Jesaja 42=1-9 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 67 views
Notes
Transcript

Jesaja 42:1-9 LR2005

9 JANUARIE 2005

EERSTE SONDAG NA EPIFANIE

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 42:1-9

Ander tekste:                 Psalm 29; Handelinge 10:34-43; Matt 3:13-17

Inleiding

Die God wat kom as Bevryder van Israel is die God wat met sagte hande en groot ontferming Israel uit ballingskap uitlei (vgl veral Jes 42:46-9). Jesus, as die geliefde Seun van God, stap vir sy doop met dieselfde teerheid in die Jordaan. As Bevryder vereenselwig Hy hom met ons sondenood, daarom met sy doop gaan die hemel oop en daal die Gees neer (Matteus 2:13ev). So staan sy doop wat na die kruis deurloop, in die hart van die evangelie wat nou aan alle volkere tot verlossing verkondig word (weer Jes 42:6b en 7 en veral Hand 10:34ev). Psalm 29 gee kultiese uiting aan hierdie boodskap wat vanuit die hemelse geweste ook die natuur en volkerewêreld bereik. Op hierdie Sondag is die doop verstrengel met dissipelskap en sending.

God versamel ons voor Hom

Sang vooraf

Liedere soos Lied 486/NSG 186 en Lied 371/NSG 68

Aanvangswoord

Prys die Here om sy eer en mag!

Prys die Here om die eer van sy Naam

Buig voor die Here by sy heilige verskyning. Psalm 29:16-2

Seëngroet

As so ’n God in ons midde verskyn, dan bring Hy sy seën saam:

Die Here gee krag aan sy volk

Die Here seën sy volk met oorvloed. Psalm 29:11

Lof- en aanbiddingsliedere

Lied 374/NSG 62

Lied 372/NSG 63

diens van die water

Doop of doopherinnering en aansluitende kindertyd

Dit is noodsaaklik dat ten minste op hierdie Sondag duidelik en verduidelikend aan die doop herinner moet word as die bevestiging dat God al sy beloftes van verlossing en seën in Christus waar gemaak het. Hiervan is sy “plaasvervangende” doop in die Jordaan die teken. Die formulier kan op die dag vervang word met ’n kort uitleg van Matteus 2:13 en verder. Die kinders teenwoordig word genooi om rondom die doopvont te vergader en dan word aan hulle verduidelik hoekom Jesus juis gedoop moes word (vereenselwiging met ons, hemel kom aarde toe, ens) ― en dus wat die betekenis van ons doop moet wees.

Sang

Lied 292/NSG 317

Lesing van die wet

Op die besondere dag dien die wet as reël van dankbaarheid vir God se verlossende genade: lees Jesaja 42:16-4.

Ek laat my Gees op hom kom,

hy sal my wil aan die nasies

bekend maak.

Hy sal nie roep nie,

hy sal nie hard skree nie,

hy sal nie sy stem op straat laat hoor nie.

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie,

’n lamppit wat dof brand,

sal hy nie uitdoof nie.

Hy sal my wil bekend maak soos dit is.

Self sal hy ook nie uitgedoof

of geknak word nie

totdat hy my wil op aarde gevestig het.

Die eilande wag op wat hy hulle sal leer.

Skuldbelydenis en vryspraak

Gebruik Jesaja 42:20 as skuldbelydenis:

Julle het baie gesien, maar slaan nie ag daarop nie,

Julle het gehoor, maar julle luister nie.

Waarop die vryspraak volg uit Jesaja 42:5, 6:

So sê God, die Here,

Hy wat die hemelkoepel geskep

en dit oopgespan het,

Hy wat die aarde gevorm het

en alles wat dit oplewer,

Hy wat aan al die mense op aarde

die asem gee,

die lewe aan alles

wat op die aarde beweeg:

Ek is die Here.

Omdat Ek getrou is aan my verbond,

het Ek jou geroep.

Ek hou jou vas,

Ek beskerm jou

en Ek maak jou my verbond

met my volk,

my lig vir die nasies.

Lofsang op vryspraak

Lied 245/NSG 226

Diens van die Woord

Gebed om opening van die Woord

Open u vir ons ook die hemele deur U woord, Heer en gee dat u Gees deur U op ons neerdaal.

Skriflesing

Handelinge 10:34 en Jesaja 42:1-9

Prediking

Diens van die tafel

Gereedmaak van die tafel

Verduidelik dat die doop aan die begin van Jesus se bediening op aarde gestaan het en die nagmaal aan die einde. Daarom is albei sakramente belangrik: die doop lei na die nagmaal. Gee ’n kort samevatting van die formulier.

Geloofsbelydenis

Gebed

Die Ons Vader

Instelling en gebruik

Offergawes

Uitsending

Slotsang

Lied 488/NSG 185

Seën

Matteus 28:18-20

“Aan Christus is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense sy dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Hy ons beveel het. En onthou: Hy is by ons al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Trinitariese seën.

Sang

Lied 312 of 316 “Amen”/NSG 355 of 356

PREEKSTUDIE – JESAJA 42:1-9

Teks

Onder watter omstandighede en presies aan wie die profesie in ons verse oorspronklik gerig is, selfs die feit of die verse van die begin af saam behoort het, is omtrent onmoontlik om vas te stel. Dit word algemeen aanvaar dat die profesie aan die Joodse bannelinge teen die einde van die Babiloniese ballingskap gerig is.  Die geknakte riet en rokende lamppit (42:3) is waarskynlik 'n beskrywing van hoe die hoorders oor hulself gevoel het. In die voorafgaande hoofstukke is daar ook aanduidings van die hopelose en moedelose situasie waarin hulle hulself bevind het (40:27; 41:10,13-14, 17). 

Vanaf Jesaja 40 verander die aard van die profesieë opvallend, sodat geleerdes algemeen aanvaar dat die res van die boek in 'n ander tyd as hoofstuk 1-39 ontstaan het. Hulle noem die profeet wat hier aan die woord is, die Tweede Jesaja (Deutero-Jesaja; vgl inleiding op Jesaja). In hierdie tweede deel is geen duidelike historiese verwysingspunte waaraan die teks geknoop kan word nie. Uit die inhoud blyk dit egter dat die profesie aan die bannelinge gerig is (ten minste tot hfst 55). Jesaja 40:1-11 vorm die tematiese inleiding tot die nuwe deel en kondig die nabye terugkeer van die bannelinge na Jerusalem aan. Hiermee gee dit ’n toon van hoop en verwagting van ’n nuwe toekoms aan al die volgende profesieë.

’n Oorsig oor die hoofstukke wat op ons teks uitloop, kan ons help om die perspektief waarbinne dit oorgelewer is, te probeer peil. Die uitdruklike verband tussen die onderdele van Jesaja 40:12-42:29 is onduidelik. Tog kan ons sê dat die tema van die hoofstukke God self is: Hy stel homself bekend (Hy is hoofsaaklik aan die woord) as die onvergelyklike Skepper-God, wat besig is om in te gryp om ’n nuwe (42:9, 43:19) situasie tot stand te bring (vgl 40:12, 18 =25, 28; 41:4b, 10, 13, 17b, 27). Dié gedagte is die kern van die hoogtepunt van ons teks in 42:8-9. Daarom behoort ons teks saam met 40:12 en verder. Die oproep in Jesaja 42:10-12 om ’n nuwe (!) lied tot eer van die God te sing, het verskeie tematiese verbande met die voorafgaande hoofstukke. Dit vorm ’n brug na die volgende hoofstukke.

Jesaja 40:12-26 is ’n twisgesprek wat die onvergelyklike grootheid van God, in besonder in sy skeppingswerk en sy beheer van die nasies, beklemtoon. Die retoriese vrae daag die hoorders uit om te erken dat daar geeneen soos Hy is nie (40:12, 13, 18 is gelyk aan 25, 21). Dit vorm inleidend die antwoord op die klagte van die Jode in ballingskap, wat 40:27 verwoord. Hulle lewe in 'n situasie waar dit vir hulle lyk asof hulle God beheer oor die nasies verloor het, sodat die wêreldheersers maak wat hulle wil (vgl 40:15ev, 23ev). Boonop is hulle gekonfronteer met 'n wêreldbeeld waarvolgens die Babiloniese gode die skepper-gode is, en dus alle kosmiese magte beheer (vgl 40:12ev, 21ev). In 'n pragtige lied van versekering (40:28-31), wat herinner aan die psalms (vgl Ps 33:16, 103:5), word die uitsiglose Jode bemoedig dat hulle God hulle nie net kan help nie, maar ook wil help. As hulle op Hom bly vertrou, is daar hoop, 'n nuwe toekoms.

