Genesis 16:1-16 Pr950820

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 45 views
Notes
Transcript

Genesis 16:1-16

DIE HERE OPENBAAR SY VERBONDSLIEFDE AAN SY KLEINGELOWIGE KINDERS.

PREEK:

Huismoleste, dit is iets wat elkeen van ons van tyd tot tyd ervaar.  En nou is dit interessant dat die Heilige Gees dit noodsaaklik gevind het om hierdie huisrusie tussen Abraham en Sarai vir ons te laat opteken.  Dit gaan seker nie daarom om ons te troos dat ons kan weet dat daar maar in elke huis huisrusies voorkom nie, maar omdat hierdie huisrusie ʼn wêreldwye betekenis vir ons sou hê.  Tot vandag toe sien ons nog die gevolg van hierdie gebeurtenis in die spanning tussen die Jode en die Arabiere.  En dit as gevolg van ʼn huisrusie waar mense wou ingryp in God se plan met hulle.  Maar daar is egter ook ʼn dieper rede waarom hierdie verhaal opgeteken is.  Dit is dat die Here vir ons in die geskiedenis wil duidelik maak dat sy verbondsliefde in hierdie wêreld in die besonder aan sy “kleingelowige” kinders geopenbaar word.

Kom ons let vanmore eerstens op Sarai wat nie langer kon wag op die belofte van die Here nie.  Dan tweedens op Abram wat die mens meer gehoorsaam was as die Here en dan derdens hoedat die Here se verbondsliefde aan so ʼn kleingelowige mens geopenbaar word.

Sara kon nie langer wag op die belofte van die Here nie.

Die gebeurtenis vind plaas tien jaar na die epogmakende uittog van Abraham en sy familie uit Haran.  In hierdie tyd kom Sara na Abraham met ʼn woord op die hart.  Vroom sê sy:  “Jy weet die Here het my nie toegelaat om moeder te word nie”.  Dit klink so berustend en gelowig.  Die Here laat nie toe nie.  Hy weerhou.  Hy het anders besluit.  Dit is egter nie waar nie, want die Here sou aan haar kinders gee.  Die Here het die besluit ook nie vir Homself in sy verborge raad gehou nie, maar Hy het dit duidelik aan Abraham gesê.  By sy wegtrek het die Here aan Abraham hierdie belofte en ook ander beloftes gegee.  Hy het belowe om aan Abraham ʼn land te gee.  Hy wil Abraham tot ʼn groot nasie maak.  Hy wil Abraham in alles seën en daarmee belowe Hy dat Hy alles wat Abraham in hierdie tydelike wêreld nodig het, sal gee.  Dit is ʼn blanko tjek.  Hy wil Abraham se naam maak.  Dit beteken dat Hy Hom persoonlik gaan bemoei met Abraham.  Abraham sal ʼn seën wees vir almal om hom.

As Abraham later in Hebron kom woon, bevestig die Here al sy beloftes, maar Hy sê presies hoeveel kinders daar sal wees:  hulle sal ontelbaar, soos die sterre aan die hemel, wees.  Hy sê ook presies wat die landsgrense sal wees.  Alles word onvoorwaardelik aan Abraham en sy geslag toegesê.  Daarby kom nog dat die Here nie net belowe nie, maar sy beloftes in ʼn ewige verbond bevestig.  Abraham moes diere slag en die geslagte diere teenoor mekaar lê.  Dit was in daardie dae die gebruik dat die party wat ʼn verbond sluit ʼn dier slag en dat die mindere party dan ʼn eed sweer.  Hy moes sy hand op die geslagte dier lê om daarmee te kenne te gee dat, as hy die verbond verbreek, hulle hom kan doodmaak soos hulle daardie dier doodgemaak het.  In Gen 15 gaan daar egter ʼn rokende oond en vurige fakkel tussen die diere deur.  Dit is die teken van God se teenwoordigheid!  Die Here God het self gesweer dat sy belofte ewig waar sal wees.

