Jesaja 63=7-9 LR2004

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 112 views
Notes
Transcript

Jesaja 63:7-9 LR2004

26 Desember 2004

Sondag na Kersfees

Liturgiese voorstel

Fokusteks:           Jesaja 63:7-9

Ander tekste:                 Psalm 148; Hebreërs 2:10-18; Matteus 2:13-23

Inleiding

Die Sondag na Kersfees het ‘n baie tussenin gevoel veral as dit nog soos hierdie jaar die dag direk na Kersfees is. Alles het gereedgemaak en opgeloop na Kersfees. Die kerk was vol en daar was ‘n menigte besoekers en gemeensaamheid was aan die orde van die dag, maar al wat vanoggend oorgebly het, is die getal  mense wat op ons paaie gesterf het. Wat doen ons nou die dag direk daarna weer in die kerk? Dit vra nogal heelwat oorspronklikheid van die liturg om homself feitlik oornag aan die geskenkpapier en tinsel en geskenke rondom die Kersboom te ontworstel en die dag na Kersfees die pad na Epifanie en verder met die gemeente te loop. Die liturg kan by die Kersfeesdiens so ’n verwagting by die lidmate skep om die volgende dag reeds die pad en wedervaringe saam met Jesus en sy ouers te vat. Die liturg kan byvoorbeeld deur die nagmaal te vier die gelowiges saamneem op die eerste lydenstreë van Jesus as sy ouers met Hom moet vlug. Moontlik is daar een of twee kleingoed wat gedoop kan word voordat die oupas en oumas, ooms en tannies in die volgende week die pad terugvat huis toe. 

Die Jesajateks van hierdie Sondag dien vanjaar as fokusteks. Trito-Jesaja (56-66) val in die periode tussen 537 en 455. In 537 keer ’n klein groep Israeliete terug van Babilon na Jerusalem. Kort na 537 word die fondamente van die tempel wat herbou word, gelê. Dis egter so ver as wat dit gevorder het. Omstandighede was so onseker en die ekonomiese toestande so wisselvallig dat die bouery eenvoudig opgehou het. Trito-Jeasja se optrede val tussen 537 en 521. Die klaagliedere van Israel in Babel hou aan selfs met die terugkeer van die eerste bannelinge. In 60-62 verkondig Trito-Jesaja finale verlossing vir Israel en bring dit in verband met die klaagliedere. Jesaja 59 en 63 is egte gemeente klaagliedere wat in die hart van Israel se “worship” gebore is. Hierdie twee hoofstukke word deur baie redakteurs as psalms geëien wat direk na die val van Jerusalem tot stand gekom het. En die slotsom is: Nee, God sal nie langer swyg nie. Die heerlikheid van die Here verskyn oor julle. Bo-aan hierdie psalm (63:7-41) kan ons skrywe: Ek wil sing van die groot en genadige dade van God. Woorde waarmee die gemeente die dag na Kersfees, die geboorte van die Verlosser, hulle maklik kan vereenselwig. Woorde wat met groot betekenis in die liturgie gebruik kan word.

Na die verwagting van Advent en die belewenis van die geboorte van die Verlosser op Kersoggend is daar nie nog ’n psalm soos Psalm 148 nie wat die uitbundige vreugde van God se volk vertolk en kan voortdra.

Hebreërs 2:10-18  plaas nie ’n demper op die lof na Kersfees nie, maar sê eerder hoe die lof en vreugde ’n lewenswerklikheid vir God se kinders is en word. “God ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het, wou baie as sy kinders  tot heerlikheid lei. En daarom was dit reg dat Hy hulle Leidsman tot die verlossing deur lyding heen tot volmaaktheid sou bring” (Hebr 2:10a). ’n Doopherinnering of doop, indien dit moontlik is, kan heerlik betekenis en inhoud kry deur die gebruik van veral die teksverse wat hier uit die psalms aangehaal word. 

Skaars het Jesus in die woorde van Hebreërs 2:17 in alle opsigte deur sy geboorte aan sy broers gelyk word of hy ervaar ook die lyding om saam met sy ouers vir sy lewe te vlug. ’n Pad wat ons vandag nog as kinders van God loop en daarom God se waterpunte langs die pad moet aandoen. Die tekens van sy liggaam en bloed, sy kos en drank – die doop en nagmaal – moet gebruik.

“God sal nie langer swyg nie. Die heerlikheid van die Here verskyn oor julle,” kan as verhaallyn deur die liturgie gevolg word. 

god versamel ons voor hom

Votum

 Liturg:          Ek  verkondig:

                    die troue liefde van die Here,     

                    Ek  verkondig:

                    sy roemryke dade,

                    alles wat God vir ons gedoen het.

                    Ek  verkondig:

                    alles wat Hy in sy genade,

                    in sy groot liefde, laat gebeur het.

Gemeente:     Here, ons is u volk,

                    kinders wat nie ontrou sal word nie.    

Liturg:           Ek verkondig:

                    dat God self julle deur sy liefde en ontferming

                    verlos het.

Gemeente:     Here, U het ons opgetel

                    en altyd gedra.    Na: Jesaja 63:7-9

Seëngroet

Genade vir julle en vrede van Jesus Christus wat mens geword het omdat julle, my kinders, mense van vlees en bloed is.  En van God die Vader, ter wille van wie alles bestaan en deur wie alles ontstaan het. 

Lof aan God

Liturg:           Ons gaan God nou met Psalm 148:7, 8 en 9 loof vir sy liefde en ontferming. Maar kom ons luister eers na die woorde waarmee Koos van der Merwe van Prohet-faam na aanleiding van Psalm 148 die Here loof. (Kry iemand uit die gemeente wat dit kan voordra. Daarna sing die gemeente spontaan die aangeduide verse van Psalm 148.)

                   

asems

al die asems

al die wasem

loof Hom …

likkewane

bobbejane

olifante

al die leeus

al die spreeus

en fisante

kom nou kraaie

papegaaie

en volstruise

al die vlooie

in die kooie

al die luise

pelikane

en sprinkane

en marmotte

al die tiere

en die miere

kokkerotte

die miljoene

skerpioene

en die swane

al die ape

al die skape

en die hane

o die vele

vaal kamele

en die reiers

al die uile

al die muile

en miskruiers

elke bees

en elke kees

en al die vinkies

al die bokkies

en toktokkies

en tinktinkies

dan die wille

krokkedille

en die muise

en die katte

op die matte

in die huise

al die kewers

al die bewers

swartwitpense

en heel laaste

maar die meeste

al die mense

Gemeente:     Sing Psalm 148:7, 8 en 9

diens van die woord

Gebed om die opening van die Woord

Skriflesings

Psalm 148 het reeds aan die orde gekom en die evangelielesing pas later by die diens van die tafel.

Lees eers Hebreërs 2:10-18 en trek net die verband met die liturgie en die prediking uit Jesaja deur. Sien die paragraaf oor die Hebreërsteks by die inleiding hierbo.

Jesaja 63:7-9

Prediking

diens van die taFEL

Dankoffers en gereedmaak van tafel

Geloofsbelydenis

Skriflesing

Lees die evangelieteks vir vandag, naamlik Matteus 2:13-23. Sluit Skriflesing af met die opmerking oor die teks by die inleiding om oorgang te vorm na die nagmaal.

Eucharistiegebed (vervang formulier); sien agter in die bundel.

uitsending

Sang

Lied 334:1-4  “God is liefde!” juig ons harte/NSG 67

Seën

Liturg:           Die  Here sal julle seën

                    en julle beskerm;

                    die Here sal tot julle redding verskyn

                    en julle genadig wees;

                    die Here sal julle gebede verhoor

                    en aan julle vede gee. Numeri 6:24-26

Gemeente:     Lied 312 “Amen”

