Genesis 45 LR2005
Genesis 45
vyftiende sondag in koninkrykstyd
liturgiese voorstel
Hierdie liturgiese voorstel behoort in samehang met die basisliturgie vir koninkrykstyd gebruik te word.
Fokusteks: Genesis 45
Ander tekste: Eksodus 12:1-14; Psalm 149; Romeine 13:8-14; Matteus 18:15-20
Inleiding
God wil ’n nuwe begin maak. Hy werk in, deur en ten spyte van wat ons as ’n tragedie sou bestempel. Die gewone storie van ’n familie se lief en leed is vandag die voorbeeld daarvan dat juis laasgenoemde deur God omskep kan word tot sy verhaal van versoening. God se mag werk deur sy liefde om ’n familie na mekaar toe te trek. God bevry ons van bitterheid deur ons te laat besef dat Hy ons roep en stuur, en dat Hy alles laat meewerk ten goede. Versoening kom in die plek van wraak.
Vandag se liturgie wil die feit uitlig en vier dat God aktief betrokke is by en werksaam is in ons lewens. Josef is nie deur sy broers Egipte toe gestuur nie, maar deur God! God omskep die sonde van sy broers in heil. Hoekom moet Josef dan langer kwaad wees? Dis in die lig van hierdie indikatief dat die imperatiewe van die liefde (Rom 13) asook vergifnis (Matt 18) vandag sterk figureer.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangswoord
Begin die diens met die woorde: “God het ons hier voor Hom saamgebring.” Indien ander woorde gekies word, bly dit belangrik dat die gemeente daaraan herinner word dat God die leiding neem met die saamroep van die erediens. ’n Erediens is nie ons skepping nie, maar God wat deur sy Woord werk.
Die formule kan verder soos volg uitgebrei word om die gemeente se aandag na die koninkryk te lei:
Voorganger: God het ons (hier) voor Hom saamgebring in die Naam van Jesus, die Christus.
Gemeente: Aan Hom wat op die troon sit behoort die lof en die eer.
Voorganger: Mag sy Naam geheilig word.
Gemeente: Mag sy koninkryk kom.
Voorganger: Mag sy wil op aarde geskied soos in die hemel.
Gemeente: Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Uit: Matteus 6; Openbaring 5:13
Seëngroet
Voorganger: Genade vir julle en vrede van God ons Vader en Jesus Christus, ons Here.
Gemeente: Amen, en vrede vir jou.
Voorganger: Amen
Groet mekaar
Sê vir die gemeente om mekaar met die seën van die Here te groet. Hierdie ritueel stig die gemeenskap. Noem by geleentheid dat hierdie onderlinge groet in God Drie-enig se naam die klem steeds plaas op God se groet. Ons groet mekaar met God se seën omdat ons glo dat God deur sy Gees in elkeen woon en werk.
Sang
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”/NSG 341A. Hierdie lied gaan uit van die gedagte van Jesus se heerskappy en raak by voorbaat verskeie liturgiese momente aan. Uit die Sionsgesange kan Lied 167 of 151 van pas wees as liedere wat Jesus se heerskappy in historiese verband besing.
Diens van die water
Die nood van die skepping, mens en wêreld word voor God gebring. Dit behels ook ons eie nood aan voortgesette verlossing. Dit is ’n bede om reiniging en heiliging. Lees verder die gedagtes in die inleiding.
Doop of doopherinnering
Doop en doopherinnering geniet gedurende die eerste fase van koninkrykstyd besondere aandag. In die praktyk bring dit mee dat die doopvont, met water daarin, baie sigbaar is. Elke Sondag gedurende hierdie fase word lidmate op een of ander manier gevra om doelbewus hulle doop te bedink. Tekste uit die leesrooster bied leersame perspektiewe wat benut kan word. Die oordenking van die doop skep ’n goeie geleentheid om opnuut op die toesegging van die sakrament te antwoord.
