Jesaja 53=13-54=12 LR2005

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 113 views
Notes
Transcript

Jesaja 53:13-53:12 LR2005

25 maart 2005

goeie vrydag – feesdiens

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 53:13-53:12

Ander tekste:                 Psalm 31; Hebreërs 4:14-16, 5:7-9; Johannes 18:1-19

Inleiding

Goeie Vrydag is die dieptepunt van Lydenstyd en fokus op die herdenking van Jesus se kruisiging. Die atmosfeer tydens hierdie diens moet baie sober en gewyd wees met heelwat geleentheid vir stille nadenke. Daar moet so min moontlik versierings in die erediensruimte wees, verkieslik net ’n kruis. Geen blomme of kanselkleed. Indien moontlik kan die kerkklok op dié dag op ’n “begrafniswyse” gelui word. Die onderstaande liturgiese voorstel het ’n meditasie op die sewe kruiswoorde van Jesus as sentrale element – iets wat tradisioneel deel van Goeie Vrydagvieringe in baie Protestantse kerke is. Na die prediking volg daar ’n gebed gebaseer op Psalm 22 (die Psalm waaruit Jesus oa aan die kruis aangehaal het).

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

Lied 260:11 “Ewig, onbegryplik’ Wese”/NSG 348

Aanvangswoord

Psalm 31:2-6

Seëngroet

’n Gepaste Lydenslied soos Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer”/NSG 107, Lied 391 “Vervul, o Heer my hart”/NSG 105, Lied 392 “O Lam van God, onskuldig” of Lied 393 “Middelpunt van ons verlange”/NSG 108 kan hier gesing word.

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed

Skriflesing uit die Ou Testament

Jesaja 52:13-52:12

Die Kruiswoorde van Jesus

Die volgende gedeeltes word agtereenvolgens gelees met genoeg tyd vir stille nadenke tussenin:

Lukas 23:33-34

Stille nadenke

Lukas 23:39-43

Stille nadenke

Johannes 19:25-27

Stille nadenke

Matteus 27:45-46

Stille nadenke

Johannes 19:28

Stille nadenke

Johannes 19:29-30

Stille nadenke

Lukas 23:45-46.

’n Gepaste lied kan hierna gesing word, byvoorbeeld Lied 387 “O Heer, uit bloed en wonde”.

Skriflesing uit die Nuwe-Testamentiese briewe

Hebreërs 4:14-16; 5:7-9

Prediking

Gebed

Lees die volgende gedeeltes uit Psalm 22 agtereenvolgens, met telkens ’n geleentheid vir stil gebed. Die stil gebed kan telkens gevolg word deur die lees van Hebreërs 4:14-16 (verkieslik deur ’n ander persoon as die voorganger):

Voorganger:            Psalm 22:2-6

Stil gebed

Tweede voorganger:          Hebreërs 4:14-16

Voorganger:            Psalm 22:7-9

Stil gebed

Tweede voorganger:          Hebreërs 4:14-16

Voorganger:            Psalm 22:10-16

Stil gebed

Tweede voorganger:          Hebreërs 4:14-16

Voorganger:            Psalm 22:17-22

Stil gebed

Tweede voorganger:          Hebreërs 4:14-16

Voorganger:            Psalm 22:23-32

Stil gebed

Tweede voorganger:          Hebreërs 4:14-16

Voorbidding

Sang

Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”/NSG 104 of ’n ander gepaste Lydenslied

UITSENDING

Geloofsbelydenis

Slotsang

Lied 400:1-5 “Juig, juig in Hom”  (alternatiewelik kan die diens afgesluit word sonder om ’n lied te laat sing).

Seën

Dit is volbring.