PREEKSTUDIE – JESAJA 63:7-9

Teks en konteks

Die algemene mening is dat Jesaja 63:7-64:11 `n lang gemeenskaplike klaaglied oor die Here (Jahweh) se getrouheid en Israel se wisselende ontrou en getrouheid in die verlede is. Oswald noem dit `n “profetiese liturgie. Die gedeelte 63:7-64:11 is, volgens Koole, geskryf in die lig van `n nuwe indruk aangaande Jerusalem en die Tempel se verwoesting. Daarom is dit vergelykbaar met Klaagliedere of soos Psalm 77, 78, en 80, met `n belydenis van skuld oor die verlede. In die breër konteks van Jesaja 40-66 beteken dit dat die tyd van oordeel wat in hoofstuk 6 aangekondig is en tot met hoofstuk 39 afgespeel het, verby is. Nou val die klem op dit wat die Here nog verder moontlik wil maak ten spyte van alles wat Israel tot hiertoe ervaar en verduur het: “versoening en nuwe dinge” (Petersen). As historiese terugblik op die Here se troue liefde, roemryke dade en teenwoordigheid is beide die inhoud van 63:1-6 en 63:7-64:12 belangrik vir die agtergrond en kontekstualisering van Jesaja 63:7-9.

In 63:7-14 is die profeet Jesaja self aan die woord as individu, maar later praat hy meer inklusief oor Israel as “ons”. In die styl van `n gemeenskaplike klaaglied word die naam van die Here herhaaldelik opgeroep.  Die profeet onthou en verkondig (zkr is die wortel vir beide werkwoorde) alles (v 7) wat die Here gedoen het tydens Israels se verlossing uit die slawerny in Egipte (63:7-14) en daarna. Vers 7 is die inleiding tot die kort perikoop vers 7-9 en die groter eenheid (63:7-64:12). Dit begin met die Here se “troue liefde”, slaan oor na die Here se “roemryke dade” en “groot goedheid”, en eindig met die Here se “groot liefde”. Die Here se goedheid (Heb hesed) wat verwys na die verbond as vredeshandeling word herhaal en dus beklemtoon. In die meervoud dui hesed aan dat die Here die hele “Huis van Israel” bevoordeel. Die Here is besorg oor al die moeilike omstandighede en sal die oorblyfsel vir altyd onderhou en beskerm.

Die frase, “Hy het gesê” (v 8), verwys spesifiek na die verbondsverhouding, die eed wat die Here met Israel in Egipte afgelê het. Die profeet herinner die Here aan hierdie verbintenis tot Israel. Omdat hulle “my volk” is, sal hulle nie die verbond “geweld” (shqr) aandoen nie. Hulle sal “nie ontrou” word nie.” Die Here kan hom nie indink hoe dit sal kan gebeur nie. Hy verwag nie dat Israel na alles weer ontrou sal word nie. Dit is onmoontlik. Waarom dit dan nou aanspreek? (Koole).

Daarom het die Here voortgegaan, sy gedeelte van die eed nagekom en Israel uit Egipte “gered” (v 8) - “uit hulle nood gered” (v 9;  vgl Eks 15:2). Die Here “self was die engel” vir hulle”, nie hulle “vyand nie” (v 9). So is die Here persoonlik betrokke deur self sy gesig na Israel te draai. Die verlossing word persoonlik aangekondig en bewerkstellig. Die Here was met hulle (v 9) in Egipte en het in die woestyn voor hulle uitgeloop. Beide die profeet en die Israeliete wat oorgebly het, moet dit onthou en verkondig. Ten spyte van die Here se getrouheid het hulle teen die Here gedraai. Hulle moet nadink oor die gevolge van hulle (herhaaldelike) opstand. Die Here het “vir hulle `n vyand geword”. In regverdigheid, maar ook in getrouheid teenoor sy liefde vir Israel, het die Here “self teen hulle geveg” (v 10). Hoe het Israel dit ervaar? Die verhouding tussen God se liefde, goedheid, ontferming en regverdigheid as teken van die getrouheid aan die verbond enersyds, en die getrouheid-ontrouheid van Israel andersyds, kan nie net eenvoudig op `n skaal geplaas word nie. Byvoorbeeld, die ontrouheid van Israel is nie finaal bepalend hou God teenoor Israel optree nie. 

