Genesis 12:10-20 Pr950730

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 12 views
Notes
Transcript

Genesis 12:10-20

GOD SE KIND DEUR DIE WêRELD VERWYT.

PREEK:

“Wat het jy my nou aangedoen?”  Dit is ʼn vraag wat die heidense Farao aan Abram, die geloofsman, gestel het.  Dit is ʼn treurige vraag;  ʼn vraag, wat tot diepe selfondersoek en ootmoed dwing.  Want dit is ʼn vraag wat vandag nog deur wêreldlinge aan Christene gestel kan word asook inderdaad gestel word: “Wat het jy my nou aangedoen?”  Dit is ʼn vraag hierdie waarin ʼn harde verwyt tril, dit is ʼn beskuldigende vraag, ʼn vraag met ʼn aanklag en ʼn veroordeling - ja, van die kind van God deur die wêreldling!

Die groot Bybelfigure - soos ook Abram - staan nie so ver van die gewone gelowige verwyder as wat ons soms reken nie.  Hoewel Abram ʼn groot figuur was, later selfs die vader van die gelowiges genoem is en ʼn wonderlike en navolgenswaardige voorbeeld van geloofsgehoorsaamheid gestel het, was daar - selfs in sy lewe - ʼn tydstip toe daar maar bra min van die geloofsheld in hom te sien was;  oomblikke toe sy menslike swakheid die oorhand gekry en toe selfs hy gefaal het in sy getuienis voor die wêreld.

1.       LET EERS OP ABRAM AS GELOOFSMAN:

Volgens Hand 7:2-3, het Stefanus gesê dat die Here reeds daar in Ur aan Abram verskyn en hom beveel het om te trek.  Abram het toe saam met sy vader tot in Haran getrek, waar hy vir ʼn tyd lank gebly het.  Maar toe het die tweede bevel van die Here tot Abram gekom:  “En die Here het aan Abram gesê:  “Gaan uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”

Dit was ʼn moeilike bevel om te gehoorsaam.  Laas Sondag is daar daarby stilgestaan.  Let net weer daarop dat daar ʼn drieledige bevel was:  Abram moes naamlik uit sy land, uit sy familie en uit sy vader se huis uittrek.  Let op die stygende intensiteit in die bevel.

Die Here sê ook nie vir Abram na watter land hy moet trek nie;  dit sou eers later aan hom geopenbaar word.  Hy moet uit sy geboorteland, waar afgode gedien is, wegtrek.  Hy moet met ander woorde breek ook met die diepste dinge waaraan hy gewoond was - ja, met ʼn ganse ou lewe.

Hy mag nie sy hele familie saamneem nie, want die sou hom later kon beïnvloed om na die ou dinge in Ur te verlang en die begeerte by hom kon wek om terug te gaan na sy land.  Nee, die Here wil van Abram ʼn gans nuwe en daarby ʼn groot, ja ʼn eiendomsvolk maak, uit wie die Messias eendag gebore sou word.

Abram was gehoorsaam aan hierdie moeilike bevel.  Hy het, deur die genade van God, in geloofsgehoorsaamheid weggetrek - net soos die Here hom beveel het.  Ja, hy trek weg, met alle uiterlike en sigbare faktore skynbaar teen hom.  Die Here het beloof om hom ʼn groot nasie te maak - en Sarai was ʼn kinderlose!  Abram se naam, so het die Here ook belowe, sou groot wees - en Abram was maar ʼn eensame vreemdeling op ʼn trekpad na ʼn onbekende bestemming!  So baie dinge teen hom.  En tog het hy gehoorsaam en weggetrek - getrek slegs op bevel en met die beloftes van die Here.

Die toppunt van geloofsgehoorsaamheid waartoe die genade van God hierdie man gevoer het, openbaar Abram op die berg Moria, toe hy, ook op bevel van die Here, gewillig was om sy enigste seun, Isak, te offer.  Voordat ons egter by daardie insident in sy lewe kom, vind ons dat -

2.       ABRAM OOK DEUR DIE HERE OP DIE PROEF GESTEL     WORD EN DAT ABRAM IN SY GELOOF GEWANKEL HET:

Abram hert goed koers gehou as gelowige.  Maar daar het ʼn hongersnood - ʼn beproewing dus - in Kanana gekom, en Abram moes aftrek na Egipte.

