Genesis 32:22-31 LR2001
Genesis 32:22 – 31 (Robert Vosloo)
21 Oktober 2001
Negentiende Sondag in Koninkrykstyd
Ander tekste: Psalm 121; 2 Timoteus 3:14-4:5 Lukas 18:1-8 [Lutherse tekste]
God skenk nuwe identiteit deur worsteling
Teks en konteks
In Genesis 32:22-31 lees ons die geheimsinnige verhaal van Jakob se worsteling met ‘n man by die Jabbok-rivier. Dit is belangrik om hierdie gedeelte binne die konteks van die breër Jakob-vertelling in Genesis te plaas. Reeds van vroeg af blyk dit dat Jakob sy naam gestand doen. Hy is van jongs af ‘n geslepe opportunis. Soos Anton van Niekerk dit stel: Van die eerste Israeliet kan nie gesê word dat hy ‘n Israeliet sonder bedrog was nie. Van der Merwe (in Woord teen die Lig) stel dit ook duidelik dat die Jakob-verhaal vir geen sepie hoef terug te staan nie. Indien dié verhaal verfilm sou word, sal Jakob egter nie die goeie ou wees nie, maar die geslepe swendelaar. Ons kan maar net dink aan die episode waar hy die moeë Esau se eersgeboortereg met ‘n pot lensiesop verkry het. Of hoe hy bo Esau die seën van sy vader Isak verkry deur met ‘n bokvel oor sy arms hom as die harige Esau voor te doen. Nadat hy hieroor uit vrees weggevlug het en by sy oom Laban beland, blyk dit dat sy oom self nie iemand is wat agter in die ry gestaan het toe slinksheid uitgedeel is nie. Jakob moes toe veertien jaar in plaas van sewe jaar vir sy geliefde Ragel werk. Jakob laat hom egter nie van stryk bring nie en reël sake so dat sy rykdom vermeerder. Hierna verlaat hy Laban sonder sy toestemming.
In Genesis 32 lees ons van Jakob se terugkeer na sy land toe. Die terugkeer behels egter ‘n weerontmoeting met sy broer Esau. Dit is iets wat Jakob – sekerlik met goeie rede – vrees. Jakob stuur boodskappers vooruit en hulle keer terug met die boodskap dat Jakob met 400 man op pad is na hom toe. Met die hoor van hierdie nuus het Jakob bang geword. Hy het tot God gebid. Hierdie gebed is die langste gebed in die boek Genesis. Soos min ander gedeeltes weerspieël dit iets van Jakob se karakter. Daar is ‘n spreuk wat lui: Soos jy bid, so leef jy. Jakob bewys dit deurdat sy gebed ook van die opportunisme getuig wat sy lewe kenmerk. Dit spreek nie van ‘n gebroke hart en ‘n verslae gees nie. Nee, die Here word daarop gewys dat Hy die een was wat vir hom gesê het om na sy land terug te keer. Die Here het tog immers beloof dat dit met Hom sal goed gaan.
Uit die hele vertelling in Genesis 32 is dit duidelik dat dinge opbou na ‘n spanningspunt. Vir Jakob het die oomblik van waarheid aangebreek. Dit lyk asof sy verlede en skuld hom ingehaal het. Nadat hy sy planne vir oulaas gemaak het om Esau se guns te verkry, en sy vrouens, kinders, slavinne en besittings deur die rivier gevat het, het hy alleen in die nag by die Jabbok-drif agtergebly. Dit is hier in die nag – dit is figuurlik gesproke ook nag in Jakob se lewe – dat hy met die geheimsinnige teenstander geworstel het.
Met die lees van ons fokusteks uit Genesis 32 beur die vraag na vore met wie Jakob nou eintlik worstel. Wat is die identiteit van die een wat in die teks bloot ‘n ‘man’ genoem word? Is dit een of ander riviergod (Westerman, Van Selms), of ‘n verskyningsvorm van Esau, of dalk Jakob se skaduself? Meeste eksegete meen dat die duiding van die man as Jahwe die gevolg van ‘n lang tradisiegeskiedenis is. Tog blyk dit dat die verhaal nie te veel wil openbaar nie. As ons die teks in sy huidige vorm neem is dit duidelik dat Jakob meen dat hy met niemand minder as die Here self geworstel het nie.
