Jesaja 2=1-5 LR2004
Jesaja 2:1-5 LR2004
28 november 2004
eerste sondag van advent/ wêreldvigsdag
liturgiese voorstel
Fokusteks: Jesaja 2:1-5
Ander tekste: Psalm 122; Romeine 13:11-14; Matteus 24;36-44
Inleiding
Die gedeeltes uit die Ou Testament beskryf die simbool van verlossing in die lewe van Israel en Juda, naamlik Sion. Die stad Jerusalem waar die tempel is. Daar sal ’n tyd kom wanneer alle mense daarheen sal gaan om vrede en verlossing te vier. Volgens die psalmis kan iets nou reeds hiervan tydens die aanbidding in die tempel ervaar word. Die Nuwe-Testamentiese tekste herinner ook aan ’n ander werklikheid wat op hande is en dat gelowiges vandag se lewe vanuit hierdie oortuiging inrig.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied vir Advent
Lied 358:1-3
Die eerste Adventskers word aangesteek.
Aanvangswoord
Lees Psalm 122:1-4
Drumpelgebed
“Ons Here en Vader, ons kom U vanoggend in die Naam van ons verlosser Jesus Christus aanbid. Soos Israel binne die stadsmure van Jerusalem veiligheid en vrede gaan soek het, soek ons dit ook vandag in hierdie byeenkoms. Gee ons u vrede as ’n voorsmaak van dit wat ons vir altyd tot in ewigheid by U sal ervaar en maak van ons pelgrims op pad na die ewige stad. Amen”
Aanbiddings- en lofliedere
Psalm 48:1-4; Lied 326; 338/NSG 83 of 84
Geloofsbelydenis
“Ek glo in Jesus Christus,
nie in ’n halfgod of ’n halfmens nie,
maar in die ewige Seun van die ewige Vader
wat uit louter liefde die hemel geskeur het,
om ’n mens te word,
wat kon lag en ly, wat kon twyfel en vrees
– een van ons.
Ek glo dat Hy te midde van die haat,
die koue en die verskrikking
as ’n weerlose Kind gekom het
– ter wille van die weerloses en die kinders.
Ek glo dat die eindelose opstand
teen God en die goeie
die enigste Mens wat God en goed was,
geoordeel en vermoor het
en dat die pyn en die godverlatenheid
van die hele wêreld
in sy sterwensroep gestol het.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het
en dat sy opstanding
die ewige teken is dat dinge anders kan wees;
dat die stryd tussen die lewe en die dood
finaal ten gunste van die lewe besleg is
en dat hierdie waarheid voortaan uitsig bied
in die mees uitsiglose omstandighede.”
(Gedeeltelik aangehaal uit die Groot Gebedeboek, bladsy 414 )
Uitsending
Slotsang
Lied 587:1 en 2/ NSG137; Lied 365:1-3/NSG 69
Lees
Romeine 13:11-14
Seën
Lees Psalm 122:7-9
Mag daar vrede wees binne jou mure, rus in jou wonings.
Ter wille van my broers, susters en my vriende wens ek jou vrede toe.
Ter wille van die huis van die Here, ons God, bid ek dat dit met jou goed sal gaan.
INLEIDING TOT DIE PROFESIE VAN JESAJA
Die boek Jesaja staan die eerste in die versameling van profetiese boeke, nie net omdat dit die langste boek is nie, maar veral omdat dit die rykste is in terme van sy inhoud. Alhoewel dit deur die Joodse tradisie in die posisie geplaas is, is dit ook vir die Christelike kerk die betekenisvolste van die profete veral weens die veelheid van profesieë daarin wat volgens die Nuwe Testament op Jesus betrekking het.