Wet en skuldbelydenis
Voorstel 1
Openbare skuldbelydenis is diep ingebed in reformatoriese liturgie. Die Tien Gebooie en ander skriftuurlike uitsprake oor die wet of die wil van God word afwisselend gebruik as aanleiding tot skuldbelydenis. Deur die wet op hierdie Sondae saam te laat val met die diens van die water, word groter prominensie gegee aan hierdie moment van die liturgie.
Sang
Lied 247 “Heer wees ons genadig”/NSG 233 – Kyrie, eleison
Voorstel 2
Matteus 18 kan gebruik word om te verduidelik op watter maniere ons deur ons onversetlikheid, hardkoppigheid en ongeestelikheid versoening “toesluit” en nie vertroebelde verhoudings wil herstel nie, konflik wil ontlont nie, vergifnis wil uitspreek nie. Dit kan ook geld van kerke wie se besluite nie strook met die Woord as uitgangspunt nie. Dit hou implikasies in vir ons huwelik, familie, kerk en land.
Die volgende uit Romeine 13:8-14 kan responsories gedoen word.
Voorganger: Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Voorganger: Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Voorganger: Al die gebooie: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy
mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie” of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle
uitvoering van die wet.
Voorganger: En dit alles is nodig omdat julle weet hoe laat dit al is. Die uur is reeds daar dat julle uit die slaap moet wakker word, want die tyd van ons finale verlossing is nou nader as toe ons tot die geloof gekom het. Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Voorganger: Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery
en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Voorganger: Julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
Gemeente: Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.
Verduidelik vergifnis na aanleiding van Josef se verhaal, toe hy besef dat die kwaad wat sy broers hom aangedoen het betyds deur God onderskep is om dit tot sy groter plan aan te wend. Toe kon hy vergewe, sy vyande omhels, homself geestelik ontboesem, sy emosies laat gaan.
Eksodus 12 se “bloed aan die deurposte” kan hier bedink word as agtergrond vir wat die bloed van Christus vir ons sondes gedoen het. Ons versoening met ander is gebaseer op sy versoening met ons. Uit genade het ons dit ontvang, uit genade moet ons dit ook weer beoefen teenoor ander.
Vryspraak
Wesenlik vorm dit deel van die “diens van die water” aangesien dit dieselfde vryspraak van God is wat in die doop verkondig word. Die gemeente omhels die gegewe reinheid wat God in Christus aan elkeen skenk wat sy sondes kan bely en so sy afhanklikheid van God erken. Elke gelowige eien hom/haar opnuut vergewing van sondes toe en verbind tot nuwe gehoorsaamheid.
Geloofsbelydenis
Ter wille van die beklemtoning van hierdie moment in die erediens word die geloofsbelydenis ook hier geplaas. Dit onderskraag die gedagte dat ons geloof ’n basis het wat in die geskiedenis beslag gekry het.
Dit kan op verskeie maniere gedoen word:
Die Apostoliese geloofsbelydenis of die Belydenis van Nicéa. Dit kan saam gelees of aangehoor word met bevestigende “amen”.
Die geloofsbelydenis kan gesing word. Lied 259, 260, 261/NSG 348
Loflied
Psalm149. Ander gepaste Psalms sluit in: 29, 33, 66, 84, 98.
Diens van die Woord
Gebed om die opening van die Woord
Begin die gebed met Psalm 119:113-120.
Skriflesing
Volg die ekumeniese gebruik om die tekste in volgorde te lees: Ou Testament; Psalm (word waar moontlik gesing of ’n ander voorganger voorgelees); Nuwe Testament; Evangelie. Indien sekere teksgedeeltes elders in die diensorde gebruik word, kan dit hier weggelaat word.
Sing ’n halleluja na die voorlesing uit die briewe. Lied 189; 206; 218; 228; 204
Sing ’n gepaste lied na die laaste Skriflesing. Sien voorstelle by elke Sondag.