In die verhaal lees ons nie veel oor die besonderhede van die worsteling nie. Ons weet wel dat dit heel nag geduur het, aangesien die vreemdeling met dagbreek wou gaan. Die verhaal laat heelwat vrae: Hoekom moet die man gaan? Is dit oor die vrees dat sy identiteit ontbloot sal word? Indien Jakob inderdaad met God geworstel het, wil ons vra: Watter tipe God is dit hierdie wat nie vir Jakob in die worsteling kan oorwin nie? As lesers voel ons dat ons met Brueggemann wil saamstem: ‘This is no ordinary man. And certainly no ordinary God! Clearly, this is no ordinary story.’ (267).
Na die worsteling vind daar ‘n belangrike gesprek tussen Jakob en sy nagtelike teenstander plaas. Jakob wil die man nie laat gaan voordat hy hom seën nie. Dit wil lyk asof Jakob die een is met die mag in sy hande. Hy wil sy posisie gebruik om iets uit sy teenstander te kry. Dit vreemdeling gee egter nie ag op Jakob se versoek nie. Dit is asof hy die onderwerp behendig verander en so weer die mag verkry. Nou moet Jakob antwoord. Nadat hy noem dat hy Jakob is, vind daar iets belangrik plaas. Jakob kry nie bloot ‘n seëning uit sy teenstander nie. Nee, hy kry ‘n nuwe naam – ‘n nuwe identiteit. Jakob (hakskeen/ gryper/ bedrieër) word Israel (stryd voer met God). Wat ook al die presiese etimologie, een ding is duidelik – ‘n onuitwisbare verandering het ingetree. Iets nuuts het tot stand gekom. Die aartsskelm word ‘n aartsvader (Bohren).
Na die ontvangs van die nuwe naam, vra Jakob met onverwagse voorbarigheid na die naam van sy teenstander. Hy wil ‘n ontsluiting van die identiteit van sy teenstander hê. Jakob kry dit nie (die weiering om die naam bekend te maak herinner ons aan Exodus 33). So bly God se verborgenheid behoue.
Brueggemann se kommentaar op die vertelling raak die hart van die saak: ‘Israel is not formed by success or shrewdness or land, but by an assault from God’ (269).
In die worsteling met God, word Jakob op die heupsenuwee geslaan. Jakob stap nie seëvierend en ongeskonde weg na die stryd nie. Hy loop mank aan sy heup. Terrien wys daarop dat die woord wat vir heup (Terrien praat van thigh) gebruik word ‘n eufemisme is vir die setel van voortplanting en dat die heup of dy-senuwee ‘n belangrike rol in sekere offer-rituele gespeel het. Dit wys op die dubbelsinnigheid van die seën. Dit behels nie net ‘n herbevestiging van die belofte aan ‘n nageslag nie, ‘but also carries a mysterious impediment and the curse of perennial pain’ (89).
Hierdie ‘vreemde’ kant van die Jakob verhaal, dien vir ons as herinnering teen ‘n onkritiese teologie van God as vriend. Natuurlik is God ons vriend, maar ‘God die vriend’ is nooit ver weg van ‘God die vyand’ nie (Terrien, 93). God laat hom nie deur ons vasvat in ons skemas en konsepte nie. Hy is die ‘elusive Presence.’ Hy is die Gans Andere. Willimon sluit aan by hierdie aksent wanneer hy, in ‘n preek met die titel ‘The Dark Adversary’ (op die internet onder www.chapel.duke.edu beskikbaar) sê: ‘The story of Jakob’s match with the stranger by the river asserts that this God is big, dark, real. Not a kind old gentlemen in the sky, but an assaulting adversary at night … God will not let us be. God wrestles with Jacob to give him that blessing and to lock him into his purpose. So too, God in Christ wrestles with us to rule over our lives, to pull us into the good purpose that he is working out on this earth’.