Volgens Jesaja 1:1 het die profesieë op die suidelike koninkryk en veral op Jerusalem betrekking, in die periode 740-690 vC. Dit is egter net direk waar van hoofstukke 1-39. Op grond van verskille in taal, idioom, gedagtewêreld en veral die doel van die uitsprake word hoofstuk 40-66 sedert die 18de eeu reeds deur geleerdes beskou as die uitsprake van `n profeet wat teen die einde van die ballingskaptyd (omtrent 550-540 vC) opgetree het. Hierdie profesieë staan egter wel in dieselfde tradisie as die vorige hoofstukke en het baie tematiese en terminologiese ooreenkomste daarmee. Dit is dus as `n eenheid onder die naam van Jesaja gekanoniseer. Hierdie onbekende profeet word algemeen Deutero-Jesaja (beteken Jesaja die Tweede) genoem. Daar is ook `n duidelike verskil in aksent vanaf Jesaja 56 en dit lyk of die laaste hoofstukke eerder op die situasie ná die terugkeer uit ballingskap betrekking het en van `n ander profeet, naamlik Trito-Jesaja (= derde), afkomstig is. Vandag is daar algemene eenstemmigheid in kerklike kringe (en nie net onder Bybelwetenskaplikes nie) dat Jesaja 40-55 wel van `n tweede profeet kom wat in Babel opgetree het en, met `n bietjie minder sekerheid, dat Jesaja 56-66 heelwat later ontstaan het.
In Jesaja 1-39, en spesifiek in 1-12, is dit belangrik om die besondere historiese en veral internasionale politieke situasie waarbinne elkeen van die profesieë uitgespreek is, te verstaan. In die eerste 12 hoofstukke gaan dit spesifiek om `n oproep aan die leiers en inwoners van Jerusalem om hulle hoop op die Here alleen te plaas vir oorlewing in situasies van bedreiging. Hoofstuk 1 vorm `n tematiese inleiding tot die boek en bring die belangrikste temas na vore. Geregtigheid en die uitvoering van God se reg is die sentrale tema. Die profeet wys dat hulle vroomheid en godsdienstigheid vir God verwerplik is, indien die swakstes in die gemeenskap, die weduwees en armes, verontreg word. Sosiale geregtigheid is die keersy van vroomheid (vrees vir die Here). Terwyl die profeet God se oordeel verkondig en dus tot bekering oproep, verkondig hy ook God se genade. Dit neem oral in die boek die gestalte van `n persoon aan wat Hy gaan stuur. In hoofstuk 7 en 9 word die volk, in situasies van bedreiging waar hulle hul hoop op buitelandse magte vestig, tot geloof opgeroep en die geboorte van ’n seun aangekondig, wat `n teken van die Here se trou en agent van sy redding en herstel sal wees. In ons teks (11:1-10) word iemand belowe wat hierdie geregtigheid gaan herstel. Daarvoor word hy deur die Gees van die Here bekragtig, wat oral in Jesaja die agent van God se herstel en nuwe toekoms is.
Jesaja was waarskynlik vebonde aan die koninklike hofhouding in Jerusalem, wat in direkte verband met die tempel gestaan het. Daarom gebruik hy baie motiewe uit die sogenaamde Dawid- en ook Sion-tradisies. Die oorlewing van Sion (Jerusalem, die tempel en dus die suidelike ryk) hang van menslike kant van bekering en geloof/vertroue op die Here alleen af. Maar van God se kant is dit enersyds gewaarborg in sy verkiesing van Dawid en van Sion en andersyds in sy heerskappy oor die nasies en die hele wêreld. Hierdie nasies staan in sy diens as instrumente van oordeel oor Juda, maar hulle kom ook weer onder sy oordeel. Hierdie sogenaamde universalisme by Jesaja kry verrassende momente, in so `n mate dat ook heiden nasies die Here sal dien (19:19-25). Uitsonderlike glinsterstrale van God se nuwe toekoms slaan uit in die belofte van die opstanding van dooies (25:8, 26:19) en van `n herstelde skepping (11:5-8). Ja, “die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (11:9).
