Genesis 18:1-10a LR2001
Genesis 18:1-10a (Annes Nel)
22 Julie 2001
Sesde Week in Koninkrykstyd
Ander tekste: Psalm 15; Lukas 10:38-42; Kolossense 1:15-29
Teks
Die keuse van die teks deur die leesrooster is nie bevredigend nie, aangesien die perikoop tot by 18:15 strek. Die tekskeuse van hierdie preekstudie volg dus die perikoopindeling wat die meeste kommentatore volg, naamlik 18:1-15. Volgens Brueggemann vorm hierdie perikoop deel van 16:1-18:15 met drie spesifieke gedeeltes: 16:1-16; 17:1-27 en 18:1-15. Op verskillende maniere ‘all three texts revolve around this issue of faith in a God whose promise tarries too long.’
’n Preekstudie oor hierdie perikoop kom ook Woord teen die Lig II/3 voor. Die teksprobleme word daarin uitvoerig bespreek.
18:1-2: Hierdie verse dui ’n paar belangrike sake aan. Die plek, tyd en besoekers word vermeld. Daar is drie mans, klaarblyklik die manier waarop God homself aan Abraham en Sara bekend maak. Dit is in die middel van die dag. Volgens Kidner staan die verhaal in teenstelling met die gebeure hierna (Gen 19), waar alles in die nag gebeur. Die Godsverskyning staan teenoor die donker elemente van verwarring en vernietiging. Die plek is Mamre, wat later ’n welbekende heiligdom sou raak, is die plek waar God verskyn.
Die meeste geleerdes hanteer die probleem dat die Here in die ‘vorm’ van drie besoekers aan Abraham en Sara verskyn as heel natuurlik. Die verhaal wissel tussen die Here wat verskyn en die mans wat namens die Here ’n belofte aan Abraham maak. Later (v. 13) is dit weer die Here wat aan die woord is. Gunkel het gesê dat goddelike gebeure altyd verrassend is. Walter Lüthi sê dat dit nie ter sake is of die mans geëet, gedrink of gekuier het nie. Dis ook nie ter sake of die verteller konstant wissel tussen God en die mense nie. Waaroor dit gaan, is dat Gód aan hulle verskyn het. En dan vra Lüthi: Kan dit anders as geheimenisvol wees? Verder word God se vryheid om homself te openbaar soos Hy wil, in Genesis 19 afgewissel met twee besoekers in plaas van drie.
’n Gedagte wat deurgaans afgewys word, is dat hier geen verwysing na die Drie-eenheid ingelees kan word soos die vroeë kerk gedoen het nie.
18:3-8: Die gasvryheid van Abraham is klaarblyklik ook die motief wat in Hebreërs 13:2 ’n rol speel. Na my mening behoort ’n mens nie te veel te maak van hierdie motief in die prediking nie (sien Burger se perspektief in Woord teen die Lig II/3). Von Rad en Aalders verwys beide na die ou verhaal wat in die Griekse mitologie bestaan het toe drie gode (Zeus, Poseidon en Hermes) die kinderlose Hyrieus in Boeotia besoek het. Na sy gasvrye optrede teenoor die gode is ’n wens aan hom gegee. So is die seun, Orion, aan hom en sy vrou gegee. Of die Griekse verhaal ingespeel het in hierdie verhaal, is nie regtig ter sake nie. Die punt is dat Israel hierdeur bely het dat húlle Here aan hulle verskyn het en die nageslag gewaarborg het. ’n Uiters belangrike verskil is dat die kind nie gegee is op grond van ’n wens nie, maar uit vrye guns beloof word.
Brueggemann wys daarop dat daar ’n duidelike versnelling van gebeure in die verhaal is. Die stadige tempo wat deur die middaghitte veronderstel word, die skielike verskyning van die drie man en die aanbod van Abraham dat hulle daar kan oorbly, word vinniger met Abraham se haas om vir die mense gereed te maak. Dit is ’n aanduiding daarvan (‘hint’) dat iets buitengewoon kan gebeur.
