Handelinge 10=34-43 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 71 views
Notes
Transcript

Handelinge10:34-43 LR2005

27 maart 2005

paasfeesdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: Handelinge10:34-43

Ander tekste:                 Psalm 118:1-24; 1 Korintiërs 15:1-11; Johannes 20:1-18; Jesaja 25:6-9; Markus 16:1-8

Inleiding

Paasfees is die heel belangrikste feesgeleentheid op die kerk se kalender. By hierdie fees word die opstanding van Christus uit die dood gevier. Dit gaan in hierdie gebeurtenis oor die magsdaad van God waarmee Hy die verlossingswerk wat in Jesus se lewe en dood bewerk is, bekragtig en bevestig dat dit bo dood en vernietiging verhewe is. Op hierdie dag herdenk die kerk dat Jesus waarlik Here en Verlosser is en dat Hy getriomfeer het oor al die bose magte wat die lewe van God se kinders aanveg.

Dit is belangrik dat hierdie fees meer feestelik en uitbundig as enige van die ander kerklike feeste gevier sal word. Die liturgiese kleure vir hierdie fees is wit, geel en goud en dit kan gebruik word op baniere en ander versierings in die aanbiddingsruimte. Dit is ook gebruiklik om die kerkruimte vir hierdie geleentheid met ’n oorvloed van blomme (indien moontlik wit lelies) te versier. In sommige kerke word lidmate gevra om bossies blomme saam te bring na die erediens toe en dit word dan gebruik om die liturgiese ruimte te versier.

Die aansteek van die Paaskers is van oudsher af ’n sentrale element in die Paasdiens, soos ook die sogenaamde “Diens van die Water” wat sy oorsprong het in die feit dat die doop in die vroeë kerk by voorkeur een maal ’n jaar in die Paasnag bedien is. Indien die doop nie op hierdie Sondag in ’n gemeente bedien word nie, behoort daar ten minste plek in die erediens ingeruim word vir die herbevestiging van gemeentelede se doop/doopbelofte.

Kinderbetrokkenheid kan bewerk word deur ’n kind die Paaskers te laat aansteek en die kinders na vore te nooi vir die herbevestiging van die doopbeloftes.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 409 “Hoor jy die Paasfeesklokke”/NSG 119. Terwyl die lied gesing word, word die Paaskers ingedra, op ’n prominente plek geplaas en aangesteek. Daarna kan Lied 168 “Heilige Jesus”/NSG 160 gesing word.

Aanvangswoord/Paasroep

Voorganger:  Die Heer het opgestaan!

Gemeente:     Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger:  Die Heer het opgestaan!

Gemeente:     Die Heer het waarlik opgestaan!

Voorganger:  Moenie skrik nie: julle soek Jesus van Nasaret.

                    Waarom soek julle die Lewende by die dooies?

                    Hy is uit die dood opgewek.

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  As Christus nie opgewek is nie,

                    is ons prediking sonder inhoud en ons

                    geloof ook sonder inhoud.

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  As ons net vir hierdie lewe ons hoop op

                    Christus vestig, is ons die mees 

                    bejammerenswaardige van alle mense.

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  Dood, waar is jou angel?

                    Doderyk, waar is jou oorwinning?

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  Die dood is vernietig.

                    Die oorwinning is behaal.

                    Die koningskap oor die wêreld behoort

                    aan ons Here en aan sy Gesalfde

                    en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid.

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  Hy moet as koning heers

                    totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

                    Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  Hy wat op die troon sit, sê:

                    “Kyk, Ek maak alles nuut!

                    Ek is die Alfa en die Omega,

                    die begin en die einde,

                    die eerste en die laaste.”

Gemeente:     Die Heer het opgestaan!

Voorganger:  Aan Hom wat op die troon sit,

                    en aan die Lam behoort die lof en die eer,

                    die heerlikheid en die krag,

                    tot in alle ewigheid!

Gemeente:     Die Heer het waarlik opgestaan!

Tussensang

’n Paar verse van Psalm 118 kan tussen die aanvangswoord en die seëngroet gesing word.

Seëngroet

Lofsang

Lied 417 “Jesus, ons eer U” of ’n ander Paaslied soos Lied 415 “Jesus leef, en ons met Hom”/NSG 114

DIENS VAN DIE WATER

Herbevestiging van doop/doopbeloftes

Die voorganger staan by die doopvont en nooi die kinders vorentoe.

Voorganger:  Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?

Almal:           Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit

                    en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.

                    Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?

Almal:           Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het

                    en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.

                    Glo jy in die Heilige Gees?

Almal:           Ja, ek glo.

Voorganger:  Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon

                    en ons tot lidmate van Christus heilig.