Kindertyd
Dit gebeur maklik in enige huishouding dat een van die kinders dink dat van die ander voorgetrek word. Dit veroorsaak ongelukkigheid. Gesels met die kinders hieroor en probeer hulle spontane reaksie ontlok. Gebruik hierdie bekende situasie kreatief om die gemeente deur die kinders se reaksie in die teks in te lei.
Prediking
Respons van die gemeente
Benut een van die volgende opsies:
Die gemeente sing hul antwoord op die Woord uit enige gepaste lof- en danklied wat God antwoord.
’n Vrye gebed.
’n Belydenisverbintenis word voorgehou en ’n paar oomblikke van bepeinsing word toegelaat.
Diens van die tafel
Die tafeldiens behoort elke Sondag vanaf die nagmaalstafel gelei te word sodat die sigbaarheid daarvan uitgewys word.
Gereedmaak van die tafel en offergawes
Die offergawes kan beskou word as deel van die gereedmaak van die tafel aangesien die middele vir die nagmaal hieruit voorsien is. Die gemeente word uitgenooi om iets van hulleself te gee soos Christus Homself vir ons gegee het. Ons offer word ook teken van ons een-wees met Hom in die nagmaal.
’n Gesin wat vooraf gevra is, bring brood en wyn na die nagmaalstafel.
Vredeshandeling (opsioneel)
Die vredesgroet word onderling verwissel. Gee mekaar ’n handdruk met die groet: “Vrede vir jou.”
Nagmaalgebed
Sien die volledige nagmaalsgebed in die basisliturgie vir koninkrykstyd.
Opmerkings oor die gebruik van die nagmaalgebed:
Omdat baie gemeente dit prakties onuitvoerbaar vind om elke Sondag nagmaal te gebruik, kan sommige elemente van die tafeldiens op sulke Sondae weggelaat word. Dié elemente word met ’n asterisk aangedui.
Met die oog op die toe-eiening wat in hierdie fase van koninkrykstyd belangrik is, word die klassiek-gereformeerde nagmaalgebed gereeld gebruik omdat ons ons daardeur verlustig in God se “groot dade” soos wat deur die Woord betuig word. Let op dat die aanvangsgedeelte van die gebed melding maak van drie hoofdade van God: die skepping, die bevryding en leiding van Israel en die verlossing deur Christus Jesus. Die laaste loop oor in die lof van Jesus.
Die bewoording hoef nie slaafs nagevolg te word nie. Dit is wenslik om gedagtes of woorde uit elke Sondag se leesrooster te neem en dit in die gebed in te werk.
Die vaste elemente by die diens van die tafel behoort elke Sondag gebruik te word ter wille van die ekumeniese aard daarvan en om die betekenis daarvan deur herhaling in te skerp: die sanctus (“Heilig, heilig, heilig …”) en die Agnus Dei (Lam van God).
Daar sou ook tydens die nagmaal by Eksodus 12, wat oor die instelling van die Paasfees handel, aangesluit kon word.
Uitsending
Sang
Lied 200/NSG 43; Lied 207; 231/NSG 61; Lied 271/NSG 274; Lied 305/NSG 380; Lied 487/NSG 189; Lied 492/NSG 73 kan gesing word.
PREEKSTUDIE – GENESIS 45
Teks en konteks
Genesis 45 word in die RCL op die vyftiende Sondag in koninkrykstyd hanteer as deel van 'n reeks tekste oor Genesis wat by die eerste Sondag van koninkrykstyd met Genesis 1 begin. In ons huidige reeks is die teks die laaste in 'n reeks van tekste wat spesifiek met die Josefverhale werk.
In Woord teen die Lig II/3 vind ons 'n breedvoerige behandeling van verskeie tekste in Genesis. Die vierde afdeling behandel die Josefgeskiedens. Van Wyk het ’n algemene inleiding geskryf en vir meer besonderhede kan die inleiding geraadpleeg word. Hyself hanteer dan ook die teks oor Genesis 45 met die nodige eksegetiese, hermeneutiese en homiletiese riglyne. Wat volg is ’n paar algemene opmerkings wat ons help om dié teks binne konteks te plaas.
