Genesis 2:15-17+3:1-7 LR2005
Genesis 2:15-17; 3:1-7
eerste SONDAG in lydenstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks: Genesis 2:15-17; 3:1-7
Ander tekste: Psalm 32; Romeine 5:12-19; Matteus 4:1-11
Inleiding
Die tekste vir hierdie Sondag vorm ’n lyn wat soos volg loop:
Die ontdekking van my een wees met Adam en Eva. Dis meer as net ’n “erfsonde” wat ons met hulle deel.
Daarom spreek die pleit om vergifnis van Psalm 32 ons sterk aan.
Romeine 5:18 bring ons dan tot die wete dat Christus ook vir my vryheid bring.
Matteus 4:1-11 bevestig dat Hy ’n navolgenswaardige voorbeeld is.
Hierdie lyn pas uitstekend in by die basiese struktuur met hoofmomente soos dit in die liturgiese voorstelle gegee word. (Dit sou goed wees om hierdie inleiding op ’n manier vooraf met die gemeente te deel sodat die ineenskakeling van die verskillende momente in die erediens en die verband met mekaar goed begryp word.)
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Moment van bewuswording
Sien die basisliturgie vir musiek wat voorgespeel kan word.
Aanvangslied
Psalm 38:1, 4, 7 (tweede melodie)
Aanvangswoord
Psalm 32:1 en 2
Seëngroet
Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser.
Diens van die Woord
Gebed vir die opening van die Woord
Vader in die hemel, ons is skaam om voor U te kom. En tog weet ons ons hoop lê by U. Heilige Gees, laat die Woord ons vandag op reis neem om by die waarheid van Jesus Christus uit te kom. Maak ons ontvanklik vir die Woord wat U vir ons wil gee en skep in ons daardeur lewensvrede en –volheid. Amen.
Kindertyd
Hier kan aan die hand van die fokusteks verduidelik word dat die Here mense in ’n tuin laat lewe, maar omdat ons nie volgens die reëls vir die gebruik van die tuin gelewe het nie, het dit skeefgeloop. Verduidelik dit aan die hand van konkrete voorbeelde wat die kind ken, byvoorbeeld om ’n motor nie volgens die verkeersreëls te hanteer nie.
Skriflesing
Genesis 2:15-17; 3:1-7
Prediking
Skuldbelydenis en verootmoediging
Laat iemand met wie vooraf gereël is en dit met die nodige passie en begrip kan lees, Psalm 32:1-4 uit die Bybel voorlees.
Gemeente sing Lied 389:2/NSG 97. (Sien die basisliturgie vir Lydenstyd.)
Vryspraak
Dieselfde persoon lees nou Psalm 32:5-11.
Diens van die tafel
Dankgebed en voorbidding
Voorganger of ’n diaken gaan in vrye gebed voor.
Lees van teks
Romeine 5:12-19
Lofprysing en aanbidding
Gemeente sing Lied 390:1-4/NSG 107.
Tafelgebed en instelling van die nagmaal
Uitsending
Offergawes
Sien die basisliturgie vir die Lydenstyd vir musiek wat hier voorgespeel kan word.
Antwoordlied
Lied 396:1-4/NSG 104
Lees van teks
Matteus 4:1-11
Seën
Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar die genade van God en
die gawe wat deur die genade van die een Mens, Jesus Christus, gekom het, is veel
oorvloediger aan baie geskenk. Ook aan julle. Gaan leef daarin.
Slotlied
Lied 317/NSG 355
INLEIDING tot DIE BOEK GENESIS
Die boek Genesis, die eerste boek in die Bybel, was dikwels in die brandpunt van twiste. Moet ons werklik die skeppingsverhale letterlik opneem? Is die verhale in Genesis geskiedenis of moet ons eerder van sages en mites praat? Het Moses hierdie boek geskryf soos die Joodse tradisie (maar nie die boek self nie) beweer? Is dit ’n enkele, deurlopende verhaal of is daar verskillende tradisies wat so met mekaar vervleg is dat daar soms oorvleuelings, herhalings en teensprake voorkom?
