Jesaja 9=2-7 LR2004

Sermon  •  Submitted
0 ratings
· 118 views
Notes
Transcript

Jesaja 9:2-7 LR2004

25 DESEMBER 2004

KERSFEESDIENS

liturgiese voorstel

Fokusteks: Jesaja 9:2-7

Ander tekste:                 Psalm 96; Titus 2:11-14; Lukas 2:1-20

Inleiding

Dit gaan in Kersfees oor die misterie dat God in Christus mens geword en onder ons kom woon het. Dit is dus nie net nog ’n geboorte wat herdenk word nie, maar die koms van die Een wat deur God as Verlosser vir die wêreld gestuur is.

In groot dele van die Westerse kerk het die gebruik ontstaan om drie eredienste op Kersdag te hê: ’n diens om middernag, ’n volgende diens vroeg op Kersoggend en ’n derde diens in die loop van Kersdag. Vir elkeen van hierdie dienste is daar in die leesrooster ’n reeks tekste. Die tekste wat vanjaar vir hierdie liturgiese riglyne gekies is, is dié wat bedoel is vir die middernagdiens. In die NGK en die VGK het ons egter nie die gebruik om drie dienste te vier nie en daarom word voorgestel dat die drie reekse tekste van jaar tot jaar afwisselend gebruik word in die een Kersdiens wat in ons kerkfamilie gebruiklik is.

Die karakter van die Kersdiens is een van uitbundige vreugde. Dit kan uitdrukking vind in die sang en musiek wat in die diens gebruik word. Dit word aanbeveel dat daar meer as die gewone aantal liedere gesing word (kies gerus meer liedere as dié wat hieronder aangegee word). As dit prakties uitvoerbaar is, kan daar ook van koor en soliste gebruik gemaak word terwyl die begeleiding aangevul kan word met ’n verskeidenheid van instrumente (blaas- en strykinstrumente kan sterk aanbeveel word). Die liturgiese kleure vir Kersfees is wit, geel en goud en dit kan gebruik word op baniere en ander versierings in die aanbiddingsruimte. Gepaste simbole vir Kersfees is die krip, die geskenke van die sterrekykers, die Betlehemster, engele en kerse.

Indien die Adventskrans in ’n gemeente gebruik word, behoort al vier Adventskerse reeds voor die diens te brand en die middelste Christuskers by die aanvang van die diens aangesteek te word. In sommige kerke is dit gebruiklik om die Adventskrans net op die vier Adventsondae te gebruik en om op Kersdag slegs die Christuskers aan te steek.

GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM

Aanvangslied

’n Gepaste Kerslied, byvoorbeeld  Lied 345 “Kom, alle getroues”/NSG 81 (gepas om in beurtsang gesing te word: almal vs 1 en 4, vroue vs 2, en mans vs 3) of Lied 350 “In die stad van koning Dawid”/NSG 91, kan gesing word terwyl die wit Christuskers aangesteek word.

Aanvangswoord

Lukas 2:10-11

Seëngroet

Lukas 2:14

Lofsang

’n Gepaste Kerslied of ’n ander lied soos Lied 201 “Lofsing die Heer, buig voor Hom neer”/NSG 92 waarvan die melodie dié van ’n bekende Kerslied is en waarvan die woorde ook gepas is vir die Kersvieringe.

Geloofsbelydenis

By ’n feesgeleentheid soos Kersdag kan gerus van die Geloofsbelydenis van Nicea gebruik gemaak word.

Lofsang

Lied 353  “Die Heiland is gebore”/NSG 71

DIENS VAN DIE WOORD

Gebed  om die opening van die Woord

Skriflesing

Lukas 2:1-20

Sang

’n Kerslied soos Lied 344 “O die goeie tyding, o die blye tyding”/NSG 77 of  Lied 369 “Ere aan God” (indien moontlik as kanon gesing).

Skriflesing

Jesaja 9: 2-7

Prediking

DIENS VAN DIE TAFEL

Kerslitanie

Voorganger:  In ons wêreld,

                    soos in die skoot van Maria …

Almal:           Kom, Here Jesus.

Voorganger:  In al die vergete plekke,

                    soos in die stal van Betlehem …

Almal:           Kom, Here Jesus.

