Genesis 25:19-34 LR2002
Genesis 25:19-34
14 Julie 2002
Sewende Sondag in Koninkrykstyd
LITURGIESE VOORSTEL
Fokusteks: Genesis 25:19-34.
Ander tekste: Psalm 119:105-112; Romeine 8:1-11; Matteus 13:1-9, 18-23.
GOD VERGADER ONS VOOR HOM
Introïtuslied
Psalm 100:1, 3/NSG 22.
Votum
Tweede voorstel van basisliturgie:
"Die Here is goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie,
sy trou duur van geslag tot geslag.
Gaan sy poorte in met dankliedere,
sy tempel met lofgesange.
Dank Hom.
Prys sy Naam."
Drumpelgebed
Ons almagtige God en hemelse Vader, in die Naam van Jesus Christus wat uit die dood opgestaan en deur wie ons
die lewe ontvang het, kom aanbid ons U vandag. Dankie dat ons deur Jesus Christus vrygekoop is en altyd aan U
behoort. U is ons God en ons is u kinders. Gee ons die woorde en die hartlike oortuiging om u Naam te verheerlik.
Wees ons genadig en skenk ons u vrede. Amen.
Seëngroet
Aan almal van u, u vir wie God liefhet en vir wie Hy geroep het om aan Hom te behoort, genade en vrede vir julle
van God ons Vader en die Here Jesus Christus.
Aanbidding en lofliedere
Gesang 5:1, 3/NSG 10; SOM 4:1-3.
DIENS VAN DIE WOORD
Epiklese (na Psalm 119:112)
Geseënd is u Naam, Here ons God. U alleen is waarlik groot en verhewe bo enigiets wat leef en bestaan. U het vir
ons die gawe van u Woord gegee sodat ons daardeur tot wysheid en insig kan kom. Skenk ons nou die werking
van u Heilige Gees sodat u Woord kragtig in ons lewe sal werk en u koninkryk in elkeen van ons opgerig word. Laat
ons u stem hoor in die woorde aan ons wat vandag die evangelie van Jesus Christus verkondig. Laat ons ywerig
daarna streef om die opdragte van Jesus Christus uit te voer tot die einde toe. Amen.
Skriflesing
Genesis 25:19-34.
Prediking
DIENS VAN DIE TAFEL
As antwoord op die Woord van God wat so pas aan ons verkondig is, laat ons nou ons geloof in God Drie-enig voor
Hom, mekaar en die wêreld bely ...
Geloofsbelydenis
Voorbidding
Offergawe
UITSENDING
Sang
Gesang 201/NSG 155.
Bulletin
Lees
Romeine 8:1-11 en sing JSB 2 19:1-4.
Seën
Teks en konteks
Wat eksegetiese keuses en/of probleme betref, bied hierdie perikoop aan die prediker geen ernstige hindernisse
nie. Die grootste uitdaging hier is sonder twyfel om min of meer te probeer bepaal wat die teologiese motief agter
die skryf van hierdie verhaal was. Hieroor verskil die eksegete in baie groot mate.
Iemand soos Gunkel lees die verhaal binne die oeroue motief van die kulturele stryd tussen jagter en herder en dus
hoe vernuf uiteindelik brute krag uitoorlê. Verstaanbaar genoeg sou ’n mens nie hoop om hierin veel van ’n
teologiese motief te vind nie.
Westermann meen dat hoofstuk 25:19-34 min of meer die inleiding vorm tot die groter Jakob-Esau-geskiedenis en
dat hierdie gedeelte, saam met die gevolgtrekkings (hfst 35-36), daartoe dien om hoofstukke 25-36 tot ’n soort
familiegeskiedenis te maak. Hierin speel sleutelmotiewe soos dié van vlug-terugkeer en konflik ’n belangrike rol.
Persoonlik vind ek Brueggemann se kommentaar van die grootste waarde. Op sy kenmerkende manier soek hy nie
na ’n motief in die teks of ’n verklaring van die teks wat as ’n soort oorkoepelende antwoord al die vrae onder een
noemer plaas nie, maar laat hy die vrae in die teks vrugbaar op mekaar en veral op die leser inspeel.
Volgens hom val die perikoop in twee dele uiteen: verse 19-28 (die geboorte en die voorgeboortelike misterie wat
die geboorte kenmerk) en verse 29-34 (die stryd en kompetisie tussen die broers). "The two parts juxtapose the
inscrutable power of God with the self-serving cleverness of human desire. We will see that even in the latter, God’s
purposes are at work."
Dit bring ’n mens myns insiens by die teologiese hart van die perikoop. Dit gaan oor die misterie van God se keuse
en die manier waarop hierdie keuse van God konkreet gestalte kry in die lotgevalle, die keuses en ten slotte die
bestemming van sy verkorenes. ’n Sleutelvers is sonder twyfel vers 23, die antwoord van die Here op die vraag van
Rebekka: "Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die
ander, die oudste sal die jongste dien."
Hoewel laasgenoemde vers na Jakob heenwys, sou ’n mens ’n fout maak as jy meen dat dit hier gaan oor ’n drama
waarin Jakob die hoofrol speel. "Een ding staan soos ’n paal bo water, hierdie gedeelte wil nie die lig op Jakob, die
bedrieër, die sondaar, vestig nie, maar op die God van Jakob. Hierdie gedeelte wil egter nie net iets oor God se
modus operandi sê nie, maar dit het iets te sê oor God Self! Immers, dit is die God van Abraham, Isak en Jakob
van wie hier getuig word. Hy is soewerein, Hy besluit wat sal gebeur en dan gebeur dit inderdaad, selfs te midde
van menslike swakheid en bedrog!" (Cook).
PREEKSTUDIE - GENESIS 25:19-34
Miskien moet ’n mens in die hantering hiervan in ’n preek versigtig wees om nie sonder meer na die hele kwessie
van die uitverkiesing te spring nie. (Soos iemand soos Van Selms doen nie.) Behalwe vir die feit dat dit ’n groot mate
van voorspelbaarheid in die preek indra, verword die hantering van die uitverkiesing baie maklik tot ’n stuk
determinisme, wat radikaal vreemd aan hierdie teks staan. Dis juis die erns waarmee die karakters se keuses en
dade bejeën word wat die ruimte skep waarin die keuse van God aan die orde gestel word.
Juis om hierdie rede is die keuse van God nie voorspelbaar nie, is dit ’n verrassing, ja, selfs iets wat aanstoot gee.
Dis alleen in hierdie spanning waarin God se keuse nie die mens se keuse onbelangrik of tot niet maak nie en die
mens se keuse nie God se keuse kan dwarsboom of vernietig nie, waarin die goeie nuus van God se ewige guns