Gen 11:1-09 Pr20040530

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 25 views
Notes
Transcript

Genesis 11:1‑9

Saamkliek of Ontbondel?

Die verwarring in Babel en die hemelvaart van Jesus het dieselfde boodskap

PREEK

Die manier waarop jy iets verstaan, sê soms meer oor jouself, as oor die ding wat jy verstaan. Iemand sal blomme ruik, soos die grappie lui, en dadelik vra waar die begrafnis is. Ons kan hieruit aflei dat die persoon 'n pessimis is, meer as wat ons leer waarvoor die blomme is. Almal van julle het al seker prentjies gesien wat, as jy byvoorbeeld op 'n sekere manier daarna kyk, lyk soos 'n wit vaas. Kyk jy langer daarna, dan is dit twee donker gesigte wat na mekaar kyk. So gaan dit ook met die Bybel. Hoe ons die Bybel lees sê baie keer meer van onsself, as oor die teks.

Neem nou maar die storie van Babel. Almal ken dit. Dit is 'n storie wat baie fyn en netjies geskryf is. Dit strek oor nege verse. Die eerste vier verse vertel wat die mense, die nageslag van Noag, gedoen het. Hulle het hulle bou metodes verbeter en wou 'n stad bou met 'n toring wat tot aan die hemel reik. Die laaste vier verse (verse 6‑9) balanseer presies met die eerste vier. Dit is God se reaksie op wat die mense gedoen het. God het hulle verskillende tale laat praat.

Die spreekwoordelike Babelse verwarring het ontstaan. Ons Kinderbybels druk dit gewoonlik so uit, dat die een 'n baksteen gevra het, en dat die ander dan vir hom 'n hamer aangegee het. So is die mense se plan verydel.

Die vyfde vers staan presies in die middel van die storie. Dit is as't ware die as waaraan die twee helftes van die storie gebalanseer word. Die Here God kom af aarde toe en kyk na die stad en die toring wat die mense gemaak het. Hemel en aarde, mens en God, ontmoet in hierdie vers.

God se reaksie word in vers 6 so beskryf, en ek gee 'n baie letterlike vertaling van die Hebreeus (julle sal sien dit verskil effens van die Nuwe Afrikaanse Vertaling):

"Kyk! Een volk en een taal vir hulle almal, en dit het hulle begin om te doen. En niks weerhou hulle daarvan om alles te doen wat hulle beplan om te doen nie Die vraag is nou wat hulle verkeerd gedoen het. Hoekom het God besluit om hulle planne in die wiele te ry?

Luister na die Nuwe Afrikaanse Vertaling (vers 6): "Hierna sal niks wat hulle beplan vir hulle onmoontlik wees nie."

Die nuwe vertaling interpreteer: As hulle dit regkry om die stad te bou met die toring wat tot aan die hemel reik, sal hulle amper soos God wees. Niks sal dan meer vir hulle onmoontlik wees nie. Hulle sonde is dus, volgens die Nuwe Vertaling, dat hulle soos God probeer wees. Hulle wil 'n "naam" vir hulleself maak. Hulle het, soos die ou Grieke gesê het, hubris, hoogmoed, menslike trots, arrogansie, selfverheffing, 'n aanstellerigheid teenoor God. Met hulle toring bestorm hulle die poorte van die hemel, daag hulle God se gesag uit, wil hulle die bestaande orde ontwrig.

Al die preke wat ek al gehoor het oor die gedeelte van kindsbeen af, lê dit so uit. En dan het mense sommer nog hieruit ander afleidings gemaak. Om wolke met Jodiumkristalle te bespuit sodat dit begin reën, is sonde, want ons probeer God speel. Om vliegtuigreise of ruimtereise te onderneem is sonde, want ons bestorm daarmee die poorte van die hemel.

Daar is egter ook 'n tweede interpretasie moontlik ‑ en daar is baie goeie redes om te dink dat hierdie, siening beter in die konteks van Genesis pas. Volgens hierdie interpretasie is hulle sonde nie dat hulle soos God probeer wees nie. Hulle probleem is juis dat hulle nie soos God wil wees nie!

Ons kan vers 6 volgens die siening, goed opsom as: "Niks verhinder hulle om hulle plan uit te voer nie." Niks keer hulle om die stad te bou en die hoë toring nie. Iets sal daaraan gedoen moet word.

Wat is die rede dan dat God die mense verhinder het om hulle plan uit te voer? Ons lees daarvan in Genesis 1:27 waar God die mens op die sesde dag geskape het. Daar staan: "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep Die volgende vers vertel ons hoekom God die mens geskape het (ek lees doelbewus die Ou Vertaling omdat dit redelik letterlik is): "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Jy moet nou baie mooi luister, as jy wil verstaan wat dit beteken om as beeld van God op te tree, en wat dit met die opdrag te doen het om die aarde te vul. In die ou Nabye Ooste, is die ideale heerser gesien as 'n opsigter, as 'n bewaarder, 'n oppasser van sy onderdane. Hy mag nie sy onderdane uitbuit nie. Dit was gebruiklik dat die heersers van daardie tyd oral en tot in die verste uithoeke van hulle ryke, beelde van hulleself laat maak het. Die beelde moes dan as't ware die heerser se belange in sy afwesigheid behartig.

As ons nou Genesis 1:27‑28 teen hierdie agtergrond lees, dan beteken dit God het die mens gemaak om as sy beelde die aarde te vul. Mense moes oral op aarde, tot in die verste uithoeke, as sy lewende beelde optree, as sy verteenwoordigers, en orals God se belange behartig.

