Genesis 40 LR2005
Genesis 40
twaalfde sondag in koninkrykstyd
liturgiese voorstel
Fokusteks: Genesis 40
Ander tekste: Psalm 133; Romeine 11:1-2a, 29-32; Matteus 15:10-28; Genesis 45:1-15
Inleiding
Genesis 40 vertel die verhaal van Josef wat in die tronk die drome van die bakker en die skinker uitlê. Hoewel die skinker beloof om Josef uit die tronk te kry, vergeet hy sy belofte en sit Josef aan die einde van die narratief steeds in die tronk. Volgens Brueggemann moet daar nie te veel oor die betekenis van die skinker en bakker se lot bespiegel word nie, maar skep die narratief slegs verdere spanning rondom Josef se lot en God se trou. Die vraag is of God van Josef vergeet het. Romeine 11:1-2 vra ook die vraag of God nie van sy belofte aan Israel vergeet het nie. Daar kan in die liturgie beweeg word van die ervaring van dat God ons vergeet na geborgenheid in God se trou. Matteus 15:10-18 vra die vraag na reinheid en kan in die moment van verootmoediging benut word.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Drumpelgebed
Hoe sal ek U ooit kan ken?
U is te naby, U is te ver,
U klewe aan my kyker vas,
Wykende, wyderende ster –
En om u stersyn kring u ruim,
En om u ruimtes – Wie?
Die gees verleng tot laster, leng…
en brand deur Wie; deur wat; deur Nié …
dan snap ek die genade –
suiwerder as weet, duideliker as pyn,
van wyk dat ek moet nader,
altyd verder nader …
O, verborge Wonder,
Magneet, wat ek sal ken! Sheila Cussons
Sang
Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde”
Aanvangswoord
Begin die diens met die woorde: “God het ons hier voor Hom saamgebring.” Indien ander woorde gekies word, bly dit belangrik dat die gemeente daaraan herinner word dat God die leiding neem met die saamroep van die erediens. ’n Erediens is nie ons skepping nie, maar God wat deur sy Woord werk. Die formule kan verder soos volg uitgebrei word om die gemeente se aandag na die koninkryk te lei:
Voorganger: God het ons (hier) voor Hom saamgebring in die Naam van Jesus, die Christus.
Gemeente: Aan Hom wat op die troon sit, behoort die lof en die eer.
Voorganger: Mag sy Naam geheilig word.
Gemeente: Mag sy Koninkryk kom.
Voorganger: Mag sy wil op aarde geskied soos in die hemel.
Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Uit: Matteus 6; Openbaring 5:13
Seëngroet
Voorganger: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen, en vrede vir jou.
Voorganger: Amen.
Groet mekaar
Sê vir die gemeente om mekaar met die seën van die Here te groet. Hierdie ritueel stig die gemeenskap. Noem by geleentheid dat hierdie onderlinge groet in God Drie-enig se naam die klem steeds plaas op God se groet. Ons groet mekaar met God se seën omdat ons glo dat God deur sy Gees in elkeen woon en werk.
Sang
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”/NSG 341(A). Hierdie lied gaan uit van die gedagte van Jesus se heerskappy en raak by voorbaat verskeie liturgiese momente aan. Uit die Sionsgesange kan Lied 167 of 151 van pas wees as liedere wat Jesus se heerskappy in historiese verband besing.
Aanbiddingslied (gemeente sit)
Lied 163 “Soos `n wildsbok”
Lied 164 “Ons is almal saam”/NSG 351
Verootmoediging
Soms het ons die ervaring dat God ons vergeet het. Maar God vergeet ons nooit nie, maar andersom word ons lewe gekenmerk deur vergeetagtigheid. Dit is eerder ons wat van God vergeet. Matteus 15:10-20 kan hier benut word.
Toe het Jesus die menigte nadergeroep en vir hulle gesê: Julle moet nou luister en mooi verstaan! Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie, maar wat by die mond uitkom, dit maak die mens onrein. Daarna het die dissipels na Hom toe gekom en gesê: "Weet U dat die Fariseërs hulle vererg het toe hulle gehoor het wat U sê?