Jesaja 41 bestaan uit twee verdere twisgesprekke, volgens sommige selfs regsgedinge, met 'n troosboodskap aan die gelowige Jode tussenin (41:8-20). Die verweerders in die twisgesprekke is die eilande/nasies (41:1ev) en die Babiloniese gode (41:21ev).  Beide die nasies en gode was in die vorige hoofstuk ter sprake.  In albei dele gaan dit oor Jahweh, die God van Israel, wat iemand uit die (noord-) ooste laat opstaan wat die nasies gaan onderwerp (41:2ev, 25). Jesaja 41:5 en verder sê dat die gode van die nasies nie in beheer van die situasie is nie, en 41:22 en verder, 26 en verder dat hulle nie die gebeure kan voorspel nie. Watts (WBC) skryf oor dieselfde tyd in Babel: die aanbidders van Marduk, die Babiloniese hoofgod, wat in daardie stadium op die agtergrond geskuif is, het die hoop gekoester dat iemand sou kom om Marduk in ere te herstel. Toe Kores, koning van Persië die Meders teen 550 vC onderwerp, is hy uitdruklik as agent van die herstel van Marduk voorspel. In parodie hierop sê Jesaja: nie julle of Marduk beheer die geskiedenis nie, maar Jahweh. Die persoon uit die ooste (41:2, 25) is klaarblyklik Kores. Maar hy kom nie om Marduk, of Jahweh, wat volgens die Jode beheer verloor het (vgl weer 40:27), te herstel nie.  Nee, Jahweh gebruik hom om sy volk te herstel (41:27). Die punt van albei dele is: dit is EK, Jahweh, wat alles beheer (41:4, 27).

Tussen hierdie twee twisredes, wat eintlik die versekering aan die Jode gee dat hulle God in beheer is, staan die uitdruklike versekering dat Jahweh sy volk help (41:8-20). Hulle word selfs sy "kneg" genoem, wat in Jesaja 'n besondere verhouding met Jahweh aandui. Let op die herhaling van "moenie bang wees nie" en “Ek help jou”. Die pragtige lied in 41:17-19 het as tema (soos 40:28 ev) die omkeer van 'n hopelose situasie tot 'n wonderlike nuwe werklikheid. Die hoogtepunt is weer dat Jahweh, die Heilige van Israel dit doen/skep (41:20).

In opvolg van dit alles stel Jahweh in ons teks sy kneg bekend. Oor wie die kneg (`ebet, "dienaar" NAB) hier is, loop menings uiteen. Soos elders in Jesaja word niemand spesifiek aangedui nie (bv 52:13). Die vae terme en selfs bo-historiese elemente laat baie uitleggers met die mening dat hy onaanduibaar is. Dit is selfs vir die verstaan van die teks onbelangrik van wie die profeet hier praat (raadpleeg kommentare en WtL).  Dat die kneg Israel/Juda is, soos uitdruklik in 41:8, 9 gestel, is onwaarskynlik. Eerstens is Israel in die vers, swak en bevrees en objek van Jahweh se hulp (vgl 41:19; 43:10; 44:1-2, 21 ens). Tweedens is Israel in 42:1-9 juis die objek van die taak van die kneg, en kan nie die kneg ook wees nie. Dit word deur baie aanvaar dat die kneg in 42:1 na Kores verwys (oa Watts). Dit is 'n goeie moontlikheid in die lig van die agent van God se herstel in 41:2, 25 (vgl hierbo) en wat in 44:28-45:4 van hom gesê word. Dat daar elemente in die teks is wat meer is as wat van Kores gesê kan word, is waar van alle ander persone wat as moontlikhede geld. Dat hy volke met geweld oorwin het en dat 42:2-3 dus nie van hom praat nie, is nie heeltemal waar nie, omdat hy teenoor die Jode (en ander onderworpe groepe) baie toegeeflik was. Ook moontlik is dat ons hier met 'n bekendstelling van die profeet (Deutero-Jesaja) self te doen het. Die teks mag dieselfde doel dien as die roepingsvisioene van ander profete (Jes 6 ea): om hulle posisie as profete te legitimeer. Let op die verbande tussen 42:1, 7 en 61:1-2. Andere meen dat hier verwys word na 'n ideale figuur in die toekoms. Von Rad argumenteer byvoorbeeld dat dit hier om 'n “nuwe Moses” gaan, iemand wat in die toekoms die rol van bevryder sal vervul, soos Moses destyds.

