Genesis 2:15-17+3:1-24 Pr20050213

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 22 views
Notes
Transcript

Genesis 2:4-17; 3:1-24

Prediking

Kinders speel mos graag vroteier. Hulle sit in 'n kring en dan gooi iemand in die verbyhardloop 'n sakdoek agter een van die spelers se rug. Die doel van die speletjie is om die sakdoek op so 'n manier te plaas dat die betrokke persoon dit nie agterkom nie. Die "skuldige" wat met die sakdoek betrap word, is dan die vroteier.

Dit is 'n lekker speletjie ‑ solank dit 'n speletjie bly. Maar partykeer speel ons 'n soort vroteierspeletjie met mekaar: ons pak die skuld op iemand anders en verskoon onsself. Wanneer dit gebeur raak die verhoudinge tussen mense slegter as 'n vroteier. Eers wanneer mense ophou om die speletjie te speel en hul foute erken, kan dinge weer aangenaam word.

Ons almal struikel in wat ons se (Jak. 3:2), maar wanneer iemand anders iets se wat ons te na kom, vergeet ons gou dat ons ook foute maak, en dan begin die verwyte en beskuldigings. Dit gebeur oral: in huwelike, vriendskappe, tussen kollegas, mense groepe . . . en selfs in die kerk. 'n Mens verwag natuurlik nie dat so iets in die kerk sal voorkom nie. Kerkmense behoort mekaar mos te aanvaar, te vergewe, reg te doen aan mekaar. Maar, soos ons almal weet, gebeur dit tog in die kerk ook.

As ons se dat ons mekaar nie behoort te verwyt nie, beteken dit nie dat 'n mens onreg moet los en ontevredenheid moet opkrop nie. Onreg wat nie reggestel word nie, groei soos 'n boom al groter en dit word al moeiliker om dit met wortel en tak uit te roei. Ontevredenheid wat opgekrop word, kom kort voor lank tot uitbarsting.

Dus: waar daar onreg of ontevredenheid in verhoudinge voorkom, moet daaroor gepraat word. Gepraat word, ja, nie verwyt word nie. Verwyte bring verwydering, nie versoening nie, want dit roep al die verdedigingsmeganismes in mense op. 'n Verwyt druk 'n mens in 'n hoek en maak die tier in hom los wat sal krap en verskeur of enigiets anders doen om los te kom.

In so 'n selfhandhawingspoging verwyt jy op jou beurt die ander party, of plaas jou skuld op iemand anders. 'n Meer geraffineerde en skynbaar vromer houding kom na vore in die erkenning van die eie "aandeel": "Ek is jammer dat ek dit gedoen het, MAAR . . ." ‑ en na die "maar" volg dan 'n verskoning wat die hele skulderkenning kanselleer! So ontstaan 'n oor‑en‑weer‑verwytery, dit ontaard in 'n psigiese bloedbad waarin niemand kan wen nie en almal net besmet word.

Die opvallende in die paradysverhaal is dat Adam sy oortreding anders sien as God.

* Vir Adam is die saak ingewikkeld: hy het wel oortree, MAAR daar was iemand anders wat ook 'n rol gespeel het, iemand wat God juis gegee het om hom te help . . . en toe help sy hom van die wal af in die sloot! Wanneer al die ander faktore in ag geneem word, so meen Adam, verdwerg sy eie oortreding tussen die reusagtige oorsake, dit maak sy eie skuld eintlik verstaanbaar en verskoonbaar.

* Vir God is die saak glad nie ingewikkeld nie, dit is duidelik, glashelder: Adam het geeet van die boom waarvan God hom verbied het om te eet.

Vir Adam is die saak ingewikkeld omdat hy sy oortreding binne 'n oorsaak‑gevolg‑verhouding sien, 'n soort sirkel denke waarin jou brein altyd 'n ander sondebok vind wal kwansuis die oorsaak van jou "gevolg"‑oortreding sou wees.

So 'n oorsaak‑gevolg‑denke bevat 'n stuk verwaandheid, soos blyk uit N.P. van Wyk Louw se gedig "Ex unguine leonem" in Tristia:

Ek kan nie opsom: nie 'n lewe, 'n gesprek,

'n tydperk of 'n eeu.