Hierdie beloftes omvat alles vir Abraham en Sarai, maar ook vir u en vir my.  Ons is kinders van Abraham.  Vir elke verbondskind word alles wat hy nodig het, belowe:  ʼn woonplek, ʼn voortbestaan, die nabyheid van die Here en ʼn ewige Koning wat oor hom sal regeer.  Dit is ook so dat elke verbondskind nie elke dag elke belofte ewe veel sal beklemtoon nie, maar dat in sekere tye sekere beloftes besonder sentraal sal wees.  Sara het in daardie stadium van haar lewe geworstel met die belofte om ʼn nageslag.  Sy het gevoel dat haar hele eer as vrou daarmee saamgehang het en sy wou graag haar verhouding tot God daarin geopenbaar gesien het, dat Hy vir haar ʼn kind moes gegee het.

Besef jy hoedat sy na ʼn kind verlang het?  Sy het so baie gely.  Die Skrif stel haar voor as die groot onvrugbare.  Dit is die eerste woorde wat ons van haar in Gen 11:30 hoor.  Sy was toe ʼn ou vrou van oor die vyf-en-sestig jaar.  In die ou Ooste was dit so dat ʼn vrou wat nie ʼn seun gehad het nie, verag was.  Sy sou dan nie gehelp het om die familie te bou nie.  Al die skuld vir die kinderloosheid was op haar gelê.

Toe die Here sy belofte aan Abraham gegee het, was daar sekerlik by haar verwagting gewek.  Vol verwagting het sy saam met Abraham weggetrek.  Dan kom die teleurstelling weer.  Die vervulling van die belofte bly weg.  Orals waar sy heengaan word net op haar onvrugbaarheid gelet.  As hy in die hof van Farao opgeneem word, kasty die Here hom.  Baie verklaarders meen dat daar na die huwelik onvrugbaarheid in die hof van die Farao gekom het.  As daar nie kinders gebore word nie, het hulle haar as onvrugbare beskuldig.

So het sy gewag.  Jare het verbygegaan.  Sy het ouer geword en op vyf-en-sewentigjarige leeftyd kon sy dit nie meer uithou nie.  Sy gaan dan na Abraham toe en sê vir hom:  “Die Here het my nie toegelaat om ʼn moeder te word nie.  Ek gee nou op.  Ek glo nou nie meer nie, my wag was tevergeefs!  God het vir my ʼn teenstander geword!”

In die openbaringsgeskiedenis het dit dikwels gebeur.  Saul kon nie langer vir Samuel wag nie en hy het self geoffer.  In die nuwe bedeling moes Paulus die mense van Thessalonika waarsku dat hulle nie hulle verstand moes verloor as hulle wag op die wederkoms van Christus nie.  Hulle moes geduld beoefen.

Is daar miskien onder ons ook mense wat moeg geword het om te wag?  Miskien wag jy op ʼn kindjie wat gebore moet word?  Word jy nie moeg om te wag dat daar verandering moet kom in die posisie van Suid-Afrika nie?

Ons bid en wag om uitkoms vir die nood aan die Suidpunt van Afrika, maar dit gebeur nie.  Miskien is ons persoonlik verontreg en wag ons vir herstel van ons eer.  Miskien bid ons dat ons diensbaar ma wees, maar ons is skierlik of daar is iets wat ons terughou om ons roeping te vervul, en uiteindelik sê ons mooi vroom:  “Die Here het my nie toegelaat nie.”  Eintlik sê ons:  “Ek het moeg geword om te wag.  Sy beloftes is vir my nie waar nie.  Ek is sonder verwagting en sonder hoop.”

Abraham is die mens meer gehoorsaam as die Here.

Ter inleiding moet ons stel dat Sara met ʼn slim plan na Abraham gekom het.  Abraham moes haar slavin Hagar neem en met haar trou, en as daar ʼn seuntjie gebore word sou daardie kindjie haar kind wees, want die slavin Hagar is haar slavin.  Vir ons klink dit na ʼn vreemde redenasie.  In daardie dae was dit ʼn algemene denkwyse.  In die wettebundels van Hammurabi was dit uitdruklik bepaal.  Daar was in ou wettebundels bepaal dat ʼn huwelikskontrak kan stel dat, as ʼn vrou nie ʼn seuntjie baar nie, sy aan haar man haar slavin moet gee.  Ragel het dit ook gedoen toe sy haar slavin Bilha aan Jakob gegee het.

