Genesis 18:20-32 Pr20010729
Gen 18:16-33
DIE HERE OPENBAAR SY VERBONDSLIEFDE AAN SY KLEINGELOWIGE KINDERS.
PREEK:
Boontjie kry sy loontjie! Dis die lied van die mens. In ons prestasiekultuur is dit juis hierdie lied wat ons hele lewe in beslag neem. As jy hard werk, sal jy beloon word. As jy droogmaak, sal jy moeilikheid kry. Ons werk met hierdie geslote sisteem in die werk en in die kerk. As jy gesondig het, word jy gestraf. As jy goed gedoen het, sal dit jou help. Ons raak ook maklik deel van die koor van veroordeling oor sonde en dat "boontjie maar net sy loontjie kry". Dink maar aan die geweldige veroordeling wat jy soms hoor as iemand wat 'n belangrike figuur in die samelewing was, sy Moses teëkom. Dis asof die koor van veroordeling en spot dan helder en duidelik uit die kele van God se mense kom. Boontjie kry sy loontjie. Elke hond kry sy dag. Dis reg so! Miskien sal die "sondaars" nou begin luister as die vigspandemie eers regtig begin om mense uit te wis. Al lê die wêreld in sy nood op die afgrond van 'n ekologiese krisis is dit asof Christene eerder teen die wêreld in sy nood is as betrokke daarby.
Hoekom is Christene soms so hard en koud teenoor die nood in die wêreld? Miskien is dit so omdat ons eie sonde so baie is dat ons liewer oor ander se sondes en foute praat as ons eie. Miskien skreeu ons op onsself. Maar volgens hierdie verhaal is dit miskien omdat ons nie verstaan wat dit beteken om geseëndes, geroepenes van die Here te wees nie. Die belangrikheid van Abraham se roeping is dat God hom gekies het "dat by sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het" (18:19). Dit kan hier beklemtoon word. Ons ontvang nie God se seën sodat ons ons daarin kan verlustig nie. Ons word nie gekies sodat ons die liefde van die Here vir onsself kan hou nie. Nee, Abraham moes deur alles wat met hom gebeur het al hoe meer ontdek dat by net 'n kanaal is waardeur die Here se seën na ander moet vloei (sien ook die verband met Gen 12:1‑3).
God kan nie in ons liedjie vasgevang word nie. Die verhaal van Abraham en God ... van God voor Abraham, moet ons twee maal oor ons geslote sisteme van sonde‑straf laat dink. Dis asof God 'n oomblik lank by Abraham stilstaan om te vra of by dan niks te se het oor die geweldige vernietiging wat op Sodom wag nie. En Abraham het iets te se. Hoewel God die regter is, kan Abraham dit nie met sy ervaring van God se genade in verband bring dat onskuldige mense saam met skuldiges gestraf sal word nie. Dis nie die genadige God wat by deur al sy dae van vertwyfeling en eiesinnigheid leer ken het nie. Daarom beroep by hom op die lewende God wat nie in sisteme vasgevang word nie. In hierdie verhaal word die teorie van eenvoudige moralisme op die kop gekeer. Die gedagtes wat hier bo by 18:23‑32 bespreek is oor die veranderlikheid van God, kan hier benut word. Telkens wanneer ons dink dit is klaarpraat met mense, is God bereid om nie soos mense te oordeel nie, maar op grond van sy onvoorwaardelike liefde. Dit kan uitloop op die wonderlike gedagte van die plek ruiling wat uiteindelik in Christus die hoogtepunt van God se "onvoorspelbare" genade is. In plaas daarvan dat die hele wêreld gestraf word, dra Een die straf vir die sonde van almal (Rom 5:12‑21). Nou word ons almal geseëndes. Selfs die sonde van Sodom en Gomorra word daardeur versoen.
Abraham word nie geroep om deel van die vloek oor Sodom en omgewing te wees nie. Ons oordeel as kerk stel die diepste dieptes van die verval in waardes ten toon. Wanneer kerkmense veroordeel en liefdelose kritiek uitspreek, verstaan ons dikwels nie dat ons optrede die Here se mense in diskrediet bring by die wêreld nie. Weens ons oordele en Godspelery oor ander se lewe, lag die wêreld vir die soort evangelie waarvan ons draers behoort te wees. 'n Mens voel oneindig hartseer wanneer jy briewe in die openbare pers lees waarin Christene mekaar en mense soos broer Clinton op kras maniere veroordeel. 'n Mens voel amper lus om te skree: Hou tog net op! En dis nie omdat jy die korrupsie, leuens, moord, egbreuk of bedrog goedkeur nie. Dis omdat jy weet dat die wêreld weer eens gaan beleef dat Christene harde en onversetlike mense is.
Geroepenes word geroep om in te tree vir die wêreld se nood. Ons kan nie maar toesien hoe alles tot niet gaan en ons hande in onskuld was nie. Die woorde van Jagersma by die bespreking van 18:20‑22 kan hier treffend ingespan word. As ons aan ons roeping as geseëndes uitdrukking wil gee, sal ons die geleentheid wat God ons gee om die wee van "goed en reg" self na te jaag, aan ons kinders te leer en te bid dat God die skuldige wêreld ook op grond van die verdienste van die een Regverdige sal spaar, ernstiger moet neem. Die woorde van Luther in sy tafelgesprekke is aangrypend: "Soos 'n skoenmaker skoene maak en 'n kleremaker klere, so moet 'n Christen bid. Dit is sy werk. Die gebed hou die wêreld in stand. Sonder die gebed sou die wêreld heel anders daar uitsien. Ons hoef nie bang te wees om ons tot Hom te rig nie, want Hy verhoor ons gebed om Christus se ontwil. Dit weet ek uit eie ervaring, want my gebede word altyd verhoor en ek kry soms meer as wat ek gevra het ‑ al laat God my soms 'n tyd lank wag ...'
Die volgende verhaal beskryf die tragedie van die kerk. Ons het deur Christus 'n oop deur by die Vader. Ons kan met Hom praat en ons sake met Hom bespreek. Maar soms kan ons so in hierdie godsdienstige voordele opgaan dat ons die nood van die wêreld miskyk: