Genesis 39 LR2005
Genesis 39
elfde sondag in koninkrykstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks: Genesis 39
Ander tekste: Psalm 105; Romeine 10:5-15; Matteus 14:2-33; Genesis 37
Inleiding
Genesis 39 vertel van God se troue bewaring van Josef te midde van bedrog, leuens, valse getuienis, seksuele verleiding en misbruik. Psalm 105 roep die verhaal in herinnering as bewys van God se verbondstrou, terwyl Romeine 10 die Woord (Jesus Christus) wat in ons mond en harte is ook met ons verlossing verbind. Matteus 14 vertel van Johannes die Doper se dood, gevolg deur die voeding van die skare met die vyf broodjies en twee vissies. Die uitdaging van die liturg is om na aanleiding van die tekste die gemeente so te begelei dat die lewe met al sy risiko's omhels en bevestig word, terwyl lidmate terselfdertyd ook God se trou en beskerming ervaar. (Augustus is barmhartigheidsmaand en die metafoor van brood – in aansluiting by Matt 14 – kan gebruik word om sintuiglik en verbaal uitdrukking te gee aan God se liefde en bewaring.)
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Drumpelgebed
My pyn is nie u pyn nie,
myne is arm-mens pyn, God.
U breek, en vermenigvuldig,
maar hoe maak `n honger brood? Sheila Cussons
Sang
Lied 334:1-4 “God is liefde/NSG 67
Votum
Moontlike alternatiewe votum
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees. Psalm 105:1-3
Seëngroet
Voorganger: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen, en vrede vir jou.
Voorganger: Amen.
Groet mekaar
Sê vir die gemeente om mekaar met die seën van die Here te groet. Hierdie ritueel stig die gemeenskap. Noem by geleentheid dat hierdie onderlinge groet in God Drie-enig se naam die klem steeds op God se groet plaas. Ons groet mekaar met God se seën omdat ons glo dat God deur sy Gees in elkeen woon en werk.
Sang
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”. Hierdie lied gaan uit van die gedagte van Jesus se heerskappy en raak by voorbaat verskeie liturgiese momente aan. Uit die Sionsgesange kan Lied 167 of 151 van pas wees as liedere wat Jesus se heerskappy in historiese verband besing.
Aanbiddingslied (gemeente sit)
Lied 445:1, 3 “Drie-enige God, ons wil U eer”/NSG 11
Diens van die water
Verbondsvernuwing
Die liturg kan langs die doopvont stelling inneem en Psalm 105:4-11, 16-25 lees. Daar moet aan die gemeente verduidelik word dat ons doop `n teken is van die liefde van God wat nooit sy beloftes vergeet nie. Ons wat gedoop is, is ingesluit in die verbond wat God met Abraham gesluit, en met `n eed aan Isak en Jakob bevestig het. God self hou hierdie verbond in stand en net soos hy vir Israel uit slawerny bevry, deur die woestyn heen bewaar en Josef as leier geskenk het om verrassend aan sy volk uitkoms te gee, het Hy ook vir ons in Jesus Christus wat gekruisig is, maar uit die dood opgestaan het, `n wonderlike tweede kans gegee. Hiervan getuig die doop.
Skuldbelydenis
O my God, hoe is dit moontlik
dat U in hierdie wêreld so groot is,
en tog sien ons U nie raak nie;
Dat U U op soveel maniere bekend maak,
en tog vind ons U nie;
dat U so hard na ons roep,
en tog hoor ons U nie;
dat U so naby ons is,
en tog vergeet ons van u teenwoordigheid;
dat U u liefde uitstort oor ons,
en tog erken ons U nie?
Mense vlug van U af weg,
En sê dan hulle kan U nie sien nie;
hulle druk hulle ore toe,
en kla dat hulle U nie kan hoor nie.
O Here wees ons genadig. Hans Denck
Vryspraak (gebed)
Die woorde van Romeine 10:8-12a kan as vryspraak dien:
"En hierdie woord is die boodskap van die geloof en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: "Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie." "Niemand nie!" Amen
Loflied
Lied 280:1-3 “Here, Redder groot en magtig”
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Begin die gebed met Psalm 119:81-88.
Skriflesing
Volg die ekumeniese gebruik om die tekste in volgorde te lees: Ou Testament; Psalm (word waar moontlik gesing of ’n ander voorganger voorgelees); Nuwe Testament; Evangelie. Indien sekere teksgedeeltes elders in die diensorde gebruik word, kan dit hier weggelaat word.
