Jesaja 11=1-10 LR2004
Jesaja 11:1-10 LR2004
5 DESEMBER 2004
TWEEDE sondag van advent
liturgiese voorstel
Fokusteks: Jesaja 11:1-10
Ander tekste: Psalm 72; Romeine 15:4-13; Matteus 3:1-12
Inleiding
Die twee Ou-Testamentiese tekste is albei Messiaanse tekste wat in dramatiese taal die toekoms wat God vir ons voorberei, beeldskets. Maar die uitdaging vir die prediker is om juis hierdie tekste te verkondig sodat God se verlossende werk in die hier en die nou ook beskrywe word.
Die tema van hoop wat tradisioneel aan hierdie Sondag gekoppel word, bind die tekste saam.
”Hope is the presentment that the imagination is more real, and reality less real, than we had thought. It is the sensation that the last word does not belong in the brutality of facts with their oppression end repression. It is the suspicion that reality is far more complex than realism would us believe, that the frontiers of the possible are not determined by the limits of the present, and that miraculously and surprisingly, life is readying the creative event that will open the way to freedom and resurrection.” [Ruben Alves, aangehaal uit: An Advent Sourcebook]
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied
Lied 358:1-3
Die tweede Adventskers word aangesteek.
Aanvangswoord
Lees Psalm 72:18-19
Drumpelgebed
Here, onse God, geloof sy u Naam, ons God van die nuwe Israel. U het ’n magtige daad gedoen toe U in Jesus se menswording na ons gekom het. Kom nou weer in hierdie byeenkoms na ons sodat ons U deur ons geloofsoë sal sien. Ons wil u Naam met ons stemme bo alle ander name uitlig sodat die hele wêreld dit kan hoor en sien en glo. Vul ons harte nou met u teenwoordigheid en heerlikheid. Amen.
Aanbiddings- en lofliedere
Lied 320:1-3 deur ’n solis of koor
Lied 338/NSG 83/84; Lied 342 en 349/NSG 82
Uitsending
Gebed vir Hoop
O Heilige Gees, seën my met die geloof wat my van wanhoop sal bewaar,
sal bevry van die passies wat my dryf om die bose te doen.
Vul my met soveel liefde vir God
dat dit die vlam van haat en bitterheid in my sal blus.
O Gees van God, vul my hart met genoeg hoop
om my te bevry van vrees en lafhartigheid.
(Dietrich Bonhoeffer, aangehaal uit: Groot Gebedeboek)
Seën
Mag die Gees van God u wysheid en insig gee.
Mag die Gees van God u raad en sterkte gee.
Mag die Gees van God u kennis en eerbied vir Hom gee.
Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees is met u elkeen. Amen
TWEEDE SONDAG VAN ADVENT
PREEKSTUDIE – JESAJA 11:1-10
Teks
Homiletiese verklarings en preke oor dié baie bekende teks ignoreer dikwels die konteks en hanteer dit eenvoudig intertekstueel met die Nuwe Testament, of verstaan dit eendimensioneel binne die tyd van Jesaja, teen die einde van die 8ste eeu vC.
Om die boodskap en gerigtheid van 'n teks te verstaan, moet jy soek na die betekenis wat dit vir sy "eerste hoorders" gehad het. Nie net wat dit vir hulle gesê het nie, maar ook wat dit aan hulle wou doen. Daarvoor moet jy die sosiaal-historiese en godsdienstige situasie, maar ook die teks in sy wyer tekstuele verband, ondersoek. Jy moet ook die voortgaande betekenis van die teks vir latere geslagte, waarom hulle dit in die kanon opgeneem het, probeer volg. Vir die verstaan van hierdie Jesaja-teks is laasgenoemde van besondere belang. Daarna moet die lig van die Nuwe Testament bygebring word, en van die tradisie daarna.
Vanaf Jesaja 10:5 verander die historiese situasie. In die voorafgaande hoofstukke (vanaf 7:1) het dit oor die sogenaamde Siro-Finisiese bedreiging teen Jerusalem gehandel. Nou handel dit oor die direkte aanslag van Assirië op Juda, na die val van Israel in 721 vC (vgl Jes 10:9). Volgens 2 Konings 18:13 en verder het Sanherib teen 701 vC met sy aanslag op Hiskia, as gevolg van laasgenoemde se weerhouding van vasal-belasting, begin. Dit word in Jesaja 10:28-32 baie dramaties beskryf (vgl 2 Kon 18:17). In hierdie situasie kom wys die profeet twee perspektiewe uit. Die een sê die aanslag is die oordeel van God (vgl 10:6,22b-23; opvallend is egter dat in die hoofstukke geen klag in die vorm van sondebeskrywing voorkom nie), en die ander dat God ook vir Assirië sal oordeel (10:5, 12, 15-19, 25-26, 33-34). Hy sal nie toelaat dat sy volk Juda heeltemal verdelg nie (10:20-21). Dit sal Hy doen deur "die Lig van Israel, sy Heilige" (10:17).
'n Mens kan jou skaars die haglike omstandighede in die land en veral in Jerusalem in 'n toestand van beleg voorstel soos wat 10:28 en verder beskryf (lees 2 Kon 6:24-29). As die voorafgaande jare reeds 'n tyd was waarin Juda swaar belastings aan Assirië moes betaal, soos 2 Konings 18 sê, was die landelike bevolking veral sekerlik baie verarm en waarskynlik ook uitgebuit deur amptenare en kommersiële middelmanne, soos maar altyd gebeur (het).
Hierteenoor kom teken die profeet in hoofstuk 11 die mees idilliese prentjie denkbaar. Die verband tussen 11:1 en 10:33-34, wat alle kommentare erken, suggereer dat hierdie toestand sal heers ná die verbreking van die mag van Assirië (10:16-19, 25, 33-34). Eerstens sal die uitbuiting van swakkes omgekeer word deur die herstel van die reg van die "laagstes" (dalim) en die "armes van die land" ('ani 'erets). Dit gebeur juis deur die oordeel oor die uitbuiters (rasha`). Let op dat die parallel in vers 4a en b die teenoorstelling van vers 4c en d vorm. Watts beskou juis vers 3b-4 as die "keystone" van ons teks. Tweedens skets vers 6-8 op ongeëwenaarde wyse die utopiese paradystoestand wat in die land, vir die gewone bevolking sal heers. Let op dat dit telkens die kleintjies, die weerloses, van mens en dier is, wat in die verse "bevoordeel" word. Vir die detail-verklaring van die verse oor die herstel van geregtigheid en van die ekologiese vrede, kan kommentare geraadpleeg word, Watts in besonder.
Vers 9 vat die nuwe toestand saam, en kry besondere betekenis as dit in die lig van die fisiese situasie gesien word – soos in die voorlaaste paragraaf hierbo geskets. Nie net die land nie, maar die aarde (parallel van see) sal vol wees met "kennis van Jahweh", wat in vers 2 saamgaan met eerbied (vrees) vir Jahweh. Dit wil sê 'n intieme regte verhouding met die Verbondsgod van Israel! Daarom sluit vers 10 met die nasies wat na die vaandel vir die volke sal vra. En die "agent" van die nuwe bedeling is uit die "stomp van Isai”, sê vers 10a. Dit verwys terug na vers 1a en rond so ons teks af.
Wanneer die magtige bos Assirië verwoes is (10:19, 33-34), sal daar uit die ou, skynbaar dooie stomp van die oervader van die Judese koningshuis, nuwe hoop spruit (11:1). Op die oog af lyk dit nie of hier van enige toenmalige of latere koning van Juda sprake kan wees nie. Verskeie uitleggers (bv Von Rad en Watts) herken egter in ons verse elemente van 'n troonbestygingslied (soos Ps 72), wat ook reëlmatig by vieringsgeleenthede van 'n monarg se heerskappy gebruik sou kon gewees het. In die omstandighede is dit nie ondenkbaar nie dat hier, ten minste in die oertradisie van die teks, van Hiskia sprake was. Wie in Afrika-konteks maar iets van die funksie en inhoud van prysliedere vir hooggeplaastes begryp, sal weet dat dit nie vergesog is om 'n monarg in sulke onwerklike en hiperboliese taal te besing nie. Boonop is daar moontlik na dieselfde Hiskia voor sy geboorte as "Immanuël" (Jes 7:14) verwys, en van wie by sy geboorte die pryslied in Jesaja 9:5-6 gesing is. Van hom word ook gesê dat hy gedoen het wat reg is in die oë van die Here, soos sy voorvader Dawid (2 Kon.18:3).
