Genesis 12:1-4a LR2005
Genesis 12:1-4a
tweede SONDAG in lydenstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks: Genesis 12:1-4a
Ander tekste: Psalm 121; Romeine 4:1-5; 13-17; Johannes 3:1-17
Inleiding
Die “storie” van hierdie liturgie het te doen met mense se onsekerheid. Dit is deel van ons bestaan dat ons nie sekerheid op aarde het nie. God breek in hierdie onsekerheid in en gee beloftes op grond waarvan ons Hom kan vertrou. Maar om uit die beloftes van God sekerheid te kan verkry is geloof nodig. Dus wil die liturgie ons help om die ruimte te skep waarbinne ons ons onsekerheid kan erken, maar wil dit ook die ruimte skep waarbinne ons opnuut aan God se beloftes herinner kan word en veral hoe Hy dit in Jesus se kruisdood waar gemaak het. Voorts wil die liturgie ons ook bring tot geloof en veral die omarming en viering daarvan na die einde van die erediensgebeure toe.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangswoord
Psalm 121
Seëngroet
Voorganger: Die Here is by julle!
Gemeente: En ook by jou.
Voorganger: Die Here sorg vir julle, verlos julle en woon in julle.
Gemeente: God Drie-enig is by ons.
Die wet
Levitikus 19:1-4, 9-18 en 32-37
Lied van skuldbelydenis en verootmoediging
Lied 389:2/NSG 97
Vryspraak
Johannes 3:16-18
Lofprysing en aanbidding
Psalm 98:1-3
Diens van die Woord
Gebed vir die opening van die Woord
Here ons leef in ’n onseker wêreld en onseker tye. U is ons enigste sekerheid. Ons vertrou U onvoorwaardelik. Ons loof U omdat U u beloftes aan ons kom waar maak het in Jesus Christus. Laat u Gees ons vanoggend deur u Woord opnuut in ons geloof versterk. Skenk aan ons vertroue om U op u Woord te neem. Amen.
Kindertyd
Vra vir die kinders wat hulle veilig laat voel. ’n Huis, ’n goeie skool, vriendjies? Jy kan al hierdie dinge verloor, maar as jy nog jou ouers het wat vir jou lief is, dan voel jy nog veilig. Soos wat julle ouers se liefde vir julle sekerheid gee so gee God vir ons sekerheid en veiligheid en belowe Hy dat Hy altyd vir ons lief is en vir ons sal sorg.
Skriflesing
Genesis 12: 1-4a; Romeine 4: 1-5, 13-17
Woordbediening
Dankgebed en voorbidding
Vrye gebed. Dink na oor die nood in julle omgewing en doen voorbidding daarvoor.
Diens van die tafel
Sang
Lied 387:1-4/NSG 103/96A
Tafelgebed en instelling van die nagmaal
Geloofsbelydenis
In die lig van wat in die inleiding tot hierdie liturgiese voorstel gesê is, sal hierdie moment baie spesiaal wees. Laat die gemeente verstaan dat ons nou nadat ons in die nagmaalsviering die waarmaking van God se beloftes beleef en herdenk het, ons geloof kan bely. Hierdie belydenis word as ’t ware die toeëiening van die beloftes. Dit bring sekerheid in ons bestaan. Laat ons dit met hierdie sekerheid hardop bely.
Gemeente bely hardop die Twaalf Artikels.
Uitsending
Offergawes
Sien die basisliturgie vir die lydenstyd vir musiek wat moontlik hier voorgespeel kan word.