Die eerste wat duidelik raak, is dat die Josefverhale 'n ander karakter het as baie van die ander verhale wat in Genesis opgeteken is. Dalk is die duidelikste kontras met die ander verhale geleë in die feit dat God as sentrale karakter afwesig is. God maak nêrens sy verskyning nie en dit lyk ook nie asof Hy in beheer is van die rigting van gebeure deur bonatuurlike ingrype nie.
Die skopus van die Josefverhale is meer gerig op die gewone handel en wandel van mense binne die familielewe en die groter arena van internasionale gebeure. Hierdie nouer fokus het tot gevolg dat God as 't ware op die agtergrond is, wat selfs die vraag laat ontstaan of Hy enigsins betrokke is. Waar is al die beloftes wat aan die voorvaders gemaak is?
Dit is as 't ware in antwoord op dié vraag wat Genesis 45 die draaipunt van die Josefverhale vorm. Voordat ons na die betekenis daarvan kyk, is dit die moeite werd om na die struktuur van die hoofstuk te kyk:
1. Josef maak homself aan sy broers bekend (1-3).
2. Josef gee 'n teologiese interpretasie van sy reis oppad na slawerny (4-8).
3. Die resultaat van Josef se teologiese interpretasie (9-20).
Aan die familie (9-14)
* Vader/seun (9-13)
* Broers (14-15)
Aan die Egiptenare (16-20)
Die afwesigheid van God wat tot dusver die Josefverhale gekenmerk het, verander in vers 5-8 waar Josef hom aan sy broers bekend maak en sodoende die konteks verskaf vir 'n teologiese interpretasie van sy lewensverhaal. Josef verduidelik aan sy broers dat die slegte bedoelings wat hulle met hom gehad het, deur God as deel van sy plan gebruik is. Op sigself is dié insig nie so verrassend nie. Wat wel 'n mens se aandag trek, is die tydsberekening daarvan.
God verskyn op die toneel presies op die moment dat Josef self 'n transformasie ondergaan, naamlik van die posisie van 'n persoon met mag in die farao se ryk, na iemand wat weer 'n broer vir mede-broers word. Die tydsberekening is nie toeval nie want dit bevat wee eens die kragtige boodskap dat teologiese insig en menslike optrede dikwels in tandem opereer.
Die punt is dus nie om te bepaal wat eerste kom nie (menslike aksie of teologiese insig), maar om te besef dat Goddelike openbaring en etiese transformasie dikwels aanvullend in die mense se lewe aan die werk is. Van watter perspektief jy dit ook al beskou, van God of van die mens se kant, dit bring jou by dieselfde konklusie: die krag van God se beloftes raak weer deel van die verhaal. En dit lei weer daartoe dat die verhaal 'n spesifieke rigting inslaan, naamlik op weg na familie-eenheid (9-15).
Verse 9-20 kom dus weer uit by die familiemotiewe wat so sentraal was in Genesis 37. Verwysings na die seun, vader en broers domineer as 't ware die res van Josef se toespraak. Vanaf 'n verhaal waar daar geen shalom (vrede) in die familie is nie, wat dan die wyer sosiale en politieke wêreld infiltreer (Josef se wegvoering), bring dié verse `n verskuiwing waar die familie-eenheid herstel word met 'n positiewe uitwerking op die Egiptenare. Die farao word selfs aan ons voorgestel as iemand wat Josef se familie in Egipte verwelkom en aan hulle selfs die beste van die land offer.
Aan die einde van die verhaal vra ons dus nie meer die vraag waar die krag van God se beloftes te sien is nie, want in sekere sin het dit elke deeltjie van Josef se wêreld geïnfiltreer.
