Genesis 2:18-24 LR2003
Genesis 2:18-24
5 Oktober 2003
Sestiende Sondag in Koninkrykstyd
Liturgiese Voorstel
Fokusteks: Genesis 2:18-24
Ander tekste: Psalm 26/128; Hebreërs 1:1-4, 2:5-12; Markus 10:2-16
Inleiding
Daar is seker min dinge ons in huidige samelewing waar daar soveel hartseer en ellende beleef word soos in huwelike. Dit lyk in ons dag asof die huwelik se tyd uitgedien geraak het. Dit is net nie meer iets wat werk nie. Tog lees ons dat die huwelik 'n Goddelike instelling is waardeur en waarin die mens sy volheid vind. Daarom is dit vir gelowiges nodig om weer opnuut na die huwelik te gaan kyk soos God dit bedoel het: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke (Gen 2:18). Die huwelik is waarskynlik een van die aspekte van ons geestelike lewe wat maar baie min aandag in die prediking kry. Dit is nodig om met hierdie erediens iets besonders daarvan te maak.
God vergader ons voor Hom
Ons vier die koms van die Koninkryk van God. God herinner ons: Deur sy Gees werk Hy nuwe lewe, bring Hy ‘n nuwe koers: in ons huwelike, in die gemeenskap, by ons werk, ons land en die wêreld. Hy kom weer om uiteindelik alles heeltemal nuut te maak. (Volgens basis voorstel.) Vul egter vir hierdie Sondag aan met:
Aanvangswoord
Van die begin af, van die skepping af, 'het God hulle man en vrou gemaak. Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees,' sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag 'n mens nie skei nie
Gemeente antwoord
"Ons Vader" Lied 266/NSG 325
Seëngroet
Die gemeente groet mekaar met sy seën.
Sang
"Praat ek mens-, eng'letale" Lied 530:1 - 3 /NSG 190 "Goddelike liefdebande"
Diens van die Woord
Skriflesing
Psalm 128:1-6
Sang/antwoord
"O Here, neem my hande" Lied 532/NSG 310 (die enkelvoud 'my' kan deurgaans verander word na die meervoud 'ons')
Gebed vir die opening van die Woord/Epiklese
Skriflesing
Genesis 2:18-24
Prediking
Huweliksformulier
Met geleentheid vir getroudes om hulle huweliksbeloftes te herbevestig.
Sang
"Staan deur u Gees, o Here"Lied 535 /NSG 391
Diens van die Tafel
Instelling
Die brood en die beker herinner ons daaraan dat Jesus se liggaam gebreek is om hoop te bring vir ons gebroke verhoudings en huwelike. Sy bloed is gestort om ons met God te versoen, maar ook om ons weer met mekaar te versoen. Die herinnering aan die nagmaal roep ons dus telkens op om weer erns met ons huwelike te maak.
Lees
Markus 10:2-12
Die soenoffer van ons Here Jesus Christus sal ook ons huwelike aanraak en hulle nuut en vars maak.
