Genesis 16:1-16 LR2006
Genesis 16:1-16
Eerste Sondag in Koninkrykstyd
Liturgiese Voorstel
Fokusteks: Genesis 16:1-16
Ander tekste: 1 Samuel 3:1-10; Psalm 139; 2 Korintiërs 4:5-12; Markus 2:23-3:6
Inleiding
Die lyn wat deur die tekste vir die dag loop – “God se neerbuigende, onverdiende liefde”. God hoor, God sien, God bly getrou aan sy beloftes, beloftes wat Sara laat lag. God reik uit, buig neer, daal af, tot by die kleinste en onbelangrikste. God sien orals raak, selfs die mossie, ’n vrou en haar kind wat weggejaag is (Gen 16). Sy teenwoordigheid vul elke uithoek van die aarde, elke doodloopstraat (Ps 139). God kom ons hart verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus afstraal. Christus maak alles nuut (2 Kor 5). Een van die seëninge van God se verbonds-beloftes is die sabbat wat Hy vir die mens gereedgemaak het (Mark 2). Die liefde van God behoort die kerk aan te vuur.
Diensorde
god versamel ons voor hom
Aanvangswoord
Voorganger: God het ons hier voor Hom saamgebring, in die Naam van Jesus, die Christus.
Gemeente: Aan Hom wat op die troon sit, behoort die lof en die eer!
Voorganger: Mag sy Naam geheilig word.
Gemeente: Mag sy koninkryk kom!
Voorganger: Mag sy wil op aarde geskied soos in die hemel.
Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in ewigheid!
Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus.
Loflied
Psalm 48:1 en 3 (temalied)
Doopherinnering
Die voorganger staan by die doopvont. Die volgende kernwaarheid word uitgelig:
Die Here gaan by ’n fontein in die woestyn ’n verbond aan met Hagar, Abraham en Sara se slavin, en haar seun, Ismael, wat beide verwerp en uitgewerp word (Gen 16:7). Vir ons as gelowiges is die doop die viering van daardie verbond, asook ons diepste identiteit. Gedooptes beantwoord die vraag na wie ons is, deur te getuig Wie s’n ons is. Menslike logika sê ek moet presteer om te ontvang. Die goddelike logika sê egter ek ontvang die goeie sonder dat ek dit verdien.
Die doop bevestig ons intieme eenheid met Christus en met mekaar. Wie ernstig is oor die doop, word opgevoed en is verbind tot die oorbrugging van klowe tussen rasse, genders, sosiaal-ekonomiese klasse, seksuele oriëntasies, ouderdomsgroepe en sogenaamde normale en gestremde mense.
In Psalm 139 vra die digter vir God: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my ... kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” Die gemeente ondersoek haarself of daar nie miskien ’n gesindheid van verwerping is van sommige lede van die liggaam van Christus nie. Só hou ons die klowe tussen ons eerder in stand as om die eenheid doelbewus na te streef.
Sang
Lied 235:2,3 “Voor u wet, Heer, staan ons skuldig”; NSG 217
Vryspraak
Loflied
Lied 205:1-3
DIENS VAN DIE WOORD
Gebed om die opening van die Woord
Psalm 119:1-8 (afsonderlik of saam met vrye gebed)
Skriflesing
Kindertyd
Roep die kinders vorentoe en wys hulle ’n koutjie met ’n mossie in.
Sê dan: “Ons hou daarvan om die gesegde van Jesus aan te haal, dat ’n mossie nie sal val sonder God die Vader se medewete nie. Die feit dat sy oog op die klein mossie is, word dan gebruik om ons te verseker dat Hy ons ook so raaksien. Wat ons egter vergeet, is dat die Here se oog in die eerste plek op die mossie is, nie om ons iets te leer nie, maar omdat daardie mossie self in der waarheid in God se oë inherente waarde het en deur ons gerespekteer behoort te word.”
Hagar is ’n tipe mossie. Sy is nie ’n hoofrolspeler soos Abraham of Sara nie, maar eerder soos ’n klein voëltjie wat daar êrens op ’n takkie van ’n boom sit en kwetter, so ’n hele entjie weg van waar Genesis se hoofligte skyn. Tog sien God haar raak en reik Hy na haar uit. ’n Mens kan redeneer dat die enigste rede hoekom die Here vir haar sorg, die feit is dat sy die heilige patriarg, Abraham, se kind in die wêreld gebring het. Daar is egter geen aanduiding in die verhaal dat Hagar liefgehê word bloot omdat sy Abraham se slavin was nie.