Hier is duidelik verskillende lyne wat in die prediking gevolg sou kon word: een daarvan is die verborgenheid van God, 'n volgende is die krag van drome in die bekendmaak van God se wil of die belang daarvan om God aan die werk te sien in die gewone gebeure van die familielewe. Ek sluit by laasgenoemde in die onderstaande preekstudie aan. In dié verband enkele opmerkings. Op hierdie hoogtepunt van die Josefverhale is Josef in die posisie om met sy broers te doen net wat hy wil. Hy het al die mag in die hande, ook om te vergeld vir die leed wat hom aangedoen is. Tog is dit nie wat hy doen nie. Sy diepe droefheid getuig nie van iemand wat uit is op weerwraak nie. In dié deel van die verhaal toon hy in elk geval meer swakheid as krag. Vir 'n oomblik doen hy afstand van sy magsposisie en raak met passie deel van die gebeure wat besig is om af te speel. Hy doen dit in die gees van versoening.
Tog is daar iets in Josef se taal wat verraai dat die versoening nog nie volledig voltrek is nie. Dit sou eers later gebeur (50:15-21). Wat egter opval, is dat Josef nie van sy broers verwag om eers skuld te bely nie. Hy getuig eerder van die wyse waarop God aan die werk was deur al die gebeure en dit is vir hom die beslissende moment. Wat God dus gedoen het, het Hy gedoen onafhanklik van die broers se belydenis en berou. In dié sin is Josef se woorde aan sy broer as 't ware die goeie nuus van iemand wat dit in sy eie lewe ervaar het. So raak die dade van die broers, hoe afkeurenswaardig dit ook al was, 'n instrument in God se hand om weer heelheid in 'n familie te bewerkstellig.
Preekvoorstel
’n Huis vol gevoel
Een van die tye wanneer my trane die vinnigste rol, is wanneer iets binne my gesin of familie gebeur wat my diep raak. Voorbeelde is legio, maar 'n paar jaar gelede moes ek by geleentheid van my ouers se silwerbruilof 'n paar woorde sê. Nog voordat ek iets oor hulle kon sê, het die trane gevloei en kon ek nie veel uitkry nie.
Ek is seker daarvan dat die meeste mense al soortgelyke ervarings gehad het. Die gesin en familie is inderdaad die veilige ruimte waar ek aan my emosies uitdrukking kan gee, waar mense sommer dadelik kan optel wanneer dinge in jou lewe nie is soos dit moet wees nie. 'n Mens kan nog 'n masker vir die wêreld daar buite voorhou, maar jy kan nie jou emosies vir jou huismense wegsteek nie.
Daar is waarskynlik ook min emosies wat so sterk is soos wanneer daar 'n verskil of konflik in 'n familie was en daar weer versoening plaasvind. Die afgelope week het goeie vriende van ons vir ons vertel hoe 'n jare lange konflik tussen 'n broer en 'n suster opgelos is en wat die versoening vir hulle beteken het.
Josef huil onbedaard
Dit is hierdie element van emosionele openheid wat die verhaal van Josef in Genesis 45 vir my altyd so aangrypend maak. Ek is eerlik as ek sê dat elke keer dat ek dit lees, dit diep emosies by my losmaak. Dalk omdat Josef self so hartroerend aan die huil gegaan het toe hy uiteindelik aan sy broers bekend gemaak het wie hy is. Ons lees in vers 2: “Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars en die mense in die farao se paleis dit gehoor het.” En in vers 14: “Toe omhels Josef sy broer Benjamin en hy huil; ook Benjamin het op sy broer se skouers gestaan en huil.”
