Genesis 16 + 21 Pr2003
Genesis 16 en Genesis 21:9-21
Dat ek kan ontsnap
PREEK
Die diepste rede vir baie se moedeloosheid is die wete dat daar geen uitkomkans is nie. Die omstandighede sál nie verander nie, en daar is gewoon nie ander, lewensvatbare, moontlikhede nie. Daarom ploeter jy maar aan binne die haglike situasie waarin jy gedoem is om te lewe, en tog so gou moontlik maar moet sterwe. Die ellende verdiep honderdvoudig wanneer jy afhanklikes onder jou sorg het. Is daar géén ontsnaproete nie?
Wanneer die Algemene Sinode in die verklaring van verlede jaar sê: “Ons verbind ons opnuut aan ons vasteland, in die besonder Suider-Afrika … ons wil ʼn verskil maak …”
dan verklaar die kerk dat daar tog ʼn uitkomkans is. Is dit heeltemal so eenvoudig?
Neem nou maar Hagar, die Egiptiese slavin. Die lewe van ʼn slavin in die Ou Testamentiese tyd was sekerlik nie maklik nie. Die heer en meester kon met jou doen wat hy wou – hy was immers jou eienaar – en meestal hét hy. Voeg daarby die wispelturigheid – en jaloesie - van sy vrou of vrouens, en jy het die resep vir ʼn lewe van swaarkry en ellende.
Kom ons luister na haar storie: (Skriflesing (1) volg)
Ja, só klink ons eerste kennismaking met haar: Sarai, die vrou van Abram, het Hagar, haar Egiptiese slavin, gevat en vir Abram gegee. Net so. Hierso, vat vir jou! Soos met ʼn beker melk, of ʼn sak meel, of ʼn os of ʼn esel. Of ʼn slavin.
En toe die slavin swanger raak, wat tog die bedoeling was van die heer en meester – én van die meesteres! - is die vet in die vuur. Toe word die verwyte rondgegooi: sy minag my, neul Sarai, ek word ’n onreg aangedoen. Abram trek sy skouers op: Dis jóú slavin. Doen met haar soos jy goeddink.
En ons het gelees: “Sarai het haar slavin toe sleg behandel, en sy het weggeloop.”
Sleg behandel? Kan daar dan nog ʼn erger graad van slegte behandeling wees as om ʼn ander mens soos ʼn sak negosie aan te gee? Klaarblyklik, ja.
En wat kos dit ʼn slavin, swanger met die heer en meester se kind, om weg te loop?
By nabetragting, seker nie te veel nie, want sy het dan niks, behalwe die ongebore baba. En wie sal haar wil voorkeer in haar futiele terugtog na haar eie land? Abram? Wat nog die ongemaklike sakie met sy eie vrou moet beredder? Sarai? Wat haar weggewerk het? Klaarblyklik nie.
Maar Gód wil! Want daar, by die fontein langs die pad na Sur toe, het die hemel vir Hagar oopgegaan.
Maar ook dááruit blyk geen ontsnapkans vir Hagar nie. Want die Engel van die Here wil bloot by haar weet: “Waar kom jy vandaan en waar gaan jy heen?” O, hoe sou sy Hom nie kon antwoord nie! As sy maar net genoeg trane oorgehad het.
Die Gesant van God stuur haar terug na haar eienares, met die vermaning: onderwerp jou aan haar gesag. En toe, die verklaring van Hom wat dwarsdeur haar sien: “Kyk, jy is swanger; jy sal ʼn seun in die wêreld bring. Jy moet hom Ismael noem.” Kyk, Hagar! God hoor jou! Die hemel het bokant jou oopgegaan omdat God jou gehoor het. Noem daarom jou seun: “God hoor!”
“U is ʼn God wat my sien!” roep Hagar verheug. Bokant haar het die hemel oopgegaan omdat God haar gesien het, en daarom word daardie plek “Lagai-Roï” genoem, wat beteken: “van Hom wat lewe en my sien.” En met die nuwe, vreugdevolle wete van ʼn God wat haar hoor en sien, is Hagar terug na Sarai. En na Abram, vir wie sy in sy ses en tagtigste jaar ʼn seun in die wêreld bring. Daar sou sy en Ismael bly, die fontein by Lagai-Roï net ʼn herinnering. God hoor, God sien, God gee uitkomkans.
Maar duur hierdie verligting vir altyd? Kom ons lees verder: (Skriflesing (2) volg)
Vir ʼn tyd wás daar rus en vrede. En toe word Sarai se Isak gebore, en Hagar en Ismael is eensklaps ʼn groter bedreiging as ooit, en hulle word weggejaag. Kos, ʼn velsak met water, kind op die rug, woestyn toe. Wáár is die God wat hoor en sien en uitkoms gee? Waar is Hy wanneer ʼn kind onder ʼn doringbos gelos word om dood te gaan, waar is Hy wanneer ʼn ma ʼn ent daarvan gaan sit om nie te sien hoe haar kind sterf nie, waar is Hy wanneer die ma begin huil omdat sy nie meer kans sien nie?
Hy is besig om die hemel oop te maak, omdat Hy steeds die God is wat beter hoor as wat ons vermoed. “Wat is dit Hagar?” vra Hy uit sy oop hemel. “Staan op, tel die kind op en troos hom …” En Hy wys haar die put met water, sodat sy met haar eie oë kan vasstel dat Hy die God is wat nog altyd verder sien.
En omdat Hy weet dat sy sou sukkel om die kind groot te maak, neem Hy Self daardie verantwoordelikheid. Dus, vertel die skrywer: “God was by die kind en hy het groot geword.” Want Hy is ʼn God wat uitkoms gee, wat uit ʼn doodloopstraat ʼn ontsnaproete bied.
Dit is waar die kerk kan begin om ʼn verskil te maak: om die mense wat hierdie wêreld met ons deel, te wys op die oë van ʼn Here wat sien, om hulle te herinner aan ʼn Here wat hoor. Wanneer alles rondom hulle woestyn geword het, moet hulle weet van die Here wat sy hemel oopgemaak het. ʼn Verbondenheid aan hierdie vasteland en hierdie land, beteken allereers dat die kerk onverskrokke en onvermoeid sal beduie na die oop hemel wat die poort tot ons enigste uitkomkans is.