PREEKSTUDIE – Jesaja 52:13 – 53:12

Teks

1. Die gedeelte vir hierdie preekstudie is deel van die sogenaamde “kneg van die Here” of “ebed Jahwe”-liedere (42:1-9; 49:1-9; 50:4-6; 52:13-53:12). Van die vier liedere is die laasgenoemde lied/gedig seker die bekendste en mees gebruikte in die Christelike tradisie. Daarmee word reeds die vinger gelê op een van die verstaansgebruike waaroor heftig verskil en diskussie gevoer word in die geledere van die Jesaja-navorsing. Dit is nie moontlik om hier in te gaan op al die verskille en probleme wat die verstaan van die gedeelte oplewer nie. Daar is ’n byna onoorsigtelik hoeveelheid literatuur beskikbaar van Christelike en Joodse kant. Die bydrae van DH Odendaal in Woord teen die Lig I/2 gee ’n kort en bevatlike oorsig.

2. Om aan die draagwydte van hierdie gedig/lied reg te laat geskied, moet dit gelees word teen die agtergrond waarteen dit geskryf is. Uit die voorafgaande hoofstukke is dit duidelik dat die gesprek hier gevoer word met Israel, die volk van die Here. Die aanleiding tot die gesprek is die verhouding en verantwoordelikheid van Israel teenoor die Here en die ander nasies. Dit kan ’n sentrale tema in die Jesajaboek genoem word. Van die eerste hoofstuk af worstel die profeet met Israel se verbreking van God se wet en die jammerlike gevolge wat dit op godsdienstige, sosiale en politieke gebied gehad het. Israel se verhouding met die Here is so afgeskaal en uitgehol, so vertroebel en oneg dat die Here alle toenadering tot Hom afwys as verwerplik (1:11-15). Omdat die volk egter geen berou betoon, oor hulle oortredings van God se gebooie nie het dit opgehoop tot ’n ondeurdringbare skeidsmuur tussen hulle en die Here (59:2-13). Terwyl hulle teenoor die nasies getuies van God se trou, waarheid, heiligheid, geregtigheid en vrede moet wees, is dit nou die teendeel. Dit het gevolg ten spyte daarvan dat die Here “op grond van sy medelye vir sy volk en sy woning”, “vroeg en laat” sy boodskappers na hulle gestuur het om hulle van hulle sondige verharding te laat bekeer (2 Kron 36:15). Hulle “het sy boodskappers uitgelag, sy woorde geminag en sy profete gespot sodat die toorn van die Here oor sy volk losgebreek het. Die straf was onherroeplik” (1933-vertaling: “totdat daar geen genesing meer was nie”.)

’n Situasie van “geen genesing meer nie” het vir Israel, “volk van die Here”, ingetree. Die hele samelewing was dodelik siek. Op alle lewensterreine het verval ingetree. Reg en geregtigheid, liefde en trou het verdwyn. Niemand het meer na die wet van die Here gevra nie. Israel het hulle vrede verloor. Hulle wat nie meer uit die hand van die Here wou lewe nie, het ontdek dat hulle nou in die hande van mense beland het. Saam met die verval na binne het bedreigings van buite toegeneem – aanvalle, strooptogte en uiteindelik die inname en totale verwoesting van die land en Jerusalem. Die volk is weggevoer in ballingskap. Van die eens trotse stad en die tempel het net ’n skokkende puinhoop oorgebly. Slegs ’n klein getal ongeskooldes en verarmdes is agtergelaat. Die hele land het ’n woesteny geword. Die beker wat die volk nou moes drink, was bitter. Die inhoud het hulle laat steier want dit was die toorn van die Here (51:22). Van die vroeëre volkstrots en die wil om op te staan, was niks oor nie. Vir Israel was dit nag.