Die Bybel sê die enigste Mens met wie jy en ek ’n verbintenis moet hê, is Jesus. Vandat Hy op aarde verskyn het, duik Hy daar op waar Hy die mossies van die wêreld uitgesonder het as sy kandidate wanneer genade en liefde uitgedeel word.
En dis hoekom dit oor en oor geskrywe staan dat “toe Jesus sy oë opgeslaan het, en Hy die skare sien, Hy gevul was met mededoë!”
Mag die Here gee dat ons ook met dieselfde oë sal kyk en die mossies van die wêreld in liefde sal aansien.
Preek
Respons van die gemeente
DIENS VAN DIE TAFEL
Gereedmaak van die tafel en offergawes
Vredeshandeling (opsioneel)
Nagmaalgebed
Instellingswoorde
Uitdeling en gebruik van brood en wyn
Terwyl die tekens uitgedeel word, sing die gemeente: Lied 303 (herhalend).
Voorbidding
Lofprysing
UITSENDING
Verbintenis
Lied 573 “Ruwe storme breek in woede”; NSG 255
Seën
pREEKSTUDIE – GENESIS 16:1-16
Teks
Die belofte aan `n individu wat sal vermeerder tot `n nasie en die land Kanaän besit, loop soos `n goue draad regdeur die aartsvaderverhale van Genesis 12-50. Die Abrahamverhale (Gen 12-25) handel oor die ouer-kind-verhouding en `n voortdurende besorgdheid oor lewe en dood. Genesis 16 begin met die onvrugbaarheidsmotief en Abraham se kinderloosheid, wat die einde van die geslagslyn en dood sou beteken. Dieselfde motief loop regdeur die verhaal van Abraham in Egipte, tot die geboorte in hoofstuk 21. Dit kom selfs in hoofstuk 22 voor waar die seun se lewe ernstig bedreig word.
Hierdie verhaal van familiekonflik val in drie tonele uiteen: Sarai se plan van `n surrogaatmoeder (2-6); Hagar se ontmoeting met die engel (7-14); en die geboorte van Ismael (15). Die gebeure word voorafgegaan deur `n inleiding (1) en afgerond met `n slot (16). Die verhaal is soos volg gestruktureer:
1 Inleidende nota oor Sarai se onvrugbaarheid
2-6 Toneel 1: Sarai se plan
2a Sarai se voorstel A
2b Abraham se reaksie B
3-4 Sarai se aksie en Hagar se reaksie C
5 Sarai se klagte A¹
6a Abraham se reaksie B¹
6b Sarai se aksie en Hagar se reaksie C¹
7-14 Toneel 2: Hagar se ontmoeting met die engel
7 Engel vind Hagar by die put A
8 Eerste gesprek: engel met Hagar B
9 Tweede gesprek van die engel C
10 Derde gesprek van die engel C¹
11-13 Vierde gesprek: engel met Hagar B¹
14 Naam van die put A¹
15 Toneel 3: Hagar gee aan Abraham ‘n seun
16 Slotopmerking oor Abraham se ouderdom
Die verhaal is goed gestruktureer. Die eerste toneel is saamgestel deur twee parallelle dele en twee soortgelyke opeenvolgings in 2a, 2b, 3-4//5, 6a, 6b. Die tweede toneel is simmetries literêr gestruktureer: A, B, C, C¹, B¹, A¹. Die eerste en derde toneel speel in Abraham se kamp af en die sentrale toneel in die woestyn. Dít verstewig die balans van die verhaal. Die slotopmerking oor Abraham se ouderdom (“Abram was ses en tagtig …”) vorm `n ringskomposisie met die inleidende sin: “Sarai het nog nie vir haar man Abram `n kind in die wêreld gebring gehad nie.”
Vroue is in al die tonele die hoofkarakters. Sarai neem die inisiatief in die eerste toneel, terwyl Abram bloot net met haar planne saamstem. Die optrede van Sarai in die tweede toneel gee aanleiding tot Hagar se vlug. Die engel van die Here is hier dominant, met Hagar wat bevele en beloftes aanvaar, terwyl Sarai glad nie figureer nie. In die derde toneel gee Hagar geboorte aan die seun. Die verhaal verbeeld die konflik tussen twee vroue wat wedywer om die respek en liefde van een man. Sarai word regdeur die verhaal uitgebeeld as Hagar se meesteres wat haar nie net gebruik nie, maar wat ook haar man beveel om haar te misbruik. Ironies genoeg, is dit Hagar wat aan die einde van die verhaal die beste daarvan afkom. Sy word Abram se vrou en sy ontvang goddelike beloftes. Uiteindelik baar sy `n seun vir Abram en nie vir Sarai soos aanvanklik beplan nie.
