Jesaja 35=1-10 LR2004
Jesaja 35:1-10 LR2004
12 DESEMBER 2004
DERDE sondag van advent
liturgiese voorstel
Fokusteks: Jesaja 35:1-10
Ander tekste: Psalm 146; Jakobus 5:7-10; Matteus 11:2-11
Inleiding
Vandag se tekste kan verbind word met die tema van vreugde, maar dit kom ook bymekaar in die persoon van Johannes die Doper. In die evangelielesing verwys Jesus na die prediking van Johannes wat terugverwys na Jesaja 35. Die profesie gaan in vervulling en die smag van verlossing in Psalm 146 word deur Christus se menswording en optrede aangespreek. Die liturgie weerspieël ’n vreugde oor verlossing en uitkoms wat nie net ’n droom is nie, maar werklikheid geword het.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aanvangslied
Lied 358:1-3
Die derde Adventkers word aangesteek.
Aanvangswoord
Lees Psalm 146:5
Drumpelgebed
“O Here, wat die dood oorwin het,
en tot in alle ewigheid lewe:
ons vier vandag
sowel die misterie van u reddende liefde
as die majesteit van u opstanding.
Amen.” (Groot Gebedeboek, bladsy 138)
Aanbiddings- en lofliedere
Psalm 146; Lied 34/NSG 77; Lied 345/NSG 81
Verootmoediging
Dit is juis ook op hierdie Sondag met die sterk tema van vreugde gepas om seker te maak dat die gemeente gelei word in verootmoediging. Die vreugde van Advent is nie ’n tydelike ontkenning van die menslike nood en ellende nie. Die noodkreet van die wêreld en die skepping word nie kunsmatig uitgedoof nie.
“Vader, vergewe . . .
die haat wat vervreemding en verwydering bring
tussen volke,
tussen rasse,
tussen sosiale klasse
Vader, vergewe . . .
Die inhaligheid van mense en nasies
wat hulle dryf om wat aan ander behoort
vir hulleself te wil vat.
Vader, vergewe . . .
Die hebsug wat werkers uitbuit,
en die aarde se natuurlike bronne
gewetenloos uitput.
Vader vergewe . . .
ons afguns op die voorspoed en geluk van ander.
Vader, vergewe . . .
Ons onverskilligheid oor die lot van
werkloses, huisloses, vlugtelinge.
Vader, vergewe . . .
Die wellus wat vir eie genot
of ander sieklike doeleindes
die liggame van mans en vroue en kinders
misbruik.
Vader vergewe . . .
Die trots in ons harte
wat maak dat ons op onsself vertrou,
en U vergeet.
Vader vergewe . . .
Sing Lied 247/NSG 233 drie keer – eers in Afrikaans, dan Grieks en weer in Afrikaans.
Seën
Mag u juigend in Sion aankom
Mag u straal van blydskap
Mag u vol vreugde wees
Mag u ellende en smart verdwyn
Mag die genade van ons Here Jesus . . .
PREEKSTUDIE – JESAJA 35:1-10
Teks
Jesaja 35 is deel van Eerste Jesaja (Jes 1-39 – 8ste eeu vC), maar toon soveel literêre ooreenkomste met Jesaja 40-55/66 (6de tot 4de eeu vC), dat dit enersyds beskou is as ’n inleiding tot 40-66 (Torrey ea) en andersyds as ’n samevattende gevolgtrekking van Eerste Jesaja, geskryf deur ’n “posteksiliese redaktor” onder invloed van 40-66 (Wildberger, Clements, ea). Die historiese agtergrond van die finale teks is dus onseker, hoewel ’n laat datering goed moontlik is. Wat egter duidelik is, is dat Jesaja 34-35 ’n literêre eenheid is (binne die groter Eerste Jesaja-verband van Jes 13-35 (oordeeluitsprake oor die nasies), en/of as oorgangstuk tussen Jes 1-33 en 40ev dien). (Jes 36-39 word as historiese invoeging gesien, moontlik ook as ’n soort verbindingstuk.)