En op hierdie punt - eienaardig genoeg - oormeester ʼn ongegronde vrees en selfs twyfel hierdie man van geloof.  Abram was naamlik bang dat Farao hom terwille van sy mooi vrou, Sarai, om die lewe sou bring.

Die man aan wie die Here sulke wonderlike beloftes aangaande sy toekoms gemaak het; die man wie se verre toekoms selfs deur die Here gewaarborg is; die man wie se nageslag nog - soos die Here self belowe het - die land Kanaän sou beërwe; hy is nou met eens bang dat ʼn heidense koning ʼn einde sou maak aan alles wat die Here belowe het!  Dit is asof Abram al God se beloftes vergeet en hom hier blind staar teen die moontlike gevaar daar in Egipte.

Die groot geloofsman faal hier.  Te midde van ʼn moontlike gevaar soek hy nie leiding en krag in die beloftes van die Here nie, maar hy probeer self om hom te vrywaar teen moontlike gevaar deur ʼn leuen te vertel!  Hy versoek naamlik sy vrou, om aan die Farao te sê dat Sarai sy suster is.

Wat hierdie sonde van Abram vererger, is die feit dat die leuen wat hy vertel het ʼn fyn beredeneerde en subtiele leun was.  In Gen 20:12 word gemeld dat Sarai werklik Abram se halfsuster was.  Maar nou gaan Abram heen en gryp na daardie halwe waarheid. Heel waarskynlik wou hy sy eie gewete probeer gerusstel deur ʼn halwe waarheid te vertel.  Feit bly egter dat ʼn halwe waarheid ʼn leuen is.

Abram, geloofsman, jy wat eenmaal, op die woord en beloftes van die Here, alles verlaat en die vreemde ingetrek het; jy met die moed en durf van die ware geloof; jy wat teen alle menslike en uiterlike dinge in en ten spyte van oënskynlike mislukking nogtans geglo en God gehoorsaam was; hoe skandelik faal jy nou hier!  Hier waar jy feitlik vir die eerste keer op jou trekpad met ʼn bedreiging van die wêreld te doen kry!  Abram, jy, ʼn leuenaar?  Jy wie se siel nog altyd op die kruine van die geloofsberge vertoef het; jy wat nog altyd ʼn heilige vrees vir die Here openbaar het; swig jy nou voor een enkele bedreiging?  En wat nog erger is:  Abram fabriseer eintlik self hierdie bedreiging.  Hy loop eintlik hier die moeilikheid vooruit - hy gaan soek dit agter die bult.  Die Farao het nog geen enkele woord gespreek of vinger verroer waardeur Abram se vrees kon opgewek word nie.  Abram was trouens nog nie eers op pad na Egipte nie, toe die vrees en twyfel hom begin beetpak en hy by voorbaat reeds sy sondige voorsorg maatreëls begin tref vir wat moontlik daar mag gebeur.

Hy, die man van God, sondig en hy laat ook sy familie en selfs sy bediendes sondig!

Hoe naby staan Abram daarmee tog nie aan die gewone gelowige nie.  Hoe is Abram se geloofslewe, tot op hierdie besondere tydstip altans, nie ʼn sprekende voorbeeld van ons eie lewe as Christen gelowiges nie.  Want hoe kan ons nie ook soms, in ʼn oomblik van gevaar, of beproewing, of versoeking, ʼn ganse verlede vergeet, al Gods handeling met ons vergeet, Sy dierbaarste beloftes versmaai, en selfs handel asof daar geen God is en derhalwe geen redding nie!  Hoe kan ons ook dikwels, terwyl ons die ewige trou van God vergeet, ons blind staar slegs op die Farao's nie!

Hoe diep bedroef ons nie die Here deur ons angs, ons twyfel en ons kleingeloof nie.  En hoeveel skade ly ons eie geloofslewe nie deur so ʼn optrede nie.  Maar - om terug te keer tot Abram - die ergste van alles was nog dat:

3.       ABRAM DEUR ʼn HEIDENSE FARAO BESTRAF WORD:

“Daarop laat Farao Abram roep en hy sê:  “Wat het jy my nou aangedoen?  Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie?  Waarom het jy gesê: Sy is my suster, sodat ek haar vir my as vrou geneem het?  Daar is jou vrou dan nou - neem haar en gaan weg.

