Genesis 38 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 14 views
Notes
Transcript

Genesis 38

tiende sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks:        Genesis 38

Ander tekste:               Genesis 32:22-31; Psalm 17:1-7, 15; Romeine 9:1-5; Matteus 14:13-21

Inleiding

’n Belangrike punt in die koninkryksverhaal in Genesis is dat die nageslag van Abraham nie sou uitsterf nie. Wat in Genesis 38 gebeur is, dat Onan se optrede byna hierdie geslagslyn tot niet maak. Deur die skandalige optrede van Juda word Tamar en haar buite-egtelike kind Peres in die geslagslinie onder God se seënende bestel geplaas. (In die geslagsregisters van sowel Matteus en Lukas word Tamar en Peres geplaas in die geslagslinie van Dawid en Christus.) So ten spyte van menslike banale optrede laat God tog sy ryk kom deur die eeue. Sodat die krag daarvan in God en nie in mense nie geleë is.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangswoord

Begin die diens met die woorde: “God het ons hier voor Hom saamgebring.” Indien ander woorde gekies word, bly dit belangrik dat die gemeente daaraan herinner word dat God die leiding neem met die saamroep van die erediens. ’n Erediens is nie ons skepping nie, maar God wat deur sy Woord werk. 

Die formule kan verder soos volg uitgebrei word om die gemeente se aandag na die koninkryk te lei:

Voorganger:        God het ons (hier) voor Hom saamgebring in die Naam van Jesus, die Christus.

Gemeente:          Aan Hom wat op die troon sit behoort die lof en die eer.

Voorganger:        Mag sy Naam geheilig word.

Gemeente:          Mag sy koninkryk kom.

Voorganger:        Mag sy wil op aarde geskied soos in die hemel.

Gemeente:          Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.

Uit  Matteus 6; Openbaring 5:13

Of

“Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God! Luister tog na my en hoor wat ek sê” Psalm 17:6

Seëngroet

Voorganger:        Genade vir julle en vrede van God ons Vader en Jesus Christus, ons Here.

Gemeente:          Amen; en vrede vir jou.

Voorganger:        Amen

Groet mekaar

Sê vir die gemeente om mekaar met die seën van die Here te groet. Hierdie ritueel stig die gemeenskap. Noem by geleentheid dat hierdie onderlinge groet in God Drie-enig se naam die klem steeds plaas op God se groet. Ons groet mekaar met God se seën omdat ons glo dat God deur sy Gees in elkeen woon en werk.

Sang

Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors” Hierdie lied gaan uit van die gedagte van Jesus se heerskappy en raak by voorbaat verskeie liturgiese momente aan. Uit die Sionsgesange kan Lied 167 of 151 van pas wees as liedere wat Jesus se heerskappy in historiese verband besing.   

Diens van die water

Die nood van die skepping, mens en wêreld word voor God gebring. Dit behels ook ons eie nood aan voortgesette verlossing. Dit is ’n bede om reiniging en heiliging. Lees verder die gedagtes in die inleiding.

Doop of  doopherinnering

Doop en doopherinnering geniet gedurende die eerste fase van koninkrykstyd besondere aandag. In praktyk bring dit mee dat die doopvont, met water daarin, baie sigbaar is. Elke Sondag gedurende hierdie fase word lidmate op een of ander manier gevra om doelbewus hulle doop te bedink. Tekste uit die leesrooster bied leersame perspektiewe wat benut kan word. Die oordenking van die doop skep ’n goeie geleentheid om opnuut op die toesegging van die sakrament te antwoord.

Wet en skuldbelydenis

Openbare skuldbelydenis is diep ingebed in Reformatoriese liturgie. Die Tien Gebooie en ander skriftuurlike uitsprake oor die wet of die wil van God word afwisselend gebruik as aanleiding tot skuldbelydenis.  Deur die wet op hierdie Sondae saam te laat val met die diens van die water, word groter prominensie gegee aan hierdie moment van die liturgie.

Sing Lied 247 “Heer wees ons genadig”/NSG 233 – Kyrie, eleison.

Vryspraak

Wesenlik vorm dit deel van die “diens van die water” aangesien dit dieselfde vryspraak van God is wat in die doop verkondig word. Die gemeente omhels die gegewe reinheid wat God in Christus aan elkeen skenk wat sy sondes kan bely en so sy afhanklikheid van God erken. Elke gelowige eien hom/haar opnuut vergewing van sondes toe en verbind hom/haar tot nuwe gehoorsaamheid aan God.

Geloofsbelydenis

Ter wille van die beklemtoning van hierdie moment in die erediens word die geloofsbelydenis ook hier geplaas.  Dit onderskraag die gedagte dat ons geloof ’n basis het wat in die geskiedenis beslag gekry het.

Dit kan op verskeie maniere gedoen word:

         Die Apostoliese geloofsbelydenis of die Belydenis van Nicéa. Dit kan saam gelees of aangehoor word met bevestigende “amen”.

         Die geloofsbelydenis kan gesing word. Lied 259, 260, 261/NSG 348

Loflied

Lied 467. Ander gepaste Psalms sluit in: 29, 33, 66, 84, 98.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord

Begin die gebed met  Psalm 119: 9-16.

Skriflesing

Volg die ekumeniese gebruik om die tekste in volgorde te lees: Ou Testament; Psalm (word waar moontlik gesing of ’n ander voorganger voorgelees); Nuwe Testament; Evangelie. Indien sekere teksgedeeltes elders in die diensorde gebruik word, kan dit hier weggelaat word.

Sing ’n halleluja na die voorlesing uit die briewe. Lied 189; 206; 218; 228; 204

Sing ’n gepaste lied na die laaste Skriflesing. Sien voorstelle by elke Sondag.

Kindertyd

Vra vir die kinders wat is die slegste ding waarvan hulle die afgelope week gehoor of gelees het. Hulle antwoorde kan die liturg uitdaag om dan op ’n verbeeldingryke en kreatiewe wyse aan te toon hoe die Here dit sou kon gebruik om sy koninkryk in hierdie wêreld te vestig.

Prediking

Respons van die gemeente

Benut een van die volgende opsies:

         Die gemeente sing hul antwoord op die Woord uit enige gepaste lof- en danklied wat God antwoord.

         ’n Vrye gebed

         ’n Belydenisverbintenis word voorgehou en ’n paar oomblikke van bepeinsing word toegelaat.

Diens van die tafel

Die tafeldiens behoort elke Sondag vanaf die nagmaalstafel gelei te word sodat die sigbaarheid daarvan uitgewys word.

Gereedmaak van die tafel en offergawes

Die offergawes kan beskou word as deel van die gereedmaak van die tafel aangesien die middele vir die nagmaal hieruit voorsien is. Die gemeente word uitgenooi om iets van hulleself te gee soos Christus Homself vir ons gegee het. Ons offer word ook teken van ons een­­-wees met Hom in die nagmaal. Hier sou met vrug verwys kon word na Matteus 14 waar die dissipels ook die vis en brood na Jesus gebring het sodat dit in sy hand vermeerder kon word tot seën vir baie.

’n Gesin wat vooraf gevra is, bring brood en wyn na die nagmaalstafel.

Vredeshandeling (opsioneel)

Die vredesgroet word onderling verwissel. Gee mekaar ’n handdruk met die groet: “Vrede vir jou.”

Nagmaalgebed

Opmerkings oor die gebruik van die nagmaalgebed.

Omdat baie gemeentes dit prakties onuitvoerbaar vind om elke Sondag nagmaal te gebruik, kan sommige elemente van die tafeldiens op sulke Sondae weggelaat word. Dié elemente word met ’n asterisk aangedui.

         Met die oog op die toe-eiening wat in hierdie fase van koninkrykstyd belangrik is, word die klassiek-gereformeerde nagmaalgebed gereeld gebruik omdat ons ons daardeur verlustig in God se “groot dade” soos wat deur die Woord betuig word. Let op dat die aanvangsgedeelte van die gebed melding maak van drie hoofdade van God: die skepping, die bevryding en leiding van Israel en die verlossing deur Christus Jesus. Die laaste loop oor in die lof van Jesus.

         Die bewoording hoef nie slaafs nagevolg te word nie. Dit is wenslik om gedagtes of woorde uit elke Sondag se leesrooster te neem en dit in die gebed in te werk.

         Die vaste elemente by die diens van die tafel pas behoort elke Sondag gebruik te word ter wille van die ekumeniese aard daarvan en om die betekenis daarvan deur herhaling in te skerp: die sanctus (“Heilig, heilig, heilig …”) en die Agnus Dei (Lam van God).

Uitsending

Sang

Lied 190; Lied 200/NSG 43

Seën

“Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig, seën elkeen met die woorde: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God onse Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees, sal met jou wees”.

Amen.

PREEKSTUDIE – GENESIS 38

Teks en konteks

Daar is nie `n eenvoudige oplossing vir die vraag waarom hierdie storie, eie aan die J-bron, hier ingevoeg is nie aangesien dit die Josef-storie op `n belangrike punt onderbreek. Volgens Murphy is dit waarskynlik `n ou tradisie oor die patriarg Juda en die geslagte Sela, Peres en Serag wat later bygekom het (Gen 38:11, 29-30; Num 26:19-22; 1 Kron 2:3 ev). “The tribe of Judah seems to have been a latecomer to the tribal federation” (The New Jerome Biblical Commentary). Alhoewel daar nie in Rigters 5 in die oorwinningslied van Debora hiervan sprake is nie, het hierdie familie tog in die tyd van Dawid en Salomo `n leierskapsrol vervul.

Volgens Fox meen sommige geleerdes dat die onderbreking in die Josef-drama juis die spanning daarin verhoog terwyl ander weer meen dat dit die enigste plek is waar so `n belangrike tradisie oor hierdie broer van Josef geplaas kon word. Ten spyte van hierdie menings, is daar volgens Fox tog sekere tematiese verbindingslyne tussen hoofstuk 38 en die Josef-storie asook met die breër Genesiskonteks. Die verhaal verwys na die groei van Juda net soos in die geval van Josef. Juda het reeds in hoofstuk 37 `n definitiewe leiersrol begin speel toe hy Josef se lewe met sy voorstel gered het. Dit staan in teenstelling met Ruben se onsuksesvolle en selfgesentreerde reddingspoging. Die feit dat hy verantwoordelikheid neem, bewerk `n innerlike groeiproses by hom. Hy is die een wat later dadelik weet en erken wanneer hy ten opsigte van `n bepaalde saak of beginsel verkeerd opgetree het. Hy het ook geleer wat dit vir `n pa is om `n seun te verloor. Daarom wou hy later in sy lewe sy eie seun so desperaat beskerm.

Volgens Fox moes Juda ook in lyn met Bybelse denke eers erken hy het oortree en daarvoor gestraf word voordat aanbeweeg kan word na hoofstuk 39 waar seën begin deurbreek. Volgens die Bybelse boodskap kom seën en/of redding altyd eers na die erkenning van oortredings en straf. 

Nog `n tema wat dwarsdeur die boek Genesis voorkom, word hier herhaal, naamlik die kontinuïteit  diskontinuïteit tussen generasies. In hierdie verhaal gaan dit oor Peres en nie oor sy tweelingbroer nie wat `n voorvader van Dawid sou word. Hierdie tema word op amper soortgelyke wyse ook in die boek Rut voortgesit. Die verteller het hoofstuk 38 en 37 van Genesis eintlik met groot vernuf en kundigheid aanmekaargeweef (Fox). Dit gaan oor die fyn waarneming van sekere dinge – oor `n kind wat gebruik en `n seun wat verraai word. In hoofstuk 38 wel oor `n seun wat al dood is.

Dit is moeilik om te sê presies wanneer Juda `n volwassene geword het, maar dit lyk tog of dit in die tyd kon wees toe Josef na Egipte geneem is. Hy het egter apart onder die Kaänaniete gewoon. Hy het `n Kaänanitiese vrou getrou en by haar kinders gehad. Er, sy oudste seun, het vroeg gesterf. Die Israeliete moes so `n dood altyd verklaar. Hulle het dit toegeskryf daaraan dat hy God teleurgestel en beledig het. Daarom sou God sy lewe op `n vroeë ouderdom neem (7). Ons lees in 2 Samuel 6:7, parallel aan hierdie gebeure, dat die toorn van die Here ook teen Ussa ontvlam het en dat God hom net daar by die daad van heiligskennis getref het. Hy het op die plek, langs die ark van God gesterf.

Ons lees verder dat Onan, volgens die leviraats- of swaershuwelik van daardie tyd (Deut 25:5-10), met Tamar sy broer se vrou, moes trou sodat hy kinders vir sy broer kon verwek (8). Maar Onan het geweet dat die kinders wat gebore sou word, nie as syne beskou sou word nie. Daarom het hy elke keer dat hy met sy skoonsuster gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond val. Hy wou nie kinders vir sy broer verwek nie. Maar volgens die Israeliete was dit selfsugtig en verkeerd in die oë van die Here. Daarom het Hy ook vir Onan laat sterf (9-10). Nou stuur Juda sy skoondogter Tamar terug na haar pa se huis met die versoek dat sy `n weduwee bly totdat sy seun Sela groot genoeg is. Maar eintlik was Juda nie eerlik nie want, alhoewel Sela nog jonk was, was hy bang dat hierdie jongste seun van hom ook sou sterf.

In vers 12-23 neem Tamar die beheer oor. Deur haar versluierde optrede wil sy eintlik vir Juda op sy verantwoordelikheid wys. Interessantheidshalwe verwys vers 15 na die woord prostituut terwyl daar in vers 21-22 sprake is van `n tempelprostituut wat in daardie tyd deel was van die godsdienstige vrugbaarheidsrites. Was hierdie latere woordkeuse dalk `n poging om die oortreding te versag?

In vers 16-18 laat Tamar vir Juda betaal vir sy plesier deur sy seëlring, ketting en kierie te eis. Dit sou as identiteitsmerkers dien (25). Juda het egter besef hy het verkeerd opgetree en wou dit waarskynlik so stil as moontlik hou. Daarom, nadat sy vriend Gira terugkom en sê hy kry nie vir Tamar nie het Juda besluit dat sy maar die seëlring, ketting en kierie kon hou. Hy was bang dat te veel navrae mense bewus sou maak van wat hy gedoen het en dat hulle hom daaroor sou spot (20-23, Murphy en Aalders). Eintlik was Tamar volgens die wet van daardie tyd beskou asof sy aan Sela, wat aan haar beloof is, verloof was. As iemand wat verloof was, gemeenskap met `n man gehad het moes albei by die stadspoorte met klippe doodgegooi word (Deut 22:23-24; Lev 21:9). Juda waag dit egter om self die oordeel te vel. Hy beveel dat sy uitgebring en verbrand word, maar sy beroep haar op die identiteitsmerkers wat sy van Juda gehad het. Hy erken dan in die openbaar dat sy onskuldig is en hy skuldig omdat hy nie sy belofte nagekom het nie (24-26).

Dit is interessant dat die tema van tweelinge wat worstel, selfs in die moederskoot soos in die geval van Esau en Jakob (Gen 25:22-26), ook hier voorkom. Serag word geassosieer met `n rooi garingdraad. Hierdie naam hou verband met die Hebreeuse woord vir “die rooi van die dagbreek”. En Peres hou weer verband met die Hebreeuse woord vir “met krag vorentoe gekom” (27-30). Volgens Rut 4:18-22 en 2 Kronieke 2:5-15 is Peres die voorvader van Dawid die geslag waaruit Jesus Christus gebore sou word.

Preekvoorstel

Volgens Van Selms is die strewe van een geslag om nie uit te sterf nie, die belangrikste tema van hierdie hoofstuk. Dit word op negatiewe wyse aan Onan gedemonstreer en op positiewe wyse aan Tamar. Ons lees in Genesis 38:10 dat God vir Onan straf deur hom te laat sterf. `n Mens wil daarteenoor sê dat God vir Tamar seën, maar die skrywer sê dit nie. Tog sou ons dit so kon sien omdat `n tweeling vir die Israeliete op God se seën gedui het (Gen 25:24). Die wil tot voortbestaan deur `n nageslag kan teologies geregverdig word deur daarop te wys dat die Ou Testament Israel as geheel beskou as draer van God se heil. Met die geboorte van Jesus Christus, `n afstammeling van onder andere die verkeer tussen Juda en Tamar (Mat 1:3; Luk 3:33), het die teologiese regverdiging van `n geslag wat tot elke prys wou voortbestaan sy doel en einde bereik. Christus self, asook Paulus, het ongetroud gebly. Die kinders van die ander apostels het geen verdere rol gespeel nie.