Voorbidding
Vir huwelike
Uitsending
Dankoffer
Wet
1 Korintiërs 13:4-7
Sang
"Waar daar liefde is" Lied 526 (Herhaal 5 X)/NSG 61 "Heilig, heilig, heilig, Here"
Seën
Sang
"Amen" Lied 312 - 315 /NSG 355 en 366
PREEKSTUDIE – GENESIS 2:18-24
Teks
Vers 18-24/25 is 'n eenheid binne die groter geheel van Genesis 2 tot 3. Moontlik was dit 'n ou verhaal wat vertel is om 'n rede te gee vir die praktyk dat jonkmans met huweliksluiting hulle familie of stam verlaat en deel geword het van die vrou se familie of stam. Die mens se uitspraak eindig by vers 23. Vers 24 is 'n etiologie, die gee van 'n rede hoekom dinge is soos dit is. Genoemde praktyk in oud Israel was egter 'n uitsondering. Daarom argumenteer Meier dat dit 'n Kanaänitiese oorsprong het, terwyl Tosato dit as 'n latere invoeging lees, in die laat Persiese tyd, gemotiveer deur wette wat teen poligamie (veelwywery) gemik was. Feit is, vers 24 se uitspraak is vreemd aan die huwelikspraktyke in oud-Israel. Die uitsondering in die Genesis-verhale (en elders in die Ou Testament?) is Jakob wat sy pa en ma verlaat en deel geword het van Laban se huis (Gen 28-29). 'n Interessante moontlikheid mag wees dat hierdie gebeure rede vir die etiologie mag wees: sodat Israel mag weet dit was die Here se geheimenisvolle werk en wil dat Jakob/Israel sy vader en moeder verlaat en as deel van Laban se huishouding die vrou van sy hart aangekleef. Die rede vir Israel (Jakob en sy nageslag) se sondeval en gevolglike straf, het nie in hierdie "anti"-kulturele gebeure gelê nie. Inteendeel. Die verdere verloop van die vertelling maak duidelik waar die huis van Israel (as deel van die mensheid) se sonde begin het: ongehoorsaamheid aan God se gebod. Opvallend is Genesis 28: Esau "sondig" nie teen die kulturele gebruike nie; hy neem sy vroue op in sy pa se huis, maar hy sondig teen God se gebod deur met Hetitiese/ Kanaänitiese vroue te trou.
In vers 18-24 gaan dit primêr om die mens (Ha-adam) wat as alleen-mens onvolledig, onvoltooid is, selfs al is hy 'n lewende wese met God se asem (Gees) in hom (v 7), God se tuin, en (soos dit later blyk) die diereryk om hom. Sodat die Here God moet erken: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke" (v 18b, 20b). Die Hebreeuse woord "ezêr" beteken nie 'n slaaf of minderwaardige hulp nie, maar word in baie psalms gebruik vir die Here, in die sin dat Hy my Helper is wat my help waar ek nie self kan regkom nie. In ons teks word "helper" gekwalifiseer met "kenegdo". "Neged" is letterlik "teenoor", in die sin van gelykstaande aan, aanvullend (maar nie minder of meerderwaardig nie). Die mens kort dus 'n helper wat as ewemens hom kan aanvul in sy taak. Vers 15 is duidelik oor die mens se taak: om die tuin te bewoon, te bewerk en te bewaar. Skrifverklaarders is egter gou om daarop te wys dat die vroulike hulp nie in die eerste plek gemaak is om die mens te help om die grond te bewerk nie, maar daar is om aan hom aandag te gee, in sy emosionele en ander behoeftes te voorsien. Daar is naamlik twee woordspelings wat dit na vore bring: die mens (ha-adam) is gemaak uit "die grond" (ha-adamâ) – net so ook die diere – ter wille van die grond, terwyl die vrou (iššâ) uit die man (iš) en ter wille van die man gemaak is.
Die gedeelte moet nie gelees, verstaan of gepreek word as 'n wetenskaplike verklaring van die oorsprong van die mens, diere, vroue, of selfs die huwelik of seks nie. As mens dit doen, stuit jy voor die "probleem" dat God blykbaar onsuksesvol was in sy eerste poging om vir die mens 'n maat te kry; dat Hy hom misreken het toe Hy die diere gemaak het as hulp vir die mens. Dan kom vreemde verklarings na vore soos Hempel s'n, naamlik dat die mens die diere mishandel het, en God toe die vrou gemaak het om die mens te straf daarvoor! Hierdie is 'n vertelling waarin die verrassende element, die geheimenisvolheid van God se wonderlike werk op 'n speelse manier vertel word. Ons sien die glimlag om die verteller se mondhoeke wanneer hy vertel hoe God die diere maak en na die mens toe bring… en ons hoor die laggende reaksie van die hoorders wanneer hulle in hulle geestesoog die mens – en God – se "dilemma" raaksien. Om net die volgende oomblik te ontdek hierdie was net 'n voorspel tot die eintlike drama in die slaapkamer… wat God se operasieteater word. En waar die Here God sy grootste operasie kunswerk afrond, terwyl die mens – die man – diep slaap. Om daarna verras te word, en dit in verwondering uit te roep: "Uiteindelik!" "Hierdie keer…" So vind die man sy vervulling in die vrou; is hy aangewese op haar, sy "wederhelf" (die herkoms van hierdie woord is interessant: dit kan wees van wederhelfte = ander helfte, of meer van Duitse herkoms "teenoorstaande hulp" (Widerhilfe) = die letterlike vertaling van die Hebreeus.)