Volgens die Ou-Testamentiese geskiedskrywings is daar nie 'n ander koning na Dawid van wie ideale gekoester is soos van Hiskia nie en miskien Josia later. Wat die "Takkie" die voorwerp van hoop en die ideale instrument van verandering maak, is volgens die profetiese lied juis sy toerusting met die "Gees van Jahweh" (11:2). Hiermee staan hy volledig in die tradisie van die oer-ideaal Dawid (1 Sam 16:13). Hierdie vers vestig ook die Messiaanse ideaal in die Ou Testament en van later. Om die detail en diepte van die betekenis van die verskillende kwalifikasies in hierdie vers te beskryf kan kommentare geraadpleeg word (Watts is die beste hiervoor).
Jesaja 11:1-10 is egter nie die eindpunt nie. Vers 11-16 sluit nie net by vers 1-10 aan nie, maar slaan ook 'n brug terug na 10:20-22, waar reeds sprake van 'n oorblyfsel is. Hier is nou kennelik van 'n later tyd sprake, ten minste laat-eksilies (vgl "hoofpad" in 11:16 en 40:3), maar sekerlik ook later (vgl die plekke wat 11:11 noem waar bannelinge was). Teen hierdie tyd groei die verwagting van die terugkeer van al die verstrooides van die volk van God. Maar hierdie latere verband waarin 10:5-11:10 opgeneem is, het ook sy merk op hierdie teks gelaat (bv 10:22).
Jesaja 12, waarmee die eerste hoofdeel van die boek afgesluit word, sluit doelbewus by die vorige aan ("in die dag" – 11:10, 11; 12:1). Dit is 'n pragtige loflied aan Jahweh die Redder, juis van die inwoners van Jerusalem. Inderdaad: die aarde sal "in die dag" nie net vol wees van kennis van Jahweh nie, Hy sal self by hulle wees/bly (11:9; 12:6). Sommige kommentare herken liturgiese elemente in die samehang van hoofstuk 10-12. Te midde van slegte omstandighede word die geskiedenis van die Assiriese aanslag poëties oorvertel, met die profetiese perspektief op hoe God in die geskiedenis werk (hfst 10). Teenoor die huidige omstandighede van bedreiging en uitsigloosheid word 'n toekoms geskets wanneer dit alles anders sal wees (hfst 11). Daarop gaan die gemeente oor in lofprysing (hfst 12). Dit is nie te sê dat die hoofstukke letterlik soos dit staan liturgies gebruik is nie, maar dit dui op die voortgaande funksie en betekenis van die teks. Die funksie van die profetiese belofte-lied in 11:1-10 is juis om verwagting aan te wakker, om meer te sien as wat op die oomblik die werklikheid is.
Die verwagting bloei telkens op wanneer daar tekens van nuwe hoop kom, soos met 'n groepie bannelinge wat terugkeer of wanneer daar 'n potensiële leier op die horison verskyn (soos in die boek Haggai weerspieël). Deur die eeue klink die versugting: "Te midde van die ellende, sal die nuwe toekoms tog nie nou aanbreek nie ...?" Maar telkens stel die werklikheid teleur, soos sedert Hiskia se tyd. En so ontstaan daar 'n groeiende Messiasverwagting, wat ook sy spore in die voortlewing van ons teks met sy idilliese tekening laat. Van hierdie verwagting getuig die tussen-testamentiese geskrifte en die vraag van die dissipels self: "Here, is dit nou die tyd dat U weer die koninkryk van Israel gaan oprig?" (Hand 1:6).