Aan die begin van Jesaja 34 word die nasies en aarde as getuies opgeroep om te luister na die Here se regsgeding teen die magte van die nasies en van die hemel. Hierdie regsgeding sluit nie weer formeel af nie. Die res van die hoofstuk spel die oordeel uit. Die oordeel maak Edom tot woestyn. Dié woestyn (of woestyn langs hierdie een) sal van “inferno tot paradiso” (Procksch) verander (35:1 en 2 word meestal in die toekomende tyd vertaal, met sommige vertalings wat vers 1 jussief vertaal (bevelend: “Laat die woestyn bloei ...”)). Jesaja 35:3 (of 4) is die inleiding tot ’n heilstoesegging (daarom dat verskeie preekhulpe Jes 35:3-10 as perikoop neem). Aan wie die heilstoesegging gerig is (3) en wie hierdie toesegging moet oordra (4), is “oop” (die leser of hoorder van die teks word hierby betrek); die toesegging volg na die heil alreeds in terme van die bloeiende woestyn aangekondig is (1-2). Die heilstoesegging is dus nie die begin van ’n afsonderlike gedeelte nie, maar die uitspraak van heil “in die regsaak van Sion” (34:8), wat op die grootpad na Sion uitloop. Hierdie eskatologiese heil volg op die vonnis wat oor die nasies, met name Edom, uitgespreek word.
Die woestyn/dor land/droë wêreld (35:1) is dieselfde plek waarvan vers 6 -8 praat: dié plek waar God se mense wat moed verloor het (4), die lammes, stommes, blindes en dowes (5-6), hulle in hul ellende en smart bevind (10). Die woestyn is die plek waar hierdie mense se pad na Sion en na God geblokkeer is, ’n doodloopstraat – waar hulle sal sterf as daar nie ’n uitweg is nie. Jesaja 34 veronderstel dat Edom iets te make het met hierdie situasie en dus dat die Here se vernietiging van Edom iets te doen het met die nuwe pad wat hy in die woestyn skep. Tradisiehistories bring dit ons terug by die eksodusverhaal, Israel se woestyntyd, en spesifiek die voorval wat in Numeri 20:14-21 vertel word: hoe Edom (Esau) geweier het om sy broedervolk Israel (Jakob) op die “koningsweg” (17), die “grootpad” (19) deur sy grondgebied te laat “deurtrek” (<br – 5 keer in hierdie gedeelte), reguit na die beloofde land. Die koning van Edom het Israel met die swaard (hereb) gedreig, en met ’n magtige leër teen Israel opgetrek (18, 20). Israel moes maar wegdraai, terug die woestyn in. Opvallend in die oordeelsuitspraak in Jesaja 34 is die toorn van die Here teen al die leërmagte gerig, selfs die hemelse leërmagte (34:2-4) en word die oordeel uitgevoer deur God se swaard (hereb) wat afkom op Edom (34:5, 6) en vir Edom van geslag tot geslag vernietig of verwoes (die werkwoord hrb, ’n woordspel met hereb), sodat niemand ooit deur Edom sal trek (<br) nie (34:10). Wanneer (hier)die wraak of goddelike vergelding kom (35:4), en God (deur die oordeel heen) sy mense in die woestyn kom verlos, sal “daar” ’n grootpad wees (35:8, vgl 34:12, 14 vir dieselfde woord “daar”), terug na Sion (35:10). Die veronderstelling is: God se vloek op Edom is juis dat hy so woes en vormloos word (34:11, tohû webohû, vgl Gen 1:2 – soos die aarde voor die skepping), sodat daar geen mensgemaakte grootpad, geen koningsweg en ook geen koninkryk (34:12) sal wees nie. In die doodloopstraat-woestyn skep God egter ’n nuwe grootpad na sy beloofde land, na Sion. Op hierdie “heilige weg” (35:8) sal daar geen negatiewe elemente wees nie. Die lysie sluit gevare of vyandelike magte in (leeus, wilde diere) soos destyds in die woestyn; dwase (mense wat in die praktyk God ontken); maar heel bo-aan die lysie word uitdruklik genoem geen onreine (diegene wat om verskillende redes nie in God se teenwoordigheid mag kom nie) sal op hierdie pad deurtrek (<br) nie (35:8b).