Sing ’n halleluja na die voorlesing uit die briewe. Lied 189; 206; 218; 228; 204
Sing ’n gepaste lied na die laaste Skriflesing. (Sien voorstelle by elke Sondag.)
Kindertyd
Prediking
Respons van die gemeente
Benut een van die volgende opsies:
Die gemeente sing hul antwoord op die Woord uit enige gepaste lof- en danklied wat God antwoord.
’n Vrye gebed
’n Belydenisverbintenis word voorgehou en ’n paar oomblikke van bepeinsing word toegelaat.
Diens van die tafel
Voorstel 1
Die tafeldiens behoort elke Sondag vanaf die nagmaalstafel gelei te word sodat die sigbaarheid daarvan uitgewys word.
Gereedmaak van die tafel en offergawes
Die offergawes kan beskou word as deel van die gereedmaak van die tafel aangesien die middele vir die nagmaal hieruit voorsien is. Die gemeente word uitgenooi om iets van hulleself te gee soos Christus Homself vir ons gegee het. Ons offer word ook teken van ons een-wees met Hom in die nagmaal.
’n Gesin wat vooraf gevra is, bring brood en wyn na die nagmaalstafel.
Vredeshandeling (opsioneel)
Die vredesgroet word onderling verwissel. Gee mekaar ’n handdruk met die groet: “Vrede vir jou.”
Nagmaalgebed
Opmerkings oor die gebruik van die nagmaalgebed.
Omdat baie gemeente dit prakties onuitvoerbaar vind om elke Sondag nagmaal te gebruik, kan sommige elemente van die tafeldiens op sulke Sondae weggelaat word. Dié elemente word met ’n asterisk aangedui.
Met die oog op die toe-eiening wat in hierdie fase van koninkrykstyd belangrik is, word die klassiek-gereformeerde nagmaalgebed gereeld gebruik omdat ons ons daardeur verlustig in God se “groot dade” soos wat deur die Woord betuig word. Let op dat die aanvangsgedeelte van die gebed melding maak van drie hoofdade van God: die skepping, die bevryding en leiding van Israel en die verlossing deur Christus Jesus. Die laaste loop oor in die lof van Jesus.
Die bewoording hoef nie slaafs nagevolg te word nie. Dit is wenslik om gedagtes of woorde uit elke Sondag se leesrooster te neem en dit in die gebed in te werk.
Die vaste elemente by die diens van die tafel behoort elke Sondag gebruik te word ter wille van die ekumeniese aard daarvan en om die betekenis daarvan deur herhaling in te skerp: die sanctus (“Heilig, heilig, heilig …”) en die Agnus Dei (Lam van God).
Voorstel 2:
Nagmaalherinnering
Lees Matteus 14:13-21 wat vertel van die vermeerdering van die brode. Ons lees in die teks dat Jesus die mense innig jammer gekry het en nie hulle weerloosheid kon weerstaan nie. Hy het die 5 broodjies en 2 vissies vermenigvuldig sodat daar genoeg was vir almal om te eet. Ons weet dat Hy die Brood van die Lewe is wat homself vir ons gegee het sodat ons nooit weer honger sal kry nie.
Voorbidding
Augustus is Barmhartigheidsmaand. Dit is een van die goeie gebruike wat ons by die VGK erf. Die totstandkoming van Badisa hou hiermee verband. Dit kan dus ook groot vrug hê indien die liturg moeite doen om vooraf sake van barmhartigheid in die plaaslike omgewing en gemeenskappe bymekaar te maak en in die erediens voor God te bring.
Geloofsbelydenis
Dankoffers
Uitsending
Tien Woorde (as verbintenis en uitsending)
Of
Voorganger: As getuies van u genade en goedheid
en met harte versterk om vir U te leef
verbind ons ons, o Heer
uit: liefde vir U en ons naaste:
Gemeente: Om U te dien en niemand anders nie
om u beeld en gelykenis in Jesus Christus te eer;
om u Naam te heilig;
om u toekomstige dag te vier;
om ons ouers te eer,
… aan almal die lewe van harte te gun,
… die huwelik heilig te hou,
… nie te steel nie,
… niemand vals te beskuldig nie,
… en nie te begeer wat ons nie toekom nie. Amen.
