig van die eerste woorde van die eerste vers van hierdie week se gedeelte in Lev 25:1 wat lees: “VERDER het die Here met Moses gespreek op die berg Sinai …” Hierdie gedeelte uit die Torah sluit die instruksies of wette van die sabbatsjare, die jubeljaar en instruksies rakende verlossing in. Die eerste gedeelte begin met die instruksie dat 'n Israelitiese boer sy land elke sewende jaar moet laat braak lê. Niks mag op die grond verrig word nie. Dit word die “Sabbatsjaar” genoem, in Hebreeus is dit die “Shemittah” genoem. Daarop het Abba Vader ook die instruksie gegee dat die kinders van Israel sewe siklusse van sewe jaar moet tel - 'n totaal van 49 jaar - en as die vyftigste jaar aanbreek ... op Versoeningsdag (Yom Kippur) moet die shofar ook geblaas word. Hierdie vyftigste jaar sal 'n jubeljaar of ‘n “Jubilee” jaar wees - 'n jaar van 'vrylating' vir die land en al sy inwoners. So die Sabbatsjaar was ’n aanwysing van die groot jubeljaar wat gaan aanbreek. Op die jubeljaar sou slawe vrygestel word, skuld sou gekanselleer word en die bestuur van die land sou terugkeer na die oorspronklike titelhouers toe.
Die woord Behar bestaan uit die Hebreeuse letters Beit - Heh - Resh (בְּהַר).
Die eerste letter waarna ons kyk is die Beit - Die Hebreeuse letter Bet simboliseer ‘n huis, familie, huishouding en verbond. In Genesis 7:1 nooi Abba Vader vir Noag en sy gesin (wat die Hebreeuse woord Bah-yith is) om in die ark te gaan—’n huis van beskerming, krag, en verlossing. Hierdie woord Beit bestaan uit die letters Bet wat huis is, Yod wat krag en autoriteit is – Abba Vader se regterhand), en Tav wat verbond is en ’n teken van verlossing. M.a.w verwys na Abba se geestelike huishouding waarin ons geroep word om in Sy teenwoordigheid te leef, gesamentlik gegrond in Sy verbond. Die numeriese waarde van Bet is (2) wat dui op ’n huishouding en dan kan ons ook die waarde van 18 in die Beit vind as ons kyk en sien die Beit kan bestaan uit 3 Vav letters. Die Vav wat terugvewrys na die spykers wat Yeshua vasgepen het op die kruis, maw die prys wat vir ons verlossing betaal is. So die Beit is absoluut ‘n uitbeelding van Yeshua wat vir Sy huis gekruisig is vir verlossing. Ons is Abba Vader se tempel (1 Kor. 3:16), en Hy is die fondament van ons geestelike huis. Bet is meer as net ’n letter; dit is ’n uitnodiging om deel te wees in Abba se lewende huis.
Die twede letter waarna ons kyk is Heh- Die oorspronklike piktogram prentjie van die letter Heh is van ’n man wat sy arms omhoog hou — asof hy uitroep, lofprys of aandag trek. Hierdie houding simboliseer openbaring of openbaarmaking. Afhanklikheid in Abba Vader (soos Moses wat sy hande opgelig het). Lofprysing en aanbidding. ’n Uitroep of kreet aan Abba Vader.
Hierdie prentjie gee vir ons die idee van iemand wat roep of roep tot aksie – om in geloof te reageer. Die eerste plek waar die letter Heh voorkom, is in Genesis 1:1, in die naam Elohim (אֱלֹהִים) – spesifiek die middelste letter van Elohim. Die feit dat Heh in die hart van Abba Vader se Naam voorkom, wys dit dat Genade sentraal is tot wie Hy is. Sy natuur is om Homself aan ons te openbaar – uit liefde. Alles wat uit Hom vloei (sy skepping, sy wet, sy verlossing) se kern is openbaring en genade. Die Heh is dus simbolies van hoe Abba Homself openbaar, en dat Hy dit doen vanuit ’n plek van liefde en genade. Die gematria waarde van Heh is 5. Die getal 5 is reg deur die woord verbind aan genade: Yeshua voed 5000 met vyf brode (Matt 14:17). Die dienskneg in Matt 25:15 kry vyf talente en verdubbel dit – en word beloon. Die Torah bestaan uit vyf boeke – genade in onderrigvorm. Die letter Heh se waarde van 5 bevestig dus die boodskap van genade — nie verdien nie, maar vrylik gegee. En dit roep ons om in daardie genade te leef en beweeg, met ons “hand” uitgestrek na Hom.
Dan die laaste letter Resh - Die letter Resh, wat die 20ste letter van die Alef-Bet is, simboliseer 'n hoof, leier of ‘n begin. In Genesis 1:1 kom die eerste Resh voor in die woord Bereshit (“In die begin”), waar dit reeds Yeshua as die Hoof van Abba Vader se huis uiteensit. Tog wys Resh ook op nederigheid, soos gesien in die piktogram van 'n gebuigde kop. Hosea 11:3-4 toon hoe Abba Vader Sy mense lei en voed, en Markus 10:43-45 leer ons dat ware leierskap deur diensbaarheid kom. Yeshua het Sy kop gebuig om ons te dien, en in Johannes 13:14-15 was Hy ons hoe Hy voete was as ‘n voorbeeld.
Nou hoe pas hierdie letters by die week se gedeelte in Levitikus 25 en 26?
Wel in die prentjie van die Beit wat wys na die huis van Abba Vader, sien ons Abba Vader praat met Moses op die berg om Sy huisreëls vir Sy verbondsfamilie bekend te maak. Die Sabbatsjare en Jubeljaar wys hoe Abba wil hê Sy huishouding moet funksioneer: hoe daar geregtigheid en orde moet wees, rus en herstel. Hy gee ook ’n uitnodiging om binne Sy huis van beskerming en genade te leef, soos Noag in die ark.
In die prentjie van die Heh, openbaar Abba Vader die wette van die Sabbatsjaar en Jubeljaar direk vanaf die berg Sinai, ’n oproep aan die volk om Hom te vertrou en nie op hul eie arbeid of opbrengs nie. Die instruksies vereis reaksie van geloof — om die land te laat rus, slawe vry te laat en skuld uit te kanselleer — dit vra afhanklikheid van Abba se genade.
Deur die Resh, sien ons Abba Vader stel Homself as Leier en Herder oor Israel se ekonomie, grondbesit en ordes. Die volk word geroep om Hom te eer as Koning en Vader – nie ander gode of om selfgesentreerde rykdom na te jaag nie. Netsoos Abba Vader die prentjie kom teken wat dié Leier en dié Herder is, roep Hy Sy kinders om op te staan as leiers in diensbaarheid. Om bereid te wees om te lei as hande en voete van Hom. Wat ander nader aan Hom bring. Elke instruksie en voorskrif word gegee om elkeen nader te bring aan Hom.
Die woord Behar — בְּהַר — beteken letterlik “op die berg”, maar elk van die letters dra ‘n dieper simboliek wat die boodskap van Levitikus 25–26 kom in kleur. Op die berg is waar Abba Vader Sy huisreëls (Bet) openbaar (Heh) sodat Sy mense in nederige onderwerping (Resh) kan leef – in rus, genade, herstel en geregtigheid. Hierdie gedeelte roep ons terug na ons wortels, identiteit en afhanklikheid in Hom, en wys dat alles — selfs die ekonomie, ons besigheid, ons werk (ALLES) — onder Sy heilige leiding val.