Sarai oorheers die eerste toneel. Sy tree as “commanding figure” op. Sy deel die bevele uit en Abram en Hagar gee net uitvoering aan haar wense. Sarai beveel en Abram stem saam. Abram word in hierdie konflik nie as die magtige aartsvader nie, maar eerder as die stil, instemmende, manlike figuur uitgebeeld.
Sarai hou Jahwe verantwoordelik vir haar onvrugbaarheid en maak self `n plan om die doodsheid in lewe te omskep. Kinderloosheid was in die antieke wêreld `n ramp, want die kinderlose vrou is as `n totale mislukking beskou. Om sonder erfgename te wees, was gelyk aan die dood. In die Ou Nabye Ooste is daar van poligamie gebruik gemaak om kinderloosheid te ondervang. Vandaar Sarai se kortpadplan. In haar oë was Hagar geen mens nie. Net `n slavin. Daarom verwys Sarai na Hagar net as “my slavin”. Nêrens in die verhaal spreek sy Hagar direk op haar naam aan nie. Daarmee negeer sy haar menswees en gebruik haar as middel tot `n doel.
Konflik en stryd tussen vrugbare en onvrugbare vroue is `n tipiese motief in die Skrif. Toe Hagar ontdek dat sy swanger is, het sy met ander oë na Sarai gekyk. Die meesteres was nou die mindere en die slavin die meerdere. Ironies genoeg, het Sarai tot Hagar se nuwe insig bygedra, sonder dat sy dit beplan het. Deur Hagar vir Abram te gee, het sy haarself slavinstatus gegee. As Hagar dan parmantig met haar is, blameer Sarai Abram daarvoor en beroep haar op hom as die hoof van die huis om reg aan haar te laat geskied. Hy gee Hagar in sy vrou se mag oor, wat haar ook misbruik (6). Die Hebreeuse werkwoord (הנע) verwys na harde, onderdrukkende behandeling soortgelyk aan dit wat die Israeliete in Egipte ontvang het. Die eerste toneel eindig rampspoedig vir al die betrokkenes: Hagar verloor die dak oor haar kop; Sarai verloor haar slavin en Abram verloor sy tweede vrou en ongebore kind.
Die tweede toneel speel in die woestyn af, met `n vlugtende Hagar op pad na haar eie land Egipte en die engel van die Here wat haar ontmoet en terugstuur. Die engel se bevel: “Gaan terug na jou eienares toe en onderwerp (הנע) jou aan haar gesag” (9) is `n boodskap van verskrikking aan `n misbruikte maar moedige vrou. Die Eksodustekste gebruik dieselfde werkwoord (הנע) om die farao se onderdrukking van die Israeliete te beskryf. Weggeloopte slawe is destyds as misdadigers beskou. Vir die eerste keer in die verhaal praat iemand met Hagar. Deur haar op haar naam aan te spreek hanteer die engel haar as mens, in teenstelling met Abram en Sarai, wat haar menswees ontken het. Vir die eerste keer kom Hagar aan die woord as sy die engel antwoord: “Ek loop van my eienares Sarai af weg” (8). Haar vlug het nie vir haar vryheid gebring nie, want sy verwys steeds na Sarai as “my eienares”.
Die goddelike opdrag om terug te gaan, gaan gepaard met twee dubbelsinnige beloftes. Die eerste belofte van `n ontelbare nageslag is oor en oor aan die aartsvaders gemaak. Hagar is die enigste vrou buite die verbond aan wie sulke beloftes gemaak word. Die tweede belofte (van `n seun) het drie elemente: die voorspelling van die geboorte van `n seun; die benaming van die kind; en die toekoms van die kind. Die geboorte van die kind hou vir haar troos in, maar ook swaarkry. Die naam Ismael (“God hoor”) bevestig hierdie twee betekenisse. Hoewel Hagar nooit na Jahwe geroep het nie, slaan hy ag op haar verdrukking en swaarkry (6). Deur die seun verseker Hy haar van `n toekoms. Aan die een kant lyk dit of dié belofte Sarai se plan om deur Hagar “gebou” te word, negeer. Aan die ander kant lyk dit asof die toekomstige verdrukking haar hoop negeer, want sy word as slavin teruggestuur. Jahwe keur immers nie die verbreking van die slawewet goed nie. Die voorspelling oor Ismael se toekoms beteken dat Hagar se verhaal in hom voortgesit word. Hierdie toneel bereik `n klimaks as Hagar die Here God se teenwoordigheid in die engel, en sy genade aan haar erken. Daarom roep sy uit: “U is `n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het” (13). As God sien, gryp Hy in sy genade in (Gen 29:32; Eks 3:7). Deur aan haar te verskyn, was God haar genadig.