Die ooreenkomste en woordspelings tussen Numeri 20 en Jesaja 34-35 is net te opvallend om nie minstens baie belangrik in die interpretasie van die rol van Edom en die grootpad in Jesaja geag te word 35 nie. Daarmee word die lang geskiedenis van vyandigheid tussen Israel en Edom, ook gedurende die inname van Jerusalem (vgl Ps 137), nie ontken nie. Dit gaan egter in die teks om ’n pad na die Godstad, die weg waardeur God se beloftes uiteindelik waar word vir sy mense. En dit speel af teen die tradisiehistoriese agtergrond van die woestyntog-intog deel van die eksodusverhaal. Die eksodusverhaal word egter vermeng met of ingeklee deur die skeppingstradisie/teologie (as oordeel en heil, soos in Deutero-Jesaja), die verhaal van oordeel oor Sodom en Gomorra (34:9-10), iets van die Noag-verhaal (die dierepare, vgl 34:14-16) en die (jaarlikse) pelgrimstog na en feesvierings in/by die Jerusalem-tempel (die heilige prosessie na Sion en die blydskap-motief wat Jes 35 omraam (v 1 en 10)).
Binne die teks van Jesaja 34-35 kan die woestyn/dor land/droë wêreld (35:1, 6, 7, 8) op twee maniere gelees of verstaan word: (i) As ’n “gebied” naas, langs Edom wat nou deur God se oordeel tot chaotiese niemandsland gemaak is (34:11), gelyk aan die verwoeste Sodom en Gomorra (34:9-10), waar daar niks meer oor is nie (34:12) behalwe al die plante en dierasies wat God se vloek vergestalt (34:13-17). Hierdie interpretasie steun veral daarop dat die vloek oor Edom tot in ewigheid duur (34:10, 17) en dat die woestyn wat op ’n stadium begin bloei dus nie die woesteny van Jesaja 34 kan wees nie; (ii) Die woestyn is die gebied wat onder God se oordeel deurgeloop het, maar nou wonderbaarlik God se heil ervaar. Hierdie interpretasie steun op: (a) die gerigsrede oor alle volke, sonder uitsondering, waarvan Edom die verteenwoordigende simbool word. Die land onder oordeel word beskryf as die (hele) wêreld/aarde wat weer teruggaan soos voor die skepping (34:11se tohû webohû) om daarna herskep te word; (b) die diere in 34:14-17 is woestyndier(tjies), waarvan die jakkals weer in 35:7 genoem word. Hierdie diere is nie net die bewys van God se vloek nie, maar ook die eerste tekens van lewe in ’n lewelose niemandsland, voordat die heerlikheid van die Here duidelik sigbaar word; (c) die “gloeiende grond” of “verskroeide aarde” (NAV) wat ’n moeras word (35:7), sluit direk aan by 34:9 se beskrywing van die land wat aan die brand is.
Genoemde twee interpretasies hang natuurlik saam met die kronologiese en/of gelyktydige verstaan van die oordeel en heil. Dit lyk of daar ’n oorwig aanduidings is dat die woestyn verstaan moet word as die wêreld onder God se oordeel, die wêreld in ellende en smart (35:10) wat wonderbaarlik tot nuwe lewe sal kom wanneer God (se heerlikheid) teenwoordig word, waar die pad na God se teenwoordigheid (Sion) oopgaan en waar die doodsheid ’n vreugdevolle gejuig word. In ander woorde: God verander sy oordeel na heil. God se oordeel (let wel dat Jes 34 nie die Here as die uitvoerder van die vonnis beskryf nie, maar sy swaard) maak plek vir Homself in sy heerlike en heilige genade.