'n Lang aanloop
Die verhaal het natuurlik 'n lang opbou. Reeds in hoofstuk 37 lees ons hoedat Josef se broers hom as slaaf verkoop het omdat hy drome gehad het wat hulle glad nie aangestaan het nie. Ons ken ook die verhaal hoe hulle hom in 'n put gegooi het en hy as slaaf na Egipte toe weggevoer is. Die verteller maak op 'n uitstekende manier van 'n stygende spanningslyn in sy verhaal gebruik totdat 'n mens dit naderhand nie meer kan hou nie. En dan vind hierdie ontknoping in hoofstuk 45 plaas en is die broers so uit die veld geslaan dat hulle hom aanvanklik nie wou glo nie. Dit was eers nadat hy vir hulle presies verduidelik wat alles gebeur het dat hulle met hom begin praat het.
Families is gewis die ruimte waarbinne ons van ons sterkste emosies beleef en in die besonder waar daar versoening plaasvind, waar verkeerdhede reggestel word, waar mense mekaar vergewe en bereid is om nuut te begin.
Om gestuur te wees
Maar onder al die emosies waarvan 'n mens hier lees, lê iets diepers wat ons moet raaksien as ons waarlik die betekenis van die verhaal wil snap. En dit vind ons in die woorde van vers 5. Josef is aan die woord en hy sê: “Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie want God het my voor julle uitgestuur om lewens te red.” En dan lees ons verder in vers 8: “Dis nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.” Hierin lê 'n uiters belangrike sleutel wat ons help om die betekenis van die ganse Josefverhaal te ontsluit. Want wat hier duidelik raak, is dat al die menslike emosies eers betekenis kry wanneer dit binne die groter raam van God se plan geplaas word.
Vir my is die eerste les wat ons uit dié verhaal leer, die feit dat Josef sy omstandighede sien as deel van die feit dat God hom “gestuur” het. Om gestuur te wees, beteken om 'n roeping te hê, om 'n sekere doel in die lewe te hê en dit binne die groter plan van God te sien. Want dit is binne die gewone handel en wandel van mense dat God se voorsienigheid ook in ons lewens duidelik raak.
Vergifnis sonder skuldbelydenis?
Maar wat nou opvallend is, is dat hier nie vergifnis gevra of gegee word nie. En dit hou dalk verband daarmee dat Josef se insig dat dit God is wat hom gestuur het, beteken dat hy dit wat hulle hom aangedoen het, nie meer as 'n onreg kan aanvaar nie, maar iets wat ten goede meegewerk het vir hom. Daarvoor hoef hy hulle nie meer te vergewe nie. Dat die broers kan sleg voel, is moontlik, maar nie meer nodig nie. Ons sou daarom hierdie gebeure tussen hulle met die woord "vergifnis" kon beskryf, maar dit is inderdaad meer as vergifnis. Omdat Josef verstaan dat God hulle daad ten goede gebruik het, het hy nie meer hulle berou nodig nie.
Wanneer vergewe ons dan?
Hierin vind ons 'n tweede waardevolle insig uit dié verhaal wat ook vir ons vandag kan help. Daar bestaan dikwels by ons die vaste oortuiging dat vergifnis nie moontlik is sonder skuldbelydenis en berou van die een wat teenoor die ander gesondig het nie. In antwoord op die vraag: Wanneer vergewe die Here jou? sal baie mense vir jou sê, wanneer jy jou sonde bely en berou het.
Ons voel dan ook dikwels so teenoor mekaar. As ons weet dat iemand regtig jammer is oor wat hy teenoor ons gesondig het, dan is dit maklik om hom te vergewe. Maar dikwels wanneer dit lyk of die jammer ontbreek of nie so diep sit as wat ons graag sou wou hê nie, kom die vergifnis ook maar moeilik. Dit is dikwels dat ons sê: Ek sal vergewe, maar vergeet nie?
Daarom is dit so opvallend dat in hierdie verhaal (met al die onreg wat die broers teenoor Josef gedoen het) nêrens skuldbelydenis en berou aangeteken word nie. Wat die verhouding herstel, is nie dat hier wedersyds gesê is: Ons/ek is jammer nie. Wat die verhouding herstel, is dat daar raakgesien is dat die sonde wat gedoen is in die hand van God heil/verlossing geword het. Dit wil nie sê dat die sonde opgehou het om sonde te wees nie. Sonde is sonde is sonde.