Die profeet gebruik ontferming (Heb tsedeqah) en “goedheid” (Heb hesed) om fasette van God se verbondstrou teenoor Israel se ontrou in die verlede te herroep. Die oordeel self is `n teken van God se besondere teenwoordigheid in die verlede. God kan “wegkruip en nog steeds aktief wees in `n heilige oordeel (64:7); So, kan God ook stil wees maar aktief wees in `n geweldige oordeel” (Petersen, kursivering bygevoeg). Dit alles is beslissende  momente wanneer Israel God se dade verkondig. Die profeet en hele gemeenskap moet dit onthou. Dit is deel van die proses van versoening en hernuwing in Israel na al die gevolge van God se vorige oordeel. Dit word gesien as die eintlike rede vir die verlossing uit die Egiptiese slawerny. Daarom  moet Israel onthou dat die Here “hulle opgetel en hulle altyd gedra” het (v 9). Die profeet verwag dat, soos in die “goeie ou dae”, die Here hulle weer sal verlos in die hede en toekoms (Koole; Knight).

Die verskillende dimensies van God se regverdigheid word herroep, sodat die hernude verhouding tussen die Here en Israel `n impak kan maak op die verhouding tussen die Israeliete en ander volke. Gewoonlik word die manlike vorm, tsedeq, gebruik om die Here se verlossingsdaad te beskryf. In 63:2 word die vroulike vorm, tsedeqah, gebruik om die aard en effek van die verlossing op diegene wat verlos is uit te druk. Die Here se goedheid en verlossing is eerstens nie afhanklik van wat ons gedoen of nie gedoen het nie. Ten spyte van die Israeliete en die profeet se ontrou kan hulle steeds die troue liefde en ontferming van die Here ervaar. Hulle kan dit ook onthou deur dit te verkondig. Hulle word uitgedaag om nou as liefdevolle persone teenoor mekaar en ander te leef (Knight). 

Preekvoorstel

“God-met-ons” in liefde, goedheid en regverdigheid roep ons op tot verandering te midde van ons feesvieringe.

Sawyer se mening oor die preek van hierdie perikoop in die algemeen dien as waarskuwing vir die preek van die perikoop rondom Kersfees. Met die klem op Immanuel rondom die Kersseisoen kan dit maklik gebeur dat persoonlike verlossing en ontferming oorbeklemtoon word ten koste van die profetiese dimensie. Alhoewel dit `n uitsondering sal wees, kan die profetiese kant ook oorbeklemtoon word. Met tsedeqah (beide ontferming en regvergdigheid) as skarnier in die vloei van die preek kan die prediker die individu en gemeente oproep tot verandering in die lig van Israel en die gemeente se konteks. 

Die volgende tema word dus kortliks in sewe paragrawe uiteengesit. Daarmee kan verder gepoog word om die verskillende dimensies in die twee kontekste in gesprek met mekaar te laat bring: “God-met-ons” in liefde, goedheid en regverdigheid roep ons op tot verandering te midde van ons feesvieringe.

1. Net soos vir die profeet en Israel, is dit gewoonlik amper vanselfsprekend dat elkeen van ons die “roemryke dade van die Here” meestal onthou en wil verkondig wanneer dit goed gaan, wanneer ons feesvier. As ek dit egter net onder sulke omstandighede onthou, dikwels net sporadies, kan alles ingeperk word. Ek mag dalk God se “troue liefde” en “groot goedheid” vereenvoudig tot hoe goed dit met my gaan. Die feesvieringe word dan `n geleentheid waar alles op `n dramatiese manier aangekondig word. Die verkondiging van die Here se “groot liefde” en “groot goedheid” verloor sy smaak soos sout wat laf geword het. “God-met-ons” in liefde en goedheid is meestal van toepassing op myself en ons – diegene naby my.

2. Dit kan tog nie anders wees nie? So redeneer ons dalk. Het God Hom dan nie onherroeplik tot ons as sy verbondsvolk verbind nie? Ja, as vriend het God persoonlik na ons toe beweeg, en wandel Hy op `n besondere manier met ons. Daarom staan daar: “Hulle is my volk, kinders wat nie ontrou sal raak nie” (v 8).  Ons kan maar so nou en dan afdwaal soos in die verlede. God het ons vasgehou en sal weer die net uitgooi in die toekoms. Ook nou in hierdie feestyd.