Tog is daar ook goeie aanduidings dat die oordeel en heil gelyktydig aan die werk is, as ’t ware as twee scenario’s van hierdie wêreld, teenhangers van mekaar. Die ellende en smart vlug wel weg voor die heil, maar, soos Miscall dit stel: dit is nog altyd in die teks – as die laaste woorde. Verder: die wraak en redding is twee kante van dieselfde saak (Jes 35:4b-c kan op twee maniere vertaal word (dalk so bedoel?)): “Kyk, julle God kom (met) wraak, met Goddelike vergelding; Hy kom en Hy red julle”. Of: “Kyk, julle God! Wraak kom, goddelike vergelding! Dit kom en red julle!” Laasgenoemde vertaling is hoe die teks letterlik lees, en dit sou ook meer in lyn wees met die teologie in Jesaja 34, waar die oordeel nie direk toegeskryf word aan die Here nie, maar aan die instrumente van sy oordeel (sy swaard, ens).
Vers 1: Die besondere blomsoort is onseker; dit kan ’n woestynblom wees, of juis iets wat in waterryke gebied blom.
Vers 2: Die Libanongebergtes huisves die seders, ’n hoë kwaliteit hout wat in tempels en paleise gebruik is; die berg Karmel is bekend vir sy wingerd en akkerwoude; die Saronvlakte was die “broodmandjie” van Palestina. Die heerlikheid/koninklike majesteit van die Here (vgl 6:1, 4:5, 11:10, 40:5) word dus sigbaar in ’n land waar die natuur en landbou bloei en die gemeenskap voorspoed geniet. Dit sal iewers in die toekoms waar word.
Vers 3: Slap hande en struikelende knieë is die lyftaal van ’n vreesgedrewe hulpeloosheid en magteloosheid.
Vers 4: nimharé lêb is die impulsiewes (wat hulle gou laat beïnvloed, op loop gaan deur gerugte, teenspoed (Snijders), ontsteldes (Revised English Bible), Wildberger, banges (Lewende Bybel), moedeloses (NAV). Die kern van die perikoop lê (volgens WtL en Kraus) in vers 4b: God kom en help. (Die vertalingsmoontlikhede is reeds genoem, en is belangrik vir Advent (“Adventus Dei” is die koms van God). Wildberger sê die vertaling “Hy kom met wraak/vergelding” is problematies. Hy stel die volgende betekenis voor: aandoen, bewys, voleindig. Dus: God tree op en bring die onheilsame situasie tot orde, Hy help Israel met hulle reg, bestendig homself as hulle God. Die hu> (einde v 4) is God: “Hysélf kom en red julle” (in kontras met die oordeel, waar die Here se swaard die vonnis voltrek, (nie) Hyself nie). God se reddende koms na die mense loop uit op/het ten doel die gereddes se aanbiddende toetrede tot Hom, en aankoms in sy teenwoordigheid (in Sion) (v 8-10, vgl 2:2-4, 4:2-6; 25:6-9, 66:18-23).
Vers 5: Blinde en doof is fisiek en geestelik (vgl 6:10, 28:7, 29:9-10; 18, 30:20-21, 32:3-4). Hulle wat die tekens van God se teenwoordigheid nie wou of kon hoor/sien nie, sal nou daartoe in staat wees.
Vers 6: Die uitbreiding van die lysie “gestremdes” beklemtoon dat dit beslis oor fisieke gestremdhede gaan.
Vers 7: Die land van die dood (vgl Jes 34:9-17) word tot lewe opgewek. Die herskeppende God tree weer soos in die begin skeppend op en sorg vir die natuur (vgl Gen 2:6). ’n Nuwe skeppingsakte begin, en daarom ’n nuwe tyd.