3. Dan, asof uit die bloute, klink daar na jare van uitsigloosheid en wanhoop ’n verrassende aankondiging. Die tyd van hulle verlossing en herstel het gekom (52:7). Dit wat geen mens kon bewerk nie gaan die Here doen! Die Here gaan sy heiligheid en sy mag (“sy heilige arm”, 1933-vertaling) openbaar voor al die nasies. Ja, tot aan die uithoeke van die aarde gaan mense die redding sien wat die Here bewerk (52:10). Vir die volk beteken dit uitkoms en verlossing, bevryding en herstel (52:9). Hierdie aankondiging van redding was tegelyk ’n oproep om op te staan uit die ballingskapsmentaliteit en hulleself te heilig vir die Here (52:11-12). Terwyl hulle nog niks kon sien nie, moet hulle in geloof toeëien wat nog in die toekoms lê. Daarom die oproep om te jubel en te juig! (52:9.) Waar oomblikke vantevore nog swaarmoedigheid, sugte en troosteloosheid geheers het, word nou gelag, gesing en voorberei vir ’n nuwe lewe, ’n nuwe toekoms.

4. Maar hoe gaan hierdie wonderlike aankondiging, hierdie goeie boodskap, werklikheid word? Hoe gaan ’n uiteengeslane volk hulleself van die gedugte militêre mag van hulle veroweraars bevry? En wat van die albatros van ’n eie verlede vol skuld en skande? Wie sal, soos dikwels in die verlede, opstaan en die volk in vryheid uitlei?

In die kort bestek van vyftien verse word inhoud gegee aan die uitdrukking “die arm van die Here”. Die Here self gaan die verlossing en herstel van sy volk bewerk. In die vorm van ’n gedig word op meesterlike wyse perspektiewe oopgemaak op verlede, hede en toekoms. Terwyl die onmiddellike en lokale nood grondig aangespreek word, word tegelyk ook lyne getrek wat die grense van tyd en plek deursny. Die oorheersende besef wat die gedig/lied skep, is dat God nie volgens menslike maatstawwe optree nie. Hy bewerk die redding van die mens op sy unieke manier. Die gedig/lied bestaan uit vyf dele met drie verse in elke deel (52:13-16; 53:1-3; 4-6; 7-9; 10-12). In die eerste en laaste deel hoor ons die stem van God wat die kneg aanbeveel, terwyl die middelste drie dele vertel van hoe die kneg deur die mense ontvang en beoordeel is.  Die eerste twee dele word op ’n besonder effektiewe manier in die eerste persoon meervoud gestel. Enersyds dui dit op die vereenselwiging van die digter met die volk. Andersyds onderstreep dit die universele geldigheid van die insnydende ontleding wat hier gemaak word van die mens se verstaan en misverstaan van God se handelinge. Die Nuwe Testament sou dit baie eeue later oorvloedig bevestig.

Jesaja 52:13-15; 53:1-3:  Hoe gaan die Here sy plan uitvoer? Die antwoord is kort en saaklik: “Kyk, My kneg/dienaar” (52:13; 42:1, 1933-vertaling). “Hy sal voorspoedig wees. Hy sal hoog in aansien wees en baie eer ontvang.” (1933-vertaling: Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word”. Letterlik: “hoog, opgelig en verhewe”.) Let daarop dat in die aankondiging die ereposisie van die dienaar voorop staan. Verder kom die uitdrukking “hoog en opgelig” net by Jesaja voor en word dit ook net van God gesê (6:1; 33:10; 57:15). Dit mag dan ook van geen mens gesê word nie (2:6-22). Sê dit iets van wie dié dienaar is?

Pas is dit gesê of die digter slaan almal se voete onder hulle uit. Sy aanvanklike woorde het die verwagting geskep van ’n heldefiguur wat op pad is. Dit was in lyn met wat mense van ’n verlossersfiguur verwag. Dit moet iemand wees wat almal sal beïndruk met sy voorkoms en optrede. Maar wat moet hulle nou aanskou: ’n jammerlike misvormde figuur (v13). In skerp beeldende taal word ’n figuur geteken wat onopvallend, ongereken, geminag, misken, onaansienlik, uiteindelik vanweë sy sieklike voorkoms vermy en verwerp word. Let op die effek wat die herhaling van gkernbegrippe verkry. Dit skep ’n lyn van ál dieper ontluistering (53:1-3). Hierdie figuur is die absolute teenstellin van ’n redder!