Antwoordlied
Lied 397:1/NSG 108
Seën
Julle hoef nie onseker te wees nie. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het. Omdat julle in Hom glo, sal julle nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê. Amen
Slotlied
Lied 311:1, 2/NSG 316
PREEKSTUDIE – GENESIS 12:1-4
Teks
Die bekende gedeelte word dikwels in die prediking gebruik. Selfs as die gedeelte op sigself beskou word, is daar twee groot temas – roeping en belofte – wat vir prediking geskik is. Die belangrikheid van die gedeelte is nog groter as dit in die breër konteks van die Pentateug geplaas word. Die breë struktuur kan so uiteengesit word:
1. Na die skepping begin die mensdom se geskiedenis met ’n familie (Adam en Eva) wat God se gebod oortree om “soos God” te word. God reageer deur hulle uit die tuin te verban.
2. Aan die einde van die oergeskiedenis probeer mense gesamentlik om ’n toring tot by die hemel te bou en so vir hulleself “’n naam te maak”. God reageer deur hulle te verwar en te verstrooi.
3. God roep vir Abram om self uit sy land te trek en beloof om vir hom ’n groot naam te maak. Abram en sy familie gehoorsaam. So begin ’n nuwe geskiedenis.
4. Aan die einde van die aartsvadergeskiedenis het Abraham se nageslag ’n groot menigte geword. God verenig hulle tot ’n volk deur hulle uit slawerny te red en met hulle ’n verbond te sluit.
(Die patroon was waarskynlik duideliker in die oorspronklike J bron. Let byvoorbeeld op die ironiese reaksies van God in Genesis 3:22 en 11:6. Item 4 staan nie meer duidelik uit nie, maar trekke daarvan het oorgebly in Eks 19.)
Hierdie konteks maak dit moontlik om die gedeelte veel duideliker te plaas. In Genesis 3 en 11 tree mense, individueel en as groep, eiemagtig op om vir hulleself iets te bereik. Adam en Eva luister na die slang se belofte en die mense by Sinar vertrou op hulle onderlinge eenheid om vir hulleself ’n naam te maak. In Genesis 12 neem God die inisiatief deur ’n enkele gesin te roep. God gee die belofte van ’n groot naam en nasieskap.
Gedurende die voorgeskiedenis lei elke menslike poging tot verdere vervreemding, verwarring en verderf. Nou begin God om as ’t ware die stukke van die verbroke skepping een vir een weer op te tel. Dit begin met ’n enkeling en sy gesin, maar daar verskyn reeds op die horison ’n groot nasie en seën vir al die geslagte van die wêreld. Met hierdie keuse het God dus geen deel van die skepping prysgegee nie. Die belofte is aan Abram, maar is vir die hele wêreld. Let op dat in Eksodus 19:5-6, waar Israel ’n spesiale eiendom van God genoem word, hierdie geroepe volk as priesters moet dien, “want die hele aarde behoort aan My”.
Jahwe se woorde aan Abram is in Hebreeus vol woordspelings en word tereg in die Nuwe Vertaling in versvorm weergegee. Ons het hier ’n formele, feestelike verklaring. Die herhaling van sekere kernwoorde en begrippe is veral opvallend. Die Hebreeuse stam van “seën” kom byvoorbeeld vyf maal voor. Die opbou van die gedeelte kan so opgesom word:
1. Abram moet verlaat: (a) sy land, (b) sy familieverband, (c) sy eie ouerhuis. Dit is die opdrag.
2 (a). Jahwe sal vir hom ’n nuwe land wys.
2 (b). Jahwe sal hom ’n groot nasie maak (in plaas van ’n klein familieverband), vir hom ’n groot naam maak en hom persoonlik seën.
2 (c). Jahwe sal ander oordeel met hom as standaard en hy sal vir al die geslagte van die aarde tot seën wees (in plaas daarvan om bloot tot seën te wees in een huisgesin). Dit is die belofte.
Die opdrag beweeg van die groter eenheid (land) na die kleinere (huisgesin). Die belofte beweeg van die kleinste (nuwe land) na die grootste (seën vir alle mense). Daarby keer die laaste woord van vers 3 (aarde) terug na die eerste gedagte in die opdrag (land). Abram verlaat sy land ter wille van die aarde. Die woord vir aarde (’adamah) beteken gewoonlik grond (veral landbougrond) en word selde vir “wêreld” gebruik. Dalk is hier ’n doelbewuste woordspeling met Adam: “Adamsgebied” in plaas van “vaderhuis”.