Petrus sê toe vir Hom: "Verduidelik tog vir ons die beeldspraak." "Verstaan ook julle dit nog nie?" antwoord Jesus. "Begryp julle nie dat alles wat by die mond ingaan, na die maag toe gaan en daarna uit die liggaam uitgaan nie? Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart en dít is die dinge wat `n mens onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. Dit is die dinge wat `n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak `n mens nie onrein nie."
Skuldbelydenis
Kom ons bely ons vergeetagtigheid:
Ag, Here, my gedagtes neem so maklik die loop
langs onheilige en verbode paaie;
ek mislei myself so dikwels oor waar my plig nou eintlik lê;
ek verbloem so graag my werklike motiewe;
ek gee so maklik voor om beter te wees as wat ek is.
Here, my God,
U weet hoe baie keer my eerlikheid maar net in beginsel geld,
en nie noodwendig in die praktyk nie;
hoe dikwels my omgee vir my vriende maar net `n subtiele vorm van eiebelang is;
hoeveel keer die feit dat ek my vyande "spaar"
meer te doen het my lafhartigheid as met vergifnis.
Here, dan praat ek nog nie eens
van die goeie dade wat ek om net een rede doen nie:
om deur mense gesien (en geëer) te word;
om van die slegte dade waarvan ek my weerhou,
nie omdat ek U wil eer nie –
maar omdat ek bang is om uitgevind te word.
O heilige God,
Laat die vuur van u liefde in my hart brand
sodat dit die gemene skynheiligheid daarin sal verteer.
O Heilige Gees,
Skep vir my `n rein hart – soos dié van `n onskuldige kind. John Baillie
of
Heilige Gees, Transformeerder van die wêreld,
Laat die helende krag van God se liefde
my vandag só ontvorm, nee so geheel herskep,
dat ek `n instrument sal word wat U kan gebruik.
Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld
as `n plek van korrupsie, lyding, verganklikheid,
te help transformeer
tot `n gebied waar u lig en vreugde en liefde die deurslag gee.
Maak my so gehoorsaam aan U
O Gees van nuwe moontlikhede,
dat my lewe `n lewende gebed sal word,
`n getuienis van u troue teenwoordigheid
in elke tyd en omstandigheid. Martin Israel
diens van die water
Verbondsvernuwing
Romeine 11:1-2a, 29-32 kan aan die doop verbind word. Aan die begin van hoofstuk 11 vra Paulus of God Israel nie vergeet en verstoot het nie. `n Ervaring wat ons heel dikwels het. Paulus voer aan dat sy eie verlossing as Jood deur Christus die bewys is dat God Israel nie vergeet het nie. Soos Israel die besnydenis as teken van God se trou ontvang het, het die kerk die doop ontvang
Die doop is die teken van die nuwe lewe en genadegawes wat ons in Christus ontvang. God vergeet ons nooit nie. Hy sal ons nooit weggooi nie. Die teks kan verduidelik of gelees word: "As God eenmaal aan mense genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar noudat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm. Vroeër was julle heidene, ongehoorsaam aan God, maar nou dat die Jode ongehoorsaam geword het, het God Hom oor julle ontferm."
Toe-eiening van genade
Lied 508 “Vaste Rots op wie ek bou”
Loflied
Lied 464:2, 3 “O Heer my God”/NSG 29 – gemeente sit
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Begin die gebed met Psalm 119:89-96.
Skriflesing
Volg die ekumeniese gebruik om die tekste in volgorde te lees: Ou Testament; Psalm (word waar moontlik gesing of ’n ander voorganger voorgelees); Nuwe Testament; Evangelie. Indien sekere teksgedeeltes elders in die diensorde gebruik word, kan dit hier weggelaat word.
Sing ’n halleluja na die voorlesing uit die briewe: Lied 189; 206; 218; 228; 204.
Sing ’n gepaste lied na die laaste Skriflesing.
Kindertyd
Gesels met die kinders oor moontlike ervarings wat hulle kon gehad het dat hulle ouers vergeet het om hulle iewers te kom oplaai. Gee hulle kans om hieroor te gesels. Beklemtoon dan dat ouers wel partykeer kan vergeet. Is God vergeetagtig?
Prediking
Respons van die gemeente
Benut een van die volgende opsies:
Die gemeente sing hul antwoord op die Woord uit enige gepaste lof- en danklied wat God antwoord.