Aan die ander kant is die vrou net so aangewese op die man. Sy is naamlik uit sy liggaam geneem. Die vertelling dat sy uit die man se rib gebou is, was nie vreemd nie. Daar was in die ou wêreld allerlei skeppingsverhale, waar die metode en materiaal wat God/die gode gebruik het, baie gewissel het. Die vertelling dat die man uit die aarde (grond, stof) gemaak is, hang saam met die bogenoemde woordspelings, terwyl die skepping van die vrou uit die man se rib die aandag wil vestig dat die vrou deel was en is van die man (en andersom). Augustinus se opmerking is nog altyd van pas: God het die vrou nie uit die man se kop gemaak dat sy oor hom moet heers nie; ook nie uit sy voete dat hy oor haar moet heers nie, maar uit sy sy, die deel naaste aan sy hart, sodat sy langs en naas hom kan staan. Die Afrikaans "naaste" druk dit goed uit.
Die eerste frase van die mens (man) se "eerste minnelied" (v 23): "Hierdie een (vroulik) is been van my been en vlees van my vlees…", is die sogenaamde verwantskapsformule ("Verwandtschaftsformel"). Dit word telkens gebruik om familie/bloedverwantskap mee uit te druk. Die man herken hiermee dat die vrou sy bloedverwant is; dat hulle tot dieselfde familie/stam behoort. Die etiologiese verklaring van vers 24, waarna reeds verwys is, sluit hierby aan. Dit blyk hieruit dat die vertelling 'n (nie-wetenskaplike) verklaring gee vir die gebruik dat 'n man tydens en na die huweliksluiting deel word van sy vrou se stam. Wat beteken het dat as die vrou sterf, die man wettig 'n kind van sy skoonouers bly, en wettig ("in-law") 'n broer van sy vrou se broers en susters. Die "aankleef" van man en vrou en die "een" word (v 24), is in die eerste plek terme wat daarop dui dat hulle deel geword het van dieselfde (in hierdie geval die vrou se) familie. Die seksuele konnotasies is natuurlik nie uitgesluit nie. Dit gaan egter nie in die eerste plek oor seksuele aantrekkingskrag wat man en vrou na mekaar trek en hulle uit hulle eie beweeg tot 'n (permanente?) seksuele verbintenis (die huwelik) nie. Die huwelike van ouds is gesluit deur die ouers, wat hulle kinders aan mekaar gegee het, sonder dat die kinders mekaar noodwendig voor die tyd as mense geken of seksuele motiewe gehad het. Soos die pa en ma in "Fiddler on the Roof", wat hulle kinders moes vertel dat hulle maar na die huwelik, wat hulle ouers gereël het, leer om mekaar lief te hê. Die "een vlees" van vers 24b het dieselfde betekenis as "been van my been en vlees van my vlees". Een familie, een gemeenskap. Wat alle aspekte van hierdie gemeenskap insluit (kontraktuele wettiging, seksuele uitlewing, kinders, die voortbestaan van die naam van die gemeenskap).
Dit gaan dus nie net om die verhouding tussen een man en een vrou (binne die huwelik) nie. Ook nie net om die verhouding tussen die geslagte nie. Dit gaan ook om die onderlinge verhoudings binne 'n gemeenskap. Hier word vertel van die eerste mense-gemeenskap, as voorbeeld van mense-gemeenskappe in die algemeen (Gen 1-11), en die Israelitiese geloofsgemeenskap wat geroep is ter wille van die groter wêreldgemeenskap (Gen 12-50). Die verteller spreek die gemeenskap aan op 'n baie persoonlike vlak; elke hoorder moet weet: jy is die man!… of: jy is die vrou!