Dit is ook baie duidelik dat die belofte (en die seën wat telkens daarmee verbind word) ’n besondere opoffering verg. In die ou Semitiese kultuur, soos in die Afrika-kultuur, was voorvaderlike grondgebied, groepsverband en veral breër familieverband (die verband tussen die afstammelinge van een vader, tot in die derde of vierde geslag gereken) geweldig belangrik. Om jou los te skeur van sulke bande het onder andere beteken dat jy nie saam met jou voorouers begrawe kon word nie. Abram, reeds ’n ou man, het dus nie alleen sy bekende, vertroude wêreld agtergelaat nie, maar ook alles wat aan hom identiteit gegee het. Van Selms sê tereg dat Abram in “vrywillige ballingskap” gaan en dat ballingskap destyds as gelykstaande aan die dood beskou is. Hierteenoor staan ’n blote belofte, wat boonop glad nie besonder geloofwaardig kon geklink het nie. Abram en sy gesin kon immers nie self ’n nuwe land “in besit neem” nie. Reeds tevore het die verteller laat blyk dat Sara onvrugbaar was (11:30). Die belofte het dus ingedruis teen alle waarskynlikheid en kon slegs in geloof aangegryp word.
Vers 4 noem vlugtig dat Lot saam met Abram weggetrek het. Dat Lot reeds hier en Sara eers in die volgende vers genoem word, is waarskynlik ’n kunstoertjie van die skrywer. Abram trek uit in gehoorsaamheid aan God se woord. Lot trek saam en tog vind ons dat hulle weë later skei en dat Lot se nageslag Israel se vyande word. Langs die pad van roeping en belofte kom daar keer op keer ook skeidings en onderskeide, sodat ’n mens jou nie bloot op tradisionele verbintenisse kan beroep nie. Lot se latere keuse, kan ons sê, bepaal eindelik sy lot.
Daar is twee uitlegprobleme in die gedeelte. Die belangrikste raak die vertaling van vers 3b. Die Hebreeus kan beteken “met jou (naam) sal al die geslagte van die aarde hulleself seën”. Die betekenis is dan dat Abram se naam oral in ’n seënformule gebruik sal word (“mag jy wees soos Abram”). Maar ook so ’n verstaan is nie sonder probleme nie. Die spesifieke Hebreeuse konstruksie (met Ni΄fal van brk) kom net in die J gedeeltes van Genesis voor (12:3; 18:18; 28:14) – altyd in verband met Abram. Die beste vertaling is dalk: “deur jou sal al die geslagte van die aarde seën vind”. As dit so is, is die tradisionele vertaling nie misleidend nie.
Die eerste deel van vers 3 kan gelees word as ’n belofte van beskerming. Diegene (meervoud) wat vir Abram tot seën is, sal deur Jahwe geseën word; die een (enkelvoud) wat hom minag (die woord is effe ligter as vervloek), sal deur Jahwe vervloek word. Maar dit is moontlik dat die betekenis heelwat breër is en dat Abram, sy geslag en sy geloofsdaad as ’t ware as toetssteen aangelê word (sien Von Rad). Abram se gehoorsaamheid stel alle mense voor ’n keuse. Vanuit die perspektief van die Nuwe Testament kan ons sê dat almal wat deur hulle geloofskeuse vir Abram as “vader” eien, deel in hierdie seën.
Hoe het Jahwe met Abram gepraat? Hoe het Abram (“die Galdeër”) die stem herken van ’n God wat in sy kultuur nie gedien is nie? Sulke vrae lê buite die blikveld van die verteller, daarom kan ons geen toereikende antwoorde daarop gee nie.