Vers 8-10: Die heilige weg is ook ’n veilige weg. Die gevaar van wilde diere (God se straf op die ongehoorsaamheid van Israel (Lev 26:22, Deut 32:24)) word weggeneem.
Vers 9b: ge’ulim is die vrygekooptes (die Here is Israel se go’el, veral in Deutero-Jesaja gebruik, ’n term uit die familiereg).
Vers 10a: pedujé is die losgekooptes (veral in Deut, ’n term uit die handelsreg). God se mense was dus in ’n toestand van nood, hulpeloosheid, uitgelewerdheid, verslawing, waaruit God hulle red. Die fokus is egter nie op die historiese plek waar(uit) hulle gered is nie, maar die waartoe: die pelgrimsweg na Sion, die Godstad, die historiese simbool van God se teenwoordigheid by sy mense, daar waar daar suiwer blydskap heers.
Konteks
Jesaja 35 is net verstaanbaar in verhouding tot die teendeel (Jes 34), waar die verhaal van Numeri 20 onteenseglik as onderbou dien. Die hooftema (LW: van Jes 40-55) is: die weg deur die woestyn na Sion. Die teks kan op twee maniere gelees word, wat mekaar nie uitsluit nie, maar aanvul: chronologies (’n opvolging in die tyd, soos die meeste kommentatore doen), maar ook (vgl Peter Miscall) as twee kante van dieselfde werklikheid, twee gestaltes van dieselfde wêreld; as vloek (oordeel) en seën (heil, redding) wat eersgenoemde opvolg, maar ook as God se oordeel en sy heil wat besig is om tegelykertyd voltrek te word. In ieder geval: Hoe wonderlik die heilige weg is waar ellende en smart “wegvlug”, word net meer waardeer as ons die diepte van die ellende en smart (Jes 34) as getuies aanhoor en sien.
Jesaja 35 word ongelukkig in die meeste preekstudies as teks in isolasie behandel (baie gevalle net 35:3-10), as ’n eskatologiese uitspraak met ’n (na)-ballingskap-agtergrond. Die aanhaakpunt by die teks is in die “Totensontag”-preke meestal die situasie van doodsheid waaruit God sy mense verlos, die nuwe hoop wat aangekondig word. Müller/Van Schalkwyk in WtL beklemtoon dat die hermeneutiese vertrekpunt nie die geestelike verandering behoort te wees wat God in mense se lewens bring nie, of die troos/redding uit moeilike omstandighede nie, maar God se heilshandeling in die geskiedenis: “Hy is Heer en Messias van Israel en die wêreld op die wyse waarop die teks Hom beskryf. Daarin lê sy kabod, sy glorie – en dit handhaaf Hy in die Eersgeborene ‘uit wie die heerlikheid van God straal’ (Heb 1:3)”. Met ander woorde, die hermeneutiese vraag is: Hoe word God in hierdie wêreld (van menslike nood …) geopenbaar?
Die debat of die teks woordeliks-materieel of (ook) geestelik-oordraagbaar verstaan kan word, word uitvoerig deur Wildberger behandel. Hy kom tot die slotsom (eie vertaling): “Omdat die Ou Testament self die tradisionele motiewe van die heilsverwagting van Israel, soos blyk uit hierdie gedeelte, in groter vryheid altyd weer nuut interpreteer, is ’n verinnerlikte, (ver)geestelikte voorstelling nie iets waarteen stelling ingeneem moet word nie. Maar daar moet aan vasgehou word dat die hoop van Israel vrugbaarheid, ja weligheid van die natuur, onbedreigdheid deur vyande, geborgenheid en vreugde aan dinge wat die lewe aangenaam maak, inhou.”
