Genesis 22:1-14 LR2002
GENESIS 22:1-14
30 Junie 2002
Vyfde Sondag in Koninkrykstyd
PREEKSTUDIE - GENESIS 22:1-14
Teks
Von Rad beskou hierdie verhaal as die bes afgeronde vertelling van al die aartsvaderverhale. Brueggemann is van
mening dat hierdie verhaal in baie opsigte die einde van die Abrahamverhaal is. Ná hierdie hoofstuk tree daar ’n
soort ontspanning in. Dit is inderdaad so wanneer ons in gedagte hou dat die verhaal van Abraham eintlik konstante
spanning bevat. Hoewel die verhaal se verband met die voorafgaande verhale ietwat los is, is dis ook onmoontlik
om nie die pad wat God tot dusver met Abraham gestap het, in hierdie verhaal te verreken nie. Dit is so dat Abraham
sekerlik hier aan die strafste toets vir die gehoorsaamheid aan God blootgestel word. Die hele Abrahamverhaal is
egter een van toetsing. Vir ’n baie goeie bespreking oor die gedagte van toetsing kan Von Rad se kommentaar op
Genesis geraadpleeg word. Hy wys daarop dat dit nie ’n nuwe gedagte in die aartsvaderverhale is nie (12:1ev;
12:10 ev; 18:1 ev). Hy moes sy land verlaat en moes God se beloftes ernstig neem toe daar fisiek geen moontlikheid
van ’n nageslag was nie. Daarom het hy soms in twyfel verval en soms selfs die Here se woord geminag deur te
lieg (Gen 12:10-20; 15). Soms het hy en Sara hulle eie planne gemaak (Gen 16) en soms was God se belofte belaglik
en niks meer as ’n grap nie (Gen 17 en 18). Op ’n keer moes Abraham selfs sy geliefde kind laat gaan omdat
sy vrou nie vrede gehad het daaroor dat daar nog ’n moontlike erfgenaam kon wees nie (Gen 21). Maar nou is dit
die ergste toets vir sy geloof. Die Here se opdrag om Isak te offer is die terugkeer na onvrugbaarheid (Brueggemann):
"The entire pilgrimage from 11:30 has been for nought. Abraham has trusted the promise fully. Now the
promise is to be abrogated." Die verhaal word geskryf deur iemand "who has felt the horror in every fibre of his
being" (Hirsch). Kidner skryf: "The test, instead of breaking him, brings him to the summit of his lifelong walk with
God." En Brueggemann sê: "Only now we see how serious faith is."
Genesis 22:1-2: Die inleidende vers van hierdie gedeelte gee reeds die storie weg. Dit gaan oor ’n geloofstoets.
God is in die sinskonstruksie baie prominent. Dit gaan oor beproewing deur God: "Abraham’s trust was to be
weighed in the balance against common sense, human affection, and lifelong ambition; in fact against everything
earthly" (Kidner).
Dit nie korrek om te beweer dat God nie sy eie opdrag baie ernstig opneem omdat Hy die uitkoms sou gee nie.
Brueggemann staan ’n afdeling af aan die skynbare paradoks tussen toetsing en voorsiening. In Genesis 22:1 is
God die Een wat toets, terwyl Genesis 22:14 Hom voorstel as die Een wat voorsien. Volgens Luther bring dit God
in konflik met Homself. Hierdie saak sal in groter detail onder Konteks bespreek word.
Vir Abraham is die toetsing ’n doodsaak. Die Duitsers praat van Anfechtung. Hierdie tweevoudige karakter van die
verhaal speel die hele tyd op mekaar in (Von Rad). Von Rad sê: "For Abraham, God’s command is completely
incomprehensible: the child, given by God after long delay, the only link that can lead to the promised greatness of
Abraham’s seed (ch 15:4f) is to be given back to God in sacrifice. Abraham had to cut himself off from his whole
past in ch 12:1 f.; now he must give up his whole future." Luther is van mening dat hierdie toets veel erger is as die
versoekings wat uit die vlees opkom of deur die duiwel oor ons pad gestuur word.
