Genesis 9:8-19
Gen 9:8-19
PREEK
Staan vir ʼn oomblik in Noag se skoene....Noag het oorspronklik nie 'n idee gehad waarvoor die ark bedoel was nie. Eers toe die reën begin, het hy verstaan.
In hierdie ark van hout was hy en sy gesin toegesluit. Geen lig, geen uitsig na buite en geen uitsig op die toekoms nie. Alles om hulle en onder hulle is vernietig. Die watermassas het alles weggespoel. En al is hulle gespaar, het dit nog steeds gevoel: Hierdie is die einde!
Na die reën, begin daar 'n wind waai. Dit is dieselfde wind wat in Genesis 1:2 gesweef het oor die chaos en die voorbrand gedoen het vir God se skeppingswerk. Die Wind van God _ die Gees van God! Na verloop van tyd het die Wind sy werk gedoen.
Hulle staan op die punt van ʼn nuwe lewe! V1-7 beklemtoon ʼn nuwe begin vir Noag! Daar is ʼn herhaling van die skeppingsverhaal, maar die mens se heerskappy oor natuur uitgebrei en ook sy verantwoordelikheid. Tog sit die merke van die verlede ook diep. Dink net watter oop toekoms daar vir hom voorlê!
Nou is dit droog Alles is groen. Alles is rustig. Skynbaar...... Maar binne-in die hart van Noag worstel 'n benoude beklemming: Sê nou dit gebeur weer? Elke keer as daar 'n storm losbars, sou hy vrees: Hierdie kon die einde wees! Elke keer as die weerlig slaan, kan dit 'n nuwe einde aankondig, kan die wolke hulle wreek op die mens se sonde! Sy oog is heeltyd op die horison gerig! Elke wolkie herinner hom aan die ergste wat kan gebeur.... Ja opgewonde is hy oor die toekoms maar daar is groot groot huiwering en bekommernis.
Ons staan op die drempel van 2002. Ons het toe wel 2001 oorleef! Sjoe dis verby! Voor ons lê 52 weke, 365 dae, 8760 ure, 525 000 minute of 31, 5 miljoen sekondes! Voor ons lê ook ʼn nuwe jaar met nuwe geleenthede en nuwe uitdagings! Aan die een kant is daar die opgewinding en avontuur maar daar is tog ook huiwering en bekommernis. Is elke stukkie verwysing na iets uit die verlede nie ʼn voorbode vir die ergste wat voorlê nie. Moet ons nie eerder terug in die ark nie...?
Dit is by hierdie algemene gevoel van magteloosheid wat die Noagverhaal aansluit; hierdie gevoel van uitgelewer wees aan magte groter as jyself. Dit maak van die Noagverhaal 'n tydloseverhaal: 'n verhaal van die hele mensdom van alle tye.
Die verhaal is so oud soos die berge. Die skrywer leen dit selfs by ander volkere, omdat dit 'n verhaal is wat ouer is as die boek Genesis en verder verspreid is as die volk Israel. Hy neem hierdie verhaal by daardie volkere op en herskryf dit, op so 'n wyse dat dit 'n verhaal word oor die Lewende God en die God se handelinge en gesindheid teenoor alle mense.
Wat sê God dan vir Noag, die stormgewaaide mens, wanneer hy op die drumpel van ʼn nuwe lewe staan?
God antwoord sy diepste hartsgevoelens met.... ʼn Reënboog bevestig ʼn verbintenis. God kom met 'n belofte _ 'n belofte van hoop van ʼn verbond!
Die Here belowe Noag dat hy en sy mense nie weer so 'n vloed sou beleef nie. En dan gee God saam met die belofte nog 'n teken: ''Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nie weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde'' (Gen. 9: 12_16)'
Vir die beangste mens wie se bestaan geskud is, sê God:
Kyk na die reënboog! Let op my genadeteken!
Drie maal word verwys na die reënboog - daardie alledaagse verskynsel wanneer dit reën, Maar nou word hierdie alledaagse verskynsel wat Noag goed geken het, _ 'n besondere verskynsel: dit word verbind met God se belofte. Dit word 'n genadeteken. Dit word die belofteteken dat geen storm so vernietigend sal wees dat die bestormde mens nie sal kan oorleef nie!
Vir 'n bevreesde Noag en sy gesin wat die volgende storm al voel aankom en vrees, sê die verhaal: Kyk na die reënboog. Kyk na die Belofteteken. Geen storm sal jou platslaan nie. Geen orkaan sal jou lewe totaal vernietig nie. Daar is hoop na die storm!