Dit is ook belangrik om kennis te neem van die verandering in die betiteling van die waarnemers van dit alles. Die digter gaan sonder verduideliking oor van die derde persoon meervoud “hulle” na die eerste persoon meervoud “ons”. Wie is die “ons”? Drie moontlikhede word oorweeg: die nasies, die volk Israel of die profete. Laasgenoemde word egter deur vers 4-6 uitgesluit. Indien die “dienaar/Kneg” Israel is, dan is die “ons” die nasies wat met ontsag toekyk hoe Israel verneder word en ly. Israel kan egter nie die dienaar wees nie want juis hulle moet deur die “arm van die Here” verlos word. Hulle kan hulself nie verlos nie. Selfs nie die “oorblyfsel” kan die ongehoorsame deel red nie (64:8-16). Indien Israel nie die “kneg” is nie is hulle die “ons” (die profeet sluit hom by hulle in) wat misluk het om in die lydende dienaar ‘die arm van die Here’ raak te sien. Só word dit deurgaans in die boek verstaan (16:6; 24:16; 42:24; 64:4-5). Ook die twee Nuwe-Testamentiese aanhalings van die gedeelte verstaan dit so: Die volk van God wat die nuus gehoor en die openbaring gesien het, het geweier om dit te glo (Joh 12:28; Rom 10:16).

Jesaja 53:4-6:  In meevoerende digterlike taal word die fatale onbegrip en misverstand ontbloot. Almal het gedink dat die dienaar regverdig gestraf word vir sy oortredings. Siekte en lyding was destyds (soms ook nou) gesien as straf van God op die sonde (vgl. die woorde “gestraf”, “geslaan”, “gepynig” in v 4). Let ook op die ooreenstemming tussen die beeldspraak van vers 4 en 5 met 1:5-6. Die volk is so siek dat geen godsdiens rituele (offers, feeste, gebede) hulle posisie voor God kan verander nie (1:10-15). Wat God vra, is dat die sonde, die oorsaak van die siek toestand, verwyder word. Dit kan alleen Hy doen (1:18; 4:4). Dit alles is nou misgekyk. Niemand het besef dat die dienaar/kneg “ons lyding” op hom geneem (soos ’n gewig van ons afgelig en op hom geneem) en “ons siektes” gedra, eintlik weggedra, het nie. Ons het nie begryp dat hy vir “ons oortredings” en vir “ons sondes” gepynig, deurboor en verbrysel (fyngestamp, letterlik “soos modder getrap” – vgl 19:10) word nie. Ons het dus ons aandadigheid aan sy lyding volledig misgekyk. Die beeldspraak is dié van die Ou-Testamentiese kultus waar die offerdier gedood word in die plek van die een wat gesondig het (Lev 5:1,17; 10:17; 16:22; 17:16; 20:19; Num 9:13; 14:34). Die gedagte van plaasvervanging word deur die werkwoorde beklemtoon. Die dienaar/kneg ly nie net saam met sy mense nie, maar vir hulle en in hulle plek. Die beskrywing hier van die dienaar se lyding beklemtoon ook die volledigheid van sy middelaarswerk. 

Terwyl dít die enigste weg na vrede en genesing is, is hulle (ons) reaksie pateties en futiel. Die beste tekening daarvan is dat hulle/ons soos skape gedwaal en elkeen sy/haar eie pad geloop het. Dit kom daarop neer dat niemand van hulle vanself by redding gaan uitkom nie.