Sommige verklaarders maak iets daarvan dat godsdienste rondom Israel moontlik kinderoffers gebring het. As
heidense gode dit van hulle navolgers vereis het, sou dit dalk ook vir Abraham ’n versoeking kon word om sy lojaliteit
aan God te betoon. Dit gaan egter nie in hierdie verhaal om dit wat Jahwe wil hê of nie wil hê nie. Dit gaan eerder
om ’n geloofstoets wat die Hére aan Abraham stel, nie om iets wat Abraham van sy kant af doen om God te beïndruk
nie: "Hirsch has correctly seen that over against this total divine sovereign right, anything Promethean on man’s side
is totally lacking" (Von Rad).
Genesis 22:3-4: Die uiters stadige tempo wat in die verhaal oorheersend word in verse 3-8 is opvallend. Die
spanning laai al hoe meer op. Abraham se sorg vir sy seun word gesien. Hy dra die gevaarlike voorwerpe. Die seun
verbreek die stilte. Abraham beweeg op God se bevel. Die verwysing na drie dae is waarskynlik om die "spanning
uit te rek" en om die volgehoue geloof van Abraham te beklemtoon. Luther is van mening dat hierdie spanning wat
oplaai so erg is dat hy dit byna nie kan uithou nie: "I could not have been a spectator, let alone a participant or the
executioner."
Genesis 22:8: Hierdie woorde van Abraham word deur kommentatore as een van die belangrikste uitsprake in
hierdie verhaal gesien. Dit staan tussen die toets wat in vers 2 aangelê word en die uiteindelike doel van God met
die toets, wat in vers 12 uitgespreek word. Volgens Brueggemann beweeg die verhaal hier van ’n probleem na ’n
oplossing. Dit sê iets van die antwoord van Abraham op die toets van God. Dit is duidelik dat Abraham met hierdie
"oop" uitspraak uiteindelik toon dat hy glo. Indien ’n mens die uitspraak van God in vers 12 in ag neem, is Abraham
se uitspraak reeds in vers 8 ’n aanduiding dat hy die toets van God "geslaag" het. Brueggemann sê: "Between the
two statements of divine inscrutability stands verse 8, offering the deepest mystery of human faith and pathos." En
Kidner sê: "His complete certainty of God, together with complete openness as to detail, makes this a model reply
to an agonizing question." Hy weet nie wat hierdie voorsiening sal behels nie, maar wéét dat die beloftes wat God
gemaak het, God se beloftes is en dat Hy die alleenreg het om daarmee te handel. Met hierdie uitspraak word die
eerste gebod duidelik onderstreep: naas God is daar niemand anders wat gedien mag word nie!
Konteks
Von Rad se meditasie oor hierdie gedeelte bevat, saam met die kommentaar van Brueggemann, die aksente wat
ons in die prediking aan die orde kan stel. Dit gaan hierdie verhaal beslis om ’n radikale toets van gehoorsaamheid.
God is totaal vry om te gee en te vra (Von Rad). Omdat ons die verhaal baie goed ken, is die beproewing van
Abraham nie vir ons te ernstig nie, aangesien ons weet dat daar uitkoms is. Brueggemann benadruk egter dat die
opbou van die verhaal duidelik veronderstel dat God regtig nie geweet het wat Abraham se reaksie sou wees nie.
Vir God is dit geen spel nie. Dit is ’n saak van dodelike erns. Daarom is vers 12 van uiterste belang: "Nou weet ek
dat jy My dien …" Dit veronderstel dat God dit nie geweet het nie: "He did not know. Now he knows. The narrative
will not be understood if it is taken as a flat event of ‘testing’. It can only be understood if it is seen to be a genuine
movement in the history between Yahweh and Abraham. The movement is from ‘take’ (v. 2) to ‘you have not
withheld’ (v. 12), and from ‘test’ (v. 2) to ’now I know’ (v. 12)."
Volgens Von Rad is daar veral drie gedagtes wat in die prediking aandag moet kry:
• die gawe van die belofte is God se gawe;
• binne hierdie konteks word Abraham getoets, en
• die doel van die toets is om te bepaal of hy God waarlik dien.
Von Rad beklemtoon dat ons nie moet dink dat dit God se bedoeling is om sy belofte aan Abraham te onttrek nie.
Van die begin van die verhaal af is dit nie op die tafel nie: "Abraham is confronted with the question of whether he
actually understands the promise as a pure gift of God and thus as something to which he has no legal right, no
human claim. The story gives confirmation of the absolute gift character of the promise (similarly Gen. 48:8-14). God
wills that none of his gifts should become for us an assured possession, least of all the gifts of his promise. Still
another implication immediately follows from this reflection: once Isaac was thus placed on the altar and given back
to God. He remains God’s possession in a very special sense."