Vers 24 word in die Nuwe Testament sowel deur Christus (Matt 19:5; Mark 10:8) as Paulus (Ef 5:31) aangehaal, binne die konteks van die huwelik. Christus praat oor egskeiding, en sê dat dit nooit van die begin af God se bedoeling was nie, omdat God die twee huweliksmaats saamvoeg tot een, soos die teks aandui. Christus praat nie noodwendig van die monogame huwelik nie, maar van die permanensie van die huwelik. Paulus praat in Efesiërs 5:21-32 van die monogame Christelike huwelik wat begrond word in die liefde tussen Christus en sy kerk, en dit ook uitbeeld (huwelik en gemeenskap). Hy haal dan Genesis 2:24 aan, en sê hierin – in hierdie verhouding(s) – lê 'n groot geheimenis (God’s ondeurgrondelike skeppingswerk). Vers 25 word deur sommige gereken as deel van vers 18-24, as 'n samevattende opmerking oor die ideale verhouding wat binne die eerste mensegemeenskap geheers het. Dit is egter 'n oorgangsin na die res van die vertelling, wat terselfdertyd vir ons voorberei op die "sondeval", waar die eerste gewaarwording na die mense se ongehoorsaamheid skaamte en skande is (3:8).
Konteks
Vers 18-24 is 'n eenheid, soos genoem. Dit funksioneer egter binne die vertelling van Genesis 2, waar die skepping van die diere en die vrou deel is van die goeie God se lewensruimte, lewensgrense (gebod), en lewenstaak aan die mens. Saam met die man deel die vrou in al die voorregte en verantwoordelikhede. Wanneer oor Genesis 2 gepreek word, moet die hoofdoel of boodskap van die hele Genesis 2-3 in gedagte gehou word. Hierdie is een lang vertelling. Die elemente van Genesis 2 word in Genesis 3 teruggevind, en berei die drama van hoofstuk 3 voor. Die oorkoepelende struktuur van Genesis 2-3 vorm 'n chiastiese patroon (abccba):
Inleiding 2:4-7
Verkryging van paradys 2:8-25
a God gee die tuin (8-14)
b God gee verantwoordelikhede (15-17)
c God gee 'n helper (18-25)
Verlies van paradys 3:1-24
c Oortreding via en saam met helper (1-7)
b God roep tot verantwoording (8-13)
a Vonnis: God verdryf uit die tuin (14-24)
"Die gemeensaamheid van die mens wat geïllustreer word in die man en vrou, mag nie idillies uit Genesis 2 gepreek word, sonder die aaklige moontlikheid én werklikheid van die kwaad waarvan die tweede deel van die verhaal vertel nie. Die wonderlikheid van die mens se saamwees loop uit op die oortreding van God se gebod en hul gesamentlike skuld. Deur dit alles blyk God die goeie God te wees, wat goeie gawes gee, wat die mens bly opsoek en wat straf ter beskerming." (Leon Fouché).
Hierdie verhaal van God wat 'n gelykstaande hulp vir die mens maak, het oënskynlike ooreenkomste in die Babiloniese Gilgamesj-epos. Die moedergodin Aruru het Gilgamesj geskep as god-mens. Gilgamesj verdruk sy onderdane, wat die gode vir uitkoms smeek. Hulle vra dan vir Aruru om 'n ewebeeld van Gilgamesj te skep, iemand wat hom in onstuimigheid ewenaar, sodat die twee voortdurend met mekaar kan wedywer, en Uruk in rus kan leef. Daarop skep Aruru die magtige, heldhaftige, Enkidu wat teen Gilgamesj opgewasse is. Later in die teks woon Enkidu tussen die diere en word hy deur 'n vrou verlei. Die ontmoeting met die vrou is egter 'n eenmalige gebeurtenis: Enkidu moet nie met 'n vrou of medemens vriendskap hê nie, maar met Gilgamesj.