18:9-10: Dit is nie sonder rede nie dat God op hierdie manier besoek aflê by Abraham en Sarah. Die geboorte van hulle kind word aangekondig. God bevestig deur hierdie belofte dat hy nie van sy verbond vergeet het nie. Dat dit God is wat deur die een besoeker praat, word bevestig in die skielike vraag waar Sara is. Dat hulle haar naam geweet het, is aanduiding hiervan (Aalders; Von Rad).
18:11-12: Die beklemtoning dat Abraham en Sara al baie oud was, vind weerklank in Sara se gelag oor hierdie uitspraak van die besoeker. Haar gelag is te verstane (Von Rad), aangesien dit vroeër moontlik was om ’n kind te hê, maar nie nou meer nie. Die verteller se klem is nie om dowe neute nie. Deurgaans beklemtoon die aartsvaderverhale dat die belofte God se beloftes bly en nie gebou word op menslike moontlikhede of potensiaal nie. Onvrugbaarheid is daarom ook een van die belangrike temas in hierdie verhale. Die skrywer benadruk hierdeur dat die beloftes van God geskenk word. Wat van die mens gevra word, is om hierdie beloftes te glo, daarin te rus. Abraham en Sara vertoon die voortdurende geneigdheid om God nie regtig te vertrou nie. In Genesis 12:10-10 neem Abraham reg in eie hande deur te lieg oor sy vrou. In Genesis 16 (nadat God in Gen 15 nogeens sy beloftes deur die verbond bevestig het) besluit Abraham weer om reg in eie hande te neem: ‘The story is constructed to present the tension between this inscrutable speech of God (that comes as promise) and the resistance and mockery of Abraham and Sarah who doubt the word and cannot believe the promise. Israel stands before God's word of promise but characteristically finds that word beyond reason and belief. Abraham, and especially Sarah, are not offered here as models of faith but as models of disbelief’ (Brueggemann).
18:13-15: Dit is die hoogtepunt van die verhaal. Teenoor die ongeloof van Sara (en Abraham) staan die kernvraag van die geloof: ‘Is iets te buitengewoon vir die Here?’ Von Rad noem dit die klimaks van die verhaal. Dit is ’n oop vraag en word ook nie beantwoord nie – behalwe met Sara se leuen dat sy nie gelag het nie. Treffend wys Brueggemann daarop dat God se beloftes nie afgehang het van hulle geloof nie: ‘The resolve of God to open a future by a new heir does not depend on the readiness of Abraham and Sarah to accept it. God keeps his own counsel and will work his own will. It will happen, if not in a context of ready faith (which is here denied), then in a context of fearful, resistant laughter. The narrative ends. Sarah and Abraham still doubt. But the word has been uttered. Sarah and Abraham and the listening community can never again live pre-promise. All their lives are now impacted by this promissory word which will find its own fulfillment.’
Selfs hulle ongeloof kan God se vaste voorneme om vir Hom ’n volk te vergader, nie ongedaan maak nie. Selfs die onvrugbare ouderdom van twee mense kan God se plan nie stuit nie. Die belofte van God berus in sy trou en is daarom altyd ’n geskenk van God.
Konteks
1. Wat is die verhouding tussen God se beloftes en die mens se geloof? Ek dink dat dit een van die kernsake is wat in hierdie verhaal aan die orde kom. Hang God se beloftes af van ons geloof? Hang die vervulling daarvan af van ons geloof?
In sekere teologiese kringe word hierdie gedagte baie sterk aangetref. Die korrelasie tussen geloof en genade word verruil vir ’n polêre spanning tussen geloof en genade. Binne gereformeerde kringe word die korrelasiegedagte baie sterk beklemtoon. Die reformatoriese aanduiding van die Woord as promissio het die ganse denkraamwerk van die Reformasie bepaal. Deur die Woord promissio te noem, is daar nie alleen iets oor die Woord gesê nie, maar ook oor die aard van die geloof. Daar kan ook gesê word dat die aard van die Woord die aard van die geloof beslissend bepaal het. Die Reformasie het nooit die noodsaaklikheid en werklikheid van die geloof met betrekking tot die ontvangs van die heil bevraagteken nie. Dit was die funksie of aard van die geloof wat bepalend was. Die toets of die aard van die Woord verstaan is, het in die aard of funksie van die geloof gelê. Binne die reformatoriese denkraamwerk (korrelasiedenke) het die Woord die heil geskenk en is dit deur die geloof ontvang (reseptiwiteit teenoor kreatiwiteit). Die Woord as belofte impliseer dat Woord (objek) en geloof (subjek) nie met mekaar konkurreer nie.
