Die menslike probleem met 'n Goddelike oplossing

Sermon  •  Submitted   •  Presented
0 ratings
· 9 views
Notes
Transcript
Groet
Goeie more almal, ek groet u in die Naam van ons Koning en Verlosser, onse Here Jesus Christus. Ek sien uit om die volgende paar weke my prakties hier by julle te doen en wil ook dankie sê aan die kerkraad wat vir my hierdie geleentheid gee.
Stel jouself voor. Wie is jy, waar kom jy vandaan. Iets oor jou redding en roeping.
2013 gered, 2022 geroep
Kom ons doen net ‘n gebed saam
FOTUM
Laat die woorde van my mond en die oordenking van ons elke een se hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!
Amen
Skriflesing
Romeine 3:9-31
KANSEL GEBED
Afkondigings
Verlore Siele
Voltydse werkers
Siekelys
Teks van oordenking
Romeine 3:23-24 - want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.
Tema: Die menslike probleem met ‘n goddelike oplossing
Inleiding van gehoor
Dink vir ’n oomblik aan iemand wat in ’n hofsaal sit en luister hoe die aanklaer die saak uiteensit.
Aanvanklik sit hy rustig en luister, want hy dink die aanklag gaan oor iemand anders.
Die getuienis word gelewer, die oortredings word genoem, en in sy gedagtes stem hy saam: “Ja, so iemand behoort skuldig bevind te word.”
Maar dan verander alles.
Die aanklaer draai na hom toe en sê: “Die persoon waarvan ons praat, is jy.”
Skielik is dit nie meer ’n saak wat op ’n afstand bespreek word nie. Dit het persoonlik geword.
Dit is amper presies wat Paulus in die eerste drie hoofstukke van Romeine doen. Hy begin deur die sonde van die wêreld oop te vlek, maar hoe verder sy argument vorder, hoe nader kom die aanklag aan elkeen wat luister.
Die gedeelte wat ons nou saam gelees het, is een van die mees fundamentele gedeeltes in die hele Bybel om die evangelie van Jesus Christus te verstaan. Maar om dit reg aan te hoor, moet ons dit in sy groter konteks sien.
Paulus het in hierdie brief aan die Romeine begin om vir die gelowiges in Rome ‘n deeglike uiteensetting van die evangelie te gee.
In hoofstuk 1 begin hy nie met goeie nuus nie, maar met slegte nuus. Hy wys hoe die heidense wêreld, wat God verwerp en Hom verruil het vir afgode, onder God se oordeel staan.
Hierdie mense is oorgegee aan hulle sondes — hulle harte het donker geword, hulle begeertes het hulle oorweldig, en hulle sondige dade getuig van ‘n lewe sonder God.
In hoofstuk 2 verras Paulus sy Joodse lesers, deur aan hulle te wys dat hulle nie beter daaraan toe is nie. Al het hulle die wet, al is hulle besny, al ken hulle die ware God, is hulle net so skuldig, want hulle oortree die wet, wat hulle sê hulle glo.
En nou, in hoofstuk 3, bring Paulus sy hele argument tot ‘n punt: niemand, sê hy, is vrygespreek nie. Jood sowel as heiden – almal is onder die mag van die sonde.
Dit is soos ‘n hofsaak waar Paulus as’t ware die aanklag stel, die getuies roep, deur Ou Testamentiese aanhalings, en dan die finale uitspraak gee: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.”
Maar net wanneer dit lyk asof alles hopeloos is, begin Paulus die goeie nuus bekend maak. Hy wys op ‘n oplossing wat nie uit die mens uit kom nie, maar uit God self — ‘n regverdigmaking deur geloof in Jesus Christus.
In hierdie enkele gedeelte kry ons dus die donker realiteit van die mens se toestand, en dan die briljante helderheid van God se genade.
Inleiding van boodskap
Ons lewe ook vandag in ‘n tyd waar mense hulself wil goedpraat, die persoon wat ‘n leuen vertel dink “ek is nie so sleg soos die persoon wat bedrog pleeg nie”, die persoon wat iets klein steel dink “ek is darem nie ‘n bankrower nie”, die persoon wat ‘n moord pleeg dink “ek is darem nie ‘n reeksmoordenaar nie”.
