Handelinge 1=15-26 LR2006

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 58 views
Notes
Transcript

Handelinge 1:15-17, 21-26 LR2006

28 MEI 2006

SEWENDE SONDAG IN PAASTYD/PINKSTERWEEK

LITURGIESE VOORSTEL

Fokusteks:           Handelinge 1:15-17, 21-26

Ander tekste:       Psalm 1; 1 Johannes 5:9-13; Johannes 17:6-19

INLEIDING

In ’n sekere opsig gaan al vier vandag se tekste oor getuienis gee. Die fokusteks handel oor die verkiesing van Mattias in die plek van Judas Iskariot, hoofsaaklik op grond van sy geloofwaardige getuienis oor wie Jesus is. Die 1 Johannes teks sluit tematies hierby aan. ’n Moontlike tema vir die byeenkoms is dus die getuieniskarakter van volgelinge van Jesus. Ons hele lewe getuig van God se goedheid, sy teenwoordigheid en die kosbare, bevrydende waarheid dat Hy mense aan Homself en aan mekaar verbind.

Wys, indien moontlik, drie persone (‘n man, vrou en tiener/kind) aan om die Skrifgedeeltes voor te berei vir voorlesing in die erediens.

DIENSORDE

GOD VERGADER ONS VOOR HOM

Paaskers

Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek of blomme word ingedra en by die brandende Christuskers geplaas.

Aanvangswoord

Kyk by die basisliturgie vir die verhaal uit die Oosters-Ortodokse Kerk.

Voorganger:  Christus het opgestaan! (Christos anesté!)

Gemeente:     Hy het waarlik opgestaan! (Aléthos anesté!)

Sang

Lied 422 “Die Heer, die Heer het opgestaan!”; NSG 113

Seëngroet

U, Here, leer ons dat iemand wat in u Woord sy vreugde vind, is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is en op die regte tyd tot voordeel van almal vrugte dra. Ons is hier, Here, omdat U hier is (uit Ps 1).

Gemeente van die Here, ek groet julle in die naam van Hom wat die regverdiges op hulle pad lei, wat sy waarheid aan mense bekend maak en by sy kinders is.

Lofsang

Lied 207 “Eer aan die Vader”

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed om die opening van die Woord

O Heer, soos wat U by die dissipels was, wil ons ook graag hoor wat U sê. Dankie dat U leef en dat ons nou na u Woord kan luister. Amen.

Skriflesing

Handelinge 1:15-17; 21-26

1 Johannes 5:9-13

Johannes 17:6-19

Lied 189 “Halleluja!” na die Nuwe Testament brief

Prediking

Antwoord

Lied 532 “Ons Vader neem ons hande”;

NSG 310 “O Here, neem my hande en lei my voort”

DIENS VAN DIE TAFEL

Formulier

Om aan te sluit by die tema van getuienis, waarheid en geloof stel ons voor u gebruik die formulier “Die nagmaal … as waarborg” op bladsy 55 van die “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”.

Uitdeel van die brood en wyn

Nagmaalsgebed

Here, U is die ewige, drie-enige God.

U is ons tafel, U is ons voedsel én U bedien vir ons die voedsel:

U, ewige Vader, is die tafel waar die Lam, u eniggebore Seun,

vir ons aangebied word.

U, Jesus Christus, is vir ons die kosbare voedsel.

Wat U ons leer, voed ons met kennis van die Vader se wil.

In die sakrament ontvang ons U en dit versterk ons,

terwyl ons as pelgrims en vreemdelinge deur hierdie wêreld gaan.

U, Heilige Gees, bedien vir ons die voedsel.

U deel ons die kennis van u liefde mee.

U verlig ons verstand.

U inspireer ons om God te dien.

U gee ons liefde vir ons medemens.

En as U ons so oorvloedig gevoed het,

dring U ons om die verlossing in Christus aan die wêreld te bedien.

Laat u Naam verheerlik word (Catherina van Siena uit die “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”).

Nagmaal

Dankgebed

Psalm 16:1-3, 5-11

Sang

Lied 453 “Aan die Vader dank en ere”

Dankoffers

UITSENDING

Slotsang

Lied 207:4 “Maak ons, o Heer, u getroue getuies”

Seën

Mag God ons genadig wees en ons seën,

mag Hy tot ons redding verskyn,

sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,

sy reddende krag onder alle nasies. Amen

(uit die “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”, aangepas uit Ps 67:2-3).