Voorganger:  Bring hoop in die lewe van armes;

                    bring omsigtigheid in die lewe van magtiges;

                    bring rus in die lewe van vermoeides;

                    bring onrus in die lewe van oorgerustes.

                    In ons lewe en in ons verlangens,

                    wie ons ook al is …

Almal:           Kom, Here Jesus.

Voorganger:  Dit is die goeie nuus:

                    Christus is gebore.

                    Christus kom weer.

                    En geseënd is elkeen wat wag op sy koms.

Almal:           Kom, Here Jesus! Kom gou!

                    Amen

Sang

Lied 333  “Groot is die Heer”

Skriflesing

Titus 2:11-14

Sang

Lied 367  “Ere aan God”

Instellingswoorde

Uitdeling en Kommunie

Sang

Lied 348  “Stille nag, heilige nag!”/NSG 76

Gebed

Offergawes

UITSENDING

Slotsang

Lied 365  “Hoor die blye eng’lelied”/NSG 69

Seën

Die genade van God wat verlossing bring

en wat aan alle mense verskyn het,

sal by julle almal wees.

Geseënde Kersfees! Na Titus 2:11-14

Sang

Lied 312 “Amen” of een van die ander berymings Lied 313-315

PREEKSTUDIE – JESAJA 9:2-7

Teks

Hoewel die teksindeling vir hierdie Sondag Jesaja 9:2-7 is, is daar baie sin daarin om by 8:23 te begin. Die verwysings in die eerste verse na “die land waar daar duisternis is” (8:23), asook na “die volk wat in donkerte geleef het” en “dié wat in die donker land was” (9:1), bied die moontlikheid om die skerpte van die hoopvolle spreke in die res van die gedeelte na vore te bring. Om die waarheid te sê, die temas van benoudheid en donkerte kom reeds na vore in Jesaja 8:21-22. Teenoor die donkerte en die duisternis kom die woord van mense wat “’n groot lig gesien” het en oor wie “’n lig geskyn het” (9:1). Die beweging van donkerte na lig word dus `n manier om iets van die beweging van die teks aan te dui.

Heelwat kommentare plaas die teks in die konteks van die Siro-Efraimitiese oorlog (735-732 vC). So beskou, word die situasie wat in Jesaja 7 beskryf word `n moontlike sleutel tot `n verstaan van die agtergrond van die teks. Hier lees ons hoe koning Resin van Aram (Sirië) en die Israelitiese koning Peka `n veldtog teen Juda onderneem. Hulle wou graag gehad het dat koning Agas saam met hulle deel vorm van `n anti-Assiriese alliansie. Ons lees hoe Agas en die volk bang was en “gebewe het soos bome in die bos bewe in die wind” (7:2). Jesaja gaan, met sy seun, na Agas en probeer hom oortuig om op die Here te vertrou. Maar Agas vertrou nie op die Here nie. Hy plaas eerder sy vertroue in die Assiriese oorlogsmag en vra die hulp van die Assiriërs teen Israel en Sirië (2 Kon 16:5-9). Onder Tiglat-Pileser word Damaskus (hoofstad van Sirië) ook binnegeval en Resin word doodgemaak. Uiteindelik val ook Samaria in 722 vC (2 Kon 17). Hoofstuk 8:21-22 beskryf moontlik die situasie wanneer die Assiriërs deur die land trek met die gepaardgaande hongersnood, verdrukking en donkerte.

 Hoewel so `n historiese verstaan help om die hoopvolle taal van 9:1-7 te belig, wys kommentatore ook daarop dat die presiese historiese omstandighede van die teks nie heeltemal so seker is nie. Seitz skryf: “It is not possible to wrest from the oracle to much historical precision.”  Wat egter wel duidelik is, is dat die teks vir mense in donkerte en verdrukking wil bemoedig en hoop gee. Daarom die verwysing na die teks as `n profetiese “hymn of thanksgiving transformed into a prophesy of salvation” (Kaiser). Ook Watts skryf oor die teks: “It is an attempt to assemble from faith and doctrine words to bolster hope.”

