Genesis 22:1-19 Pr20020630
Genesis 22:1-19
Voel bietjie hoe dit voel!
PREEK:
Een van die maniere waarop mense leer, is deur getoets te word, deur beproef te word. Dit is 'n effektiewe proses waardeur ons kan leer om meer mens te word. Dis maklik om pa te kritiseer terwyl hy probeer om almal se bagasie in die kattebak in te kry ‑ totdat jy self moet probeer om die onmoontlike reg te kry. Dit voel so goed dat die mooi jong dingetjie jou aandag probeer trek. Is iemand egter vriendelik met vroulief, is dinge nie meer so eenvoudig nie, Kinders klap maklik aan ander persone, totdat hulle teruggekap word. Jy konkel teen 'n ander persoon sodat jy die werk en die bevordering moet kry. Dan doen iemand anders dit weer met jou en jy voel hoe dit is om verontreg te word. Partykeer moet ons pynlik ervaar hoe dit voel wat ons die heeltyd nooit self aan ons lywe gevoel het nie.
So, elkeen van ons moet maar, al is dit op die harde manier, die goue reël aanleer: moenie aan 'n ander persoon doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Moenie uitdeel wat jy nie ook kan ontvang nie.
Genesis 22:1 sê God het Abraham op die proef gestel toe Hy een keer vir hom gesê het om sy seun, Isak, te gaan offer. Die storie is een van die probleemstories in die Bybel. Dit is 'n storie wat van God 'n probleem maak. Ons sou kon vra of God in elk geval nie al genoeg bewyse van Abraham se lojaliteit gehad nie. Abraham was tog gehoorsaam toe God vir hom gesê het om uit sy land uit te trek, weg van sy mense en sy familie af. Hoekom is dit tog nou weer nodig om Abraham te toets?
Daar is egter nog 'n lastiger probleem met die God van Abraham. Is God nie alwetend nie? Het God nie voor die tyd geweet wat Abraham sou doen nie? Wat se soort God is dit wat wrede speletjies met mense speel om hulle liefde vir Hom te toets?
Daar was tog 'n rede vir die toets. Abraham moes iets leer. Hy moes voel hoe dit voel. Die probleem het nie by God gelê nie, maar by Abraham.
Ons verhaal begin met die woorde: “'n Ruk na die vorige gebeurtenisse ..." Wat was hierdie gebeurtenisse na aanleiding waarvan God besluit het Abraham het 'n toets nodig? Dit was die episode toe Abraham vir Hagar en haar seun Ismael weggejaag het. Julle onthou die storie. Sara kon nie kinders hê nie. Sy gee toe haar Egiptiese slavin, Hagar, as byvrou vir Abraham. Uit die verhouding word Ismael, Abraham se eerste kind, gebore. Ironies genoeg, beteken Ismael "God hoor!" Toe Abraham en Sara later deur 'n wonderwerk van God 'n seun, Isak, ryker word, toe word die seun en sy ma vir haar 'n bedreiging. Sy eis dat Abraham hulle die woestyn in jaag.
Nouja, dit is al klaar 'n verskriklike ding om te doen, om jou oudste seun en sy ma die huis uit te jaag. Dit is veel erger om hulle die woestyn in te jaag. Dis byna soos om moord te pleeg. Dis waar, Abraham het die Here in die saak geraadpleeg. Dis waar, God het sy goedkeuring hieraan verleen. Dit is egter ook waar dat Abraham nie juis vreeslik teësinnig die verskriklike ding gedoen het nie. Toe God besluit om Sodom en Gomorra te vernietig, toe het Abraham 'n vreeslike argument met God hieroor. Hy onderhandel met God om die stede te red as daar vyftig regverdiges gevind kan word, toe vyf en veertig, toe veertig, toe dertig, later twintig en hy verloor die argument op tien. Maak nie saak hoe ons daarna kyk nie, Abraham het 'n verskriklike ding gedoen toe by Hagar en Ismael die huis uit gejaag het. Hoekom het hy dit gedoen? Hy was liewer vir Isak as vir Ismael. Hy was bereid om sy byvrou en sy half-Joodse kind in die ellende te dompel, net om vir Sara en sy oogappel, Isak, te behou.
Dit was na hierdie gebeurtenisse dat God besluit het om Abraham op die proef te stel. Nie God het die toets nodig gehad nie, maar Abraham. Abraham moes voel hoe voel dit. Hy was bereid om Ismael vir die woestyn wolwe te gooi om Isak te behou. Nou moes hy Isak opoffer om God te behou. Abraham moes gesuiwer '', word van hierdie ding in hom dat hy oor mense trap om sy doel in die lewe te bereik.
Daar was baie druk op Abraham om uit die dilemma uit te draai. Drie dae lank het hy met die donkie en die hout en die twee slawe en sy seun gestap. Drie dae van twyfel en gedagtes en verwyte. Die laaste stukkie van die pad was nog eensamer want hy het die twee slawe en die donkie voor die berg laat staan. Isak moes die brandhout op sy rug dra. Isak vra ook vir sy pa waar die offer dan is. Abraham kan nie sê hy is eintlik van plan om Isak te gaan offer nie. Hy sê maar woorde wat nie 'n leuen is nie en ook nie eintlik vreeslik waar is nie, niksseggende woorde: "My seun, God sal sy eie offerlam voorsien."
