Genesis 32:22-31 Pr20011021
Genesis 32:22‑31
Verloorders wat Wen:
Wanneer die mens teen God verloor, maak dit van hom `ʼn wenner; dit is die boodskap van Jesus se opstanding
PREEK:
Wanneer `ʼn predikant die skriflesing doen hoor negentig persent van die mense nie wat gelees word nie. Hulle hoor net wat hulle wil hoor. Daarvan is ek seker. Meeste mens wil net iets leersaams hoor, `ʼn verhewe gedagte, of `ʼn sedelessie vir die kinders wat sê hulle moet harder leer of vir pa en ma luister of nie leuens vertel nie. Meeste mense soek iets besielend, iets voor-die-handliggend, iets verveligs. Omdat hulle dit soek, is dit ook presies wat hulle hoor as daar uit die Bybel voorgelees word.
Eintlik is dit baie jammer. Eintlik moet jy rêrig mooi luister. Miskien moet jy vir `ʼn paar oomblikke vergeet dit is die dominee wat uit die Bybel lees. En, wie weet, dalks hoor jy dan iets wat jou totaal verras.
Neem nou maar die storie van Jakob by die Jabbokrivier. `ʼn Vreemdeling bespring hom uit die donkerte. Hy stoei om die een of ander onverklaarbare rede met Jakob. Jakob word verslaan, verkruppel. Die vreemdeling versoek Jakob om hom te laat gaan voor die son uitkom. Is hy `ʼn spook, `ʼn demoon? Jakob eis dat die vreemdeling hom seën. Jakob vra sy naam, maar kry nie `ʼn antwoord nie. As hierdie storie `ʼn betekenis het, wat is dit? En miskien moet jy nou al aanvaar dat hierdie storie dalk iets anders gaan sê as wat jy verwag. So, luister mooi. Dit is die storie van Jakob, die seun van Isak en Rebekka, Esau se broer, aartsvader van die twaalf stamme van Israel. Wie en wat was hy?
`ʼn Ou man sit in sy tent. Hy is al half blind en kan slegs lig en donker van mekaar onderskei. Daar is nog iets wat hy moet doen voor hy doodgaan. Hy moet sy oudste seun laat roep en hom seën. Dit is nie gewone seën nie. Dit is `ʼn seën wat iets van die lewenskrag en visie van `ʼn pa aan sy seun oordra. Dit is `ʼn seën wat die pa se mantel op die seun laat val. Dit is `ʼn seën wat, as jy dit eenkeer gegee het, nie weer kan terugtrek nie. Dit is die soort woorde wat ons partykeer ook sê, woorde van woede of woorde van groot liefde. Nadat jy dit gesê het, kan jy dit nie weer ongedaan maak nie, al wil jy. Dit sit `ʼn kettingreaksie van gebeure aan die gang wat jy nie kan stopsit nie.
Die ou man wag vir sy oudste seun, Esau, om binne te kom. Na `ʼn rukkie kom daar iemand in wat sê: "Pa!" Die ou man se gehoor was nie meer wat dit was nie. Hy vra: "Ja, watter seun is jy?" Die seun vertel `ʼn leuen en sê dat hy Esau, sy oudste seun is. Die pa twyfel en roep die seun nader om aan hom te voel. Die seun het stukkies wildsvel om sy hande en arms. Hy voel nes sy broer. Vir `ʼn tweede maal vra die ou man of hy sy seun Esau is. Die seun antwoord, hierdie keer sagter, "Ek is." Die ou man laat hom oorreed. Hy is halfblind en halfdoof en dit is moeilik om te onderskei tussen wat jy werklik sien of graag wil sien, tussen wat jy werklik hoor of graag wil hoor. In die stilte van die tent roep die ou man sy seun nader om hom te soen. Die seun het hom omhels en die ou man het nou ook die reuk van sy klere gekry, die klere van Esau wat Isak aangetrek het. Toe seën hy Isak en sê: "Kyk, die reuk van my seun is soos die veld se reuk, die veld wat deur die Here geseën is.”
En so het Isak op `ʼn berekende en slinkse manier sy oudste broer se seën gesteel. Sy naam beteken in Hebreeus: "Hy wat onderkruip." In die spreektaal sal ons sommer sê: "Hy wat kry wat hy wil hê!"