Sulke vrae help ons selde om die betekenis van hierdie Bybelboek vir die kerk vandag beter te begryp. Dit kan ons met sekerheid sê: Genesis is ’n geloofsboek en nie ’n geskiedenisboek of wetenskaplike handleiding nie. Baie van die vrae waarmee geleerdes hulle vandag besig hou, was vir ou Israeliete glad nie ter sake nie. ’n Uiteensetting oor die oorsprong van die heelal soos wetenskaplikes dit vandag gee, sou vir hulle (en vir my) onbegryplik wees. Dit beteken glad nie dat Genesis ’n “primitiewe” boek is nie. Ons begin dalk nou eers verstaan hoe kompleks, kunstig en gebalanseerd die “storietjies” in Genesis eintlik is en hoeveel ons daaruit kan leer.
Indeling en inhoud: Daar is twee hoofgedeeltes in die boek: Genesis 1-11 en Genesis 12 tot 50 (hoewel 11:27-32 eintlik by die tweede hoofdeel hoort):
A Die Oergeskiedenis (of voorgeskiedenis) in Genesis 1-11 gaan oor die skepping en die vroeë geskiedenis van die mensdom as geheel. Die volgende onderafdelings kan onderskei word:
Die skeppingsverhale (1:1-2:25)
Die eerste sonde en die gevolge daarvan (3:1-6:4)
Die sondvloed (6:5-10:32)
Die toring van Babel (11:1-26)
B Die Aartsvadergeskiedenis in Genesis 12-50 gaan nie meer oor die hele mensdom nie, maar spesifiek oor Israel se voorouers. Die volgende onderafdelings kan onderskei word:
Die verhaal van Abraham (11:27-23:20)
Die verhaal van Isak (24:1-26:35)
Die verhaal van Jakob en sy gesin (24:1-36:43)
Die verhaal van Josef (27:1-50:26). Hierdie gedeelte (behalwe hfst 38) word soms as ’n derde hoofdeel beskou.
Ontstaan: Volgens ’n baie algemene siening het die boek ontstaan uit die kombinasie van (hoofsaaklik) drie oorspronklik onafhanklike bronne: die J Bron (of Jahwis), die E Bron (of Elohis) en die P Bron (of Priesterlike bron). Omdat materiaal uit hierdie bronne gekombineer is, kry ons soms herhalings en teensprake. Byvoorbeeld, daar is eintlik twee skeppingsverhale: Genesis 1:1 – 2:4a (P Bron) en Genesis 2:4b – 25 (J Bron).
Aanvanklik was geleerdes seker dat hulle die bronne duidelik van mekaar kon onderskei en elke bron se ontstaanstyd en aard kon bepaal (van J in die vroeë koningstyd tot P na die ballingskap). Vandag is daar twyfel oor die datering, afbakening en aard van die bronne en baie geleerdes meen dat die bronneteorie geen nut meer het nie. Nogtans is daar ook geen nuwe teorie wat al die probleme oplos nie. Ons kennis oor die ontstaan van die boek is uiters beperk. As ’n mens nog losweg van bronne wil praat (soos ek wel doen) kan die volgende gesê word: J het die meeste van die belangrike verhale in Genesis voorsien (behalwe in die Josefverhaal). Hierdie verhale lyk eenvoudig, maar is dikwels baie kunstig vertel en dubbelsinnig in betekenis. E het net enkele onafhanklike gedeeltes bygedra, maar is soms met J vervleg. P het nie baie verhalende materiaal bygedra nie, maar het die breë raamwerk geskep en dikwels dele met mekaar verbind. Die geslagsregisters behoort meestal by P.
Kenmerke en teologie: In ’n sekere sin staan Genesis buite die Ou Testament as “ou verbond”, omdat die verbondsvolk Israel nog nie bestaan nie. Die “aartsvaders” is byvoorbeeld nie “Israeliete” nie, al is hulle die voorouers van Israel. Daarom praat Moberly van hierdie boek as “die Ou Testament van die Ou Testament”. Binne die breë raamwerk van die Pentateug verbind Genesis Israel se geskiedenis met die wêreldgeskiedenis. Die boek herinner ons dat God selfs in die Ou Testament nie net die God van Israel is nie, maar gedurig die hele skepping in die oog het.