’n Vrye gebed
’n Belydenis verbintenis word voorgehou en ’n paar oomblikke van bepeinsing word toegelaat.
Diens van die tafel
Voorstel 1
Vergelyk voorstel 1 by diens van die tafel, elfde Sondag in koninkrykstyd.
Voorstel 2
Die nagmaal is by uitstek `n herinneringsmaal, `n onthou-ete. Die mooi gedig van Sheila Cussons waarin sy die ervaring het haar alledaagse dagtaak van kosmaak `n offer aan God word en hoe haar sweet die sweet van Christus word, kan by die nagmaal gelees word:
Nagmaal
Ek wou, maar ek het nie; wou gaan, dáár
wees in die kerk van ons buurt, in die ry loop
na die altaar en terug na my plek met die fyn kleef
van die skyfie op my tong. Ek dink al dae vooruit
aan hierdie Junie-dag, Corpus Christi
Het gevra: laat my vroeg wákker wakker word,
gou maak, die afdraand behartig met my anderhalf been,
die opdraand terug daarna. Niks van gekom nie – pýn.
Maar die kos wat op tyd in die potte,
en deur die haastige take, skil, afwas, opruim,
die stoom en tafeldek, toe `n druppel sweet
langs my slaap koel op my hand val, het ek sommer
gaan staan, en gekyk en gekyk daarna: omdat U nooit:
net “daar” is nie maar in die “hier” van elke
handeling bewus van U; selfs – by dreigende pot
en vinnige vadoek – só, blink onmiddellik op my vel.
Voorbidding
Geloofsbelydenis
Dankoffers
Uitsending
Tien woorde (as verbintenis en wegsending)
Of
Voorganger: As getuies van u genade en goedheid
en met harte versterk om vir U te leef
verbind ons ons, o Heer
uit liefde vir U en ons naaste:
Gemeente: Om U te dien en niemand anders nie
om u beeld en gelykenis in Jesus Christus te eer;
om u Naam te heilig;
om u toekomstige dag te vier;
om ons ouers te eer,
… aan almal die lewe van harte te gun,
… die huwelik heilig te hou,
… nie te steel nie,
… niemand vals te beskuldig nie,
… en nie te begeer wat ons nie toekom nie.
Sang
Seën
Gaan heen en weet
dat God u nooit sal vergeet nie:
Maar dat die genade van ons Here Jesus Christus
en die liefde van God
en die gemeenskap van die Heilige Gees
met u elkeen sal wees. Amen
PREEKSTUDIE – GENESIS 40
Teks
Genesis 40 is `n vertelling wat deel vorm van die groter verhaal oor hoe Josef uiteindelik tot onderkoning van Egipte vorder. Daar is `n duidelike lyn wat aansluit by 37:36 en 39:20. Hierdie verhaal handel oor die pad wat Josef moes stap en hoe hy in sy normale optrede deur God gebruik is. Dit het al die elemente van `n goeie vertelling. Tog is dit belangrik om die vertelling nie in isolasie te lees nie. Dit het op sy eie weinig betekenis. Die hoofstuk moet in die konteks geplaas word saam met die voorafgaande hoofstukke, asook die hoofstuk wat daarop volg. Dit is as `t ware `n deurgangshoofstuk wat `n narratiewe geskiedenis vertel. Die hoofstuk is `n skakel in die ketting van Josef se verhaal. Hier spesifiek sy vrylating uit die gevangenis.
Die vertelling begin by die verkeerde dade van die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers. Van Selms is van mening dat dit moontlik kan dui op `n sameswering teen Ramses III in 1164vC waar daar `n poging van die amptenare was om die farao te vergiftig. Of dit presies so gebeur het, weet ons egter nie. Daar word net genoem dat die farao baie kwaad was. Ons lees verder dat Josef die opdrag gehad het om hulle te bedien. Dit wil dus voorkom asof hulle baie belangrike gevangenes was aangesien Josef `n senior posisie in die tronk gehad het (39:21, 22).