Die ooreenkomste met Genesis beklemtoon egter die verskille: in Genesis is daar nie baie gode, 'n oorlogsugtige god-mens en sy eweknie wat in voortdurende stryd met die mense of met mekaar is nie. Daar is een God wat net die goeie wil: vir die mens wat Hy geskep het om die skepping te bewerk en te beskerm, gee Hy 'n ewemens wat hom help om sy verantwoordelikheid uit te voer, en sy menswees te voltooi, sonder dat die een die ander oorheers of onderwerp. Die geweld, oorheersing, stryd en lyding word in Genesis eers deel van die wêreld na die mense se ongehoorsaamheid aan God (Gen 3). Daarteenoor word die kwade in die Gilgamesj-epos (en ander buite Bybelse verhale) beskryf as deel van die gode se skeppingswerk, deel van hulle geaardheid, wat deur 'n ewe sterk (gewelddadige!) mag in balans gehou moet word, sodat daar rus en vrede kan wees (Die ou-ou storie van 'n magsbalans, van vredesmagte, van 'n weermag.)
David Carr wys daarop dat Genesis 2:18-24 se naaste Bybelse analogie te vinde is in die man se loflied op die goeie vrou in Spreuke 31:10-31. Die loflied van Genesis 2 word egter 'n "crime and punishment" storie in Genesis 2-3, 'n polemiek (strydgesprek) teen die wysheidstradisie, in besonder teen die menslike poging om alles te weet (goed en kwaad), onafhanklik van God. Waar God se woord bevraagteken, geïgnoreer en eenkant gelaat word (En vergeet word dat die beginsel van die wysheid die "Vrees van die Here" is. Jakobus 2 praat van hierdie wysheid as aards, duiwels, ens. Die verteller sluit dus in Genesis 2 positief aan by die wysheidstradisie van Spreuke (31), net om in Genesis 3 die boosheid van goddelose wysheid uit te wys.
Genesis 2-3 is baie duidelik die begin van die groter verhaal van die volkerewêreld (die sogenaamde oergeskiedenis) tot Genesis 11. Dit is egter ook voorspel tot die Aartsvadergeskiedenis (Gen 12-50). Dieselfde temas word herhaal: die (Goddelike) geheim van menslike gemeenskap, en die raaisel van menslike sonde en verval. Wat in Genesis 2-3 beskryf word, is in 'n sin 'n samevatting van dit wat met die mensdom en met Israel gebeur het. Die mensheid, ingesluit God se mense, word hier verpersoonlik in die mens en die mense, man en vrou. Sommer hier aan die begin praat God nie in die algemeen nie, maar persoonlik met elke hoorder.
Preekvoorstel
As net Genesis 3:18-24/25 gelees word, moet verwys word na die hele verhaal van hoofstuk 2-3. In die eerste ronde kan egter net op Genesis 2 gekonsentreer word, in die tweede word Genesis 3 ook betrek: Waar die Westerse wêreld dit al vergeet het, sê die mense van Afrika: 'n Mens is (net) 'n mens deur mense. Indiwidualisme, waarin ons (ek) my identiteit soek, is soos God se eerste poging om vir die mens 'n hulp te probeer kry tussen die diere… behalwe dat ek – in my een-igheid – nogal ernstig is om myself te vind; terwyl God 'n bietjie met Homself en met die mens in hierdie storie spot. Sodat ons wat so ernstig is met ons individualisme en verkeerde soektogte, daartoe sal kom om vir onsself te begin lag (Vertel verse 18-20).
