Genesis 37:1-11 20050624
Genesis 37:1-36
TEMA : Gister, vandag en môre
PREEK:
Dinge wat in die verlede gebeur, beïnvloed jou toekoms. Daar is 'n teorie in die sielkunde wat sê dat elkeen van ons maar bloot die produk van ons kinderjare is. Die dinge wat met ons gebeur, dit wat ons pa's en ma's en broers en susters aan ons gedoen het, gee vorm aan ons persoonlikhede. Ons elkeen is tot 'n groot mate die produk van omgewingsfaktore.
Dit gee jou 'n gevoel van magteloosheid, want jy het nie beheer oor hierdie dinge nie. Baie van ons voel gevangenes van ons verlede. Telkens as ons vorentoe wil beweeg, dan doem die beelde van ons kinderjare in ons op. Pa wat gesê het: "Jy sal nooit iets bereik nie." Ma wat gemaak het asof jy nie bestaan nie. Jou maats wat jou gespot het oor jou voorkoms of belangstellings.
'n Sielkundehandboek bespreek 'n gevallestudie. Dit handel oor 'n baie suksesvolle sakeman. Hy het egter so baie tyd aan sy besigheid bestee, dat hy sy gesin verwaarloos het. Die bande van kommunikasie het tussen hom en sy familie verbrokkel. Uiteindelik het hy en sy vrou by 'n berader beland. 'n Tragiese verhaal het oor die verlede van hierdie man ontvou.
Sy pa was 'n eienaardige en sarkastiese mens. Hy het sy seun se selfbeeld gedurig afgebreek. Sy kommunikasie met sy seun het bestaan uit sinne soos: "Jy is 'n leeglêer; jy sal altyd 'n leeglêer bly; jy sal nooit iets beteken nie." Hierdie woorde is soos 'n merk op die jong seun se binneste ingebrand. Sy lewe is daardeur gedomineer. Hy wou alles in sy vermoë doen om sy pa verkeerd te bewys. Net een keer wou hy van sy pa hoor: "My seun, jy het goed gedoen"
Die gevallestudie vermeld dat toe hierdie man uiteindelik hieroor kon praat, was sy pa reeds 'n paar jaar dood. Selfs uit die graf, het sy pa steeds sy lewe beheer. Dit was vir hierdie spesifieke man onmoontlik om los te kom van sy verlede.
Kan ons werklik die kettings van die verlede losmaak? Dit gebeur soms dat twee kinders aan presies dieselfde haglike omstandighede blootgestel word. Tog slaag die een, maar die ander misluk. Dit wys in die rigting dat ons tog tot 'n mate 'n beheer het oor hierdie kettings. Met God se hulp, kan ons dit afgooi, of ons kan so gewoond raak aan die skaaf en die gewig van hierdie boeie dat ons nie meer daarsonder kan leef nie. Ons verlede word ons verskoning. Dit is ongelukkig iets wat ons nou elke dag tot vervelens toe oor die radio en die televisie hoor: ek moor, omdat ek uit 'n plakkerskamp kom; ek steel, omdat ek nie gelyke geleenthede gehad het nie; ek mishandel kinders, omdat ekself as kind mishandel is; ek drink omdat my pa en ma gedrink het. Hoe moet ons dan na ons verlede kyk? Die waarheid lê iewers tussen hierdie twee uiterstes.
Josef is 'n toonbeeld van iemand wat uit 'n gestremde milieu gekom het. Sy kinderjare het wel baie positiewe dinge bevat, maar ook baie negatiewe dinge. Kom ons kyk 'n bietjie na Josef se agtergrond. Sy familiegeskiedenis is maar vol van grys kolle. Josef se oupa en ouma, Isak en Rebekka, het begin oor die een kind bo die ander voor te trek. Isak was baie lief vir Esau, 'n man van die veld; Jakob was sy ma, Rebekka se oogappel. Jakob en sy ma bedrieg Isak oor die familie seën aan Jakob oor te dra.
Jakob moet uiteindelik voor sy broer Esau uit vlug en gaan na sy ma se broer, Laban. Laban bedrieg op sy beurt weer vir Jakob vir veertien jaar se goedkoop arbeid. Jakob se twee vrouens, Lea en Ragel, die twee dogters van Laban, was gedurig in kompetisie met mekaar. Hulle was in kompetisie oor wie die meeste kinders sou hê.