Tog sê die Woord duidelik vir ons dat die loon van sonde, maak nie saak wat die sonde is nie, altyd dieselfde is.
Romeine 6:23 - Want die loon van die sonde is die dood,
Ons as mens wil onsself altyd regverdig, net soos die Jode in hierdie brief aan Romeine. Van u wat vandag hier sit dink dalk “ek probeer maar net my bes” of dalk dink u vandag “God ken mos my hart”.
Dalk sit u vandag hier en dink dat u hemel toe gaan omdat u in die kerk sit, of Bybel lees - nie noodwendig slegte dinge nie, maar tog iets wat baie mense gebruik om hulleself te regverdig voor God.
Tog, as ons eerlik is, weet ons daar is iets fout. Ons dink dinge wat ons skaam maak. Ons sê dinge wat seermaak. Ons doen dinge wat ons probeer wegsteek.
En selfs as ons dit nie uiterlik wys nie, weet ons dat sonde diep in ons binneste leef. Dis soos ‘n krag wat ons beheer — en so hard as wat ons probeer, ons kan onsself nie regkry nie.
Dit is waarom hierdie boodskap van Paulus so nodig is. Hy draai nie doekies om nie: jy het ‘n probleem. Nie net die wêreld of die mense rondom jou nie — jy. Maar hy laat jou nie daar nie. Hy wys ook die oplossing – ‘n oplossing wat jy nie self kan verdien nie, maar wat God vrylik gee aan dié wat glo.
Dieselfde Romeine 6:23 sluit af met die woorde
Romeine 6:23 - maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
Oorgangsin: Maar voor ons by die oplossing kom, moet ons eers kyk na…
Punt 1: Die probleem waarmee elke mens sit
Bewys: Rom. 3:10 - Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.
Verduideliking:
Paulus haal hier aan uit die Ou Testament, spesifiek uit Psalm 14 en Psalm 53. Hy gebruik hierdie aanhaling as 'n getuienis teen die hele mensdom.
Wanneer hy sê "daar is niemand regverdig nie," maak hy geen uitsondering nie, nie vir die heiden nie, nie vir die Jood nie, nie vir die morele persoon nie, nie vir die godsdienstige persoon nie.
"Selfs nie een nie," beklemtoon dat daar geen uitsonderingsgeval is wat God kan aanvaar op grond van eie meriete nie.
Om regverdig te wees beteken om heeltemal in lyn te wees met God se wil en karakter, om in alle denke, woorde en dade sonder sonde te wees. Hier sê Paulus: Geen mens bereik dit nie. Selfs ons beste pogings is besoedel deur selfsug, verkeerde motiewe of trots.
Dit is belangrik om raak te sien: Paulus sê nie net dat mense soms verkeerd doen nie, hy sê dat die kern van die mens nie regverdig is nie. Die probleem is nie net ons optrede nie; dit is ons natuur.
Die vraag nou is, wat is sonde: Die eenvoudige definisie wat gewoonlik vir kinders gegee word, is dit: Sonde is enigiets wat ons sê, dink, of doen wat teen God se wil is.
Hierdie waarheid is 'n klap in die gesig van elke menslike illusie oor ons eie goedheid. As Paulus reg is dan is elke mens se grootste probleem nie om 'n beter lewe te lei of net bietjie meer inspanning te doen nie. Ons grootste probleem is dat ons in onsself nie regverdig voor God staan nie.
Toepassing:
Ons moderne samelewing hou daarvan om mense in verskillende klasse van "goeie" en "slegte" mense te plaas. Ons sê: “Sy is 'n goeie mens.” Of: “Hy bedoel darem goed.”
Maar Romeine 3:10 herinner ons dat, gemeet aan God se standaard van volmaakte heiligheid, niemand van ons kan staan nie.
Ons kan maklik die sonde in ander raaksien; in die korrupte politici, in die moordenaars, in die egbrekers of in die dobbelaars wat hulle gesinne se geld daagliks op aanlyn dobbelhuise weg dobbel.
