Genesis 12:1-9 LR
Genesis 12:1-9
9 Junie 2002
Tweede Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Foksteks: Genesis 12:1-9.
Ander tekste: Hosea 5:15-6:6; Psalm 33 of 50; Romeine 4:13-25; Matteus 9:9-13, 18-26.
Gebruik hierdie voorstel in samehang met die basisliturgie vir Koninkrykstyd.
Kindertyd
God is genadig.
Wat beteken dit?
Dit beteken God begin altyd weer.
"Genesis" beteken "begin".
Met die eerste begin het God alles geskep. Dit was goed. Toe doen die mens egter verkeerd en doen al hoe meer
verkeerd. God maak toe ’n nuwe begin met Noag en sy gesin. Die mens wou egter nie luister nie en God begin toe
nog ’n keer, nou met Abram. Hy sê Hy wil goed wees vir Abram sodat Abram goed kan wees vir ander mense. En
Abram gehoorsaam God, want hy is so bly dat God weer begin.
Toe Jesus vir ons sondes gesterf het, het God nog ’n keer met ons begin. Ons weet nou: "God se liefde is elke môre
nuut" – dit is wat dit beteken dat God genadig is.
God is genadig. Hy begin altyd weer. Soos jou pa wat, nadat hy jou gestraf het vir iets wat jy verkeerd gedoen het,
jou op sy skoot tel en verduidelik hoekom hy jou gestraf het en dan sê: "Nou vergeet ons dit en begin weer voor."
Dit is wat ons vandag by God hoor. Hy is só goed vir ons dat ons ook goed kan wees vir ander mense.
(Gebruik dit as basis om ’n gesprek met die kinders te voer. Maak veral van vrae gebruik.)
Teks
Die afbakening van die teks vir hierdie Sondag is ietwat problematies. Genesis 12-50 is tradisioneel die tweede deel
van die boek en het ’n eie karakter. Die genealogie (geslagsregister) in Genesis 11 verbind egter die
voorgeskiedenis en aartsvadergeskiedenis met mekaar. Die verhaal van Abram begin reeds by 11:27 (Hebreeus:
telodot). Dit dui reeds ’n nuwe gedeelte aan, maar ons kan met Wenham saamstem dat dit ’n nuwe fase in die mens
se geskiedenis aandui wat wesenlik by die voorafgaande gedeeltes in Genesis aansluit. Indien ons na die
onmiddellike konteks van die Skrifgedeelte kyk, veronderstel die skielike gebruik van Abram se naam in 12:1 kennis
van hom. Hierdie kennis word in die voorafgaande gedeelte aangetref. Die land en agtergrond van Abram kom in
11:27-32 voor. Hierdie perikoop verskaf die familiegeskiedenis van Abram en die roete wat na die land Kanaän toe
gevolg is. Hy moet hierdie land verlaat en ’n nuwe begin maak op grond van God se woord. Maar dit skets ook die
verskriklikheid daarvan dat daar geen toekoms vir Abram was nie omdat sy vrou onvrugbaar was (11:30): "It is an
effective metaphor for hopelessness. There is no foreseeable future. There is no human power to invent a future"
(Brueggemann). Maar, sê Von Rad, "the man with the childless wife (Gen 11:30) is to become a great nation".
Genesis 11:27-32 is dus wesenlik deel van ons teksgedeelte. Hoewel ons preekteks vir vandag dus uit Genesis
12:1-9 kom, kan met die meeste kommentatore saamgestem word dat ons slegs sinvol met die teks kan omgaan
as ons by 11:27 begin lees.
Wat die breër konteks betref, is hierdie verse van deurslaggewende belang vir die teologie van Genesis. Dit bind
die voorgeskiedenis en die latere aartsvadergeskiedenis aan mekaar en kyk verder na die uiteindelike geskiedenis
van die nasie. Die viervoudige belofte in die Abramverhaal, naamlik ’n land, ’n nageslag, ’n verbond en seën vir die
PREEKSTUDIE - GENESIS 12:9 (11:27-12:9)
nasies (die verbond is die enigste element wat nie in hierdie Skrifgedeelte aangetref word nie), word stelselmatig in
Genesis en die ander boeke van die Pentateug ontvou en vervul. Genesis 1-11 gee die agtergrond vir die roeping
van Abram. Dit vertel van die vasgeloopte skepping van God. Von Rad skryf tereg dat dít wat in Genesis 1-11 gebeur
het van beslissende belang vir die nadenke oor ons Skrifgedeelte is: "The Fall, Cain’s murder of his brother,
Lamech’s wild song of vengeance, angelic marriages, the building of the Tower of Babel – with these stages a
constantly widening breach was pictured." Hierdie donker agtergrond belig egter ook die grootheid van God se
genade. Hy spaar vir Adam, Kain en Noag. Was sy oordeel na Babel finaal? Nee, sê Von Rad. Hier begin die
verlossingsgeskiedenis met Abram se verhaal.