3. Dalk is dit nie meer moontlik om fees te vier soos in die verlede nie. Wanneer dit “slegter” gaan en daar nie meer feesvieringe is nie ervaar ons “God-met-ons” in liefde en goedheid, dan nog op dieselfde manier?  Of verlang ons soos Israel, terug na die vleispotte van Egipte toe ons nog Kersfees en vakansie gehou het soos in die verlede. Dalk dink ons dit was soms moeilike tye, maar ons kon darem feesgevier het. Net soos Israel, was dit harde werk om almal (familie en vriende) gelukkig te hou aan die einde van elke jaar. Dit was moeilik in die lang ure van Egipte toe ons bakstene in die “son” en “reën” “gebak” het. Nogtans, wil ons graag die “goeie ou dae” onthou.

4. God se regverdige oordeel oor hulle ongehoorsaamheid was van min belang vir die Israeliete. Die oordeel en verdere teenwoordigheid met die ballingskap in Egipte het nie eens in hulle gedagte opgekom nie. As dit opgekom het, het dit sekerlik lig geweeg teenoor die vleispotte en feesvieringe. Daarom het die volk verkies om liewer swaar te kry soos in die verlede. Alles kan maar met hulle gebeur so lank as wat hulle net weer in vrede kan eet en drink. Ja, speel die orkes, die plesierboot moet voortvaar, ongeag die dreigende toestande rondom hulle en ander mense wat saam met hulle op pad was.

5. Vandag is die werklikheid van “God-is-met-ons” eerstens `n regverdige oordeel oor ons feesvieringe, beide in die verlede en in die hede. In liefde en in goedheid het God Jesus na die wêreld gestuur. Deur aan die kruis te sterf, oordeel God in liefde en regverdigheid oor alles waarmee ons ons besig hou. Hoe verkondig en leef ons in hierdie feesseisoen in die lig van God se “troue liefde” en “roemryke dade” aan die kruis?

6.  “God-is-met-ons” is ook `n uitroep dat ons moet toesien dat mense wat ons paaie nou en tydens die jaar kruis, iets van God se liefde en goedheid ervaar. Aangespoor deur die liefde en goedheid in ons harte asook die gees van Kersfees en Welwillendheidsdag, gaan ons elke jaar voort. Ons gee om vir die behoeftiges, maar hoe dikwels ervaar hulle ons as regverdige kinders van die Here wat nie net graag hulle omstandighede wil verbeter nie? Sien hulle ons as kinders van God wat hulle graag persoonlik wil ontmoet en hulle omstandighede wil verander? Is dit nog moontlik om terug te hunker na die “goeie oue dae” –  iewers in ons lewe en in die gemeente se verlede toe dit bo alles gegaan het oor God in die wêreld met ander asook oor ons in die gemeente met ander?

7. Mag :

hierdie gemeenskaplike klaaglied in Jesaja ons help om insig te kry in ons feesvieringe, die geluk, blydskap, en die soort trou wat ons van God ervaar;

ons God se liefde en trou deurgaans ervaar, ten spyte van hoe ons soms twyfel as dit moeilik gaan en wonder of dit nie dalk God se oordeel oor ons is nie;

die “engel” van God `n spieël wees wanneer u en ek elke dag moet worstel oor God se teenwoordigheid te midde van al die nood en hartseer;

“die vrede van God ... oor” ons “harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil  4:6) sodat ons opreg kan feesvier, die blydskap van die seisoen in Christus ervaar en dit met ander in woord en daad deel.

Bibliografie

Blenkinsopp, J 2003.  Isaiah 56-66: A New Translation with Introduction and Commentary.  The Anchor Bible; Hanson, P D 1995. Isaiah 40-66: Interpretation.  John Knox Press;  Koole, J L 2003. Isaiah: (Part III, vol 3, chapters 56-66).  Peeters; Knight, G.A.F. 1985.  The New Israel: A Commentary on the Book of Isaiah 56-66. Wm B Eerdmans;  Petersen, D L  2001.  The new Interpreter’s Bible (Volume VI).  Abingdon;  Oswald, John N 1998.  The Book of Isaiah: Chapters 40-66.  Wm B Eerdmans; Sawyer, J F A  1996.  The Fifth Gospel: Isaiah in the History of Christianity.  Cambridge University Press;  Watts, J D W  1987. Word Biblical Commentary: Isaiah 34-66 (Vol. 25):  Word Books, Publisher.