Hulle het gesê dat die ou Oosterse gebruik goed gewerk het.  Hierdie gedeelte leer ons egter die teendeel en dat God dit nie wil hê nie.  As Paulus in Gal 4:23-30 hierdie eksegese doen, dan stel hy dat die kind van die slavin na die vlees gebore is, sonder dat die belofte in ag geneem is, en dat die slavin en die kind uitgewerp moet word.  Die Here hou Hom by sy Woord.  Hy wil nie maar plaasvervangers hê nie.  Abraham en Sarai moes wag op die belofte.  Hulle moes wag op die wonder.  Dit is die beproewing waarvoor Abraham te staan gekom het.  Hy moes vashou aan God se belofte of hy moet luister na sy vrou Sara.

Dit lyk asof die ou Paradysgeskiedenis weer herhaal word.  Adam wat moes luister na die Here of na die lokstem van Eva.  Tog is dit nie so nie.  Adam het nie ʼn voorgeskiedenis gehad nie.  Abraham het dit wel gehad.  Die Here het hom al lankal beproef.  Hy is ʼn man wat al in die leerskool van God se tugtigende hand was.  As die Here hom uit die land Ur van die Galliërs stuur, dan sê Hy vir hom:  “Trek weg uit jou familie uit.”  Abraham was toe al bang gewees dat hy nie ʼn kind sou ontvang nie en naam sy nefie Lot saam met hom.  As die Here hom van Lot skei, het die kinderloosheid hom nog steeds gepla.  Hy worstel met die Here.  Moet hy nou maar iemand aanneem?  Die Here belet hom dit:  “Gaan tel die sterre van die hemel.  So sal jou nageslag wees”.  Na hierdie onderrig kry ons daardie mooi geloofsantwoord van Abraham:  hy het in die Here geglo.  Hy het amen gesê op die Here se woord en dit is hom tot geregtigheid gereken.

Hierdie beproewing vang vir Abraham nie onverhoeds nie.  Hy was ʼn man wat kon glo.  Hy id die vader van die gelowiges.

Wat gaan Abraham nou maak met Sara se menslike voorstel?

Kort staan daar:  “En Abraham het na Sarai geluister”.  Sal die ou mens dan nooit leer nie?  Abraham was op die hoogte van geloofsvertroue en kyk net hoe struikel hy!  Dit is waar wat die Skrif sê:  “Daar is niemand wat goed doen nie”.  Dit geld tot vandag toe!

Die Here openbaar Sy verbondsliefde.

Ons het met verbondsgeskiedenis tedoen.  Die verbond is ʼn plegtige verhouding tussen twee partye wat dieselfde belang het.  Elke party het dan ʼn sekere reg en plig.  In die verbond tussen God en Abraham, of kan ons dit ruimer stel, tussen God en die mens, is dit nie ʼn verhouding tussen gelykes nie.  God is die groot Koning.  Hy bring die verhouding tot stand.  Hy belowe, Hy rig die verbond op, Hy neem die eedswering.  Die mens is die party wat alles ontvang.  Tog eis die Here wederliefde.  Abraham moet amen sê.  Die verbond het sy oorsprong by God.  Die verbond is eensydig.  Alles is uit genade.  in die werking van die verbond eis die Here van die mens verantwoordelike optrede:   Abraham moet uit Ur wegtrek, hy moet in Hom glo0 en hy moet opreg voor Hom wandel.