Die klou dui al die dier aan, is gesê ‑

maar is nog nie die leeu.

Ek vind op hierdie aarde soms 'n volte . . .

my brein die kry die waan

dat ek, omdat ek altyd sirkel sien,

die sfeer ‑ self kan verstaan.

Wat ek van mense of van God wil meen,

word in my dofheid dof.

Iets staan in sterre‑en‑helderte geskryf;

en ek skryf na in stof.

Vir God is die saak duidelik omdat Hy nie binne die sirkeldenke of oorsaak‑gevolg‑skema dink nie. Hy oordeel ons na aanleiding van sy uitdruklike gebod. Daarom verwag Hy 'n helder erkenning van eie skuld omdat ons sy gebod oortree het . . . sonder verwysing na ander meelopers wat volgens ons sirkeldenkende breine daartoe aanleiding gegee het.

Die vervreemding en verwydering tussen Adam en Eva het begin toe hulle die wet van die Here oortree het. God se gebod aan hulle was 'n gebod wat lewensruimte gegee en lewensgrense gestel het. Van al die bome in die tuin mag hulle geeet het ‑ ook van die boom van die lewe in die middel van die tuin. Net op die boom van alle kennis is daar 'n verbod geplaas. Deur te eet van die boom van die lewe kon hulle lewe, ewig lewe . . . maar hulle oortree die wet, hulle oorskry die lewensgrense.

Die straf aan Adam en Eva was verdrywing uit die tuin, weg van God se aangesig. Die vervreemding was nie net van God nie, maar ook van mekaar en van die diere. Die vrede van die paradys het verander in 'n oorlog van "almal teen almal". Die straf aan die mense was ook baie meer as die individuele strawwe, naamlik pynlike geboorte en moeitevolle arbeid. Hierdie twee sake is voorbeelde van hoe die vervreemding met God hulle sou tref in die wese van hulle bestaan. Juis waar man en vrou hulle vervulling vind ‑ kinders kry en werk ‑ juis daar tref die swaarkry hulle. Die lewe oos van Eden is 'n swaarkrylewe, 'n lewe van droefheid en stryd. Al ons onderlinge twiste en beskuldigings is ten diepste as gevolg van ons oortreding van God se wet en die gevolglike vervreemding van Hom.

Wanneer die mense verdryf word uit Eden, is God se motivering:

"As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!" (Gen. 3: 22b). God wil he die mens moet leef, maar nie vir altyd in 'n staat waarin hy van God vervreem is nie. Daarom verdryf Hy hulle. Die straf wat God gee is 'n stuk genade vir die mens, dit is 'n straf ter beskerming. Daarom versoen Hy uiteindelik die wêreld met Homself deur sy Seun.

Ons is deel van die versoening. Ons leef oos van Eden, maar duskant die kruis, duskant die opstanding en Pinkster. Die Gees wat vrede bewerk leef in ons. Daarom moet ons so waak teen verwyte en verwydering tussen mense ‑ tussen man en vrou, tussen kollegas, tussen vriende, tussen mensegroepe . . . en tussen kerke.

Wanneer oor en weer beskuldig en verontskuldig word, word die verwydering al groter, die bitterheid en haat groei vaster en die psigiese bloedbad word voller . . . tensy daar iewers in die geharwar iemand is wat selfondersoek doen en sy eie skuld erken. Wie hul skuld teenoor hul medemens erken, en ook teenoor God, soos Dawid in Psalm 51 ("Teen U alleen het ek gesondig . . ."), word vergewe. En wie die bevryding van skuldvergifnis ervaar, kan ook sy medemens vergewe, ook die "aanleidende skuld"! Alleen so kan die sinlose oor en weer verwyte ophou en die verwydering omslaan in versoening.

Die evangelie is dat daar inderdaad uitkoms is uit die vervreemding tussen mense en tussen mensegroepe. Daar is egter een voorwaarde: ons moet ophou vroteier speel!

Related Media
See more
Related Sermons
See more