Sang

’n Lied oor die verlossing wat in en deur Christus bewerk is, soos Lied 219 “Laat ons sing oor ons Verlosser”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing

Handelinge 10:34-43

Sing een van die Hallelujas in die Liedboek/NSG.

Skriflesing

Johannes 20:1-18

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Geloofsbelydenis

Die Geloofsbelydenis van Nicéa

Nagmaalgebed

Voorganger:  Mag die Here met julle wees.

Gemeente:     En ook met jou.

Voorganger:  Hef op julle harte (Alternatiewelik: Rig julle harte op die Here)

Gemeente:     Ons hef dit op tot die Here (Alternatiewelik: Ons rig ons harte op die Here)

Voorganger:  Kom ons bring dank aan die Here, ons God.

Gemeente:     Dit is gepas dat ons dank en lof aan die Here bring.

Voorganger:  Aan U kom ons dank toe, Here ons God,

                    hier en nou, oral en altyd deur Jesus Christus ons Here.

                    Wat geen oor gehoor het

                    en geen oog gesien het

                    en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie,

                    het U in die nag bewerk

                    waarvan die eerste getuies ons vertel het:

                    die nag waarin Jesus Christus opgewek is uit die dood.

                    U het die duisternis verdryf,

                    die aarde en alles wat bestaan,

                    het U van ondergang bewaar;

                    U het rigting en sin gegee

                    aan ons hele sterflike bestaan.

                    Daarom vier en besing ons

                    saam met die vroue wat die eerste getuies was,

                    en saam met almal wat geglo het,

                    die dag wat U, o Here, gemaak het.

                    En ons eer U met die lied wat in die hemel en op aarde weerklink:

Gemeente:     Heilig, heilig, heilig is die Here, die Almagtige.

                    Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.

                    Hosanna vir die Seun van Dawid!

                    Prys Hom wat in die Naam van die Here kom!

                    Hosanna in die hoogste hemel!

Voorganger:  Geseënd is u Seun Jesus Christus

                    wat ons lewe aan u Naam verbind het

                    en u liefde en genade aan ons geskenk het;

                    wat die nuwe mens geword het,

                    u beeld en u gelykenis,

                    die weg, die waarheid en die lewe;

                    wat Hom aan ons verbind het

                    en alle magte van die dood eens en vir altyd verslaan het;

                    wat die aand voor sy dood

                    sy liefde vir ons beseël met die tekens van hierdie gawes:

                    toe Hy brood geneem het,

                    U daarvoor gedank het,

                    dit gebreek het en vir sy dissipels gegee het met die woorde:

                    “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word.

                    Doen dit tot my gedagtenis.”

                    Ook toe Hy na die maaltyd die beker geneem en gesê het:

                    “Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed.

                    Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”

                    So gedenk ons dan, grote God,

                    die geheimenis van die Gekruisigde,

                    Jesus Christus, die Regverdige,

                    wat U opgewek het uit die dood:

Gemeente:     Christus het gesterwe

                    Christus het opgestaan

                    Christus kom weer

Voorganger:  Vervul ons, terwyl ons die maaltyd vier, met die Heilige Gees

                    sodat ons een liggaam en een van gees kan wees,

                    ’n lewende offer wat in Christus vir U aanneemlik is.

                    Deur Christus, saam met Christus, in Christus,

                    behoort aan U al die eer en die heerlikheid, Almagtige God en Vader,

                    in die eenheid van die Heilige Gees, nou en vir ewig.

Gemeente:     Amen.

Voorganger:  As gedoopte kinders van God bid ons nou saam:

                    Die gemeente bid die “Ons Vader”-gebed of sing Lied/266/NSG 325 of

                    Lied 169:3/NSG 4.

Instellingswoorde

Uitdeel van tekens en kommunie

Sang

Lied 414/NSG 122

Gebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 411/NSG 112/3

Seën

Voorganger:  Jesus Christus is die opstanding en die lewe.

Gemeente:     Hy is ons vrede.

Voorganger:  Wie in Hom glo, sal in ewigheid nie sterwe nie.

Gemeente:     Hy is ons vrede, nou en tot in ewigheid.

Amen (gesing deur die gemeente).