PREEKSTUDIE – HANDELINGE 1:15-17, 21-26

Teks

Die Leesrooster-afbakening vra na die verband tussen die twee teksdele (15-17 en 21-26). Die hele Handelinge 1:12-26 vorm egter `n eenheid. Daarom moet die hele teksdeel verreken word in die oordenking van ons teks. Volgens Bruce dui “In daardie tyd” (15) die begin aan van `n nuwe afdeling van die verhaal (vgl 6:1; 11:27). Die boodskap word aangebied as toespraak deur Petrus (woordvoerder van die Twaalf – De Villiers; “the most forceful personality among the disciples” – Marshall) en die gemeente se reaksie. Dit is die eerste van Petrus se agt redevoeringe in Handelinge (Lindijer). Petrus noem die Christene met wie hy praat “broers”, `n benaming deur die Christene van die Jode oorgeneem, en kom meermale in Handelinge voor (hier die eerste gebruik van dié woord vir Christene – Marshall). Dit dui die samehorigheid van sprekers en hoorders aan, asook die gesamentlike gerigtheid op hulle taak (De Villiers); lede van dieselfde godsdienstige gemeenskap, en sluit nie noodwendig vroue uit nie (Bruce). Volgens Herholdt word die inhoud van die gebeure, die dood van Judas en die verkiesing van Mattias, logies tot `n eenheid verbind deur psalm-aanhalings en die gebruik van ses en (Gr kai)-verbindings (15,19,23,24,26a,26c). Vir hom bied die teks genoeg bewyse dat Petrus se gehoor nie die mense in die bovertrek was nie (13), maar Lukas se Griekssprekende lesers.

Die tydsaanduiding “In daardie tyd” (15) verwys na Jesus se hemelvaart; nadat die dissipels verbaas gesien het hoe Jesus in die hemel opgeneem is en hulle in Jerusalem in die bovertrek (vlg De Villiers moontlik in die tempel, omdat die bovertrek te klein sou wees) versamel het om in gebed te volhard. Die veronderstelde situasie is `n byeenkoms van sowat honderd en twintig gelowiges (vlg De Villiers die volgelinge wat saam met Jesus na Jerusalem gekom het), waarby Petrus die leiding geneem het (15). Dié getal was die minimum mense nodig vir die stigting van `n selfstandige Joodse gemeente (De Villiers, Bruce). Spencer praat van “the social structure of the developing Christian community”. Petrus interpreteer die gebeure rondom Judas as die vervulling van die Skrifwoord (16-17). Beide Judas se einde en sy vervanging word gesien as vervulling van die Skrif (Lindijer). Na watter Skrifwoord word verwys? Die gesag en betroubaarheid van die Skrifwoord word beklemtoon as die Skrifwoord deur die Heilige Gees by monde van Dawid oor Judas. Volgens De Villiers is die eintlike spreker in alle profesieë vir Lukas die Heilige Gees. Hier is Dawid die profeet wat spreek.

Hoe word Judas hier beskryf (18-19)? Hy is een van “ons” (die binnekring van Jesus se dissipels) en deur Jesus gekies om `n aandeel in “ons” werk te hê. Die onverklaarbare is dat hy die gids word van dié wat Jesus gevange neem (vgl Fitzmyer). Hy was uiters ontrou en misbruik die amp wat uit genade aan hom toevertrou is (De Villiers). Die omkering van Judas se rol het die noodlottige gevolg dat hy `n stuk grond met die omkoopgeld gekoop, maar daarop oopgebars en gesterf het. Daarom is die stuk grond “Bloedgrond” gedoop (vgl Bruce vir drie hoofvraagstukke rondom die verslag oor Judas se dood). Oor hierdie saak het die psalms `n profetiese woord; die woonplek is leeggelaat (Ps 69:2) en `n ander sou die amp oorneem (Ps 109:8). Herholdt wys op drie verskillende verhale oor Judas se einde en die eksegetiese probleme daarmee (ook Fitzmyer). Die gemeenskaplike aspek in die drie weergawes is die opmerking dat Judas deel van die Twaalf was en dat die grond met die naam Akeldama aan sy dood gekoppel word. Twee teologiese aksente hieruit: (i) Judas ontvang die loon vir die sonde, en (ii) die gebeure staan onder die noodwendigheid van God se wil.