Dit is myns insiens tog belangrik om te let op wat sy werk in die tronk was. Alhoewel hy `n senior posisie beklee het, was hy steeds `n dienaar wat moes werk. Dit was deel van sy dagtaak om ander te bedien. Dit wil ook blyk dat hy die taak geruime tyd gedoen het voordat die amptenare hulle drome gehad het. Wat die drome in vers 5 betref, moet onthou word dat die drome self nie so belangrik was soos hulle betekenis nie. Elke droom in die Bybel het `n definitiewe betekenis gehad. Ook in die verhaal word die betekenis van die drome belangrik geag. Dan lees ons in vers 8 hoe Josef aan God die eer gee vir die uitleg van die droom. Droomuitlegging is God se saak. Hy gee die drome en ken daarom die betekenis van die drome.
In vers 9-22 word die drome beskryf en uitgelê. Dit wil tog voorkom asof die inhoud van die drome nie werklik teologiese betekenis het nie. Die drome se doel is om die leser by vers 14 en 23 uit te bring. Die droomuitlegging gee `n mens hoop in die storie want Josef bring hier `n versoek dat die skinker hom nie moet vergeet as hy vrygelaat word nie (14). Op die einde blyk dit tog dat die skinker hom “aanvanklik” vergeet het (23).
Konteks
41:1-15. Om die doel van Genesis 40 te verstaan moet 41:1-15 ten minste saam gelees word. Trouens, ek is van mening dat hoofstuk 40 op sy eie nie werklik sin maak as jy nie kom by die punt waar die skinker uiteindelik vir Josef onthou nie. Die kernvers is 41:15 waar die farao vir Josef laat roep. Dit verteenwoordig `n hoogtepunt in die hele Josef-narratief. Dit is bepalend dat hy uit die tronk moes kom met die gebeure van hoofstuk 40 `n belangrike skakel daarin.
“Een schijnbaar vruchteloze episode zal later uiterst vruchtbaar blijken” (Van Selms). Met die woorde sluit Van Selms `n paragraaf oor die letterkundige analise van die hoofstuk af. Dit is inderdaad in die kol. Die meeste bronne wat ek oor die hoofstuk in Genesis geraadpleeg het, is van mening dat dit `n soort deurgangshoofstuk is. Dit vertel die binneverhaal en gee die verklaring oor hoe Josef weer uit die tronk kom en voor die farao beland. Hierdie feit maak dit moeilik om oor die gedeelte te preek. Ek het ook baie min preke oor die gedeelte raakgeloop.
Om oor die hoofstuk `n preek te maak moet die eksegeet sekere besluite neem. Ek het die gebeure self probeer ontleed en opgemerk dat daar inderdaad `n strek boodskap na vore kom. Daar is `n paar sake wat aandag verdien in die vertelling.
Drome: Daar sou seker baie van drome gemaak kan word. Tog dink ek dat die drome op sigself nie so belangrik was nie. Dit was eerder `n medium waardeur God weer vir Josef voor die farao gebring het.
Die konteks: Die voorafgaande en daaropvolgende hoofstukke vertel baie van die gebeure self.
Josef se take in die tronk: In die hele konteks van Genesis 40 en 41 is die volgende verse sterk narratiewe struktuurmerkers: vers 4 – Josef moes die amptenare bedien; vers 8 – Josef gee erkenning dat dit God is wat drome uitlê; ers 14 en 21 – Josef vra die skinker om hom te onthou en word daarna tog vir twee jaar vergeet; Genesis 41:15 – Josef word onthou en kom uit die tronk.
Die tema “God is by Josef” loop soos `n goue draad deur al die verhale. God het die uitleg van die drome gegee. God het Josef laat vrykom ten spyte daarvan dat die skinker hom vergeet het (23). Tog is dit belangrik om te onthou dat God die gewone lewensverhaal van Josef gebruik om sy doel te bereik. Die skrywer toon in die verhaal aan hoe aanvanklik onbenullige gebeurtenisse later baie belangrike betekenis kan hê in die verloop van mense se lewens. Hoe sou Josef kon raai dat `n uitleg van iemand se droom die instrument was wat God wou gebruik om hom uit die tronk te bevry?