Die belydenis van die Bybel en die Reformasie dat die mens deur geloof alleen gered word, staan in noue verband met die belydenis van die heilskarakter van die Woord. Die aksentuering van die Woord as heilsmiddel het tot gevolg dat die sola fide nooit 'n meritoriale karakter kan hê nie. Die heilskarakter van die Woord beklemtoon die vryspraak deur God ondanks die goddeloosheid van die mens. Teenoor die suigkrag van die sinergisme, het die Reformasie voortdurend daarop gewys dat geloof alleen in wese beteken: God alleen, die Heilige Gees alleen (Noordmans).
Dat die geloof nooit 'n meritoriale karakter gehad het nie, was die gevolg van die beskouing van die Reformasie dat die Woord die heil onvoorwaardelik geskenk het.
Omdat die Woord as heilsmiddel gefunksioneer het, is die skolastieke denkskema deurbreek. Binne hierdie denke is subjek en objek in 'n polêre denkskema van mekaar geskei. Omdat subjek en objek in hierdie denkskema teenoor mekaar te staan gekom het, het ook God en mens as konkurrente teenoor mekaar te staan gekom. Die onvermydelike effek van die polêre denke was dat daar òf in objektivisme, òf in subjektivisme verval is wanneer oor die heil van die mens gepraat is. Die polêre denke het die gevolg dat die mens se aksies òf totaal uitgesluit word (objektivisme) òf medebepalend in die verkryging van die heil was (subjektivisme).
Daar bestaan altyd die gevaar van eensydigheid wanneer die objektiewe en subjektiewe kante van die een heil in Christus in 'n denksisteem beland waarin God (die Woord) en mens (die geloof) in pole geskei word. Enersyds kan daar op die subjektiewe kant van die heil soveel nadruk gelê word dat die objektiewe sekerheid in Christus verduister word. Wanneer aan die inhoudelike karakter afgedoen word, word die klem in die geloof maklik van God na die mens verskuif en word heilsekerheid bedreig. Dit is ook waar van 'n sekte. Volgens Hutten (1957:32) is dit kenmerkend van alle teologiese afwykings dat 'n heilsweg voorgehou word waarin die menslike inisiatief nie genegeer word nie, maar 'n karakter van ‘meespreken’ kry. So word "de centrale boodschap van die reformatie: de rechtvaardiging sola gratia, sola fide, steunend op het getuigenis van die Schrift, sola scriptura" van sy luister ontneem. Die mens se beslissingsvermoë en geloof verkry 'n kreatiewe funksie waarin die ganse genadeboodskap gerelativeer word tot genade plus die mens. Dit is 'n liberale tendens wat wegbeweeg van die gereformeerde tradisie wanneer 'n verskuiwing weg van Christus na die mens plaasvind of wanneer die basis van heilsekerheid verlê word "weg van die objektiewe inhoudelike karakter van die geloof (die soenverdienste van Jesus Christus die Middelaar) na die subjektiewe ervaringskomponent (geloof as werk en prestasie van die mens)" (Louw 1987). Andersyds kan die heil in Christus ook verduister word waar 'n eensydige aksent op die objektiewe heil in Christus geplaas word. Dat die mens 2000 jaar gelede op Golgota gered is, moet tog ook in hierdie hede deur die Gees van God aan die mens in sy volle menswees bevestig en verseël word.