PREEKSTUDIE – HANDELINGE 10:34-43

Teks

Hierdie toespraak in Kornelius se huis neem ’n besondere plek in Handelinge in omdat dit die eerste sogenaamde “heidenprediking” is (Roloff). Die saak het reeds in beginsel begin aandag geniet toe die Etiopiër tot bekering gekom het (Hand 8:26-40). Dit het egter geen permanente invloed op die kerk gehad nie (Marshall). Die gedeelte word omraam deur twee belangrike gebeurtenisse, naamlik die visioen van Petrus en sy ontmoeting met Kornelius en die “uitstorting” van die Gees op ’n groepie mense wat duidelik as ’n soort “tweede” Pinkster funksioneer. Hoe belangrik hierdie gebeurtenisse was, blyk uit die verwysing deur Petrus daarna in sy verdediging in Jerusalem (Hand 15:7-9). Dit word ook benadruk dat hierdie keuse nie deur mense gemaak is nie, maar deur God self. Dit gaan dus hier oor ’n beslissende gebeurtenis in die geskiedenis van die vroeë kerk, naamlik dat die evangelie Jode en Grieke geld. 

10:34:  Net soos in Handelinge 8:35 is die Griekse uitdrukking wat hier vertaal word met “aan die woord gekom” ’n uitdrukking van “the solemnity of this decisive moment” (Haenchen) en “some weighty utterance” (Bruce). Petrus het tot nuwe insig gekom. Die insig is dat alle eeue oue rassevoorkeure weggevee word (Bruce). Die NAV se vertaling dat “God nie onderskeid maak nie” is een van die kernuitdrukkings van die perikoop saam met die uitdrukking “ek begryp nou eers”. Dat God nie onderskeid maak nie hou verband met die Hebreeuse uitdrukking in Deuteronomium 10:17 wat letterlik vertaal kan word met om iemand se “gesig op te lig”. Jy kan jou gesig oplig uit erkenning of waardering, maar ook uit partydige bevoorregting (De Villiers). In Deuteronomium 10 gaan dit oor die onpartydigheid van God in die regspraak. In hierdie toespraak word dit veral van toepassing gemaak op die onpartydigheid van God wat die verlossing uitdeel. 

10:35:  Die uitdrukking “enige volk” is ook belangrik vir die verstaan van die nuwe insig van Petrus. Die Here verlos nie langs die lyne van volksidentiteit nie. Haenchen sê treffend: “There is no racial barrier to Christian salvation.” In die uitdrukking dat die Here mense uit enige volk aanneem “wat hom vereer en doen wat reg is”, kan die frase “doen wat reg is” in ’n nouer sin slaan op die gee van aalmoese. Dit moet egter eerder as geregtigheid in die breedste sin van die woord verstaan word (Bruce). Marshall benadruk dat dit hier hoegenaamd nie oor verdienste deur goeie werke handel nie. Dat iemand wat God vereer en doen wat reg is vir die Here aanvaarbaar is, “does not mean that salvation is possible apart from the atonement wrought by Jesus Christ, but rather that on the basis of his death and resurrection the gospel is offered to all people …”  Kornelius sou nie vir die Here aanvaarbaar wees as hy sou sê dat sy goeie dade genoegsaam was om die guns van God te wen nie (Marshall). Die verkiesing van Israel het in God se keuse berus. Dit gaan eerder daaroor dat mense wat die Here liefhet en doen wat reg is, korrek reageer op die belangrikste aspek van die verlossing, naamlik dat hulle nie aan God behoort op grond van kwaliteite nie, maar as gevolg van die vrye keuse van God uit genade. Alle mense wat op hierdie manier op God se genade reageer, is vir die Here aanvaarbaar. Bruce skryf dat die vroeëre profete benadruk het dat “God’s choice of Israel was an act of grace, not of partiality, and that it called for a response of obedient service, not of careless complacency”.  Soos God vir Israel bevry het, het hy ook die Filistyne van Kreta en die Siriërs uit Kir gebring (Amos 9:7). Ook hulle kon dus positief op God se genade reageer.

10:36:  Die uitdrukking “julle weet” word telkens herhaal (36, 37, 38). Dit veronderstel ’n basiese kennis van die Jesusverhaal (Bruce). Die NAV het goed gedoen deur die “evangelie van vrede” as die inhoud van die woord wat aan Israel gestuur is, te vertaal. Vrede is hier ’n sinoniem met verlossing (Marshall). Die konsep van vrede is meer as die afwesigheid van vyandskap tussen God en mens. Vrede is nie ’n wapenstilstand nie, maar sluit ook die aanknoop van vriendskaplike verhoudings in. Die ooreenkomste in gedagtegang met Efesiërs 2:11-22 kan moeilik misgekyk word. Jesus het deur sy liggaam vrede tussen God en mens en mens en mens gebring. Handelinge benadruk dat God wel sy woord aan Israel gestuur het (sien ook Hand 13:32, 33), maar Hy is die universele Heer. Efesiërs 2:18 benadruk dat Jode en Grieke deur Christus deur een Gees toegang tot die Vader het. Wat Petrus as nuwe insig verkry het, is duidelik ook wat Paulus as vrug van Jesus se sterwe beskryf, naamlik dat God Jode en nie-Jode as sy kinders beskou. 