Jesaja 53:7-9:  Die vierde deel beklemtoon drie belangrike gedagtes: die dienaar/kneg se onderworpenheid, sy onskuld en die onreg wat hom aangedoen is. Die digter gebruik by herhaling die skaap-metafoor – nou met die betekenis van onderworpenheid en offerbereidheid. Dit geld hier nie van die volk nie, maar alleen van die dienaar. Hy het deur die hele proses van sy lyding en onreg “nie gekla nie” (“sy mond nie oopgemaak nie”, 1933-vertaling). Die digter skep egter ’n belangrike ontwikkelingslyn deur die mond-beeldspraak aan die einde van die gedeelte. Selfs op die stadium dat die dienaar sterf, sy graf by die goddelose kry en in sy dood by sondaars is, het hy niks vals gesê nie. Die lyn van sy onskuld word tot aan die einde gehandhaaf. Nie alleen het hy hierdie straf nie verdien nie, hy het geen straf verdien nie. Treffend is die parallelle in die optrede van Christus in sy lyding (Matt 26:63; 27:12-14; Mark 15:5; Luk 23:9; Joh 19:9). Christus word ook deur Johannes uitgewys as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra” (Joh 1:29).

Jesaja 53:10-12: In hierdie slotdeel word die argumentlyne saamgebind. Verskeie vrae wat ontstaan het, word hier beantwoord: Waarom moes hierdie onskuldige mens vir die skuld van ander ly? Waarom doen hy dit en hoe kon hy dit doen? Was dit nie maar ’n ongeluk van die geskiedenis nie? Is die verskriklike tragedie nie maar tipies van die sinloosheid van die menslike bestaan nie? (Vgl Pred 4:1-3.)

Jesaja antwoord hierop ferm: “Nee!” Wat gebeur het, was geen ongeluk of misverstand nie, maar die wil van die Here. God het besluit om hom te “verbrysel” en hom deur verskriklike pyn te laat gaan. Wat hulle aanskou, is die aanbieding van die skuldoffer – nie vir die skuld van die dienaar nie, maar vir die skuld van húlle wat toekyk – die afvallige volk van die Here, en die nasies.  Dit gaan om die aflos van “ons” onbetaalde en onbetaalbare skuld voor God. Uit hierdie impasse is daar slegs een uitweg: ’n volmaakte skuldoffer. Hier tree “die dienaar van die Here” navore. Hy bied homself, sy lewe as vrywillige offer aan. Op hierdie stadium kyk die digter “ons” reguit in die oë en ruk ons uit ons toeskouer-anonimiteit. Vir “ons” is dit die beslissende oomblik, die kairos in ons menswees voor die lewende God! Ons moet die gebroke self van die dienaar as offer vir ons skuld neem en aan God aanbied. Wanneer ons dit doen, is sy lyding en sterwe nie tevergeefs nie. Die fokus en kern van die kneg-liedere gaan oor die vrug op die dienaar se gehoorsaamheid (42:4; 49:5-6; 50:7-9; 52:13). Hierdie vrug moet in geloof aanvaar word. Só word aan die wil van die Here voldoen en kry “’n nageslag” vir die dienaar gestalte. Die “dienaar van die Here” sien weer lig as hy weet dat “baie” (herhaling) deur sy offer gered is. “My dienaar, “Die Regverdige”, sal baie mense regverdig maak” (53:11b). Hierdie eer kom hom alleen toe omdat hy as dié een sonder enige sonde, sy lewe as vrywillige skuldoffer in die plek van die oortreders aangebied het. 

Die perikoop sluit af met vermelding van die buitengewone eer wat die dienaar toeval. Hy neem die ereplek in tussen die grotes en saam met die magtiges vier hy die oorwinning oor die kwaad. Begryplik stuur dit skokgolwe deur die geledere van nasies, konings en magtige leiers. Dit waarvan hulle getuies gemaak is, is uniek en ongehoord. Dit is ongehoord dat iemand die pad van miskenning, verwerping en verguising willens en wetens loop, die vernederende dood van ’n misdadiger sterf en met sondaars gelykgestel word in sy dood ter wille van die ongehoorsaamheid van ander. Voeg daarby dat hierdie gestroopte mens uit wie selfs die lewe gewelddadig geslaan en getrap is, die ereplek inneem tussen die grotes en magtiges. Hulle spring almal op in verbasing en in sprakeloosheid (53:12; 52:15).