’n Belangrike aksent wat Von Rad lê, en wat nie eintlik in preke oor hierdie gedeelte aangetref word nie, is dat die
lewe van mense wat in Christus se dood gedoop is, konstant in die teken daarvan staan dat ’n mens van die belofte
moet afstand doen. Ons lewe is en bly iets wat God skenk. Alle beloftes bly God se beloftes en is nie iets wat ons
besit of waaroor ons beskik nie. Elke keer wanneer ons in moeilike tye verkeer en God op ’n afstand voel, is God
besig om te toets of ons dit verstaan. Maar dan kan slegs God hierdie beproewings beëindig: "This is true of the
community just as it is true of the life of the individual, which through experiences of being tried and being comforted
is ever more and more being thrown upon God and committed to his grace."
Calvyn sê dat dit soms selfs goed is as gelowiges gekwel word deur die boosheid van hulle vroue of verneder word
deur slegte kinders of getref word deur die verlies van dierbares, sodat hulle nie alte veel onnodige vermaak sal hê
in die aangenaamhede van die huwelik nie – want laasgenoemde kan daartoe lei dat hulle aandag van die
toekomstige eeu (en dus van Christus) afgetrek word.
Brueggemann wy ’n lang bespreking aan die hele gedagte van beproewing of toetsing. Hy benadruk dat toetsing
van geloof onnodig is in godsdienste waar daar verdraagsaamheid is met betrekking tot ander gode. Die werklike
moeilike tye in die geskiedenis van Israel was altyd dié tye toe dit vir hulle aantreklik was om alternatiewe en
"makliker" gode as die ware God te dien. Wanneer God ons toets of beproef, is dit om te bepaal of dit wat ons sê
ons glo, naamlik dat ons geloof slegs op God gebou is, werklik waar is. Dat geloof getoets word, is ’n algemeen-
Christelike gedagte (Mark 13:9-13; 1 Pet 1:7; 2 Pet 2:9): "God tests to identify his people, to discern who is serious
about faith and to know in whose lives he will be fully God" (Brueggemann).
Coenie Burger se preek oor Genesis 22 is ’n groot hulp om die gedagtes hier bo te orden. Sy preek begin met die
punt dat mense weens die bekendheid van die verhaal nie meer die skrikwekkendheid daarvan begryp nie. Hy
verwys dan na twee legendes uit die Joodse literatuur wat ons help om weer die erns van dié gebeure te verstaan.
Die een legende vertel die verhaal vanuit Isak se hoek. Hy het nooit oor die kinderervaring gekom nie: "En daardie
kyk in sy pa se oë kon Isak ná die tyd nooit vergeet nie. Dikwels, jare daarna nog, as hy na sy pa gekyk het, was
sy knieë weer lam en het dit vir hom gevoel of hy naar word." In die tweede Joodse legende is Sara die hooffiguur.
Sy het nie geweet wat sou gebeur nie: "Toe Abraham egter terugkom by die huis en vir haar vertel wat byna met
hul kind gebeur het, het sy ses keer gegil en toe gesterf. ’n Ma!"
Maar dié legendes is nie die werklikheid nie. Die werklikheid is eintlik nog erger. Burger noem drie vlakke waarop
ons die verhaal kan verstaan. Eerstens verstaan ons almal wat kinders het die emosie van die moontlike verlies van
’n kind. Op ’n tweede vlak moet ons verstaan dat Isak al kind was wat hulle gehad het. ’n Mens kan verstaan dat
die Here soms van jou vra om van sondige dinge afstand te doen, maar met Isak was dit anders. Hy was God se
gawe. Dit bring ons by die derde vlak van verstaan. Isak was baie meer as net ’n enigste bloedkind. Hy was die kind
in wie die nageslagbelofte vervul is. Sonder hom sou daar nie seën na die nasies vloei nie. Hier konsentreer Burger
op die skynbare paradoks van God se gawe en eis en dat Hy in wese met Homself in stryd kom. Dit is Abraham se
grootste krisis. Dit is die toets. Hier steun Burger baie sterk op die gedagte van Von Rad: "Isaac is the gift of promise;
contained in him is all the blessing which God had promised to give to Abraham. Thus it is by no means only a case
of something natural, even though the story has to do with the offering of an only son; instead, it is a matter of
questioning every reassuring content of faith, or at any rate a certomen spirituale (Calvin: a ‘spiritual struggle’), that
is, God’s conflict with his own promise."