10:37-40:  Die toespraak van Petrus is ’n opsomming van die apostoliese prediking (Bruce). Marshall wys egter op die unieke karakter van die toespraak in Handelinge in die sin dat dit ook fokus op die aardse bediening van Christus. Dit kom nie in die ander toesprake voor nie. Lukas het hierdie aspek waarskynlik “gespaar” vir hierdie geleentheid omdat dit gepas is om iets meer oor Jesus te sê wanneer Petrus met ’n nie-Jood soos Kornelius praat (Marshall). 

Vyf  stadia van die Jesusgebeure word genoem. Dit is tipies van die verhaal wat Lukas in sy evangelie opteken dat Jesus se bediening die hele Judea, insluitende Galilea en ’n kleiner area rondom Jerusalem (Judea in meer beperkte sin) omvat. Lukas verbind Jesus se bediening ook graag aan Johannes se doopbediening. Die Geestesalwing (met sy doop) is die tweede aspek. Jesus van Nasaret (duidelike “menslike” aanduiding) het God se guns geniet deur toegerus en gesalf te word deur die Heilige Gees.  Bruce sien ’n verband tussen hierdie verse se verwysing na die Heilige Gees wat Jesus gesalf en met krag toegerus het, en Jesaja 61:1 en verder. Wanneer Jesus in die sinagoge uit die Skrifte lees, word dieselfde woorde aangehaal.  Bruce se opmerking maak sin omdat Jesus in die land rondgegaan, goeie werke gedoen en mense genees het. Dit kom in breë trekke ooreen met die “program” van die Kneg van die Here in Jesaja. Ander aksent is ook belangrik. Jesus van Nasaret het uiteindelik die Gesalfde geword, die Heer. Dit kan wees dat Petrus se toespraak juis hierdie “beweging” van Jesus as mens na Jesus as Christus wil benadruk. 

Die gedagtes wat reeds by die studie oor 1 Samuel 16 oor salwing genoem is, is ook weer van toepassing.  Mettinger het aangetoon dat salwing ’n verbonds- of kontraktuele betekenis gedra het. Wanneer iemand deur die bevel van God gesalf is, het God Homself aan die koningskap van die koning verbind, in hierdie geval Dawid: “The secular anointing is the people’s way of pledging fidelity to the king; the sacral anointing expresses Yahweh’s obligation to the monarch or his election of him” (Klein). Jesus se bediening waardeur heling gebring is vir hulle wat deur die teengoddelike geteister is, het God se stempel van goedkeuring deurdat God self geheel en al daartoe verbind was deur die salwing en uiteindelik deur Jesus uit die dood op te wek.

’n Derde aspek van sy bediening word daarom ook genoem, naamlik die werk van Jesus deur heling, waardeur die duiwel oorwin is. Die “goeie werke” is volgens Haenchen en Marshall waarskynlik ’n uitdrukking om die lesers te herinner dat Jesus oor dieselfde kwaliteite as die Hellenistiese regeerders beskik het en die ware helper van mense was (Luk 22:25). Sy oorwinning oor hierdie teengoddelike magte was ’n bewys dat God met Hom was.

Die vierde stadium fokus op die kruisiging. Die goeie wat Jesus gedoen het, het nie verhoed dat Hy doodgemaak is nie. Dat Jesus aan ’n kruis gehang is, is duidelik ’n verwysing na Deuteronomium 21:22.  Laasgenoemde teks is van vroeg af deur die kerk gebruik as verwysing na die kruisiging van Jesus (Haenchen – sien Hand 5:30).  Mense het die skandelikste vloekdood oor Jesus gebring. Dit is opvallend dat die Jode nie hier direk “aangekla” word die dood van Jesus nie. Vir ’n gehoor van nie-Jode was dit waarskynlik minder belangrik (Marshall).

Die laaste aspek wat genoem word, is dat God Jesus opgewek het. ’n Skerp teenstelling word getref tussen wat mense aan Jesus gedoen het en wat God aan Jesus gedoen het (Bruce). Die verbintenis tussen al hierdie verskillende gebeure benadruk dat God self in Jesus se geskiedenis werksaam was. God was by sy doop betrokke (salwing) en by sy bediening teen die teengoddelike magte. Hy het Hom opgewek en daardeur die mense se “onheilsgeskiedenis in heilsgeskiedenis” verander (Roloff). 