Dwarsdeur die boek word menslike gebreke en swakhede genadeloos aan die kaak gestel. Terwyl byna alle volke verhale vertel waarin hulle voorouers as helde uitgebeeld word, is Israel se voorouers in Genesis blote mense met baie tekortkominge (Von Rad). Hulle is wel die draers van God se beloftes, maar hulle laat val gereeld die bal. Tog is hulle ook nie so sleg en vervalle dat ons alle respek vir hulle verloor nie: soms skitter hulle selfs. Van die karakters in die oergeskiedenis kan dieselfde gesê word. Trouens, in hulle geval is dit duidelik dat hulle tipies menslike optrede blywende voorbeelde aan ons voorhou. Hierteenoor staan God se verstommende genade. Al wys Genesis dikwels hoe mense vir hulleself God se oordeel op die hals haal, is die oordeelswoord nooit die enigste of die laaste woord nie. Party uitleggers praat van ’n patroon van sonde, oordeel en genade in Genesis. Dit is dalk oorvereenvoudig, maar dit is nogtans merkbaar hoe dikwels menslike foute op verrassende wyse ingewerk word in God se plan – al kom die sondaar nie ongedeerd daarvan af nie.
Nogtans kan ’n mens ook nie in Genesis praat van ’n skeppingsplan wat stelselmatig ontvou nie. Die klem lê eerder daarop dat God telkens ingryp en gebeure in ’n nuwe rigting stuur. Daar is altyd iets onvoorspelbaars en selfs paradoksaals aan God se optrede. God werk met en deur onwaarskynlike mense (die bedrieër Jakob, die witbroodjie Josef) om die onwaarskynlike waar te maak. Ons kan in Genesis inderdaad praat van God se “veranderlike trou” (Berkhoff): God verander om trou te bly aan die skepping.
PREEKSTUDIE – GENESIS 2:15-17; 3:1-7
Die teksgedeelte is onder die bekendste, moeilikste en mees omstrede gedeeltes in die Bybel. Die literatuur (populêr en geleerd) daaroor kan ’n biblioteek vul. Dit is dus onmoontlik om in ’n kort preekstudie volledig reg te laat geskied aan al die interpretasieprobleme en moontlikhede, veral as die konteks (in Gen 2 en 3 ev) ook in ag geneem word. Dit is nie eens moontlik om ’n enkele preekriglyn aan te bied nie, want ’n verskeidenheid preke kan elk net aan ’n aspek van die gedeelte reg laat geskied. Ek sal my dus in die preekvoorstel beperk tot ’n enkele tema (sonder om te ontken dat ander temas ook geregverdig kan word). Onder die hofie “teks” sal ek vlugtig die aandag vestig op sommige van die debatte, sonder om in die detail in te gaan. Onder die hofie “konteks” sal ek, ewe vlugtig, die aandag vestig op die soort teologie waarmee ons hier te make het en op die spesifieke vraagstelling wat in die preekvoorstel behandel word.
Teks
Die gedeelte vorm deel van die J se oergeskiedenis. Hoewel Von Rad se gedagte dat ons in hierdie hele verloop ’n prentjie van die stelselmatige uitbreiding van die sonde (na die skepping) kry, verdien Westermann se voorstel dat ons met ’n reeks tipies menslike sondes te make het (sonder klem op die orde) ook aandag.
1. Uit hierdie gedeelte self kan ons geen “erfsondeleer” aflei nie – daaroor is uitleggers dit eens. Dit beteken nie dat Genesis 3 beweer dat mense eenvoudig uit Adam en Eva se voorbeeld kan leer en die sonde kan vermy nie. Die vraag of God die sonde voorsien het en of dit deel van God se plan was, is glad nie in die blikveld van die gedeelte nie.
2. Hoewel die Christelike tradisie lankal agter die slang die duiwel (in vermomming) raaksien, is dit bepaald nie wat in hierdie gedeelte staan nie. Die slang is hier een van “die diere van die veld” (3:1) en sy straf (3:14) pas by ’n blote dier. Dat die slang kon praat, het die ou verteller nie gehinder nie, want hierdie gebeure vind in ’n oerwêreld – heel anders as ons wêreld – plaas.
3. Sommige uitleggers beweer selfs dat ons nie hier van ’n “sondeval” moet praat nie, omdat mense “kennis” verkry het en dus eintlik “volwasse” geword het. So eenvoudig is dit seker nie, want daar is van oordeel sprake. Dit is wel so dat Genesis dikwels toon hoe God mense se foute op paradoksale wyse ten goede gebruik. Niditch sê tereg dat ons hier te make het met die oorgang van die ideale skeppingsorde na die werklikheid met sy moontlikhede en gebreke. Of die toestand voor die val in alle opsigte beter was, is nie ter sprake nie; die toestand na die val is die werklikheid waarin ons leef.