In die verlede van Israel was mense soos Moses (Num 12:7), Dawid (2 Sam 3:18) en Eerste Jesaja (Jes 20:3) kneg van Jahweh genoem. Dit is myns insiens onwaarskynlik dat die profeet nie van iemand in sy tyd gepraat het nie. Maar, soos in Jesaja 11, is die verwagting nie met die persoon vervul nie. Die verwagting van die vervulling is al meer na die toekoms geprojekteer. Haggai (2:23) sien so in Serubabel 'n moontlikheid van die vervulling. In die latere Joodse tradisie is hierdie profesie deur sommige gesien as 'n beskrywing van Israel se funksie ten opsigte van die ander nasies. Andere het die kneg uitdruklik as komende Messias gesien. Hierdie tradisie is in die Nuwe Testament opgevolg.

Jesaja 42:1-4 is in die vorm (genre) van 'n amptelike aanstellings- of voorstellingseremonie van 'n gevolmagtigde verteenwoordiger van 'n koning (vgl Gen 41:40-44). Dit bestaan uit die aankondiging, en stelling van sy gesag en toerusting of kwalifikasies vir die taak (:1). Dan word sy uitsonderlike werkwyse beskryf (:2-3) en die versekering gegee dat hy suksesvol sal wees. Dat die eilande op sy leer (tora') wag (:4), beteken nie dat hulle die aangesprokenes is nie, maar dat sy taak ook vir hulle betekenis het (vgl vers 2 en 6 se einde). Synde deel van die troosboodskap aan die Joodse bannelinge (vanaf 40:12), is die bannelinge hier die hoorders van die boodskap. 

Jahweh is self aan die woord: dit is sy kneg. Die besondere verband tussen Hom en die kneg word uitgedruk met “Ek ondersteun hom”, wat die NAB as "Ek stel hom aan" vertaal. Die begrip word in 41:10 as parallel van “Ek versterk jou, Ek help jou” gebruik. Hy is deur Jahweh “uitgekies”, afgesonder vir 'n besondere taak (bhr). Die legitimasie-formule word aangevul met die gevoelvolle uitdrukking “My siel (het) 'n welbehae in hom”, met elemente van genoegdoening en vreugde (THAT II.812). Dit is presies wat die Vader volgens Matteus van Jesus gesê het! (Matt 3:17, 17:5). Soos die koning van ouds is die kneg met die Gees van Jahweh toegerus (1 Sam 16:13; Jes 11:2). Maar met die verval van die koningskap is dit veral die profete by wie die toerusting met die Gees blyk (Jes 61:1, Joël 2:28). In die latere tradisie is die (Gees-) gesalfde van die Here, die Messias, egter wel meer met 'n koningsfiguur geassosieer (vgl Joh 2:41, 49).

Die werkwyse van die kneg word op besondere wyse gestel (:3). 'n Riet wat geknak is, groei nie weer uit nie en 'n rokende lamppit moet eers doodgemaak word om skoongemaak te word voordat dit weer reg kan brand. Maar die kneg sal nie dit/hulle wat skynbaar aan hul einde is, hardhandig tot niet maak nie. As dit is hoe die bannelinge oor hulself gevoel het, spreek die uitspraak vir hulle van deernis en ontferming. In direkte sinspeling hierop word gesê dat die kneg self ook nie voortydig tot 'n einde sal kom nie, nie voordat hy sy Godgegewe taak voltooi het nie (:4).