Vir die prediking sal die preek gebou moet word rondom die skopus van Josef se eie belydenis dat alles uit God se hand kom (8). Dit kom ook in 41:16 voor. Om te voorkom dat preke vanaf hoofstuk 37-41 almal dieselfde tema het, sou ek die gebeure en omstandigheidsgetuienis in die narratiewe gebruik om die kernboodskap op `n ander manier te laat grondvat. Vir die prediking sal ek wyer lees as bloot hoofstuk 40. Ek sou die omstandigheidsgetuienis (vers 4 – Josef het sy werk gedoen wat van hom verwag is; sy hoop – vers 14; sy moedeloosheid – vers 23 ) en die feit dat hy twee jaar moes wag voordat die belofte (in vers 14 gemaak) waar geword het, gebruik om vers 8 te ondersteun. My preekvoorstel lê klem op die feit dat Josef sy normale lewe wat aan hom opgedra is, in die tronk voluit geleef het.
Preekvoorstel
Skriflesing Gen 40-41:15
Daar is die bekende verhaal uit die Griekse mitologie van Sisifus die hoogmoedige koning van Korinte wat deur gode gestraf is. Sy straf was om `n swaar rotsblok teen `n heuwel uit te stoot. Dit het Sisifus ook met groot moeite en inspanning gedoen. Maar net toe hy dink hy het die kruin bereik, glip die klip uit sy hande en rol terug tot daar heel onder waar hy begin het.
Hy het toe weer probeer, maar telkens het dieselfde gebeur. Net wanneer hy meen: nou is ek bo, rol die klip die heuwel af tot heel onder. Dit was Sisifus se straf. Die lewe was vir hom `n sinlose, vergeefse spel met die noodlot, `n blote herhaling van dit wat altyd dieselfde bly, `n sieldodende roetine van keer op keer voor begin sonder om ooit klaar te kry, `n nimmereindigende lewe.
Gelukkig is dit `n mite en nie `n ware verhaal nie.
Toe ek die verhaal van Genesis 40 lees, het ek aan die mite gedink. Josef is in die tronk, seker nie die aangenaamste plek om in te wees nie. Terwyl hy in die tronk is, sien die tronkbewaarder dat hy vertrou kon word en stel hom aan om te help. Tog word hy nie vrygelaat nie. Later kom die koning se bakker en skinker ook in die tronk oor iets wat hulle verkeerd gedoen het. Josef kry opdrag om hulle te bedien. Dit lyk asof hy dit geruime tyd gedoen het voor hulle die drome gekry het. Hulle kry drome en Josef lê die drome uit. Die skinker belowe dat hy Josef se saak aan die koning sal gaan stel, maar hy vergeet. Steeds sit hy in die tronk. Eers twee jaar later word hy deur die arao geroep om ook sy droom te gaan uitlê.
Ek kan net dink dat vir iemand so talentvol en vol drome soos Josef dit baie sleg moes wees om opgesluit te wees. Hy doen sy bes. Die tronkbewaarder hou van hom. Maar dit help hom niks. Hy verklaar die droom van die skinker. Hy vergeet eers dat Josef hom gehelp het. Josef het dalk soos Sisifus gevoel. Hy doen sy bes, maar steeds is hy in die tronk.
Die gedeelte in hoofstuk 40 lyk op die oog af asof dit maar net vertel van die drome van die skinker en die bakker en dat dit nie regtig die moeite werd is om hieroor te preek of na te dink nie. As jy egter mooi lees, sien jy dat daar in hierdie hoofstuk in Genesis `n groot waarheid opgesluit lê. Die skrywer toon in die verhaal aan hoe aanvanklik onbenullige gebeurtenisse later baie belangrike betekenis kan hê in die verloop van ons lewens. Hoe sou Josef kon raai dat `n uitleg van iemand se droom die instrument was wat God wou gebruik om hom uit die tronk te bevry?
In die eerste plek: God gebruik die doodgewone gang van ons lewe om ons by ons lewensdoel uit te bring.