Basisliturgie vir die Epifanietyd

Die Epifaniesiklus

Dit sluit in die Epifaniefees, die Sondae na Epifanie en die Sondag van Verheerliking wat die lydenstydperk inlui. Die Epifaniefees is ’n voortsetting van die Kerssiklus (in sommige kerke is dit die eintlike begin van die kerkjaar). Die epifanie word feestelik gedra deur die bevrydende en vredestigtende verskyning van Christus as God se gesant na kerk en wêreld. Dit onderstreep die verlossende teenwoordigheid van God in hierdie wêreld. Die Sondae na Epifanie moet in die eredienste hierdie tema verder belig deur te konsentreer op die profetiese aankondiginge van die koms van God se lig na hierdie wêreld, op die eerste vertellings van Christus se bediening en hoe die vroeë kerk Hom daarin nagevolg het. In die siklus vanjaar sing die psalmtekste van die belewing van God se teenwoordigheid in Israel, in die geskiedenis, die profetetekste vertel van die bevryding van Israel uit ballingskap waarin die Kneg van die Here ’n belangrike rol speel; die evangelietekste van Matteus vertel hoe Jesus se bediening gestalte kry in die nabykoms van die ryk wat heilbrengend uitreik na die hele wêreld en die epistellesings vertel hoe die gemeente worstel om dissipels van hierdie groot Kneg van die Here te wees en sy verlossende liefde aan die wêreld te verkondig. So gaan dit in die Epifanie om die deurbreek van God se heerskappy; om die vervulling van die beloftes in die koms van Christus; om dissipelskap en om die sending na die nasies. Hierdie sentrale temas sal die liturgiese energie van elke erediens in hierdie tyd moet kenmerk sodat die gemeente met opgewekte energie getuies van die Epifanie in eie omgewing kan wees. ’n Staf, septer of kroon sou simbolies aangewend kon word om die Heer-likheid van die epifanie te onderstreep.

Sondag van Verheerliking

Hierdie Sondag is die oorgang na lydenstyd wat in die komende week met Aswoensdag begin. Die Sondag bring ons in volslae verwondering voor Jesus te staan. Die kleur is helderwit. Indien moontlik moet meer lig as gewoonlik benut word. ’n Eiesoortige feesliturgie behoort gevolg te word wat los staan van die vorige Sondae. Verwondering en aanbidding behoort baie aandag te geniet.

Viering van die nagmaal op hierdie fees is besonder toepaslik. Daardeur word die heerlikheid van Christus vertoon en word die gemeente vir die komende lydens- en vastyd voorberei.

God versamel ons voor Hom

Voorbereidende sang

Kies veral liedere uit die rubrieke “Die heerskappy van God”, “Die Kerk” en “Liefde, dankbaarheid en diens”.  Dit is belangrik om in die keuse van liedere ook die menslike verlange na God se bevrydende heerskappy aan te spreek. Die stukkie sang vooraf kan ’n baie belangrike aanloop tot die tema van die diens wees. Die tempo van die liedere kan vinnig en veral vrolik wees.

Die aanvangslied word so gekies dat dit die tema van die bepaalde Sondag adem en inskerp.

Votum

Dit vind noue aansluiting by die fokusteks, maar moet dit nie herhaal nie. Daar is genoeg votum-materiaal in die ander tekste van die bepaalde Sondag.

Seëngroet

Gebruik die ander tekste. Twee alternatiewe kan ook gebruik word.

Alternatief 1:

Voorganger:  “Die Here is met julle”

Gemeente:     “Hy sal met U/jou ook wees”.

Alternatief 2:

Voorganger:  “Genade vir julle van God ons Vader en Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees.”

