Genesis 42-44 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 8 views
Notes
Transcript

Genesis 42-44

veertiende sondag in koninkrykstyd

liturgiese voorstel

Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.

Fokusteks:        Genesis 42-44

Ander tekste:               Eksodus 1:8-2:10; Psalm 105; Romeine 12:9-21; Matteus 16:21-28

Tema

God sal deur die wisselvallighede van jou en my familie, ja ook die huisgesin van die geloof, sy doel met die wêreld bereik. Die Here aanvaar ons net soos ons is, maar Hy laat in die proses ons ook nie soos ons is nie!

Inleiding

Vanuit die fokusteks wil die liturgie vandag die (verbonds)trou van God vier: Hy aanvaar ons soos ons is, seën ons, roep ons, span ons in sy plan met die wêreld in. In die proses berei Hy ons ook voor vir die besondere taak. Ons kan nie as enkelinge, families of gemeentes bly soos ons is nie. Veral nie onvergewensgesind, hardkoppig, dwaas, bitter of haatdraend nie. Dit moet op een of ander manier in die liturgie ter sprake kom. Gelukkig deurkruis Christus ons dwaashede en harde harte. Hy stort die liefde van God in ons uit. Die Gees maak van ons nuwe mense, ’n versoende geloofsgemeenskap. Dit laat ons hoop skep dat God ons, ons families en ons gemeentes genadiglik wil gebruik, hoe krom en skeef ons ook al is – solank ons net  nie so krom en skeef wil bly nie.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Votum

Voorganger:        Loof die Here! Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

Gemeente:          Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger:        Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade.

Gemeente:          Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger:        Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.

Gemeente:          Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger:        Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.

Gemeente:          Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger:        Julle, nageslag van Abraham sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het. Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel. Hy, die Here, is ons God; sy reddingsdade strek oor die hele aarde.

Gemeente:          Hy hou sy verbond altyd in stand.

Voorganger:        Ja, die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, sy eed aan Isak. Hy het dit vir Jakob bevestig as ’n vaste toesegging, vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.  Uit:  Psalm 105

Seëngroet

Loflied

Die gemeente begin die Here loof uit: Psalm 33:1, 4, 7. “Sing juigend, sing ’n nuwe loflied”.

Die wet

Die volgende gedeelte kan deur een of meer persone voorgelees word: Romeine 12:9-21.

DIENS VAN DIE WOORD

Epiklese

Skriflesing

Respons op Skriflesing

Woordbediening

DIENS VAN DIE TAFEL

Die klem kan hier val op die viering van die (gegewe) versoening en die verlange na die (nog nie volbragte) versoening.

Sang

Net na die nagmaal: Lied 601 “Die Lied van die nuwe hemel en die nuwe aarde”

UITSENDING

Sang

Lied 146  “Prys die Here, loof en prys Hom”

PREEKSTUDIE – GENESIS 42-45

Teks

Die Josef-novelle vorm deel van die Jakobverhaal. Daarom kan die Josef-novelle nie los van die Jakobverhaal verstaan word nie. In die Jakobverhaal het Jakob se naam vir die eerste keer verander na Israel (Gen 32:28). In Genesis 32:28 het die naam Israel nog `n negatiewe konnotasie (geworstel met God), maar in Genesis 35:10 word Jakob vir `n tweede keer Israel genoem. Hierdie keer sonder `n verduideliking oor die betekenis van die naam. Jakob is nie meer dieselfde Jakob as vantevore nie. Hy worstel nie meer met God en sy medemens nie. In die Josef-novelle word die naam Jakob en Israel afwisselend in `n positiewe sin gebruik.

God herhaal sy beloftes aan hierdie nuwe Jakob/Israel in Genesis 35:11-12. Die seën van Abraham (Gen 17) gaan hier volledig oor op Jakob. Die twee lyne van die nageslag en landsbelofte asook `n nuwe verwysing na konings wat uit hierdie beloftes voortkom, vloei nou saam sodat uit hierdie temas vorentoe slegs een tema sal voortvloei. Die spanningslyn wat hieruit voortvloei, wentel nou om die vraag: Uit watter geslagslyn gaan hierdie belofte nou waar word? Sal dit uit die lyn van Jakob se vrou Lea of Ragel wees? Sal dit uit die huis van Josef wees of uit die huis van Juda?

Kyk `n mens na die Josef-novelle, kom hoofstuk 38 baie vreemd voor. Wat sou die funksie van hierdie invoeging wees? Die invoeging wil sê dat beide Josef en Juda regmatige aanspraakmakers op die belofte is en wil tegelykertyd die spanningslyn verhoog rondom die saak van wie die eintlike draer van die belofte is: Juda of Josef?

In hoofstuk 37 lyk dit of Josef die draer gaan wees. Die drome (37:5-7; 9) wys hoe die ander gesinslede voor hom buig. Net as die leser dink dit gaan Josef wees, dan word Josef verkoop. Wat is nou aan die gang? Met hoofstuk 38 wat ingevoeg is en handel oor Juda, kon die leser die idee kry dat dit dalk Juda kan wees, maar hy is nie onberispelik van karakter nie sodat jy half wil sê: Tog net nie hy nie.