Geleerdes is dit redelik eens dat die verhaal van Abram en Dawid nie los van mekaar gelees kan word nie. Daar
word selfs gesê dat Abram ’n prototipe van Dawid is. Die hele Ou Testament loop vanaf Genesis tot Konings uit op
die hoogtepunt van Dawid. Soos Dawid die hoogtepunt ná die mislukkings in Rigters is, is Abram die hoogtepunt
van die verhaal ná die mislukkings van Genesis 1-11.
Die gedeelte kan in twee verdeel word:
• Verse 1-3: God se woord en beloftes wat die motivering vir die trek van Abram is.
• Verse 4-9: Abram se reaksie op God se woord en beloftes.
Met hierdie agtergrond in gedagte kan ons nou na enkele ander aspekte van die teks kyk:
Genesis 12:1: Tot feitlik aan die einde van Genesis 11 lees ons van die universele dinge. Von Rad wys daarop dat
die toneel nou radikaal verander. Alles word nou via die smal baan van Abram bekyk. Maar deur hom sal die baan
weer verbreed word na al die nasies van die aarde (12:3): "Deur Abram wil God weer by die nasies uitkom en hulle
terugroep na Homself. Hy gaan sy skepping nie prysgee aan die vergetelheid nie, maar dit vergeef en red" (Burger).
Met hierdie roeping van Abram word ook een van die basiese kenmerke van die Israel se bestaan voor God
vasgestel: "Taken from the community of nations (cf Num 23:9) and never truly rooted in Canaan, but even there a
stranger (cf, Lev 25:23; Ps 39:12), Israel saw herself being led on a special road whose plan and goal lay completely
in Yahweh’s hand" (Von Rad).
Die begrippe wat hier gebruik word, dui daarop dat hy van sy naaste verhoudings ook moes opgee in navolging van
die Here se woord (Wenham). Of soos Von Rad dit stel: "The divine address begins with the command to abandon
radically all natural roots ... Abram is simply to leave everything behind and entrust himself to God’s guidance." Dit
is reeds die begin van die opofferings van die "dissipel" Abram. Geleerdes verwerp meestal die gedagte dat mense
in ’n nomadiese bestaan maklik afstand gedoen het van hulle grond en gesinne.
Die doel van die opdrag is ’n nuwe land. Dit word stelselmatig die belangrikste belofte. In Deuteronomium is dit die
eintlike gawe van God. Sonder hierdie gawe is die mense sonder heenkome en sekuriteit. Hierin vind die volk later
ook hulle identiteit.
Genesis 12:2-3: Die woord wat afgelei is van die Hebreeuse woord barach (seën) word vyf maal in hierdie twee
verse aangetref. Dit is ook die kernwoord van verse 1-3. God se seën het vir mense van die Ou Testament nie in
die eerste plek ’n "geestelike" betekenis gehad nie: "God’s blessing is manifested most obviously in human
prosperity and well-being; long life, wealth, peace, good harvests, and children are the items that figure most
frequently in lists of blessing such as 24:35-36; Lev 26:4-13; Deut 28:3-15" (Wenham). Materiële voorspoed was
dus ’n gawe van God se goedheid. Wenham wys daarop dat die hoofwerkwoord is "om te gaan", terwyl al die
werkwoorde in verse 2-3 ondergeskik aan hierdie hoofgedagte is. Wenham vertaal dit met: "Gaan ... sodat Ek jou
kan maak ... ’n seën ... ’n man van groot betekenis ..."
• Ek sal jou ’n groot nasie maak (sien ook 18:18 en Eks 32:10)
Die gebruik van die begrip nasie (goij) dui op ’n politieke eenheid met ’n gemeenskaplike land, taal en regering. Die
onvrugbaarheid van Sara sal God nie keer nie.