In die derde toneel vind ons Hagar terug by Abram, met die seun wat vir hom gebore is. Niks word gemeld van Hagar se terugkeer en swaarkry onder Sarai nie. In plaas daarvan word die eerste toneel afgesluit met `n kort weergawe van Ismael se geboorte, met die fokus op Abram. Die kind was bedoel om Sarai s’n te wees. Tog maak die teks nie minder nie as drie maal daarvan melding dat Hagar vir Abram `n seun in die wêreld gebring het. Die verhaal begin met die naam van Sarai (1) en sluit met die naam van Abram (16). Die inleiding van die verhaal begin op `n hartseer noot: “Sarai het nog nie vir haar man Abram `n kind in die wêreld gebring gehad nie” (1), en sluit op `n positiewe noot: “Abram was ses en tagtig toe Hagar vir Ismael vir hom in die wêreld gebring het” (16). Hagar laat die storie, wat op `n hartseer noot begin, na `n gelukkige einde beweeg. Regdeur alles is haar verhaal egter in stryd met hierdie gelukkige einde: haar naam word herstel, maar haar stem word stil gemaak; Abram se vaderskap in plaas van haar moederskap word benadruk. Die feit dat Abram die kind `n naam gee, ontneem haar die krag wat God haar gee. Die einde van die verhaal negeer ook vir Sarai, want geen melding word van haar gemaak nie. Nie Sarai of Hagar het `n seun nie, maar Abram. Hy noem hom Ismael. Die slot van die verhaal fokus op `n vrou en dui die voortsetting van Abram se verhaal aan.
Konteks
Die verhaal het verskeie motiewe wat nie almal op dieselfde lyn lê nie: ongeloof; familiekonflik tussen `n onvrugbare en vrugbare vrou; verdrukking; universalisme; en Hagar as die prototipe van Israel. Die verteller het `n klomp stemme toegelaat vir wie dit nie almal oor dieselfde tema gaan nie. Baie is in die verlede van die ongeloofsmotief gemaak. Dit gaan beslis nie in die teks oor Abraham wat nie God vir `n nasaat vertrou nie. Eweneens is dit baie twyfelagtig of Sarai uit ongeloof vir Hagar aan Abram gee.
Feministiese teoloë beskou Hagar as simbool van onderdrukking ten opsigte van nasionaliteit, klas en geslag. Alle soorte verwerpte vroue assosieer sterk met die persoon van Hagar. Vir hulle is sy die getroue huishulp wat misbruik word; die swart vrou wat deur die huisheer misbruik en deur die huisvrou verwerp word. Maar sy is ook die surrogaatmoeder; die vreemdeling sonder regte; die ander vrou; die geskeide ma met haar kind. Hagar is ook die prototipe van Israel. Wat met haar gebeur het, het ook op enkele uitsonderings na, met Israel gebeur: die bevryding; die omswerwinge in die woestyn; en die belofte van God. Maar in Hagar sien ons ook iets van God se sorg vir vreemdelinge, wie hulle ook mag wees. Vir God is hulle geensins minderwaardig teenoor sy volk en teenoor figure soos Abram en Sarai, wat dikwels geromantiseer word nie. In Hagar reik God alreeds sy hand na alle volkere en nasies uit.
Om alle motiewe in die verhaal in een tema in te dwing, sal geforseerd wees. Aan die ander kant moet die hooftema nie uit die oog verloor word terwyl daar op `n sekondêre motief gefokus word nie. Die problematiek van die verhaal is dat dit saamgevoeg is uit twee verhale: `n konflikverhaal en die ontmoeting met die boodskapper van God. Die skrywer se bedoeling met die verhaal moet binne die konteks van die totale verhaal verstaan word. Die verhaal het ook `n sosiale en `n persoonlike aspek. Sarai wil “gebou” word, maar sy kan slegs “gebou” word deur `n kind in die wêreld te bring en `n familie te hê. Sonder `n familie het haar lewe geen betekenis nie. Abram en Sarai het geen toekoms sonder `n seun nie.