Maar nie een van hierdie skitterbeloftes van Jesaja word in sy tyd waar nie. Dit word opgeteken en leef voort om ook die volk te bly dra in die ballingskaptyd, toe hulle deur die nasies vertrap en platgeslaan is en daarna. En dit is juis in dié situasie dat die profesieë van Deutero-Jesaja baie van bogenoemde motiewe opneem en in sy situasie in die ballingskap nuut laat spreek. As mondstuk van die Here kondig die profeet in die openingsprofesie (40:1-11) die terugkeer uit ballingskap aan. Die profesieë wat volg, wil hoop en vertroue by die uitsiglose ballinge skep. Die profeet antwoord hulle vertwyfeling en die verleiding om op ander magte en geloofsisteme te vertrou. Vir Jerusalem/Sion wag daar `n nuwe toekoms van herstel. Maar die profeet diep nou ook ander motiewe uit die volk se geloofstradisie op. Soos wat die volk met die uittog uit Egipte deur die woestyn getrek het, sal die terugkerendes met `n nuwe eksodus terugkeer, maar nou op `n heerlike hoofweg. En in teenstelling met die Babiloniese skeppingsmites word die Here nou as die Skepper voorop gestel, en word die terugkeer as `n nuwe skepping voorgestel. Hier word skepping en verlossing een. Let op hoe die idee van “nuwe” steeds `n rol speel!
En soos by die eerste Jesaja gebruik God steeds instrumente. Enersyds word Kores, die koning van Persië wat die mag van die Babiloniërs gebreek en die terugkeer van die Jode beveel het, as kneg/dienaar van die Here voorgestel. Hiermee staan die heidennasies weer eens in diens van die Here. Maar ook die volk (terugkerende Jode) is sy kneg. By hulle val die klem dikwels juis op swakheid en twyfel. Maar as sodanig is hulle juis instrumente van God om sy nuwe toekoms te bring. Dit is bes moontlik van hulle wat in die tekening van die lydende kneg in Jesaja 52:13-53:12 sprake is. En weer eens kom die ander nasies in God se heilsvisier: wat Hy vir sy volk doen, doen Hy ook vir die nasies. Ja, hulle word sy instrument vir die heil van die wêreld: hulle is die lig vir die nasies (vgl preekstudie oor Jesaja 42:1-9).
Lees ook die inleiding boaan die boek Jesaja in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel.
PREEKSTUDIE – JESAJA 2:1-5
Teks
Die Skrifgedeelte word twee maal in Woord teen die Lig behandel (I/7 en III/1). Dit bevestig dat dit ’n sentrale teks in die Bybel is wat verskillende preekmoontlikhede ontsluit. Jesaja 2:1-5 toon groot ooreenkomste met Miga 4:1-5 en is “omgekeerd” in Joël 3:10 gebruik.
Die RCL se keuse om dit op die eerste Sondag van Advent aan die orde te stel, is maklik te verstaan wanneer na die hoopvolle toekomsperspektief van die gedeelte gekyk word. Hoe die teks gebruik kan word om by die onlangse instelling van 1 Desember as Wêreldvigsdag aan te sluit, is nie so vanselfsprekend nie. Later meer hieroor.
In Woord teen die Lig I/7 is breedvoerige eksegetiese inligting deur prof P J Robinson. J A Loader gee ’n bruikbare opsomming van die teksgedeelte (WtL III/1):
Vers 1: ’n Opskrif vir vers 2-22.
Verse 2-3a: Die verhoging van Sion en die pelgrimstog van die volke daarheen.
Verse 3b-4: Die vrede onder die tôrâ van Jahwe.
Vers 5: Oproep om te wandel in die lig van Jahwe.
Enkele verdere opmerkings in dié verband: Die 1983-vertaling van vers 2 as “daar kom ’n tyd” is vrylik vertaal. Die 1954-vertaling se “aan die einde van die dae” is meer letterlik, maar kan tot die misverstand lei dat dit hier oor die “laaste dag” gaan.
Ps 122 word deur die RCL vir hierdie Sondag gebruik. Daar is ’n opvallende ooreenkoms met Jesaja 2:3 se oproep om na die berg van die Here op te trek. Jesaja se beskrywing van nasies en volke wat na hierdie berg optrek, staan in kontras met die nasionalistiese godsdiens van Juda in die tyd van Jesaja.
Die verband tussen reg en vrede (vgl Ps 85:11-12) in vers 4 val op. Die Here bring geregtigheid tot stand en die gevolg hiervan is dat van wapentuig (teken van oorlog) landbougereedskap (teken van vrede) gemaak word. Hoewel die woord “vrede” nie hier gebruik word nie, word dit duidelik so beskryf. Dis nie net die afwesigheid van oorlog (vernietiging van wapentuig) nie – daar word arbeid verrig wat tot voordeel van die gemeenskap strek (die maak van landbougereedskap). Hierdie nuwe lewenswyse hang natuurlik saam met vers 3 – hulle het na Sion gekom en die wil van die God van Jakob geleer.