4. Wat is “kennis van goed en kwaad”? Volgens sommige het ons te make met ’n stylfiguur (merismus) wat ’n geheel aandui deur uiterste perke te noem. “Kennis van goed en kwaad” sou dan beteken “alle kennis”. Al is dit so, moet ons byvoeg dat dit nie hier gaan oor kennis van alle dinge (feitekennis) nie, maar spesifiek oor oordeelsvermoë, wat morele kennis insluit. Mense het inderdaad hulle naïwiteit verloor en “kultuurwesens” geword, daarom is hulle skielik skaam oor hulle naaktheid en prakseer hulle vir hulself klere. Of kinderlike naïwiteit beter is as kultuurlewe, wat altyd onderdrukking en onreg insluit, is ’n vraag wat ons vanuit ons posisie eenvoudig nie meer kan stel nie.
5. Daar is ’n woordspeling met die Hebreeuse letters ‘rm in die gedeelte. Hulle kom voor waar daar gesê word dat die slang listig (of slim) is en dat die mense bemerk het dat hulle naak was. Ons kan dit probeer weergee deur te sê dat die mense slimheid nagestreef het, maar kaal daarvan afgekom het.
6. Die klem op naaktheid en op “ken, weet”, wat in Hebreeus ook op geslagsgemeenskap kan dui, het van vroeg af mense laat vermoed dat die eerste sonde inderdaad die seksdaad was (wat doelbewus nie direk genoem word nie). Selfs moderne uitleggers verdedig soms hierdie mening. Hulle wys byvoorbeeld daarop dat die slang in die antieke wêreld ’n vrugbaarheidsimbool was. Tog is hierdie uitleg uiters onwaarskynlik (om die minste te sê). Die Ou Testament praat dikwels en openlik oor seks en verdedig hoegenaamd nie seksuele onthouding nie (wel seksuele dissipline). Boonop verwys Genesis 2:24 reeds voor die sondeval na geslagsgemeenskap – sonder enige negatiewe konnotasies.
7. Was daar twee besondere bome, die boom van die kennis van goed en kwaad en die boom van die lewe, in die tuin? Genesis 2:17 noem net die een; die ander kom eers in Genesis 3:22 ter sprake. Sommige geleerdes dink dat daar twee bronne is wat hier gekombineer is, maar ’n duidelike antwoord is daar nie.
8. Dit is belangriker om te vra of die dreigement in 2:17 ooit uitgevoer is. Die slang beweer in 3:4 dat God nie die waarheid gepraat het nie: as mense van die verbode boom eet, sal hulle nie sterf nie. Die ou verklaring dat die straf wel voltrek is, hoewel dit uitgestel is, berus op die gedagte dat mense voor die sondeval nie aan die dood onderworpe was nie (vgl Rom 5:12). In Genesis 2 en 3 is daar nie genoeg getuienis om hieroor ’n uitspraak te maak nie. Die woorde “die dag” in 2:17 dui wel op onmiddellike gevolg, maar in Genesis sien ons dikwels hoe God se genade groter is as God se oordeel. Volgens sommige beteken die Hebreeuse uitdrukking “sal jy sekerlik sterwe” eintlik “is jy die doodstraf werd”.
9. Die hele Genesis 2 en 3 is besonder kunstig saamgestel, maar dit is nie moontlik om die struktuur in besonderhede hier te bespreek nie. Let tog op hoe die gesprek tussen die vrou en die slang kronkel. Die slang begin met ’n leuen, want God het nie mense verbied om van enige van die bome te eet nie. Dit sê die vrou, maar sy oordryf as sy byvoeg dat hulle sou sterf as hulle bloot die boom van die kennis van goed en kwaad aanraak. In hierdie atmosfeer van verdagte uitsprake trek die slang God se woord in twyfel en voeg ’n aantreklike “verduideliking” daarby. God wou nie vir mense alle goeie gawes gee nie, daarom het Hy hulle die vrugte van die een boom verbied. En juis hierdie vrugte is die hoogste prys: mense sal soos God word in kennis. God word dus heel “menslik” voorgestel – nie as “sleg” nie, maar as effe suinig en eersugtig. Om die gebod te oortree is eintlik om jouself van God se heerskappy te bevry en jou volle potensiaal te verwesentlik. Hoe uiters modern. Die slang het belowe dat die vrou se oë sal oopgaan en die vrou reageer asof sy reeds besondere visie het. Sy “sien” (oordeel) dat die vrugte goed is om te eet en geen kwaad kan doen nie, dat die vrugte inderdaad besonder begeerlik lyk en dat hulle die pad na kennis baan. Sy tree dus op asof sy reeds – soos God – alle oordeelsvermoë in pag het.