Die verhaal het ook `n teologiese aspek. God het Sarai se skoot gesluit en vir Hagar `n seun belowe. Hy gee nuwe lewe én weier nuwe lewe. Die een wat in die konflik onreg gely het, kan haar op God beroep (“mag die Here hierdie saak tussen jou en my uitwys”) (5). Jahwe tree immers vir almal wat onreg ly in. Maar die een aan wie geregtigheid geskied, kan haar ook skuldig maak aan onreg. Die verhaal bereik `n hoogtepunt met die bekendmaking van die seun se naam Ismael, wat beteken “God hoor”. Die parallelle beskywing “U is `n God wat my sien …” (13) beteken feitlik dieselfde. In die boodskapper se groet het Hagar die God ontmoet wat haar in haar nood raakgesien het. Juis op hierdie punt het Hagar se verhaal `n raakvlak met Lukas 1:25, waar `n soortgelyke ontmoeting plaasvind en die onvrugbare Elisabet uitroep: “Die Here het dit vir my gedoen. Nou het Hy na my omgesien om my smaad onder die mense weg te neem.”
Abraham se hoop op Sarai vir `n nasaat beland in `n doodloopstraat ten spyte van menslike inisiatief. Dit kompliseer alles binne hulle huishouding. Die kwessie van skuld was net so gekompliseerd vir Sarai, Abraham en Hagar. Die vreeslike stilswye van die verteller in díe verband toon dat hy wil hê die leser moet sien en hoor eerder as om te veroordeel of goed te keur. In die soort stories is die oorspronklike verhaal uitgebrei deur `n soort universaliteit van situasies, versoekings, probleme en besluite waarin die leser homself en sy situasie tot God kan ontdek. In Genesis 12:10 word die belofte in gevaar gestel deur `n verontagsaming van ongeloof. In die Hagarverhaal vind ons die teenoorgestelde: `n Flou geloof kan sake nie in God se hande los nie, maar neem sake in eie hande. Alle rolspelers in die drama word in `n slegte lig gestel. Die verteller blyk baie simpatiek teenoor Hagar, alhoewel sy teen die prikkels en die wet skop. Tog verstaan die leser dat die geboorte van `n kind vanweë uittarting en kleingeloof nie die erfgenaam van die belofte kan wees nie. Hy word egter wat hy moet wees: vry en `n rebel, vegtend met almal en alles. Die feit dat God ook die een agterna loop wat uit Abram se huishouding wegloop, staan sentraal in die verhaal. Nog groter is die wonder dat Hy in die verhaal oë het vir die mensdom, wat deel vorm van sy plan met die wêreld.
Preekvoorstel
Ons geloof laat ons dikwels in die steek en dan gebruik ons kortpaaie en kitsoplossings om vir ons `n toekoms te verseker. Sarai en Abram het in hulle soeke na `n nageslag en toekoms `n “legitieme” kortpad gevolg en vir Hagar, die weerlose slavin uit Egipte, gebruik. Hulle het haar as surrogaatmoeder gebruik en haar menswaardigheid misken. Sarai spreek haar byvoorbeeld nie een keer in die verhaal op haar naam aan nie. Sy was maar net `n middel tot `n doel. Al wat Sarai vir Abram sê, is: “Die Here het my nou eenmaal daarvan weerhou om kinders te kan hê. Gaan slaap by my slavin. Miskien bring sy `n kind in die wêreld wat my eie kan word.”
In kerklike kringe wêreldwyd bestaan groot kommer oor die veragtelike wyse waarop weerlose mense en die aarde gebruik en misbruik word, in `n soeke na rykdom en weelde. In ons land is daar duisende voorbeelde van weerlose mense wat deur die sisteem gebruik en misbruik word. Die genealogieë van die eerste Hollandse, Britse en Franse setlaars aan die Kaap wemel daarvan. Die ekonomiese en sosiaal-maatskaplike geskiedenis van Suid-Afrika wemel daarvan. Talle vroue en kinders (selfs babas) het in Suid-Afrikaanse huishoudings slegs gebruiksartikels geword.
Die verhaal van Hagar leer ons dat die gebruik en misbruik van mense `n manier het om in jou gesig te ontplof. Sarai gebruik Hagar om haarself te “bou” en vir haar `n nageslag te verseker en dan word Hagar, tot haar verdriet, tot `n familie “gebou”! Sy wou Hagar gebruik om vir haar, as onvrugbare, status en aansien te gee, maar dit is Hagar wat eer en aansien verkry en Sarai minag. Op die koop toe het die versteurde verhouding `n hewige huwelikskonflik tot gevolg gehad. Sarai se kortpad kos haar uiteindelik haar slavin. Maar dit was nie die einde van Sarai en Abram se ellende nie. Hagar sou in Ismael voortleef. Hy sou `n rebel wees wat teen alles en almal in opstand leef – ook as vyand teen Isak en sy nageslag (21:8-10).