Die gevolgtrekking uit die gebeure (dus) word in 21 gemaak. Daar moet aan die eis van die Skrif voldoen word (De Villiers); `n getuie moet in Judas se plek gekies word om die getal van die binnekring weer vol te maak. Marshall motiveer die werklike rede vir `n opvolger vir Judas só: “... it arose from the character of the task which required that the full number of witnesses be made up”. Die eise waaraan so `n persoon moes voldoen, word ook gestel (De Villiers). Die inhoud van die getuienis dien as maatstaf vir die persoon se karakter. Die verkose apostel sal getuig van die opstanding van Jesus uit die dood; `n (persoonlike) getuie wat “heeltyd” (met nadruk) by was tydens Jesus se aardse optrede (vanaf sy doop tot sy hemelvaart; vgl Marshall). Spencer praat van “membership in the apostolic circle”. Uiteindelik word net twee persone genomineer (23): Josef (Barsabbas/Justus – vlg De Villiers dui die bynaam op hoë aansien en die volledigheid van sy naam dat die gemeente dalk voorkeur aan hom gegee het) en Mattias. Oor laasgenoemde vertel die Bybel niks, en sê De Villiers, is God se keuse in hierdie geval ook anders as die mense s’n. 

Hoe die keuse gemaak en besluit geneem is, word duidelik aangedui. Almal, nie net die apostels nie, het aan die benoeming van die twee mans deelgeneem (De Villiers). Dit gebeur deur gebed, waarvan die inhoud `n belydenis oor die wese van God is: Hy is die Here wat die hart van alle mense ken. Dan vind die loting plaas waarvolgens Mattias gekies en die binnekring tot die oorspronklike volle getal van twaalf herstel word. Die keuse van Mattias is die eerste daad van die verhoogde Christus deur die apostels. Volgens 1:2 het Jesus die apostels gekies en moes daarom ook die plaasvervanger van Judas aanwys. Hier is `n opvolg van die verkiesing van die apostels (Lindijer). “The real choice was left to the Lord, since apostleship is not a humanly ordained office” (Marshall). Die implikasie is dat die voorsienigheid van God vir `n plaasvervanger sorg (Fitzmyer). Mattias is met die instemming van almal tot die geledere van die apostels gevoeg (De Villiers).

Konteks

1.  Oor die literêre verband van ons perikoop help Johnson se gedagtes oor Lukas se twee geskrifte (Evangelie en Handelinge) ons. Aan die einde van die eerste volume is die mense gereed om hulle tot God te keer, terwyl die leiers wat Jesus opgelei het in die stad wag op die krag waardeur hulle bedienaars van die woord en leiers oor Israel sal wees. Die volgende deel van die verhaal is die Jerusalem-verhaal van Handelinge (hfst 1-8). Hier hanteer Lukas die vraag oor God se trou aan sy beloftes (vgl Fitzmyer). Hy wil toon dat God sy beloftes aan Israel nagekom het en vertrou kan word met sy woord aan die Heidene wat nou in Hom glo. Lukas wil wys daar is `n herstelde Israel wat die beloftes van God aan Abraham ontvang het, beloftes wat ook die heiden wêreld bereik het. Sy verhaal moet die identiteit van die volk en die aard van die leierskap oor hulle uitlig, asook hoe die evangelie van Joodse tot heiden gelowige oorgedra is. “Luke’s concern for the church as the restored Israel is made clear at once by the account of Matthias’s election (1:15-26)” (Johnson). Spencer stel dit só: “In the wake of Jesus’ departure, his followers must deal with the pressing business of regrouping as a cohesive community and mobilizing for their assigned mission.”

2.  `n Tweede belangrike perspektief vir prediking oor ons teks is Lukas se sendingfokus. In sy bespreking van Lukas se sendingteologie argumenteer Bosch Lukas se twee geskrifte is die belangrikste manier waardeur hy sy sendingteologie verwoord. Vir Lukas het Jesus se sending `n universele intensie, maar onvoltooide uitvoering. In Lukas se evangelie word `n sending na die Heidene net een keer eksplisiet genoem (Luk 24:47, die finale perikoop). Die Heidensending sal die toekomstige taak van die kerk wees, en nie die taak van die historiese Jesus nie. Die evangelie neem ons tot op die drumpel van die Heidensending, terwyl die boek Handelinge die verhaal in besonderhede sal vertel.