“Kyk, my kneg”. In hierdie kompakte openingswoorde word tegelyk ’n oop einde voorsien ... Hy neem die sleutelplek in die ontvouing van God se raadsplan in (Op 5). 

Konteks

Prediking oor hierdie gedeelte moet met twee bepalende faktore rekening hou. Eerstens die historiese agtergrond waarteen die perikoop ontstaan het. Daar was die eerste hoorders tot wie dit gerig is. Belangrik is die vraag waarom dit tot hulle gerig is. Tweedens die toewysing van die gedeelte aan die Christelike viering van Goeie Vrydag. Is hierdie perikoop ook van toepassing op die Christelike gemeenskap van meer as 2 500 jaar later?  (Sien item 1 hierbo.)

Belangrik vir hierdie preekstudie is dat hierdie gedeelte reëlmatig ingesluit word in die preekreekse vir die kerkjaar en wel by die gedeeltes wat handel oor die Lydenstyd en veral vir Goeie Vrydag. Dit is begryplik. Die leser kan moeilik wegkom van die gedagte dat hier ’n ooggetuie aan die woord is wat ’n kort verslag gee van die lewe, lyding, sterwe en Hemelvaart van Jesus Christus. Die parallelle tussen die kneglied en die Christus-verhaal is merkwaardig. Tog moet die verskillende kontekste en enorme tydsverskil deeglik in ag neem word.

Odendaal maak die volgende voorstel vir ’n preek. Ter inleiding waarsku hy teen ’n “oorhaastige oorgang tussen Jesaja 53 en die vervulling in Christus Jesus”. Die kneg van die Here van wie hier gepraat word, kan nie sommer so gelykgestel word aan Christus nie.

1. Voorop staan die groot verlossing uit die ballingskap en ellende waarin die volk van God verkeer het.

2. Sentraal in die verlossing staan die kneg van die Here as middelaar. In hom word “die arm van die Here” deur lyding en verguising geopenbaar. Die klem moet nie op die lyding self val nie, maar op die vrug daarvan. Dit is die daad van God.

3. As middelaar dra hy die las van die oortreding, ongeregtigheid en straf van die volk. Om dit te doen, moet die kneg die diepte van die volk se sondeverlorenheid ingaan. Sy lyding en nood word ’n skokkende onthulling van die volk se sondeskuld voor God.

4. Op dié smartlike lydensweg word die kneg gelei tot verhoging waarin sy offer vrede en genesing vir baie beteken. Nie net Israel nie, maar die hele wêreld deel in sy heil.

5. Die kneg van die Here het baie vervullings in die loop van die heilsgeskiedenis beleef. In Jesus Christus vind dit sy finale en volkome vergestalting.

Meyer en Vosloo werk met die tema  die gebrokene bring heling.

1. Die aankondiging dat die kneg van die Here gaan optree as verlosser, wek hoop en verwagting.

2. Die nederige en gebroke gestalte van die kneg lei egter daartoe dat niemand in hom “die arm van die Here” raaksien nie. Sy lyding laat hulle twyfel omsit in minagting. Hulle het nie verstaan wat God in die kneg sê en doen nie.

3. Israel en alle mense moet ontdek dat die kneg ly omdat hy hulle sonde, ons sonde, op hom geneem het. Die straf op ons sonde laat hom so vernederend ly. Dié besef moet ons met die lydende kneg laat identifiseer. Dit sal ons stroop van gemaksug, valse trots en eie dunk. Ons laat vasgryp aan dié reddingsboei. Voor God staan ons hulpeloos, gebroke en afhanklik.