Volgens Burger is dit vir Christene wat deur hierdie toetsfases in hulle geloof moet gaan ’n troos om te weet dat
ander – soos Abraham – ook hierdeur moes gaan. Ná Christus weet ons darem ook meer van God se bedoelinge
as Abraham. Maar dit maak die toetse nie noodwendig makliker of die vrae is ons hart minder nie. Hoewel finale
antwoorde op beproewing nie altyd daar is nie, glo Burger dat Genesis 22 oor ’n paar perspektiewe beskik wat ons
kan help:
• Een is "dat die Here, ter wille van sy heilsplan, moes seker maak dat Isak nie té ’n sentrale plek in Abraham se
lewe begin inneem het nie. Soms gebeur dit met ons ook dat ons bepaalde gawes en stukkies genade so aangryp
dat ons skoon vergeet dat dit maar deel is van die pad saam met God". Die verhaal wil ons onder meer
"herinner hoe maklik dit kan gebeur dat God se gawes in ons lewe so uitgroei in belangrikheid dat dit later vir
ons belangriker word as God self ... Die Here moes seker maak van Abraham."
• ’n Tweede perspektief bring Burger in verband met Hebreërs 11:17-19. Die indruk wat die skrywer van Hebreërs
wek, is dat die kind wel geoffer is. Omdat hulle in hulle harte hulle seun aan God teruggegee het, was hulle
verhouding met hom nooit weer soos dit voorheen was nie. Net soos Isak nooit weer dieselfde na sy pa kon kyk
nie (alias die legende), kon Abraham ook nooit weer dieselfde na Isak kyk nie. Hy het besef dat hierdie kind
altyd God se kind sal wees. "Hy het geleer dat die gawes van God nie belangriker mag wees as God self nie."
Met verwysing na Paulus se gedagtes in 1 Korintiërs 7:29 en volgende verse sê Burger: "Dit kan gebeur dat ons
dit wat God aan ons leen – gawes, geliefde mense, voorregte, geleenthede; eintlik alles wat ons is en het – vir
ons begin toe-eien, dat ons later daaroor as ons eiendom begin dink, dat ons dit sien as iets wat ons toekom –
en voor jy jou kom kry, praat en dink jy so oor die dinge wat God aan jou geleen het. Daarom is dit nodig dat
die Here soms aan dié goed kom pluk, dit ’n tyd lank onttrek aan ons lewe ..."
Burger sluit die preek af met die vraag hoe ’n mens hierdie toets oorleef. Die antwoord lê in Genesis 22:8, naamlik
dat God self sy offerlam sal voorsien. Op die berg van die Here, Moria, het die Here inderdaad die offerlam gegee.
Burger sê dan: "Hy is ’n God wat kyk na sy kinders ... Oor die jare het Abraham die geleer: hierdie God is ’n God
van sy Woord ... As Nuwe-Testamentiese Christene weet ons dit natuurlik nog beter as Abraham. ... Op ’n ander
berg, op Golgota, het ons gesien dat God in sy voorsiening selfs nog verder gaan as op Moria. Daar het God finaal
voorsiening gemaak vir al die asse en dalks en sê nous van die lewe – so dit het Hom meer gekos as wat Hy nog
ooit van enige mens gevra het. Juis daarin, in die feit dat Hy self bereid was om te doen wat Hy Abraham in die
laaste oomblik gespaar het, naamlik om sy Seun in die dood te gee, sien ons sy liefde op die helderste blink. Sodat
ons ook nou kan weet: die lewe is nie altyd maklik nie; soms is daar snaakse draaie in die pad – ook vir kinders van
die Here. Maar op die berg van die Here, dit kan ons weet, sal daar altyd voorsien word."