Ek weet nie waarheen die waters en storms by sal dryf nie, maar ek weet dat ek nooit uit my Here se liede en sorg sal dryf nie.
Geloof kyk na die reënboog. Geloof _ wanneer dit geskud word _ kyk na die belofte van God. Die reënboog dra die belofte van 'n son wat weer deurbreek. Dit is die weerkaatsing van sonlig in die lugruim. Daarom is dit 'n belofte van hoop, wat 'n positiewe verwagting by ons moet opwek. Want ons kan weet: die storm duur nie ver ewig nie. Daar is ʼn versekeringspolis van hoop vir ons uitgeneem. Daar is 'n reënboog na die storm!
Schuller is reg: ''Faith finds its life by scanning the horizon, knowing there will be a sunrise tomorrow.' '
Gebed: Skeppergod, ek is so dikwels beangs as deur 'n storm gegaan het _ bang dat weer sal gebeur. Vestig my oë op die beloftes van u nabyheid _ vestig my aandag op die reënboog van Genade!
Plakkaat in ʼn kantoor: " Halleluja anyway! ' 'Wat beteken dit?'' het Hy gevra: ''Wel, ek glo God seën my deurentyd, en ek moet deurentyd dankbaar wees,''
Die Reënboog belowe en bevestig Versoening!
Geloof verstaan die reënboog as teken van God wat Hom met ons kom versoen! Die Hebreeuse woord vir ''reënboog' ' word gewoonlik gebruik om te verwys na 'n oorlogsboog _ die pyl en boog waarmee oorlog gevoer is. As 'n mens hierdie verband mag gebruik, dan het die reënboogbelofte van God 'n wonderlike betekenis dat God sy oorlogsboog opgehang het _ dat Hy nie meer wil oorlog maak met die sondige mens nie. God het sy wapens opgehang waar almal dit kon sien. Die Here het kom vrede maak met die mensdom in al ons sondigheid _ soos wat Christus opgehang is aan die kruis as simbool van God se vredesverbond met ons!
Geloof verstaan die reënboog as 'n belofte van hoop en versoening. Die reënboog is God se eensydige vredesverklaring! Dit sal wonderlik wees as ons aan God dink wanneer ons die reënboog sien, Maar dit is nog nie redding nie. Redding is nie waar ons aan God dink nie, maar waar God aan Ons dink! En so moet ons die reënboog ook verstaan _ as die teken dat God aan ons dink.
Lees maar weer Genesis 9:15 en 1 6: ''Wanneer . . . die reënboog verskyn . . sal Ek dink aan my verbond met julle ... Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond.
In die storms kan ons so maklik vergeet dat God aan ons dink. Ons kan so vasgevang leef tussen ons beton oerwoude en ons bekommeroerwoude, dat ons nie eers aan God dink nie, In sulke tye stoot ons die Here dikwels eenkant toe. Maar _ en dit is die wonderlike _ God dink aan ons, selfs al dink ons nie aan Hom nie!
Hierdie is die blye versekering van die reënboog: God ''dink'' aan ons met dieselfde ''dink' ' waaraan die Here aan Noag gedink het in Genesis 8:1 : ''Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek.
Reënboog is herinnering nie net vir die mens nie , maar ook vir God self
Vir die mens is die reënboog ʼn waarborg, en vir God ʼn herinnering dat Hy wêreld wil vernuwe en nie sal verwoes nie!
Dit is die kern van genade en die grond van ware geloof: dat God dink aan die dobberende worstelaar Noag in sy arktronk onthou; dat God die twyfelaar in sy storm nie vergeet nie! Vir Noag het God se ''dink'' 'n omwenteling in sy omstandighede gebring.
So dink God aan ons. En so verstaan geloof die reënboog, en al die ander genadetekens soos die nagmaal en doop: Nie as ons wat aan God dink nie, maar aan God wat aan ons dink. Geloof verstaan die reënboog as God se simbool van hoop en versoening!
Waar vind ek dié reënboog? As dit die belofte is waar sien ek dit?
Een van die mees klassieke musiekrolprente was The Wizard of Oz waarin Judy Garland die rol van Dorothy vertolk het. Een van die liedere wat sy daarin gesing het, is by vele nog bekend:
"Somewhere over the rainbow, way up high,
there's a land that I heard of once in a lullaby.
