Genesis 28 + 32:22-32 Pr2003
Genesis 28:10-17
Dat ek geseën kan word
Preek
Jakob se moeilikheid het begin toe sy ma hom omgepraat het om te lieg. Hulle teiken? ʼn Bejaarde eggenoot, ʼn ou pa, wie se seën hulle moes kry, ten alle koste. En Jakob het saamgespeel, ywerig nuwe liegstories uitgedink, en na baie moeite - om konsekwent te lieg is ingewikkeld! – die bedrog volvoer. En daarmee het sy ma haar sin gekry, en Jakob het sy seën gekry.
Maar daarby het Jakob sy broer Esau se bitterheid en haat gekry. Vir twintig jaar sou die wraakgierigheid van Esau vir Jakob nie met rus laat nie. Jakob moes weg uit sy land en uiteindelik honderde kilometer noord op ʼn manier tot rus kom.
Wie moet daarvoor die skuld kry? Waarskynlik sy ma, Rebekka, sou die noukeurige Bybelleser antwoord. En wat sou haar besiel het? Was dit bloot die voorkeur aan Jakob? Het dit regtig iets te doen gehad met Esau se keuse van vroue, soos die verhaal ons wysmaak? Was daar iets dieper, iets meer sinister? Wie ken tog die diepste motivering van ons bedrieglike harte!
Land-uit moes Jakob vlug, noord, na die vae moontlikheid van ʼn nuwe begin. Sal daar, uit die verre noorde, vir hom hulp kom? Só het ons gelees dat daardie eerste aand van sy vlugtog, toe sy kop net ʼn klipkussing kon kry, dáárdie eerste aand van sy nuwe lewe, dat die hemel vir Jakob oopgegaan het.
God self kom by hom staan: Ek is by jou … Ek sal jou beskerm … Ek sal jou nie in die steek laat nie … Dit alles in een, goddelike asem: Ek sal doen wat ek jou beloof het.
Vreemd! Nie ʼn verwyt nie, nie ‘hoekom lieg jy so’ nie, nie ‘waarom vlug jy voor jou skuldgevoelens uit’ nie, geen wraakbeloftes van hierdie God nie, net maar: “Ek sal jou nie in die steek laat nie.”
Kan jy dit glo! Jakob het dit geglo. Toe hy wakker word, sê hy: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.” Hoe stadig is hy nie om dinge te besef nie, hoe jammer dat hy nie vroeër iets van sy ma se listigheid besef nie, of van sy ou vader se weerloosheid nie, of van sy broer se bitterheid nie, of van sy eie verraderlike hart nie.
Maar wanneer die hemel bokant jou oopgaan, word dinge glashelder. Só helder dat, so lui die verhaal, Jakob besef het dat sy slaapplek onder daardie blote hemel in die huis van God is, dat hy vertoef het in niks minder nie as die poort van die hemel.
Dit is in daardie hemelpoort dat hy tot homself kom, dat hy ʼn monument oprig as herinnering aan hierdie ontmoeting, dit is dáár waar ons die eerste keer lees dat hy met God praat, dat hy beloftes maak, dat hy vir ʼn keer iets te sê het aan die God wat al so lank met hom praat.
Dit is van daar, lui die verhaal verder, dat hy sy reis sou voortsit, na die ooste toe. Hierdie reis sou talle mooi dinge oplewer, mooi plekke, rusplekke, blyplekke. En werkplekke. Ja, hy sou werk vir die vrou wat hy liefgehad het en hy sou die slagoffer word van bedrog en gierigheid. (Sou hy toe iets besef het van wat hy destyds sy pa en broer aangedoen het?)
Maar op Jakob se lewensreis was daar, veral, nog ontmoetingsplekke. By herhaling sou Jakob herinneringstekens oprig en name gee aan die plekke waar die Lig uit die oop hemel sy pad verlig het. Net een keer sou die Lig te skerp wees vir hom.
Kom ons lees daarvan:
Lees Genesis 32:22-32
Daar, by die Jabbokrivier, sou hy opkyk in die oop hemel, en nie weer wegkyk nie. “Ek sal jou net los as jy my seën,” eis hy van die Lig.
En weer het Jakob sy seën gekry. Maar die merk van sy oormoed, die prys van die seën wat hy geëis het, sou hy sy lewe lank in sy mank heup met hom saamdra. En daar was niemand vir wie hy die skuld kon gee nie. Dit was maar alles hý: die houe op sy eie lyf en aan sy eie siel, die skade wat hy ander aangedoen en die seer wat hy veroorsaak het. Ja, daar was sekerlik versagtende omstandighede, straks ʼn vinger wat hy kon wys na sy ouers, maar uiteindelik was dit maar … net hy.
Jakob sou nie weet nie, maar die Jakobskinders se reis sou nog verby ʼn kruis loop. Daar sou Een hang wat nooit iemand bedrieg het nie, Een wat vrywillig sy seën prysgegee het ter wille van die seën van die bedrieërs. Kyk, Hy dra die merke van daardie prysgawe aan sy hande en aan sy sy. Dit is om daardie merke se ontwil dat die kerk en die kerk se Jakobskinders kan opstaan en begin herstel, regmaak. Vanuit die skadu van die kruis kan die kerk die oorvloedige seën wat hy ten spyte van homself ontvang het, begin uitdeel. En só meewerk, al gaan dit ook mank-mank, aan oplossings vir ons eie lewens en vir die samelewing.