Slotsang
Lied 562:1, 2 “Aan U, o God my dankgesange”/NSG 403:1, 2
Lied 269:2, 3 “God bly met u waar u ook mag gaan”/NSG 349:2, 3
Seën
Ons wat van die Brood van die Lewe geëet het
word nou self Brood vir die honger wêreld waarbinne ons leef:
Die genade van ons Here Jesus Christus
– die Brood van die Lewe
Die liefde van God ons Vader
– wat ons daagliks brood skenk
En die Heilige Gees
– wat van lewens brood maak
sal met u elkeen wees en bly. Amen
PREEKSTUDIE – GENESIS 39
Teks
Hierdie perikoop kan soos volg verdeel word: (i) Potifar verkies Josef (1–6); (ii) Josef weerstaan die versoeking (7-12); (iii) Josef word valslik deur Potifar se vrou beskuldig (13-18); (iv) Hy word in gevangenis gegooi en God is daar met hom (19-23).
Die tweede gedeelte van Josef se verhaal begin met hoofstuk 39. Dit is `n verhaal van vooruitgang. Josef, Jakob se seun, wat as slaaf verkoop is, word nou `n hoë amptenaar in diens van Potifar. Hierdie opgang word in drie tonele in hoofstuk 39–41 vertel. Die spanning spruit voort uit `n opeenvolging van fases. Die eerste fase, vooruitgang (v 2-6), word gevolg deur die groot val/nederlaag (v 7-20). Die volgende fase (v 21-23) word gevolg deur `n lang periode van stilte/kalmte (hfst 40). Elke gedeelte het daarom sy eie regmatige plek in die hele storie van vooruitgang. Met groot kundigheid is die verteller versigtig om elk van die drie tonele te skets. Dit het as `n geheel `n groot impak, sodat elkeen sy eie boog van spanning het met `n inleiding, klimaks en `n slot. Elke stap in elke toneel is `n voorbereiding vir die volgende wat gaan gebeur. Binne hierdie struktuur maak hoofstuk 39 slegs `n deel uit van ’n groter geheel.
Hoofstuk 39 begin met `n oorbruggingsgedeelte (v 1) vanaf hoofstuk 37. Dit is verder verdeel in opgang (v 2-6), val (v 7–20) en `n nuwe opstaan in die gevangenis (v 1-23). Die episode in die middel (v 7-20) word afgebaken in twee gedeeltes (v 2–6 en 21-23). Dit vorm `n sterk kontras en het as tema: Jahweh se ondersteuning. Die individualiteit van die verteller staan duidelik uit in beide die struktuur en in die implementering van die detail.
Konteks
Vers 1-6: Hier kom jy tot die konklusie dat `n mens se vyande jou van jou uiterlike prestasies kan beroof, maar wysheid en genade kan nie van jou weggeneem word nie. Hulle kan jou van jou familie, vriende en selfs jou land van geboorte beroof, maar nie van die teenwoordigheid van God nie. Mense mag uiterlike seëninge van ons weerhou, ons van vryheid beroof en ons tot onderaardse selle inperk, maar hulle kan ons nie uitsluit uit die gemeenskap met God of ons die seëninge van verlossing ontneem nie. Josef is wonderlik geseën selfs in die huis waar hy as slaaf was. God se teenwoordigheid met ons maak alles wat ons doen, voorspoedig. Die voorspoed van die swakke is op een of ander manier vir die saak van die godvresende. Hier is `n sondige familie geseën omdat daar een goeie dienskneg was.
Vers 7–12: Skoonheid in man of vrou is dikwels `n strik vir `n mens self, maar ook vir ander. Dit vra konstante waaksaamheid teen versoekings. Wanneer wellus die oorhand kry, ly ordentlikheid, reputasie en gewete daaronder. Potifar se vrou het gewys dat haar hart ten volle daarop ingestel was om boosheid te doen. Satan, toe hy sien dat hy nie vir Josef met die probleme van die wêreld kon onderkry nie, het hy hom gekonfronteer met plesier waardeur menige voor hom al geswig het. Maar Josef, met die hulp van God is toegerus om die versoeking te weerstaan. Sy wegvlug van die versoeking af was `n voorbeeld van die goddelike krag. Hy kon maklik toegegee het, want hy was in `n ver land. Indien hy sou toegee, kon hy verdere bevordering te wagte wees. Maar die almagtige genade van God het Josef gehelp om hierdie versoeking van die vyand te weerstaan. Ons is bestem om in eer, geregtigheid en dankbaarheid te leef. Ons moet nie dinge doen teenoor mense wat hul vertroue in ons stel nie al word dit in die geheim gedoen.