• Ek sal jou ’n man van groot betekenis maak (sien ook 2 Sam 7:9)
Von Rad sê tereg dat dit ’n sinspeling is op Genesis 11:4: "God intends to bestow fame after he has brought to
nought the self-proclaimed fame of mankind." Volgens geleerdes is hierdie belofte saam met die vorige een (groot
nasie) een van die duidelikste koppelinge tussen die aartsvaderverhale en die Dawidiese koningskap.
• En jy moet tot ’n seën wees
Die bedoeling is dat God se seën oor Abram se lewe, want Abram is reeds geseën (v 2a), ander sal laat hoop dat
hulle net so geseënd sal wees. Wie soos Abram op die Here se roepstem gaan antwoord, sal in dieselfde seën deel.
• Ek sal seën wie jou seën en hom vervloek wat jou vervloek (sien ook 27:29 en Num 24:9)
Interessant is dat die woorde wat vir vervloek gebruik word, verskil. Dit kom daarop neer dat Abram in alle opsigte
deur die Here beskerm sal word. Wie hom misken (nie vervloek soos in die vertaling nie – sien Hebreeuse gebruik
van qalal), sal deur die Here vervloek word (‘arar). Die betekenis is dat mense wat Abram as geseënde eer ook seën
sal ontvang. Wie hom as geseënde sal teenstaan, sal die vloek van die Here kry, met ander woorde, geen seën
ontvang nie: "... blessing and curse will be determined by the position which people will take with respect to Abram
and his seed!" (Von Rad).
• In jou sal al die volke van die aarde geseën wees
Elke groep wat met Abram assosieer, so word in Genesis stadig maar seker gewys, word geseën. Dié wat hom
teenstaan, word nie geseën nie, maar ervaar teenstand. Abram word die "middelaar" van seën in God se
reddingsplan vir al die nasies van die aarde (Von Rad).
Genesis 12:4: Abram is gehoorsaam. Indien Abram 75 was toe hy Haran verlaat het, sou sy pa nog 60 jaar lank
lewe. Lojaliteit aan die familie word hier tweede gestel.
Genesis 12:5-9: Die roete van Abram word in hierdie verse beskryf. Hy beweeg van die noordelike na die suidelike
grens van die land. Iemand sê dat Abram nie net sien wat aan hom belowe is nie. Hy loop daardeur, woon en aanbid
daarin. Hy neem simbolies besit daarvan.
Genesis 12:6: Sigem is ’n belangrike merker in hierdie verhaal. Sigem was die plek waar die volk tussen seën en
vloek moes kies (Deut 11:29, 30). Josua bring al die stamme van Israel hier bymekaar vir sy laaste toespraak. Hier
verdeel die koninkryk van Israel in twee (1 Kon 12; sien ook Rig 9:37). Die skrywer beklemtoon dat die tyd van
Abram en sy eie verskil deur te verwys na die feit dat die Kanaäniete in daardie tyd die land bewoon het.
Genesis 12:7: Hierdie verskyning van die Here aan Abram is die eerste (naas sy roeping) in ’n lang reeks. Die
belofte is baie kort: "Aan jou nageslag gee Ek hierdie land." Dit is egter een van die belangrikste beloftes wat God
kon maak. Dit kan as die "program" van God se handelinge gesien word. Die nageslag- en landsbelofte word
hierdeur gekombineer. Deur die nageslagbelofte word God se mag om die onmoontlike moontlik te maak,
beklemtoon. Sara is immers onvrugbaar.
Die verskyning van God het dikwels tot gevolg dat altare gebou word. Abram bou altare op verskillende plekke en
dit word die aanbiddingsplekke van Israel. Dit was ’n daad van geloof in die beloftes van God en het ’n integrale
deel van die aanbidding van God uitgemaak. In 12:8 roep hy ook die Naam van die Here in Bet-El aan waar hy ’n
altaar gebou het.
Konteks
Daar is baie preekpogings (sien ook Woord teen die Lig II/3) oor hierdie gedeelte. Vir die doeleindes van hierdie
preekstudie gee ek aandag aan ’n paar sleuteltemas wat in ’n preek aandag kan kry. Die gedagtes van Von Rad
dien as basis. Hierdie verhaal is nie net ’n vooruitgryping op baie tradisies in die Ou Testament nie. Ons kan selfs
sê dat die roepingsverhaal verskillende algemeen-Christelike temas aan die orde stel.