2. ’n Tweede belangrike saak is die vraag of ons nie dalk op ’n punt in baie geloofsgemeenskappe gekom het waar die moontlikheid van buitengewone dinge vir die Here deur ’n siniese gelag begroet word nie. Walter Lüthi maak baie hiervan in sy preek oor hierdie gedeelte. Hy sê dat ons almal aan eksamens onderwerp word. Teoreties kan ons heel goed op sekere sake antwoord, maar die geloofseksamen is baie moeiliker as enige ander eksamen. Hier slaag min mense regtig die toets. Ja, ons sal bely dat alles vir God moontlik is, maar as dit teen die grense van ons redelikheid ingaan, kry ons ’n glimlag oor die ‘belaglikhede’ van wonderverhale waarmee mense ons dikwels verveel. Ja, dis waar dat God die hemel en die aarde geskep het, maar as dit van ons gevra word om ons op die God van hemel en aarde te verlaat, vind ons dit bietjie ‘onrealisties.’ Ons is ook maar versigtig vir elke vreemde storie van ‘wonderwerke’ omdat dit soms regtig onsin en verbeelding is. Maar die verhaal konfronteer ons tog met die vraag of ons in die God van die onmoontlike glo. Soos Bruegemann sê: ‘We must say it is the fundamental question every human person must answer. And how it is answered determines everything else. If the question of the Lord is answered, ‘Yes, some things are too hard, impossible for God,’ then God is not yet confessed as God. We have not conceded radical freedom to God. We have determined to live in a closed universe where things are stable, reliable, and hopeless.’
Ek dink dat Brueggemann se opmerkings oor hierdie saak van baie groot belang is wanneer daar oor hierdie teks gepreek word. Volgens hom moet ons ’n duidelike onderskeid maak tussen wat moontlik is en wat belowe word. Natuurlik is alles moontlik, maar die uitspraak deur die Here of daar iets te buitengewoon vir die Here is, moet binne die konteks van die beloftes van God aan Abraham gelees word. God gee nie hier aan Abraham en Sara ’n skoon blad waarvolgens ons God se arm kan draai deur ons geloof nie: ‘The exposition we have urged leaves itself open to misunderstanding, as though faith makes every desirable thing possible. But not everything is promised. What is 'possible' is characterized only as everything promised by God. That is, only what corresponds to God's good purposes is possible. He has promised a future in a new community, but not everything we would seek. To the disciples seeking salvation in Mark 10:27, Jesus gives his uncompromising answer. Poignantly, the issue surfaces for Jesus himself in the scene at Gethsemane. There he, too, seeks and raises the question of Gen. 18:14, praying: Father, all things are possible to thee.. Remove this cup from me; yet not what I will, but what thou wilt (Mark 14:36). Everything is possible to God - except one thing. The one thing not possible is the removal of the cup. What God will not (cannot?) do is to circumvent the reality of suffering, hurt, the cross. Thus, our text does not permit a casual triumphalism that simply believes everything is possible. Because of the character of God, everything is possible for those who stay through the dark night of barrenness with God. For Abraham and Sarah, there is no simple, painless route to an heir. And when we come to the shattering of Genesis 22, we shall see that the 'impossibility of God' freely given is not a painless, tension-free possibility. Thus the strangers departed (Gen. 18:16) with the question still unanswered.’
Natuurlik is God ook groter as sy beloftes, maar dit bly altyd God wat skenk. Sy doel met sy beloftes in die aartsvaderverhale is baie duidelik: die nuwe begin na die troostelose verhale van Gen 1-11, naamlik die belofte van ’n nageslag en die belofte van ’n land, is Gód se nuwe begin.
Preekvoorstel
Een van die ergste dinge wat in ’n mens se geloofslewe kan gebeur, is as jy tevrede geraak het met die hopeloosheid van die lewe. Mens aanvaar dan dat alles maar is soos dit is, dat daar geen moontlikhede vir verandering is nie, geen nodigheid om te hoop nie. Daar is geen waagmoed, geen doelwitte, geen vernuwing, geen hoop op verbetering van omstandighede of geen drome meer nie. Die sekerste pad hel toe is die geleidelike een – die geleidelike skuinste, die sagte pad sonder enige skielike draaie, sonder mylpale en padtekens (C S Lewis).
Die verhaal van Abraham en Sara het hierdie punt bereik. Nie in God se oë nie, maar in hulle oë. ’n Mens sien telkens hoe die verhaal van Abraham en Sara wissel tussen hoop en wanhoop. By verskeie geleenthede neem hulle die toekoms in hulle eie hande en probeer hulself beskerm (sien die bespreking van 18:11-12). Maar hier is dit die punt waar God se beloftes regtig nie meer sin maak nie. Jare en jare het sedert die beloftes van ’n land en ‘’n nageslag’ verloop en niks is nog bewaarheid nie. In Genesis 15:1-3 is dit reeds duidelik dat Abraham moed verloor het. In Genesis 17:17 lag Abraham ook vir die belofte van ’n nageslag omdat hy die punt bereik het waar hy dit menslik onmoontlik gevind het. Nou lag Sara oor dieselfde storie. Hulle is regtig hier ’n duidelike toonbeeld van mense wat ‘rockbottom’ bereik het: ‘Abraham and Sarah have by this time become accustomed to their barrenness. They are resigned to their closed future. They have accepted that hopelessness as “normal’. The gospel promise does not meet them in receptive hopefulness but in resistant hopelessness’. (Brueggemann)
Daar is natuurlik wonderlike uitsprake wat gemaak word oor die krag van geloof. Ons praat selfs maklik van iemand se ‘groot’ geloof. Ongelukkig is sulke geloof dikwels soos ’n ballon wat tussen doringbosse waai. Solank dit nie aan die rotswande raak nie, is dit goed. Maar die eerste doring van teëspoed laat dit bars. Dit is een ding om te glo terwyl dit goed gaan. Dis iets totaal anders as ’n mens moet glo wanneer dit voel of die lewe sy rug op jou gedraai het, wanneer menslike hulp gefaal het, ons denke doodgeloop het. In die kerk kan ons sing: ‘”Vol vertroue, vas en veilig, bou ek kommervry my hoop op die Here wat, almagtig, heers oor voorspoed en or nood” (Ges 45:1) of “Leer ons om ons nie te kwel nie, of oor môre te ontstel nie ...” (Ges 49:2). Verskeie liedere of selfs ons gemeentevisies (wat soms baie triomfalisties is) kan hier aangehaal word om te beklemtoon dat dit heel maklik is om in die kerk te bely. Maar as ons uitgaan in die doringbosse van die werklikheid bars ons ballonnetjie baie gou. Dit is dan wanneer ons maar maklik glimlag as die beloftes van die Here so maklik deur predikers aangehaal word en daar in die kerk so maklik gesê word dat die Here sal sorg. Een van my donkerste oomblikke as prediker was toe iemand vir my gesê het dat ek die helfte minder vreugde op die kansel sal wys oor God se beloftes as ek my vrou of kind verloor het. Abraham en Sara is mense soos ons wat dit moeilik vind om op God se tyd te wag. Ons ongeduld met God bereik soms die plek waar ons wil sê: ‘beloftes, beloftes, beloftes ...’ Dis al.
Natuurlik kom ons op hierdie plekke in ons geloofslewe. Dis ook baie normaal. De Reuver skryf: Sekerheid van geloof is iets totaal anders as sappige selfversekerdheid in windstil weer. En Calvyn verklaar: Wie nog nooit gevrees het nie het nog nooit geglo nie. Waar die vuurtjie van geloof brand, trek ook die rokie van twyfel. Omstandighede maak soms dat ons op moedverloor se vlakte sit en regtig nie kan antwoord op die vraag of iets vir die Here te buitengewoon is nie. Hoewel ons nie openlik sal sê dat ons nie glo nie, lag ons tog maar in ons harte vir die belaglikheid van sommige beloftes van die Here.
Maar in hierdie verhaal gaan dit nie oor die broosheid van ons geloof nie. Dit ook. Maar die broosheid van ons geloof moet in perspektief gesien word. Die God van die belofte is die hooftema van hierdie verhaal. By hierdie God alleen is daar sekerheid. Hierdie God laat nie sy beloftes afhang van die krag of ‘prestasie’ van ons geloof en vertroue nie. Sy beloftes is nie so beperk dat die beperktheid en breekbaarheid van ons geloof gaan kortwiek nie. In hierdie gedeelte is dit duidelik dat God sy beloftes waarmaak omdat Hy God is. Die aankondiging is nie eens afhanklik van Abraham se gasvryheid teenoor die besoekers nie (soos in die verhaal van die Griekse mitologie).