Josef sou nie sy God teleurstel. Drie dinge het hom weerhou: (i) Hy het besef wie hy is. Hy is een wat in verhouding met God is; (ii) Hy het geweet wat die sonde was waarmee hy versoek is. Ander mag dink dit is `n klein sonde, maar hy dink nie so nie. Sonde moet by die naam genoem word en nie minder ernstiger gemaak word nie; (iii) Hy het geweet dat hy versoek is om teen God te sondig. Sonde is teen God, teen sy eie natuur en sy heerskappy, teen sy liefde en sy bedoelings. Diegene wat God liefhet, haat om dié rede sonde. Die genade van God het Josef gehelp om die versoeking te weerstaan, deur die versoeker te weerstaan. As ons besluit om nie ongeregtigheid te pleeg nie laat ons daarom wegvlug met alles wat ons het.
Vers 13-18: Josef se meesteres het tevergeefs probeer om hom skuldig te maak, in `n poging om haar op hom te wreek. Min wetende dat diegene wat die band van eerbaarheid breek nooit behoue sal bly deur die band van waarheid nie. Dit is geen nuwe ding vir die beste van mense om valslik beskuldig te word nie deur mense wat hulself met die ergste gruwels besig hou. Maar ons moet onthou daar sal `n dag aanbreek dat elkeen se ware kleure gesien sal word.
Vers 19-23: Josef se heer glo die beskuldiging wat sy vrou teen Josef inbring. Daarom kies Potifar die tronk. Dit was volgens hom een van die ergste vorms van straf, maar God bestem dit as die weg waarlangs Josef se eer herstel word. Josef was die eiendom van God. Hy was ver weg van al sy vriende en kennisse. Hy het niemand gehad om hom te troos nie. Maar God was met Josef en het aan hom sy genade bewys. Daarom kom hy in die guns van die bewaarder in die tronk wat hom toelaat om die sake in die gevangenis te bestuur. `n Goeie persoon sal goed doen ongeag die omstandighede. Hulle sal tot `n seën wees selfs in ballingskap. Daarom moet ons nie vergeet om vir Jesus raak te sien deur Josef se verhaal nie. Jesus het ook gely onder versoekings al was hy nie sondig nie. Hy was die een oor wie kwaad gepraat is, wat vervolg en in die gevangenis gegooi is, sonder dat Hy enige oortreding begaan het. Hy word deur die kruis as troon verhewe.
Preekvoorstel
Josef se status as geliefde seun verander tot dié van `n slaaf. Tog hoor ons geen murmurering van wanhoop nie. Geen beskuldigings of klagtes word rondgeslinger nie. Hy is wel stil en sy stilswye dui op sy karakter. Deur dit alles vertrou hy op God se hoër plan vir sy lewe.
Wanneer `n mens in beproewing verkeer, is jy gou om God te beskuldig van onredelikheid of dat Hy nie omgee nie. Sommige mense laat toe dat teëspoed hul siele vergiftig. Sommige skree uit protes en sê: “as God goed was, sou Hy nie negatiewe dinge in my lewe laat gebeur het nie”. Dan gee hulle boedel oor en gaan so ver om God, sy Woord en sy kerk af te skryf. Hulle besef nie dat jy tog voorspoedig kan wees, al is jou lewe volgens jou verstaan omgekeer. Geloof laat toe dat jy op God vertrou al verstaan ons nie altyd sy doel met ons lewe nie.
Josef word beroof van sy veelkleurige kleed, maar nie van sy karakter nie. Die persoon in die kleed bly getrou al staar hy teëspoed in die oë. Josef word verkoop aan Potifar – nie `n eienaam nie, maar `n titel. Dit beteken “man van Farao”. In sy nuwe omgewing wy Josef al sy aandag aan sy nuwe werk. Ons moet nie verbaas wees nie wanneer vers 2 sê: “Die Here was by Josef en dit het baie goed gegaan met hom.” Josef was suksesvol ten spyte daarvan dat hy `n slaaf was. Potifar was slim genoeg om die besonderse bekwaamhede in Josef raak te sien. Daarom bly Potifar liefs uit Josef se pad en laat toe dat hy sy hele huishouding bestuur. Josef is eintlik `n voorbeeld van God se verbondsbelofte aan Abraham dat alle volke deur die Joodse volk geseën sal word (Gen 12:3). Potifar het ook erken dat Josef se diensbaarheid toegeskryf kan word aan sy verhouding met God (v 3). Josef het nie sy geloof in God in Egipte verberg soos baie mense maar graag doen as hulle in die vreemde is nie.