Vir Nuwe-Testamentiese mense kan die verhaal van Abram se trek natuurlik ’n verhaal van dissipelskap wees. Die
gevaar is lewensgroot dat ons die verhaal te individualisties kan verstaan. Natuurlik is die boodskap ook aktueel vir
individue, maar as ons in gedagte hou dat die verhaal eerder vir Israel as volk aktualiteit gehad het, is dit beter om
dit eerder in verband te bring met die verhaal van die kerk. Von Rad merk op: "Such an exclusively individualist
handling of the text then of course can do justice neither to the so important linking of our pericope with the primeval
history nor to the divine commitment in verse 3a, b. Now there is no doubt that in reading this ancient story ancient
Israel recognized itself in Abram as believing community, as people of God (and not primarily as individuals). The
patriarchal narratives, which indeed apparently set forth such wholly personal fates and experiences of divine
guidance, all have, to a lesser or larger degree, that fine transparency for adaptation to what is collective and
communal, in that they do express, above all, God’s plans and directions for his people."
Wat vra dit van ons? Enersyds leer ons op hierdie pad om die mees intieme en geliefde lojaliteite ter wille van die
roeping wat God vir ons het, af te lê. In die Evangelies word hierdie aksent baie gereeld aangetref (Luk 14:25-35).
Die kerk se lojaliteite is dikwels so verdeeld dat dit ontsettend moeilik is vir ons om die Here onvoorwaardelik te
volg. Hierdie gehoorsaamheid hou na aanleiding van ons verhaal veral twee dinge in. Gehoorsaamheid vra dat die
seën van die Here gedra moet word na die plekke wat God aanwys. Von Rad skryf: "At Shechem, also, Abram
erects an outwardly visible sign of his faith and builds an altar. Calvin comments on this point that the purely inward
worship did not suffice without the addition of an outward profession before man. This altar, erected not far from the
heathen oracle terebinth tree, was a sign (at first only a mute one) of immeasurable significance in relation to
paganism. But there once again Abram pulled up stakes and went farther and farther toward the south country,
‘spreading the aroma of his faith’ (Calvin)."
Die tweede, en waarskynlik die moeiliker deel van die gehoorsaamheid van ’n navolger van die Here, is om hierdie
pad sonder vaste menslike sekerhede te loop. Uiteraard raak dit ook die pelgrimstog van die kerk aan. Dissipels is
mense wat op grond van God se woord in beweging kom en daarom nooit oor menslike sekerhede beskik nie. Die
kerk is op pad na die beloofde land. Tereg skryf Von Rad: "In this story, in this Abraham who is uprooted, who has
become an alien, who surrenders himself blindly to God and his leading, the church in all ages has seen the figure
of faith and the way of faith set forth in a paradigm (‘a type of the life that is common to all the faithful’ – thus Calvin)."
Von Rad verwys na die betekenisvolle woorde van Luther: "in this same way they live in the world at all times; they
are engaged in civic and social affairs: they guide states and establish families; they cultivate fields; they conduct
business or practice handcrafts; and yet they know that like their fathers they are aliens and temporary residents.
In other words, they use the world as a temporary shelter which they must shortly leave ... so that with the left hand,
so to speak, they tend earthly matters: but the right hand they lift up to the eternal homeland."
Dit is ongelukkig ook so dat die kerk haar identiteit as swerwer op die aarde vergeet het. Die kerk wou nog altyd
meer wees as ’n eensame voël op ’n tak (Barth). Ons soek sekerhede in ons goeie finansiële state, ons groeiende
lidmaattal en vol eredienste. Ons roep mense op om die kerk te ondersteun, aktief in die gemeente te wees. Maar
ons waag dit moeilik om mense uit te stuur na plekke waar dit minder gemaklik is. Die kerk sukkel om self te gaan.
Ons vind dit moeilik om ons te vereenselwig met hulle wat minderbevoorreg is. Ons staan moeilik op om ons stem
teen die ongeregtigheid in ons samelewing te laat hoor. Wanneer God die kerk roep om haar beheptheid met
bankbalanse, begrotings en duur kerkgeboue te laat vaar en in die armoede van die mense rondom ons in te klim
en die nood te verlig, vind ons dit moeilik om aan daardie doel te beantwoord. Vir die kerk van ons tyd vra dit dat
ons elke lojaliteit sal oorweeg en vra of dit dalk in die pad mag staan van ons dissipelskap of navolging van die Here.
