Untitled Sermon (2)
Koninkrykstyd • Sermon • Submitted
0 ratings
· 11 viewsNotes
Transcript
Sermon Tone Analysis
A
D
F
J
S
Emotion
A
C
T
Language
O
C
E
A
E
Social
Mat 25:31-46
Toetrede Lied 329:1.
Votum
’n Dankpsalm.
Juig tot eer van die Here,
almal op aarde!
Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag
Juig tot eer van die Here,
almal op aarde!
2 Dien die Here met blydskap!
Kom voor Hom met gejubel!
3 Erken dat die Here God is:
Hy het ons gemaak en ons is Syne,
ons is sy volk, sy eie kudde.
4 Gaan sy poorte binne met dankliedere,
sy tempel met lofsange,
dank Hom, prys sy Naam,
5want die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.
Amen
Seëngroet
Lofsang Lied 358:1-3
Herinnering aan God se genade Ef 1:15-23
Paulus se gebed
15 Daarom, vandat ek gehoor het van julle geloof in die Here Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges, 16 hou ek ook nie op om God vir julle te dank nie. Wanneer ek in my gebede aan julle dink, 17 bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. 18 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, 19 en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag 20 wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het: 21 hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom. 22 Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Geloofsbelydenis
Gebed
Inleiding
Matteus 25 – Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid, getrouheid en barmhartigheid
1. Jesus spoor sy dissipels aan tot waaksaamheid met die gelykenis van die tien meisies – 25:1-13
2. Jesus spoor sy dissipels aan tot getrouheid met die gelykenis van die muntstukke – 25:14-30
3. Jesus spoor sy dissipels aan tot barmhartigheid met die gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46
Skriflesing Matteus 25:31-46
Die profetiese rede: die laaste oordeel
25:31 "Wanneer die Seun van die mens in majesteit kom en al die engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit. 32 Al die volke sal voor Hom bymekaar gebring word, en Hy sal die mense van mekaar skei soos ’n wagter die skape van die bokke skei. 33 Die skape sal Hy regs en die bokke links van Hom laat staan.
34 "Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, 35 want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves; 36 Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.’ 37 Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: ‘Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? 38 En wanneer het ons U ’n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? 39 Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?’ 40 En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’
41 "Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is, 42 want Ek was honger, en julle het My niks gegee om te eet nie; Ek was dors, en julle het My niks gegee om te drink nie; 43 Ek was ’n vreemdeling, en julle het My nie gehuisves nie; sonder klere, en julle het My nie klere gegee nie; siek en in die tronk, en julle het My nie versorg nie.’ 44 Dan sal hulle ook antwoord: ‘Here, wanneer het ons U honger of dors of ’n vreemdeling of sonder klere of siek of in die tronk gesien en U nie gehelp nie?’ 45 En Hy sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.’ 46 En hierdie mense sal die ewige straf ontvang, maar dié wat die wil van God gedoen het, die ewige lewe."
Preek
"Elke dag wat ek in ongevalle gewerk het, het ek meer ongevoelig vir mense en hulle nood geraak," vertel Patricia Miller. "Vyf jaar tussen die nood het my hart totaal afgestomp. Toe het die Here my oë oopgemaak."
Patricia vertel hoe sy vroegoggend 'n jong vrou opgeneem het wat 'n oordosis dwelms geneem en selfdood probeer het. Haar ma was ook daar, 'n onversorgde vrou met rooi oë. Die polisie het haar in die middel van die nag wakkergemaak en hospitaal toe gebring. Sy kon skaars fluister toe sy die gegewens van die pasiënt moes gee.
"'Kry spoed!', het ek geblits. My ongeduld was groot. Toe het ek opgevlieg om fotostate van die identiteitsboekie en mediese kaart te maak. By die fotostaatmasjien het God my in my spore gestuit. 'Jy het nie eers na haar gekyk nie', het God gesê."
Patricia het skielik hartseer gevoel oor die vrou en haar dogter se nood. In 'n skietgebed het sy die Here gevra om haar te vergewe.
Tyd het nie meer saakgemaak nie. Sy het by die verwese vrou gaan sit en haar hande in hare geneem. Sy kon die vrou aanmoedig om nie moed op te gee nie. 'n Damwal trane het gebars. Patricia het gehoor van haar worsteling as enkelouer om 'n rebelse dogter groot te maak.
Patricia het daardie beleef hoe die Here haar van 'n koue hart genees. Die Here het haar gehelp om 'n medemens raak te sien. Die kapasiteit tot empatie en meelewing het haar lewe verander.
Dit is ook waartoe ons teks ons nooi. Hierdie verhaal is die sewende van sewe gelykenisse in die profetiese rede.