Die profeet se oproep in vers 5 bring God se belofte en die volk se lewe bymekaar: geloof en verwagting raak nie alleen ons “innerlike lewe” nie, maar het beslissende betekenis vir ons daaglikse doen en late. Vers 5 vorm ’n logiese noodsaaklikheid uit die toekomsvisie van die voorafgaande verse. As ’n mens “lewende hoop” sou definieer as die uitleef van dit wat verwag word, is hierdie vers ’n voorbeeld daarvan. Die RCL se gebruik van Matteus 24:36-44 en Romeine 13:11-14 is goeie Nuwe-Testamentiese voorbeelde hiervan. Jesus waarsku sy dissipels om nou gereed te wees vir die dag van oordeel, juis omdat niemand weet wanneer dit kom nie. Paulus se oortuiging dat die toekomstige ingrype van God naby is, vorm die basis van sy oproep om ’n lewe wat by die daglig pas. Loader se opmerking dat Jesaja se visie en oproep juis in ’n tyd van militêre voorbereidings na Juda kom, beklemtoon die profeet se insig in sy tyd en in God se tôrâ.
Konteks
Die “eerste konteks” wat die prediker in gedagte moet hou, is natuurlik die literêre konteks waarbinne die perikoop gevind word. Wie oor die teksgedeelte wil preek, behoort ten minste die eerste vyf hoofstukke van Jesaja goed te lees. Die morele en godsdienstige verval van Juda met die onvermydelike gevolge daarvan (die Here die Almagtige oordeel en straf; vgl 1:24, 2:12, 3:1 en 3:13) word duidelik beskryf. Maar daar is ook verskeie kere dat die Here se genade – die aanbod van verlossing (vgl 1:18) en die beloftes van ’n nuwe tyd – die verkondiging van oordeel onderbreek. As 2:1-4:6 as samehangende gedeelte gelees word, word dit deur twee beloftes “omraam”: 2:1-5 (Sion sal herstel word) en 4:2-6 (die Here sal die inwoners van Sion reinig en bewaar).
Saam hiermee moet ons die historiese konteks waar Jesaja hierdie openbaring gesien het en waarna die eerste hoofstukke van die profeteboek verwys, in gedagte hou. As aanvaar word dat Jesaja in die regeringstyd van Ussia as profeet begin optree het (vgl 1:1), plaas dit die eerste gedeelte van die boek in jare voor (of kort na?) 739 vC (die jaar waarin Ussia gesterf het, vgl 6:1). Hoewel dit ’n tyd van welvaart vir Juda was, was dit ook ’n tyd van onreg teenoor die armes (vgl 2:7, 3:18-23 met 1:23, 3:14-15). Soos Amos, sien Jesaja ook die onreg wat met die toename in welvaart gepaard gegaan het. Jesaja sien nie net wat in Juda gebeur nie – hy is deeglik bewus van die wêreld en tyd waarin hy leef. Op die horison het daar ’n ontwikkeling plaasgevind wat die volgende dekades ingrypende gevolge vir Israel en Juda sou hê: die Assiriese koning (Tiglat-pileser III) het van krag tot krag gegaan en die Assiriese ryk is al verder uitgebrei. Jesaja het hierdie ontwikkelinge met profetiese oë waargeneem en verstaan.
Die “verdere konteks” waarmee rekening gehou moet word, is die konteks waar die prediker en gemeente hierdie teks lees. Hierdie konteks kan van gemeente tot gemeente verskil. Wat wel op hierdie Sondag redelik algemeen op die Woordverkondiging inspeel, is dat die gemeente haar by die eerste Sondag van Advent bevind.
Gemeentelede beleef die “eerste Sondag van Advent” verskillend. Vir die kinders is dit die begin van vakansie, vir die ouers ’n tyd van dolle gejaag om die laaste pligte van die jaar af te handel. Vir baie is daar wel die klanke van die naderende Kersgety in die lug soos wat dit in die winkels en advertensies aangeblaas word. Binne die kerklike jaar fokus die eerste Adventsondag op die roepe van God vanuit die situasie van menslike ellende en saam daarmee weerklink die oproep om waaksaam te bly met die oog op die wederkoms.