Somewhere over the rainbow, skyes are blue,
and the dreams that you dare to dream really do come true. "
ʼn Aangrypende lied oor hoop en drome. Maar "way up high" is nie veel troos vir iemand wat way down low is nie! Iemand wat deur 'n storm van depressie of emosionele stryd gaan voel: Ek is in so 'n put dat ek die reënboog van hoop en genade nie meer kan sien nie! En ek kan beslis nie opklim na die reënboog nie. Daarbenewens is daar duisende stedelinge wat so omsoom word met wolkekrabbers, dat hulle nooit 'n reënboog sien nie, Die geboue is te hoog. Daar is te veel straatligte en rookbesoedeling.
Ander sal sê: 'n Fisiese reënboog sien ek wel nog, maar dit stil nie die storm in my lewe nie. In my eie lewens storm sien ek die reënboog glad nie meer nie. Ek hoor God se beloftes, maar in hierdie storms troos dit my nie meer nie. Dit voel of ek innerlik versmoor is; asof daar geestelike wolkekrabbers rondom my is _ hoë geboue wat die uitsig op God se reënboog versper. In hierdie storm is ek net bewus van die modderpoel waarin ek sit of lê!
Prof. Daniel Migliore van die Princeton Universiteit in die VSA vertel die volgende verhaal wat afspeel in die middestad van Trentcn, New Jersey: ''Eendag was dit my taak om 'n klein klas van nege_ en tienjariges te leer. Toe die einde van ons tyd saam aanbreek, het drie van die kinders my gevra om 'n Bybelstorie vir hulle te lees. Ek het die storie van Noag en die reënboog gelees. Toe ek klaar was met die storie, het ek gevra: 'Waar kyk julle om 'n reënboog te sien?' 'Op die strate,' het een geantwoord, Omdat ek gedink het dat hulle my verkeerd verstaan, het ek die vraag herhaal. 'Op die strate,' het die antwoord weer gekom. 'Jy kan reënboë sien in die oliekolle in waterplasse in die strate en parkeergebied' ' Hieroor merk Migliore op: ' 'These Trenton children had found God's promise of new life not up in the sky, not way up high . . . lnstead, they had found the sign God's promise way down low, in the grimy puddles of their city streets' ' (Princeton Seminary Bulletin XIV/1 1993).
Geloof ontdek die reënboog! Miskien sal ons meer dikwels die reënboog van hoop sien as ons ophou opkyk na bo. Miskien is ons eie reënboog nie way up high nie. Miskien is dit hier way down low _ hier in die modderpoel waarin ek vasgevang voel!
Die straatkinders van Trenton het nooit die voorreg gehad om 'n reënboog in die hemelruim te sien nie. Maar hulle het die seën ervaar om talle reënboë te ontdek in die modderpoele en oliekolle op straat!
Geloof is die bril waarmee ek na die werklikheid kan kyk en daarin ook tekens en simbole..ja reënboë van God se beloftes kan sien!
So is ware geloof. Dit het die insig om te besef dat God se belofles lewend is binne-in my storm, binne-in my modderpoel. Selfs al kan jy dan nie meer opkyk nie, kyk af, kyk ondertoe. Want daar in die olierige modderpoel, is 'n reënboog van hoop!
In die digter Dante se Inferno is daar 'n inskrywing oor die poorte van die hel: Elkeen wat hier ingaan, moet alle hoop laat vaar
In die hel is daar nie ruimte vir hoop nie. Hel is waar daar geen hoop is nie Anders gestel: 'n Lewe sonder hoop _ sonder 'n reënboog _ is hel!
Mag God ons leer om die klein reënbogies rondom ons en onder ons raak te sien, om te bly hoop. Geloof ontdek die reënboog!
SLOT
Dit was die kerkleier Desmond Tutu wat Suid-Afrika se bevolking in die nuwe bedeling as die Reënboognasie getipeer het. ʼn Groot gros mense het hieruit verstaan dat hy na die verskillende kleure van die bevolking verwys het. Vanuit hierdie denke het sommige ''skerpsinnig' opgemerk dat daar in die reënboog geen swart is nie. Ander het ewe skerpsinnig gereageer dat in die reënboog daar geen wit is nie! Alles omdat hulle nie verstaan het dat die reënboog verwys het nie, naamlik dat die reënboog 'n simbool van hoop en versoening is!
Ons word reënboogmense...werklik ʼn reënboognasie wanneer ons God se beloftes in 2002 indra! AMEN