Konteks
Dat Jesus inderdaad die beloofde Messias is, stel die Nuwe Testament eksplisiet (Matt 1:16, 3:16; Joh 1:32-33 ea), maar anders as Jesaja 7:14 en 9:5-6, word Jesaja 11 nie in die Nuwe Testament eksplisiet op Jesus van toepassing gemaak nie (behalwe Rom 15:12 en dalk Hand 13:22-23, volgens Longenecker). Jesaja 11 word egter in die tradisie van die kerk op Jesus toegepas, as die Hersteller by uitnemendheid van die Ryk van God. Alles wat hier van die Takkie gesê word, is in volle mate waar van Jesus – vanaf sy afstamming tot sy salwing (Joh 3:34) en sy visie op reg en geregtigheid, asook sy omgee vir die swakstes en lydendes in die gemeenskap. Hierdie teks help ons ook om beter te verstaan wie die historiese Jesus werklik was en om Hom beter te eer.
Te dikwels word hierdie verse egter net as 'n direkte beskrywing van Jesus in die Ou Testament gesien, asof die teks bloot net 'n beeld van Jesus wou skep, lank vooruit. Die lyn wat ons in die uitleg hierbo gevolg het, is doelbewus om die verwagting wat die teks wil skep op die aanbreek van die nuwe orde van God, die koninkryk van God, voorop te stel. Dit gaan nie net om die koms van die Messias nie, maar in besonder oor dit wat Hy gaan teweegbring, in teenstelling met die heersende werklikheid.
Andersyds is die interpretasielyn gevolg om perspektief te open daarop dat die teks nie maar net 'n profesie oor Jesus is, wat met sy koms vervul word, en daar ophou nie. Voor Hom was daar figure en omstandighede wat die verwagting laat opleef het dat die nuwe tyd van God nou mag aanbreek. Inderdaad is Jesus die hoogtepunt, die sentrale vervulling (Verhoef). Maar ná Hom spring die blikpunt van die profesie nie maar net na die finale vervulling, die voleinding by die wederkoms nie, wanneer wat hier geskets word volkome sal realiseer.
Ná Christus loop die betekenis van die teks voort in die tradisie van die kerk (vgl Cullman se skema waarvolgens alles in die ou bedeling aanloop op die snypunt, Christus, maar daarna voortwerk in die liggaam van Christus, die kerk): (i) In die Ou Testament was die koning die gesalfde van God. Inderdaad is Christus die Gesalfde van die Gees, maar so is elke gelowige tot vandag toe met die Gees gesalf, ons is immers Christene!; (ii) Waar die koning in die Ou Testament geroep is as agent van God se geregtigheid in die gemeenskap, het Jesus in persoon en werk en leer dit tot vervulling gebring. Maar juis daarom is die kerk, as instituut en as gelowiges, geroep om teenoor die ellende van die samelewing agente van God se reg te wees. Met ander woorde, die gebed: "Laat u Koninkryk kom" maak ons nie passief nie. As Nuwe-Testamentiese gelowiges wil hierdie profesie van verwagting ons juis betrek, omdat iets van die koninkryk nou reeds haalbaar is, al kan ons dit nooit volkome laat realiseer nie.
Oor die toerusting met die Gees. Hier is dimensies aan die teks (11:2) wat vir ons sedert Pinksterdag moontlik is, maar wat vir die Ou-Testamentiese gelowige net ‘n ideaal was (Joël 2:28-29). Vir die Ou-Testamentiese gelowige was die "Gees van Jahweh" baie meer onpersoonlik, die ervaring dat iets bonatuurlik jou bekragtig (vgl Vriezen), anders as wat ons Hom as Nuwe-Testamentiese gelowiges beleef. Omdat die Gees ook op ons "rus", in ons bly (Joh 14:17), is ons ook toegerus met "wysheid en insig", om te "kan onderskei waarop dit werklik aankom" (Fil 1:10). Dit gaan nie slegs om "geestelike" sake nie! "Raad en sterkte" sou ons kon sê het te doen met strategie, met beplanning en uitvoering op die beste manier van dit wat God wil. "Kennis en eerbied" het te doen met die grondhouding: jou verhouding met en teenoor die lewende Verbondsgod.
Uitoefening van geregtigheid: Hier moet ons dink aan ons verantwoordelikheid om toe te sien dat God se sig op reg en geregtigheid geskied; om dieper as die oppervlak en kort termyn te kyk; om ook strukture en agente van verdrukking en ontmensliking raak te sien, in besonder vanuit die perspektief en in belang van die swakstes in die gemeenskap. Ons weet dat ons nooit onreg sal kan uitroei nie, die ideaalstaat bereik nie, maar ons moet, soos Jesus, met alle mag daar tekens van oprig.