4. Identifisering met die kneg sal ons van onsself verlos. Dit vra dat ons ons skuld voor God grondig besef en bely – aan onsself sterf. Só kan ons diensknegte van God word.

5. Die gebrokene laat die kerk sy eie gebrokenheid insien, op sy knieë gaan en dit voor die Here (en voor die mense) bely. Die belangrike les uit Jesaja 53 is: Ons kan dit maar waag om volkome weerloos en kwesbaar voor mekaar en voor God te wees.

Preekvoorstel

(Opmerking:  Raadpleeg saam met die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel, ook die 1933-vertaling (of enige herdruk). Laasgenoemde gee die beeldspraak en idiomatiese segginge sonder om dit weg te vertaal, en behou die dinamiese seggingskrag beter.)

1.  Ons Skrifgedeelte vorm deel van die vier “kneg van die Here”-liedere in Jesaja (42:1-9; 49:1-9; 50:4-6; 52:13-53:12), ook bekend as “Troosboek”. Dit was bedoel om troos in te dra in ’n troostelose situasie, redding aan te kondig in ’n reddelose toestand. Invalle deur vyandige nasies,  verskillende wegvoerings oor meer as 200 jaar, die sloping van Jerusalem en die tempel van die Here, die plasing van vreemde groepe in die land, het Israel gereduseer tot ’n onbeduidende oorblyfsel in ballingskap. Die moontlikheid van ’n selfstandige bestaan as geïntegreerde sosiaal-politieke en religieuse instelling, was menslik gesproke uitgesluit. Nie net die politieke voortbestaan van hulle volkwees het onwaarskynlik geraak nie.  Veral hulle voortbestaan as “volk van die Here” was in die gedrang. Die morele en godsdienstige verval as gevolg van geslagte se minagting van die wet (wil) van die Here en blatante afgodery, het opgebou tot ’n skeidsmuur tussen die Here en hulle (59:2). Hulle het hulleself afgesny van die lewensaar van hulle volkwees in die wêreld – hulle verhouding met die Here (Verbondsgod). Uit hierdie impasse was daar geen menslike uitweg nie.

2.  Uit die bloute kom ’n trooswoord, ’n oproep om te ontwaak en op te staan, tot hulle. Hulle moet gereed maak om terug te gaan na hulle verwoeste land, stad en tempel. Hulle keer egter nie terug soos wat hulle na die vreemde weggevoer is nie. Nee, hulle kom weer in die prosessie van die eerste intog na hulle land. Die Here trek voor hulle uit en God van Israel is hulle agterhoede (52:12).  Die aankondiging het ’n klomp vrae opgeroep. Hulle is in ballingskap, gevangenes van ’n magtige moondheid. Hoe sal hulle hieruit vrykom? Wie gaan hulle bymekaarbring? Hulle is sonder leierskap, sonder die wil om as “volk van die Here” bekend te wees en te lewe.

3.  Hoe kan daar sprake wees van herstel en redding vir Israel – vir enige mens? Volgens die profeet is die antwoord dat die Here gaan optree/handel. Hy gaan dit doen deur “sy heiligheid, sy mag” (‘heilige arm’ 1933-vertaling) te openbaar voor die oë van die nasies. Die redding wat Hy bewerk, sal tot aan die uithoeke van die aarde gesien word (52:10). Twee sleutelbegrippe word hier as agtergrond tot die aangrypende vierde lied (gedig) gebruik; “heiligheid” en “redding”. Daarin word twee onlosmaaklike dimensies in God se handeling sigbaar; sy geregtigheid en sy barmhartigheid. Beide lyne word op aangrypende wyse in die gedig uitgewerk.