Brueggemann wys in sy kommentaar daarop dat die verlede of “vroeëre tyd” waarvan 8:23 praat, op die tyd van verdrukking en mislukking onder die heerskappy van Agas kan dui, terwyl die toekoms of “latere tyd” op die nuwe koninklike heerskappy onder Hiskia kan wys. Die teks wys op die radikale verandering in die lot van Juda, `n tyd wanneer die donkerte deur `n groot lig (`n nuwe Dawid) oorkom sal word. Brueggemann wys verder daarop dat wanneer die vers binne die nog breër konteks van Jesaja (43:18-19) gelees word, die “vroeëre tyd” na die hele pre-eksiliese tyd verwys, die ballingskapservaring van onderdrukking en swaarkry, terwyl die “latere tyd” die tyd van tuiskoms en die herstel van die land verteenwoordig. Aangesien die teks ook deur die kerk Christologies gelees word (en bv op Kersdag gepreek word), word in die teks ook iets herken van dieselfde beweging van donkerte na lig, wat deur die koms van Christus bewerkstellig is. Die belangrike punt is egter hoe die teks te midde van donkerte praat van lig, te midde van verdrukking van `n ander koning en koninkryk.

Gegewe die feit dat die poësie van die teks liries is en na alle waarskynlikheid binne `n liturgiese konteks geplaas kan word (Brueggemann, en Watts), is die presiese historiese plasing nie van deurslaggewende betekenis nie. `n Teologiese lees van die teks is wel belangrik. In Brueggemann se woorde: “(W)hat we have is a glorious, celebrative affirmation that Yahweh, through a human Davidic king, will create a wondrous new possibility for Judah that is unqualified and unconditional. The theological point is Yahweh’s capacity and resolve for a newness that is completely fresh and without extrapolation from anything that has gone before.”

Vanaf 9:2 word in sterk taal gepraat oor hoe hierdie lotsverandering wat die Here bewerkstellig het, blydskap bring. Die beweging van donkerte na lig bring vreugde. Die digter gebruik twee voorbeelde uit sy dag wat by uitstek tye verteenwoordig toe uitdrukkings van vreugde baie sigbaar was. Die eerste is die vreugde oor die oes. Dit herroep `n teks soos Psalm 126 waar ons ook lees oor die vreugde as gevolg van `n lotsverandering. Die oes word met `n gejuig ingebring. Die ander voorbeeld van vreugde is dié ná `n militêre oorwinning wanneer die buit verdeel word.

Die res van die gedeelte maak die redes vir die vreugde duidelik. Daar is `n drievoudige beweging (wat in Hebreeus elke keer deur `n ki-sin ingelei word). Die eerste rede is dat die onderdrukking verbreek sal word. Daar is verwysings na die juk wat op die volk druk en die stok waarmee hulle geslaan is. In hierdie verband word die storie oor die oorwinning oor die Midianiete herroep (Rig 6 en 7). Net soos wat Gideon op onverwagse wyse die Midianiete verslaan het, is die verbreking van die onderdrukking van byvoorbeeld Assirië moontlik. Die tweede rede vir die vreugde hang saam met die feit dat die oorlog verby is. Die soldateskoene en uniforms sal verbrand word as teken van die einde van die oorlog. Dit teks bou op na `n derde rede vir die vreugde. Die vreugde is nie net die afwesigheid van negatiewe dinge soos onderdrukking en oorlog nie, maar die aanwesigheid van iemand. Daar word gepraat van die geboorte van `n Kind, `n Seun, wat op die troon van Dawid sal sit. Die fokus is op hoe hierdie koms met reg en geregtigheid, vrede en voorspoed, saamhang. Dit is temas wat dikwels in die Jesaja-tekste belig word (bv 1:16-17; 5:1-7 en 10:1-4 oor geregtigheid; 2:1-5 en 11:1-9 oor vrede). Hierdie temas klink natuurlik ook op in van die koningpsalms (bv Ps 2, 72, 101).  Koning na koning stel egter vir Israel teleur.

Die trooninname in Jesaja 9:5 is van die bekendste gedeeltes in die Bybel. Dit is waarskynlik geritualiseerde hiperbool: “It asserts that the new king will perform every expectation of the populace and will perform well every responsibility of the royal office” (Brueggemann). Van die kommentare verwys na hoe die troonname aansluit by gebruike uit Egiptiese liturgieë om ’n aantal troonname te gee as teken van die verwagting van komende dade deur die heerser. Dit is egter duidelik dat hierdie troonname ten nouste saamhang met Israel se selfverstaan en die verbintenis aan Jahwe. Die uitdrukking “Wonderbare Raadsman” wys dat hierdie koning met wysheid en onderskeidingsvermoë sal regeer. Dus anders as die voorgangers.