Gemeente:     “Aan Hom, die God van die hemele, kom die lof en die dank toe tot in alle ewigheid.”  Of die gemeente sing “amen”.

Lof- en aanbiddingsliedere

Die aksent moet hier afwisselend gelê word op die aanbidding van die in-glorie-verskynde Heer en op die lof en verheerliking wat die gemeente aan Hom toebring.

Doop of doopherinnering

Viering van die doop of “diens van die water” is in die tydperk na Epifanie van besondere belang en behoort nie een Sondag uitgelaat te word nie. Dit sluit by Jesus se doop aan en herinner ons deurlopend aan die doop waarmee God sy verbond met ons verseël het.

Lesing van die wet

Omdat die wet minder ’n gebod en meer ’n uitnodiging tot die weg van verbondsgehoorsaamheid is, kan dit goedskiks in Epifanietyd na die doop of doopherinnering geskied. Die saligsprekinge van Matteus 5:1-12 (wat die fokusteks van die vierde Sondag na Epifanie is) kan goedskiks in die hele Epifanietyd gebruik word (ook dit is nie gebooie nie, maar wegwysers na die lewe in die nabygekome ryk).

Skuldbelydenis en vryspraak

Die gemeente bely aan die hand van ’n psalm of profetelesing sy skuld daaraan dat hulle lewe die koninkryksdroom op so ’n beperkte wyse vergestalt. Liturgies word dit beantwoord deur God se vryspraak in ’n profeteteks wat nie alleen die aanbiddende erediensgemeenskap vryspreek nie, maar hulle roep om draers hiervan in die omliggende wêrelde te wees.

Lofsang op die vryspraak

Diens van die Woord

Die prediker kan gedurende hierdie tyd, waar die klem sterk op roepingsaanvaarding val, getuienisse van mense met eiesoortige roepings aan die gemeente bekendstel. Die gemeente se sendelinge kan dalk kortliks van hulle roeping vertel. Lewensketse van bekendes in die gemeente of figure uit die kerkgeskiedenis kan as voorbeeld voorgehou word.

Epiklese

Kan gedoen word deur die verwerking van een van hierdie Sondag se tekste.

Skriflesing(s)

Van die tersaaklike ander tekste van die betrokke Sondag kan gelees word en verduidelik word hoe dit die spesifieke epifanietema van die betrokke Sondag aanvul. Daarna word die fokusteks gelees.

Prediking

Gemeentelike respons

Die gemeente se antwoord op die diens van die Woord kan verskillende gestaltes aanneem. ’n Ouderling of diaken kan met gebed voorgaan, ’n lied kan gesing word of die geloofsbelydenis kan hier afgelê word.

Diens van die tafel

Die viering van (of die verwysing na) die Here se tafel moet die voorafgaande tema van die diens tot ’n hoogtepunt en konklusie voer. Die tema van die Sondag behoort in die gebede en op ander maniere voortgesit te word. Nagmaalviering behoort in die tyd na Epifanie dankbaarheid en verwondering oor ons eie mens-wees te wek aangesien Jesus se menswording ons steeds herinner aan die waarde wat God aan ons menslikheid heg. Liedere met ’n vinniger tempo wat dankbaarheid en verwondering uitdruk, moet dus voorkeur geniet bo somber liedere.

Indien ’n tweede voorganger by die diens optree, sou die persoon ook die diens van die tafel kon waarneem.

Gereedmaak van tafel

Geloofsbelydenis

Word gedoen aan die hand van ’n Skriflesing vir die betrokke Sondag.

Vredesgroet

Groot nagmaalgebed of formulier

Gebed

Instelling en gebruik

Dankoffers

UITSENDING

Sang

’n Jubelende lied wat die lof van die gekome Heer besing, in wie se diens die gemeente uitgestuur word (missio dei).

Seën

Die seën van Matteus 28:18-20 en daarna die trinitariese seën word tydens die hele Epifaniesiklus gebruik.

Sing

Lied 312, 316/NSG 355, 356

Related Media
See more
Related Sermons
See more
Earn an accredited degree from Redemption Seminary with Logos.