Maar die Woord vra dat ons nie na ander kyk nie, dit vra dat ons in die spieël kyk.
Die erkenning van hierdie waarheid is die eerste stap na redding. Solank as wat jy glo dat jy goed genoeg is, sal jy nie die noodsaaklikheid van Christus verstaan nie.
Maar wanneer jy erken: "Ek is nie regverdig nie.” of “ek het nie net 'n bietjie hulp nodig nie, maar ‘n Redder" dan begin jy verstaan wat ware evangelie-genade beteken.
Die vraag aan elkeen van ons is dus: Erken jy dat jy sonder Christus totaal verlore en onregverdig is? Of probeer jy nog jou eie regverdigheid voor God bewys?
Oorgangsin: Nou dat ons weet wat die probleem is, gaan ons kyk na waarom werke ons nie kan red nie. Daarom die tweede punt
Punt 2: Die onvermoë van die mens om hierdie probleem op te los
Bewys: Rom. 3:20 - aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie
Verduideliking:
Hier verklaar Paulus duidelik dat daar geen manier is waarop 'n mens deur sy eie pogings regverdig voor God kan staan nie. "Werke van die wet" verwys na die dade waardeur 'n mens probeer om God se wet te onderhou; om goed te lewe en nie te sondig nie.
Baie mense dink onbewustelik dat as hulle net hard genoeg probeer, of meer goeie dade as slegte dade verrig, God hulle sal aanvaar. Paulus stel dit egter baie duidelik: dit is onmoontlik. Geen menslike vlees sal deur wetsonderhouding geregverdig word nie.
Nou mag die vraag dalk ontstaan, as ons nie geregverdig kan word deur goed te lewe nie, wat is dan die doel van die wet? Paulus gee die antwoord op daardie vraag in die laaste gedeelte van vers 20: “deur die wet is die kennis van sonde.”
Die wet is soos 'n spieël. As jy voor ‘n spieël staan en jy sien jou gesig is vuil, kan die spieël jou nie skoonmaak nie; dit wys net die vuilheid. Net so wys God se wet vir ons hoe sondig ons is, maar dit kan ons nie red nie.
Die probleem is nie by die wet nie, die wet is, soos Romeine 7:12 vir ons sê, heilig, regverdig en goed; die probleem is by ons. Ons harte is so geneig tot sonde dat selfs die beste wet nie ons kan verander nie.
Hierdie vers vernietig dus enige idee dat 'n mens deur selfverbetering, godsdienstige rituele, goeie gedrag, of morele optrede jou eie regverdigheid kan bereik.
Toepassing:
Kom ek vra ‘n vraag om my punt te staaf: Ek wil vra dat elke een van u vanoggend die vrae in jou hart antwoord.
Dink jy jy is ‘n goeie mens?
Ons kan dit toets. Hou jy die 10 gebooie?
Het jy al ooit in jou lewe iets gesteel? Al was dit iets klein.
‘n Volgende gebod waarna ons kan kyk is: “eer jou vader en jou moeder”
Ons almal breek hierdie een die oomblik as ons ‘n tantrum gooi as ons nie ons sin kry nie.
Het jy al ooit egbreuk gepleeg? Meeste van ons sal dadelik sê “NEE, nog nooit”, maar Jesus stel God se standaard vir egbreuk in Matt. 5:28 as Hy sê:
Matt. 5:28 - Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.
So die eintlike vraag is, het jy al na ‘n vrou, of man, gekyk om hulle te begeer?
Nou lyk ‘n paar van ons se antwoorde bietjie anders.
Die laaste vraag wat ek wil vra is: Het jy al ooit moord gepleeg?
Weer sal ons almal antwoord, “NEE, ek sal dit nooit doen nie”, maar weereens word die standaard wat God stel vir ons gegee in die Woord.
1 Joh. 3:15 - Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie.
Het jy al ooit iemand gehaat? Die Woord sê duidelik vir ons dat dit gelykstaande aan moord is.