Die uitdrukking “Magtige God” moet waarskynlik nie verstaan word as verwysing na goddelikheid nie, maar dat die nuwe koning al die krag en mag sal hê wat nodig is om heldhaftig te oorwin.

Die frase “Ewige Vader” is kompleks, maar wys waarskynlik op die vermoë van die koning om geborgenheid te bied. Dit staan teenoor die angs wat saamhang met die ervaring dat dinge buite beheer is.

Die naam “Vredevors” vorm ‘n sterk kontras met byvoorbeeld die heerskappy van Agas. Watts vat dit goed saam: “Whether this passage is understood to relate to the birth of a royal heir or to his coronation, these names certainly and succintly present the most elaborate statement of Jerusalem’s view of its God-given sovereign, the Son of David.”

Hierdie visie op `n nuwe ryk word verder beskryf as `n regering sonder einde. Daar is vrede en voorspoed. Maar dit is nie `n ryk wat, soos meeste (alle?) regimes, imperalisties bloot sy eie belange ten koste van ander bevorder nie. Nee, reg en geregtigheid kenmerk die ryk. Die idee van koningskap soos waarvan Psalm 72 skryf, kan nie herroep word nie. Christene kan ook dink aan die belangrike gedagte van “die koninkryk van die hemele” of “die koninkryk van God”, wat sentraal in die evangelies is en ten nouste met die visie van Israel saamhang.

Vers 7 maak duidelik dat die Here, die Almagtige, se onverdeelde trou sal sorg vir die instandhouding van dié koninkryk. Baie Engelse vertalings praat van “the zeal of the Lord of Hosts”.  Brueggmann skryf hierooor:  “The term rendered ‘zeal’ appeals to Yahweh’s passionate, emotionally driven commitment … The determination for social newness is rooted in the ‘the Lord of Hosts’.” Die hoopvolle spreke hang dus ten diepste saam met `n visie op God se passievolle verbintenis aan sy mense.  

Daar is reeds daarop gewys dat die teks op verskillende maniere en in verskillende tye as hoopvolle spreke funksioneer. Die teks word ook aangehaal in Matteus, binne die konteks van Jesus se bediening. Nadat Jesus gehoor het dat Herodes vir Johannes die doper laat opsluit het, gaan hy na Galilea – na Kapernaüm in die gebied van Sebulon en Naftali. En word daar vervolg: “Jy, gebied van Sebulon en gebied van Naftali, aan die seekant en oorkant die Jordaan, Galilea waar die heidene woon!  Die volk wat in duisternis woon het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan” (v 15,16).

Hierdie gedeelte uit Jesaja word dus binne die konteks van Jesus se bediening geplaas. Wat hier ook opval is dat Jesus se bediening nie losstaan van Herodus en sy onderdrukkende, imperiale regering nie.  Brueggemann wys daarop dat die gebruik van Jesaja 9 in Matteus 4, nie beteken dat Jesaja Jesus in gedagte gehad het of “voorspel” het nie. Hy skryf: “It means rather that the text, powerful and generative as it is, suggests beyond its ‘original setting’ to illuminate and redescribe new situations.” Die teks se krag om in `n nuwe situasie te midde van die ervarings van donkerte hoop te bied, maak dat dit in verskillende kontekste weer opnuut gehoor kan word as `n woord met `n transformatiewe krag.  Ook op Kersdag 2004.

Konteks

Die prediking kan aansluit by eksistensiële ervarings van donkerte. Dit is baie mense se ervaring dat dinge donker is. `n Kragtige beskrywing van so `n ervaring is dié van die Joodse skrywer en wenner van die Nobelprys vir vrede, Elie Wiesel. In die eerste deel van sy outobiografie (All rivers run to the sea) herroep hy sy ervarings in `n konsentrasiekamp tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy gee die hoofstuk die titel “Darkness”. In sy vroeëre boek met die titel Night, skryf hy ook oor hierdie ervaring van donkerte en nag:  "Never shall I forget that night, the first night in the camp, which has turned my life into one long night ... Never shall I forget that smoke. Never shall I forget the little faces of the children, whose bodies I saw turned into wreaths of smoke beneath a silent blue sky. Never shall I forget those flames which consumed my faith forever. Never shall I forget that nocturnal silence which deprived me, for all eternity, of the desire to live.  Never shall I forget those moments which murdered my God and my soul and turned my dreams to dust."