In Genesis 9:1, na die sondvloed, kry Noag en sy kinders presies dieselfde opdrag (en ek lees weer die Ou Vertaling): "En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: `Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde."' Nou vind ons in Genesis 11 dat die nageslag van Noag toe na die Sinai vlakte toe gestroom het, en besluit het om 'n toringstad te bou (vers 4): "Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie." Bang en onseker, wou hulle nie uitmekaar gaan nie. God se probleem met hulle was dus nie dat hulle soos Hy wou wees nie, maar dat hulle juis nie soos Hy wou wees me. Hulle wou nie as lewende beelde die aarde vul om oral God se heerskappy te vestig nie.

So, dit is wat God gesien het toe Hy afgekom het aarde toe om die stad en die toring te inspekteer wat die mensekinders aan't bou was. Toe sê Hy (om vers 6 te parafraseer): "Uhm ... hier het ons een volk en een taal vir almal van hulle, en dit is die gevolg hiervan: Soos dinge nou staan, is daar niks wat hulle verhinder om hulle plan uit te voer nie. Kom Ons kyk wat ons hieraan kan doen."

God het toe hulle taal verwar. Aan die einde van die storie staan daar dan baie duidelik dat God se plan geslaag het. In 11:8 lees ons: "Die Here het hulle toe van daar of verstrooi oor die hele aarde ..." Dit word in vers 9 herhaal: "... en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi."

Eintlik het God hulle dus nie gestraf nie; nee God het hulle net maar so 'n bietjie aangemoedig om te doen waartoe Hy hulle geroep het.

Nou wonder ek wat dit van ons sê dat ons die verhaal gelees het as dat mense wou God speel? Hoekom het die Nuwe Afrikaanse Bybel die siening bestendig? Ek sou raai dit is omdat ons iets van ons eie omstandighede in die verhaal wou inlees. Ons wil graag ons eie bevoorregte posisie in die samelewing behou; ons wil nie graag hê ons posisies moet enigsins bedreig word nie; ons wil nie graag hê ander mense moet probeer om soos ons te wees nie; ons waak jaloers oor die voorregte en magsposisies wat ons in ons samelewing verkry het. Ons het so baie in die ou politieke bedeling gehoor, en ek sê dit met huiwering:  "Jy dink jy's wit, né!" As ons so oor die verhaal dink, dan is dit maklik om God se handeling ook so te interpreteer: God wou sy posisie behou, toe straf hy mense wat soos Hy wou word. Ten einde mag te behou en mag te konsolideer, is die natuurlike aksie van mense om in groepe saam te kliek. "Eendrag maak mag!" "Ex unitate vires" is ons leuse. Selfs in die kerk en op skole se bestuursrade vorm ons klieke wat deelneem aan politiese magspeletjies. Ons wil mense leer om hulle plek te ken; ons wil mense op hulle plekke sit. Ons gebruik dikwels kerkverband om mense in en uit te organiseer.

Ek vind dit moeilik om te glo dat God ons wil straf as ons soos Hy wil wees; dat daar iets mee verkeerd is om ruimteskepe te bou, of die weer te probeer beïnvloed, of in 'n vliegtuig te ry. Ek sukkel om in 'n God te glo wat bedreig voel as mense wolkekrabbers bou of hulle boutegnieke verbeter. Ek sukkel om in 'n God te glo in wie se Naam magspeletjies van eiebelang gespeel word.

As ons die verhaal nuut lees, maak dit van God 'n genadige God, 'n God wat seker van Homself is, 'n verlossende God. Ek glo ook dat hierdie God Homself geopenbaar het in Jesus Christus; dat Jesus Christus se hemelvaart presies dieselfde doel voor oë gehad het as die taalverwarring van Babel: naamlik om mense te help om hulle Goddelike opdrag uit te voer. Want Jesus het juis uit die stad Jerusalem opgevaar hemel toe, om sy volgelinge te verstrooi, oor die aarde te verstrooi. Ons lees daarvan in die boek Handelinge. Volgens Handelinge 1:8 is die laaste woorde wat Jesus voor sy hemelvaart aan sy dissipels gesê het, die volgende:  "... en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld."

Getuies wees, ja, lewende beelde wees, Christus verteenwoordigers wees, nie net in Jerusalem stad nie, maar in Judea en Samaria en tot in elke straatjie en gangetjie en hool van die hele wêreld.

In Handelinge 11:9 lees ons dat die Christene uit Jerusalem gevlug het nadat Stefanus gestenig is. Hulle het oor die aarde begin versprei sodat mense oral na hulle kon kyk en Jesus sien.

Dit is vir my dam die boodskap van Jesus se hemelvaart dat ons maar moet dink oor ons neiging om net met mense te meng "wat dieselfde taal as ons praat", en ek bedoel dieselfde geloofstaal, of politieke taal, of geestestaal. Ons moet dink aan ons neiging om onsself in snoesige homogene kliekies te organiseer waar ons verskillende soorte mure rondom onsself kan bou. Miskien moet ons doelbewus iets doen om uit te reik sodat die lig van Christus oral kan skyn.

"Eendrag maak mag" kan soms gevaarlik wees as dit die doelstellings van God ondermyn. Ons moet juis die strate en die gangetjies en hole vul met lewende beelde van God sodat God se belange in die uithoeke van die wêreld behartig kan word. En ons hoef nie hiervoor bang te wees nie, want dit is 'n roeping en nie 'n vloek nie.  Amen

Related Media
See more
Related Sermons
See more