Preekvoorstel
’n Mens wonder wat miskien in Abraham se gedagtes aangegaan het op pad Moria toe. Hy beleef die donker kant
van God. Die woorde van Steinthal is aangrypend: "It would be a hopeless task for any of the greatest poets in world
literature, from Aeschylus to Shakespeare and Goethe to imagine what Abraham and Isaac [said] to each other as
they were walking together to the place where the father would sacrifice the son." Hy bevind hom in ’n tonnel van
Godsverduistering, want God self tree anders op as wat Hy belowe het. God vra terug wat Hy gegee het. God krap
’n kruis deur wat Hy belowe het. God vra nie net sy kind, sy enigste, sy liefling nie. God vra die ganse toekoms en
hoop wat Hy aan Abraham gegee het (Gen 12:2, 3; 15:1-5; 17:15-17, 19, 20). Die radikaliteit van God se toets kan
hier ingekleur word. Die gedagtes van Von Rad, Brueggemann, Calvyn en Luther oor die feit dat God teen sy eie
beloftes ingaan, kan hier benut word. Ook Luther se gedagte dat niks teen hierdie beproewing opweeg nie, is
waardevol.
Ná God se belofte in Genesis 12 wag Abraham vir 25 jaar op die vervulling van die belofte. En nou dít! Raak dit nie
nou te veel nie? Calvyn skryf na aanleiding van Genesis 22: "Abraham moes die genadebrief eiehandig verskeur
en in die vuur werp. Niks behalwe dood en hel moes in hom agtergebly het nie. Sy siel moes grusaam geskud
gewees het en swaar geskok gevoel het toe Hy met God self en met sy Woord in konflik kom en hy die hoop en die
seën moes begrawe." Abraham sou kon vra: Bedoel God dit ernstig met my? Alles waarvoor Abraham geleef het,
was verniet. Von Rad skryf treffend: Abraham moes hom van sy hele verlede afsny (Gen 12). Nou moes hy sy hele
toekoms opgee.
En tog lees ons ná die opdrag van God in vers 3: Hy het gegaan. Is dit onrealisties? Het Abraham dit nie hier te ver
geneem nie? Was Bertrand Russell nie reg nie toe hy gesê het dat die hele gedagte om jou lewe weg te gooi in
diens van Christus, selfbelediging is? Nietzsche het gesê dat hierdie lewenswyse ’n drang na die dood verraai, ’n
weiering van lewe self is.
Hoekom kon Abraham dit doen? Die gehoorsaamheid van Abraham was nie natuurlik nie. Dit is gebore uit die
manier waarop God Hom aan Abraham geopenbaar het. God het Hom geopenbaar as Een wat sy woord hou.
Anders gestel, die getroue God wat die onmoontlike moontlik maak. God is die Een wat by pensioen nuwe toekoms
gee (Gen 12:2, 3). Hy is die God wat van ’n grap ’n buitengewone belofte maak (17:17; 18:13-15).
Wat gebeur wanneer ’n mens God só leer ken? Wat gebeur wanneer God Hom só aan jou openbaar? Abraham het
deur God se betrokkenheid by hom ’n visie op God gekry wat hom in staat gestel het om te sê: Die Here sal
voorsien. Die Here sal sorg. Dit het hom geleer glo. Dit het hom geleer gehoorsaam wees. Dit het hom, in stryd met
God, aan God laat vashou (Kierkegaard). God se betrokkenheid by hom het Abraham laat glo dat God die
onmoontlike moontlik sal maak (Heb 11:11, 17-19). Luther sê: ’n Christen is soos ’n held wat met die louter
onmoontlike omgaan. Dis om God om sy hals te val. Abraham het by God geleer dat God se toekoms en beloftes
sy beloftes is en dat Abraham nie self daaroor beskik nie. Daarom hang hy nie sy hart aan sy toekomsdrome, die
beloftes van God of sy nageslag op nie. Hy hang sy hart aan die God van die belofte op. Daarom kan hy sy seun,
sy toekoms, sy belofte aan God teruggee. Daarom: in die stikdonker tonnel waarin alles sinloos lyk, sien Hy vir God.
Daar kan hy sê: "My kind ... die Here sal voorsien."
Abraham is op ’n punt waar hy weer van voor af moes leer dat God alleen aan hom sekuriteit gee. Dit is net soos
die keer in Genesis 12 toe hy die eerste maal sy sekuriteite prysgegee het. Vandat Hy die eerste maal ja gesê het,
moes hy leer om altyd ja te sê vir God se visie. Daar was ook Abraham se mislukkings en twyfel (Gen 10 en 15).