Mense ervaar die donkerte op verskillende maniere en in verskillende grade van intensiteit. Die teks uit Jesaja 9 bied die geleentheid om by ervarings van donkerte aan te sluit en midde-in hierdie ervarings die beweging van die teks na lig opnuut te hoor.

 In `n meditasie oor Kersfees in sy boek The Eternal Year, skryf Karl Rahner ook treffend: “Christmas is more than a bit of cheerful mood … The important figure in the holy night is the child, the one child, the Son of God, and his birth. Christmas means that he has come. He has made the night bright. He has turned the night of our darkness, our incomprehensible night, into Christmas. The terrible night of our anxiety and helplessness is now a holy night. That is what Christmas tells us.”

Daar kan ook aangesluit word by uitbeeldings uit die poësie, kuns en musiek wat iets van hierdie beweging van donker na lig vergestalt: Die Nederlandse skilder Geerten tot Sint Jans se skildery uit die laat 15de eeu, bekend as Die Geboorte in die nag, kan herroep word (vir ’n afdruk en kommentaar op hierdie skildery, sien The Image of Christ: Catalogue of the Exhibition Seeing Salvation, 30-31). Hierdie skildery sluit aan by die Christuskind as lig, as dié Lig. Vanuit die Kind in die krip straal die lig uit in die donkerte. Die wyse waarop dit die gesigte van Maria, die engele en die diere in die stal verlig, is treffend. Die volgende is ’n uittreksel uit ’n gedig van Dom Helder Camara met die titel In the Middle of the Night (Uit Helder Camara, It’s Midnight, Lord; ook in Blain, Susan et al (reds):  Imaging the Word: An Arts and Lectionary Resource):

In the middle of the night,

When stark night was darkest,

then you chose to come …

 

It is true, Lord, it is midnight upon the earth,

moonless night and starved of stars.

But can we forget that You,

the Son of God,

chose to be born precisely at midnight?

“The chief exegetical problem in dealing with this text from Isaiah 9, one could observe, is the violins.” So skryf James Limburg. Hy vervolg: “That is to say, who can read through verse 6 without hearing the violins in Handel’s Messiah striking up the introduction to ‘For unto us a child is born …’ Perhaps the best commentary on Isaiah 9 is to be found in the oratorio Messiah by George Friedrich Handel. He captured the drama of the text with the shift from the dark, minor mode 9:2 (‘The people that walked in darkness,’ Air for Bass, #11) to the major key of  9:6 (‘For unto us a child is born,’ “Chorus #12)”. Musiek uit Handel se Messias is inderdaad wonderlik geskik vir gebruik op Kersoggend en spesifiek in die lig van ons teks.

Preekvoorstel

Daar is talle preke oor die gedeelte beskikbaar. In die literatuurlys is verwysings na preke van Moltmann, Bonhoeffer en Hans Walter Wolff. Vir ’n goeie bespreking van hierdie teksgedeelte en `n preekstudie, sien ook Ockert Meyer se bydrae in Preekstudies met liturgiese voorstelle (Advent 1999 tot Koninkrykstyd 2000).  Die Leesroosterteks uit Lukas 2 kan saam met Jesaja 9 as Skriflesing gebruik word. Die preek wat volg, sluit aan by die beweging van donkerte na lig.

Ek het iewers gelees oor `n kortverhaal van Par Lagerkvist met die titel “My Pa en ek”. In die verhaal vertel hy van sy ervaring toe hy een Sondagmiddag saam met sy pa in die bos gaan stap het. Dit was `n pragtige laatmiddag toe hulle begin stap het. Hulle het hulle egter met die tyd misgis en die donkerte het hulle oorval. Kort voor lank was hulle toegevou in die donkerte. Op hulle pad huis toe het hulle al met `n bekende spoorlyn langs huis toe geloop. Die seun het begin bang word, maar die pa het kalm langs hom geloop. Hy het al nader aan sy pa geloop en vertel dat hy bang voel. Die pa het hom verseker dat hy nie bekommerd hoef te wees nie. Hy het sy hand gevat en gesê dat die donkerte nie so erg is nie. Tog vertel die skrywer dat hy as klein seuntjie wel ietwat bang en verlate gevoel het. Selfs sy pa se woorde kon hom nie troos nie. Hulle het in stilte verder gestap en vir die seuntjie het dit gevoel asof die donkerte sy hart omvou. Terwyl hulle om `n draai stap, het `n magtige geluid van agter hulle skielik uit hulle gedagtewêreld geruk. Die pa het sy seun gegryp en van die spoorlyn af getrek en hulle het onder die wal van die treinspoor in `n gat beland. Vanuit die gat kon hulle sien hoe `n sneltrein verbyflits. Die jong seun het die trein agterna gestaar. Sy pa het hom opgetel, hom weer op die treinspoor neergesit en gesê: “Snaaks, wonder wat se trein was dit. Daar was nie veronderstel om `n trein nou hierlangs te kom nie.” Hulle het in stilte verder gestap, haastig om by die huis uit te kom.