As jy in hierdie storie `ʼn mooi sedelessie soek, soek jy verniet. Meer nog, as jy die verdere verloop van die storie volg, bevat dit al hoe minder van `ʼn sedeles. As ek nou die storie sou skryf, sou ek wys hoedat dit met Jakob sleg gegaan het omdat hy sy pa bedrieg het. Miskien sou ek skryf hoedat hy deur sy familie die woestyn in gejaag is om oor sy sondes te gaan dink. Dan sou ek beskryf het hoedat hy vir sy pa en broer verskoning kom vra het en probeer het om van toe of `ʼn eerlike lewe te lei. Ek sou graag wou oordra, jy maai wat jy saai, en eerlikheid is die beste beleid.
Inteendeel. Toe Jakob se bedrog op die lappe kom, veroorsaak dit nie eintlik `ʼn vreeslike opskudding nie. Isak aanvaar die nuus so gelate, dat jy die idee kry hy al die tyd vermoed dat hy sy seun Jakob geseën het. Hy lyk so half bly dat hy 'n fout gemaak het. Sy ma, Rebekka, was al die pad agter hom, Esau wil sy broer doodmaak, maar niemand voel eintlik vreeslik jammer vir hom nie. Om die waarheid te sê, almal voel hy het eintlik verdien om verkul te word.
Die storie van hoe Esau sy eersgeboortereg vir 'n pot lensiesop aan Jakob verkoop het, was nog vars in die geheue. Almal het dus geweet Esau is onregverdig behandel, maar hulle het gedink hy het dit verdien. Om die waarheid te sê, Esau lyk maar redelik soos `ʼn pampoenkop.
Jakob ly nie as gevolg van sy oneerlikheid nie. O nee! Hy trek voordeel daaruit. Hy het sy pa se seën gekry, die eersgeboortereg plus niemand het eintlik sleg van hom gedink nie. Dit lyk ook nie of sy gewete hom enigsins gepla het nie. Al wat hy moes doen, was om vir 'n rukkie weg te gaan totdat Esau afgekoel het. Daar het egter iets op pad met Jakob gebeur wat meer as sou vergoed vir hierdie klein bietjie ongerief.
As jy nog steeds 'n sedelessie soek in Jakob se verhaal, is dit nou die plek om wanhopig te raak. Terwyl hy wegvlug, slaap hy die nag in die veld met sy kop op `ʼn klip. Toe droom hy. Dis nie die nagmerrie van iemand met `ʼn skuldige gewete nie, dis nie die drogbeelde van iemand met gewetenswroeging nie. Nee, dis `ʼn pragtige droom. Jakob sien `ʼn leer met engeltjies wat op en afklim tot in die hemel. Toe kom staan die Here by Jakob en seën en bemoedig hom met die woorde: "Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en nageslag gee. Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde ... Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan." Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Om sedelessies in die Bybel te kry is reg en dis goed. Natuurlik is eerlikheid die beste beleid. Jy moet een ding egter onthou: jy kan dit nie sê voordat jy eers iets anders gesê het nie. En dit is dat oneerlikheid self ook glad nie so `ʼn slegte beleid is nie. Nou bedoel ek nie dat jy uitermatig oneerlik moet wees nie. Jy moenie dink jy kan steel en afpers en valse verklarings aflê en belasting ontduik en dink jy kan daarmee wegkom me. Dit gaan jou in die tronk laat beland. Anders gaan jy so besig wees om Uit die tronk uit te probeer bly, dat jy glad nie die vrugte van jou oneerlikheid sal kan geniet nie.
Dit gaan hier om Jakob se klas oneerlikheid ‑ die soort wat ek en jy ook pleeg. Dit kan jou ver bring en ons sal dom wees om dit te ontken. Miskien is dit nie `ʼn vreeslike edele lewenswaarheid nie. Tog is dit waar en gevolglik iets wat jy maar in die gesig moet kyk, of jy nou wil of nie. Die man wat ambisie het, en ruggraat en nie te veel deur sy gewete gepla word nie, kan dit ver bring. `ʼn Persoon met sterk doelwitte in die lewe en die dryf om dit te verwesenlik, bereik baie.
Dit is gewoonlik mense wat binne die wet bly, of die wet se interpretasie so `ʼn bietjie rek. Jy sal nou nie iemand doodmaak nie, maar tog sal jy ander mense so of en toe so `ʼn bietjie manipuleer. Jy sal selfs iemand se domheid per geleentheid gaan uitbuit. As jy dit nie doen nie, gaan iemand anders dit in elk geval doen. Doen dit eerder aan iemand anders, voor dit aan jou gedoen word.
Die wêreld is vol van mense soos Isak, mense wat jou sal bly liefhê al doen jy ook wat. Jou naam sal nie eintlik skade ly nie. Jy sal deur almal as `ʼn "goeie ou" beskou word ‑ beter, in elk geval, as die meeste ander mense. Ten minste so goed dat God in sy oneindige genade jou hart kan roer met `ʼn pragtige droom.