Om oor Jesaja 2:1-5 as Adventsteks te preek, behoort nie moeilik te wees nie. Jesaja se hoopvolle “sien” van ’n toekomsopenbaring sluit goed aan by die tradisie dat Advent ’n tyd is wat die gemeente opnuut met verwagting na die toekoms leer kyk en hoopvol daaruit leef.
Wêreldvigsdag: Laastens sal die prediker noodwendig daarmee rekening moet hou dat 1 Desember as Wêreldvigsdag, die Sondag binne nog ’n konteks plaas – die konteks van die vigs-pandemie wat hierdie jaar groter afmetings aanneem as ’n jaar gelede.
Die “World AIDS Campaign” se tema vir 2004 (ook die tema vir Wêreldvigsdag) is: “Women, Girls, HIV and AIDS”. ’n Volledige dokument hieroor kan by die volgende internetadres gevind word: http://www.unaids.org/html/pub/wac/wac-2004_strategynote_en_pdf.pdf.
Die volgende word in bogenoemde dokument uitgelig as belangrike sake of onderwerpe wat deur die fokus op vroue en dogters in ’n tyd van MIV en vigs aan die orde gestel word:
· “Many women and girls are vulnerable to HIV because of the high-risk behaviour of others
· Women hold families and communities together and are a source of great strength in the face of HIV and AIDS
· Women leaders should speak out about HIV and AIDS
· Men, boys, and wider communities have a vital role to play and will also benefit from a focus on women and girls
· Women can work within various organisations to fight HIV-related stigma and discrimination
· HIV-positive women have a unique and valuable role to play, both in society and in fighting HIV and AIDS
· Women-friendly health services improve access to care for women and children
· Protecting property rights of women keeps families together
· Education of young girls reduces their vulnerability to HIV
· A wider range of prevention options can empower women to protect themselves
· Violence against women can accelerate the spread of HIV
· Violence must not be tolerated
· Half of all people receiving antiretroviral drugs should be women.”
Doelwitte wat die organiseerders voorstel, sluit die volgende in:
· “Resilience and leadership: promote the role of women and girls in tackling the epidemic
· Support: encourage women and girls living with HIV to tell their story
· Awareness: highlight the impact HIV and AIDS has on women and girls globally, regionally and nationally
· Change: challenge gender differences that make women and girls more vulnerable to HIV
· Confidence: increase the self-esteem of women, especially those vulnerable to/or infected with HIV.”
Die fokus op die vrou is noodsaaklik aangesien statistieke toon dat 64% van alle geïnfekteerde persone tussen 15 en 24 jaar vroue is. Berekende risiko vir infektering is 2 tot 2.5 keer meer waarskynlik vir vroue as mans (as gevolg van fisiologiese faktore). (Terloops: om van “besmetting” te praat, is verkeerd en gevoelloos.) Vroue kan gewoonlik nie self oor beskermde seks besluit nie – mans beskou dit as hulle reg om hieroor te besluit (sosiologiese faktore). Onthou ook dat dit nie net oor ’n enkele infektering met MIV gaan nie, maar dat ’n persoon herhaaldelik geïnfekteer kan word (mediese faktore). Dikwels moet vroue in arm gemeenskappe die leidende rol speel om gesinne te laat oorleef (ekonomiese faktore). In arm gemeenskappe is skoolbywoning ’n probleem en waar die effek van MIV en vigs groter word, is die tendens dat minder dogters skool toe gaan (opvoedkundige faktore).
Die kwesbaarheid van die vrou word verder belig deur die feit dat programme en inisiatiewe om infektering te verminder hulle posisie nie wesenlik verander het nie. Sommige programme hou ook nie rekening met die werklike situasies van vroue nie. Byvoorbeeld: die huwelik word dikwels as “veilige ruimte” beskou, maar die realiteit is dat vele vroue wat aan hulle mans getrou is, juis deur hulle eie mans geïnfekteer is. Onthouding (abstinence) vorm dikwels die kern van programme wat op jong mense fokus, maar studies toon dat 20% tot 50% van alle jong meisies wêreldwyd rapporteer dat hulle eerste seksuele omgang gedwonge was.