Hier is dus `n definitiewe geslagslyn wat loop vanaf Abraham via Juda en Tamar tot by Dawid en uiteindelik Christus. Dit is nie vlekloos nie, maar tog seën God die geslagslyn en gebruik Hy dit. Want juis hierdeur sou Hy die geskiedenis inkom en sou Hy mense weer bloedfamilie maak. Dít gee `n mens hoop. Ook ons voel dikwels so hopeloos omdat ons vir God teleurstel deur ons optrede – net soos Jakob, sy seuns en Juda en Tamar. Hierdie gedagte sou op praktiese wyse na ons eie situasie deurgetrek kon word. Ons is mos baie familievas en -bewus. Ons hang ons familiewapens in ons huise op en teken ons stambome en registers voor in ons Familiebybel aan. Ons hou daarvan as die familienaam oor geslagte heen voortgedra word.

Dink vir `n oomblik na oor hoe die ou Jode en eerste Christene hierdie stamregisters (in die Bybel) bestudeer het. Vir sommige van hulle was dit seker van die interessantste leesstof wat daar was want elkeen het waarskynlik daarin gesoek of hy/sy nie deel daarvan was nie. Of op `n manier `n natuurlike voorouer se naam daarin kon vind nie want dít was Jesus se stamboom. Sy afkoms. Natuurlik is dit `n koninklike stamboom. Luisterryke name kom daarin voor: Dawid, Salomo en Hiskia.  Reguit, soos die Bybel is, kom ook minder goeie name daarin voor; Ragab die hoer, Tamar, Batseba wat op die dak gaan bad het en Rut `n Moabitiese vrou.

Die Nuwe Testament begin met die grootheid, maar ook die hartseer van `n geslagsregister. Juis dit beteken dat Jesus waarlik mens geword het. `n Mens met bloedfamilie. `n Mens met `n afkoms. Ja, God het in die geskiedenis ingekom in `n familie met `n skandaal of twee, ver terug. Die Fariseërs het na hul geseënde afkoms verwys. Hulle het gespog dat hulle kinders van Abraham was. Maar Jesus het geweet ...

Op `n dag het Jesus se aardse familie Hom laat roep. `n Menigte mense het rondom Hom gesit. Hulle sê toe vir Hom dat sy moeder, broers en susters Hom soek. Maar Hy antwoord hulle: “Wie is my moeder en my broers?” Hy het die mense aangekyk wat in die kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers. Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder” (Mark 3:31-35).

Ons is wel nie op natuurlike wyse deel van Christus se geslagsregister nie, maar is tog “bloedfamilie”. Christus het vir elkeen van ons kom sterf. Dit maak nie saak wie ons is of hoe ons families lyk nie. Die skandaal of twee, drie wat daar mag wees, kyk Christus verby want Hy verstaan. Ook in sy voorgeslagte was daar `n Juda en `n Tamar. Wat saak maak, is dat ons in Hom glo en Hom liefhet. Dan seën Hy ons soos `n Jakob, `n Juda, `n Tamar en `n Dawid.  So gaan `n nuwe en baie spesiale geestelike geslagslyn voort – een wat loop deur elke ras, volk en nasie.

Bibliografie

Aalders, C H Genesis/111;  Brown, R E, Fitzmyer, J A & Murphy, R E The New Jerome Biblical Commentary;  De Villiers, I L  Dalk familie van Jesus?;  Fox, E  The Five Books of Moses;  Schmidt, L Literarische Studien zur Josephgeschichte;  Van Selms, A  De prediking van het Oude Testament;  Wallace, R S  The story of Joseph and the family of Jacob;  Westermann, C  Genesis 37-50.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.