10:41:  God het gesorg dat die boodskap nie doodgaan nie, maar het getuienis gekies om seker te maak dat die boodskap voortgedra sal word. Roloff benadruk die unieke getuienisbeskrywing deur Lukas. Dit is uiteraard baie belangrik vir Lukas om Petrus se ooggetuie-wees van die opstanding te benadruk. Petrus en die ander dissipels was meer as dit. Handelinge benadruk die noue verbintenis van die getuies met Jesus deur sy hele lewe, dood en opstanding. Hulle het Jesus se bediening, dood en opstanding nie net gesien nie, maar het na sy opstanding saam met Hom geëet en gedrink. Marshall sê daarom dat die “selektiewe” verskyning van Jesus verband daarmee hou dat die mense wat “gekies is” daarvoor voorberei is deur ’n langdurige assosiasie met Jesus en sou deel in sy sending in die wêreld.    

10:42, 43:  Vir die leser van hierdie gedeelte moes dit duidelik wees dat dit wat in 10:38 en 10:42 gesê word, een gedagte benadruk: Jesus is Heer oor almal. Die gedagte dat Jesus die Regter oor die lewendes en die dooies is, word later in die Apostolicum opgeneem (Roloff). Die boodskap van die lewende Heer is nie uit die duim gesuig nie. Dit is ’n boodskap wat deur die profete verkondig is. Dit is een van die belangrike aspekte van die toesprake. Omdat die persoon en werk van Jesus ’n vervulling van die boodskap deur die profete is, is Jesus se gesag en die boodskap oor Hom vas en seker. Dit is inderdaad so dat Jesus se primêre woorde aan die Jode, die volk van die Here, gegee is, maar vers 43 breek deur hierdie grens van nasionaliteit.  “Elkeen wat glo” word nou die kriterium. Roloff beklemtoon dat die universalistiese aspek van hierdie toespraak deur “elkeen wat in Hom glo” verder benadruk word. Die woorde “vergewing van sondes deur sy Naam” is ’n weerklank van die einde van Lukas se evangelie (Luk 24:47). Die uitdrukking “in Jesus se Naam” mag ook sinspeel op Jesus as Heer van almal. 

Konteks

1.  Dit is uiteraard onmoontlik om oor hierdie perikoop te praat sonder om die konteks daarvan binne die boek Handelinge in ag te neem. Marshall sien hierdie gedeelte as deel van die tweede hoofdeel van die boek. Hierdie indeling is gegrond op die idee dat Handelinge 1:8 ’n drievoudige “patroon” vir die boek bevat.  Die eerste gedeelte gaan oor die getuies in Jerusalem (1:1-5:42). Die tweede gedeelte handel oor die getuies in Judea en Samaria (6:1-11:18) en die derde deel oor die getuies na die uiteinde van die aarde (11:19-28:31). As onderdeel van die tweede hoofdeel van die boek is dit deel van die groter gedeelte wat strek van 9:32-11:18 – die sogenaamde begin van die “heidensending”.

2.  Hierdie gedeelte kom op Paassondag aan die beurt. Roloff wys tereg daarop dat die bondigheid van Petrus se toespraak maklik foutiewelik daartoe kan lei dat ons in die algemeen oor die opstanding kan begin preek sonder om die uniekheid van hierdie verhaal ernstig te neem. Vir die prediking is dit noodsaaklik om reg te laat geskied aan die uniekheid van die gedeelte wat gelees is. Daarom is sy insigte baie waardevol:  (i) Allereers benadruk die teks die samehang van die opstanding van Christus en sy lewensgeskiedenis.  Deur woord en daad het Jesus tekens van lewe en hoop in ’n wêreld met lewensvyandige magte opgerig.  Hy het deur sy bediening die stryd met hierdie magte aangeknoop. Met Jesus se dood het dit gelyk of die lewensvyandige magte inderdaad die oorhand gekry het, asof sy stryd daarteen misluk het. Met Paassondag het God egter die hoop laat herleef. God het ja gesê vir die lewe van hierdie een mens, Jesus Christus. Die toekoms van die wêreld is daarom nie meer in onsekerheid gedompel nie. God het Jesus uit die dood opgewek en Hom as Regter van lewendes en dooies aangestel. Hy is inderdaad die Heer van die wêreld.  Daarom het die wêreld ’n bestemming en hoop. Hierdie lewensgeskiedenis van Jesus het die mag om ons lewensgeskiedenis te verander en ons oë vir hoop en lewe te open; (ii) ’n Tweede aksent is dat Jesus se lewensgeskiedenis konstant beskryf word as iets wat God moontlik gemaak het. Roloff beklemtoon dat Christus se opstanding die ontmoetingspunt vir die Godsleer en Christologie is. Deur die geskiedenis van een mens onder die miljarde lewens wat was en wat nog tot stand sal kom, word dit vir ons duidelik wie God is.  In Jesus se opstanding sien ons die handelinge van God wat lewe uit die dood skep en aan die hoop ruimte gee; (iii) Die teks bepaal dat die doel van God se handelinge die verkondiging van die vrede is.  Hierdie vrede is nie ’n blote afwesigheid van konflikte of ’n innerlike saak nie. Dit het eerder die heelwording van alle dinge en verhoudinge waar God in beheer is as doel. Hierdie vrede hang dus ten nouste saam met die koninkryk van God. As die dood die einde van Jesus se geskiedenis beteken het, sou die vredesaanbod van God misluk het en sou die mens sonder vrede in vyandskap met God vervalle gebly het. Omdat God egter vir Jesus opgewek het, is die vredestoesegging met krag bevestig. Wie in geloof erkenning gee aan God se handelinge in Christus word ingesluit in hierdie vrede en word ’n draer van hierdie boodskap. 