Die spanningslyn verhoog wanneer `n mens in die volgende twee hoofstukke lees van Josef se edele karakter (39:9-10) en hoe God Josef verhef (41:39 ev). God seën Josef en oor sy verlede hou hy geen kwade gevoelens meer oor nie soos blyk uit die name wat hy vir sy kinders gee (41:51-52). Josef is edel van karakter teenoor Juda wat by `n “prostituut” gaan slaap het. Wie sou die draer van God se belofte wees?

Hoofstuk 42-45 vertel van die versoening wat plaasvind tussen die twee potensiële draers van die belofte. Nadat die versoening plaasgevind en die draer van die belofte duideliker na vore gekom het, word Jakob in 46:3 verseker dat God sy belofte gaan waar maak. God gaan die belofte waar maak en Hy gaan dit in Egipte doen. In Egipte word die huis van Jakob die nasie Israel. Uit Egipte is Israel as `n groot nasie terug na die beloofde land.

Hoofstuk 48:2 sluit die gedeelte af met Josef wat weer sy pa ontmoet. Jakob vertel aan Josef van God se belofte aan hom (48:3). Jakob herhaal feitlik woordeliks 35:9-13. Die imperatiewe word daar gebruik in die vorm van `n wens: Mag jy vrugbaar wees en vermenigvuldig. Nou word die hifil gebruik. Ek maak jou vrugbaar, Ek gee jou `n nageslag, Ek gee jou `n land … God bring tot stand wat Hy belowe het. Alles wat met Josef  gebeur het, het God ten goede vir hulle bedoel (50; 20). God sorg vir sy volk.

Nadat God sy seën oor Josef se kinders uitgespreek het, seën Jakob in hoofstuk 49 sy seuns. Die seun voor wie die broers egter sal buig, is nie Josef nie (49:8), maar Juda. Psalm 78:67-68 stel dit later so: “Hy het die geslag van Josef verwerp en teen die stam Efraim gekies. Hy het die stam Juda verkies …”

Die broers het klaar voor Josef gebuig, maar in die toekoms sal dit voor Juda wees. Uit hom sal die konings kom voor wie die nasies buig.

Konteks

In Genesis 37 het ons die konsolidasie van die beloftes gekry en in Genesis 42-45 begin die proses om aan te dui wie die persoon is wat die belofte sal dra. Wie gaan dit wees uit die seuns van Jakob? Die draer van die belofte sal egter die persoon wees wat `n verenigde volk moet lei en dit is waaroor Genesis 42-45 handel. Dit gaan dus oor een belofte (37), een volk (42-45) en een draer van die belofte (49).

Die 12 seuns van Jakob word in 2 groepe verdeel. Daar is die 10 broers van Josef en die twee seuns wat Jakob by Ragel het, Josef en Benjamin. Ruben en Juda tree sterk na vore in die een groep en Josef in die ander groep. Dit is Juda wat uitstyg in sy groep. Hy maak `n belofte aan Jakob om toe te sien dat Benjamin veilig sal terugkeer (43:9). Juda herinner Jakob aan sy eie woorde (43:8;  vgl 42:2): “dat ons aan die lewe kan bly anders sterf ons”. Juda gee homself in die plek van Benjamin, sodat Benjamin kan terugkeer na Jakob soos hy Jakob belowe het (44:33-34). Juda, wat die indrukwekkende pleidooi voor Josef lewer (44:18-34). Met hierdie pleidooi het hy die konflik tussen hulle ontlont.

Josef is die een wat die konflik aangevuur en sodoende spanning veroorsaak het. Hy het homself as vreemdeling gedra toe sy broers kom koring koop het (42:7), hulle hard aangespreek en daarvan beskuldig dat hulle spioene is. Hy is voortdurend daarop uit om sy broers te verwar. Die geld wat die broers in hul koringsakke gekry het, het die broers in die war sodat hulle vra (28): “Wat het God ons nou aangedoen?” Alhoewel die leser weet dat Josef agter die set sit, word jy reeds geprikkel om in die rigting te dink dat God dalk agter alles sit. Dat God ook agter die skemas van Josef sit soos later inderdaad sal blyk in Genesis 50:20. God  wou daarmee goed doen.

In die Benjamin-episode het Josef die broers tot die besef van skuld en berou gelei met twee retoriese vrae (44:16): Wat sal ons sê? Die antwoord is natuurlik negatief. Ons het niks vir onsself te sê nie. Op die tweede retoriese vraag: Hoe kan ons onsself verontskuldig? is die antwoord: Ons kan nie, God het ons ontmasker.

Josef bring die punt van skuld tuis deurdat Benjamin by hom hier in Egipte as slaaf moet aanbly (44:17). By die broers moes alles weer voor hulle geestesoog afspeel want is Josef dan nie as slaaf verkoop aan die Ismaeliete wat op pad was na Egipte nie (37:25; 28)?