10. Daarby onderstreep Genesis 2 en 3 hoe sonde skeiding bring. Daar is onmiddellik vervreemding tussen die man en die vrou. Tevore was hulle been en vlees van mekaar – een vlees (2:23-24); nou is hulle soos vreemdelinge skaam vir mekaar (3:7). Later probeer die man selfs om die skuld op die vrou te pak (3:12). En op God: “die vrou wat U gegee het”. En dieselfde man het tevore die vrou met ope arms verwelkom. Dit word ook nodig om van God weg te kruip (3:8), hoe nutteloos so ’n poging ook al is.
Konteks
’n Groot struikelblok vir Christene wat vandag die Ou Testament lees, is dat ons dikwels (soos hier) te make kry met ’n soort teologie waaraan ons nie meer gewoond is nie. Dit is narratiewe (verhalende) teologie. In narratiewe teologie kry ons verhale in plaas van leerstellings, opdragte en argumente. Ons ken ook wel stories, maar vir ons is die eerste vraag wat ’n mens oor stories moet vra of hulle waar (histories) of vals (fiksie) is. As hulle waar is, vertel hulle ons bloot iets oor die verlede; as hulle vals is, is hulle net vir vermaak geskik.
Bybelse verhalende teologie gebruik verhale om die waarheid oor ons lewe vandag, ons moontlikhede en ons keuses, aan te spreek. Die eerste belangrike vrae is: Hoe raak dit my? Waar pas ek in hierdie storie? As ons sulke vrae vra, sal ons dalk vergeet van vrae waarop die Bybel vir ons geen antwoord kan of wil gee nie. Waar het Adam en Eva se kinders vroue gekry? Het hulle met hulle susters getrou? As ons oor sulke vrae redekawel, mis ons soms heeltemal sekere vrae wat die Bybel aan ons vra: Waar is jy, mens? Waar is jou suster en jou broer? Ons vergeet maklik dat alle teologie uit ’n besondere perspektief gelees moet word om betekenisvol te wees. “Verbly julle altyd in die Here” (Fil 4:4). Dit is duidelik genoeg, maar “altyd”? Is daar nooit ’n tyd vir trane nie? Paulus sê wel daar is. Ons verstaan hoe (uit watter oogpunt) sulke uitsprake bedoel is, omdat ons aan hierdie soort teologiese uitspraak gewoond is. Ons moet weer leer om die besondere perspektief van verhalende teologie te bemeester.
Verhalende teologie gee vir ons voorbeelde, maar hierdie voorbeelde pas nooit geheel en al op ons lewens nie. Hulle laat altyd ’n speelruimte vir aanpassing in die toepassing. Hulle trek die buitelyne, maar kleur nie die prentjie heeltemal in nie. Daarby laat hulle oop ruimtes, vrae wat nie beantwoord word of kan word nie. Elke storie bly binne sy raamwerk en probeer nie om die volle waarheid oor alles en nog wat te gee nie. Verhalende teologie haal nie die misterie uit mense se geskiedenis met God nie. Tog is stories eg menslik ook. Die verhaal van die sondeval is werklik u en my storie, die storie van ons tipiese reaksies. As ek myself nie in Adam en Eva herken nie, moet ek by Kaïn of Gam of die mense van Babel gaan soek. Meestal is daar ietsie van my op al hierdie plekke.
Wat ons beslis nie durf doen met hierdie “storieteologie” nie, is om die waarheid daarvan in die verlede te gaan vaspen. “Dit was alles daai vroumens se skuld.” “As Eva (of Adam of albei) nie destyds oortree het nie, het ons almal nog ’n paradyslewe gehad”. En vir hoe lank miskien? Dwarsdeur die geskiedenis van die kerk, selfs in die Nuwe Testament (1 Tim 2:13-14) word die skuld hoofsaaklik op die vrou gepak, hoewel die Nuwe Testament soms ook Adam as die sondebok aanwys, sonder om Eva te noem (omdat vroue in ieder geval nie tel nie). Met reg het vroue beswaar gemaak teen hierdie onbillike aanklag. Vroulike teoloë sien dikwels in Genesis 3 ’n tipiese voorbeeld van manlike chauvinisme: die eerste vrou het die eerste man verlei en alle vroue word vandag nog vir verleiers aangesien. Dit, sê, hulle, wys bloot vir ons dat die hele Bybel die tekens dra van ’n samelewing wat deur mans oorheers is en waarin mans die boeke geskryf het.