Die kneg se taak word op verskillende wyses gestel:

1. “om reg/geregtigheid (mispath) na die nasies (gojim) te laat uitgaan” (:1d), word aangevul met “(totdat) hy mispath op die aarde stel/bring/vestig” (:4c). Tussenin staan dat hy in deernis sal optree, klaarblyklik teenoor die Joodse bannelinge "om ware (le'emet) mispath te bring" (:3c). Hierdie laaste uitdrukking is bes moontlik 'n antwoord op die volk se klagte dat God nie hulle mispath handhaaf nie (40:27).  Hier beteken mispath dat die kneg hulle saak sal behartig, effektief hulle nuwe toekoms sal bring. Oor wat die mispath aan die volke/aarde beteken, loop menings uiteen. Van der Merwe probeer dit alles saamvat, maar beweeg daarmee buite die grense van die teks as hy sê dit is “die koms van 'n goddelike heilsorde/heilsheerskappy, God se koninkryk, sy regsorde waarin geregtigheid en universele vrede sal heers. Dit sluit die ken van Jahwe in en die herstel van politieke en menseregte.” God se reg, sy orde en heerskappy sal nie net vir sy volk geld nie, maar vir alle volke (die kneg sal dit vestig :4c). Dit is presies die aanspraak van die vorige hoofstukke se twisgesprekke: die God van Israel is in beheer van die nasies. God se mispath wat die kneg vir die volke bring, is nie sy oordeel (so Beuken) nie, maar ook nog nie “true religion” (Von Rad ea) nie. Wat God vir sy volk bring, sal ook vir al die ander volke geld.

2. Vers 4d: die eilande/kusstreke (`ijim) wag op sy leer (torah). Die eilande dui hier waarskynlik die uithoeke van die gebied aan waar die Babiloniese onderdrukking gegeld het en verwys na dieselfde objek wat in die eerste helfte van die parallel-uitdrukking “aarde” (:4c) en vroeër "nasies (:1d) genoem word. "Sy leer" waarop hulle wag, moet in verband met die mispat wat hy gaan vestig, gesien word. As nuwe heerser gaan hy nuwe wette en orde uitvaardig wat die verdrukte volke ten goede gaan kom: hulle wag daarop.

3. Laastens gee Jahweh hom as verbond (berit) vir die volk (`am) – as lig vir die nasies (gojim, 6f). Oor wie die “volk” aandui, loop menings uiteen: oppervlakkig dui dit op die Godsvolk, maar verskillende argumente dui moontlik die ander nasies aan. Die twee hoef nie teenoor mekaar te staan nie, omdat die kneg juis die hoop vir Israel ook na die ander volke bring. Deur hom 'n “verbond” te noem, beteken dat hy die nuwe orde beliggaam. Hy is die bewys van God se trou om te doen wat Hy belowe. As direkte parallel word hy die lig vir die nasies genoem. Hy is soos lig vir hulle wat soos 'n blinde (:7a) net donkerte, uitsigloosheid beleef het.  Vers 7b kwalifiseer die donkerte as gevangenskap. In Psalm 27:1 (vgl 37:6) en Jesaja 9:2 beteken lig verlossing. In Jesaja se situasie beteken dit dat die kneg die instrument van bevryding uit ballingskap is vir die Jode én ander nasies wat onder die Babiloniese onderdrukking gestaan het.

Dat Jesaja hier sulke gewigtige terme vir die bevryding gebruik (geregtigheid/reg, wet/lering, verbond, lig) hou die potensiaal in dat in die latere betekenis van die profesie, soos dit in die Joodse gemeenskap voortgeleef het, dimensies bygekry het wat die verwagting laat groei het dat die Jode besondere betekenis vir ander volke inhou. Jesaja kom sê dat wat God aan Israel doen eintlik vir alle volke bedoel is. Sy reg, sy wet en sy verbond, in die volle teologiese betekenis daarvan, dit wil sê dat hulle in 'n volle verhouding met die God van Israel en onder sy heerskappy sal lewe, is uiteindelik bedoel vir alle nasies. Hierdie universalistiese dimensie, waarvan die saad reeds in God se belofte aan Abraham lê (Gen 12:3), is een van die kenmerke van die profesieë van Deutero-Jesaja. Die vorige hoofstukke sê dat nie die nasies en hul gode in beheer is nie, maar God.  Ons teks voeg by dat Hy eintlik hulle hoop en bevryder is.

