Genesis 9:1-17 Pr20030309

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 76 views
Notes
Transcript

Gen 9:8-17

My BOOG

PREEK:

„My boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde" (Gen. 9:10).

Die geskiedenis van die sondvloed was agter die rug. Noag sou nooit kon vergeet hoe hy die ark moes bou nie, hoe hy met sy huisgesin en die diere by hom vir soveel dae en maande op die waters moes deurbring, en hoe hulle uiteindelik weer hul voete op vaste grond kon plaas nie. Die tonele van hierdie oordeel van God sou hy nooit kon vergeet nie. En wie kan hom kwalik neem as hy soms gedink het aan die moontlikheid van 'n herhaling van so 'n vreeslike gebeurtenis?

Selfs die Here God het verstaan dat Noag sou bang wees dat so 'n ding weer kon gebeur. In sy genade kom Hy met Noag praat. ”Noag, jy hoef nie bang te wees nie. My boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens en alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie."

1. God gee die boog as teken van sy verbond.  „My boog . . . sal 'n teken wees VAN DIE VERBOND tussen My en die aarde." .

Die reënboog was 'n ou natuurverskynsel; maar vir Noag het dit tot hiertoe nog geen besondere betekenis gehad nie. Nou kom die Here en gee 'n heerlike betekenis daaraan deur te sê: Noag, solank as die aarde bestaan, sal daar wolke en reën wees; en as die son daarop skyn sal jy die boog sien. Maar van nou of sal dit vir jou 'n betekenis hê. In die toekoms sal dit vir jou die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om te dink aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens en alle vlees wat op die aarde is.

Wat 'n gerusstelling moes hierdie woorde nie vir Noag gewees het nie! So lees ons meermale van die Here as die Verbondsgod. In Gen. 15:18 sien ons: „Op die dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit en gesê : Aan jou nageslag gee Ek hierdie land . . ." In Gen. 17 is 'n herhaling van hierdie verbond en die instelling van die besnydenis as teken van die verbond. Dwarsdeur die Ou Testament word Hy, geroem en geprys as ons sing.

Dis die God der leërmagte, troue Bondsgod van weleer. (Ps. 146 : 8.)

In die Nuwe Testament het ons egter 'n onuitspreeklik heerlike nuwe verbond. Hierdie Nuwe Verbond is egter nie tussen God en die mens nie, maar tussen God die Vader en God die Seun, Jesus Christus. Nou gaan ons baie verder terug as wat ons ou verstandjie kan dink of begryp. Heel aan die begin van die verlossingsplan hoor ons in die gees dat God, die Vader, vir sy enigste Seun sê: „My kind, Ek is gewillig om U te gee aan 'n verloregaande wêreld. Gaan na die aarde toe. Word 'n mens. Volbring die wet wat die mens nie kon volbring nie. Betaal met U bloed aan die kruis vir die mens se sonde. En EK onderneem om aan Jou te gee almal (Joh. 1 :12) wat in Jou sal glo en Jou sal aanneem as hulle Saligmaker." In die gees sien ons ons Here Jesus hierdie aanbod aanneem of aanvaar! Dit is dus 'n ooreenkoms, 'n kontrak of 'n verbond tussen die Vader en die Seun. As gevolg van hierdie verbond verlaat die Seun die hemel. Hy word gebore te Betlehem. Sy hele lewe is om die wil van die Vader te doen. Eindelik kon Hy aan die kruis uitroep: Dit is volbring!

Hier is dus die boodskap van die Nuwe Verbond. Van my word nie meer verwag om die wet te volbring om te kan lewe nie, maar om in Jesus Christus te glo wat alles vir my part volbring het; en as ek in Jesus glo en Hom aanneem as MY Saligmaker, dan word sy verdienste en sy geregtigheid vir my toegereken asof ek in eie persoon vir al my sondes betaal en die geregtigheid van God volbring het. Ek kan aan my saligheid nie twyfel nie, omdat dit God die Vader is wat die Verbond met sy Seun Jesus gemaak het.

My boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde.