Maar nou is hy op pad met die woorde: Die Here sal voorsien. Abraham het iets verstaan wat Jesus later sou sê:
"Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat sy seun of dogter liewer het
as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie" (Matt 10:37-39). Abraham het verstaan wat ons in Eksodus 20:4-
5 lees. Hy dien God met onverdeelde trou, stel sy wil en koninkryk eerste. Abraham sou kon gaan op die belofte
van God en sê: "Wat doen U nou?" Hy sou die Here seker daaraan kon herinner, maar hy loop God se pad.
Wanneer God Hom aan jou openbaar as die God wat altyd die toekoms in sy hand het, steek dit ’n vuur in jou hart
aan die brand. Dan dien jy Hom met onverdeelde trou. Dan stel jy sy koninkryk eerste.
God sal ons nie vra om ons seun of dogter fisiek te offer nie. Dié verhaal wil eerder ’n ander punt maak. Uit die
staanspoor is dit duidelik dat die verhaal ’n toets is. Dit gebeur dikwels in ons persoonlike lewe en in die lewe van
die kerk dat daar sulke tye van toetsing kom. Dit is die tye waarin ons lojaliteite en prioriteite opnuut geweeg word.
Die grootste gevaar vir die kerk is dat ons lojaliteite en prioriteite maklik skeef getrek word. Ons begin leef asof ons
die beloftes van God besit. Ons begin leef en optree asof ons die beskikkingsreg het oor die gawes van God.
Dit is in sulke tye dat ons soms getoets word. Coenie Burger vertel die Joodse legende oor die rede waarom
Abraham in hierdie krisis beland het: "Die storie herinner sterk aan die aanloop tot die Jobverhaal en vertel van ’n
dag toe Satan ná ’n inspeksietoer van die aarde met God aan die gesels geraak het. Satan sê toe dat hy ook ’n
vinnige verrassingsbesoekie aan Abraham gebring het. Toevallig was dit juis Isak se verjaardag en yslike
feesvierings was aan die gang. Groot vrolikheid, ’n yslike maaltyd, almal was uitgenooi. Maar, vertel Satan, hy het
ook slegte nuus vir God. Dis nou nie dat hy wil stories aandra nie, maar sy indruk is dat Abraham besig is om die
Here te vergeet. Die hele dag, sê Satan, is daar nie ’n enkele offer vir die Here gebring nie – nie eens ’n ou lammetjie
nie. Dis nou net Isak voor en Isak agter; Isak is al wat nog vir Abraham saak maak. Maar, so lui die storie verder,
die Here was nie oortuig nie. Hy het vir Satan bly sê dat hy ’n fout maak, dat dit nie kan wees nie, dat dit veral van
Abraham nie waar kan wees nie. Abraham het Hom lief, het die Here gesê, so lief dat hy vir Hom enigiets sal gee
indien Hy daarvoor sou vra. Kom ons toets dan vir Abraham, het Satan vinnig gereageer. Kom ons kyk of hy bereid
is om enigiets te gee wat U vra. Wat van Isak? Vra hom om Isak vir U te gaan offer! Dan sal ons weet; dan sal ons
mos kan sien of hy regtig alles, ook sy kind, in u hande sal plaas – hierop volg dan, volgens die legende, die
geskiedenis van Genesis 22."
Iemand vertel die verhaal van kinders wat ’n jakkals probeer vang het. Die een seun het die jakkals gejaag tot in sy
gat en daar ’n deel van die jakkals beetgekry. Hy het geskreeu: "Ek het hom! Ek het hom!" Kort daarna het sy wysie
verander: "Hy het my! Hy het my!" Net so kan dit maklik gebeur dat die Here se mense mag dink dat hulle nog in
beheer van ’n situasie is, terwyl hulle lankal vasgevang is in die spinnerak van nuwe lojaliteite. Prof Bethel Müller
skryf: "Daar is baie dinge wat ons kan opbou in ons land: ons bodem, taal, kultuur, wetenskap, ekonomie. Dis alles
belangrik ... Maar dan moet ons oppas dat ons nie so besig is net met die opbou van hierdie dinge ter wille van
hulleself nie, dat ons ons daarmee so afsloof dat ons te moeg en te lusteloos is vir die eintlike bouwerk aan die