Abraham het nie aan die eis van die verbond voldoen nie.  Teenoor sy mooi woorde dat hy in die Here geglo het staan sy sondigheid van na Sarai te luister.  Dit is nie toevallig nie.  Elke keer as Abraham op ʼn geloofshoogtepunt gekom het openbaar hy ook sy sondigheid.  Na die belofte in Ur gaan hy na Egipte en bedrieg die Farao deur te sê dat Sarai sy suster is.  Na die verbondsluiting volg hierdie huwelik met Hagar.  As die Here weer sy belofte aan hom bevestig doen hy by Abimeleg dieselfde sonde wat hy by Farao in Egipte gedoen het en dryf hy Hagar finaal weg.  Dit is die treurige geskiedenis van die mens deur die eeue heen.

Volgens die verbondseis moes daar wraak volg op verbondbreuk.  Die Here neem ook wraak.  Die huisgesin van Abraham sal beproef word.  Hagar word swanger, maar sonde het in haar hart gekom.  Met ʼn vals trotsheid begin sy op Sarai neersien.  Sarai bars dan met valse beskuldiging teen Abraham los.  Alhoewel dit sy was wat met die voorstel gekom het, sê sy vir Abraham:  “Jy het dit gedoen.  Dit is nou jou skuld.  Die Here moet tussen ons oordeel”.  Abraham behou ʼn valse neutraliteit deur Hagar in Sarai se hande oor te gee.  Dit is asof hy nie met haar getroud is nie.  Hy gee nie meer vir haar om nie.

As ons verder kan gaan:  die Here laat nie alleen die sonde toe om te groei nie, maar Hy laat selfs die plan van Sarai slaag.  Hagar kry ʼn seun.  Maar wat ʼn soort seun!  ʼn Wilde donkie van ʼn man!  Sy hand is teen almal en almal se hand is teen hom.  Sy nasate word die Arabiere.  Dit is die volk wat vandag soveel probleme in die Midde-Ooste veroorsaak.

Maar dit is nie al nie.  Die verbondswraak hou eintlik in dat Abraham moet sterwe.  Nou word die Here se groot verbondsliefde geopenbaar.  Hy spaar Abraham se lewe en skenk wat Hy belowe het.  Maar Hy laat hulle nog wag.  Nog vyftien jaar lank!  Totdat Abraham honderd jaar oud was en Sarai negentig jaar.  Dan gee Hy hulle die kind.  Die wonder van die kind se geboorte word helder onderstreep.  Dit was God se werk.

As die belofte vervul word en die ou moedertjie van negentig jaar haar seuntjie in haar arms hou, dan bars daar ʼn gelag los.  Sy noem haar seuntjie Isak.  Isak beteken:  hy sal lag.  Daardie kleingelowige gelag van Abraham en daardie ongeloof in Sarai se hart word in blydskap verander.  Hulle lag en daardie lag weerklink deur tot is die Nuwe Testament.  In Joh 8:56 staan dat Abraham hom verheug het dat hy Jesus se dag sou sien, en hy het dit gesien en hom verbly.  Hy het Isak gesien, maar eintlik is die beloofde seun nie Isak nie, maar Jesus Christus.  Christus is die beloofde kind wat sou kom en in Hom word al die gawes van God werklikheid.

Jesus Christus is ook die Een wat uiteindelik alles wat van die mens in die verbond geëis word, sal volbring.  Hy kom om amen te sê sonder om weer in sonde te val.

Broers en susters, elkeen wa in Christus is, sal in Christus die belofte ontvang, want in die Here Jesus Christus is ons nooit landloos nie.  Ons sal die aarde beërwe.  Ons is nooit familieloos nie.  Ons is broers en susters in die Here.  Ons is nooit sonder ʼn naam nie, want elkeen sal ʼn nuwe naam kry.  Ons is nooit sonder ʼn koning nie, want ons het ʼn koning. Jesus Christus.  Ons is nooit sonder God nie, want die Heilige Gees is by ons.

In Christus kry ons alles.

Mag God die Here dit ook vir u gee dat u oë het om te sien hoe sy beloftes aan u vervul word.  Wees nie ongeduldig nie, maar wag geduldig tot u sien wat Hy aan u wil gee.

Amen.

Related Media
See more
Related Sermons
See more