Maar in laaste instansie is die kerk ’n gemeenskap wat gedra word deur die beloftes van God, die droom wat God
het: "Hier in Genesis 12 hoor ons dat God sy drome nie so maklik prysgee nie. Hy is bereid om veel moeite te doen
en ’n prys te betaal om sy drome te realiseer" (Burger). Dis hierdie beloftes van God wat maak dat Abram die
bekende vir die onbekende verruil. Hy vind sy beloning in iets wat hy nie sal bly leef om te sien nie (’n groot nasie),
in iets wat nie gedefinieer kan word nie (’n groot naam) en in iets wat hy sou weggee (seën) (Kidner). Hierin lê die
identiteit van die pelgrimstog van die kerk ten diepste – om te lewe uit God se beloftes. Hoewel die verhaal met ’n
klomp beloftes begin, gaan dit nie aan om enige werklike vervulling van hierdie beloftes te beskryf nie. Drie maal
word genoem dat Abram op ’n plek aangekom en dan weer getrek het. Al wat Abram sou besit, is ’n graf in Makpela.
Hy het nie die land besit nie.
Vervolgens kyk ons na die preek van Coenie Burger in sy boek Storie vir ons tyd as ’n aanduiding hoe die verskillende
temas in ’n preek geïntegreer kan word. Die aksent in sy preek val sterk op die nuwe begin wat God maak
deur sy beloftes. Die tema is In die middel van die nag … onthou God ons nog. Hierdie aksent hou verband met die
agtergrond waarteen Abram se roeping gesien moet word (Gen 1-11). Die sonde, verwarring en onvrugbaarheid is
soos die donker nag: "Daarom is die roeping van Abram in Genesis 12 ’n stuk Ou-Testamentiese evangelie. Die
Goeie Nuus is dat wanneer mense aan die einde van hulle planne gekom het, is dit nog nie te sê dat God aan die
einde van sy planne is nie!" Die motief agter God se begin vind Burger in God se seën wat Hy aan al die volke wil
gee. In die proses betrek Hy gewone mense soos Abram. Die roeping van mense gaan dikwels, soos in die geval
van Abram, met ’n suiweringsproses gepaard: "Ons probleem is dikwels nie dat ons nie die nodige kwaliteite of
gawes het nie, maar dat dit toegegooi is, bedek word, begrawe of bederf is deur ’n klomp ander dinge wat bygekom
het in ons lewe. Daarom dat die stropingsproses nodig is." Hierdie proses kan vergelyk word met Jesus se oproep
aan sy dissipels om alles te laat staan en Hom te volg: "Wie hierdie God se toekoms wil deel, moet eers sy of haar
eie toekoms prysgee." Die vraag is natuurlik wat mense dit laat doen. Hierop is die antwoord: God se beloftes, God
se Woord. Mense wat die Here só volg, is nie gek nie. Dis baie meer stabiel as ons eie brose sekuriteite. Maar die
mense trek weg en moet gedurig versit. Hulle slaan kamp op en vertrek dan weer. Hierdie pelgrimbestaan is ook
tiperend van die kerk totdat Christus kom. Hierdie lewe is ’n lewe tussen die mense van die land (die Kanaäniete).
Die rede waarom hulle staande kon bly, was dat hulle die Naam van die Here aangeroep het. Dit kan ’n teken van
gemeenskap met God wees, maar ook ’n bevestiging van ’n keuse om aan God getrou te bly. Burger sluit af deur
te sê dat gelowiges dit moeilik vind om aan hierdie nomadiese bestaan gewoond te raak en dan maar kies om nie
uit die beloftes van God te lewe nie. Daarom word ons uiteindelik setlaars in plaas van pelgrims. En dis veral in
maklike tye dat ons "settle" en die gruwelikste foute maak.