Konteks
As hierdie gedeelte gedurig binne sy breër konteks gehou word, kan ’n mens baie slaggate en eensydighede vermy. Al is Abram (deels) vir ons ’n voorbeeld, is dit nie sy handeling wat die swaarste weeg nie. Hoewel die gedeelte eindig met sy gehoorsaamheid, begin dit wanneer God verbasend genoeg begin om uit die Babelse verwarring (Gen 11) weer orde te skep. Wat mense gesamentlik en grootdoenerig aangepak het, het misluk; God begin klein – met ’n ou man en sy onvrugbare vrou. Hierdie ou man word ook glad nie deurgaans as held uitgebeeld nie. In die volgende verhaal (Gen 12:10-20, ook uit die J Bron), beland Abram en Sara in Egipte, waar Abram papbroekig ’n leuen vertel en Sara uitlewer om sy eie bas te red. As gevolg daarvan word hy deur die farao (’n heiden) berispe en uit Egipte verjaag. Dit is duidelik dat hy gou die beloftes vergeet het en eerder op sy eie slimmighede staatgemaak het.
1. Tans is die tema van die Eksodus en die motief van bevryding besonder gewild in die teologie. Onder hierdie banier word dikwels van die kerk gevra om in solidariteit met die armes en onderdruktes te stry vir ’n “beloofde land”. Tog is dit soms ewe noodsaaklik om ou solidariteite agter te laat en soos Abram as enkeling ’n nuwe weg in te slaan. Daar is ook ’n “Abramsbevryding”, ’n bevryding wat eers die enkeling moet losskeur van alles wat reeds gevestig is, voordat dit tot seën vir almal kan word. Dit sou gek wees om die twee temas teen mekaar af te speel, want albei het hulle tyd en plek in God se plan. Albei is “rewolusionêr”, omdat albei wortel in God se skeppende handeling en nie in ons teorie oor hoe dinge gedoen moet word nie.
2. Party teoloë onderskei skerp tussen die Abrahamsverbond, wat slegs beloftes bevat, en die Sinaïverbond, wat beloftes met verpligtinge balanseer. Eersgenoemde sou dan die tradisie van die heersersklas gewees het, omdat die heersers toesegginge wou hê, maar niks van verpligtinge wou weet nie. Die Abrahamsverbond sou dan ook die model wees van die Dawidsverbond – ’n verbond met beloftes sonder voorwaardes. Wat die oorsprong en ontwikkeling van sekere tradisies betref, kan daar iets in sulke spekulasies steek; teologies is dit gevaarlik om die verskil op ’n spits te dryf. Die verbond met verpligtinge herinner ons dat God se roeping altyd ’n konkrete aanspraak op ons lewens maak, terwyl die verbond sonder duidelike voorwaardes ons herinner dat die verbondsverhouding altyd van God se beloftes uitgaan en nooit geheel afhanklik kan wees van ons gehoorsaamheid nie. Die twee verbondsmodelle saam hou ons vasgevang tussen roekelose immoraliteit en vrugtelose moralisme.
3. Vir ander is Abram ’n wonderlike voorbeeld van heldhaftige grensoorskryding. So, word daar gesê, moet ons almal ons “gemaksones” vaarwel roep, ons rug keer op blote tradisie en bestaande perke oorsteek om God se belofte te soek in die onbekende. Geloof is immers om die onsienlike te sien en ter wille daarvan jou oë te sluit vir die reeds bekende. Daar is iets aantreklik radikaals aan hierdie gedagte – en iets waar ook. Tog is ook dit ’n halwe waarheid. Ook Eva en Adam het perke oorskry en gereik na die onbekende – met rampspoedige gevolge. Moses, wat as enkeling die woestyn in gevlug en sy paleislewe verruil het vir ’n eenvoudige herdersbestaan, moes terugkeer om bang-bang sy volk te lei. Sy roeping was terug en nie vooruit nie. Deesdae is daar oorgenoeg mense wat graag naam wil maak deur verby alle bestaande grense die ongekende in te beur. As ’n mens fyner kyk, sien jy dat hulle selde hulle gerieflike preekstoele, lesingsale, kabinetsposte of direkteurskappe op die spel plaas en dat hulle reageer op die roepstem en die beloftes van die massamedia.