Hoe sluit dit by die ander RCL-tekste (Ps 146, Matt 11:2-11 en Jak 5:7-10) aan? Matteus 11 handel oor die twyfelvraag van Johannes die Doper, of Jesus wel die Een is wat sou kom, en Jesus se antwoord (uit oa Jes 35) dat die blindes, dowes, lammes, duiwelbesetenes en siekes bevry word – dat die profesieë oor die koms (Advent) van God (se Messias) vervul word. Jakobus 5 moedig die gelowiges aan om geduldig te wag op die (tweede) koms van Jesus; sy koms gee nuwe hoop en moed vir die moedeloses (vgl Jes 35:3ev). Psalm 146:3 en verder is ’n saligspreking vir diegene wat op die Here hoop, want Hy, die Skepper van alles (v 6), die God van Sion, regeer vir altyd (v 10). Teenoor mense is Hy die immer getroue, regverdige Regter, Onderhouer van lewe, Bevryder van gevangenes, Heler van blindes (gestremdes), Beskermheer van swakkes, en Beëindiger van goddeloosheid. Al genoemde tekste speel ’n rol in Jesaja 35. Die Nuwe-Testamentiese tekste aanvaar dat die profesie van Jesaja 35 in Jesus vervul is, en dat dit nog ten volle in vervulling sal gaan; Hy is die Verteenwoordiger van God wat gekom het (Matt 11) en weer sal kom (Jak 5).
Binne die Adventstyd, in ons gesekulariseerde wêreld van onnadenkende vertroue op menslike tegnologie en geen vertroue op goddelike wonderwerke in die materiële werklikheid nie, kan Jesaja 35 maklik verstaan word in terme van mense se prestasie om die woestyn leefbaar te maak. Of die beskrywings van die heil word “vergeestelik” en/of allegoriese toepassings word gemaak. Jesaja 35 wil egter juis ware hoop bring vir die wanhopiges en hulle wat met valse hoop leef. Ware hoop is op God gerig, is ’n wag op Hom, is ’n uitsien na wat nog nie is nie. En ’n leef vanuit die heil wat beloof is, asof dit reeds gestalte gekry het. “Advent beteken ’n nuwe dispensasie van omvattende heil aan die hele wêreld: mens en natuur. Op min ander plekke kom dit so duidelik na vore as in Jesaja 35” (WtL, 92).
Preekvoorstel
Verbeel jou jy is deel van die klomp slawe wat agter Moses aan Egipte verlaat het en nou al geruime tyd in die woestyn rondswerf. Julle is al moeg vir die woestyn, met sy ontberings, gevare en swaarkry. Al wat julle aan die gang hou, is dat daar darem op ’n manier koers gehou word na die einddoel, die land wat God beloof het. Nou kom julle – Jakob se nageslag – by die grens van die land Edom, die gebied van Esau se nageslag. Julle is dus by julle agterkleinneefs en –niggies, want julle vaders was broers. Moses praat mooi met julle agterkleinneefs en –niggies se koning. Asseblief, julle het die pad nodig wat deur hulle land loop, want dis die reguit pad, en die enigste pad na die land van hemel op aarde. Maar Edom se koning weier. Erger nog, hy dreig met geweld. Julle moet maar omdraai, terug die woestyn in. Verbeel jou die terugslag, ná soveel ontberings en terugslae tot nou toe. Dink jou in die verskriklike moedeloosheid in, net op die oomblik dat die einddoel in sig is. Dink jou in die emosies van vernedering en woede en totale magteloosheid in.
Vir die Israeliete, moontlik ná die Babiloniese ballingskap, was dit nie moeilik om hulle in hierdie situasie in te dink nie. Want wat hulle nou beleef het, was dieselfde ondervinding van hulle voorvaders eeue tevore. Die lyn terug in die geskiedenis was logies, want hierdie selfde agter-agter-kleinneef Edomiete was nog net so onbroederlik en haatlik. Die Edom-familie het intussen gegroei en baie geesgenote bygekry. Dit was of Jakob se nageslag weer daar voor die koningspad staan, en die pad vir hulle toegemaak word na die wonderland van God se teenwoordigheid. En die woestyn hulle begin insluk.