Preekvoorstel
Die verhaal word vertel van ’n Kommunis en ’n Christen wat met mekaar in gesprek was oor hulle oortuigings en
visie. Die Kommunis het aan die Christen gesê: "Die evangelie is ’n baie kragtiger metode vir verandering as ons
Marxistiese filosofie. Uiteindelik sal ons seëvier bo julle. Ons speel nie met woorde nie. Ons is realiste. Ons wil
graag ons doelwitte bereik. Daarom gebruik ons alles om dit te doen. Van ons salarisse en lone hou ons net dit wat
ons nodig het om van te lewe. Ons gee ons vrye tyd en selfs ons vakansies prys om ons doelwitte te bereik. Julle
is nie gemotiveer nie. Julle gee net ’n bietjie tyd en byna geen geld vir die verspreiding van die evangelie nie. Hoe
kan enigiemand in die buitengewone waarde van die evangelie glo as julle nie tyd of geld daarvoor opoffer nie? Ons
glo in ons kommunistiese boodskap, maar julle is bang om julle hande uit te steek."
Harde woorde. Die meriete van die Marxistiese filosofie is nie die issue nie. Die vraag is of die visie van God, die
beloftes van God, enige blywende effek op mense het. Bring dit ons in beweging? Of het die beloftes en visie van
God se Woord net so min effek soos wat die kommunistiese ideaal uiteindelik gehad het? Is dit maar ’n droom wat
daar was en waarvoor die oorgrote meerderheid mense hoop verloor het?
Wanneer ons na gemeentes en individuele gelowiges kyk, is dit duidelik dat daar nie regtig onder die meerderheid
lidmate enige buitengewone ywer is om aan die doelwitte van die koninkryk van God in ons daaglikse lewe gestalte
te gee nie. Wat ons eerder sien, is toenemende passiwiteit, ’n onwilligheid om meer tyd aan die saak van die
koninkryk af te staan en ’n duidelike uitbeweeg uit die kerk van die Here.
Hoekom verlaat 35 000 mense per Sondag die kerk in Europa? In die sestigerjare het Leslie Paul aangedui dat van
die 27 miljoen mense wat in die Church of England gedoop is, slegs 9,7 miljoen belydenis van geloof afgelê het.
Minder as 2,9 miljoen mense ontvang nagmaal op Paassondag.
Dit was 1960. In die een van die beste boeke wat oor kerkverlating geskryf is – Gone, but not forgotten – teken
Philip Richter en Leslie J Francis ’n baie ontstellende prentjie van die probleem van kerkverlating in Engeland. Feitlik
elke kerk in Engeland verloor weekliks lidmate. Daar word bereken dat 1 500 mense per week Britse kerke verlaat.
Dit sluit nie mense in wat sterf of van een kerk na ’n ander oorgaan nie (sg church hoppers). In Oktober 1996 dui
’n ondersoek aan dat 62% van die mense in Engeland minstens ses maal per jaar kerk toe gaan. Ongelukkig het
drie uit elke vyf mense uit hierdie groep aangedui dat hulle nou glad nie meer gaan nie. Hoekom?
Die realiteit van ons dag is dat al hoe meer mense die kerk verlaat. In ’n redelik onlangse artikel oor die rol wat
jeugleiers in kerke behoort te speel, skryf Mark Driscoll en Chris Seay dat spiritualiteit op ’n hoogtepunt is. Die
musiekkanaal MTV het ’n ondersoek geloods en bevind dat 99,4% van jongmense in God glo. Maar die hartseer
van alles is dat die Christendom wat gewildheid betref onder aan die lysie is. Ironies. God, ja, maar die kerk en die
Christendom – nee dankie! Of nog anders gestel: God, ja, maar nie die God van die Christene nie.
In Suider-Afrika is dieselfde dinge aan die gebeur. ’n Dalende lidmaattal en dalende erediensbywoning, finansiële
krisisse in gemeente en onbetrokkenheid deur die grootste gedeelte van gemeentes is aan die orde van die dag.
Ons weet hoe hard ’n klein kerngroepie in die gemeentes dikwels moet werk om die salarispakkette van predikante
en die ander aksies van die gemeente te kan finansier. Van 1985-1993 het die lidmaattal in die grootste Afrikaanse
"wit" kerk met 150 000 afgeneem. Die gemiddelde erediensbywoning is 36% terwyl die aanddienste deur ongeveer
9,5% van die lidmate bygewoon word. Dr Mike Smuts van die NG Kerk het opgemerk dat die NG Kerk nie deur
sending en evangelisasie groei nie, maar deur die wieg.