Dis belangrik dat die fokus op die kwesbaarheid van die (jong) vrou nie moet oorkom as ’n inherente swakheid nie. Die geskiedenis van die vigs-pandemie toon dat dit dikwels juis die vrou is wat leiding met inisiatiewe neem en wat daadwerklik na geïnfekteerdes en geaffekteerdes uitreik. Besoeke aan ’n groot getal gemeentes van die NG en VG kerke deur personeel en medewerkers van die Christen-vigsburo het gevind dat dit dikwels hoofsaaklik vroue is wat belangstel om meer te weet en wat betrokke raak by die vigskrisis.
Nader aan huis moet die prediker ook die volgende in ag neem: Die getal geïnfekteerdes het in Suid-Afrika al so toegeneem dat almal van ons al MIV geaffekteerdes geword het. Daar is ’n groot waarskynlikheid dat daar in elke gemeente persone sal wees wat hierdie Sondag met afwagting na die erediens sal kom. Iemand wat heel onlangs die ontstellende tyding gekry het dat hy of sy MIV-positief getoets het. Of iemand wat al lank met hierdie wete loop en net nie weet hoe om dit te hanteer nie. Daar sal ook geaffekteerdes wees. Dalk ’n ouma wat die tyding gehoor het dat ’n kleinkind ernstig siek is, maar ook die goeie nuus dat daar met antiretrovirale medikasie begin is en dat dit goeie reaksie tot gevolg het. Hierdie ouma kan egter nie soos alle oumas oor haar kleinkind se wel en weë by die koppie tee uitwei nie. Dis maar enkele voorbeelde van lidmate wat mag wonder of daar in die gemeente hoegenaamd ruimte is om hieroor te praat. Hulle kan veral op hierdie Sondag na die kerk kom met die vraag: Het die Woord vandag iets vir my te sê? Sal ek vandag agterkom of hierdie gemeente my hartseer, vrese en vreugdes sal verstaan? Hierdie vrae sal natuurlik nie net deur die preek beantwoord word nie, maar ook deur die liturgiese inkleding van die diens. Daarom behoort daar ook op ander maniere as net in die preek by Wêreldvigsdag aangesluit te word.
Die vraag waaroor die prediker sal moet nadink, is: Hoe kan daar oor Jesaja 2:1-5 op die eerste Sondag van Advent gepreek word sodat dit ’n tersaaklike boodskap ook vir Wêreldvigsdag in ons gemeente sal wees? Ek dink dit sal minder geslaag wees om direk van Jesaja se visie van die Sionsberg, die pelgrimsreise van die nasies en die beëindiging van gewapende geweld ’n direkte sprong na ons situasie van ’n vigs-pandemie te maak. (Dis natuurlik nie onmoontlik nie, maar kan maklik geforseerd wees.) In plaas van ’n “direkte beweeg” van die teks na ’n boodskap vir Vigsdag stel ek voor dat daar eerder van die konteks van die profeet na die konteks van die vigs-pandemie beweeg word.
Die profeet Jesaja is iemand wat in ’n tyd van naderende onheil beter as enige van sy tydgenote insien en besef dat alles nie pluis is nie. Hy was besonder sensitief vir die onreg wat die gemeenskap deursuur het en ook dat hierdie onreg skrikwekkende gevolge sal hê. Jesaja se profetiese sensitiwiteit gaan ook saam met ’n profetiese visie van God se genadige ingrype. Telkens breek hierdie lig deur die donker wolke om pragtige beloftes van God te verlig. Jesaja sien nie alleen die verval van Israel nie – hy sien ook die herstel van alle nasies, die oorwinning van alle oorloë. Die koms van vrede omdat God geregtigheid skep. Al weet hy nie wanneer nie, weet hy dit sal gebeur en op grond hiervan roep hy sy tydgenote op tot ’n lewe in die lig.
In die geselskap van hierdie profeet kan ons op Vigsdag praat oor die donker wolke van die skrikwekkende omvang en impak van die vigs-pandemie. Maar ons kan ook vergesigte sien van uitkoms en herstel – ’n visie wat hoop op God se genadige ingrype.