As daar destyds koerante was, sou Abram nooit die voorblad gehaal het nie. Al is hy later as aartsvader van Israel vereer, was hy nooit iets so belangrik soos ’n aartsbiskop nie. Miskien is hy die naam “vader van die gelowiges” werd juis omdat sy geloof vir hom so weinig in die sak gebring het. Hy het wel – teen die verwagting in – ’n erfgenaam gekry, maar ’n enkele kind is lank nie ’n groot nasie nie. Van sy nuwe land het hy blykbaar net een klein stukkie besit: ’n grot waarin hy begrawe is (Gen 23). Skynbaar het die grootse belofte in sy leeftyd die pas markeer, want van vordering was daar min sprake.
As ons dit van Abram en sy storie besef het, kan ons weer na Genesis 12:1-4 gaan kyk. Rondom die pragtige, digterlike belofte is daar ’n eenvoudige, prosaïese raamwerk. “Die Here het vir Abram gesê … Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord van die Here”. Hierdie raamwerk verklap waarom die onbelangrike Abram tog belangrik is en waarom sy storie net een storie tussen baie in God se groot storie is. Soms (nie altyd nie) begin God met ’n enkeling wat wegbreek van die kosbaarste besit van die groep; soms (nie altyd nie) gee God ’n belofte sonder verdere reëls en regulasies. Altyd is die kernvraag of die persoon of groep wat aangespreek word, gehoorsaam is.
Abram is dus nie sonder meer ’n voorbeeld “vir ons almal” nie, al moet ons almal bereid wees om in sy voetspore te volg. Abram, Moses, Israel, die kerk – mense en groepe met verskillend roepings en uitdagings wat boonop nie deurgaans dieselfde bly nie. Dalk sou dit makliker vir ons gewees het as God vir ons ’n duidelike gedragspatroon voorgeskryf het – ’n netjiese teologie met voorskrifte vir elke gebeurlikheid. Maar, of ons dit so verkies of nie, vra die Bybel van ons om te luister as God praat. Enige teologie – Abramteologie, Eksodusteologie, kruisteologie, beter of slegter teologie – wat alles vir ons so netjies uitspel dat ons maar kan ophou luister as God praat, is die laaste ding wat ons in die Bybel moet soek.
Ag so? hoor ek die twyfelaars (van wie ek dikwels een is) vra. En is God wat praat nie maar die geklets van die teoloë, die uitsprake van kerkleiers, die besluite van sinodes nie? Is dit nie altyd ons belange, ons wense en ons verwagting wat ons in God se geduldige mond plaas nie? As daar vandag ’n gerieflike tradisie is waarin ons sonder vrees vir kritiek tuis kan voel, dan is dit die geloof dat ons nooit deur God se stem lastig geval kan word nie. As ons ons eie kop volg en ons eie belang najaag, doen ons maar net openlik en bewustelik wat ander in die geheim of onbewustelik doen. Dit is die leerstelling van ons wêreld. Op hierdie gebied kan ons gerus vir Abram navolg en wegtrek na ’n minder seker wêreld waar God nog hoorbaar is en mense nog gehoorsaam kan wees.
Preekvoorstel
In die vorige afdelings het ek reeds belangrike negatiewe riglyne vir die prediking gegee. Die prediker mag nie die breër konteks vergeet en maak asof die opdrag aan Abram sonder meer vir almal geld nie. God werk nie altyd net of primêr deur die individu nie. Abram mag nie tot held verhef word en die middelpunt van die preek gemaak word nie. Die balans tussen opdrag (en eis) en belofte moet behou word.