In Juda se toespraak word Josef in die beskuldigde bank geplaas (44:18-34); hy dobbel met sy pa se lewe (44:31). Josef se harde houding is aan die kaak gestel sodat hy in 45:1 knak. Hy kon hom nie meer langer bedwing nie en het kliphard gehuil. Josef  maak in die daaropvolgende toespraak sy identiteit bekend (45:4).  In vers 5 en 8 kom Josef tot die gevolgtrekking dat dit God is wat agter die verkope van Josef sit om hulle te red van die hongersnood (7).

Die versorging van die volk in Egipte lê klem op die feit dat God sy belofte gestand doen om vir Jakob `n groot nasie te maak (vgl die herhaling van belofte in 46:3). God sorg vir die volk in Egipte en dít in oorvloed (18, 20). 

Wat is die snypunt tussen die teks en die lewe van die mens in die 21ste eeu?

Van Wyk (WTL II/3) sê daar is `n geestelike ontwikkeling by die broers, asook by Josef te bespeur. Die broers groei langs die weg van skuldbelydenis tot berou en versoening. Josef op sy beurt groei en ontwikkel tot op die punt waar hy sy hardheid deurbreek en hy met sy broers versoen word. In die prediking stel Van Wyk voor dat die teks so gebruik word dat mense besef  hulle is deel van die volk van God. “Baie dikwels gaan dit tussen Christene op so `n manier daaraan toe dat `n mens wonder of hulle nog die woord `broer’ of `suster’ kan gebruik. Soms gaan dit so erg dat mense die kerk opsy skuif en meen dat hulle beter daarsonder kan klaarkom.”

Preekvoorstel

Versoening is nie `n vrywillige saak nie. Agter die versoening sit God wat die hele gang van sy volk bestuur. Die beloftes wat Hy gemaak het, laat Hy nie val nie ten spyte van Jakob se optredes (37). Hy gaan hierdie beloftes waar maak in die volk wat Hy tot stand gebring het. Die broers kan optree deur Josef te verkoop en daardeur hulle irritasie verwyder, maar God sal die groot nasie wat Hy aan Abraham beloof het en oorgedra het aan Jakob, nie laat val nie. In die optrede en ten spyte van die optrede van die broers, ja, van Josef self, gaan God voort om hulle `n groot nasie te maak. Hy sorg vir die nasie al is dit om hulle in `n vreemde plek soos Egipte te versorg en daar  tot groot nasie te maak. God doen dit wat Hy belowe het en is nie aan plek, mens of tyd gebonde nie.

Agter die konsolidering van die beloftes (Gen 35:11-12) sit God wat ook die volk verenig (Gen 42-45), tot een maak. Hy bring die versoening tot stand deur mense se maskers af te ruk, hulle tot skuldbesef (retoriese vrae) en tot skuldbelydenis te bring. Hy vermurwe hardvogtige mense se harte en laat hulle insig kry in hulle harde optrede wat net so vernietigend kan wees as die broers se dwase optrede om Josef te verkoop en as dood voor te stel. Om as God se volk te kan funksioneer moet die volk verenig om in versoening en vergifnis teenoor mekaar te kan leef.

In die Nuwe Testament het menslike optredes ook daartoe gelei dat die eenheid van die volk van God in die gedrang gekom het. In Matteus is dit die charismatiese persone teenoor die tradisionaliste wat daartoe kon lei dat die gemeente verskeur. In 1 Korintiërs 1:18 en verder is die gemeente ook verskeur oor persone. Party is vir Paulus, ander vir Sefas of Apollos. Selfs by die nagmaal wat die versoenende werking van God is, waar mense as een volk saam verkeer, bedreig klasseverskille die eenheid (1 Kor 11:17 ev). Paulus lê in Galasiërs (3:26 ev) asook in Efesiërs (2:13 ev) soveel klem op die feit dat in God se volk die eenheid so belangrik is dat dit alle sosiale, ekonomiese en godsdienstige opvattinge wat ons daarop mag hê, minimaliseer.

Soms moet God ook hierdie harde houding wat ons het, soos Josef, afbreek om ons eie skadelike optrede te kan sien. Ons kan tog so selfregverdigend wees. Baie het dan ook die uitgangspunt: Dit is nie my skuld nie, ek het nie oortree nie. Hulle moet eerste om verskoning vra voordat ek aan versoening sal begin dink. Ek sal eerder soos Josef die saak verswaar en vergeet dat die gedrag net so teen God se wil is as die gedrag van die oortreder self. Ander kere moet God die masker self afruk soos met Josef se broers voordat ek tot skuldbesef en tot berou sal kom.

In die koninkrykstyd kan die volk van God net geloofwaardig (Joh 17) wees wanneer gelowiges versoenend teenoor mekaar leef in die wete dat God gelowiges tot een volk gemaak het. Een belofte (37), een volk (42-45) en een draer van die belofte (49). Met die draer van die belofte verras God ons weer. Nie Josef nie, maar Juda.

Bibliografie

Buttrick, G A  The Interpreters Bible; Crim, K  The Interpreters Dictionary of the Bible; Fohrer, G  SPCK; Sailhamer, J H  The Pentateuch as narrative; WtL II/3 p276-288.

Related Media
See more
Related Sermons
See more