Wat bring dit alles nou vir Jakob in die sak? Natuurlik verwag julle nou die dominee en die Bybel moet sê, "niks nie" of "net hartseer en ellende." Ongelukkig is dit nie so nie. Die beleid van oneerliklleid-waar-nodig, bring jou baie in die sak: die uitnodiging of die bevordering of die werk of die klop op die rug of `ʼn bewonderende kyk. Dit is oor die algemeen die soort dinge waarna ons verwys as ons die woordjie "geluk" gebruik. Jakob se lewensfilosofie kan jou gelukkig maak.
Dit het tyd geword vir Jakob om terug te keer. Hy het lank genoeg in die vreemde gebly, lank genoeg om met twee vrouens te trou en ryk te word; lank genoeg om deur sy omgewing as `ʼn gesiene en `ʼn gelukkige man gerespekteer te word. Sy pa is lankal dood en dit lyk of Esau ook maar besluit het om van die verlede te vergee. Jakob wil teruggaan na die land wat God aan hom as `ʼn geskenk belowe het. Jakob wat weet wat hy wil hê en wat hy kan kry en hoe hy dit kan kry, gaan nou terug om hierdie geskenk te gaan opeis.
Die Jabbokrivier vorm die grens van die beloofde land. Nadat hy sy familie en dienaars laat deurtrek het, slaap by die nag op die oewer. Hoekom weet niemand nie. Dalk wou hy die geleentheid gebruik om `ʼn paar nuwe plannetjies te beraam.
Toe gebeur dit. Uit die donkerte van die nag bespring `ʼn vreemdeling hom. Hulle begin stoei daar in die donkerte. Jakob kan sy gesig nie sien nie. Sy asem jaag en sy kragte word op die proef gestel. Die hele nag lank stoei hulle in stilte. Die krag van die aanvaller is bo-menslik. Dit lyk of Jakob uiteindelik wen. Die vreemdeling roep uit dat Jakob hom moet los voor die dag breek.
Toe word alles omgekeer. Die vreemdeling slaan Jakob op sy heup en dit spring uit die potjie uit, Jakob lê daar, kruppel en hulpeloos. Jakob voel aan dat die geveg so moes eindig. Die vreemdeling het die heeltyd teruggehou. Toe Jakob se kragte op hulle laaste was en hy gedink het hy gaan nou wen, toe is hy verslaan. En hier is dalk iets van `ʼn sedelessie wat Jakob moes leer: sy vernuf, sy slimmigheid, sy ambisie, sy brute krag is nie genoeg om uit hierdie geveg as wenner te tree nie. Jakob laat sy greep nie verslap nie. Nou is dit nie meer `ʼn stoeigreep nie, maar die greep van die drenkeling.
Die dag het stadig begin breek. In die oggendskemering sien Jakob toe dofweg die gesig van die vreemdeling. En wat hy daar gesien het, was erger as die gesig van die dood - dit was die gesig van die liefde. Dit is `ʼn gesig wat groot en sterk is, vertrek deur lyding en vreugde, `ʼn gesig waarvoor jy al die donker dae van jou lewe of wegvlug, totdat jy uiteindelik uitroep: "Ek sal jou net los as jy my seën!" En dit is `ʼn seën wat Jakob nie kon verkry deur geslepenheid en deur bedrog en deur leuens en valsheid nie. Dis nie `ʼn beloning wat hy kon verdien nie. Dis `ʼn geskenk uit louter onverdiende genade.
Mag, sukses en geluk soos die wêreld dit ken, kan jy net kry as jy hard genoeg daarvoor veg. Vrede, liefde en vreugde kom net van God af. En God was die vyand teen wie Jakob daar by die Jabbok baklei het. God is die vyand teen wie almal van ons die een of ander tyd of tye baklei. God, die geliefde vyand. En God is vir ons `ʼn vyand, omdat Hy alles van ons vra, voordat Hy vir ons iets gee. Voordat Hy vir ons die lewe gee, vra hy ons lewens, ons persone, ons wil, ons skatte, ons vermoëns.
Kan ek en jy dit vir God gee? Ek weet nie. Onthou net die laaste blik wat ons op Jakob het: Hy hink huis toe teen die vroeë vlammende strale van die oggendson. Onthou ook Jesus van Nasaret wat een Sondagoggend vroeg op gewonde voete uit die graf gesteier het na die opstanding toe. Sy liggaam het die trotse littekens van `ʼn neerlaag gedra. Dit was daardie neerlaag wat `ʼn oorwinning was, die wonderlike neerlaag van die mens aan die hand van God.