Hoewel die prediker kennis moet neem van die raamwerk waarbinne die gedeelte verskyn, sal dit nie noodwendig deug om sulke omslagtige verduidelikings van die preekstoel af te gee nie. ’n Mens sou wel kortliks kon verwys na die menslike mislukkings wat keer op keer in Genesis 1-11 aan die orde kom en veral na die mislukte poging om “naam te maak” in Genesis 11. God werk nie soos mense verwag nie. In plaas daarvan om staat te maak op ’n groot gesamentlike poging (“eendrag maak mag”), begin God soms een mens die onbekende in stuur. Die hoofsaak is dat God die inisiatief neem.
1. Om hierdie fokus te behou, sou ek as teks kies “Die Here het vir Abram gesê”. Ons word juis nie gevra om ’n vaste patroon te volg nie, maar om te luister wat God sê (vgl Rom 12:2; Ef 5:10). Dit help dus om die gemeente te laat wonder hoekom die gekose teks nie “volledig” is nie. Wat het die Here gesê? Dit is inderdaad die vraag – vir elke mens.
2. Alle verhale van geloof en gehoorsaamheid begin met God se handeling. In hierdie geval is dit duidelik dat die blote feit dat God met Abram praat, ’n nuwe begin aandui. Na alle menslike mislukking begin God weer, maar nie volgens menslike verwagtings nie. God begin met ’n ou man en sy onvrugbare vrou.
3. Wanneer God praat, maak die woorde altyd ’n aanspraak op mense se lewens. Om na God te luister, eis iets van my – soms geweldig baie. Selfs as God met ’n hele groep (gemeente, kerk) praat, kom die eis na elkeen persoonlik. Maar by die aanspraak is daar altyd beloftes – soms verstommende beloftes. Immers, om na God te luister, is om “met God te wandel” en om God as reisgenoot te hê.
4. Wanneer God gepraat het, is die enigste aanvaarbare reaksie gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid is nie slawediens nie, maar ver-antwoord-elikheid (om deel te word van die gesprek). Dit sal nuttig wees om die gemeente te herinner dat “die vader van die gelowiges” se ore glad nie altyd oop was nie. God se woord het met en deur Abram gewerk, maar was (gelukkig) nie geheel afhanklik van Abram se gehoorsaamheid nie.
Die besondere uitdaging wat aan Abram gestel is – om alles wat bekend is, agter te laat en as enkeling, op ’n belofte af, die onbekende in te gaan – kan teen die einde aandag kry. Ons moet ook vir so ’n uitdaging gereed wees. Trouens, op een of ander manier sal ons almal iets moet agterlaat om God se stem te volg. Daar is baie voorbeelde in die Bybel en in die geskiedenis. Voorbeelde van mense wat alleen en teen die stroom in hulle roeping gevolg het, en in hulle eie leeftyd skynbaar min bereik het (al is hulle later vereer), sal veral gepas wees.
Ek het een voorbeeld in gedagte. Toe ek deur die ou begraafplaas op Genadendal gestap het, het ek opgelet hoeveel grafte van Duitsers die name gedra het van mans in die fleur van hulle lewe, jong vroue en pasgebore kinders. Die lewe op ’n sendingstasie in Afrika moes destyds vir Europeërs bitter swaar gewees het. Vandag weet ons sendelinge was nie altyd engele van die lig nie. Hulle het ook die saad van rassisme gesaai, die plaaslike kultuur vertrap en selfs die kolonialiste se hande gesterk. Maar hulle het bepaald nie gekom om vakansie te hou of die rykdomme van die land te geniet nie. Dalk het van hulle, soos Abram, God se stem gehoor en gehoorsaam. En dalk het van hulle, soos Abram, soms nie mooi geluister nie en skande gemaak. Ons moet sê dat hulle nie sonder meer helde was nie; ons durf skaars ontken dat hulle, gebreke en al (juis), ons vaders en moeders in die geloof is.
Bibliografie
Kommentare: Soos by die vorige afdeling. Ander: Clines, D The Theme of the Pentateuch