Ek kan my voorstel dat Josef totaal onskuldig en gefrustreerd in die tronk gesit het (14). Hy was onskuldig daar as gevolg van die boosheid van Potifar se vrou. Dit het sy tyd in die tronk nog meer ondraaglik gemaak. Dit het nie vir hom sin gemaak nie. Tog sien ons dat Josef steeds sy beste gedoen het. Hy was so goed dat die bewaarder hom in beheer gestel het oor al die gevangenes. Selfs dit het hom nie uit die tronk laat kom nie. Toe die geleentheid opduik, het hy die drome van die skinker en die bakker uitgelê. Hy het net gedoen wat hy gedink het van hom verwag is. Selfs toe word vertel dat die skinker van hom vergeet het en moes hy in die tronk bly vir nog `n verdere twee jaar.
Toe op `n dag kry die Farao `n droom. Hy soek iemand om dit uit te lê en meteens onthou die skinker van die man in die tronk wat sy droom uitgelê het. Josef word laat haal.
Josef moes `n lang ruk aangaan met sy normale lewe en sy plig doen wat van hom verwag is. Hy moes geduld hê en die dinge doen waarvoor hy `n gawe van God gekry het. Teen die einde is hy onthou vir die dinge wat hy gedoen het toe hy getrou was. Hy ontdek die betekenis van sy lewe deur geduld en deur aan te gaan met sy lewe. As hy nie die drome van die skinker en die bakker uitgelê het nie, sou niemand hom onthou het toe die farao `n droom gekry het nie.
Soms het mense die ervaring dat alles in die lewe elke dag aangaan. Dit voel asof daar nie uitkoms is nie. Selfs indien hulle hul beste doen, selfs al sien ander dit raak en loop dit op bevordering of erkenning uit, kan hulle dit ervaar dat dit niks help nie. Maar die wete dat hulle moet aanhou doen waarvoor hulle in die wieg gelê is, is wat op die einde die resultaat het dat hulle lewensdoel ontdek word.
In die tweede plek: Die normale gang van ons lewe lei tot betekenis as ons aan God gehoorsaam is.
Vers 8 vertel dat Josef nie gedink het dat hyself in staat was om die drome uit te lê nie, maar dat hy onmiddellik aan God die erkenning gegee het. Afhanklikheid van God was die enkele grootste faktor waarom hy die drome kon uitlê. Vertroue op God het gehelp om sy taak te verrig. Miskien is dit hier waar mense se swak plek is. Baie mense wil self probeer. In die lewe wat mense elke dag leef, is dit belangrik om afhanklik van God te bly. Dit is gewoonlik al wat jou deurdra in tye van frustrasie, tye waar jy nutteloos voel. Tye waar jy voel asof die lewe net aangaan en dat daar nooit vir jou `n deurbraak kom nie. Die geheim om jou lewensbetekenis te ontdek is daarin geleë om alles wat jy doen in volle afhanklikheid van God te doen.
Josef het hom nie onttrek aan die nood van mense toe dit oor sy pad gekom het nie.
Josef se betrokkenheid by en sy omgee vir ander mense se nood het daartoe bygedra dat hy die kans gekry het om die drome uit te lê wat gelei het tot sy vrylating twee jaar later. Hy was bereid om betrokke te raak, al was hy die dienskneg.
In die alledaagse handel en wandel is dit noodsaaklik om vir ander om te gee. Om uit te reik na jou naaste. Dit is God se opdrag aan ons om ons naasteliefde uit te leef. Miskien is dit deel van die resep om te oorleef in die lewe elke dag om besorg te wees oor die mense wat God oor jou pad stuur. Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie.
Aan die einde het Josef besef dat God hom raakgesien het en dat God gesorg het dat hy uit die tronk kom. Die mooiste woorde vir Josef was seker die woorde van die farao in 41:15 “... toe het ek van jou gehoor ...” Vir die eerste keer het hy besef dat dit tog die moeite werd was om sy beste te lewer terwyl hy in die tronk was. Dat dit tog die moeite werd was om afhanklik van God te bly. Ja, die aanhou om die normale te doen elke dag, kan `n mens moedeloos maak. Dit kan jou ongeduldig maak. Tog het hy te midde van sy frustrasie besef hy moet aanhou om van God afhanklik te wees, aanhou besorg wees oor sy naaste. Tot op `n dag dat hy die soetste woorde gehoor het: ” toe het ek van jou gehoor ...”
Bibliografie
Burger C W (red) 1988. Woord teen die Lig II/3; Von Rad, G 1961. Genesis; Van Selms, A 1979. Genesis deel II.