4.  “Kyk, my kneg (dienaar)”… In en deur dié dienaar gaan die Here sy reddingsplan uitvoer. Hy sal hoog, verhewe, geëerd en voorspoedig wees. Niemand hoef te twyfel of hy sal slaag nie. Hy sal die doel, God se doel, bereik. Vir mense in ballingskap was dit genade-musiek. Vir mense alte bewus van hulle skuldbelaaide verlede was dit wonderlik dat die Here die verlede begrawe het. Waarlik, die Here is barmhartig. Hoe ondeurgrondelik barmhartig, het hulle nie werklik besef nie.

5.  Dan deins almal terug, geskok en verslae. Wat hulle sien, kan tog nie God se antwoord wees nie. `n Jammerlik onopvallende, selfs misvormde figuur wat nie na ’n mens lyk nie. Niemand sien hom eens raak nie. Waarom is hy soos ’n gedweë skaap wat stom is voor die skeerders? Hy kan sy mond selfs nie oopmaak en terugpraat nie. Hy lyk ook of hy allerhande siektes het.  Hy moet vermy word. Hy lyk na iemand wat ernstig teen God oortree het en nou die straf van die Here verduur. Hy word deur almal verag en gehaat. Al hoe dieper daal die lyn van sy lyding. Hy kry sy graf by goddeloses, is in sy dood by sondaars en misdadigers (vers 9,12). Kan hy iemand red?

6. Die skok oor die dienaar sit om in pynlike ontnugtering. Die dienaar ly omdat God dit wil (v10). Die oorsaak van sy lyding lê nie by God nie, ook nie by die dienaar nie, maar by hulle wat toekyk. Die dienaar ly as gevolg van hulle sonde. Hier is niemand ’n toeskouer nie. Almal is skuldiges. Let op die herhaalde gebruik van die eerste persoon meervoud “ons”.  Die dienaar ly in ons plek, dra die straf wat ons toekom, lê sy lewe af sodat ons kan lewe (v 4-6, 8c).

7. In ons plek? Ja, dit is die wil van die Here. Om aan ons barmhartigheid te bewys, moet ook aan sy geregtigheid voldoen word. Sonde kan nie maar net toegesmeer word nie. Dit moet volledig verwyder word. Deur die offer van die dienaar, die regverdige, word baie mense regverdig gemaak (v11b). Ja, ’n groeiende nageslag is die vrug op die dienaar se gewilligheid om sy lewe as ’n skuldoffer aan te bied.

8. Hierdie aangrypende skets voer die Christengelowige so mee dat die oorgang na die verhaal van Jesus Christus se lyding en offerdood aan die kruis ter wille van ons sonde spontaan en ongemerk plaasvind. Die Jesajaboek help ons om nie God se barmhartigheid goedkoop te maak nie. Omdat God se geregtigheid en barmhartigheid in ’n dinamiese eenheid funksioneer, is daar geen deelname aan die nuwe lewe in Christus Jesus, buite om die aanvaarding van sy offer aan die kruis nie. Die aanvaarding word telkens in die viering van die nagmaal hernu.

9. Die nood in ons moderne samelewing word in die openingswoorde van dié perikoop beantwoord: “Kyk, my kneg/dienaar”. Daarin eggo die woorde van Johannes die Doper: “Daar is die lam van God wat die sonde van die wêreld wegdra” (Joh 1:29).  

Bibliografie

Barth K, Kirchliche Dogmatik II/2; IV/1; IV/3;  Frey, Helmuth  Gods Wereldpolitiek;  Knight, George A E  Isaiah 40-55, ITC;  Meyer, O & Vosloo, R  Jesaja 52:13-53:12 in Buvton Preekstudies vir 2000;  Odendaal, D H in Woord teen die Lig I/2; Oswalt, John N  The Book of Isaiah Chapters 40-66 in NICOT;  Ridderbos, J Jesaja in K V;  Ridderbos, NH  The Book of Isaiah in The New Bible Dictionary;   Von Rad, G  Die Botschaft der Propheten;  Vriezen, Th C  Hoofdlijnen der Theologie van het Oude Testament.

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.