So kan on deur al 10 van die gebooie gaan en kyk of ons gesondig het, en die antwoord op baie van hulle gaan wees “ja”. En as ons antwoord op almal “nee” is, dan lieg ons, volgens 1 Johannes 1:8
1 Joh. 1:8 - As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
God se standaard van absolute heiligheid is so hoog, dat Jakobus skryf in Jakobus 2:10
Jak. 2:10 - Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
So sien ons dat ons onsself nie kan red nie, maak nie saak wat ons doen nie, ons sal nooit goed genoeg wees nie, want ons sal die wet altyd op een of ander manier breek, dit is in ons menslike natuur.
As daar steeds twyfel in jou hart is, Efesiërs 2:8-9 sê:
Ef. 2:8-9 - Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.
Hierdie waarheid sny diep, want dit beteken dat elke poging om onsself reg te maak, sonder Christus, nutteloos is. Dit beteken dat geen hoeveelhede kerkdienste, Bybelstudies, liefdadigheid of selfdissipline ooit genoeg sal wees om ons skuld voor God uit te wis nie.
Dit vra van ons om op te hou om onsself te probeer red. Solank as wat ons op ons eie prestasie staatmaak, bly ons verlore. Maar as ons ons hande leeg voor God bring en sê: “Ek kan nie,” dan is ons presies waar God ons wil hê.
Oorgangsin: Nou dat ons weet wat elke mens se probleem is, en dat ons nie die probleem self kan oplos nie, kan ons kyk na die
Punt 3: Die oplossing deur God gegee
Bewys: Rom. 3:25 - Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof,
Verduideliking:
Na die donker prentjie van die mens se sonde en onvermoë om homself te red, draai Paulus nou die fokus na die oplossing en dit kom nie uit die mens uit nie, maar uit God self.
God het Jesus Christus voorgestel as die een wat deur sy bloed versoening bring. Die woord wat hier gebruik word vir “versoening” (Grieks: hilastērion) verwys na ‘n plek van vergifnis, spesifiek na die versoendeksel in die Allerheiligste van die tabernakel, waar die hoëpriester eenmaal per jaar bloed gesprinkel het om versoening te doen vir die sondes van die volk soos ons sien in Levitikus 16.
Paulus sê hier: Jesus is nou die ware versoendeksel. Sy kruisiging, sy bloed, is die manier waarop God sonde oordek en uitwis — nie simbolies nie, maar werklik en finaal.
Let op: hierdie versoening word deur geloof ontvang, nie deur werke nie. Ons ontvang hierdie redding nie deur iets te doen nie, maar deur te vertrou op wat Christus reeds gedoen het.
Verder sê Paulus dat hierdie werk van Christus ook 'n demonstrasie van God se geregtigheid is. God het in die ou tyd sondes "ongestraf laat bly". Die mens wonder partykeer waarom God nie onmiddelik sondaars straf nie en die antwoord is, Christus het reeds vir hulle sondes aan die kruis gesterf. Dit is dus ‘n bewys van sy verdraagsaamheid.
Dit beteken egter nie dat die sondes nooit gestraf sal word nie, want God se geregtigheid word openbaar deur die sondes van die sondaars, wat nooit die verlossing wat daar is in Christus se bloed, ontvang het nie, te straf in die poel van vuur
Ander gedeeltes bevestig hierdie waarheid:
2 Korintiërs 5:21 sê: “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.”
1 Johannes 2:2 sê: “En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
Hierdie oplossing is radikaal: God self voorsien die offer, soos met Abraham toe hy vir Isak moes gaan offer. God self dra die straf, en gee daarin vir ons ‘n ontvlugting van die ewige verderf. God self bied die regverdigmaking aan. Dit is genade, onverdiende guns.
Ons bring niks na die tafel behalwe ons sonde nie. God bring alles wat nodig is vir ons redding.
Toepassing:
Die boodskap van versoening deur Jesus Christus vra van ons meer as net verstandelike instemming. Dit vra ‘n diep, persoonlike antwoord.
Elke een van ons het ‘n kans om op die roepstem van God te reageer waar ons vanoggend hier saam is, die keuse of jy positief of negatief gaan reageer berus by jou.