In Potifar se huis het Josef die Egiptiese taal, hul kultuur en die politieke sisteem van die regering aangeleer. Dit het hom voorberei vir sy onbekende toekomstige taak om as tweede hoogste offisier in Egipte op te tree (Gen 41). Niks wat met Josef gebeur het, was toevallig nie. Nee, in alles kan `n mens die soewereine hand van God gewaar. En soos Josef opgang maak in sy leierskap, neem Potifar se vrou kennis van hierdie jong man. Hy was tien jaar lank `n slaaf. Hy is 27 jaar oud wanneer hy versoek word. Hy is ver van sy familie en die land waar hy sy geloof geleer het. Hy kon toegegee het aan hierdie versoekings deur te dink “in Egipte kan ek doen wat die Egiptenare doen”. Hy kon verder gesê het dat God hom verlaat het. Waarom dan nie maar toegee aan die sonde nie? Hy is tog die eiendom van Potifar. Potifar se vrou kon dink dat sy geregtig was op hom. Hy redeneer met haar (v 8-9 ), maar sy luister nie.
Baie mense, veral ons jong mense, verval in versoekings wanneer hulle ver van die huis is. Dink maar aan studente wat vir eerste keer op universiteit in koshuise woon. Dit is eers wanneer jy versoek word dat jy uitvind hoe sterk jy is en hoe sterk `n mens behoort te wees. Versoekings op sy eie is nie sonde nie. Jy sondig eers wanneer jy toegee aan versoekings. Josef se versoeking was teen `n baie sterker en natuurlike aantrekkingskrag. Maar wat hy besef het, is dat God seks daargestel het. Saam met al die ander dinge wat God geskep het, het Hy gesê dit was goed. Slegs die skending en misbruik daarvan is sonde. Josef was `n politieke slaaf, maar nie `n slaaf van sonde nie. Daarom het hy alles moontlik gedoen om Potifar se vrou te vermy. Deur die sonde teë te staan, het sy karakter en oortuigings gegroei en het hy `n sterker persoon geword.
Die ongelowige wêreld sou vir Josef gelag en gesê het dat hy sy kanse op ’n stukkie verbode plesier verspeel. Hulle vergeet egter dat God ons nie keer om sonde te pleeg nie, maar Hy sal nie toelaat dat ons later daaroor goed voel nie. Dikwels bid ons die Onse Vader-gebed en sê: “lei ons nie in versoeking nie”, maar dan blameer ons vir God wanneer ons onsself in versoeking lei. 1 Korintiërs 10:13 verseker ons dat God uitkoms gee om versoekings te weerstaan. Maar dit is nie `n waarborg dat ons sal vlug nie. Dit moet vir ons van kardinale belang wees om te weet ons is swak sodat ons die situasies waar ons versoek word, kan vermy. As jy nie die plek van sonde wil binnegaan nie, moet jy nie by die deur van versoeking sit nie. Ons kan die duiwel die skuld gee vir ons sonde of ons kan verantwoordelikheid neem om versoeking te weerstaan. Satan sal ons aanpor, maar dit is vir ons om ten bloede weerstand te bied.
In 2 Petrus 2:9 word belowe dat “die Here weet om die godsaliges uit versoekings te verlos”. God sal altyd vir ons `n deur voorsien om van versoekings te vlug. Josef se versoeking is soortgelyk aan dié van Adam en Eva. Hulle het vrye toegang tot die hele tuin gehad, maar die boom van kennis en kwaad was vir hulle verbode. Josef het ook toegang gehad tot die hele huishouding van Potifar, maar nie toegang tot sy vrou nie. Soos die slang ons voorouers tot sonde gelei het, het Potifar se vrou probeer om Josef te verlei. Josef het weerstand gebied daarteen om Potifar se besittings vir homself toe te eien vir sy eie gewin. Hoe ons daaglikse verleidings kan hanteer, sal ons in staat stel om groot versoekings wat na ons kant kom, te kan oorbrug.
Na vele pogings om Josef te v