Herstel van verhouding
Wat die verhouding herstel, is nie berou nie. Dit is die insig dat die kwaad wat ander my aandoen, teen die tyd dat dit by my uitkom, reeds deur God onderskep en omskep is in die goeie. Wanneer ek ontdek het dat die Vader die een is wat my nie veroordeel nie, maar vergewe
Is dit nie soos wat ons mekaar voor die aangesig van God moet verstaan nie? As die kwaad wat iemand anders teen my bedink deur God se beskikking vir my heil word, hoekom moet ek dan vir hom of haar kwaad wees? Kan hierdie insig ons nie bevry van 'n klomp bitterheid wat soveel verhoudinge in ons gesinne, in ons families, in die werkplek, ja, selfs in 'n gemeente tot niet maak nie?
’n Ander gestuurde
Om gestuur te wees, om ander te kan vergewe sonder dat hulle skuld bely het, het vir ons nuwe betekenis gekry deur Iemand anders wat gestuur is – die Seun van God. En Hy is nie net gestuur om voorsiening te maak om mense van honger te red nie. Hy is gestuur om finaal die breuk in die verhouding tussen God en mens te herstel.
En in sy optrede lê ons diepste troos, want sy "gestuur wees" gee rigting aan ons eie gestuur wees. Daarom is ons sy dissipels en is ons bereid om te volg as Hy roep. En die aangrypende van die wyse waarop Jesus hierdie roeping kom uitleef het, hierdie herstel van die verhouding binne die breër familie van God bewerk het, was ook nie om te wag vir die mens se skuldbelydenis en vergifnis nie. Nee, die Seun van God was bereid om sy lewe aan 'n kruis te offer en daardeur sommer namens ons al die skuld en belydenisse te doen.
Hoe help dit ons?
Ons sou kon begin deur te erken ons bly emosionele wesens en ons families en gesinne is dikwels die plek waar ons hierdie emosies tot uiting moet bring; waar ons moet oopmaak, ons self kan en moet wees. Die ervaring van dié emosies kry egter 'n groter betekenis wanneer ons dit binne die groter plan van God met ons lewens sien. Wanneer ons dit ook sien as deel van ons gestuur wees en deel van ons verhouding met ander mense.
God se groter plan met ons lewens, die feit dat ons gestuur is, vind ons binne die verskeidenheid van verhoudings waarin ons staan. In Josef se lewe het ons gesien hoedat dit in die eerste plek met die nabye bloedfamilie verband gehou het, pa en broers. Maar hoedat dit ook 'n invloed uitgeoefen het in die ander verhoudings waarin hy homself bevind het. Sy verhouding met mede-Egiptenare, sy onderdane en selfs met die farao. DiefFarao beloof selfs aan hom en sy familie die beste in die land.
Dié verskillende verhoudings sou verder uitgespel kon word soos wat dit binne elke prediker se konteks van toepassing is: verhouding van versoening en herstel met 'n huweliksmaat, met broers en susters in dieselfde bloedfamilie, met broers en susters in dieselfde geloofsgemeenskap en ook met mede-landsburgers wat nie dieselfde voorregte as ons geniet het nie en wat dalk buite hoorafstand geraak het. Hier kan kreatief verskillende moontlikhede ontwikkel word.
Bibliografie
Fretheim, T E 1994. Genesis, in The New Interpreter's Bible: A Commentary in Twelve Volumes, Volume I; Soards, M (et al) 1992. Preaching the Revised Common Lectionary, Year A, After Pentecost 1. Van Wyk, S 1988. Genesis 45, in Woord teen die Lig II/3; Williams, M E (ed.) 1991. The Storyteller's Companion to the Bible: Vol 1: Genesis.