4.  ’n Studie oor hierdie gedeelte kom ook voor in Woord teen die Lig 1/9 en bied gedetailleerde inligting oor die teks en teksprobleme, asook enkele preekmoontlikhede.  

Preekvoorstel

1.  Dit is vir ons byna natuurlik om te bely dat Jesus uit die dood opgestaan het. Dit is deel van die geloofsbelydenis wat ons Sondag na Sondag herhaal. Jaar na jaar, dekade na dekade, eeu na eeu sê mense vir mekaar: Die Heer het opgestaan. Vir mense wat na die vroeë Christene geluister het, was hierdie boodskap egter bitter vreemd. Ons lees dat Paulus met mense te doen het wat die opstanding van die dooies ontken het. Na Paulus se Areopagus-rede (Hand 17) lag party hom uit toe hulle van die opstanding hoor. Vir Paulus tas hierdie ontkenning die hart van die evangelie aan (1 Kor 15:14-19). Emil Brunner skryf: “Almal moet eenmaal doodgaan, elke rekening sluit met dieselfde saldo: nul. As alles met die dood klaar was, is daar werklik rede tot wanhoop. Dan is daar geen doel, geen uitweg nie, want alles is dan een groot nulpunt, 'n groot put waar alles moet ingaan – die mooie en lelike, die goeie en die slegte, die mees waardevolle en mees waardelose.” Hans Küng skryf: “Sonder Pase – die belydenis van Christus se oorwinning oor die dood – is daar geen evangelie, geen Bybel, geen kerk nie.”  Die opstanding is inderdaad lewensnoodsaaklik. Ons kan egter eelte op ons siel begin ontwikkel wanneer dit oor die opstanding gaan.  Ons kan dit afmaak as “ou nuus” en daarom in die algemeen daaroor praat. Lukas het egter die boodskap van Petrus hier opgeteken om iets aan ons deur te gee. Hoekom is dit só opgeteken? Wat is uniek aan hierdie toespraak oor Jesus en sy opstanding?  

2.  Petrus kyk met ’n bepaalde perspektief na hierdie opstandingsevangelie. Wat is dit? Dit is opvallend hoe Petrus in sy toespraak benadruk dat Jesus van Nasaret, die mens, van die begin af sy bediening met die “goedkeuring” van God uitgevoer het. Die gedagte dat die salwing met die Heilige Gees deur God ook God se verbintenis tot die gesalfde uitdruk, kan hier benadruk word (sien opmerkings onder die konteks). Dat God Hom aan Jesus en sy bediening verbind het, staan in skrille kontras met die mense se gesindheid teenoor Jesus. Ten spyte van Jesus se bediening van goeie werke en genesing het mense Hom doodgemaak. Die bose en God was inderdaad in die bediening en lewe van Jesus in ’n stryd gewikkel. Theron skryf: “Die veldslag het op die koppie by Golgota plaasgevind. Dit het gelyk of die Bose oorwin het, maar Jesus in die graf was God se tydbom in die dood. En op Paassondag is dood en hel die lug in geblaas.” Anders gestel: Op Paassondag het God “nee” gesê aan die teengoddelike magte en “ja” gesê vir die Heer – Jesus se hele bediening (10:40). Petrus benadruk dat Gód Jesus op die derde dag opgewek het.  God het Hom as regter oor die dooies en lewendes aangestel (10:42). God se woord het nog altyd benadruk dat geloof hierdie Jesus vergewing van sondes bring (10:43). Hierdie boodskap moes nie doodloop nie. God het selfs daarvoor verantwoordelikheid geneem. Hy het ook mense gekies wat getuies van hierdie boodskap moes word (10:41). Alles was God se bedoeling.   