Maar, hierdie is 'n ernstige saak… baie boeiende, roerende stories is al geskryf oor hierdie selfde tema. Robinson Crusoe, wat alleen op 'n eiland uitspoel. En dadelik begin soek na iemand, 'n medemens. 'n Onlangse Robinson Crusoe-verhaal is die fliek "Cast Away", met Tom Hanks as die Crusoe. Op sy verlate eiland is daar net twee dinge wat hom bewaar van kranksinnigheid: die piepklein fototjie van sy verloofde, wat hy op 'n rots probeer oorteken. En Wilson, die wit sokkerbal, met die gesig wat hy met sy eie bloed daarop geteken het. Sy verloofde word net 'n vae herinnering en motivering hoekom hy wil teruggaan na die wêreld. Al geselskap wat oorbly, is Wilson. Aan die begin pla dit hom en word hy woedend dat Wilson nie terugpraat nie. Later pla dit hom nie meer nie, solank Wilson net daar is, kan hy maar praat. Soos die storie vorder, en dit duidelik word dat Wilson net maar 'n voorwerp is, 'n skepping van 'n alleen-mens, word die alleen-man (Hanks) al meer soos 'n dier, verloor hy al meer sy menswees. Daar is nog net een ding wat hom sy sinne op 'n manier laat behou: die ander mense, iewers anderkant die horison. Op 'n stadium oorweeg hy selfmoord, maar besluit dan daarteen omdat daar nie ander mense sal wees wat van sy dood sal weet nie – en dit daarom sinloos sal wees. Daar is net een sinvolle ding oor om te doen: hy bou 'n vlot met die hoop om in die diepsee opgepik te word. Want iewers is daar (weer) lewe… want daar is ander mense! Met die "morele steun" van Wilson se teenwoordigheid kry hy dit reg. Toe Wilson iewers in die see losraak en wegdryf, is sy smarte groot. Hy is nou man alleen. En op 'n manier weer mens, meer mens as die dier wat hy geword het. Want nou het daar net een hoop vir hom voorgelê… ander mense. Medemense.
Die oomblik as mens dink nou is die fliek klaar, nou is alles verby, die Cast Away totaal uitgeput en bewusteloos op die laaste oorblyfsel van sy vlot, dan is daar nuwe lewe, word hy wakker. In die regte wêreld van regte mense! Regtig gered deur regte mense!
Miskien is dit wat Genesis 2 vir ons wil sê: so is ons regtig gemaak. Met die behoefte aan mense. Medemense. 'n Gemeenskap. En in besonder: 'n medemens. Iemand wat ons regtig kan help, regtig kan terugpraat. Saam met ons kan dink, kan voel, kan speel, werk, lag, die lewe in God se wêreld kan geniet. Iemand vir wie ons kan liefhê en iemand deur wie ons liefgehê word. Ons eie skeppings, kunswerke, handewerk, kan net dien om ons in ons soeke na 'n regte mens van dierlikheid en kranksinnigheid te bewaar. Ons lewe word behou, sinvol, deur mense. Daardie spesiale mens, waarvan ek op die ou end kan sê God het ons vir mekaar gemaak. Dit is wat Genesis 2 vertel…
Maar ek het nog nie klaar vertel van "Cast Away" nie… In hierdie regte wêreld het die tyd nie gaan stilstaan nie, was ons Robinson Crusoe al lankal dood verklaar, en het sy verloofde van eertyds reeds met iemand anders getrou… Die "paradys" het eensklaps vir hom verander in 'n nagmerrie. Binne-in die wêreld waarna hy so gehunker het, was hy uitgesluit uit sy droomparadys. Terugkeer was onmoontlik. En die ergste: dit was niemand se skuld nie. Net maar die sameloop van omstandighede. Die noodlot.
Genesis 2 eindig ook nie in die droomparadys van geluk nie. Genesis 3 vertel van die nagmerrie. Die uitsluiting. Die geen-toegang bordjie aan die buitekant van die hekke, en God se brandwagte wat jou uithou. Maar die ergste is: dit was iemand se skuld. Die Robinson Crusoe vir wie God so 'n wonderlike maat gegee het. En die wonderlike maat self. Hulle twee was saam skuldig. En elkeen persoonlik. Die reëls van die lewe wat God hulle (saam) gegee het, het hulle bevraagteken, verontagsaam. En Saambou het Saamvou geword.