Volgens Bosch gebruik Lukas geografiese besonderhede as strategie om die eenheid in sy verstaan van sending te openbaar. Hy gebruik die geografie om die verhouding tussen Jesus se sending en dié van die kerk aan te dui. Spencer gee ook aandag aan die topografie as ruimte waarbinne die verhaal afspeel (Olyfberg en bovertrek is eksplisiet, terwyl die tempelberg implisiet funksioneer). Die evangelie ontvou Jesus se bediening in drie fases: Galilea (4:14-9:50), sy reis van Galilea na Jerusalem (9:51-19:40), en uiteindelik die gebeure in Jerusalem (19:41 tot einde van evangelie). Handelinge ontwikkel die kerk se sendingbediening ook in drie fases, soos aangedui in 1:8 (Jerusalem, Judea en Samaria en tot die einde van die aarde). Die openingshoofstuk van Handelinge beskryf die geboorte en groei van die kerk in Jerusalem; die tweede deel teken die uitbreiding van die kerk na Samaria en die “coastal plains”, tot in Antiochië; die derde deel verhaal die uitreik in verskillende rigtings, wat met Paulus se aankoms in Rome afsluit. Hier kom die boek skielik tot `n einde. 

3.  Oor die verband tussen ons perikoop en die kerklike jaar sê Marshall Lukas beskryf een insident wat die tydsgaping tussen hemelvaart en Pinkster vul. Dié insident is vir Lukas belangrik. In die evangelie het die Twaalf `n spesiale funksie as apostels vir die Jode, met die vooruitsig om die twaalf stamme van Israel te oordeel (Luk 9:1-6;  22:28-30). Die aanvulling van die getal apostels is moontlik bedoel as aanduiding dat die taak van getuie van Jesus as Messias vir die Jode, na sy opstanding voortgesit moet word (vgl Fitzmyer vir die simboliese betekenis van die getal twaalf; ook NIB). Dit is onwaarskynlik dat hier inligting verskaf word oor hoe die leierskap van die kerk georganiseer behoort te word (Marshall). Volgens Lindijer is die moontlike bedoeling van die aanstelling van die twaalf dat hulle na die hele verstrooide volk Israel gestuur word. Spencer sê: “Thus the twelve apostles now take their place as appointed heads of a new Israelite kingdom inaugurated by Jesus and continuing to be restored after his departure.” Die aanvulling van die groep het nie net betekenis vir Israel nie. In ons perikoop word as ’t ware laaste voorbereidings getref vir die ontvangs van die Gees en die verhaal van die kerk se getuienis tot die einde van die aarde.

4.  Die eksegetiese fokus van ons teks is belangrik vir die prediking. Volgens Herholdt sentreer die eksegetiese belangstelling in vers 12-26 hoofsaaklik rondom die begrip “apostel” (die Twaalf), Judas se einde, Lukas se gebruik van toesprake, verskillende tradisies en Ou-Testamentiese aanhalings. Kommentare bespreek Lukas se terminologie en siening van `n apostel, Lukas se onderskeid tussen “die Twaalf” en “die apostels”, asook dat die woord “apostel” vroeg `n wye toepassing gehad en `n apostelamp ontwikkel het. In die ontwikkelingsgeskiedenis van die apostelamp het die vereiste dat `n apostel `n eerstehandse ooggetuie van Jesus se volle aardse bediening moes wees, gaandeweg verval. Volgens die algemene siening het die apostelamp natuurlik ontwikkel en die term “apostel” algaande verbreed om ander, naas die Twaalf, in te sluit. Die sentrale gedagte “om `n getuie te wees” het klaarblyklik ten grondslag aan hierdie verbreding gelê. Herholdt meen `n deurlopende aksent op apostelskap lê opgesluit in die vraag na die gesag waarmee hulle optree (roeping, gestuurdheid en bekragtiging), asook die geloofwaardigheid, in alle omstandighede, van hul getuienis oor die opstanding van Jesus.

5.  Ter beantwoording van die belangrike eksegeties-hermeneutiese vraag dui Herholdt drie teologiese motiewe by Lukas vir sy vertelling aan: (i) Om te beklemtoon dat dié gebeure binne God se heilswil en -plan plaasvind; (ii) Waarom die episode van die aanvulling van die twaalftal spesifiek op hierdie punt in Handelinge geplaas word, en; (iii) Die implisiete kerkbegrip – die kerk as nuwe eskatologiese volk van God, die nuwe Israel. Hy verwys onder andere na Willimon se gedagtes oor 15-26 onder die tema van leierskap in die nuwe gemeenskap. Petrus se verwysing na Judas in sy toespraak herinner aan die gebroke samestelling van die kerk, reeds van die begin af. Ontrouheid het daar reeds in eie kring plaasgevind. Herholdt kies in aansluiting by Willimon vir `n preekvoorstel oor leierskap in die kerk.