Wees gereed om die Koning te ontmoet
Die eerste ses gelykenisse van die profetiese rede het hoofsaaklik te doen met die feit "dat" ons waaksaam en gereed moet wees vir die koms van Jesus wat op ’n tydstip en wyse kan kom wat ons nie verwag nie. Die Koning kom onverwags. Hy kom op maniere wat Hom nie altyd duidelik herkenbaar maak nie. Daarom die oproepe tot waaksaamheid.
In Matteus 24:36-44 se drie kort gelykenisse gaan dit oor gereedheid te alle tye. In Matteus 24:45-51 word lesers opgeroep tot getrouheid. Matteus 25:1-13 gaan om voorbereid te wees omdat die Koning op ’n onverwagse tyd kan kom. Matteus 25:14-30 belig getroue diens aan God. Ons moet gereed wees. Ons moet voorbereid wees op die verrassende en onverwagse koms van die Heer.
Hoe moet ons gereed maak?
Dit is een ding om te weet dat ons gereed moet wees om die Here te ontmoet, maar hoe doen ons dit? As die hemelse Koning onverwags, ontydig en sonder ’n voorspelbare patroon sal kom, is daar dan enigsins ’n manier hoe ons onsself kan voorberei sodat ons gereed kan wees?
Op hierdie vraag wil die gelykenis ’n antwoord bied. Terwyl dit in die eerste ses wederkoms-gelykenisse handel oor die "dat" van ons gereed-wees, gaan dit in die gelykenis oor die "hoe" van ons gereed-wees op die koms van die Koning. Dit gaan hier oor die manier waarop ons voorbereid moet wees. Ons moet ons op ’n bepaalde manier kan voorberei om gereed te wees vir die wederkoms van die Koning. Terwyl ons oë wagtend op die hemel, die toekoms, die Koning gerig is, moet ons hier op aarde aktief besig wees deur getrou God en ons medemens in liefde te dien.
Ons kan nie net ledige ontvangers wees van die genade van God nie. Ons verhouding met God, ons dissipelskap van Jesus, ons bekering moet op konkrete maniere deurgevoer word na of tot ons medemens. Almal in die wêreld moet weet dat God Hom in oneindige liefde in sy Seun Jesus Christus neergebuig het na die totale mensdom in nood. Dié gelykenis beklemtoon op unieke wyse dat God solidêr is met die noodlydendes.
Die komende Koning ontmoet ons nou reeds hier in die hede op verskillende maniere. Die Koning op die koninklike troon ontmoet ons in die basiese nood/behoeftes van ons medemens. Ons dade, die doen van die wil van God (37) is van beslissende erns vir ons toekomstige ontmoeting van ons hemelse Koning.
Ons goeie dade moet egter nie verstaan word as ’n manier om ons saligheid te verdien nie. Ons saligheid kan nie verdien word nie. Dit ontvang ons as geskenk deur geloof en op grond van die soenverdienste van Jesus Christus. Dit is die goeie nuus. Die mense aan die Koning se regterkant word aangespreek as geseëndes. Hulle is reeds geseën. Die koninkryk is as erfenis lank tevore reeds vir hulle voorberei (34).
Dit wat hulle gedoen het, was sonder om enige verdienstelikheid daarin te sien. Wat hulle gedoen het, was ’n natuurlike uitvloeisel van hulle verhouding met die Koning, alhoewel hulle nie bewus was dat hulle dit juis ook aan Hom gedoen het nie.
Die erns van ons dade
Oor die beslissende erns van ons dade vandag laat Matteus geen twyfel nie. Die veroordeeldes se versuim om lief te hê was ’n vergryp aan die Here self. Wie die naaste vandag in liefdeloosheid wegwys, miskyk, ontken, mag dalk dieselfde reaksie oor hom/haarself bring by die wederkoms van die Koning. Ons kan die genade en liefde wat ons ontvang het as ’t ware deur ons vingers laat glip wanneer ons nie bereid is om met hande van liefde na ons medemens in nood uit te reik nie.
Wie daarom vandag as volgeling van Jesus die basiese nood van die medemens doelbewus miskyk of verontagsaam, mag hulle by die eindoordeel moontlik aan die verkeerde kant van die koninklike troon bevind. Ons liefdesdade teenoor ons behoeftige medemens dra krag. Dit dra nie reddingskrag om ons saligheid by God te verdien nie, maar het wel die vermoë om dit op ’n (onverstaanbare) manier in gedrang te bring. Dit is die ontstellende realiteit waarmee ons in hierdie gelykenis gekonfronteer word en waarmee ons met erns rekening moet hou. Hier het ons te make met die onbegryplike geheimenis van die koninkryk van God. Dit is die erns van die eindoordeel wat ons nie uit die oog moet verloor nie. ’n Soortgelyke boodskap word vervat in die gelykenis wat Jesus vertel in antwoord op Petrus se vraag na vergifnis in Matteus 18:21-35. Hierdie gelykenis vertel hoe die vergifnis van God aan ons ongedaan gemaak kan word indien ons dit nie met ons medemens ook deel nie.