Preekvoorstel
Vandag is die eerste Sondag van Adventstyd. Daarmee word gesê ons is nou op pad na die viering van Jesus se koms na hierdie wêreld. Kerstyd is natuurlik ’n blye tyd. Dis vreugdetyd – want God het ons so liefgehad. Tog begin die eerste Adventsondag nie maar net met pragtige Kersliedere wat vertel van vrede op aarde nie. Tradisioneel is op hierdie Sondag rekening gehou dat ons dikwels swaarkry en nood beleef en dat ons vanuit ons swaarkry na God mag roep. Roep dat God sal ingryp en help. En op God wag. Want die eerste Adventsondag sê ook: Wees waaksaam, want Christus kom weer!
Vandag is ook die Sondag naaste aan Wêreldvigsdag en daarom die dag wat baie kerke gebruik om by hierdie dag aan te sluit. Miskien sou iemand wonder: Is dit nodig dat ons vandag daaraan dink dat die eerste Desember Wêreldvigsdag is? Ja, want die omvang van die vigs-pandemie dwing ons om voor God hieroor na te dink en sy lig te soek. Iemand anders mag vra: Sal dit dan nie afbreuk doen aan hierdie Sondag as eerste Advent nie? Nee, want ons het reeds gesien dat hierdie dag ons wil help om vanuit ons swaarkry na God te roep en op Hom te wag.
Ons Leesrooster bring ons vandag by Jesaja 2:1-5. Met die eerste lees van hierdie gedeelte word ons getref deur ’n visie van die profeet wat vertel van ’n tyd wanneer dit sal goed gaan in die volle sin van die woord. Jesaja se visie kan kortliks as volg opgesom word:
· Sionsberg (die berg waar die huis van die Here staan) sal die belangrikste plek op aarde word (2a).
· Uit alle volke en nasies sal mense hierheen kom. Hulle sal kom om van God te leer en om daarvolgens te lewe (2b en 3).
· God sal regspreek en so geregtigheid tussen mense en volke bring (4a).
· Wanneer God geregtigheid skenk, ontdek mense die sinloosheid van geweld. Wat mense van God leer en die geregtigheid wat Hy tot stand bring, sal hulle daartoe dring om eerder al hulle aandag aan die opbou van die land en die gemeenskap te gee. Dan sal daar ware vrede wees (4b).
· Hierdie profesie van Jesaja is egter nie bedoel om Juda mooi drome te laat droom nie, hy vertel dit om hulle te motiveer om as volk van God nou reeds in die lig van God te lewe (5).
Voorwaar wonderlike beloftes en ’n dringende oproep!
Maar wat het hierdie beloftes met eerste Adventsondag te make? En verder: Wat het dit vir ons te sê op Wêreldvigsdag?
Om hierdie belangrike vrae te beantwoord moet ons verder kyk as net na die vyf verse van ons Skrifgedeelte. Hierdie verse staan binne ’n groter geheel. In hoofstuk 1 kla die profeet dat Juda so sondig is dat hulle nie voor die Here kan verskyn nie. Hoofstuk 2:6 tot 4:1 beskryf hoe hierdie volk deur hulle sondes nie net van God vervreemd word nie, maar uiteindelik die slegte gevolge daarvan sal ervaar. Daarna volg 4:2-6 waar die profeet weer van die heerlikheid wat op pad is, getuig.
Wanneer ons dit raaksien, kom ons tot die besef dat God se beloftes in die donkerste tye helder skitter.
Hierdie uitspraak lê nie op die vlak van die bekende sêding “Elke donker wolk het ’n silwer randjie” nie. Wanneer mense dit sê, is dit dikwels maar ’n oppervlakkige poging om iemand in nood te troos.