Dit ly tot spanning in die familie. Daar ontstaan ook hierdie ongenaakbare kompetisie tussen Ragel se kind, Josef, en Jakob se ander kinders. Jakob trek Josef voor. En Josef gaan eintlik ook nie uit sy pad uit oor die verhouding met sy broers te suiwer nie. As hulle iets verkeerd doen, het hy by sy pa stories gaan aandra en hulle in die moeilikheid gebring. Hiermee het hy tog so goed gelyk vir sy pa langs hierdie broers van hom. Josef was vir Jakob so mooi, dat hy 'n pragtige kleed vir hom laat maak het; hy het Josef mooier aangetrek as die ander kinders. Dan was daar natuurlik die probleem dat Josef so 'n oormatige goeie beeld van homself gehad het. Hy droom dat sy broers se gerwe voor sy gerf buig. Hy droom selfs dat die son, die maan en elf sterre voor hom buig ‑ 'n duidelike verwysing na sy pa en ma en elf broers.
Natuurlik het dit veroorsaak dat elkeen van hierdie elf broers 'n wrok teen Josef ontwikkel het en in hulle harte rondgedra het. Josef, so wil dit voorkom, was 'n bedorwe klein egoïs. As ons nou na hierdie mengsel van persoonlikheidseienskappe en omgewingsfaktore kyk, dan is dit 'n klinkklare resep vir 'n wash‑out.
Toe begin Josef se probleme. Sy broers verkoop hom as slaaf en hy beland in Egipte. Skielik is die rolle omgeruil. Daar is nou niemand wat hom voortrek nie; hy is nie meer die witbroodjie nie. Volgens alles wat ons sou verwag, woes Josef knak.
Dit gebeur nie. Josef word groot. Hy tree verstandig op. Toe die geleentheid hom voordoen, begin hy nie 'n sinnelose verhouding met Potifar se vrou nie. Daarvoor beland hy in die tronk. Selfs die tronk kry hom nie onder nie. Hy begin sy vaardighede vir hom aan die werk sit. Josef lê drome uit; hy is iemand wat in die lig van 'n verwagte toekoms, langtermyn beplanning kan doen. Uiteindelik word hy onderkoning van Egipte met die opdrag om die sewe vet jare te bestuur sodat dit ook die sewe maer jare kan dra.
Die onuitstaanbare storiedraer het verander in 'n verantwoordelike bestuurder; iemand wat jy met jou toekoms kon vertrou. Hoe anders kon sake nie verloop het nie! Josef kon die kettings van sy verlede met hom saamdra. Die leuens, die bedrog, die immorele gedrag en manipulasie in sy familiegeskiedenis, die verraad van sy broers, die jare in die tronk, kon sy verskoning geword het om te misluk. Hy kon 'n rebel of 'n struikrower of 'n boef geword het. Dit gebeur nie met Josef nie.
Josef raak ontslae van die kettings van gister. Hy het die gewig van gister gebruik om hom vandag te oefen vir die dag van môre. Josef het sy verleentheid omgesit in 'n geleentheid. Die belangrikste was, dat hy na God opgekyk het. Hy het hom in diens gestel van God se plan vir hierdie wêreld en die geskiedenis daarvan. Net so kon hy bevry word van gister.
Hoe voel jy vanoggend oor jouself? Is daar ook kettings uit die verlede wat jou vashou? Jy moet dit vir God vertel. Praat daaroor met iemand wat jy kan vertrou. Kry dit uit jou sisteem uit. Jesus het aan die kruis selfs die dood se kettings gebreek. Hy maak jou ook vry van die skuld en die vernedering en die onreg van gister.
Laat vandag dan die eerste dag wees van die res van jou lewe. Saam met Christus kan jy as 'n bevryde wens leef. Jy kan uit die kettings van die verlede uitgroei na môre toe, want God het ook vir jou lewe 'n wonderlike plan. Dit is jou keuse. Saam met Paulus kan jy sê: "Ek is tot alles in staat deur die Here wat my krag gee."
Amen