Laat ons die saak uit die oogpunt van verhalende teologie beskou, sonder om die geldige argumente van feministe te ontken. In ’n storie tree karakters op en word daar onderskei tussen verskillende karakters. Soms kan ’n karakter inderdaad “alle mans” of “alle vroue” verteenwoordig, maar dit is ook moontlik dat ’n karakter ’n besondere soort karaktereienskap – ’n swakheid of deug – kan verteenwoordig. Die vrou in Genesis 3 verteenwoordig beslis nie “verleier” nie, want daar is geen teken dat sy enige moeite moes doen om vir die man in ’n strik te vang nie. Die slang verlei haar wel – met redelike moeite. Dit is eintlik skrikwekkend hoe maklik Adam swig. Eva se gesprek met die slang en haar besluit neem byna ses verse in beslag; Adam se sonde word met ’n enkele woordeenheid in Hebreeus beskryf (“en hy het geëet”).
Beteken dit dan nie dat Eva die eintlike skuldige was en dat Adam half onwetend betrek is nie? Bepaald nie, want Adam weet goed hy is skuldig en hy val ook onder die oordeel (3:17-19). Ons moet eerder aanneem dat die verteller ’n doelbewuste kontras skep om twee verskillende soorte “oortrederspersoonlikhede” aan ons voor te hou. In Genesis 3 is daar geen sprake van meer of minder skuld tussen man en vrou nie, maar wel van twee kontrasterende soorte optrede wat gedurig vir alle mense slaggate is. Eva is inderdaad die meer aktiewe skuldige, maar sy bied ook meer weerstand. Op die ou end kan sy die versoeking nie weerstaan om “soos God te wees” nie. Sy oorskry die perke wat vir mense gestel is om haarself te verhef tot die goddelike. Adam se passiwiteit is geen deug nie; dit is pure lamsakkigheid. By hom is daar nie sprake van argumente, of versigtige beoordeling, of enige verantwoordelikheidsin nie. Eerder as om te hoog te probeer vlieg, sink hy rustig tot die vlak van ’n dier, wat vreet omdat daar kos voor hom is. Deur die vrou se val in besonderhede te beskryf en die man s’n in een woord, het die verteller treffend uitdrukking gegee aan twee uiterstes: oormatige ambisie wat met baie gepraat mense vergoddelik en passiewe onverantwoordelikheid wat mense byna woordeloos laat verdierlik.
Vir so ’n interpretasie is daar verdere steun in 3:16-19. Die straf van die oormoedige vrou is dat sy, in plaas daarvan om as ’n god te heers, self oorheers sal word. Sy sal soos ’n dier, maar met veel meer moeite en pyn, geboorte skenk. Die man word spesifiek daaraanherinner dat hy in die eerste plek (voor die vrou daar was) die gebod ontvang het. Die verantwoordelikheid was eerstens syne. Sy verdere straf is dat sy heerserstaak nou ’n slawediens word. Hy sal moet swoeg en sweet om bloot aan die lewe te bly – hy wat alte rustig en passief geneem en geëet het wat vir hom aangebied is. Die menslike kultuurtaak van die landbou (wat diere nie hoef te verrig nie), word op hom afgedwing.
Is die eienskappe wat aan die orde gestel word, tipies van mans en van vroue onderskeidelik? Seker nie. Dit gaan eerder om pole waartussen ons almal gedurig beweeg, afgronde wat alkante van ons paadjie dreig. Ons almal val dikwels by een van hulle af – gewoonlik om die beurt by albei.
Preekvoorstel
Toe ek self oor hierdie gedeelte uit hierdie oogpunt gepreek het, het ek begin sonder om enigiets uit die Bybel te lees. Ek het eers twee stories vertel (in die moderne tyd geplaas) waarin ’n vrou en ’n man op hierdie kontrasterende maniere “val”. Ek het die twee karakters nie name gegee nie en gesê dat ons later die name sal uitvind. Toe eers het ek uit Genesis 3 gelees en aan my karakters die name Adam en Eva gegee. Ek kon toe na aanleiding van my stories die tipiese in die Genesisverhaal illustreer. Maar ek het gewaarsku dat die name Adam en Eva nie die finale name van my karakters is nie. In die slot kon ek die lede van die gemeente vra om elkeen haar of sy eie naam in die storie in te skryf.