In nabetragting op hierdie insident sê die skrywer: “My hele liggaam het gebewe. Ek het verstaan wat dit beteken: dit was `n vooruitskouing op al die onbekende dinge wat in die lewe voorlê. Daar is dinge wat selfs my pa my nie teen kan beskerm nie, dinge waarvan hy ook nie weet nie, dinge van die donkerte wat nog vir my voorlê.”

Dié verhaal verwoord iets van `n kind se besef dat ons in die lewe uitgelewer is aan die bedreigende realiteit van die donker. Ek weet nie hoe hierdie verhaal u laat voel nie. U kan dink dit is `n onvanpaste verhaal om op Kersdag te herroep. Dit is tog nie nou die tyd om te praat oor donker en nag en die vrees vir die onbekende nie. Dit is mos die tyd om te vergeet van al die verskriklike dinge van die lewe, te fokus op die goeie en die vredevolle, en op die feestelike kante van die lewe.

Tog voel ons op `n dieper vlak aan dat die goeie nuus van Kersfees nie regtig goeie nuus is as dit nie ook die realiteit van die donkerte in ons wêreld en lewens erken nie. Kersfees moet meer wees as `n verdowingsmiddel wat ons vir `n paar uur van die pyn van die lewe laat vergeet. Oor vrede en lig kan ons nie praat as ons sake soos verdeeldheid en donkerte systap nie. Mense beleef donkerte en swaarkry – óók in Kerstyd.

Die mense van wie Jesaja skryf, het so `n tyd van swaarkry beleef, `n tyd van onderdrukking en uitsigloosheid. Waarskynlik was dit die tyd van die Assiriese invalle. Daar was hongersnood en ellende, `n tyd van geestelike, ekonomiese en politieke krisis. `n Man met die naam Agas was koning en sy regering is gekenmerk deur slegte leierskap. Donkerte word `n gepaste metafoor om hulle situasie te beskryf. Die ervaring van donkerte, nag en uitsigloosheid is egter nie beperk tot `n klein volkie se ervaring jare gelede nie. Op talle maniere beleef ons vandag iets van die donkerte wat die lewe kan bring. Die donkerte het baie gesigte: siekte, dood, ekonomiese druk, verhoudingskrisisse, eensaamheid en neerslagtigheid. Dalk is ons ervaring `n mengsel van lig en donkerte en kan ons identifiseer met Bob Dylan se woorde: “It ain’t dark yet, but its getting there” (van sy CD Time out of Mind).

Is ons bestand teen die donkerte? As kind hoor ons dikwels: Ons hoef nie bang te wees vir die donkerte nie. Ons glo hierdie woorde. Tog voel ons aan: die donkerte kan (soos in die verhaal) ons onverwags oorval. Maar as ons met hierdie waarheid sou ophou, is ons ook nie trou aan ons teks nie. Daar word nie net gepraat oor donkerte nie. Daar word gepraat van iets wat gebeur te midde van donkerte. Daar kom `n lig. En die teks dui op `n lotsverandering. Daar is die getuienis oor die beweging van donkerte na lig, van wanhoop na vreugde. Die vreugde word kragtig beskryf, asook die redes vir die vreugde. Dit mond uit in die diepste rede vir hulle vreugde: `n Seun is gebore (5).

