Genenesis 12:1-10 Pr20040220
Genesis 12: 1‑10; 13: 7‑18; 14:14‑24.
ABRAHAM, VADER VAN DIE GELOWIGES.
Preek
Broeders en susters, Abraham word in die Skrif die vader van die gelowiges genoem. En Paulus, wanneer hy in sy Romeine brief skryf oor die saligheid, gee hy baie aandag juis aan Abraham. Daarom is dit vir ons geloofslewe van groot belang dat ons ons geestelike familieband gaan ondersoek. Wat beteken dit om kinders van Abraham te wees? Wie is Abraham? Wat maak van hom so 'n belangrike en uitstaande persoon in die Bybelse geskiedenis?
Wat Abraham so belangrik maak, is dat hy geglo het. In sy lewe sien ons duidelik wat geloof is, en wat God maak met een wat glo. Hy het geglo dat God alles kan doen wat Hy gesê het, en hy het voor God verskyn, nie met dit wat hy in eie krag presteer het nie, maar as een wat in volle oorgawe sy lewe konsekwent inrig volgens God se beloftes. Sy lewe en lewensloop word gelei deur God se beloftes. En hy hoop op die vervulling van daardie beloftes. So verskyn hy dan voor God: as een wat glo in God, en leef uit daardie geloof. Laat ons nou die dinge van nader ondersoek.
Wat lees ons van die tyd voor Abraham? Die geskiedenis voor Abraham eindig elke keer op 'n droewe noot. Dit eindig op die sondige verval van die mense.
Dis Adam en Eva wat ongehoorsaam is, en nie wil loop op die pad wat God aan hulle voorgehou het nie. En die pad van sonde gaan teen 'n groot spoed voort, sodat God oplaas besluit om alles wat lewe, met die sondvloed te verdelg. Net Noag en sy huis bly behoue. Maar na Noag loop alles wees skeef. Ja, so erg, dat die mense deur middel van die toring tot by God wou kom, en die hemel bestorm, in plaas van diensbaar te wees op hierdie aarde wat aan die mens gegee is om oor te regeer. En weer gryp God in. Nie weer soos by die sondvloed nie, maar Hy verwar die taal, en so het Hy tog al die menslike plannetjies van eie krag en rewolusie teen God verbreek.
Dan begin God met Abraham, en God beloof aan hom 'n nageslag wat ontelbaar is. Hy sal vader wees van 'n nageslag wat nie sal maak soos wat die mensdom voor Abraham gemaak het nie. Hy sal die vader wees van 'n nageslag van gelowiges, van mense wat nie in eie krag en sondigheid voor God wil staan nie, maar wat enduit net glo en hoop op dit wat God beloof het. .
Broeders en susters, vergelyk net Abraham se hele lewenswyse met dit wat die mense voor hom gedoen het. Kyk die groot verskil! En as God dan aan Abraham 'n ontelbaar groot nageslag beloof, dan begin ons besef wat die Here met Abraham begin het.
Abraham lewe in die geloof. Sy lewe is gevorm en geskoei op dit wat God beloof. En so sal hy ook vader wees van 'n groot nageslag.
Hy lewe in die geloof. Wat beteken dit? Sy lewe is geskoei op dit wat God beloof het. Wat beteken dit?
Abraham se vader, naamlik Tera, het sy hele familie geneem en getrek uit Ur van die Chaldeërs, en tot by Haran gekom, en daar gaan woon. Maar God sê vir Abraham: Jy moet verder gaan. Gaan jy na die land wat Ek jou sal wys. Waar is dit? Hoe lyk dit daar? Sal 'n mens daar kan boer? 'n Klomp vrae wat 'n mens kan stel. Eers baie later sal God presies vir hom sê waar en hoe die land is. Nou ontvang hy net die opdrag: Gaan na die land wat Ek jou sal wys.
God sal wys. Dis al. Abraham moet dus vertrou dat God wel sal wys! Sonder voorwaardes moet hy vashou aan wat God beloof het. En dit word moeilik gestel: Abraham, trek uit jou land uit - dit gaan dus 'n ver pad wees - heel landuit! En waar hy dus as vreemdeling op reis ook nie kan reken op iemand se beskerming nie, want hy is nêrens burger van 'n land nie. Geen burgerregte nie!
Maar meer nog: Ook uit jou familie uit, om sodoende letterlik 'n vreemdeling te word. En ook uit jou vader se huis, jou intiemste aardse bande. Dus, Abraham: Skeur jou heeltemal los uit alle aardse bande, en gaan na die land wat Ek jou sal wys!
Alle aardse vastigheid word onder hom weggeneem. Al vaste grond waarop hy kan staan, is God se belofte - die belofte waarop sy hele lewe moet rus!
Toe trek Abraham in gehoorsaamheid aan God. Hy kan net by sy bestemming kom as God hom daar bring. In homself het hy niks. Hy is heeltemal los geskeur van alle aardse bande.
Soos die kraai vlieg, is dit omtrent 1 000 km. se trek weg van Haran af waar hy toe die eerste aanduiding kry van die land wat die Here hom sal gee.
Toe moes Abraham aftrek na Egipte, omdat daar hongersnood in die land was. So leer Abraham die beloofde land ken: toe daar hongersnood was! En ook as die land waar reeds inwoners is, naamlik Kanaäniete. As sy nageslag daar moet woon, sal die Kanaäniete daar moet uit! Twee groot struikelblokke: die Kanaäniete, en die hongersnood!