Dit wat ons almal kan doen
Die koning vra hier niks anders nie as wat reeds aan ons gegee en gedoen is. Die lys dade aan die geringstes bevat die "basiese" behoeftes van mense. Dit wat gevra word is doenbaar, uitvoerbaar. Hy vra die eenvoudigste dade wat wys dat ons omgee. Daar is niks gesofistikeerd daaraan nie. Dit vereis nie groot geleerdheid nie. Dit vereis nie rykdom nie. Net ’n hart vol liefde. Dit is die positiewe en hoopvolle kant van wat die koning vra.
Natuurlik word opoffering vereis in terme van tyd en beskikbaarheid, maar verder niks wat buite ons vermoë is nie. Liefde, belangstelling, omgee en sorg kan almal gee. Daarom is daar ook nie enige geldige verskoning vir die versuim om die doen van die liefdesdade aan die geringste nie. Nie almal het te doen met materiële behoeftes nie. In sommige gevalle is die blote teenwoordigheid by die noodlydende (besoek aan gevangenis) alreeds genoeg.
Sal ons Hom herken?
Vers 40 en 45 is die sleutelverse van die gelykenis. Hierin motiveer die Koning sy besluit as antwoord op die vraag van die geseëndes en die vervloektes. Nie een van die groepe weet waarvan die Koning praat nie. Die antwoord kom as ’n verrassing vir albei. Hulle het dit nie verwag nie. Hulle was onkant gevang. Hulle ontdek dat Jesus na hulle gekom het in die gestalte van die siekes, die naaktes, die wat honger en dors is, die vreemdeling, die dakloses en die gevangenes en diegene wat alleen is.
Die tergende vraag is: Sal ons Hom vandag herken as Hy na ons toe kom. Hy kom dikwels na ons toe op ongewone tye en ongewone plekke waar ons Hom nie verwag nie. Sal ons Hom dan herken? Sal ons Hom herken as Hy vir ons kos vra vandag, of water, of kleding en blyplek soek, of bloot verlang na die nabyheid van iemand wat opreg omgee? Ons sal gereed wees vir die onverwagse koms van die Koning as ons nou reeds sy verskynings en gestaltes in die hede herken en aan Hom barmhartigheid betoon. Saulus het die kerk vervolg sonder om te besef dat hy die Here self vervolg het (Hand 9:3). Sommige mense het engele ontvang sonder dat hulle dit geweet het ().
Martin van Tours
Martin van Tours was ’n Romeinse soldaat en Christen. Een koue wintersdag terwyl hy die stad binnegaan, het ’n boemelaar by hom gebedel vir aalmoese. Martin het nie geld gehad nie. Die boemelaar het gebewe en was blou van die koue. Martin het gegee wat hy het. Hy het sy verslete soldatejas uitgetrek en dit in die helfte deurgesny en een deel aan die boemelaar gegee. Daardie nag het Martin ’n droom gehad. In die droom het hy die hemel gesien met al die engele en Jesus tussen hulle. Jesus het ’n halwe soldatejas gedra wat verslete was. Een van die engele vra Hom toe: "Meester waarom dra U ’n ou verslete soldatejas?" "Wie het dit aan U gegee?" En Jesus het sag geantwoord: "My dienskneg Martin het dit aan My gegee."
Hopelik laat hierdie gelykenis ons met nuwe oë en erns kyk na die eenvoudige dade van liefde aan ons medemens in nood. Wie weet, daardeur bevind jy jouself heel moontlik in koninklike geselskap.
Amen
Skuldbelydenis
Ek het netnou gevra: Sal ons Hom vandag herken as Hy na ons toe kom. Sal ons Hom herken as Hy vir ons kos vra vandag, of water, of kleding en blyplek soek, of bloot verlang na die nabyheid van iemand wat opreg omgee? Dink na oor die mense wat die laaste tyd jou pad gekruis het. Kan dit wees dat Hy na jou toe gekom het, maar dat jy Hom nie herken het nie?
Tyd vir stil nadenke.
Toewyding
Gaan voor in gebed, waarin julle julleself bereid verklaar om met nuwe oë te kyk na mense in nood en in liefde op die nood te reageer. Of gee geleentheid vir stil toewyding.
Terugvoer en voorbidding
Laat iemand terugvoer gee van ‘n barmhartigheidsbediening in jul omgewing – moontlik een waarby jul gemeente betrokke is. Dink veral aan bedieninge wat kos voorsien aan honger mense, mense huisves, klere gee, siekes versorg of mense in die tronk besoek.
Laat iemand voorbidding doen vir die bediening en ander barmhartigheidsbedieninge waarby jul gemeente betrokke is.
Slotsang:
Lied 355:1-2.
Seën