Abram wou by geleentheid sy eie heil uitwerk.  In selfsug het hy vir sy eie lewe gevrees - vandaar dat hy die leuen vertel het.  Maar God laat geen sonde ongestraf nie.  Met sy leuen, waarmee hy bedoel het om homself te red, stort hy juis vir Sarai - en daarmee ook homself - in die ellende.  Dit wat hy probeer verhoed het, vind toe juis plaas - Sarai word na Farao se paleis geneem!

Daar in die Farao se paleis, sou die Here vir Sarai in Sy bewaring neem.  Maar met Abram sou die Here op heel besondere wyse afreken:  Die Here sou naamlik ʼn heidense koning gebruik om Sy kneg se gewete weer wakker te skud met die vraag:  “Wat het jy my nou aangedoen?”

Let op:  “Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy nie...?  Waarom het jy...?

Hoe, dink jy, moes Abram gevoel hert toe hierdie heiden vir hom kenner, ja kind van die ware God, geloofsman, so bestraf het, sy vrou aan hom terug gegee en - ergste van alles - hom versoek het om sy land te verlaat?

Wat ʼn grote vernedering moes dit vir Abram gewees het om deur ʼn heiden berispe te word oor sy gedrag!  Ja, Abram het seker sy hoof in skaamte laat sak toe die heidense Farao hom op sy sonde gewys het.

Die Here gee Abram die geleentheid om daar in die heidense Egipte land ʼn getuie te gaan wees van die een, ware God.  Maar Abram faal hopeloos;  in plaas van ʼn getuie vir God word hy as gevolg van sy gedrag ʼn steen van aanstoot vir die heidene.  In plaas van ʼn goeie boodskap aan Egipte te bring, bring hy ramp en ongeluk oor hulle sodat Farao verplig is om Abram te versoek om sy land te verlaat!

Later volgens Gen 20:9 moes ʼn ander heidense koning, Abimeleg, Abraham oor dieselfde sonde bestraf. Abimeleg het naamlik vir Abraham gesê:  “Wat het jy ons aangedoen?  En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ʼn groot sonde gebring het?  Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen.

Geliefde gemeente, bewus of onbewus het ons as gelowiges, wat glo dat ons ʼn boodskap vir die wêreldling het, dikwels aanleiding daartoe gegee dat die wêreld vir ons moes sê:  “Wat het jy my nou aangedoen?”  In plaas van ʼn seën, was ons ook ʼn aanstoot.  Weliswaar nie ons evangelie, nie ons boodskap nie, maar ons as boodskapdraers, ons eie lewe, karakter en voorbeeld, het veroorsaak dat die Farao ons moes versoek:  “Gaan weg.  Ja, die heidene sedes hoe ver benede die verhewe Christelike moraal, was vir die heiden tog nog meer verhewe en aanneemlik as ons eie illustrasie van die Christelike lewe.  Maar ons wys egter nog op ʼn laaste gedagte, t.w.:

4.       ABRAM HET TERUGGEKEER NA SY ALTAAR.

Reeds tevore het Abram sy tent tussen Ai en Betlehem opgeslaan, ʼn altaar daar gebou en die Here daar aanbid.  Daarna het hy na Egipte afgetrek.  In Gen 13:4 lees ons egter dat hy, nadat hy teruggekeer het, sy ou plek opgesoek; hy het naamlik getrek na die altaar wat hy vroeër daar gebou het en daar die naam van die Here aangeroep.

Daarby die ou bekende altaar - het Abraham seker sy dank teenoor die Here uitgestort vir sy veilige bewaring en sorg.  Maar daar het Abraham sekerlik ook op ʼn heel besondere wyse homself verootmoedig en sy eie ongeloof en sonde bely.  Daar, by die altaar, is die saak tussen Abram en die Here weer reggemaak.

Sal ons nie ook, na die lees van hierdie boodskap, teruggaan na ons altaar van weleer en met ootmoed en na diepe selfondersoek, met ware berou, gaan regmaak wat ons verbrou het nie?  Daar, by ons altaar, sal ons weer die God van die verlede ontdek, wat Homself ook weereens as die God van die toekoms aan ons sal openbaar!  AMEN

Related Media
See more
Related Sermons
See more