3.  Wat is hierdie boodskap wat nie moes doodloop nie? Dit is baie eenvoudig. Jesus is God se vredesbrief aan die mens (10:36). Wat is hierdie vredesbrief se inhoud? (i) Die oertoestand van vrede tussen God en mens is deur Jesus se dood en opstanding herstel. Deur geloof in Jesus se Naam ontvang die mens totale vergifnis (10:43). Elkeen wat sy heerskappy erken, ontvang daardeur die vredestoesegging van God; (ii) Vrede is nie net ’n persoonlike saak nie. Deur Jesus se bediening van “goeie werke en genesing” het die evangelie van vrede gestalte gekry. Die vrede wat Jesus gebring het, sluit in dat sy hele bediening ’n verset teen die lewensbedreigende, lewensvreemde magte was. Indien Jesus sou sterf en nie weer sou opstaan nie, sou sy heling van mense blote wonderverhale bly. 

Deur die opstanding van Christus is sy bediening van weerstand teen die magte wat alles bedreig en onvrede bring met krag bevestig. Nie die magte nie, maar Christus die Heer het die finale sê oor lewendes en dooies. Daardeur het die salwing van die Gees sy hoogtepunt bereik. God het Hom so aan Jesus se bediening verbind dat Hy Hom Heer oor die almal gemaak het. Die Heer oor almal het vir almal vrede, vergifnis, heling en oorwinning gebring. Die opstanding van Christus, soos Petrus daaroor preek, sê dat die wêreld nie in ’n doodloopstraat is nie. Jesus het die stryd teen die pyn van die wêreld aangeknoop en gewen. Daarom is die wêreld nie sonder hoop nie. Die wêreld het ’n Heer. Karl Barth skryf: “Paasfees kondig die oorwinning oor die bose magte aan. Die oorlog is verby al is daar nog hier en daar soldate wat skiet omdat hulle nog nie van die oorwinning gehoor het nie. Die skaakspel is gewen al kan die speler nog ’n paar skuiwe maak. Eintlik is hy reeds in skaakmat. Die horlosie is afgeloop, al swaai die pendulum nog ’n paar keer heen en weer. Ons vyande (sonde en dood) is oorwin al tree hulle nog op asof die geveg nie reeds beslis is nie. Daarom moet ons steeds met hulle rekening hou, maar hoef ons nie meer vir hulle bang te wees nie.”

4.  Op hierdie boodskap van Petrus sal die meeste van ons “amen” sê. Die vraag is egter hoe jy hierdie verhaal interpreteer. Soms gebeur dit dat ’n mens oor en oor dieselfde verhaal hoor of vertel, sonder dat dit enige indruk op jou maak. Soms gebeur dit egter dat iets jou skielik tref en jou lewe verander. Dan hoor of vertel jy die verhaal heeltemal anders. Petrus het voorheen hierdie boodskap gepreek, maar nou sien Hy iets anders in hierdie verhaal raak. Jare gelede het ’n aangrypende “brief” van ’n skoolseun in ’n dagblad verskyn. Dit het gehandel oor die manier waarop hy altyd na mense van ander bevolkingsgroepe as sy eie gekyk het. Uiteraard is hy deur mense beïnvloed. Uiteindelik het iets gebeur wat sy hele denkpatroon, sy hele lewe verander het. ’n Swart seun het gebloei nadat hy homself beseer het. Tot sy skok het die wit seun gesien dat die bloed van die swart seun ook rooi is. Skielik het hy besef dat sy swart medemens werklik ’n mens is – anders as wat hy geleer is.

Petrus was in dieselfde bootjie. Sy toespraak begin met die woorde: “Waarlik, ek begryp nou eers dat God nie onderskeid maak nie ...”, sê Petrus. Hou in gedagte wie Petrus was. Hy was ’n Jood. In die vroeë Christelike gemeenskap is daar onderskeid getref tussen Jode/Grieke, slaaf/vry, besny/onbesny, beskaaf/onbeskaaf. Loubser skryf: “Al was hierdie mense Christene, kon hulle nie hulle aggressiewe gesindhede en geweldmentaliteit bedwing nie. Hulle het die gemeente self in groepe verdeel. Veral die Joodse Christene, wat gedink het hulle is bietjie beter as die ander, het hierin die leiding geneem.”  So was dit ook met Petrus. Jode was Jode omdat hulle anders was as die ander volke: hulle was rein. Ander volke was onrein. Hulle was God se uitverkore mense. Ander was buitestanders. Dit was sy tradisie, sy godsdiens. So het sy “kerk” hom geleer. God bring verlossing vir Jode. Hy is die God van die Jode. 