Is dit soos dit moet wees? Hierdie stand van sake getuig nie eintlik van ’n groep mense wat gedryf word deur God
se beloftes nie. Dit getuig glad nie van mense wat só deur die visie van God vir die wêreld in beslag geneem is dat
dit hulle eie visie in beslag neem en hulle lewe in ’n nuwe koers laat gaan nie. Die verhaal van Abram is van vroeg
af verstaan as ’n verhaal van God se mense in die wêreld. In Abram se verhaal het die kerk keer op keer haar
roeping en identiteit gevind en versterk. Die gedagtes van Von Rad onder Konteks kan gebruik word om hierdie punt
duidelik te maak.
Wat is hierdie identiteit en roeping van die kerk?
• Allereers is dit duidelik dat God se nuwe begin slegs sy eie skepping is. Die verhaal maak van die begin af
duidelik dat daar geen menslike moontlikhede is waardeur God sy beloftes waar sal maak nie. Sara is
onvrugbaar. Soos ’n refrein klink hierdie onvrugbaarheid dwarsdeur die aartsvaderverhale. As God nie ’n
nuwe begin maak nie, is geen nuwe begin moontlik nie. Ná die jammerlike verhaal van Genesis 1-11 is Sara
se onvrugbaarheid nie eintlik ’n hoogtepunt vir die menslike toekoms nie. Maar vir God is dit ’n nuwe begin.
Daarom kan ons die opdragte van Genesis 12 nooit lees sonder die absolute sinloosheid waarmee Genesis
11 eindig nie. Ja, God maak ’n nuwe begin met Abram. Hy skep nuwe moontlikhede en hoop. Maar Hy doen
dit ten spyte van mense en te midde van die wanhoop van onvrugbaarheid. Wat belowe word, is Gód se
land en Gód se nageslag.
• Wanneer God oor begin, roep Hy weer die mens om in sy diens te staan. Net soos Genesis 1 sê dat mense
God se verteenwoordigers in die wêreld is, is Abram God se verteenwoordiger in ’n vreemde land. Abram
word geroep om, soos Calvyn hier bo aangehaal is, die reuk van die geloof in die wêreld uit te dra. Abram
word geroep om die seën te wees vir die nasies. Deurentyd is dit die roeping van God se mense. Paulus
sê later dat God sy wysheid, die geheimenis aan die nasies, deur die kerk bekend laat word (Ef 3:1-11). Die
psalmdigter maak ook baie hiervan wanneer hy sê dat die seën wat God se volk ontvang, aan die nasies
bekend moet word (Ps 67). As geseëndes is die kerk geroep om ’n seën te wees. Wanneer die kerk nie
meer die seën uitdra nie, is sy ongehoorsaam aan die roeping wat van die begin af aan die geloofsgemeenskap
gegee is. Die gevaar wat gedurig aan die kerk se deur klop, is om na haar eie belange om te
sien, na binne te groei. Maar die kerk is gedurig in beweging na die wêreld, weg van ons basis af. Karl Barth
skryf aangrypend hieroor kort ná die Tweede Wêreldoorlog: "Wanneer die kerk soos die wêreld geraak het,
het die grootste ongeluk vir die kerk en wêreld plaasgevind. Dan kan die wêreld nie meer gered word nie
en het die kerk geen rol meer in die wêreld nie … Die plek waar die kerk moet wees, is in die wêreld, in die
gemeenskap, langs die skool, die fliek en die spoorwegstasie! Die kerk kan nooit soos ’n slak wees wat sy
huis op sy rug dra, stadig beweeg, nou en dan sy voelers in die wêreld uitsteek en dan weer terugtrek nie."
Gerard Hennig sê: "’n Dissipel kan sy dissipelskap net so min wegsteek as wat ’n lig sy strale kan wegsteek.
’n Christen hoort in die middel van die wêreld soos ’n lamp in die middel van ’n vertrek." En Bonhoeffer skryf:
"’n Onsigbare kerk het sy roeping versaak. ’n Kerk wat wegkruip, wat om homself draai, het opgehou om
Christus te volg." In sy boek Dade kan alles verander skryf Ferdinand Deist dat Jesus goed verstaan het
dat sy lewe in diens van ander staan. Waar Hy ook al gaan, bring Hy lig, bring Hy lewensruimte en
lewensvreugde. Elkeen wat met Hom in aanraking kom se lewe kry nuwe sin en betekenis: Saggeus,
Nikodemus, Maria Magdalena, Petrus, Tomas, almal. Oral is Jesus besig om God se skeppingslig aan te
steek.