Iets van Afrika se verhaal van kolonialisasie, slawerny, asook die gebruik en misbruik van mense en grondstowwe, resoneer in die Hagarverhaal. Gedurende die 18de en 19de eeu het verskeie Europese lande dele van Afrika beset en kolonies gestig om hulle eie skatkiste te vul en hulle ekonomieë te stimuleer. In die proses is miljoene der miljoene mense verslaaf, verdruk, gebruik en misbruik. Ook is beskikbare edelmetale en grondstowwe getap. Hierdie kortpaaie na rykdom het egter in hulle gesig ontplof. Die verdrukte Afrikamense het nie net vermeerder nie, maar ook teen die koloniale moondhede in opstand gekom en hulleself bevry.
Die Suid-Afrikaanse geskiedenis het min of meer dieselfde pad gevolg met die Hollanders wat hier `n landboukolonie gestig het en die Engelse wat die Kaap gekolonialiseer en uiteindelik hul vlag oor die hele Suid-Afrika laat wapper het. Die Boerevolk het, met die hulp van hul swart werkers hierdie juk, wat swaar gedruk het, afgeskud.
Die verhaal van Hagar resoneer ook in baie opsigte in ons geskiedenis van apartheid. In `n poging om `n eie toekoms in `n land met `n oorweldigende swart meerderheid te verseker, het `n hele geslag mense kortpaaie en kitsoplossings (TBV-state; swart woongebiede; paswette; swart skole; swart universiteite, ens) gebruik. In die proses is nie net talle mense misbruik nie, maar ook verontreg en onbeskryfbare pyn en leed aangedoen. Hierdie kortpaaie en kitsoplossings het in baie mense se gesig ontplof. Die geskiedenis van apartheid het `n kookpotsituasie veroorsaak wat uiteindelik amper oorgekook het, was dit nie vir die politieke oorgang in 1994 nie. Die onderdrukte swart meerderheid het hulself stelselmatig bevry van die swaar hand van die ou regime. Ons sit vandag nog met die gevolge van hierdie kortpaaie en kitsoplossings in ons land. Van die 45 miljoen mense is nagenoeg 40% werkloos. Ons land is vasgevang in `n greep van misdaad, geweld en verkragting.
Die wonder van die verhaal is dat God die Hagars – die gebruikte en misbruikte mense van hierdie wêreld – agternaloop in hulle woestyne in. Anders as Sarai en Abram het Hy hulle in hulle verdrukking en nood “gesien” en “gehoor”, sonder dat daar na Hom geroep is. In sy oë is geen mens immers minderwaardig nie. Hy loop hulle nie net agterna en les hulle dors, soos die van die ou volk in die woestyn nie, maar verbind Hom ook aan hulle met wonderlike beloftes. Hy gee selfs aan hulle, wat buite die verbondskring is, `n toekoms (nageslag). Hy is immers die God van die arme en verdrukte (Belhar-belydenis) wat sy verdrukte volk se noodkrete in Egipte hoor (Eks. 3:9) en hulle daarvan bevry. Maar Hy is ook die God wat sy verdrukte volk van uitwissing red deur hulle onder farao se moorddadige hand te laat vermeerder (Eks. 1:20).
Ten spyte van die kortpadoplossings waarna Sarai en Abram gegryp het, het die troue Verbondsgod ook vir hulle `n toekoms gegee. Nie net het Hagar vir Abram `n seun gebaar nie. Ook die onvrugbare Sarai het. Ten spyte van die kortpad wat hulle gekies het, het God Abram se geskiedenis deur Hagar voortgesit, maar ook deur Isak. Dit is egter nie al nie. God het aan hierdie verlore wêreld sy enigste Seun gegee en sy belofte aan Abraham, van `n nageslag wat sal wees soos die sterre aan die hemeltrans, waargemaak. Ons, met ons eie kortpaaie en kitsoplossings, is deel van hierdie nageslag (Gal 3:26-29). Ons deel in die seën wat die Here aan Abram (Gen 12:4) belowe het. Deur hierdie Seun het ons die ewige lewe en `n toekoms ontvang. Hy het gekom om vir ons lewe in oorvloed te gee (Joh 10:10).