6.  Die gebeure waarvan ons teks vertel, vind binne die konteks van die vorming van die eerste gemeente tussen Pase en Pinkster plaas. Die Leesrooster stel hierdie teks voor vir die Sondag voor Pinksterfees, aan die einde van Paastyd, drie dae na hemelvaart. In sy bespreking van Handelinge 1:12 en 13 onder die opskrif “Van Pase na Pinkster” sê Noordmans Lukas bied hier `n beskrywing van die oorgang tussen die twee groot heilshistoriese gebeurtenisse in God se betrokkenheid by die verlossing van die wêreld. Vir hom vorm die Godsopenbaring `n geheel waarin hoofmomente onderskeibaar is, maar nie geskei mag word nie. Omdat die gevaar van skeiding moontlik is, was die Gereformeerde vaders kort na die Reformasie selfs huiwerig om die Christelike feesdae afsonderlik te vier. Later is wel teruggekeer tot die viering van die kerkjaar om daarmee die lidmate te help om die fokus van elke feesdag te begryp.

7.  Met die oog op die kerk se werk in die wêreld is die beskrywing in ons teks van apostelskap as `n “bediening” belangrik. Marshall sê: “the Greek word diakonia means ‘service’ (originally service at a meal table), and it is used of Christian work of all kinds, which takes its pattern from the One who came not to be served but to serve.” Om hierdie diens te verrig, vra dat die dienaars hulle “plek” ken. Lindijer praat van die “plek” van diens en apostelskap wat in die gebed (24) ter sprake kom. Judas gaan van een plek na `n ander; die plek waarvoor Jesus hom gekies het en sy eie plek wat hy gekies het. Om jou “plek” te ken is om die taak van die gestuurde te ken. Die taak van `n apostel is dié van “`n getuie van Jesus se opstanding”. Die opstanding van Jesus is die sentrale gebeurtenis en beklee `n belangrike plek in Handelinge (Lindijer). Fitzmyer voer juis aan dat die rede vir die aanvulling van die Twaalf op hierdie punt in die verhaal gegee word deur die verband van ons episode met die opvolgende gebeure (hfst 2). “The Twelve are reconstituted so that they can confront Israel assembled in Jerusalem on the first great feast day following Passover, the feast of Assembly or Pentecost” (Fitzmyer). By daardie geleentheid sal Petrus en die ander elf `n eerste getuienis lewer van die geloof in die opgestane Here.

8.  Spencer vestig die aandag op `n verdere saak in ons perikoop, naamlik die teenstelling tussen Judas se mislukking en dié van Petrus. Beide apostels het hul rug op Jesus gekeer, een deur verloëning en die ander deur verraad. Judas is onomkeerbaar verlore, terwyl Petrus in sy posisie herstel word. “Apparently, Peter’s treachery is viewed as an isolated aberration, while Judas’ is treated as symptomatic of his total apostasy from Jesus’ way” (Spencer).

Preekvoorstel

1.  Met die oog op die prediking van ons teks kies ek `n drieledige fokus: (i) die posisionering van ons teks binne die heilshistoriese raamwerk van Lukas se vertelling en die kerklike jaar; (ii) die roeping van die kerk om die sending van Christus in die wêreld voort te sit, en (iii) God se betrokkenheid by die sending van die kerk na die wêreld en sy voorsiening van “apostels” om getuies van die opstanding te wees.

2.  Die dissipels se samekoms na Jesus se hemelvaart laat Noordmans sê die dissipels kon nie in die sfeer van Pase bly nie. Die gebeure in die bovertrek adem nie meer `n hemelse atmosfeer nie. Volgens hom word die gevoel eerder gewek dat, terwyl Jesus na die hemel opgevaar het, die dissipels uit die hemel geval het. Pase bly nie. God gaan verder om iets nuut te skep. Hy vaar voort tot met Pinkster en begin van daar weer van onder af. Jesus het weggegaan. Die apostels gaan nou begin waar Hy opgehou het. Daarvoor sal hulle die Heilige Gees ontvang, maar moet die gemeente ook organiseer om Jesus se werk in die wêreld voort te sit.