Vir Jesaja sou ’n oppervlakkige trooswoord teen die wese van sy roeping as profeet wees. Jesaja is nie oppervlakkig nie, hy is geen mooiweersprofeet nie. Hy is intens betrokke by die onreg wat in Juda plaasvind en die gevolglike nood van mense. Anders as wat ons indruk dikwels is, is Jesaja ’n profeet wat baie openlik, reguit en ernstig oor Juda se sondes en die gevolge daarvan praat. Jesaja het sy tyd goed geken – so goed dat terwyl meeste van sy tydgenote gedink het dit gaan goed met hulle, het hy besef dat hulle onreg pleeg en dat die magsopbou van die Assiriërs die volgende dekades geweldige gevolge vir Juda sal hê. Maar saam hiermee, in die midde hiervan, getuig die profeet van die wonderlike beloftes van God se genade-ingrype.
Daarom verkeer ons in goeie geselskap wanneer ons op hierdie Sondag aandag gee aan een van die belangrikste probleme van ons tyd: die vigs-pandemie wat wêreldwyd toeneem en in ons land geweldige afmetings aanneem. Soos die profeet moet ons ook die probleme van ons tyd kan raaksien en insien en selfs verder sien as wat ander mense kan sien.
Die insig waarop ons vanjaar fokus, is die kwesbaarheid van die vrou en veral dogters vir MIV-infektering. (Hier kan die prediker van die gedagtes wat hierbo onder “Wêreldvigsdag” beskryf is, inwerk: Die argumente waarom dit noodsaaklik is om op die vrou te fokus, waarom vroue juis kwesbaar is, ens.)
In die geselskap van die profeet Jesaja hoef ons nie by die hartseer feite rondom MIV en vigs te stop nie. Ons mag en kan ook vergesigte sien van God se ingrype. Dit is juis die eienskap van Jesaja wat hom so ’n besondere profeet gemaak het: Hy kon die onreg en nood in Juda raaksien en beskryf, maar hy het sy boodskap altyd weer onderbreek met die wonderlike beloftes van God se genade-ingrype. Hy het telkens weer getuig van sy visie oor hierdie tyd wat sekerlik sal kom.
’n Predikant uit Afrika, wat self MIV-positief is en wat betrokke is by kerklike aksies, dra ’n hempie waarop die woorde staan: “Imagine a generation born without AIDS!”
Is dit wensdenkery? Is dit dagdrome? Is dit valse hoop? Nee, dis hoop wat gegrond is in die geloof dat God se genade-ingrype nuwe moontlikhede skep.
In die geselskap van Jesaja kan ons vandag vanuit ons nood, die nood van vroue en jong dogters, die nood van ’n gemeenskap wat ál meer gebuk gaan onder die vigs-pandemie tot God roep. Ons kan bid: Here help. En ons kan op God wag. Met verwagting hoop dat God die Een is wat in sy groot genade sal ingryp. En as ons rondkyk en begin twyfel, sê eerste Advent: roep en wag, want God het al ingegryp. Jesus het al gekom. Dis weer Kerstyd – tyd om dit te onthou.
Hiermee is ons nog nie klaar gesels met Jesaja nie. Die profeet getuig nie net van sy visie van die dag van God se ingrype nie. Hy roep sy volk op om nou reeds in die lig van God te lewe.
Dit is tog wat lewende hoop is: om vanuit ons verwagtinge van wat God sal doen, te lewe.
Om in die Kerstyd in ’n land waar meer en meer mense direk deur die vigspandemie geraak word in die lig van God te lewe, beteken dat ons sal begin om ’n verskil in hulle lewes te maak. Dat ons sal sorg dat geïnfekteerde persone in ons (gemeente) welkom sal wees en alleen maar die liefde van Christus by ons sal vind. Dat ons sal sorg dat huwelike weer ’n veilige plek vir albei partye sal wees. Dat ons sal sorg dat dogters waarlik vry sal wees om “nee” te sê en hiervoor gerespekteer te word en nie openlik of subtiel gedwing sal word om seks te beoefen nie. Dat ons sal sorg dat ons seuns en ons mans ons krag in diens van reg en geregtigheid sal stel sodat ons ware vrede en nuwe lewensmoontlikhede mag vind.
Wanneer ons die nood van ons gemeenskap en die impak van MIV en vigs raakgesien het, wanneer ons saam met geïnfekteerdes en geaffekteerdes na God geroep het, wanneer ons saam op God leer wag het en vanuit hierdie verwagting leer lewe het, sal ons waarlik Kersfees kan vier.