So is die land van beloftes. O, waarin het hy hom tog begewe? Was die lewe in Haran nie beter gewees as hier nie? Tog gaan hy nie terug nie, hoewel hy die geleentheid gehad het. Daarop vestig die Hebreër brief ons aandag. Hy gaan na Egipte, maar toe die hongersnood oor is, gaan hy weer terug na Kanaän, naby dieselfde plek waar die Here aan hom verskyn het om te sê dat dit die beloofde land is.
So hou Abraham vas aan wat God beloof het. 'n Uwe wat rus op God se belofte.
Die volgende krisis is die rusie tussen die veewagters van Abraham en Lot. Daar moet skeiding kom. Daar moet getrek word. Waarheen? Kan hy vir Lot sê: Jy moet loop, want God het hierdie plek aan my gegee? As hy dit sou doen, dan sou Abraham op 'n manier besitreg moes uitgeoefen het. Dan moes hy 'n spesifieke deel vir homself opgeëis het. Dan sou hy homself moes vasbind aan 'n stuk aarde in Kanaän.
Maar die Skrif sê later dat al stukkie grond wat wettig deur Abraham opgeëis is, was die stuk vir 'n begraafplaas vir sy vrou. En dit het hy gekoop. Verder het hy niks opgeëis tot sy eiendom nie.
Maar hoe dan met Lot gemaak? Hy laat die keuse aan Lot oor, want hy weet dat sy reg by God is, en al kies Lot ook wat, Lot sal nie met sy keuse vir Abraham uit die land uitdryf wat God aan hom beloof het nie.
Was dit nou besluiteloosheid van Abraham? Geheel en al nie. Deur op te tree, het hy weer eens sy hele lewe en lewensgang voluit afhanklik gemaak van God se belofte.
Hierdie handelswyse word deur God beantwoord. Hy verskyn weer aan hom, en dan vir die eerste keer sê Hy duidelik hoe en waar die land is wat Hy aan Abraham se nageslag sal gee. Toe eers die eerste duidelike aanduiding. Trek na die land wat Ek jou sal wys. Nou eers wys God dit aan hom!
Met hierdie gebeurtenis is Abraham se posisie nog nie afgehandel nie. Nog 'n keer word Abraham gestel voor die toets om te handel volgens God se beloftes.
Dis naamlik toe Abraham vir Lot gaan verlos het uit die hande van die vyand wat oorlog gemaak het teen Sodom waar Lot gaan woon het. Toe Abraham terugkeer van hierdie oorwinningstog, bied die koning van Sodom uit dankbaarheid vir Abraham se militêre optrede, alles as 'n geskenk aan wat die vyand gesteel het en wat Abraham weer teruggeneem het.
In baie duidelike taal wys Abraham die geskenk van die hand. Hy wil nie eens 'n draad of 'n skoenriem hê van die koning van Sodom nie. Letterlik niks!
Die rede hiervoor: Sodat u nie kan sê nie: Ek het Abraham ryk gemaak.
Wat hy nodig het, daarin sal God voorsien, Hy wat hom na hierdie land geroep het. En as hy rykdom mag verkry in die land wat die Here hom belowe het, dan sal die Here dit aan hom gee. Daardie eer kom die Here persoonlik toe, die Here wat sy beloftes vervul.
Broeders en susters, uit hierdie paar voorbeelde wat die Skrif ons gee, begin ons 'n duidelike prentjie kry van dit wat Abraham gedoen het.
God se beloftes, dit het hom gelei. En daarop het hy vertrou. Dit was die fondament waarop sy lewe gerus het. Hy het gelewe van God se belofte. Hy het vertrou: God sal doen wat Hy beloof het.
Daardie volle oorgawe aan God, en vertroue op Hom. Hoe anders is dit nie as wat al die mense voor hom gedoen het nie? Die toring van Babel ‑ die mense wou in eie krag, aardse krag, tot by die hemel kom. Maar Abraham leef van dit wat God in sy genade belowe en doen.
Dis die enigste manier hoe die mens voor God kan verskyn: Net deur te vertrou op dit wat God beloof. So 'n lewe van vertroue is by die Here aanneemlik. En dit is ook die sleutel tot ons saligheid, want elkeen wat glo, sal gered word. Om te glo, om God se belofte met jou hele hart vas te gryp as fondament van jou lewe.
En God se belofte is natuurlik sy Seun as Redder. Dit moet ons glo, en op daardie basis lewe. Wie dit doen, voluit glo in Jesus Christus, sal gered word!
Amen.
Dankgebed en voorbidding
Vrye gebed. Dink na oor die nood in julle omgewing en doen voorbidding daarvoor.
Offergawes
Sien die basisliturgie vir die lydenstyd vir musiek wat moontlik hier voorgespeel kan word.
Antwoordlied
Lied 397:1 Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart
1. Ontsluit , o Heer , ontvlam ons hart -
laat dink ons aan u lyding .
U het vir ons die hel se smart
gedra tot ons bevryding .
Ons kan u liefde nooit verstaan ,
maar deur geloof gryp ons dit aan
dat U vir óns gely het .
Laat ons in dankbaarheid , o Heer ,
U altyd met ons lewe eer ,
omdat U ons bevry het .
Seën
Julle hoef nie onseker te wees nie. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het. Omdat julle in Hom glo, sal julle nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê. Amen