Die verhaal van Abraham en Sara is natuurlik nie afgehandel nie. Ja, God het sy beloftes aan Abraham nagekom ter wille van sy trou. God het ook die onmoontlike moontlik gemaak met die geboorte van sy Seun uit die maagd Maria (Sien die gebruik van ‘moontlik’ in Luk 1:26-37). God het die onmoontlike moontlik gemaak deur mense te red wat volgens menslike berekening nie gered moes word nie (Sien die verhaal van die ryk jongman in Matt 16:16-30). God het die onmoontlike moontlik gemaak deurdat Hy die dood oorwin het (1 Kor 15). Maar eeu na eeu, jaar na jaar sit Christene op moedverloor se vlakte. Wanneer die kanker en die rampe, die misoeste en die depressie toeslaan, is dit of God se beloftes nie sin maak nie. Al hoor ons dan dat die Here ons deur die dood sal dra, glimlag ons sinies agter ons hand.
Die storie van ons pa en ma in die (on)geloof is ’n noodsaaklike verhaal vir die Christelike lewe. Dit konfronteer ons met die vraag of ons geloof nie dalk maar net met die grense van redelikheid werk nie. As dit die geval is, verval ons geloofslewe in die vervelige groewe van menslike moontlikhede. Godsdiens wat altyd binne die grense van redelikheid handel, is ’n ontbinde godsdiens (Don Affleck). Geloof wat altyd met rekenkundige beginsels werk, is geen geloof nie: ‘Faith is not a reasonable act which fits into the normal scheme of life and perception’ (Brueggeman). Nee, die verhaal daag ons uit om op God se beloftes te bou. Dit daag ons uit om die ‘ongemak’ van God se beloftes te betree. Abraham en Sara het aanvaar dat die koeël deur die kerk is, dat God se beloftes nie meer waar kán word nie. Hulle ‘comfort zones’ van hopeloosheid word deur die aankondiging van die besoeker geruk. Daarom lag Sara ... net soos Abraham gelag het ... en ons dikwels lag
Wanneer ons aan die einde van die pad gekom het, hoop verloor het, verras God ons met die herbevestiging van sy beloftes. Daarom kon Luther sê: ‘n Christen is soos 'n held wat met die louter onmoontlike omgaan. Dit is om God om sy hals te val. Dit is getrooste twyfel.
Neil Verwey van Japan vertel die volgende verhaal: Gedurende Kersfees en Nuwejaarstye rol die geld in Japan. Onder andere spandeer die Japanners baie geld aan gelukbringers. Een van die populêrste items wat glo geluk bring, is 'n pop sonder bene en arms. Een van die darumapop se eienskappe is sy vorm, wat maak dat dit regop spring as dit omgestamp word. Binne-in die die onderkant van die pop is 'n stukkie lood ingebou, wat dit instaat stel om altyd regop te kom, al val hy ook hoe! Die darumapop is vir die Japanner 'n goeie voorbeeld van hoe 'n mens moet optree as 'n ongeluk jou tref – jy moet weer 'n manier vind om op te staan. Elke keer as ek val of neergevel word, het ek nie 'n gelukbringer nodig om my weer regop te laat kom nie. Ek het die lewende God wat my hand vat, my ophelp en my ewewig in Hom herstel.’
Miskien is dit belangrik dat ons ’n slag sal besef dat ons geloofsarms en bene afgekap is en dat geen lood in ons ons regop kan hou nie. Net God se beloftes dra ons.
Bibliografie
G Ch Aalders: Genesis Vol II. Michigan. Zondervan, 1981. Walter Brueggemann: Genesis. Atalanta. John Knox Press. 1982. C W Burger: Genesis 18:1-15, in Riglyne vir prediking oor die Genesisverhale. Woord teen die Lig II/3 (CW Burger, BA Müller, DJ Smit – reds.). Kaapstad. NG Kerk-Uitgewers, 163-171. Coenie Burger: Storie vir ons tyd. Die hoopvolle verhaal van Abraham en Sara oorvertel vir ’n oorgangstyd. Kaapstad. Lux Verbi. 1994. Derek Kidner. Genesis. Leicester. IVP, 1967. Walter Lüthi: Abraham. Basel. Friedrich Reinhardt Verlag, 1967. G Von Rad: Genesis. London. SCM Press, 1972.