• Om gehoorsaam te wees hieraan moet die kerk veral besef dat ons nie te geheg aan die aarde moet raak
nie. Ja, ons moet geheg wees aan die aarde sodat ons die aarde kan help, maar ons burgerskap is nie hier
nie. Soos Abram keer op keer penne moes optrek en die tente moes platslaan, is die kerk gedurig op weg
na die beloofde land. Onder punt twee van Konteks is daar uitvoerig hieraan aandag gegee.
En tog is die Kommunis skynbaar reg. God se nuwe skepping in die wêreld, sy kerk, is nie altyd vuur en vlam vir sy
saak nie. Jess Moody is reg wanneer hy sê dat kerke gevul is met "undiscipled disciples" – gelowiges wat nie weet
wat hulle is nie. God se mense het ingeburger geraak in ’n wêreld waar dit lekker geword het en ons nie ons
sekerhede vir onsekerhede verruil nie. Dis so lekker in die kerk dat ons vergeet hoe sleg dit daar buite gaan en hoe
nodig ’n kerk met visie in die wêreld is.
Hoekom is dit so? Waarskynlik omdat ons ons roeping en identiteit verloor het. En die rede waarom ons dit verloor
het, is dat ons ons visie op die ryk beloftes van God verloor het. ’n Paar jaar gelede het Elna Mouton ’n artikel oor
ons identiteit geskryf. ’n Gedeelte daarvan klink só: "Identiteit het uiteraard baie kante, wat mettertyd ontwikkel
omdat dit grootliks met perspektief te make het. Ons identiteit as Christene in Suid-Afrika – die somtotaal van wie
ons is en graag wil wees – is onlosmaaklik verweef met die lief en leed van ons lewensverhale. Ons stories
verteenwoordig ’n netwerk van verhoudinge, gebeure en keuses sedert ons kinderjare. Dit alles tesame met die
omgewing waar ons grootgeword het – die morele wêreld waarmee ons ons leer assosieer het; die waardes,
deugde en slagspreuke wat daarin geld. Só is ons ganse menswees – ons karakter, voorkeure en vooroordele, selfs
ons humorsin en emosies – beslissend deur ons stories gevorm. Uiteindelik werk ons stories soos ’n filter waardeur
ons oor God nadink, en die Bybel verstaan.
"Natuurlik kan dit ook andersom werk! Naamlik dat God se verhaal, die Christelike verhaal, die lens word waardeur
ons nuut na ons stories kyk. Die verhaal van die Bybel is juis bedoel om al ons biografieë, ons kulture, herinneringe,
vrese en drome op te neem in ’n splinternuwe verhaal, die betroubare verhaal van ’n nuwe mensheid in
geloofsverbondenheid aan die drie-enige God. Bekering beteken dus om nuut te begin, nuut te dink en te kyk as
gevolg van die nuwe insig. Die vraag is: sien ons?"
J P Versteeg skryf dat ’n loods baie ervare kan wees, maar as hy die instruksies uit die beheertoring ignoreer, is ’n
ramp aan die kom. Hy kan nie die persoon sien nie, maar hy hoor die stem. So is dit ook met God: Wie sy stem
ignoreer, stuur op ’n ramp af. Dis duidelik dat die kerk weer in kontak met die beheertoring moet kom sodat ons ons
roeping en identiteit nuut kan ontdek.
Bibliografie
Brueggemann, Walter 1982. Genesis. Atlanta: John Knox Press. Burger, C W. Genesis 11:27-12:9, in Burger, C W,
Müller, B A & Smit, D J (reds). Woord teen die Lig II/3: Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale. Kaapstad: NG
Kerk-Uitgewers, pp 123-131. Burger, Coenie 1994. Storie vir ons tyd. Die hoopvolle verhaal van Abram en Sara
oorvertel vir ’n oorgangstyd. Wellington: Lux Verbi. BM. Kidner, Derek 1967. Genesis. Leicester: IVP. Wenham,
Gordon J. Genesis 1-25. The Word Biblical Commentary. Texas: Word Books. Von Rad, G 1972. Genesis. Londen:
SCM Press. Von Rad, Gerhard 1978. Biblical interpretations in preaching. Nashville: Partenon Press.