Ons hoef ons dalk nie eens hierdie prentjie te probeer voorstel nie, omdat dit maar te duidelik ons eie ervaring is. Ons weet Kersfees is om die draai; ons weet waarvoor Kersfees staan: God by ons; ons by Hom. Maar die pad Kersfees toe word vir ons geblokkeer deur magte en omstandighede buite ons beheer, dalk erger nog: deur mense na aan ons. En wat dit so erg maak, is dat dit dalk nie die eerste terugslag is nie, dat ons ervaar ons kom nie uit ons woestyntoestande nie. En noudat ons hier aan die einde van die jaar gedink het Kersfees is voor ons met sy wonderlike boodskap, nou slaan die moedeloosheid en magteloosheid toe. Die redes …(brei hierop uit).
God beloof egter dat die woestyn, die dor wêreld, gaan blom. Dat God se wonderbaarlike mag en liefde en versorging skielik gaan deurbreek. Dat die hel hemel gaan word. Dat magtelose en moedelose en gestremde mense vry en bly mense gaan word. Dat mense en magte en omstandighede wat die pad na God vir ons probeer blokkeer, buite aksie gestel sal word. Dat God in sy krag en liefde self na ons toe sal kom. En ’n nuwe pad na Hom toe vir ons sal gee. Waarop ons met baie groot vreugde sal loop. Na Hom toe.
Hierdie pad is nie iets wat ons kan bou of oopmaak of regmaak nie. Die Here doen dit vir ons. Ons hoef nie met ons swakke kraggies (wat ons nie eers het nie) te probeer paaie en brûe na God bou nie. Hy doen dit vir ons. Vertrou Hom! Wag op Hom! Luister na Hom as Hy sê tel jou slap hande en knieë op, skep moed en loop die pad na Hom. Luister na Hom as Hy sê: Gaan vertel vir die moedeloses (soos jy) hulle moet moed skep en saamloop.
En sê nou maar ek doen dit, maar my omstandighede bly net so sleg? – sou jy met reg kon vra. Wel, dis die WOESTYN wat blom, dis in die (middel van die) woestyn waar die grootpad na Sion loop. Die nuwe lewe kom in die woestyn. God kom na ons in ons wildernisse en chaos en ellende. God kom in Jesus, sê die Kersverhaal, na ons stukkende wêreld van tweeduisend jaar gelede wat nou nog net so stukkend is, net so woestyn is. Maar dit is hoekom ons woestynwêreld weer en weer blom: omdat God ook na ons, na my, na jou, kom! Dit is hoekom ons elke jaar weer en as ’t ware van voor af bly is: omdat God vir ons wat elke jaar so moedeloos en magteloos en hulpeloos is, en dit selfs nog meer raak, ja, totdat ons heeltemal gestrem is – dit is waarom ons van voor af bly is: omdat God vir ons nuwe lewe en krag gee, en sy grootpad gee, na Hom. En die magte wat die pad onbegaanbaar probeer maak, dwarsboom.
En op hierdie pad deur die woestyn gee Hy vir ons aan mekaar, as reisgenote, om mekaar te bemoedig, op te help, aan te spoor. En bowenal te herinner dat ons op die Koning se pad is, saam met Hom, saam na sy paleis. Anderkant die woestyn.
Bibliografie
Snijders, L A (POT); Oswald, John N (NICOT); Wildberger, H (BKAT); Clements, R E (NCBC); Seitz, Christopher R (Interpretation); Miscall, Peter D 1999. “Isaiah 34-35, a nightmare/a dream”; Woord teen die Lig 1/7; Texts for Preaching Year A; preekstudies uit die Lutherse tradisie (Totensontag – Martin Howald & Walter Neidhart; Hermann Riess & Manfred Kuntz; Adventsondag – Hans von Keler; Sontag nach Trinitatis – Hans-Joachim Kraus).