'n Mens is (net) 'n mens deur mense. Afrika se mense is reg as hulle dit sê. Maar dan vra die res van die wêreld: hoekom lyk Afrika soos hy lyk? – met al sy geweld, armoede, onderdrukking, vertrapping van menseregte (wat ook in die res van die wêreld voorkom!). Ons vertelling sê: ons menslikheid lê nie net opgesluit in mekaar, in die gemeenskap, die gesin, die huwelik, die spesiale verhouding nie. Ons skuld en skande is ook soveel groter in ons kollektiewe oortredinge. En persoonlike skuldbelydenis soveel moeiliker…en die redes wat ons kan aanbied vir die oorsake van die sonde, soveel meer… en die hele saak van hoekom ons wêreld lyk soos hy lyk soveel ingewikkelder.
Vir die Here God is dit egter heel eenvoudig: ek en jy, vir wie die Here gemaak het en vir mekaar 'n medemens moet wees, 'n hulp om mekaar verantwoordelik te hou, om mekaar by te staan in ons taak…ons het sy gebod oortree. En mekaar nogal gehelp om dit te doen. Ons, ek, is doodskuldig.
Gelukkig maak dit nie van God 'n geweldenaar nie. Hy bly vir ons goed. Hy gee ons weer 'n helper, 'n medemens, een soos ons. Een uit die mens, wat 'n broer vir ons geword het. Hom nie geskaam het om ons broer genoem te word nie, al het Hy al die rede daartoe. Hy vat ons, my, skuld op Hom. Hy sterf soos God beveel het. Maar Hy lewe weer, as die middelaar tussen ons, die gom wat ons saambind. Sodat ons nou as vriende, as huweliksmaats, as gesin, as kollegas, kan leef as 'n geloofsgemeenskap. Mense wat wel uitgedryf is uit Eden. Maar met die herinnering en die hoop op die paradys.
En met Jesus tussen ons leef ons solank iets hiervan uit. In die geloof, op die Here God.
Bibliografie
Beeston, AFL 1986. One Flesh, Vetus Testamentum 36/1; Burns, DE 1987. Dream form in Genesis 2.4b-3.24, Journal for the Study of the Old Testament 37; Clifford, RJ 1985. The Hebrew Scriptures and the Theology of Creation, Theological Studies 46; Carr, D 1993. The Politics of texual subversion: a diachronic perspective on the Garden of Eden Story, Journal of Biblical Literature 112/4; Lawton, RJ 1986. Genesis 2:24: trite or tragidy?, Journal of Biblical Literature 105/1; Meyer, SA 1991. Linguistic Clues on the date and Canaanite origin of Gen 2:23-24, Catholic Biblical Quarterly 53; Parker, K 1999. Mirror, mirror on the wall… , Journal for the Study of the Old Testament 83; Ramsay, GW 1988. Is Name-giving an Act of Domination in Genesis 2:23 and elsewhere?, Catholic Quarterly, 50; Reiser, W 1960. Die Verwandtschaftsformel in Gen. 2,23, Theologische Zeitschrift, 16/1; Scharbert, J 1993. Noch einmal zur vorgeschichte der Paradieserzählung (Gen 2,4b-3,24), Biblische Notizen 67; Tosato, A 1990. On Genesis 2:24, Catholic Biblical Quarterly 52; Ward, G 1995. A Postmodern Version of Paradise, Journal for the Study of the Old Testament 65; Antonelli, JS 1997. The Image of God, a feminist commentary on the Torah; Brueggemann, W 1982. Genesis, Interpretation, a Bible commentary for teaching and preaching; Fouché, HL 1988. Genesis 2 en 3 (Riglyne vir vier preke), Riglyne vir Prediking oor die Genesisverhale, in: Woord teen die Lig II/3; Fouché, HL 1992. Uit Gods hand; Oosterhoff, BJ 1972. Hoe lezen wij Genesis 2 en 3? Een hermeneutische studie; Van Selms, A 1967. Genesis deel 1, De prediking van het Oude Testament; Wenham, GJ 1987. Word Bible Commentary I, Genesis 1-15; Westermann, C 1974. Genesis 1-11, Biblisches Kommentar zum Alten Testament.