Dit is nie die enigste manier waarop die prediking aangepak kan word nie en ook nie noodwendig die beste nie. Ek stel wel voor dat predikers van hierdie gedeelte ruim gebruik sal maak van stories en voorbeelde om die skerp kontras duidelik na vore te bring. Gelukkig is dit nie moeilik om geskikte voorbeelde van albei hierdie lewensinstellings te vind nie – hulle is eenvoudig tipies menslik. Voorbeelde van waar mense deur hulle woorde of gedrag hulle perke oorskry het, staan wel meer duidelik opgeteken in die geskiedenis en in boeke. Die kaptein van die Titanic het glo voor die skip se eerste vaart trots verklaar dat selfs God die skip nie kan sink nie. Op soortgelyke wyse het baie “groot” manne (en soms vroue) groot uitsprake gemaak en later swaar aan hulle woorde gesluk.
Die ander instelling, wat verantwoordelikheid ontduik en afdaal na die vlak van die dier, gaan makliker ongesiens verby – soos Adam se sonde. Die belangrikste kenmerk daarvan is immers dat dit alles gelate aanvaar en niks besonders aanpak nie. (As ek van die vlak van die dier praat, bedoel ek nie wat ons soms noem “dierlike” optrede nie, maar die instinktiewe, onnadenkende gedrag wat by diere heeltemal normaal is.) Mense wat in hierdie slaggat trap, is alte inskiklik, alte gemaklik, alte “verdraagsaam”. Sulke mense verdwyn maklik (en graag) in die groep, daarom het hulle nie “groot stories” van hulle eie nie. Maar ons ken hulle almal: die een wat ongeërg die kosgeld wegdrink, wat uit vriendskap saamspeel met die bedrog, wat ingedagte steel omdat die kans daar is, en dies meer.
Predikers moet teen drie gevare waak. As die prediking vanuit hierdie oogpunt aangepak word, kan ’n mens nie ook oor al die ander temas in Genesis 2 en 3 praat nie. Die afbakening van die teksgedeelte beteken onder andere dat God se genade nie hier die hooftema kan wees nie (al hoort dit in die breër konteks). Selfs oor die afgebakende gedeelte kan ’n mens eindeloos praat as jy alles wil sê wat daar te sê is.
Baie dramatiese, skokkende voorbeelde van selfvergoddeliking of onverantwoordelikheid kan die gemeente laat vergeet hoe menslik, hoe alledaags, die trekke is waarmee ons hier kennis maak. Beide versoekings ontmoet ons met mooi gesigte en aantreklike name: as “hoë ideale” of as “aanpasbaarheid”. Vir die vrou was die vrug werklik aanloklik, ’n “nuwe uitdaging”, vir die man was dit gerieflik om nie “puntenerig” te wees nie.
In Genesis 3:1-7 word geen name gebruik nie. Miskien is dit doelbewus dat hier net van “die vrou” en “die man” gepraat word. In ieder geval mag die gemeente nie vergeet dat elkeen van ons hierdie vrou en hierdie man kan wees nie. Die verhaal laat ruimte vir ons name. In die slot is dit belangrik om te beklemtoon dat ons nie heen en weer vingers kan wys nie. Nie mans vir vroue of vroue vir mans nie en ook nie kerkmense vir “sondaars daar buite” nie. In Genesis 3 sien ons hoe mense – ons – is. Dit is met einste sulke mense wat God destyds gewerk het en vandag nog werk. Dit is vir sulke mense wat Jesus gesterf het.
Bibliografie
Hamilton, V (NICOT); Von Rad, G (Old Testament Library); Sarna, N M (JPS Torah Commentaries); Van Selms, A (POT); Wenham, G J (Word); Westermann, C (Augsburg); Brenner, A (red), A Feminist Companion to Genesis; Gillingham, S, The Image, the Depths and the Surface; Niditch, S Chaos to Cosmos: Studies in Bibiblical Patterns of Creation; Trible, P God and the Rhetoric of Sexuality: Van Wolde, E Stories of the Beginning.