Luk 17:11-19
’N WONDER EN VERSKILLENDE GELYKENISSE EN UITSPRAKE (17:11–18:43)
In 17:11 herinner die verteller ons weer daaraan dat Jesus nog steeds op pad is na Jerusalem. Hierdie gedeelte begin met ’n wonderwerk wat gevolg word deur ’n hele aantal gelykenisse en uitsprake van Jesus. Daar word geen verdere plekaanwysings genoem nie. Dit is slegs die gehoor wat telkens verander.
Die laaste reis van Galilea af
Dit is nie duidelik watter roete Jesus gevolg het nie. Alhoewel die roete deur Samaria die kortste was, het die Jode gewoonlik hierdie roete vermy. Hulle het liewer die Jordaan oorgesteek, deur Peria gereis, dan by Jerigo weer oor die Jordaan gegaan na die Weste en verder gereis na Jerusalem.
Geloof Blyk uit Dank
Lees Lukas 17:11–19
Jesus genees tien melaatse mans
11Op sy reis na Jerusalem toe het Jesus al met die grens tussen Samaria en Galilea langs gegaan. 12Net toe Hy ’n sekere dorpie wou binnegaan, kom tien melaatse mans Hom tegemoet, maar hulle bly op ’n afstand staan 13en roep hard: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”
14Toe Hy hulle sien, sê Hy: “Gaan wys julle vir die priesters.”
Op pad daarheen het hulle gesond geword. 15En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. 16Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan. 17Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie?”
19En vir hom sê Hy: “Staan op en gaan huis toe. Jou geloof het jou gered.”
Boodskap.
Die toneel open met ’n ontmoeting tussen Jesus en tien melaatses. Sulke mense is weens hulle siekte gedwing om uit die samelewing pad te gee en by mekaar te bly (vgl 2 Kon 7:3 en Lev 13:45–46). Daarom bly hulle op ’n afstand staan en roep hard na Jesus in hulle nood (17:12–13).
Dit is moeilik verstaanbaar hoe Jesus nou eers op die grens van die twee provinsies kon wees. Dit dui moontlik op hoe stadig Jesus en sy volgelinge beweeg het, dalk vanweë al die onderrig wat Jesus gee en die belangstelling wat Hy oral by die plaaslike inwoners veroorsaak het. Dat daar wel ’n Samaritaan tussen ’n groep Jode aanwesig is, is nie vreemd as ’n mens in gedagte hou dat dit melaatses is nie. Dit was ’n sosiale gebruik van daardie tyd om melaatses uit die samelewing uit te stoot. Hulle het dieselfde lot gedeel. Daarom sou hulle nie veel probleme gehad het om oor volksgrense heen bymekaar te wees nie.
Hierdie situasie skep by die leser die verwagting dat daar ’n wonder kan gebeur. Jesus weet wat hulle behoefte is. Daarom stuur Hy hulle sonder enige omhaal van woorde na die priesters, wat die enigste instansie was wat sulke mense weer rein kon verklaar. Jesus genees hulle omdat Hy magtig is om dit te doen.
Alhoewel Jesus hier ’n wonderwerk verrig, val die klem in die verhaal eintlik op die reaksie van die mense wat gesond gemaak is. In 17:15 hoor ons dat slegs een van die tien wat gesond geword het, omgedraai het (na Jesus toe) en God hardop geprys het. Dat hierdie man ’n Samaritaan was, kom as ’n verrassing en ’n skok vir die Joodse gehoor. Die algemene opvattings van Jesus se Joodse samelewing word omgekeer. Hulle vind uit dat hierdie man wat nie eers ’n Jood is nie (17:18) die enigste is wat God en Jesus dank vir sy gesondmaking.
Dit is opvallend dat hy nie alleen God loof vir sy genesing nie, maar ook Jesus daarvoor dank. Hy het omgedraai en daarna voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank (17:15–16). Die betekenis van die omdraai lê daarin dat God wel geloof kon word sonder om om te draai. Jesus kan egter net gedank word as die persoon omdraai en terugkom na Hom toe. Dit sê vir ons dat Jesus se magtige dade juis tekens is dat God in Hom aan die werk is. Dit is ook hierdie aksie van hom wat deur Jesus as geloof erken word (17:19).
Die man se dankbaarheid teenoor Jesus bind hom meer persoonlik aan Jesus. Hy bind homself nie net aan Jesus omdat hy gesond geword het nie, maar ook omdat hy in Jesus iemand sien wat meer as ’n blote wonderdoener is. In hierdie verhaal word die Samaritaan as buitestander gebruik om mense se vooroordeel af te breek. Soos die nege was daar talle ander mense wat wel hulp van Jesus ontvang het sonder om ’n permanente band van dankbaarheid met Hom te laat ontstaan.