Jakob vernoem die plek egter nie na die donkerte of na worsteling nie, maar noem dit Pniel – ek het God gesien. Die plek word dus vernoem na die ontmoeting met God. Frederick Buechner se fiktiewe beskrywing van die gebeurtenis by die Jabbok, kan ons help om iets hiervan te verstaan:
‘I remember as blessing the one glimpse I had of his face. It was more terrible than the face of the dark, of pain, or of terror. It was the face of light. No words can tell of it. Silence cannot tell of it’.
Na hierdie worsteling, volg Jakob se ontmoeting met sy broer Esau. Onverwags lees ons in Genesis 32 vers 4: “Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil”. Versoening vind plaas. Op pad na sy broer moet Jakob egter eers sy verwondende (en seënende) God ontmoet (Van der Merwe). In ‘n preek vir konfirmante oor die gedeelte sê Bonhoeffer dat God in Jesus vir ons ‘n broer geword het, sodat ons Hom in elke broer kan herken. Na die ontmoeting met God is ons egter nie sonder ‘die tekens van die nag’ nie. Dit herinner aan 2 Korintiërs 4:10: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam met ons in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons lewe”.
Die teks leen hom uitstekend tot doop-prediking. In die doop gaan dit immers oor die herinnering aan en viering van ons nuwe identiteit in Christus. As gevolg van Christus se worsteling as vleesgeworde Woord, kan ons nuutheid toe-eien. Ons het ‘n nuwe naam, ‘n nuwe identiteit. Ons is nie meer slawe van die sonde nie, maar kinders van God.
Die verhaal van Jakob is ‘n verhaal waarin baie mense iets van hulle eie lewensverhaal in herken. Die Duitse teoloog Jürgen Moltmann skryf byvoorbeeld iewers ‘n meditasie oor die tyd wat hy as krygsgevangene (1945-1948) deurgebring het. Hy noem dit ‘Wrestling with God’ en gebruik die storie van Jakob se worsteling as storie waarin hy sy eie verhaal terugvind. Saam met ander was hy na die oorlog vasgevang in die verskrikkinge van die oorlog. Daar is met God geworstel oor oorlewing en om die donkerte van sinloosheid en skuld te oorleef. Die tyd het hulle mank gelaat, maar nie sonder seën nie: ‘In the labour camps, the night of cold despair fell on us, and in that night we were visited, each in his own way by tormenting, gnawing thoughts. But when we emerged we saw ‘that the sun had risen’. As a lasting reminder, as it were, each had somewhere or other “his lame hip” – the scars of that time in body and soul’ (Source of Life, 2). Moltmann vertel dat hy te midde van die verlies aan hoop en pynigende herinneringe God se seënende teenwoordigheid beleef het. Soos hy dit stel: ‘I never “decided for Christ” as is often demanded of us, but I am sure that then and there, in the dark pit of my soul, he found me. Christ’s God-forsakenness showed me where God is, where he had been with me in my life, and where he would be in the future … We expierenced with pain his hiddenness and remoteness, and we sensed that he looked upon us with ‘shining eyes’, and felt the warmth of his great love’ (5, 9). Moltmann eindig die kort meditasie treffend met ‘n aanhaling uit Psalm 30:
“Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.
Daarom sal ek sing tot u eer” (verse 12 en 13).
Preekvoorstel
In ons Skrifgedeelte lees ons ook van ‘n naamsverandering. Jakob word Israel. Hoe gebeur dit?
Dit gebeur dat Jakob te midde van ‘n krisisuur in sy lewe met ‘n man by die Jabbokdrif worstel. Jakob beleef dat hy met God self geworstel het. Dié worsteling bring verandering. In die Jakob-verhaal leer ons Jakob ken as ‘n aartsskelm en opportunis (hier kan die prediker iets van die Jakob-verhaal herroep wat op sy geslepe karakter dui). Tog kry hierdie bedrieër Jakob die naam Israel – die naam wat die volk van God dra.