3.  Judas se verlies sou vir Jesus se vroeë volgelinge tragies en problematies wees, maar volgens Spencer nie die einde van die wêreld nie. Judas (en enige ander mens) is nie onmisbaar nie. `n Ander kan in sy plek gekies word. Met dié insident word die apostoliese geledere oopgemaak vir nuwe lede en ruimte geskep sodat ander aan die Christensending deel kan kry. `n Blik vooruit op die Handelingeverhaal wys net vir Petrus en Johannes na 1:13 op die toneel. “In their places, we encounter new witnesses such as Stephen, Philip, Barnabas, James, and, of course, Paul. We embark on an open journey to the ends of the earth, open to new companions as well as new territories, receptive to fresh voices and changing perspectives” (Spencer). God se verhaal met die kerk gaan voort en geen individu is die hoofspeler in dié beweging nie. Elkeen wat gehoorsaam volg en getuig, vorm deel van die één getuienis koor. Volgens Fitzmyer leer hierdie insident Christen lesers: (i) Hoe volgelinge van Christus teen hul leier kan draai en in vertroue op hul eie middele hul tragiese einde bereik, maar ook hoe God die goeie na vore bring uit `n slegte insident in respons op die Christengebed; (ii) Die episode wys ook hoe `n mens, selfs as hy/sy deur God vir `n spesifieke bediening gekies is, dit kan verwerp “om na sy eie plek te gaan” (1:25).

4.  Die insident van ons teks is noodsaaklik vir insig in hoe God sy werk in die wêreld verder neem deur geroepe mense. Maar, sê Fitzmyer, hierdie eerste getuies “too disappear from the story of Acts after 16:4”. So verdwyn die Twaalf wat aanvanklik `n belangrike rol in die kerk se geskiedenis gespeel het, uiteindelik van die toneel. Vir Fitzmyer is dit betekenisvol dat nie een van die uitdrukkings apostolos of  “die Twaalf”, “ever became a title for a role, function, or office in the Christian church. Christians in general may be spoken of as ‘apostles,’ but that is a broader, extended use of the name.” Dit is in hierdie breër en uitgebreide betekenis van die woord wat die kerk van Christus in die jaar 2006 oor haar roeping en sending in die wêreld moet dink.

5.  In die lig van die sogenaamde hoofstroomkerke se herontdekking van die kerk se voortgaande roeping in die wêreld het `n stroom nuwe publikasies verskyn oor hoe die kerk van Christus moet dien om waardige getuies van die opstandingslewe te wees. Coenie Burger herinner gelowiges aan hoe God sy volgelinge roep, nuut maak en stuur, deur ontmoetings met die lewende God. Piet Naudé roep gelowiges terug na die grondwaarhede van die geloof om te herinner dat Geesgedrewe gelowiges Christene is wat met blydskap lewe en kerke is wat groei. Eddie Gibbs en Ian Coffey vra na die kerk wat nou Christus se sending in die wêreld verder moet neem en wys op die sogenaamde “quantum changes in Christian ministry”. Hy praat oor die kerk in Brittanje en Amerika. Daarmee skep hy `n breër konteks vir die roeping en uitdagings van die God se kerk in die wêreld. Saam met die ekumeniese kerk worstel ook die NG Kerkfamilie om gehoorsaam te wees aan haar roeping in die wêreld. Predikante word in Bloemfontein (2005) saamgetrek om God se roeping vir hulle te vier. Gemeentes word opgeroep tot `n seisoen van luister, om met erns te hoor hoe God se Gees nou sy kerk lei en stuur. En te midde van dit alles kan die kerk steeds die pad van Judas kies, “om na sy eie plek te gaan”.

Bibliografie

Bosch, D J 1991.  Transforming Mission.  Paradigm Shifts in Theology of Mission;  Bruce, F F 1970.  The Acts of the Apostles.  The Greek Text;  Burger, C W 2005.  Ontmoetings met die lewende God;  De Villiers, J L 1977.  Die Handelinge van die Apostels, Deel I;  Fitzmyer, J A 1997.  The Acts of the Apostles.  A New Translation with Introduction and Commentary;  Gibbs, E & Coffey I 2001.  Church Next;  Herholdt, S J 1995.  Woord teen die Lig I/9;  Johnson, L T 1986.  The Writings of the New Testament.  An Interpretation;  Lindijer, C H 1975.  Handelingen van de Apostelen I;  Maloney, L M 2000.  New Proclamation.  Year B, 2000.  Easter, Pentecost;  Marshall, I H 1980.  Acts.  Tyndale;  Naudé, P 2005.  Geesgedrewe Gelowiges;  Noordmans, O 1990.  Verzamelde Werken, Vol 8;  Spencer, F S 1997.  Acts;  The New Interpreter`s Bible, Vol X;  Witherington III, B 2003.  New Proclamation.  Year B, 2003.  Easter through Pentecost.

Related Media
See more
Related Sermons
See more