Wanneer Paulus sê dat hierdie versoening deur geloof ontvang word, beteken dit dat elke mens uitgenooi word om sy eie hand uit te steek en te vat wat God gratis gee, maar dit beteken ook dat jy jou eie pogings moet los. Geloof is die oorgee van jouself aan Christus alleen. Nie net ‘n gedeelte van jouself nie, maar jou hele lewenswandel en handel, al jou denke, al jou drome en al jou planne.
Wat beteken dit prakties? Dit beteken dat jy op Christus alleen vertrou, nie op Christus en iets anders nie, want ons kan niks bydra tot die volmaakte werk wat Christus gedoen het nie.
Dit beteken dat ons met vrymoedigheid na God toe kan gaan, na sy troon van genade, sodat ons barmhartigheid kan vind, soos Hebreërs 4:16 sê:
Heb. 4:16 - Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.
Dit beteken dat wanneer jy gesondig het, jy nie hoef weg te kruip nie, jy kan bely en weet dat die offer reeds volkome is en dat jou sondes vergewe sal word.
1 Johannes 1:9 - As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.
Dit beteken dat wanneer jy struikel, jy nie afgeskryf is nie, Christus het jou alreeds gekoop en sal jou nie laat gaan nie
Johannes 10:28 - En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Dit beteken dat ons ander mense moet sien soos God hulle sien, as vuil en verlore sondaars wat sy genade nodig het. Ons sal nie neerkyk op ‘n sondaar wat nog nooit van Christus gehoor het en dink “ek is beter as jy” nie, want ons sal moet erken dat ons ook eens op ‘n tyd in daardie posisie was.
Dit beteken ook dat ons ‘n lewe van aanbidding en gehoorsaamheid aan God, wat ons verlos het sal lewe.
Ware geloof wat Christus omhels, lei altyd tot ‘n lewe van dankbaarheid. Ons dien nie om God se liefde te wen nie, maar omdat ons dit reeds in oorvloed ontvang het.
Romeine 12:1 vat hierdie idee pragtig saam: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.”
Oorgangsin: Ons hele lewe behoort ‘n dankbare antwoord te wees op die onbeskryflike genade van God.
Slot
Samevatting
Vandag het ons gekyk na die menslike probleem met ‘n goddelike oplossing.
Ons het gesien dat die menslike probleem sonde is en dat elke persoon met hierdie probleem sit. Niemand is uitgesluit nie.
Ons het ook gesien dat niemand hulleself kan help nie. Om jouself te probeer help is soos om jouself uit die water te probeer optrek aan jou hare. Ons het ‘n redder nodig.
Daardie redder het ons gesien is Jesus Christus, wat aan die kruis gesterf het, sodat daar vir ons versoening kan wees vir altyd.
Ons het ook gesien hoe ons lewe na redding dan behoort te lyk.
Gevolgtrekking
Ek hoop dat elke een van u wat vandag hier sit na jou eie lewe gekyk het en selfondersoek ingestel het oor waar jy vandag in jou geestelike lewe staan en as jy vandag die roepstem van die Here gehoor het wat jou roep tot bekering, of selfs tot heiligmaking, wil ek regtig vra dat jy na die stem luister en positief daarop sal reageer.
Appèl
So wil jy nie vandag op daardie stem reageer nie. Moet nie hier uitstap voor jy jou saak met die Here reggemaak het nie.
Selfs as jy onseker is wil ek vra dat jy na die tyd sal agterbly, hier is kerkraad wat kan help, ek sal ook so paar minute na die diens nog hier beskikbaar wees om te help.
Jes. 1:18 - Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.
Amen
SLOT GEBED
Naprediker van Sy Woord
Slotlied
Om die diens mee af te sluit wil ek vra dat ons sal staan en saamsing die lied wat op die bord sal verskyn
Uitspreek van seën (Moet nie hande uitsteek nie)
Kom ons bid nou om die seën van die Here: (Mag nou) die genade van ons Here Jesus Christus, die Liefde van God, en die opsoekende gemeenskap van die Heilige Gees met u elkeen wees! Amen.
Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.