En die herstel van die natuurlike, ekologiese utopie? Jesaja se beeld daarvan is so onwerklik dat ons hande te maklik slap raak. Ja, vir seker kan ons dit nie bewerk nie, nie die wolf en leeu en adder se natuur verander nie. Tog, God se nuwe werklikheid sluit die hele skepping in. Daarom is ons geroep om ook daarvan klein tekens op te rig, as getuienis en verwagting van dit wat kom: klein tekens, al is dit die straatgemors wat jy optel of die papier wat jy herwin ...
Tereg is Jesaja 11:1-10 as Adventsteks opgeneem. Dis 'n teks wat as `t ware opsweep tot verwagting van die aanbreek van God se nuwe werklikheid. Maar dit is nie bloot 'n verwagting op die lekker en mooi van Kersfees nie. Dis 'n verwagting om Jesus die Christus (Gesalfde) weer opnuut as gesant van God se herskeppingswerk te sien; dis 'n verwagting wat ook bo Kersfees uitsien, verlang en roep om sy finale verskyning en die herstel van God se nuwe orde. Dit is nie 'n verwagting wat ons laat verbykyk by die stukkend wat heers nie (Jes 10). Dit moet ons iets laat doen aan die stukkende wêreld, veral vir hulle vir wie Kersfees nie so 'n wonderlike tyd van verwagting en vreugde is nie. Want ons weet dat Hy wat ook uit die stomp van Isai is, gekom het. Maar Hy is ook afgekap en het skynbaar tot niks geword nie, maar weer uitgespruit om baie nakomelinge te hê. En omdat ons almal lote uit die Stomp is, moet ons ook nou vrugte dra. Sy lewensap, sy Gees, bekragtig ook vir ons.
Voigt behandel die teks onder die hoofde: (i) Utopiese droom, wat volgens hom in poëtiese vorm op 'n ander vlak kommunikeer as die eksakte, en wat so energie losmaak om met `n ander sig op die werklikheid te lewe; (ii) blywende belofte, wat in voorlopigheid streef om iets van die ander werklikheid hier gestalte te gee; (iii) geloofde werklikheid, dat wat die gelowige doen alleen uit geloof gemotiveer kan wees, geloof wat die Jesaja-prentjie sien, maar ook leef uit die kruisgebeure, waar dit alles in beginsel moontlik geword het.
Rommel gee nie 'n preek nie, maar 'n volledige rollespel waar Jesaja 11 en die aankondiging van die geboorte van Jesus deur die engele (Luk 2) geïntegreer, en die Kersverhaal op hierdie manier gedramatiseer word. Dit bied interessante moontlikhede.
Bartelt laat die aksent op die teenstelling van die belofte met die wrede wêreld val waarin dit tot ons kom en dat wat nou hiervan realiseerbaar is alleen op grond van die soendood van Jesus moontlik is.
Preekvoorstel
Preek 1 - Tema: Kyk! Die Koning kom!
1. Hoe lyk en voel ons aan die einde van die jaar? Persoonlik moeg, in skuld, siekte, werkloos. Gee aandag aan die aktuele situasie, ook die groter prentjie van die gemeenskap, land, ensovoorts.
2. Waarop vestig ons ons hoop? Op 'n vakansie of bonus wat eersdaags kom; op die voorspoed van die afgelope jaar, of alleen maar dat dit volgende jaar dalk beter sal gaan.
3. Bybelse hoop lê in 'n Persoon. Volgens die teks 'n "ten-spyte-van-persoon", 'n loot uit 'n dooie stomp. Skets die omstandighede van die teks, die telkens teleurgestelde verwagting tot met die koms van Jesus, die vervulling. Advent rig weer ons oog op Jesus. Behandel sy toerusting, sy aard, sy taak, om die koninkryk van God volgens die teks naby te laat kom. En sy funksie in die herstel van sosiale orde, van geregtigheid en in 'n nuwe skeppingsorde.