2. Die mens moet na die boog kyk en die verbond onthou.

In die verlede het Noag dikwels die reënboog gesien. Maar van nou of sou hy daarna kyk. En wanneer hy met eerbied na die teken kyk, dan sou hy met kalmte en aanbidding dink aan die verbond wat God gemaak het. Die boog het vir hom 'n nuwe betekenis gekry.

So kyk die sondaar na die kruis van Golgota en na die deurboorde hande en voete van Jesus. Hier pas dit ons om te dink aan die ongelowige Thomas. Hy was afwesig toe die Heiland aan die dissipels verskyn het. „Die ander dissipels sê toe vir hom : Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merke van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie. En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God' (Joh. 20:24‑27).

Die Here het vir Noag gesê: Kyk na die boog in die wolke en dink aan die verbond wat Ek met die mens gemaak het. Jesus sê aan die sondaar: Kyk na my hande. Kyk en dink aan die verbond, aan die Nuwe Verbond wat die Vader met sy Seun gemaak het naamlik: As jy, sondaar, hoe sleg en skuldig ook al, as jy in My glo, sal die Vader jou aan my gee, omdat Ek in jou plek gesterf het en alles in jou plek volbring het.

Die geestelike stryd is hard. Daar is seker min opregte Christene wat nie al soms gevoel het of hulle die stryd maar wil opgee nie. Helaas, baie gee werklik die stryd op en val terug in sonde en ongeregtigheid. Maar die stryd word vir ons makliker as ons leer om nie heeldag net na ons swakhede, ons koudheid, ons liefdeloosheid en ons kleingelowigheid te kyk nie, maar om op te kyk en „met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, DIE OOG GEVESTIG OP JESUS, die Leidsman en Voleinder van die geloof . . ." (Hebr. 12:2).

3. God kyk self na die boog en gedenk self sy verbond.

God wou veel meer hê as dat Noag moes kyk en onthou. Die eintlike les is dat die Here wou hê Noag moes na die boog kyk en dan onthou dat God self na die boog kyk en dan self die verbond onthou wat hy gemaak het. Let op die nadruk waar mee hierdie waarheid herhaal word in die volgende" paar verse: „As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, DAN SAL EK DINK AAN MY VERBOND wat daar bestaan tussen My en julle . . ." Dan weer: „As die boog dan in die wolke staan SAL EK DIT AANSIEN OM GEDAGTIG TE WEES aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens . . :' Noag moes kyk en onthou dat God kyk en onthou. Dit is die eintlike les.

So is dit met ons in die Nuwe Testament. Ons kyk na die kruis, na die deurboorde hande en die bloed. Maar in die toekoms sal ons onthou: God die Vader kyk self na die kruis en die bloed van sy Seun Jesus! En as Hy die kruis en die bloed sien, dan dink Hy self aan die verbond wat Hy. self met sy Seun Jesus gemaak het.

Ons sien ons Here Jesus nie alleen waar Hy vir Thomas sê „Bring jou vinger hier en kyk na My hande" nie maar ons sien Hom ook opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van sy Vader. Daar tree Hy vir ons in. Daar wys Hy vir sy Vader sy hande. En as die Vader sien, dan vergewe Hy!

Wat 'n geweldige verskil maak dit vir my in my godsdiens. Baie kere al het Satan probeer om my moedeloos te maak of te laat twyfel. En as ek na my swakhede, foute en gebreke kyk, dan moet ek nogal erken die ou vyand is reg. Maar as ek opkyk na die kruis en ek onthou dat God die Vader self kyk na sy Seun aan die kruis en as Hy sy Seun se bloed sien dan vergewe Hy – Ja, as ek daaraan dink dan sing ek uit die diepte van my hart:  “Twyfel, swyg; swyg, bange sorge! God, die troue, is my Vrind, En sy Gees spreek diep verborge Dat ek ewig is Gods kind. Hoe my skuld my hart laat twyfel, Vrees vir straf laat my nie weifel, Want ek weet in sondesmart, God is meerder as my hart."

Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.