Hier is sprake van die koms `n nuwe koning wat in wonderlike terme beskryf word. Dit is asof woorde opraak. Hy word genoem: Wonderbare Raadsman – een wat met wysheid en onderskeidingsvermoë sal regeer; Magtige God – een met die kapasiteit om dinge te verander; Ewige Vader – een wat geborgenheid en gemoedsrus kan bring; Vredevors – een wat anders as die konings wat hulle ken, vrede en voorspoed kan bring en wie se regering in die teken van reg en geregtigheid sal staan. Hierdie nuutheid word bewerk deur die onverdeelde trou of ywer van die Here. Die Here se passievolle verbintenis aan mense maak as ’t ware oorlog teen die donker. Die Here self is die waarborg van die koms van lig, vrede en geregtigheid.

Vanoggend vier ons Kersfees. Dit is ten diepste `n getuienis oor die onverdeelde trou van die Here. As Christene glo ons dat Christus lig in die donkerte bring. Dat Hy self die Lig is. Dit is nie maklik om dit te glo nie. Dit is `n vreemde Lig en word nie so maklik herken nie. Dié Lig kom in die onverwagte gestalte van `n weerlose kind. Hy is gebore, nie as die seun van `n koning nie, maar as kind van eenvoudige mense. Sy geboorte word nie aangekondig aan die Romeinse senaat of Griekse wysgere nie, maar aan eenvoudige skaapwagters. Hy is nie gebore in `n wêreldstad soos Athene of Rome nie, maar in `n geringe dorpie in `n stal.  N P van Wyk Louw se treffende woorde in sy Feesgedig

“Nie in die wit paleise nie

wou Hy (uit soewereine wil)

tot ons soort staat gebore word;

maar, waar die Kuise en die Arme stil

en buite die hotel se poort

verniet loseer het in `n stal

het hy, Visarendjie van God

in ons benoude vlees geval.”

God kom midde-in die bedompigheid en donkerte van ons wêreld. In Dom Helder Camara se woorde:  “When stark night was darkest, then you chose to come.” God kom, kan ons sê, in die nag. Die versoeking is daar om die stille, heilige nag van Christus se geboorte te sentimentaliseer. Dit is midde in die realiteit van vervolging en onderdrukking. Herodus is deel van die verhaal. Palestina was toe (soos ook nou) `n politieke kookpot. Die stille heilige nag van die eerste Kersfees was `n donker nag. Maar God kies juis om te kom in die nag.

God kom inderdaad in die nag. Nie net dat ons maar een keer per jaar `n bietjie sentimenteel kan wees en kan vergeet van die realiteit van die donkerte nie. God kom in die nag – God kom vir die nag. God kom vir mense wie se lewe nag geword het; vir mense wat beangs is oor die toekoms. Kersfees sê nie dat daar nie donkerte in ons lewens en wêreld is nie. Kersfees sê nie dat donkerte nie `n krag het nie. Kersfees sê wel dat ons in die donkerte nie alleen is nie. In donkerte is die Kind. Hy is Immanuel: God met ons. Kersfees sê dat God die donkerte deel van sy storie gemaak het, sodat ons te midde van donkerte vreugde, vrede, geregtigheid en hoop kan beleef. God bring lig. G’n wonder dat die kerk deur die eeue (ook in tye van donkerte) hieroor gesing het nie. Soos die lied getuig, in die proloog van die Johannes-evangelie. Die Woord het vlees geword: “In Hom was daar lewe en die lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”

Bibliografie

Bonhoeffer, D Predigten, Auslegungen, Meditationen;  Brueggemann, W 1998. Isaiah 1-39 (Westminster Bible Companion); Kaiser, O 1972. Isaiah 1-12 (OTL); Meyer, O & Nell, I en Botha, J. (reds) 1999.  Preekstudies met liturgiese voorstelle (Advent 1999-Koninkrykstyd 2000), BUVTON; Moltmann, J 1981.  Ohne Macht mächtig: Predigten; Rahner, K 1964. The Eternal Year;  Seitz, C R 1993. Isaiah 1-39; Van der Laan, J H Klijn, A F J en Noort, E (reds) 1985. Woord in beweging 4; Van Harn, R E (red) 2001. The Lectionary Commentary:  The Old Testament and Acts;  Watts, J D W 1985. Isaiah 1-33 (WBC); Wildberger, H 1972.  Jesaja 1-12 (BKAT); Wolff, H W 1980.  … wie eine Fackel.

Related Media
See more
Related Sermons
See more