Nou vertel Petrus die verhaal anders. Petrus sê dat hierdie skema in sy lewe deurbreek is. Die woord wat aan Israel gestuur is, is nie net vir Israel bedoel nie. Hierdie “ou” evangelie van vrede, vergifnis, heling en oorwinning is vir almal, want God kyk nie soos mense nie. Die ou “kwalifikasies” word geheel en al gerelativeer. Die kriteria is nie nasionaliteit, afkoms of bloed nie, maar om in dankbaarheid te reageer op die evangelie. Jesus is die Heer van almal. Elkeen wat Hom dien en geregtigheid doen, wat glo in sy Naam (10:35, 43), is deel van sy mense. 

5.  Dirkie Smit vertel die verhaal van die teoloog Dorothee Sölle wat op 'n perskonferensie met groot entoesiasme gepraat het oor die opstandingsevangelie en oor die hoop dat God by magte is om mense en doodsituasies te vernuwe. Toe onderbreek 'n joernalis haar met die vraag: “Glo u regtig dat mense kan verander?” Sölle het glo geantwoord: “Dit is die mees ateïstiese vraag wat ek nog ooit gehoor het ...” 

Hoffer skryf dat ons ’n ingeboude weerstand teen verandering het. Ons is nie net bang vir die nuwe nie, maar ook oortuig dat ons nie werklik kan verander nie. Daarom sê ons ook: jakkals verander van hare, maar nie van snare. 

6.  Die prediker kan ten slotte fokus op sy of haar eie konteks. As ons vandag in Petrus se skoene sou staan en ons toespraak oor Jesus se lewe, dood en opstanding sou begin met die woorde: “Waarlik, ek begryp nou eers ...”, wat sou volg? Tot watter insigte sou hierdie evangelie ons bring? As dit so is dat God nie onderskeid maak nie, maar sy evangelie van vrede aan almal bied, hoe verander dit ons gesindhede? As die belydenis van Belhar dalk een so ’n nuwe “insigpunt” in die geskiedenis van die kerk in Suider-Afrika is en eenheid, versoening en geregtigheid waardes is wat onder andere ook God se onpartydigheid benadruk, hoe kan hierdie nuwe gesindheid posvat in ons gemeenskappe? Die boodskap van die opstanding en boodskappers daarvan kyk tog soos God kyk! Hulle leef onder die heerskappy van die opgestane Here. As God sy stempel van goedkeuring op ons Heer se bediening geplaas het, is boodskappers van hierdie evangelie van vrede mense wat hulle verset teen alle lewensbedreigende magte wat verdeel, seermaak en dood. Ons buig by hulle wat stukkend geword het as gevolg van die teengoddelike magte. Hoe kan ons daarom die boodskap van vrede verkondig en sê dat dit ons nuut laat dink oor ander se posisie voor God en hulle Christelike verwantskap met ons, sonder om deel te wees van die stryd teen onreg en ongeregtigheid? 

Sölle skryf: “Wanneer ons mekaar toeroep: Christus het opgestaan, hy het waarlik opgestaan, roep ons bevryding en identifiseer ons ons met mense wat stukkend is, die armes. Ons sê en bedoel: ons word versadig, ons het ons moeder, die aarde lief. Ons bou met ons hele lewe aan vrede. Ons maak van swaarde ploegskare. Die krag wat opstanding heet, moet in ons lewe sigbaar wees.” 

Ja, nuwe insigte kom moeilik. Smit sê: “Ons sien hoe swaar mense van oortuiging verander oor fundamentele sake ... As mense eers 'n sekere weg ingeslaan het, sekere idees begin verkondig het, sekere goed begin doen het, verander hulle moeilik. Argumente, hoe logies ook al; bewyse, hoe duidelik ook al, maak mense dikwels net meer halsstarrig, selfversekerd en onveranderlik eerder as om berou te toon en te verander. Berou en verandering kom klaarblyklik swaar.” Maar dit gebeur. 

Bibliografie

Bruce, F F 1977.  The Book of the Acts;  De Villiers, J L 1977.  Die Handelinge van die Apostels Deel 1;  Haenchen, E 1971.  The Acts of the Apostles;  Herold, S J 1995.  Handelinge 10:34-43 in Verdere riglyne vir Paas-, Hemelvaart- en Pinksterprediking.  Burger, C W, Müller, B A & Smit D J (eds) ;  Klessmann, E 1967. Ostertag: Apostelgeschichte 10:34-43, in Gepredigt den Völkern II, Herausgegeben von Vicedom, G F, Klessmann E & Becker, H  Breklum:  Christian Jensen, 91-93;  Marshall, I H 1980.  The Acts of the Apostles;  1992. The Acts of the Apostles.  New Testament Guides.  Sheffield Academic Press;  Roloff, J 1983.  Ostermontag – Apg 10,34a. 36-43, in Neue Calwer Predigthilfen.  Sechster Jahrgang.  A: Advent bis Himmerfart.  Stuttgart: Calwer. 261-269.

Related Media
See more
Related Sermons
See more