Die volgende hoofdeel van ons teks (42:5-9) versterk presies hierdie aksent; Jahweh beheer wêreldgebeure, in besonder deur sy kneg te stuur. Die inleidende “bodeformule” (:5), as tekening van die spreker in die vorige en volgende verse, het 'n sterk doksologiese karakter soos ook die slotaanspraak van Jahweh (:8-9). Vers 5 kom stel Jahweh voor as Skepper van die ganse kosmos en onderhouer van alles wat lewe.  Hiermee word 'n verband gelê na die skeppingsmotiewe in die voorafgaande hoofstukke. 

Albei uitsprake wat volg, in die eerste persoon, begin met die aanspraak: “Ek (is) Jahweh” (:6, 8). In die eerste is dit klaarblyklik die kneg wat aangespreek word (vergelyk die terminologiese ooreenkomste met vers 1). Terwyl vers 1 die versekering aan die volk gee dat die persoon die verkore kneg van Jahweh is, gee vers 6a-d hierdie versekering aan die kneg self, ook dat Jahweh hom sal beskerm. Uitsprake oor sy taak in die eerste deel word hier bevestig (sien bespreking hierbo).  

In 'n triomfantlike slotaanspraak stel Jahweh dat Hy die volkere en godewêreld beheer. Dit is nie net die hoogtepunt van die sogenaamde kneglied (40:1-9 is nie tegnies 'n “lied”) nie, maar vorm duidelik ook die teenhanger van 41:22-29. 

Binne die groter samehang vorm ons teks dus 'n antwoord van hoop aan bannelinge wie se geloof en verwagting deur die aanslae van die geskiedenis en die aansprake van ander oorlewingsopsies vuisvoos gelaat is. Die boodskap is: Jahweh is in beheer, Hy stel die bevryder en hersteller aan. En die verrassende is: dit is nie net vir sy volk nie, maar wat Hy vir hulle doen is ook bedoel vir alle volke!

Konteks

Die latere Joodse tradisie maak die funksie van die kneg op beide die volk en die verwagte Messias van toepassing. Eersgenoemde word weerspieël deur die LXX wat “Jakob en Israel” (klaarblyklik uit 41:8) in Jesaja 42:1 invoeg. Hiervolgens sou Jerusalem die middelpunt van die nasies wees waarheen ander nasies sou kom om die ware God te leer ken. Ook die Jode in verstrooiing sou deur hulle lewe getuienis lewer wat die ander volke na die Here aantrek (vgl Sag 8:18-23). Hiernaas is (en word nog) die Messias verwag as die koninklike figuur wat die volk Israel van alle onderdrukkers kom bevry en so die Messiaanse ryk kom vestig (vgl TDNT bl 1325ev vir Joodse messiasverwagtings).

Die Nuwe Testament verkondig Jesus Christus uitdruklik as die Messias: Hy is dié Christus (Joh 1:20-26, 42; 20:31). Onthou, Messias/Christus beteken letterlik die (Gees-) gesalfde. Waar Hy die “Kind” van God genoem word (bv Hand 3:13, 26) word die term gebruik waarmee die LXX “kneg” vertaal (vgl TDNT 765 ev).  Matteus 12:17-21 haal Jesaja 42:1-3 aan as getuienis dat Jesus die vervulling van God se heilsbeloftes is.  Op verskeie ander plekke is daar duidelike aanspelings op die profesie van ons teks, soos byvoorbeeld wat oor Jesus as die Lig gesê word (Joh 1:4-10, 8:12; Luk 2:32).