Abraham het sy altaar gebou, die hout reggesit. 'n Man van oor die honderd, as ons die tradisies wil glo, bind sy seun wat al in sy vroeë dertigs was daarop vas. As Isak wou, kon hy homself sekerlik teensit. Isak het letterlik in sy eie offer saamgewerk. Toe Abraham die mes vat om sy seun te slag, het God se engel hom gekeer. Abraham sien toe 'n skaapram met sy horings vas in 'n bos. Hy vat die ram en offer hom in die plek van sy seun. Abraham het toe die beste van twee wêrelde verkry: hy het sy seun gered en God het sy beloftes gehou.
Of het hy? Ons lees in 22:19 "Daarna is Abraham terug tot by sy slawe en hulle het almal saam na Berseba toe gegaan." Waar is Isak? Isak word nie vermeld in die geselskap wat terugkeer nie.
Om die waarheid te sê, ons lees verder in Genesis van geen direkte kontak tussen pa en seun nie. In 24:52 lees ons dat Isak in die Suidland gewoon het. Volgens 22:19 het Abraham in Berseba gaan woon. Ons lees nêrens verder in Genesis dat Isak ooit weer sy pa gesien het nie. Abraham het wel sy slaaf Elieser gestuur om vir Isak 'n vrou te gaan soek. Wanneer Isak met Rebekka trou, word Abraham glad nie genoem nie. Daar word veelseggend gesê dat Isak vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, geneem het. Pa figureer glad nie. Dit wil voorkom asof die offer episode 'n breuk tussen pa en seun gebring het. Isak het sy seun se lewe behou, maar hom tog verloor.
Daar is nog 'n persoon afwesig in die res van Abraham se lewensverhaal. Die persoon is Isak se ma, Sara. Abraham het haar nie ingelig dat hy vir Isak gaan offer nie. As Abraham in Berseba gaan woon, word Sara glad nie genoem nie. Die volgende wat ons hoor, is dat Sara op die ouderdom van honderd sewe en twintig jaar dood is (23:2). Waar? Nie in Berseba nie, maar in Hebron. Ons lees dat Abraham gegaan het en daar oor haar gaan rou het. Moontlik kan ons hieruit aflei dat Sara na hierdie episode van Abraham weggetrek het Hebron toe, 'n ver ent van Berseba af. Om dit in moderne taal oor te sit: Sara het haarself van haar man vervreem omdat by haar seun oor wie weet wat se rede wou offer.
Dit lyk in elk geval nie of Abraham en Sara se huwelik 'n bed van rose was nie. Sara het tien teen een nooit vergeet dat haar man haar in Farao se harem as sy suster ingestuur het om sy eie bas te red nie. Dit was sekerlik 'n uiters vernederende ervaring vir haar om so behandel te word, verhandel deur haar man wat vir sy eie lewe gevrees het. Miskien was haar onvrugbaarheid 'n psigiese reaksie op hierdie gebeure waartoe sy ingewillig het, maar tog verstaan het as skaamtelose verraad. Ons lees nêrens dat sy Abraham ooit weer gesien het nie.
Ja, Abraham het maar mense misbruik om sy eie, selfsugtige, doelstellings te bereik. Daarom het God hom getoets. Abraham het die toets geslaag, maar dit het hom sonder seuns of vrou gelaat. Sy familie was verbrokkel, sy lewe in skerwe.
Is dit jou beloning as jy God se toets slaag? Dit is 'n pynlike vraag hierdie. Dit is nie maklik om met God 'n vernootskap te sluit nie. As jy dit doen, moet jy aanvaar dat God jou sal leer om mens te word, al is dit op die harde manier. Op die einde van die dag, is dit al wat die lewe werklik die moeite werd maak.
Na Sara se dood het Abraham weer getrou en nog seuns in die wêreld gebring. In hoofstuk 25 lees ons dat Abraham uiteindelik op die ouderdom van honderd vyf en sewentig die laaste asem uitgeblaas het. Hy het as 'n vervulde mens gesterf. Hy is begrawe in die Makpelagrot waar Sara ook begrawe is. In sy dood is hy met haar verenig. Isak en Ismael, sy twee seuns, het hom begrawe. Hulle is by die graf van hulle pa versoen. So eindig die Abraham sage waar elke breek geheel is en elke wond toegegroei het, omdat Abraham die toets van God geslaag het.
Dit is dieselfde God wat ons in Jesus Christus ontmoet. Dit is Hy wat die hele wet vir ons saamgevat het deur te sê dat ons ons medemens soos onsself moet liefhê. Dit is Hy wat dit vir ons moontlik maak om berou te hê en om te kan groei. Dit is hy wat God se groot toets aan die kruis van Golgota geslaag het, sodat ons kan lewe.
Amen