Jakob voel dat hy hom vasgeloop het in sy lewe. Hy vrees die ontmoeting met Esau. Onverwags ontmoet hy nie eerste vir Esau nie, maar vir God. Hierdie ontmoeting bring verandering. Dit is nie noodwendig Jakob se situasie wat verander nie. Nee, dit is Jakob self wat verander.
Almal van ons ken van tyd tot tyd die vasgelooptheid wat Jakob by die Jabbok voor die worsteling beleef het. In sulke tye is daar uitsigloosheid en wanhoop. Ons werksituasie bring spanning en ons weet nie hoe verder nie. Of ons kry nie die negatiewe patrone in ons verhoudings verbreek nie. Te midde van sulke ervarings is daar die sterk behoefte aan iets nuut – om nuut te kan begin of ‘n woord te hoor wat dit weer vir ons moontlik maak om hoop te kan hê.
In sulke situasies is ons meestal skepties oor vernuwing. Ons teks sê egter dat nuutheid en verander moontlik is. Jakob word Israel. Dwarsdeur die Bybel sien ons sulke verandering. Petrus, die een wat Jesus verloën, word die begeesterde prediker op Pinksterdag. Saulus, die vervolger, word Paulus die kragtige getuie.
Ons teks sê egter nie net dat verandering en nuutheid moontlik is nie. Die nuutheid en verandering in Genesis 32 kom deur worsteling. Hiervan kan baie van ons van getuig. Ons beleef dat ons situasie hopeloos is. Daar word tot God geroep. Ons kla teenoor Hom. Ons vloek dalk selfs moontlik teenoor Hom. God word aangekla omdat hy nie ingegryp in ons situasie nie. Daar word met God geworstel.
Onverwags kom daar in die proses insig en uitsig. Daar kom vreemde hoop en geborgenheid. Te midde van die worsteling lyk die nuutheid nie moontlik nie, maar op ‘n vreemde en verrassende manier breek dit ons lewens binne.
Jakob word Israel na die worsteling. Die worsteling laat Jakob egter nie seëvierend in glorie nie. Hy word mank gelaat. Nuutheid is inderdaad moontlik en dit kom deur worsteling. Die worsteling laat ook sy merktekens. Die merktekens dien dikwels vir ons egter as herinnering aan hoe die nuutheid en hoop verwerf is. Die merktekens herinner ons dat nuutheid in ons lewens nie bloot kom deur ons eie inspanning nie, maar vanuit ons verhouding met God. Hierdie God is nie iemand wat ons kan beheer of mak maak nie. Hy is die Heilige Een wat ons oorrompel. Om deur hierdie God oorrompel te word is ons diepste hoop. Ons merktekens (wat verskil van persoon tot persoon) herinner ons aan wie God is en wat hy in ons lewens doen.
As gelowiges kan ons weet dat hierdie merktekens nie ten diepste tekens van wanhoop of vasgelooptheid is nie, omdat God ook geworstel het met die nag. Aan die kruis sien ons hoe Christus merktekens ontvang, sodat ons merktekens hoopvolle tekens van oorwinning en vernuwing kan wees. Dit is Christus se worsteling wat die vernuwing bring en ons worstelinge is opgeneem in hierdie worsteling van Christus. Dáárom bring ons worstelinge vernuwing.
In Genesis 32 lees ons dat Jakob ‘n nuwe identiteit kry deur worsteling. Voordat situasies verander, verander mense egter eers. Ons is meestal skepties oor sulke veranderings. Tog is dit juis wat Christus se worsteling aan die kruis kom moontlik maak het. Ons kan dalk nie maklik verander nie, maar ons kan verander word. Ons kan verander word deurdat God ons ontmoet en ons omvorm.
Fred Craddock, ‘n Amerikaanse professor in homilitiek (preekkunde), vertel iewers van ‘n insident wat ‘n groot indruk op hom gelaat het. Dit is ‘n storie oor nuwe identiteit. Hy en sy vrou was op vakansie iewers in ‘n dorpie in Tenesssee. Hulle het by ‘n tafel in ‘n restaurant gaan sit. ‘n Ou man het na hulle aangestap gekom en gevra hoe dit met hulle gaan en of hulle op vakansie is. Hy vra ook na hulle beroep. Professor Craddock wou graag verder met sy vrou gesels en antwoord die man: “Ek is ‘n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.
“O, so jy is ‘n man wat weet van preek”, kom dit toe onverwags, “Laat ek vir jou ‘n preekstorie vertel”. Professor Craddock moes sekerlik in sy lewe al na baie preekstories luister en het nie kans gesien vir nog een nie, maar voordat hy iets kon sê trek die ou man ‘n stoel nader en begin vertel:
“Ek was ‘n buite-egtelike kind. Ek het nooit geweet wie my vader is nie en dit was vir my baie swaar. As ek in die straat gestap het in ons klein dorpie, het ek beleef dat mense na my staar en in hulle gedagtes die verskriklike vraag vra: ‘Ek wonder wie se kind is dit?’. Ek het baie tyd alleen spandeer en nie baie vriende gehad nie.
Een dag het daar ‘n nuwe prediker na die dorpie gekom. Almal het gepraat oor hoe goed hy preek. Ek het nie eintlik kerk toe gegaan nie, maar een Sondag het ek tog gegaan om na hom te luister. Hy was inderdaad ‘n goeie prediker. Ek het weer gaan luister. Ek het altyd laat ingekom en vroeg geloop sodat ek met niemand hoef te praat nie. Een Sondag is ek egter so deur die boodskap meegevoer dat ek vergeet het om vroeër uit te stap en is tussen die mense vasgevang op pad uit na die uitspreek van die seën. Skielik het ek ‘n swaar hand op my skouer gevoel: “Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?”.
Met die hoor van dié vraag het daar ‘n siddering deur my gegaan. Al weer hierdie vraag oor wie ek is. Maar voor ek iets kon sê, sê die prediker: ‘Ek weet wie jy is. Jy is ‘n seun van God!”.
Nadat die ou man dit vertel het, sê hy: “U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander”. Die ou man het toe uit gestap en later noem die kelnerin dat die man met wie hulle gepraat het al vir twee termyne goewerneur van Tenessee is.
In Romeine 8 vers 15-17 lees ons dat ons in Christus en deur die Gees nie meer slawe van die sonde is nie, maar kinders van God en erfgename. Dit is ons nuwe identiteit. Die nuwe identiteit is vir ons deur Christus se worsteling aan die kruis verwerf. As volgelinge van Jesus het ons deel aan sy lyding (hierdie identiteit laat sy merk, vergelyk 2 Kor 4:10), maar dit laat ons ook deel in die heerlikheid van Christus. Hierin lê ons diepste geborgenheid en vreugde. Daarom kan ons ook soos die digter van Psalm 30 uitroep:
Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.
Daarom sal ek sing tot u eer (verse 12 en 13).
Bibliografie
Kommentare:
Brueggemann, W (Interpretation); Van Selms (POT); Westermann, C (Text and Interpretation).
Aanvullend:
Bohren, R, Trost: Predigten, 76-82; Bonhoeffer, D, Gesammelte Schriften IV, 44-50; Buechner, F, The Magnificent Defeat; Burger, C W, Müller, B A, Smit, D J (reds), Woord teen die Lig 11/3, 225-234; Miskotte, K H, Preken en meditaties (verzameld werken 3), 256-258; Moltmann, J, The Source of Life; Terrien, S, The Elusive Presence, 85-95 ; Wiesel, E, Messengers of God, p118-148; Van Niekerk, A; Van wanhoop tot vreugde, 56-63; Wolf, H W, … wie eine Fackel, 26-33.