4. Maar lê Advent en Kersfees nie juis die leuen van leë beloftes, van teleurgestelde verwagting bloot nie? Op gesigswaarde staan ons verleë met ons teks voor mense. Maar so ook Jesaja. Hiskia het nie naastenby bygekom by wat die pryslied van hom verwag het nie. En met die ballingskap en na die terugkeer het dit al slegter geword. En selfs die engele-lied op die geboortenag loop op die kruis uit! Jesaja 11 se profesie het nie in die hoogty van voorspoed gekom nie, maar juis in die dieptepunt van bedreiging en vertwyfeling. Die teks is bedoel om hoop en verwagting te gee, want wie sonder hoop leef, is reeds dood. Mense in nood het feestye nodig! Soos troonbestygingsfeeste met pryssangers, en Kersfees met engelekore.
5. Waarop bou en fokus ons ons feestelikheid? Op ons plesier; op ons beter omstandighede; op die idilliese lootjie (laaitie) in die krip, of op 'n nuwe sig op en toewyding aan die Koning met die doringkroon? Op Hom wat vir geregtigheid en 'n nuwe aarde sy lewe gegee het?
Preek 2 - Tema: Instrument(e) van die nuwe werklikheid.
Wau! Hemel op aarde!
1. Waar is dit? Kyk na die gemeente, gemeenskap, land se omstandighede: Vigs, misdaad, werkloosheid, ten minste sewe reuse! Maar ons staan nie juis agter vir Jesaja se hoorders nie: skets hulle omstandighede.
2. Doen God dan hoegenaamd iets? In hierdie omstandighede kom sing Jesaja 'n pryslied by die (herdenking van die) troonsbestyging van Hiskia. Van die hoë verwagtings van geregtigheid kom daar wel 'n bietjie, maar dit versand gou weer. Tog leef die profesie voort. Dit word telkens weer opgehaal in tye van nood en verwagting, tot op die sentrale vervulling in Jesus Christus. Hy is God se agent as antwoord op die nood van die wêreld. Vul in wat hier van Hom (1-2) en sy besondere taak gesê word (3-5). Maar vers 6-8 en 9 bly nog uit, tot met die wederkoms.
3. En wat beteken dit alles intussen? Toon aan hoedat ons, individueel en as gemeenskap (gemeente en kerk(e)) agente van God se nuwe orde is. Toon hoedat sy toerusting ook ons deel is, omdat ons dieselfde Gees ontvang het. En sy taak is ook ons taak. Toon hoedat individue en die gemeente die Godbedoelde geregtigheid, in besonder vir die swakkes, uitgeslotenes en uitgebuites in die gemeenskap konkreet moet opneem. Onthou dat die geregtigheid waarvan ons teks praat veral van strukturele aard is, waar die lydendes van onderdrukkende magte en strukture en die agente daarvan verlos word.
4. Slot. Waaraan gaan mense in die Advents- en Kerstyd sien dat ons die kinders van die Koning van die wêreld is? Sien hulle by ons net jolyt, of miskien net hulpeloosheid en uitsigloosheid? Uitdaging: as jy aan die omgewing wil bevestig dat jy glo dat Kersfees wys dat God omgee vir die nood van mense en van die skepping, doen dan iets vir die minstes, die swakkes vir wie Kersfees nie ook lekker is nie. Maar hou nie daar op nie! Kersfees spel God se nuwe begin. Laat ons aan sy koninkryk al méér gestalte gee deur die tekens van die nuwe toekoms wat ons, in die wysheid en toerusting van sy Gees, oprig, sodat die aarde kan vol word van die kennis van die HERE!
Bibliografie
Bartelt, A H in Van Harn, R E The Lectionary Commentary (Old Testament and Acts); Kaiser, O Isaiah 1-12, OTL; Rommel, K (Hg) Familiengottesdienstte im Kirchenjahr, Bd 1; Snijders, L A Jesaja I, POT; Voigt, G Homiletiche Auslegung der Predigttexte, Reihe 5; Vriezen, ThC Hoofdlijnen der Teologie van het Oude Testament; Von Rad, G Old Testament Theology vol 1 & 2; Watts, D W Isaiah, WBC vol 24; Young, E J Isaiah vol 1, NICOT.