Dit is egter by die doop van Jesus waar die profesie, volgens die Sinoptiese Evangelies, uitdruklik vervul word deurdat God self hoorbaar vir Jesus in die woorde van Jesaja 42:1 as Messias aanwys (Matt 3:27;  Mark 1:11; Luk 3:22). In al drie evangelies gaan dit gepaard met die sigbare teken van salwing met die Heilige Gees (ook Joh 1:32-33). 

Dit is juis hierdie element van die openbare bekendstelling by die begin van die bediening van Jesus by sy doop en van die bekendstelling van die kneg in Jesaja 42, wat hierdie tekste in die tradisie van die kerk met Epifanie verbind. Epifanie is 'n “roadshow”, waar die regeerder met fanfare tussen die gewone bevolking inbeweeg. Die doel van hierdie openbare bekendstelling is nie net om aan hulle te wys wie hulle (nuwe) regeerder is nie, maar ook om vir hulle hoop te gee dat iemand wat toegerus is vir die taak, in beheer van hulle sake is (iets soos Gen 41:36-46). So was Jesus se doop vir die vroeë kerk die onweerlegbare legitimering van sy Messiasskap en uitdruklike vervulling van die profesie van ons teks.

Gedurende sy aardse bediening het Jesus sy roeping nie as direk aan die nasies beskou nie, maar eerstens vir die “huis van Israel” (Matt 10:5-7; 15:24-28). Sy leer en bediening staan in die teken van knegskap, van die minste wees, van ontferming en omgee vir die swakstes en mees verontregtes in die samelewing, die geknakte riete en rokende lamppitte (Matt 11:28-29). Dis eers met die vervulling van sy sending in die volkome prysgawe van sy lewe in die soenoffer aan die kruis en God se bevestiging daarvan deur sy opstanding en verheerliking (Fil 2:7-11) dat dit wat Hy vir sy volk gedoen het in gelyke mate “beskikbaar” geword het vir alle nasies.

Dit is waarom die opdrag in Matteus 10:5-6 in 28:18-19 omgekeer word. Na die opstanding kan, ja, moet die heil na al die nasies gaan. In 'n besondere sin is Pinksterdag die kerk van Christus se doop: gelowiges word met die Gees gesalf en die evangelie word aan die nasies verkondig. Dis die kerk se epifanie, se openbare intrede in die wêreld. 

Dat Jesaja 42:1-9 tradisioneel as “sendingteks” hanteer word, berus nie maar net op die enkele sinsnede dat die kneg “die lig vir die nasies” (:6f) is nie. Dit lê in die wese van die hele teks. Dit spel God se antwoord op die nood, nie net van sy volk nie, maar van die hele wêreld uit. Daarvoor gebruik Hy instrumente wat Hy met sy Gees toerus. In die ou bedeling was daar verskeie voorlopers wat heengewys het na dié Een in wie die besondere fase van God se omgang met die mensheid omgekeer is om sy einddoel van herstel van die ganse mensheid en skepping te bereik. Maar die sentrale vervulling in sy eie Seun kring onmiddellik weer uit tot sy kinders as Gees-gesalfdes (“Christene”!) wat die heil wat Hy bewerk het verder gaan uitdra.

Hierdie teks moet dus nie maar net as 'n profesie wat sy vervulling in Jesus die Christus vind, verkondig word nie. Alhoewel die teks oorspronklik nie 'n aanspraak op die geloofsgemeenskap (OT: volk van God) bevat nie, kan 'n mens ná Pinkster nie anders as om die liggaam van Christus (die kerk) aan te spreek om hierdie beweging van God deur sy kneg tot die wêreld as haar opdrag te aanvaar nie. 

As 'n mens Jesaja 42 'n "sendingteks" noem, moet jy verstaan wat sending is. Wesentlik is sending die daad van God, die Drie-enige God wat besig is om deur die Seun, in die krag van die Gees, die hele wêreld tot 'n verhouding met Hom te herstel. Hierdie herstel is omvattend. Dit gaan om bekering, die afkeer van alle afgode tot 'n lewende verhouding van vertroue op die ware Skepper-God, wat hom in sy Kneg ge-openbaar het.  Dit gaan ook om almal te “leer om alles te onderhou ...” (Matt 28:20, die torah van Jes 42:4d). Maar dit gaan ook om hierdie God, Jahweh, se reg en geregtigheid (mispat Jes 42:1, 3, 4) in die volle omvang daarvan al meer gestalte te laat vind juis daar waar dit skreiend ontbreek. Dit gaan ook om die bevryding van alle politieke, ekonomiese, ideologiese en kulturele bindinge (hetsy dit mities, of die Westerse voorspoed- en genot-sindroom), alle tronke wat mense dié lewe ontneem (Jes 42:7). Ons teks sê dit gaan in sending om die eer en glorie van ons God (Jes 42:8-9).

Ons teks bevat nog elemente wat ons moet verkondig: (i) Dit is die enigste ware God wat die Kneg/ons kies, wat die opdrag gee (42:1, 6);  (ii) Hy vertrou ons toe (toegerus het!) met sy Gees om dit te kan doen (42:1, 6); (iii) Die werkwyse van die kneg is nie een van fanfare en stoomroller-sukses nie, maar in deernis en identifisering met die swakkes en geknaktes (42:2-4); (iv) Die sukses van die projek van die kneg is nie dramaties en voor die hand liggend nie. Dit is nie in die tyd van die profeet bereik nie, nie in Jesus of die kerk nie; dis 'n taak tot die einde van die tyd ... (“totdat hy my wil op die aarde gevestig het” 42:4c).

Preekvoorstelle

1:  God het al die nasies op die oog! (sendingpreek): (i) Hoe kyk ons en hoe kyk God na die wêreld?; (ii) Hoe kyk ons en hoe kyk God na ons?; (iii) Wat wil en kan ons bereik en wat wil en kan God bereik?

2:  Epifanie: God se vreemde triomftog na die nasies (Wat Jesaja 42:1-9 ons van sending leer): (i) Dit gaan oor die heerlikheid en heerskappy van God; (ii) God kies/gebruik instrumente: kneg> Jesus> kerk;  (iii) God gee die toerusting; (iv) Die opdrag is omvattend (vgl aspekte hierbo genoem); (v) Die werkwyse: gebrokenheid, die kruisweg, diens.

3:  Waaroor gaan ons lewe? (i) Wat verlei of bedreig vandag geloof/vertroue op die ware God? Kyk na die lewensituasie van Jesaja 42 se hoorders (hfst 40-41). Vertaal dit na vandag na gelang van gemeente se situasie: wat is die heersers en gode van die tyd? Sukses, voorspoed, eie vermoë, plesier; vrees, nood, uitsigloosheid as gevolg van slegte omstandighede; godsdienstigheid, met ons eie idees oor en belewing van God, post-modern of gemeng met tradisionele geloofsinhoude. (ii) Wat sê en projekteer die kerk as God se antwoord? (iii) Laat individuele gelowiges en die gemeente in haar bestaan as liggaam van Christus onsself afvra: In watter mate hou ons nog vas aan die ononderhandelbare evangelie van Christus, die Kneg en Seun van God?; In watter mate gee ons gestalte aan wat ons glo en bely?; Hou ons nog ons bewussyn van ons roeping en toerusting vas? (42:1, 6) Is ons, en God vir ons, eintlik net daar ter wille van onsself, of ter wille van hulle wat nog nie God se heerskappy aanvaar of belewe nie?  (42:1d, 4cd, 6ef-7). En as ons hierdie bemiddelings rol vervul, hoe probeer ons dit doen? (42:2-4). Wie se eer? (42:5, 8-9).

Bibliografie

Beuken, W A M Jesaja II (POT); Bromiley, G W (red) Theological Dictionary of the New Testament (TDNT);  Jenni, E mit Westermann, C THAT 1 & 2;  Koole, J L Isaiah III (Historical Commentary on the OT);  Oswalt, JN Isaiah 40-46 (NICOT);  Reese, G in: P Krusche (Hg), Predigt Studien VI.1; Van der Merwe, J A Riglyne vir Sendingprediking (WTL 1/10); Von Rad, G Old Testament Theology 2; Watt, J D W WBC vol 25:  Westermann, C Isaiah 40-66 (OTL).

Related Media
See more
Related Sermons
See more